Nuuskommentaar: 9 November

Net die tyd sal leer . . .

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa se besluit om die Minister van Wetenskap en Tegnologie, Naledi Pandor, as sy stalmaat in die party se leierskapstryd te benoem, is dalk nie so vergesog soos aanvanklik gedink is nie. Hoewel sy nie ‘n bepaalde steungroep of ‘n kiesafdeling het nie, is sy ‘n ANC-lid met ‘n skoon rekord, sterk beginsels en word as ‘n ringkop in die party beskou.

Ramaphosa het erg deurgeloop omdat hy sy lys met voorkeurkandidate voor die ANC se leierskapskonferensie vrygestel het. Die ANC is bekommerd dat hy takke van hulle voorreg ontneem om self hulle kandidate te nomineer. Of erger nog, hy probeer hulle dalk vir oulaas beïnvloed. Naledi Pandor voldoen aan die ANC se raamwerk vir geslagsgelyke leierskap en sy is ook ‘n teenvoeter vir Nkosazana Dlamini-Zuma en Lindiwe Sisulu. Op die ANC se 53ste konferensie in Manguang in 2012, het sy naas Dlamini-Zuma en Sisulu die derde meeste stemme gekry. Ontleders herkou nog aan die jongste verwikkeling, maar meen Ramaphosa het met sy keuse politieke oorwegings opsygeskuif ter wille van goeie landsbestuur. Pandor sal baie meer steun onder die groter publiek geniet as ander ANC-leiers wat maar net nie onder die wolk van omstredenheid uitbeweeg nie. Boonop het sy al ‘n paar keer as die president van die Republiek waargeneem as beide Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa buite die landsgrense was. Sy het ook naam gemaak vir haarself met die SKA-radioteleskoop in die Karoo. Pandor se pa en oupa was albei regsgeleerdes en ANC-aktiviste. Haar pa, Joe Matthews, het egter na sy terugkeer uit die buiteland by die Inkatha Vryheidsparty aangesluit. Hy het in 1994 as die adjunkminister van Veiligheid en Sekuriteit in die Regering van Nasionale Eenheid gedien. Pandor het op minstens twee geleenthede in die openbaar laat blyk dat ‘n gebrek aan moraliteit nie haar goedkeuring wegdra nie. Een keer was met die 23ste herdenking van die Kommunisteleier Chris Hani se afsterwe. In Maart vanjaar wou sy weet hoekom die ANC nog nie met lewenstyl-oudits op sy leiers begin het soos wat die Nasionale Uitvoerende Komitee aanbeveel het nie. Pandor het die Islamitiese geloof aangeneem kort na haar huwelik met Sharif Pandor. Ramaphosa se ander voorkeurkandidate vir die ANC se topposte as hy die nuwe leier sou word, is die party se voorsitter in Gauteng, Paul Mashatile. Hy is ‘n voorstander van skoon regering en het nie juis ooghare vir die Zuma-kliek nie. Hy sal die tesourier-generaal wees. Die party se voorsitter in Kwazulu-Natal, Senzo Mchunu, wat deur die Zuma-faksie uit die premierspos geboelie is, is sy keuse vir sekretaris-generaal en die huidige sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, is vir die pos van nasionale voorsitter benoem. Dit wil regtig voorkom asof die adjunkpresident meer sy oog op die 2019-verkiesing het as op die ANC se stormagtige leierskapstryd. Die res van die bevolking kan maar net hoop dat sy sogenaamde “droomspan” ‘n verbetering op Span Nagmerrie sal wees.

 

Nuuskommentaar: 8 November

Sirië bly knelpunt

Op 28 November hervat die vredesonderhandelinge oor Sirië in Genève. Hoe ingewikkeld dit gaan wees, blyk daaruit dat die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Rex Tillerson, reeds aangedui het dat daar geen plek in Sirië se toekoms vir pres. Bashar al Assad is nie.

Dit is geen nuwe houding van Amerika nie, wat strykdeur volgehou het dat Assad deel van die probleem, nie die oplossing is nie.

Dit het die VSA lynreg opgestel teen Rusland, Sirië en Assad se vernaamste bondgenoot. Een gemeenskaplike belang het Sirië, Rusland en die VSA egter lank in min of meer een kamp gehou – die aanslag teen Isis wat groot dele van Sirië beheer het. Met Isis wat skynbaar nou op verskeie fronte op sy baadjie kry, raak die verskille weer duideliker. Rusland het met ewe groot entoesiasme ook aanvalle op ander rebellegroepe geloods wat in wese in die VSA en sy bondgenote se dampkring is. Sirië het so tussendeur weer sy militêre vermoë heropgebou, en ook opspraakwekkende aanvalle begin uitvoer. Die stad Aleppo is byvoorbeeld min of meer vernietig.

Een aanval se repurkussies speel nou ’n bepalende rol in die komende vredesonderhandelinge. In April vanjaar is ’n lugaanval op die Siriese dorp Khan Shaykhun uitgevoer. Dit het gou geblyk dat die aanval met die gifgas, Sarin, uitgevoer is, en tagtig mense, waaronder baie kinders, het omgekom.

Die VSA het die lugmagbasis vanwaar Siriese magte vermoedelik die aanval geloods het, onder die bomme gesteek.

Sirië het aandadigheid ontken, maar ’n gesamentlike ondersoekspan van die VN en die Organisasies vir die Verbod op Chemiese Wapens, het reeds bevind dat Assad aandadig is, al is die verslag nog nie amptelik bekend gemaak nie.

Die implikasie is dat Assad hom aan ’n misdaad teen die mensdom skuldig gemaak het. In beginsel is Tillerson dus reg, Assad kan nie deel van Sirië se toekoms wees nie. Rusland het soos verwag kon word, heftig van Tillerson verskil en gesê iemand se rol kan nie bepaal word voor die onderhandelinge nog begin het nie.

Die Assad-familie, wat Sirië nou reeds twee geslagte regeer, behoort tot ’n minderheid van ’n minderheid. Hulle is Alawiete, ’n sekte van die Sjiïete, wat ’n minderheid teenoor die Soenies uitmaak. Geweldige improvisasie, soos ’n parlement wat setels aan minderhede, waaronder die Christene, gewaarborg het, asook ’n ruim mate van hardhandigheid, was nodig om aan bewind te bly. Nie alle minderhede is egter ewe goed behandel nie, en die Turkmene is uiters sleg behandel.

Die vraag is of daar in die vredesonderhandelinge nog ruimte is vir moraliteit. Indien wel, sou Assad as iemand wat misdade teen die mensdom gepleeg het, beslis geen ruimte vir betrokkenheid verdien het nie. Realiteitspolitiek neig egter om jaarliks sterker houvas op buitelandse rolspelers te kry, en moraliteit word algaande onder die mat ingevee.

Maar dit was alles voor die bevindinge oor die gifgas bekend geword het.

 

Nuuskommentaar: 7 November

Groot uitdagings vir nuwe regering in Nederland

Die nuwe Nederlandse regering wat pas ingehuldig is, het tot stand gekom nadat vier redelik uiteenlopende politieke partye ’n regeerakkoord gesluit het. Onderhandelinge om die nuwe regering te vorm, het die langste nog ooit geneem – om presies te wees tweehonderd drie-en-twintig dae.

Mark Rutte, leier van die sentrumregse en vryemarkgesinde Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) sal vir die derde keer Eerste minister van Nederland wees. Om by ’n sogenaamde regeerakkoord te kon uitkom moes die vier partye wat nou saam gaan regeer egter almal wesenlike toegewings maak.

Terwyl Mark Rutte en die VVD op 14 Maart ’n stewige mandaat van kiesers gekry het om ’n nuwe regering te vorm, is die koalisie wat uiteindelik tot stand gekom het ’n baie onperfekte kombinasie van partye met uiteenlopende agenda’s. Die VVD is bekend vir besonder pragmatiese politiek.

Ook die Christen-Demokratiese Appèl, wat vanjaar derde geëindig het, is bekend vir sy pragmatiese politiek. Die CDA het egter vanjaar beter as in die vorige verkiesing gedoen nadat die party, anders as in die verlede, ’n meer populistiese, konserwatiewe veldtog gevoer het.

Die twee koalisievennote wat egter die onderhandelinge die moeilikste gemaak het, is D66, ’n uiters progressiewe party wat op verskeie punte lynreg met veral konserwatiewe en Christelike partye bots. D66 is onder andere ’n groot voorstander van die wettiging van vrywillige selfdood, waar iemand self kan besluit dat sy lewe medisinaal beëindig moet word. Dit bots direk met die standpunt van die CDA, maar veral ook die kleinste van die vier koalisievennote, naamlik die ChristenUnie.

Die ChristenUnie is ’n meer links-konserwatiewe Christenparty. Hoewel die party sterk op Christelike waardes gebaseer is, is hy ook meer sosialisties en ook ten gunste van hulp aan asielsoekers en vlugtelinge.

Terwyl Rutte en die leiers van die CDA, D66 en ChristenUnie hard sal moet werk om hul koalisie bymekaar te hou, sal dit ook ’n groot uitdaging wees om hul ondersteuners gelukkig te hou. Koalisieregerings vereis heelwat toegewings waarvoor partye soms ’n duur prys moet betaal. Die linkse Partij Voor de Arbeid het in 2012 tweede geëindig met 38 setels. Hul koalisie met die sentrumregse VVD was tussen 2012 en 2017 egter so sleg vir die party dat hulle in Maart vanjaar slegs 9 setels kon wen.

Terwyl die vier regerende partye ’n moeilike taak voorhande het, is daar heelwat geleenthede vir die Partij voor de Vrijheid van Geert Wilders en ook kleiner linkse partye soos Groenlinks en die Sosialistiese Partij. Die PVV het in Maart tweede geëindig in die verkiesing en gaan sterk opposisie teen die nuwe regering bied. As natuurlike opposisie bied dit baie geleenthede vir die party om homself as dié verteenwoordiger van gewone Nederlanders te vestig.

Hoewel die nuwe regering uit uiteenlopende koalisievennote bestaan, is die linkse party grootliks uitgesluit. Die volgende vier jaar bied heelwat geleenthede vir hierdie partye om te hergroepeer en vanaf die linkerkant opposisie teen die regering te bied.

Met ’n baie pragmatiese koalisie wat rondom die politieke sentrum gaan funksioneer, is die vraag of kiesers met die ou politiek van toegewings en rasionaliteit tevrede gaan wees? Die linkse en regse flanke van die Nederlandse politiek gaan oor die volgende paar jaar hierdie ou denke ernstig uitdaag.

 

Nuuskommentaar: 6 November

Saambindende effek van plaasaanvalle en plaasmoorde

Bykans enige joernalis weet dat berigte oor plaasaanvalle en plaasmoorde nie net feitlik van ’n hoë aantal lesers gewaarborg sal wees nie, maar dat dit deur ’n lang lys van leserskommentare gevolg sal word. Skakelbeamptes van politieke partye en burgerlike organisasies besef die geleentheid om publisiteit te kry en val oor hul voete om mediaverklarings uit te reik om simpatie uit te spreek. Maar, soos een partyleier naderhand in ’n mediaverklaring sê, daar is so baie plaasmoorde dat sy woorde om simpatie oor te dra op raak. Niemand wil immers dieselfde resitasie aframmel en die sensitiewe kwessie goedkoop maak nie.

En dan is daar partye vir wie plaasaanvalle op die oog af nie kan skeel nie. Niks word uitgereik nie, en niks word gesê nie.

Plaasmoorde is nou akuut onder die vergrootglas deurdat daar sedert die aanvang van die naweek ’n vlaag plaasaanvalle en plaasmoorde was.

Dit kom weer te midde van verskillende statistieke wat uitgereik is. Volgens die polisie se misdaadstatistiek, aldus die Vryheidsfront Plus, het plaasmoorde en -aanvalle in die 2016/2017 boekjaar skerp toegeneem. Plaasmoorde het met 27,5 % en plaasaanvalle met 22,9 % toegeneem. In die verslagjaar was daar 74 plaasmoorde teenoor 58 in 2015/16 en 638 plaasaanvalle teenoor 519 in 2015/16.

Volgens AfriForum se syfers was daar vanjaar al meer plaasmoorde en plaasaanvalle as in die ganse 2016. Daar was die afgelope ses jaar ’n skrikwekkende toename in plaasmoorde, aldus AfriForum.

Die TLU SA voeg by dat baie van die plaasmoorde uiters wreed gepleeg word.

Dit is verblydend dat die minister van polisie nou aangekondig het dat ’n spesiale taakspan teen plaasaanvalle in die lewe geroep gaan word. Dit is iets wat ten spyte van verbete pogings deur rolspelers, erg agterweë gebly het. Die tyd sal leer of daar veel erns in hierdie onderneming steek.

Intussen het ’n veldtog op die sosiale media begin, waaronder ’n oproep dat mense Maandag swart dra as teken van meegevoel met die slagoffers van plaasaanvalle. Dit blyk dat daar omstredenheid hieroor – nie soseer oor die meegevoel of solidariteit met die boeregemeenskap nie, maar die sin van simboliese dade. Daar is ’n sterk oproep tot iets meer konkreet doen.

Konkrete bydraes is uiteraard broodnodig. Verskeie instansies lewer fisiese beveiligingsbystand, waaronder Agri Securitas en AfriForum. Radio’s en seinbonsers is byvoorbeeld van groot waarde.

Aan die ander kant word daarop gewys dat die trauma wat slagoffers van plaasaanvalle beleef, veel erger as gewone trauma is. Dit word viktimonologie genoem, en die trauma word verskerp deur ’n gevoel van afgesonderdheid en dat die boere aan hul eie lot oorgelaat word. ’n Simboliese daad wat wyd sigbaar ondersteun word om solidariteit te toon, kan waardevol wees. ’n Meer konkrete vorm van solidariteit toon is moontlik om bydraes te maak vir voer en ander middels waar die droogte nog boere uit hul bestaan bedreig.

Elkeen kan ’n verskil maak.

 

Nuuskommentaar: 3 November

Protestantisme en kommunisme

Om te sterf vir die waarheid of te moor vir die leuen. Die afgelope aantal dae is twee herdenkings gehou van twee denkstrome wat die wêreldgeskiedenis onmiskenbaar beïnvloed het: protestantisme en kommunisme.

Op 31 Oktober het kerkklokke regdeur die land om 7 uur die oggend gebeier want dit was presies 500 jaar sedert die teoloog van Wittenberg, Martin Luther sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg in Duitsland gaan vasspyker het. Die inleiding tot sy stellings het ‘n uitnodiging tot debat bevat, maar Luther se stellings is begroet met die wrewel van die magte van die tyd.

Hy is gedaag voor die Ryksraad van Worms waar die bewindhebbers van die tyd van hom geëis het om dit waarin hy glo terug te trek. Hy het geweier. Sy bekende woorde : “hier staan ek, ek kan nie anders nie” is vandag nog oorbekend. Hy is uit die kerk verban, sy werke is verbied en hy is voëlvry verklaar – wat beteken dat enigiemand wat wou, hom kon dood,.

Maar in die tyd wat gevolg het sou honderde duisende volgelinge van Luther wat die beginsels van geloof alleen, die Woord alleen, Christus alleen, genade alleen en aan God alleen die eer hulle eie sou maak, bereid moes wees om te sterf vir waarin hulle geglo het – en hulle het ook.

Die kerk van Rome se politieke invloed in Europa was so oorweldigend dat grootskaalse vervolging van protestante in die twee eeue na Martin Luther gevolg het. Op een nag alleen, die sogenaamde Bartholomeus-nag, is 10 000 protestante in Parys, Frankryk vermoor en in die dae wat gevolg het, meer as 60 000 in die res van Frankryk.

Die protestante moes inderdaad bereid wees om te sterf vir die waarheid – en hulle het ook, in reuse getalle – maar hulle lyding het die saad vir ongekende sukses en vooruitgang geraak. Max Weber was die eerste denker wat vasgestel en aangetoon het dat protestantse lande in Europa by verre meer suksesvol was as katolieke lande. Die protestante se ingesteldheid tot vrye mark idees, onderwys en ‘n ingesteldheid van rentmeesterskap, is vername faktore.

Ook in hierdie tyd, 25 en 26 Oktober volgens die Russiese kalender of 7 en 8 November volgens ons kalender, word die Russiese revolusie van 100 jaar gelede herdenk. Die Bolsjewiste onder leiding van Vladimir Lenin het die bewind van die tsaar omver gewerp en kommunisme in Rusland gevestig.  Die nuwe bewind van Lenin het met grootskaalse moorde op welvarendes wat in die pad gestaan het van konfiskering van alle privaat eiendom deur die staat sy magsgreep op Rusland verstewig. Joseph Stalin, wat na hom gevolg het, het hom oortref.

Die historikus Martin Maila het in sy Black Book of Communism geraam dat kommunistiese regimes wêreldwyd tussen 85 en 100 miljoen mense vermoor het om hulle ideologie van absolute staatsbeheer, geen godsdiens en “gelykheid” ten alle koste af te dwing. Die grootste gros van hierdie sterftes was onder Stalin in Rusland en Mao Tse Tung in China.

Maar die kommunistiese ideologie het nêrens die gelykheid gebring waarop dit ingestel was of belowe het nie. Volgens Credit Suisse se 2016 Wêreldwye Welvaartsverslag is Rusland vandag die wêreld se mees ongelyke land met 74.5% van alle welvaart wat in die 1% rykstes van die land gesetel is.

‘n Ideologie wat inderdaad bereid is om te moor ter wille van ‘n leuen.

In Suid-Afrika was die reaksie van bewindhebbers op die stille protes teen plaasmoorde verlede Maandag, ook tekenend hiervan – met fopnuus van ou foto’s van ou landsvlae en al.

 

Nuuskommentaar: 2 November

Die redbaarheid van Afrikaans

‘n Groot debat woed oor of Afrikaans bedreig word. Aan die een kant word bedreigings – ook uit eie geledere – uitgewys, en aan die ander kant op tekens dat die taal kerngesond is en voortdurend nuwe literatuur voortbring.

Volgens Unesco word meer as ‘n 1 000 tale ernstig, of selfs kritiek bedreig. Tot die helfte van die wêreld se 6 000 tale kan binne die volgende vyftig jaar verdwyn.

Slegs die grootste doemprofeet sal Afrikaans tel onder hierdie tale wat binnekort kan verdwyn. Van die Khoisan-tale lyk werklik onredbaar.

Tog is al die elemente wat ander tale reeds tot randjie van uitwissing gedryf het, in Suid-Afrika aanwesig. Die Ierse taal het teen die einde van die 19de eeu feitlik verdwyn, omdat Engels as amps- en gebruikstaal afgedwing was. Nou word dit deur byna 2 miljoen mense gepraat.

Die Hawaise taal was op die randjie van uitwissing omdat die persepsie posgevat het dat ‘n mens alleen in Engels ekonomiese vooruitgang kan beleef. En klink dit nie bekend nie? Hoeveel Afrikaanssprekende werksoekers beskik hoegenaamd nog oor ‘n Afrikaanse CV, omdat personeelagentskappe gewoon op Engelse CV’s aandring? Selfs vir poste by Afrikaanse firmas, soos Afrikaanse koerante, dring die agentskappe dikwels op Engelse CV’s aan.

Teen 1980 het ‘n beweging ontstaan om die Hawaise taal te red, en teen 1979 was daar reeds 2 000 mense wat die tal gepraat het. Tien jaar later het dit tot 24 000 vermeerder. Dit word weer op skoolvlak aangebied. Daar word wel gewys daarop dat die Hawaise taal wat nou veld wen, nie meer idiomaties die oorspronklike taal is nie, maar eerder ‘n vertaalde Engels.

Ook in die VSA blyk dit dat immigrante-gesinne nie meer noodwendig so gou as moontlik verengels nie, en nou die behoud van hul oorspronklike taal, as tweede taal, as ‘n bate in die werksomgewing beskou.

Een van die faktore wat genoem word as moontlike stimulus om kleiner tale te laat oorleef, is die opkoms van die sosiale media. Hier word land en sand gekuier, en struikelblokke soos afstand tussen sprekers van dieselfde taal gemaklik oorkom.  Wat Afrikaans betref, is daar natuurlik kommer oor die taalgebruik en spelling van baie van die mense wat aan hierdie gesprekke deelneem.

Taalkenners wys daarop dat Afrikaans altyd in die teenwoordigheid van die wêreldtaal Engels, veranderingsdruk sal ervaar. Ons sien dit daagliks, soos selfs groot Afrikaanse koerante wat gereeld na afdelings of seksies van wette verwys, in plaas van artikels. Onder die invloed van Engels word bykans enigeen en enigiets verban, in plaas van verbied of geskors. Die Afrikaanse woord gesin maak plek vir familie, waar eintlik gesin bedoel word. Die lys is lank.

Maar ‘n taal is ook dinamies, en word deur dialekte verryk.

Dit alles bied Afrikaans, en Afrikaans kan ten spyte van teenslae tog gedy.

Ons moet net die wil hê om Afrikaans as die skoonste taal, ons moedertaal, te laat blom, en die rug vir eietydse Milneriste styf te maak.

 

Nuuskommentaar: 1 November

Afrikaanse en Afrikaner-organisasies

Wanneer ‘n volk sy politieke mag verloor en die vryheid om homself en sy eie sake te bestuur kwyt is, dan is burgerregte organisasies van ‘n hoë gehalte broodnodig om die mense van die land te kan laat voortbestaan en rigting te gee.

En daar bestaan geen twyfel nie dat talle Afrikaner-organisasies, ernstig opgeneem wil word en te alle tye professioneel moet optree.

Hulle uitsprake en dade moet vertroue inboesem, ongeag hoe groot of klein die organisasie is. Dit vra volwassenheid, opoffering en groot verantwoordelikheid van dié wat aan die spits van die beweging staan.

Tydens die Groot Trek toe sowat 17 000 Afrikaners die Binneland ingetrek het op soek na hulle vryheid, was laertrek een van die belangrikste verdedigings- en aanvalstrategieë. By Vegkop is die aanslag van die Matebeles afgeweer deur gelowige en dapper stryders in ‘n walaer. By die walaer van Bloedrivier is die Zoeloemagte van Dingaan verslaan.

Die waens is vas aanmekaar geketting en doringtakke is tussen en onder die waens gepak. Die buitenste wawiele is met ysterpenne vas in die grond geanker om te verhoed dat die aanvallers die waens omstoot en die walaer binnedring.

Weliswaar is die aanslag op die Afrikaner anders en met ander middele. Tog is dit noodsaaklik dat ons weer moet laertrek – laertrek in organisasies soos die Afrikaner-Kultuurbond, Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys, Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans, sakekamers, kerkgenootskappe, landbou-organisasies, vakbonde, burgerlike instellings, weerstandsbewegings, Geloftefeeskomitees en erfenisstigtings.

En ons moet hierdie organisasies uitbou met ons tyd, geld, kennis en ywer sodat dit organisasies van uitnemendheid sal wees, waarvan Solidariteit en AfriForum sprekende voorbeelde is.

Dit is elke luisteraar en elke Afrikaanssprekende se plig en verantwoordelikheid om te sorg dat hulle hulself diensbaar maak in hierdie moderne walaers.

 

Nuuskommentaar: 31 Oktober

Verdelingslyne in Europa word duideliker

Onlangse verkiesingsuitslae in Oostenryk en die Tsjeggiese Republiek versterk ’n beweging in Sentraal Europa wat daarop uit is om as teenvoeter vir die dominante rol van Wes-Europa in Europese politiek, te dien.

Die afgelope twee jaar se voortslepende vlugtelingkrisis het ’n verdelingslyn tussen veral Wes-Europese en Sentraal-Europese lande sterk na vore gebring. Terwyl denke oor hoe die Europa van die toekoms moet lyk, dink en optree vir lank deur Wes-Europese leiers bepaal is, het lande in Sentraal- en Oos-Europa met hul harde reaksie op die vlugtelingkrisis ’n einde hieraan gebring.

Hongarye, Pole en die Tsjeggiese Republiek se weiering om die Europese Unie se kwotaverdeling van vlugtelinge te aanvaar, het ’n duidelike boodskap gestuur dat hierdie lande nie langer voorgeskryf sal word oor hoe hulle sake van nasionale belang moet hanteer nie. Tydens verkiesings in Pole in 2015, Slowakye in 2016, Oostenryk vroeër hierdie maand en die Tsjeggiese Republiek die afgelope naweek het kiesers keer op keer ’n sterk boodskap vir die beskerming van die nasionale belang gestuur. Regse en populistiese partye het in al vier lande groot opgang gemaak en regerings in hierdie lande het ’n sterk mandaat om die belang van hul eie landsburgers bo die aspirasies van Europese integrasie te plaas.

Terwyl Wes-Europese lande lank reeds sekulêre, post-moderne, liberaal-tegnokratiese integrasie binne Europa bevorder, kan dit nie vir die hele Europa gesê word nie. Groot dele van Sentraal- en Oos-Europa het nie die kulturele revolusie van die laat 1960’s beleef nie. Hierdie lande is steeds sterk godsdienstig georiënteerd met ’n diepliggende besef van kultuur, identiteit en nasionale hegemonie.

Terwyl Oos-Europese lande weens ekonomiese agterstande hul monde vir die burokrate van Brussel moet hou uit vrees dat fondse vir allerhande projekte kan opdroog, sien ons sterk ekonomiese groei in die Sentraal-Europese lande van die Visegrád Groep. Hongarye, Pole, die Tsjeggiese Republiek en Slowakye is reeds sedert 1991 in die Visegrád Groep georganiseer ten einde groter streeksamewerking te bewerkstellig. Daar is deesdae ook toenemende steun in Oostenryk vir nouer samewerking en selfs aansluiting by die Visegrád Groep. Hierdie vyf lande is almal ekonomies sterk, met goeie lewensgehalte en inkomstevlakke wat meebring dat hulle nie soos sommige Oos-Europese lande voor die heersers in Brussel hoef te kruip nie.

Politici soos Angela Merkel en veral die leiers van die Europese Unie insluitende Jean-Claude Juncker, Donald Tusk en Frans Timmermans is vinnig om verkiesingsuitslae in Sentraal-Europa en die opkoms van populistiese partye as ’n bedreiging vir demokrasie te beskryf.

Die gerespekteerde liberale Amerikaanse akademikus en politieke raadgewer, William Galston, skryf verlede week in die Wall Street Journal dat hierdie bewerings totaal ongeldig is. Die opkoms van populistiese politiek in Europa word gedryf deur landsburgers se behoefte vir die beskerming van hul onderskeie lande se nasionale soewereiniteit. Beter beheer van grense en veral ’n afname in immigrasie uit Moslemlande is wat hul sukses dryf. Die byna aggressiewe wyse waarop burokrate in Brussel in sake van nasionale belang inmeng, vuur voorts hierdie partye se sukses. Galston wys heeltemal tereg daarop dat niks hiervan ’n bedreiging vir demokratiese instellings en norme inhou nie. Om die waarheid te sê, die meeste populistiese partye in Europa steun self sterk demokratiese beginsels.

Die verdelingslyne in Europa is goed omdat dit verskeidenheid erken. Bewerings dat dit Westerse demokrasie of selfs Europese samewerking bedreig is onwaar.

 

Nuuskommentaar: 30 Oktober

Suid-Afrika en die “demokratiese paradoks”

Met die 2019 nasionale verkiesings om die draai, word daar algemeen oor die toestand van Suid-Afrika se demokrasie geredekawel.

Die gedagte van demokrasie is wêreldwyd bekend. In die Westerse beskawing word liberale demokrasie algemeen beskou as die mees korrekte vorm van regering.

Die vraag moet egter gevra word wat die term demokrasie nou eintlik beteken, in besonder wanneer daar in die Suid-Afrikaanse konteks daarna verwys word.

Die term “demokrasie” het oor die wêreld, maar in besonder in Suid-Afrika, ‘n gonswoord geword wat deurlopend gebruik word, maar ten opsigte waarvan die gebruikers van die woord nie noodwendig die werklike betekenis van die konsep begryp nie.

Die algemene persepsie is dat demokrasie ’n vorm van regering is wat daarop geskoei is dat almal gelyk behandel moet word en by implikasie dat geen burger van die reg om te stem ontneem mag word nie. In die praktyk vergestalt die reg op gelykheid homself in demokratiese verkiesings, wat regering deur die meerderheid tot gevolg het.

Daar is egter ander vereistes vir die bestaan van ‘n gesonde demokrasie. ’n Noodwendige gevolg van ‘n meerderheidsregering is dat minderhede dikwels gemarginaliseer word, aangesien hulle belange nie juis die hoogste prioriteit op die meerderheidsparty se agenda is nie. Die tragiese ironie van ‘n demokratiese bestel is dus dat daar in die strewe na gelykheid, wat in die vorm van ‘n meerderheidsregering neerslag vind, juis ‘n vorm van ongelykheid geskep word, deurdat groepe wat nie so sterk in getal is nie juis ervaar dat daar deur die sogenaamde demokratiese regering teen hulle gediskrimineer word.

Juis daarom is een van die vereistes van ‘n gesonde demokrasie dat dit nie eksklusief oor getalle moet gaan nie, maar dat die minderhede se regte op so ’n wyse in ‘n grondwet en wetgewing beskerm moet word dat diskriminasie teen minderhede deur die meerderheidsregering verhoed word. Wanneer minderhede in ’n bepaalde staat dus ervaar dat hulle regte nie na verwagting beskerm word nie is dit nodig om te vra of daardie staat oor ‘n gesonde demokratiese bestel beskik.

Die Amerikaanse politieke wetenskaplike, Francis Fukuyama, skryf dat die gedagte van liberale demokrasie regoor die wêreld posgevat het en dat die mensdom hiermee die eindpunt van sy sosio-politieke ontwikkeling bereik het.

Samuel P Huntington neem egter ‘n meer kritiese standpunt in wanneer hy skryf dat die onderskeie beskawings oor die wêreld heen nie noodwendig met liberale demokrasie tevrede sal wees nie, maar eerder dat daar ’n groeiende belangstelling in identiteitspolitiek sal plaasvind.

Op die onderwerp van demokrasie verwys Huntington na wat hy as die “demokratiese paradoks” beskou. Liberale demokrasie is tans die polities korrekte regeringsvorm in die wêreldpolitiek. Wat egter dikwels gebeur is dat state wat histories nie met liberaal-demokratiese waardes kon assosieer nie, wel demokrasie as regeringsvorm aanneem deur verteenwoordigende liggame soos parlemente en nasionale vergaderings aan te neem, maar dat hierdie sogenaamde “verteenwoordigende liggame” dan gebruik word as voertuig om ’n regering daar te stel wat juis nie aan die verdere elemente van demokrasie voldoen nie. Die algemeenste verskyningsvorm hiervan, is die vertrapping van minderheidsregte in die naam van demokrasie.

 

NUUSKOMMENTAAR: 27 Oktober

Winde van verandering oor Rusland en China

’n Blonde 35-jarige TV-persoonlikheid, Ksenia Sobtsjak, het haar as presidentskandidaat in volgende jaar se verkiesing in Rusland beskikbaar gestel. Sy sal na verwagting gemaklik deur die huidige president, Wladimir Poetin, geklop word, hoewel Poetin hom nog nie formeel as kandidaat beskikbaar gestel het nie.

Sobtjsak is tevore reeds die Russe se eie Paris Hilton genoem. Sy is die dogter van Anatoly Sobtsjak, Poetin se voormalige mentor. Met haar toetrede, wat sy aanlyn gedoen het, het sy egter min kritiek op Poetin gelewer, en van die ontleders meen sy is eintlik deur die Kremlin as kandidaat in die veld gesit om teenstand teen Poetin te verdeel.

Hoewel Poetin volgens peilings maklik die pyp gaan rook, glo ’n groot deel van die kiesers dat Poetin en sy vertrouelinge korrup is.

Terwyl Rusland onder Poetin sy wêreldmag probeer herstel, is daar ook gebeure in China wat op soortgelyke verwikkelinge dui. Die Chinese leier, Xi Jinping, het tydens die 19de kongres van die Kommunistiese Party gesê China gaan ’n meer sentrale rol in wêreldpolitiek inneem. Dit beteken China gaan homself as volwaardige groot moondheid beskou en as sodanig optree.

Tog is daar groot veranderinge vir China in die pyplyn, hoewel ’n demokrasie nie een is nie. Trouens, Xi Jinping het aangedui hy beskou die eenpartystelsel van China as ’n model van hoe ’n land sy groeidoelwitte kan bereik.

Die vernaamste verwikkeling is dat China nou ’n eenheid via die grondwet in die lewe roep wat bekend staan as Xi Jinping se Gedagtegang oor Sosialisme met Chinese kenmerke vir ’n nuwe era.

Dit lyk of Xi die weg begin baan om die grondwet so te wysig dat hy hom in 2022 weer verkiesbaar kan stel. Hy sal dan immers ’n soortgelyke onsterflike baadjie dra as Mao Zedong en Deng Xiaoping wat op soortgelyke wyse vereer is.

Orville Schnell hoof van die Asia Society’s Center on US-China Relations, sê met die stap word nie net gepoog om Xi ’n soortgelyke kenmerk as gedagteleier te gee as wat Mao was nie, maar dit impliseer ook dat daar aanvaar word dat sosialisme met Chinese kenmerke ’n lewensvatbare alternatief is vir die westerse liberale demokrasie en kapitalisme.

Nie almal stem saam met die Chinese kommunistiese party se aansprake dat dit vryheid van spraak, demokrasie, gelykheid en die regstaat voorstaan nie. In die praktyk, aldus ’n ope brief van ’n menseregteprokureur, het China niks daarvan nie.

Dit lyk of die Koue oorlog met sy yster- en bamboesgordyn, veel dieper spore getrap het as ’n oornag normalisering van betrekkinge. Ons is net nie op dieselfde golflengte nie. Maar op die oomblik is Suid-Afrika allermins ’n maatstaf om normale demokratiese politiek mee te meet.

 

Nuuskommentaar: 26 Oktober

Laat ons vry wees vir onsself

Die bekende Afrikaanse filosoof, skrywer en akademikus prof Danie Goosen lewer ‘n paar jaar gelede in ‘n toespraak ‘n pleidooi vir Afrikaners om meer land-gerig te wees. Land-gerig word in dié konteks as ‘n metafoor vir begrensing gebruik, terwyl see-gerig as metafoor vir onbegrensdheid dien. Mense wat land-gerig is wil die begrensing waaroor hul beskik in beskerming neem. Volgens Goosen is grense vir landkulture ‘n redding. Grense maak ‘n woning, ‘n egte tuiste, moontlik.

Grense bring sekerheid en geborgenheid, terwyl grensloosheid onsekerheid en tuisteloosheid meebring. Volgens Goosen is mense wat seegerig is, gefokus daarop om vry VAN iets te wees terwyl landgerigte mense daarop gefokus is om VIR iets vry te wees.

In die Westerse wêreld, en ook onder Afrikaners, is daar toenemend ‘n seegerigtheid eerder as ‘n landsgerigtheid. Mense wil bevry word van dinge wat beperkinge op hul plaas, maar hulle streef nie regtig daarna om vry vir iets te wees nie. Dit bring mee dat mense vry voel sonder om werklik ‘n sterk fondament te hê waarop hulle hul strewes kan bou.

Goosen noem vier dinge waarvoor mense vry kan en moet wees. Eerstens moet jy vry wees om grense om jou te trek en jou veiligheid daarbinne na te jaag. Tweedens moet jy vry wees om binne daardie grense gemeenskap te stig. Derdens moet jy vry wees om geregtigheid na te jaag en te sorg dat almal toekom wat hulle verdien en laastens moet jy vry kan wees om die hoogste na te streef.

Hierdie landgerigte ingesteldheid word gereeld in die Westerse wêreld as verstok en verouderd beskou. Dit word verbind met nasionalisme en in sommige gevalle selfs fascisme en liberale denkers doen groot werk om mense te oortuig om eerder ‘n see-gerigte ingesteldheid te volg en uit die begrensing van identiteit los te breek.

Tog het elke mens ‘n ingeboude sin vir plek. Die praktyk wys vir ons dat ‘n suiwer see-gerigte ingesteldheid nie volhoubaar is nie. Mense sonder grense is ook mense wat nêrens het om in ontstuimige tye na terug te keer nie. Jy word vrygestel van die gesag van jou kultuur, volk, gemeenskap en die tradisionele gesin. Wat is jy dan as jy aan niks behoort nie?

Die seegerigte mens raak toenemend weerloos as individu. Die landgerigte mens daarteenoor weet wie hy is, waarheen hy oppad is en het ‘n sterk ondersteuningsnetwerk van mense en instellings wat vir hom intree, hom onderskraag en hom help betekenis aan die lewe gee.

Volgens Goosen is nog ‘n onderskeid tussen die seegerigte en landgerigte mens die onderskeid tussen ruimte en plek. Die moderne wêreld word geregeer deur die gedagte van ruimte. Tog moet ruimte beheer word en indien die individue en sy verbintenisse dit nie beheer nie dan doen ‘n sterkerwordende staat dit. Vir die landgerigte mens kom beheer vanuit die orde van gesin, gemeenskap en volk.

Die Katalane huidige strewe na onafhanklikheid is ‘n voorbeeld van landgerigtheid. So ook die strewe van die meeste minderheidsgroepe na selfbeskikking. Ook Afrikaners kan gerus meer landgerig wees en dus gefokus daarop om vry te wees vir onsself eerder as van onsself.

 

NUUSKOMMENTAAR: 25 Oktober

SAKP SE VERNEDERING

Die jongste klap wat die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party vanaf president Jacob Zuma ontvang het, mag dalk die laaste vernedering wees wat dié geswore lid van die drieparty-alliansie kan verduur.

Zuma het tydens sy mees onlangse kabinetsverskuiwing die SAKP se sekretaris-generaal, die 59 jarige Dr. Blade Nzimande, uitgeskop as minister van Hoër Onderwys en Opleiding. Nzimande is ʼn deurwinterde politikus en staan reeds vir bykans twintig jaar aan die hoof van die Kommunistiese Party. Hy was sedert 2009 ʼn lid van Zuma se kabinet.

Die SAKP se pad saam met die ANC is nie sonder slaggate nie. Die party is reeds vir meer as sestig jaar saam met die vakverbond Cosatu lid van alliansie.

In die veertiger en vyftiger jare het die Suid-Afrikaanse kommuniste begin wegbeweeg van hul internasionale kamerade en hulle daarop toegespits om toe te sien dat die sogenaamde vryheidstryd in die land op koers bly en nie sy fokus op die klassestryd verloor nie. Die kommuniste wou waak teen ʼn oordrewe nasionalistiese vryheidstryd.

Die SAKP was dus in baie opsigte deur die jare die derde wiel aan die wa, want reeds in 2007 het president Thabo Mbeki geluide gemaak dat daar teen die linkse elemente in die ANC gewaak moet word. Die kommuniste het in Zuma as president ʼn nuwe linkse vennoot gesien, maar besluit om hulself te beywer vir ʼn hersaamgestelde alliansie. Hiervan het niks gekom nie.

Die SAKP se liefdesverhouding met Zuma het nie lank gehou nie, want by die party se nasionale konferensie vroeër vanjaar is die president verbied om die geleentheidstoespraak te lewer. Nzimande het selfs openlik verklaar dat Zuma moet bedank.

Zuma het hard hieraan gesluk. Veral toe die SAKP boonop vir adjunkpresident Cyril Ramaphosa as hulle voorkeurkandidaat vir die ANC-presidentsverkiesing in Desember aanwys.

Die kommunistiese party se teenstand teen Zuma spruit uit die rol wat hy na bewering in staatskaping speel. Hul motivering is egter nie om ʼn vrye ekonomie te vestig nie, maar eerder om die invloed van die sakegemeenskap op die land se regering uit te wis.

Die jongste besluit van Zuma om Nzimande uit sy kabinet te skop, is waarskynlik ʼn stap van persoonlike vergelding.

Dit is egter ʼn besluit wat net die laaste spyker in die doodskis van die alliansie mag wees.

Sekere politieke ontleders is van mening dat die ANC nie noodwendig die steun van die SAKP nodig het nie. Daar moet in gedagte gehou word dat die SAKP maar sowat 220 duisend ingeskrewe lede het en omdat die ANC en die kommuniste deur die jare so verstrengel geraak het, kan daar nie bepaal word of die lede van die party noodwendig teen die ANC sal stem nie.

Dis egter hoogs onwaarskynlik dat die 17 parlementslede van die SAKP weer vir Zuma sal stem.

Indien die SAKP voorts sy besluiteloosheid oor sy lidmaatskap van die alliansie kan besweer, bestaan daar ʼn moontlikheid dat die party ʼn hawe vir keelvol kiesers aan die linkerkant van die politieke spektrum kan word.

Die tyd sal leer.

 

Nuuskommentaar: 24 Oktober

TRANSFORMASIE VERMOM AS AKKREDITASIE

In die na-1994 Suid-Afrika is sonder slag of stoot aanvaar dat selfs gevestigde universiteite elke opleidingsprogram deur die staatsdepartement en sy instrumente moet laat goedkeur, tesame met ‘n ystergreep op skoolonderwys waar die matriekeksamen gebruik word om die ‘n gesentraliseerde en voorskriftelike skoolkurrikulum af te dwing.

Onlangs is vier bekende universiteite deur die Raad op Hoër Onderwys (RHO) aangesê om verslag te doen hoe hulle hul “regsgraadprogram (LLB-graad) gaan verbeter om hul akkreditasie nie te verloor nie”.

Dit klink dalk of die proses normaal en geldig is. Dit is nie. Nie vir universiteitswese wat oor akademiese outonomie behoort te beskik nie. Allermins.

Eerstens bied die betrokke universiteite hierdie opleiding al lank aan. Hulle weet hoe om graadkursusse saam te stel en aan te bied. Tweedens kom die kommentaar op die graadprogramme nie van ‘n beroepsliggaam of die Departement van Justisie nie. Wat kan dan nou skielik fout wees met die gevestigde programme?

Daar kan natuurlik fout kom as daar onbekwame mense aangestel is by van die universiteite, maar wanneer Olivia Mokgatle, direkteur van die RHO standaardehersieningsafdeling, sê dat transformasie en diversifisering “een van die redes” is waarom die vier universiteite in kennis gestel is dat hulle moontlik akkreditasie vir hulle LLB-programme kan verloor, is dit duidelik dat dit nie net oor akademiese standaarde gaan nie.

En dit is ook maklik om menings te hê oor tegniese sake soos “die aantal krediete van die graad” as jy ander doelwitte, soos transformasie, wil afdwing.

Hierdie oënskynlike klein voorval in ‘n groot poel van graadkursusse is ‘n betekenisvolle waarskuwing dat daar standpunt ingeneem moet word vir akademiese outonomie en dat daar weerstand teen sentrale regeringsinmenging in akademiese opleiding gebied moet word. Dit maak nie saak van watter politieke oortuiging jy is nie, maar hierdie magsvergryp op opleiding kan die ekonomie vergiftig. Vandag is dit die regsgraad, môre kom die ingenieursgraad aan die beurt. Vandag word van die staatsgesteunde universiteite aangespreek, maar môre kom die privaatuniversiteite, wat ook deur die RHO geakkrediteer word, aan die beurt.

Die regering van die dag het ‘n kragtige gesentraliseerde greep op skoolonderwys: die “CAPS”-kurrikulum, wat met die kleinste van uitsonderings tans die Afrikaanse kind se opleiding is, se beginsels is deurspek met social engineering doelwitte, soos “sosiale transformasie” en “menseregte, inklusiwiteit, omgewings- en sosiale geregtigheid”. Dis nie maar net afleidings nie, maar beginsels wat woordeliks uit byvoorbeeld die “Afrikaans Huistaal” CAPS-dokument aangehaal word.

Die sosialistiese afdwinging van registrasie- en akkreditasievereistes op ‘n wyse wat die perke en rol van die sentrale regering in onderwys ver oorskrei, is nie net ‘n ekonomiese bedreiging nie, maar ‘n aanslag op akademiese vryheid en gewetensvryheid. ‘n Soort pouslike styl van voorskriftelikheid oor hoe jy moet menswees en dink wat in jou aanleer van taalkunde of wiskunde ingebou word.

In die tyd wat die reformasie van vyf eeue gelede herdenk word, is ‘n oproep vir gewetensvryheid en om onderwys ruimte te gee om akademies getrou en vir die gemeenskap en nie die sentrale beplanners se doelwitte nie opgestel en uitgevoer te word, gepas.

 

Nuuskommentaar: 23 Oktober

Balke, splinters en die heksejag op oud-polisiemanne

`n Onlangse hofuitspraak deur regter Billy Mothle dat die anti-apartheidsaktivis, Ahmed Timol, van die dak of uit `n vertrek van die John Vorster-plein gestamp is, kan lei tot `n moontlike heksejag op verskeie polisie- of veiligheidsbeamptes wat tydens die Apartheidsjare (of dan Nasionale Party-bewind) diens gelewer het.  Die Mabelane-familie het ook intussen na vore getree en gevra dat die dood van Matthews Mabelane ondersoek word. Onmiddelik moet daar gemeld word dat daar nie onsimpatiek gestaan word teenoor families wat hulle geliefdes verloor het nie. Dit moet egter uitgewys word dat daar reeds `n proses was waartydens daar na antwoorde gesoek is, gepoog is om slagoffers se waardigheid te herstel en aansoeke om amnestie oorweeg is. Die proses het in 1996 afgeskop en is deur die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) gelei.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se eenheid vir misdrywe voortspruitend uit die Waarheids- en Versoeningskommissie gaan volgens mediaberigte drie sake ondersoek waarvan Timol s’n die eerste was. `n Volgende saak wat moontlik ondersoek gaan word is die van dokter Neil Aggett wat homself glo in 1982 by die John Vorster-polisiekantoor gehang het. Die WVK se bevinding in 1998 was dat luitenant Stephen Whitehead en majoor Arthur Cronwright vir Aggett gemartel het. Cronwright is intussen oorlede en sou die vervolging voortgaan, sal Whitehead alleen tereg staan. Dit is belangrik om te vermeld dat die bejaarde polisiemanne wat nou vervolging in die gesig staar, vir hulle eie regskoste moet betaal aangesien die polisie weier om dit te doen. Dit beteken dat `n voormalige polisieman wie se meeste kollega’s oorlede is deur die NVG voor die hof gedaag kan word om verantwoording te doen vir `n voorval wat in sommige gevalle tot veertig jaar gelede gebeur het.

Dit is ook belangrik om uit te wys dat die beplande vervolgings wat die Nasionale Vervolgingsgesag se eenheid vir misdrywe voortspruitend uit die Waarheids- en Versoeningskommissie beplan, blykbaar nie gemik gaan wees op diegene wat aan die sogenaamde bevrydingsbewegings verbonde was nie. Daar kan dus met reg gevra word of families van slagoffers wat weens Umkhonto we Sizwe se bomme in Kerkstraat, Amanzimtoti, Durban, by die Johannesburgse landroshof en ander plekke se berusting dan ligter weeg. Dit blyk verder nie dat diegene wat by Kamp Quatro in Angola gemartel is geregtigheid kan verwag nie. Dit wil ook nie voorkom of Siphiwe Nyanda, wat in die dokumentêre rolprent Tainted Heroes erken dat hy betrokke was by die plant van landmyne, wat onskuldige burgers geteiken het, binnekort in die beskuldigdebank sal sit nie.

Daar moet met groot versigtigheid te werk gegaan word wanneer ons hou vir hou begin speel oor Suid-Afrika se geskiedenis. Wanneer die NVG besluit om bejaarde polisiemanne in die beskuldigdebank te plaas sal hulle met reg met die vraag gekonfronteer word: Wat van die moordenaars van die talle burgerlikes wat aan die hande van ANC-terreurdade gesterf het? Die onskuldige Ma’s en kinders wat met motor- en asblikbomme geteiken is, die IVP-ondersteuners in Kwa-Zulu Natal wat uitgemoor is en die slagoffers in townships wat met `n brandende band om die nek vermoor is. Waar is diegene wat daarby betrokke was – nie net die bomplanter nie maar ook die bevelvoerder wat homself vandag in `n top regeringsposisie bevind?

Die NVG moet diep gaan besin of hierdie hernude aanslag op oud-polisiebeamptes gaan help om versoening in Suid-Afrika te bevorder en of dit eerder tot verdere polarisering sal lei.

 

Nuuskommentaar: 20 Oktober

Trump maak fout met aanval op Iran

Almal wat ’n paar jaar gelede die televisiereeks The Apprentice gekyk het, sal onthou dat Donald Trump ’n meester is in die skep van afwagting vir ’n groot aankondiging.  Sedert hy in Januarie president van Amerika geword het, pas hy ook hierdie beginsel in die aankondiging van belangrike beleidsbesluite toe. Die afgelope paar weke het Trump groot afwagting geskep vir ’n belangrike aankondiging oor die kernooreenkoms wat twee jaar gelede tussen die VSA, Frankryk, Brittanje, Duitsland, China, Rusland, Die Europese Unie en Iran oor Iran se kernprogram, gesluit is.

 

Sedert die ooreenkoms op 14 Julie 2015 in Wenen, Oostenryk gesluit is, het die Internasionale Atoomenergie Agentskap in agt verskillende verslae bevestig dat Iran die ooreenkoms nakom. Iran se kernfasiliteite is deeglik deur die agentskap ondersoek en daar bestaan internasionale konsensus dat Iran sy deel van die ooreenkoms nakom. Trump het egter reeds tydens verlede jaar se Amerikaanse verkiesingsveldtog teen die ooreenkoms uitgevaar en dit as ’n swak en gevaarlike ooreenkoms beskryf. Sedertdien het hy herhaaldelik beweer dat Iran nie die ooreenkoms nakom nie.

 

Volgens wetgewing wat deur die Amerikaanse kongres aanvaar is, moet die Withuis elke negentig dae sertifiseer dat Iran die ooreenkoms nakom en dat die verslapping van Amerikaanse sanksies teen Iran steeds in Amerika se belang is. Trump het hierdie afsnydatum gebruik om oor die afgelope paar weke afwagting vir sy groot toespraak oor Iran te skep.

 

Verlede Vrydag het hy sy langverwagte toespraak gelewer waarin hy ’n hele lys van klagtes teen Iran voorgehou het. Party van die klagtes soos dat Iran die terreurgroep Al Kaïda ondersteun het, is lank reeds weerlê, terwyl ander meer geldige klagtes dertig en selfs veertig jaar gelede relevant was. Na al die afwagting wat geskep is, moes Trump darem probeer om die persepsie te skep dat Iran die monster is wat, hoewel hy die woorde van die kernooreenkoms nakom, op een of ander manier nie die gees waarin die ooreenkoms gesluit is, eerbiedig nie.

 

Trump het egter op advies van sy adviseurs en kabinetslede nie sovêr gegaan om van die ooreenkoms te onttrek nie. Waarin hy egter wel geslaag het, is om Amerika se geloofwaardigheid oor Midde-Oosterse sake verder te ondermyn en die verhouding met Europese bondgenote, wat almal by die ooreenkoms staan, skade te berokken.

 

Trump is toenemend onder invloed van drukgroepe, insluitende wapenvervaardigers, wat nie kan wag vir die volgende Midde-Oosterse oorlog nie. Ook Israel jaag die spanning tussen die VSA en Iran op vir sy eie belang. Nog ’n belangrike bron van die kwaad is die spanningslyn tussen Soenniete- en Sjiiete Moslemlande. Iran verteenwoordig die sentrum van Sjiiete-herlewing, terwyl die Amerikaanse regering reeds vir lank in ’n ongesonde verhouding met Soenni-lande soos Saoedi-Arabië staan.

 

Trump se bewering dat Iran regoor die wêreld chaos saai, is selfs meer verregaande as party van sy ander ongefundeerde opmerkings van die afgelope paar maande. Die realiteit is ongelukkig dat spanning en uiteindelik selfs oorlog met Iran vir Amerika en/of sy bondgenote in die Midde-Ooste min voordele kan inhou en die streek selfs in meer chaos kan dompel. Die Amerikaanse regering sal die verlede agter hulle moet plaas en met groter realisme na hedendaagse Midde-Oosterse magsverhoudinge moet kyk. Dit sal egter net sonder die geraas van steunwerwingsgroepe kan gebeur.

 

 

Nuuskommentaar: 19 Oktober

Vier jaar gelede het Wimpie van der Merwe by die kantore van AfriForum en AfriSake se prokureurs ingestap. Wimpie het homself voorgestel as ‘n voormalige ingenieur in die elektrisiteitsafdeling van die Tshwane Metroraad.

Hy het vertel dat grootskaalse korrupsie in die Tshwane Metroraad op pad was. Dat die voormalige adjunk-direkteur van Verkryging die name van vyftig amptenare wat by korrupte transaksies betrokke was aan die Valke deurgegee het. Die ANC het die helfte van daardie vyftig amptenare gedissiplineer, maar die ander helfte is beskerm. Sommige werk nog steeds vir die stadsraad.

Die korrupte administrasie van Kgosientso Ramakgopa het waarskynlik deeglik besef dat met die betrokke adjunk-direkteur van verkryging op kantoor, sou toekomstige verdagte projekte moeilik deurgedruk kon word.  Die betrokke adjunk-direkteur is in November 2012 gedwing om te bedank.

Wimpie van der Merwe het besef dat hy nie in sulke omstandighede kon werk nie en hy het op sewe aksiestappe besluit alvorens hy bedank het as ingenieur by die raad. Sy stappe het ingesluit dat hy belastingbetalersverenigings, die professionele verenigings van ingenieurs, die amptelike opposisie en ANC-raadslede ingelig het oor sy kommer, ‘n aantal christen-vriende versoek het om saam met hom te bid vir geregtigheid en vir AfriSake en AfriForum as nie-politieke sake- en burgerregteorganisasies te vra om regsaksies te neem.

In Junie 2013 is die sogenaamde Master Services Agreement tussen die Tshwane Metro, PEU Capital en ‘n nuwe maatskappy met die naam Tshwane Utility Management Services (TUMS) gesluit. PEU Capital is voorheen aangestel as adviseurs om “innoverende maniere” te vind om die stadsraad te help om wanbetalende elektrisiteitsgebruikers sover te kry om te betaal. Hulle gebruik toe die geleentheid om hulleself as die oplossing aan die stadsraad op te dwing.

PEU sou sommer self voorafbetaalde kragmeters by Pretoria en omstreke se 800 000 huishoudings installeer, maar hulle sou nie by die wanbetalers begin nie maar die bes betalende gebruikers teiken om voorafbetaalde kragmeters te kry.

Die stadsraad sou afsien van sy normale beleid om tenders in te win vir so belangrike projek en sou dan aan PEU en TUMS 19,5c vir elke rand betaal van die kragtariewe wat gevorder word vandat die eerste meter geïnstalleer is. Danksy PEU se innoverende plan, het dit die raad onmiddellik byna 20 persent van sy kraginkomste gekos, voordat dat daar enige werklike voordeel was.

Die 13 000 beste kraggebruikers, wat vir 55% van die elektrisiteitsinkomste verantwoordelik was, het eerste meters gekry en dit het die raad byna R5 miljoen per dag gekos. Om alles te kroon het die raad, soos verwag, in 2015 besef dat die kontrak hom bankrot maak en toe ‘n kansellasie ooreenkoms beding wat voorsiening sou maak vir die terugkoop van die 13 000 meters en IT infrastruktuur vir ‘n allemintige R950 miljoen rand.

Adv Cedric Puckrin, SC wat namens AfriSake opgetree het in verlede week se hersieningsaansoek het tereg opgemerk al wat innoverend is aan die projek, is die advokate van PEU en TUMS se argumente om dit te regverdig.

Na een dag van argumente voor regters Baqwa, Raulinga en Louw het hulle bevind dat die kontrakte tussen die Tshwane Metro, PEU en TUMS ongrondwetlik en ongeldig is en ter syde gestel moes word.

Wimpie van der Merwe is steeds nie voltyds in diens nie. Geregtigheid het reeds gedeeltelik geskied, maar dit moet nog ten volle gebeur veral vir Wimpie van der Merwe en ander wat die moed van oortuiging het om die regte ding te doen – selfs ten koste van hulleself.

Daardie stryd sal voortgaan.

 

Nuuskommentaar: 18 Oktober

Gaan Fatah en Hamas se ooreenkoms hou?

In die Gaza-strook, waar die terreurbeweging Hamas sedert die burgeroorlog tien jaar gelede alleen die septer swaai, word daar feesgevier na ’n gesamentlike regeerakkoord met Fatah in Egipte gesluit is. Die twee organisasies sal van Desember af saam oor die uitgemergelde Gaza regeer.

Die inwoners van Gaza sien in die proses veral die lig dat die ekstreme isolasie waaraan hulle onderwerp was, verlig sal word. Daar word veral op gereken dat die grenspos in die suide na Egipte meer dikwels oopgestel sal word wanneer Hamas en Fatah dit saam beman. Die grens met Israel sa na verwagting dig toe bly.

’n Kwessie wat die hele poging kan lamlê is dat Hamas nog geen aanduiding gegee het dat hy oor sy reuse arsenaal of gewapende vleuel afstand sal doen nie. Israel voel solank as wat missiele oor die grens afgevuur word of tonnels onderdeur die grens gegrawe word waardeur aanvalle geloods kan word, is daar geen sprake van ’n oplossing nie.

Hamas het oplossings begin soek toe Fatah, wat die Wes-Oewer beheer, ekonomiese strafmaatreëls teen Hamas ingestel het. Feitlik alle buitelandse hulp aan die Palestyne word na die regering op die Wes-Oewer gekanaliseer. Die Wes-Oewer met sy twee miljoen inwoners het onleefbaar begin word.

Waarnemers wys daarop dat die nuwe ooreenkoms, soos voriges, en selfs die Camp David-ooreenkoms en wat die Palestyne geraak het, baie oppervlakkig is.

Dit is eintlik vreemd dat dit die inwoners van die Wes-Oewer is wat die meeste vreugde toon oor die ooreenkoms. Die inwoners besef seker ook teen dié tyd dat die benadering tot nou toe, naamlik om terreurdade teen Israel te pleeg, maar net in die oortreffende trap vergeld word. Intussen word hul eie swaarkry steeds net groter.

Hamas besef stellig ook dat solank as wat die VSA Israel ondersteun, sal Israel kans kry om al hoe sterker te word. Pas het die VSA en Israel beide uit die VN-liggaam, Unesco, onttrek weens beskuldigings dat Unesco te bevooroordeeld teenoor Israel begin optree.

Nog ’n faktor is dat Arabiese lande nou oor die algemeen erg wantrouig is oor selfs skynbaar onskadelike radikale Moslimbewegings. ’n Ruk later is dit magtige organisasies wat wêreldwyd terreur pleeg – en Hamas is ideologies nie ver van Isis verwyder nie.

Of die ooreenkoms gaan bydra tot ’n vredesproses wat Israel betrek, sal die tyd moet leer. Solank Hamas nog beheer oor sy arsenaal en gewapende magte behou, is dit egter heeltemal buite die kwessie.

 

 

Nuuskommentaar: 17 Oktober

Die Probleem met Weermag Polisiering

Die ontplooiing van die weermag in streke en gebiede wat deur misdaad geteister word mag dalk op die oog af aanloklik en doeltreffend lyk en klink. Ons land word op elke sosio-ekonomiese vlak ernstig deur misdaad  geraak. Hierdie buitengewone maatreël los ons egter met groot vrae.

 

Eerstens, moet daar bepaal word of die ontplooiing van die weermag op ‘n praktiese vlak ‘n verskil gaan maak aan die verskeie misdaad probleme wat ons land se gemeenskappe in die gesig staar. Militêre opleiding en die uitoefening van hul gedelegeerde mag om legitieme geweld teen ‘n staat se burgers uit te oefen is konfronterend van aard. Weermagte word opgelei om beheer te neem in omgewings en om bedreigings te neutraliseer. Weermagte is egter nie opgelei om misdade te ondersoek nie en op voetsoolvlak behels die weermag se teenwoordigheid slegs dat hulle omgewings en gemeenskappe omring en toegang streng beheer. Eenvoudig gestel is die weermag opgelei om oorlog uit te voer en die polisie om misdaad te verhoed en te ondersoek. Die ontplooiing van die weermag is egter slegs ‘n pleister wat geplak word oor ‘n probleem wat veel groter is.

 

Tweedens, die teenwoordigheid van ons weermag in gemeenskappe laat vrae ontstaan oor ons demokrasie en staat. Die huidige misdaad probleem het ontstaan weens ‘n staatsbeheerde diens, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, wat reeds nie funksioneer soos dit veronderstel is om te funksioneer nie. Om nou egter te glo dat die selfde staat wat in die eerste plek misluk het, skielik die probleem gaan oplos deur ‘n mag wat onopgelei en onbekwaam vir die taak is, is kortsigtig.

 

Die misdaad probleem in Suid-Afrika is meer omvattend as wat ons sosiale media-behepte Minister van Polisie ons wil laat glo. Eerder as om te fokus op die velkleur van ons polisiediens behoort ons te fokus op hul doeltreffendheid. Die huidige SAPD hoofbestuur is die eerste probleem wat aangespreek moet word indien ons ernstig is oor misdaadbekamping.

 

Verder op filosofiese vlak, is die ontplooiing van die weermag in ons gemeenskappe kommerwekkend. Weermagte skep ‘n vyandige gevoel van “ons-en-hulle”. Deur die weermag op ons strate en tussen ons burgers se huise te stasioneer definieer ons, ons eie burgers as vyande. Hierdie kan egter twee uitwerkings hê. Vir die slagoffers van bendegeweld, dwelmmisdade en moorde word hulle blootgestel aan troepe wat nie oor die vermoë beskik om met slagoffers te werk nie wat reeds bestaande trauma slegs gaan vererger. Vir die verdagtes binne ons gemeenskappe word hul hanteer as vyande wat geneutraliseer moet word. Op geen vlak is hierdie aanvaarbaar in ‘n veronderstelde funksionerende demokrasie nie.

 

Die weermag wat beweging in ons gemeenskappe beheer maak ernstige inbraak op die lede van daardie gemeenskappe se burgerlike regte. Nie net is hulle en hul gemeenskappe slagoffers van buitensporige misdaad nie maar word hul nou ook slagoffers van ‘n staat wat beheer verloor het en dit nou deur magsvertoon probeer terugkry.

 

Ons kort nie ‘n oorlog teen misdaad en dwelms nie. Ons kort oplossings vir ernstige sosiale probleme. Ons kort ‘n staat wat sy rol vervul voordat hy hoegenaamd oorweeg om sy eie mandaat verder uit te brei.

 

Nuuskommentaar: 16 Oktober

Jeugdiges werkloses kan ʼn bate word

Ons het na 1994 almal verwag dat die volledige Suid-Afrikaanse samelewing kon deel in positiewe uitkomstes soos armoedeverligting, werkskepping, sosiale sekerheid, landelike ontwikkeling en grondhervorming, demokratiese konsolidasie, moreel etiese grondslae en waardesisteme, asook die regte van kultuur- en minderheidsgroepe.

 

Terwyl die regering in 2017  agter terme soos Radikale Ekonomiese Transformasie wegkruip en dit ideologies probeer regverdig, krimp die ekonomie jaarliks en werkloosheid word al hoe meer. Almal se 1994 verwagtinge is getemper!

 

Nêrens word dit beter gesien as in die steeds groeiende werkloosheidskoers wat tans op 36,4% staan nie. Dit verteenwoordig sowat 9,3 miljoen mense. Die ekonoom, Mike Schüssler skryf onlangs dat altesaam 37% van Suid-Afrika se volwassenes werkloos is en ons het nou die derde hoogste werkloosheidsyfer ter wêreld.

 

Ann Bernstein, uitvoerende direkteur van die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE) se kommer is duidelik in haar verwysing na die jeugdige werkloosheid as sy sê dat byna 6 miljoen jongmense teen einde 2016 werkloos was, maar 7,5 miljoen was nie in diens, opleiding of opleiding nie. Werkloosheid onder 15- tot 34-jariges is volgens haar een van die grootste maatskaplik-ekonomiese probleme in die land.

 

Daarom is dit van kritieke belang dat Suid-Afrika die snel groeiende jong bevolking in ‘n bate vir die land verander, veel eerder as die groter wordende las wat dit tans is.  Onderwys en vaardigheidsopleiding behoort daarom ʼn prioriteit te wees. Die tragedie is egter dat die teenoorgestelde gebeur. Volgens  die Wêreld Ekonomiese Forum se nuutste ranglys oor mededingendheid het Suid-Afrika, wat hoër onderwys en opleiding aanbetref, geval van die 75e plek in 2016 na die 88e plek in 2017 .

 

Dit word duidelik dat daar baie anders gedink sal moet word oor die werkloosheid tsunami. Suid-Afrika sal eers ekonomiese volwassenheid bereik indien President Zuma en sy opvolgers besef dat ons minder moet praat in terme van swart Suid-Afrikaners se aandeel in die ekonomie, maar meer in terme van die aktiewe bydrae tot die ekonomie. Dit kan egter slegs bereik word indien daar ʼn besef by die ANC en sy leiers is dat niemand ‘n groter deelname in die ekonomie kan opeis, sonder eie inisiatief en harde werk nie.

 

Daardie realisme was wel in 2012 teenwoordig met die Nasionale Ontwikkelingsplan wat daarop gemik was om teen 2030 armoede uit te skakel en ongelykheid te verminder deur Suid-Afrikaners te laat saamstaan; ’n inklusiewe ekonomie te kweek en vaardighede op te bou. Was dit maar net nog ʼn pypdroom wat deur ideologie verswelg is?

 

Die verlede het wel antwoorde vir vandag se uitdagings. Na die Groot Depressie in die dertigerjare het die staat wel betrokke geraak en is werkloses onder andere gebruik om dwarsleêrs te lê vir die groeiende spoor infrastruktuur. Ook militêre leiers het met oplossings vorendag gekom. So is Spesiale Diensbataljonne as ʼn sosio-militêre skema gestig om jongmanne te help om uit werkloosheid en gevolglike uiterste armoede van daardie jare te ontsnap. Die doelwit was om die jong mans deur militêre dissipline en fiksheid toe te rus om verskeie ambagte te leer en hulle na ʼn tydperk van ten minste ʼn jaar weer in diens te kon stel. Met behulp van die Departement van Arbeid en Welsyn kon die Spesiale Diensbataljonne reeds teen die einde van 1937 aan sowat 6 858 jong mans van arbeid voorsien. Veral die polisie, spoorweë,  gevangenisdiens en mynwese het gebaat uit die Spesiale Diensbataljonne.  Hierdie Spesiale Diensbataljonne het ten tyde van die Tweede Wêreldoorloog en na afloop daarvan omgeskakel in volledige militêre eenhede en so is die spesialis pantsereenhede gebore.

 

Daar sal wel op grootskaal gedink moet word om die ekonomie te stimuleer sodat werk geskep kan word.  Dr Theuns Eloff skryf juis op 11 Oktober 2017 oor die agteruitgang in SA se infrastruktuur met verwysing na ʼn omvattende verslag oor water, sanitasie, paaie, spoorlyne, elektrisiteit, gesondheid en onderwys wat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs onlangs met hulp van die WNNR gepubliseer het.  Dr Eloff skryf dat infrastruktuur soos water, sanitasie, paaie en onderwysgeriewe openbare bates is wat in almal se belang is en bestuur moet word. Dit verbeter lewensverwagting, fasiliteer sosiale mobiliteit en toegang tot ekonomiese geleenthede, en help ekonomiese groei en werkgeleenthede skep.

 

Na aanleiding hiervan moet die vraag moet dan gevra word: Wat is verkeerd daarmee om op grootskaal arbeidsmagte byeen te bring om te werk op die instandhouding van ons infrastruktuur en byvoorbeeld paaie, veral slaggate te herstel? Die Spesiale Diensbataljonne na die Groot Depressie het jong mans met vaardighede toegerus om ekonomiese aktiewe burgers van die land te word. Dit kan in 2017 weer gebeur maar dit sal ʼn verbintenis tot ekonomiese ontwikkeling en vrye deelname van almal in die ekonomie beteken.

 

Nuuskommentaar: 13 Oktober

Dood en brood in een asem

Sedert president Jacob Zuma die politieke arena betree het, hoor die land se verarmdes, werkloses en verwaarloosdes hoe hulle nog bevoordeel gaan word. Kersfees is elke keer net om die draai en die geskenke wag net om toegedraai te word. Behuising, gesondheidsorg, werksgeleenthede en maatskaplike opheffing word met elke staatsrede belowe. Dit word gewoonlik voorafgegaan deur ‘n lang lys van wat die regering al bereik het en ‘n vinnige terugblik op die ANC se “struggle” – net om mense daaraan te herrinner dat hulle hul lewens aan helde toe te skryf het wat nie gehuiwer het om met hulle lewens te boet sodat die nageslag op stemdag ‘n kruisie kan trek nie. Weinig van die helde was egter op die slagveld of het hulle lewens prysgegee.

Die groot rede vir die romantisering van die ANC se verlede is om ‘n skuldgevoel by hulle volgelinge te skep. En om ‘n halfhartige verskoning aan te bied oor hoekom mense nie dadelik luuksehuise, luuksemotors en ‘n luukselewe deelagtig geword het soos wat die ANC sedert sy ontstaan verkondig het nie. Ná meer as twee dekades kan die regerende party steeds nie sy beloftes nakom nie. Nou dat die staat se geld ernstig begin opdroog as gevolg van korrupsie, selfverryking, wanbestuur en les bes staatskaping deur ‘n groepie individue, nou word die witman en sy sogenaamde sondes weer uit die kas gehaal en afgestof.  President Zuma se bekendmaking dat radikale ekonomiese transformasie nog altyd die regering se beleid was, is net so ‘n infame leuen as sy onthulling dat hy vergiftig is omdat hy die land deel van die Brics-groepering gemaak het. Elke regdenkende ekonoom het besef Suid-Afrika het hom stelselmatig uit Amerika en Europa se ekonomiese boeke geskryf en dat die groepering met Brasilië, Rusland, Indië en China dalk kon help om uitvoere te stimuleer en invoere goedkoper te maak. Brasilië het intussen die bus verpas, China is op soek na groter oorheersing in Afrika, Rusland speel net saam om uiteindelik ‘n kern- en gasmonopolie in Suid-Afrika te vestig en Indië kyk watter kant van die doelpaal die bal gaan val. En dan gebeur iets soos die Life Esidimeni-tragedie. Honderd-en-18 geestesgestremde pasiënte word na nie-regeringsorganisasies oorgeplaas waar hulle uiteindelik doodgaan as gevolg van onkunde en verwaarlosing. Talle mense wat deur grondherverdeling gebaat het, kry nie hulle titelaktes nie en kan nie ‘n lewe maak nie. Soveel vir die beloftes van ‘n beter lewe vir almal.

 

Nuuskommentaar: 12 Oktober

Wapenbeheer bied nie oplossing vir geweld nie

Meer as 40% van vuurwapens wat in die wêreld in privaat besit is, behoort aan Amerikaanse burgers. Amerika se bevolking van 323 miljoen mense besit meer as 300 miljoen vuurwapens. Hierdie getal styg jaarliks met sowat 10 miljoen. Die VSA het beperkte wapenbeheerwetgewing en dit is baie maklik vir ’n gewone burger om groot hoeveelhede wapens en ammunisie aan te koop.

 

Hierdie feite oor wapenbesit en beperkte wapenbeheer in Amerika is oor die afgelope paar dae oor en oor herhaal nadat Stephen Paddock vanuit ’n hotelkamer in Las Vegas 58 mense doodgeskiet en nog byna 500 beseer het.

 

Almal wil weet waarom kry Amerika nie strenger wapenbeheer nie. Die persepsie word geskep dat die VSA die moordhoofstad van die wêreld geword het. Die VSA het nog altyd ’n sterk kultuur van wapenbesit gehad. Amerikaners hou van hulle vuurwapens en hulle reg om vuurwapens te besit word in die land se grondwet verskans. Oor die afgelope paar dekades voer mense, hoofsaaklik aan die linkse kant van die politieke spektrum ’n verbete stryd om strenger wapenbeheer. Hul argumente is eenvoudig: Dit is te maklik vir individue wat graag geweld wil pleeg om ’n vuurwapen en ammunisie te bekom. Die feit dat 30 000 Amerikaners jaarliks weens vuurwapengeweld sterf, word gebruik as belangrikste bewys om hul argument te staaf.

 

Die waarheid lyk egter heelwat anders. Ja Amerika het ’n probleem met vuurwapengeweld. Die per capita sterftes weens vuurwapengeweld is heelwat hoër in die VSA as in die meeste ander Westerse lande. Wat die drywers agter hierdie argumente egter miskyk is die feit dat wapengeweld oor die afgelope twee tot drie dekades skerp in Amerika afgeneem het. In 1993 is daar sewe sterftes weens wapengeweld vir elke 100 000 Amerikaanse burgers aangemeld. Teen 2013 het dit tot 3.6 gedaal. Terwyl dit waar is dat 30 000 Amerikaners jaarliks weens wapengeweld sterf, word dit maklik verswyg dat meer as 20 000 hiervan selfmoorde was. In lande met streng wapenbeheer en minder wapens beskikbaar, vind mense maar net ander maniere om selfmoord te pleeg.

 

Selfs die liberale veteraanjoernalis Glenn Kessler, het na ’n maandelange ondersoek na wapengeweld in 2015 in die Washington Post erken dat geen voorgestelde wapenbeheerwetgewing in die VSA tot ’n afname in wapengeweld sal lei nie. Die direkteur van die Sentrum vir Navorsing oor Misdaad en Geregtigheid by die New York Universiteit, James Jacobs, bevestig onlangs in Time-tydskrif dat hul navorsing ook daarop dui dat wapenbeheerwetgewing nie noodwendig die oplossing is nie.

 

Volgens hom is die probleem grootliks verbind aan dwelmhandel en mense met ’n lang rekord van wapengeweld. Nou wat dan van voorvalle soos wat onlangs in Las Vegas plaasgevind het? Hierdie probleem kan saam met die toename in die selfmoordkoers in Amerika gegroepeer word. Indien iemand mense wil doodmaak sal hy ’n manier vind om dit te doen. In London is die inding deesdae om mense met suur te gooi. Selfmoordaanvallers jaag met voertuie tussen mense in of plaas tuisgemaakte bomme op treine. Die vraag is hoekom wil mense geweld pleeg? Hoekom is daar ’n toename in mense wat kwaad, vervreemd, eensaam en sodanig sielkundig versteurd is dat hulle onskuldige mense in massas wil vermoor? Geen wapenbeheerwetgewing gaan hierdie vraag beantwoord of oplos nie.

 

Nuuskommentaar: 11 Oktober

Landbou dalk sterker as wat hulle self besef

Met die eerste reën wat geval het in die somerreënvalgebiede, is daar weer optimisme en opgewondenheid onder die boere. Boere sien daarna uit om die ploeg in die grond te druk, en dan die reuk van vars, vogtige geploegde grond te ruik.  Dit is die begin van nuwe lewe.

 

Dieselfde optimisme onder boere was waarneembaar tydens TLU SA se onlangse kongres, waar sy honderd twintigjare bestaan ook gevier is.  Boere is inherent optimistiese mense, al gaan dit soms moeilik.

 

In die Kaap gaan dit tans egter baie sleg as gevolg van die droogte, en namate die winterreënval tydperk ten einde loop, word baie van hulle moedeloos by die gedagte van nog ‘n droë seisoen.

 

Tog wil die boere net boer, maar die regering maak dit toenemend moeilik vir boere, en politieke bedreigings wat ophoop, voorspel niks goeds nie, tensy boere hande vat en hulle organisasies sterk maak.  Die landbougemeenskap het baie meer bedingingsmag as wat hulle waarskynlik self besef, maar dit moet georganiseerd aangewend word.

 

Die sogenaamde tegniese resessie waarin die land verkeer het, is beëindig deur die enorme bydrae wat kommersiële landbou tot die ekonomie gelewer het. Die land se ekonomie kan dus eenvoudig nie sonder kommersiële landbou klaarkom nie, en daardie feit kan deur die landbouers en hulle organisasies benut word om volhoubare boerdery te verseker. TLU SA het al etlike jare gelede gesê dat die boere nie getel moet word nie, maar ekonomies geweeg moet word. Die waarheid daarvan is met die onlangse resessie bewys.

 

Ongelukkig steur die regering hom nie noodwendig aan ekonomiese feite nie, en gaan hy voort met sy politiekery van landbou en grond.

 

Maar ander realiteite begin tog nou ook ongemaklik aan landbou se deur klop, en dit word deur die hele waardeketting raakgesien. As daardie waardeketting behoorlik gemobiliseer kan word saam met georganiseerde landbou, kan dinge verander, want dan is dit nie meer net ‘n klein landboustemmetjie roepende in die woestyn nie.

 

Die diefstal en korrupsie waar dit ook veral landbou raak, word ‘n tameletjie.

 

Die ouditeur-generaal het onlangs onthul dat die Departement van Water en Sanitasie ongemagtigde uitgawes van R406 miljoen aangegaan het, vrugtelose en verkwistende uitgawes van meer as R140 miljoen gemaak het en onreëlmatige uitgawes van meer as R3 miljard gemaak het. Die OG reken dat daar groot onsekerheid bestaan of die departement kan voortgaan as ‘n lopende saak.

 

Intussen treiter daardie departement boere met rekeninge vir water, waar damme en kanale leeg is, maar dan word dit so gemors. Waarom sal boere nog enigsins vir water wil betaal as dit so aangaan?

Die forensiese ondersoekeenheid van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming is besig om 85 sake, wat strek van beweerde korrupsie en bedrog met grondeise tot die wanbestuur van grondoordragte en -waarderings, te ondersoek, terwyl die wanaanwending van fondse vir herkapitalisering en onbehoorlike optrede deur amptenare van die departement ook ondersoek word.

Grondhervorming misluk dus en is tot in sy wese korrup. Dit is maar wat gebeur as onnatuurlike prosesse ingestel word om sekeres, in hierdie geval die boere, te benadeel om ander te bevoordeel. Laat die vrye mark sy loop neem, en hierdie dinge sal feitlik verdwyn. Maar dit is hierdie feite wat die waardeketting kan gebruik om ons boere te laat aanhou boer om kos op ons tafels te sit.

 

 

 

Nuuskommentaar: 10 Oktober

Eers Katalonië, nou kom Venesië en Lombardye aan die beurt

Die afloop van die Katalaanse referendum wat heel moontlik op ’n eensydige onafhanklikheidsverklaring sal uitloop, en die Spaanse regering se gewelddadige reaksie op die referendum self, het Europese politieke filosowe aan die herbesin oor wat die woord “demokrasie” beteken.

Alexandra van Ditmars, ’n vryskutjoernalis met meestersgrade in sowel die joernalistiek as filosofie, neem in ’n artikel onder meer die vraag onder die loep: “Wat maak ’n handeling demokraties?”

Dit is na aanleiding daarvan dat die Spaanse regering die Katalaanse referendum as ondemokraties verwerp het. Intussen het die Spaanse grondwetlike hof selfs die bespreking van die referendum in die Katalaanse streekparlement verbied.

Kan die Spaanse optrede werklik met die begrip “demokrasie” versoen word? Dit klink al te veel of Spanje, en daarmee stilswyend saam, ander Europese lande, in pas is met die ANC wat demokrasie en die diktatuur van die meerderheid gelyk stel. Of dan minstens wat minderheidsregte betref, soos vervat in die internasionale reg, en waar Wes-Europa eens die voortou geneem het.

Die mate waarin die winde van verandering begin waai het, was reeds duidelik met die Skotse onafhanklikheidsreferendum te siene. Die referendum was ’n regstreekse uitvloeisel van ’n bepaling in die Europese Unie se grondwet dat lidlande aan minderheidsgroepe selfregering moet toestaan. Toe dit blyk die Britte stuur op Brexit af, terwyl Skotland as lid van die Unie wil aanbly, het die Skotte in geen onduidelike taal nie die koue skouer gekry. Trouens, om lid van die Europese Unie te word moes Spanje selfregering aan die Katalane en Baske toestaan. Die Spaanse grondwetlike hof, wie se koppe erg imperialisties dink, het in 2010 die stelsel van variërende outonomie as ongrondwetlik verklaar. Nou is dit ‘n byna voldonge feit dat enigiets wat die Katalaanse regering aanvang wat die Spaanse regering polities nie aanstaan nie, as sogenaamd ongrondwetlik aan die ban gedoen kan word.

En dit dan ewe pikant demokrasie te noem.

Die Europese Unie se reaksie was uiters koel teenoor die Katalane en wat demokrasie veronderstel is om vir hulle in te hou. En hierdie gedrag in reaksie op Spanje se gewelddadige en hardhandige optrede, het politieke filosowe uit hul gemaksone geruk.

En hulle gaan nog meer uit dié gemaksone geruk word. Binnekort, op 22 Oktober, gaan die streek om Venesië en ook Lombardye na die stembus. Die regeringsleiers van beide streekregerings is lid van Lega Nord, wat onafhanklikheid van Italië se noorde van die res van die land voorstaan. Nou kry die bevolkings van beide streke die geleentheid om hul menings hieroor in referendums uit te druk.

Dit is nie die eerste poging om die bevolking se gevoel te toets nie, maar met vorige geleenthede het die Italiaanse regering baie soortgelyk opgetree as wat die Spaanse regering nou opgetree het, net sonder die geweld.

Die ironie – en moontlik is daarin ’n les te leer – is dat die afskeidingsdruk nie nou kom van Suid-Tirool en Sardinië nie. Suid-Tirool se regte om sy oorwegend Duitssprekende karakter en kultuur te behou word gereeld gebruik as voorbeeld van hoe minderheidsregte in die praktyk kan werk.

Met België se groeiende etniese federalisme wat in die praktyk neerslag vind, het stemme oor Vlaamse onafhanklikheid stiller geword. ’n voorstel van die grootste Vlaamse party, die N-VA, dat konfederalisme vir bespreking op die tafel geplaas word, is oor die algemeen nie goed ontvang nie.

Erken minstens sinvolle minderheidsregte, en bekyk dan die kat uit die boom. Maar minderheidsregte vir die Afrikaner is reeds deur Gwede Mantashe en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as buite orde gereël.

 

Nuuskommentaar: 9 Oktober

‘n Geveg om den Dode . . .

Niemand kan meer twyfel dat die stryd in die ANC oorgeborrel het nie. Ná die gewelddadige en onplesierige leierskapskonferensie in die Oos-Kaap eis almal in die land oor wat aan die einde van die jaar met die nasionale verkiesingskonferensie gaan gebeur. Dit gaan nou nie net meer oor wie die nuwe leier in die plek van Jacob Zuma word, of wie die top-ses gaan wees nie.

Die ANC is tans in die greep van politieke begunstiging soos nog nooit tevore nie.  Elkeen veg om sy porsie te behou, maar dit word al hoe kleiner. Dit verklaar die toenemende gedraf na die howe om konferensies nietig te verklaar en uitslae waar moontlik te beveg. Lojaliteit het by die deur uitgevlieg en daar is geweldige druk op Luthuli Huis om kant te kies. Die feit dat die howe genader word, toon ook dat ontevrede ANC-lede nie meer die party se interne geskilmeganismes vertrou nie. Dit word aansienlik vererger deur die doodse swye wat heers na die Nasionale Uitvoerende Komitee se driedaagse vergadering agter geslote deure. Dit is hoofsaaklik byeengeroep om die krisis in Kwazulu-Natal te bespreek nadat die hof die verkiesing van die ANC se provinsiale leiers in 2015 nietig verklaar het. Dit was nog nie mooi op dreef nie, toe breek die damwal in die Oos-Kaap. ‘n Cyril Ramaphosa-ondersteuner raap die voorsitterskap voor ‘n Nkosazana Dlamini-Zuma-lojalis weg en die verloorders se dringende hofaansoek word van die hand gewys. Hierdie is ‘n voorsmakie van wat die res van die jaar verwag kan word. Dit is baie moontlik dat die belangrike leierskapsverkiesing in Desember ook in die hof gaan draai.

Die ANC het soos ‘n hond met twee koppe geword wat albei om dieselfde been veg. Die party se politieke proses het ineengestort en sy kern het losgeskeur. Al word die ANC se leierskapskonferensie uitgestel gaan dit nie die uiteindelike oorlog keer nie. Die algemene verkiesing in 2019 geniet grondwetlike beskerming en is in dié stadium darem nog veilig. Intussen wag die res van die land wag om regeer te word – of het die ANC vergeet hy kan nie sonder kiesers aan bewind bly nie?

 

Nuuskommentaar – 6 Oktober

Europa se probleme vêr van oor

Europese leiers probeer die afgelope tyd alles in hul vermoë doen om die persepsie te skep dat die Europese projek van ’n verenigde Europa wat op ekonomiese, maar ook politieke terrein saamwerk, besig is om te slaag. Daar is egter genoeg rede om te glo dat die optimistiese uitsprake van Europese leiers slegs ‘n poging is om die enorme uitdagings wat die projek om Europa te verenig tans in die gesig staar, te onderspeel.

 

Leiers soos Jean-Claude Juncker, president van die Europese Kommissie en nasionale leiers soos Emmanuel Macron en Angela Merkel het die afgelope paar dae almal moeite gedoen om ’n optimistiese beeld van Europa te skets.

 

Na die finansiële krisis wat ’n paar jaar gelede weens enorme staatskuld in veral suidelike Europese lande uitgebreek het, het Europa die een krisis na die ander in die gesig gestaar. Terreuraanvalle deur Islamitiese terreurgroepe en individue het oor die afgelope paar jaar na bykans elke land van Wes-Europa versprei en veral lande soos Frankryk en Engeland is hard getref.

 

Die uitbreek van die migrantekrisis, toe meer as 1 miljoen vlugtelinge gedurende 2015 na Europa begin stroom het, was net olie op die vuur. Europa, hoewel steeds welvarend, veilig en in baie opsigte ’n beter plek as die meeste ander wêrelddele, het onsekerheid in die gesig begin staar.

 

Europa se probleme is nie besig om weg te gaan nie. Terwyl die probleem van staatskuld met pynlike besnoeiings in die meeste lande aangespreek is, is staatskuld steeds vir die meeste Europese lande ’n groot uitdaging. Intussen is die volgende finansiële krisis aan die ontwikkel met talle groot banke in veral Suid-Europese lande soos Italië, Spanje en Portugal wat onder druk verkeer. In slegs hierdie drie lande sit banke tans met meer as 500 miljard Euro se slegte skuld.

 

Met beide die skuld- en migrasiekrisisse was Duitsland en hul kanselier, Angela Merkel, keer op keer die ridder op die wit perd. Europa se finansiële-, terreur- en migrasieprobleme is egter glad nie opgelos nie. Die volgende finansiële krisis wag om te gebeur, terreurdade vind steeds plaas en vrese vir groter aanvalle deur die Islamitiese Staat sedert dié groep uit hul basisse in die stede van Irak en Sirië verdryf is, is algemeen. Intussen kom daar steeds daagliks vlugtelinge in Europa aan.

 

Lande in Sentraal-Europa soos Pole, Hongarye, Slowakye en die Tsjeggiese Republiek het hul grense heeltemal vir vlugtelinge gesluit en weier om volgens die Europese Unie se verdelingskema ’n kwota asielsoekers te huisves. Selfs Oostenryk het sy grense begin sluit.

 

Intussen is die vrou met die groot politieke kapitaal, Angela Merkel, in ’n Duitse verkiesing gekwes. Miljoene kiesers het hul rug op die Christen-Demokrate en Sosiaal-Demokrate wat die afgelope vier jaar saam regeer het, gedraai en vir ander partye gestem. Die volgende vier jaar gaan Merkel heelwat minder beweegruimte hê.

 

Terwyl die Europese politieke elite groter eenheid as antwoord aanbied, is dit duidelik dat die oplossing vir Europa se probleme eerder in meer federalisme, die erkenning van nasiestate se hegemonie en die herbevestiging van Europese identiteit opgesluit lê. Solank Europese leiers dit ontken sal die politieke sentrum uitgehol en krisisse tot meer en meer spanning en selfs onstuimigheid aanleiding gee.

 

 

Nuuskommentaar: 5 Oktober

So kook die padda

Ons staan so twee maande weg van die groot Desember konferensie waar die ANC ‘n nuwe leier gaan kies. Daardie leier sal ook oor twee jaar president word as die ANC die verkiesing van 2019 wen.

 

Cyril Ramaphosa is diegene wat nie van President Jacob Zuma hou nie, se gunsteling om die nuwe ANC leier te word.

 

Volgens dr Frans Cronje van die Instituut vir Rasseverhoudinge se Sentrum vir Risiko-aangeleenthede is die waarskynlikheid steeds groter dat die Zuma-faksie die oorhand gaan hê in Desember.

 

Slegs indien Ramaphosa die steun het van die ANC strukture in die hele Noordkaap, Weskaap, Ooskaap, Gauteng, ten minste die helfte van KZN of minstens een van die sogenaamde premierliga provinsies (Mpumalanga, Vrystaat, Noordwes of Limpopo) en die helfte van die Jeugliga die Vroueliga en die NUK, kan hy wen.

 

Ramaphosa is beslis ook die gunsteling van byna alle wit Suid-Afrikaners om die ANC se volgende president te word.  Juis daarom was dit verlede jaar tydens die munisipale verkiesing so groot skok vir witmense om te hoor dat hy ANC kiesers aanmoedig om ANC te stem sodat wittes nie die land terugvat nie. Hy het darem later daarvoor verskoning gevra.

 

So twee weke gelede het John Kane-Berman, wat pas die memoires van wyle dr Mario Ambrosini gelees het, onthul dat Ambrosini beskryf hoe hy 25 jaar gelede in groot vertroulikheid en eerlikheid aan hom vertel het vertel van die ANC se 25-jaar strategie om wittes te hanteer.

 

Hy het dit beskryf aan die hand van ‘n bekende beeld van hoe om ‘n padda lewend te kook. As koudbloedige dier, besef die padda nie dat die temperatuur van die water waarin hy is, stadig styg tot kookpunt nie.

 

Hy het bedoel dat die swart meerderheid wette sou aanneem wat rykdom, grond en ekonomiese mag stelselmatig van wit na swart oorgedra het, totdat die wittes alles verloor het wat hulle in Suid-Afrika bymekaar gemaak het.

 

Dit was 25 jaar gelede. Die vraag is nou of hulle geslaag het.

 

Die ANC het inderdaad baie wette aangeneem wat daarop gemik is om welvaart van wit mense weg te neem en in die hande van swart mense te plaas en baie wit mense het verarm, is werkloos of het geïmmigreer. Wit mense en swart mense is vandag ewe veel blootgestel aan die tirannie van misdaad, maar het die padda gekook? Is die padda dood?

 

Ramaphosa was verkeerd. Die padda is nie dood nie. Die padda kook wel maar nie soos hy gehoop het nie.

 

Waar die meerderheid topverdieners onder wit mense 25 jaar gelede vir die staat en vir groot instansies gewerk het, werk die oorgrote meerderheid van topverdieners vandag vir hulleself.

 

Terwyl instellings van die burgerlike samelewing waaraan wit Suid-Afrikaners behoort het 25 jaar gelede rigtingloos, uitgedien en swak was, is die burgerlike samelewing vandag sterker en meer invloedryk as ooit in die geskiedenis.

 

Daar is vandag meer ingeskrewe betalende lede van die instellings van die Solidariteit Beweging as wat die ledetal van Afrikaner kultuurorganisasies in die hoogbloei-jare van Afrikaner nasionalisme was.

 

Duisende wit Suid-Afrikaners “kook” op die oomblik saam met swart vriende, bure en inwoners van Potchefstroom en omstreke by Aardklop. Kaartjieverkope was reeds twee dae gelede 30% hoër as verlede jaar. Tientalle Afrikaanse kunstefeeste vind regdeur die jaar plaas. 25 jaar gelede was daar net een Engelse kunstefees op Grahamstad.

 

Ramaphosa moet dus versigtig wees waarvoor hy hoop en beplan. Planne word dikwels waar op ander maniere as wat mens hoop.

 

 

Nuuskommentaar: 4 Oktober

Waarop stuur onmin tussen die VSA en Noord-Korea af?

 

Hoe raak die woorde-oorlog tussen pres. Donald Trump en die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jung-Un die gewone Amerikaner, en kan dit die kanse op ’n oorlog verhoog?

Hieroor krap ontleders lekker kop, en kom tot uiteenlopende menings. Soos gebruiklik, sommiges negatief bloot omdat Trump een van die rolspelers is.

Die twyfelagtige hoogtepunt in die woordestryd was stellig toe Trump na Kim as “Rocket Man” verwys het, en Kim teruggekap het deur Trump ’n “derranged Dotard” te noem. Baie Amerikaners moes die woordeboek nadertrek vir dié ene, en dit kom daarop neer iemand is besig om sy varkies kwyt te raak.

In Mei vanjaar het ’n peiling getoon dat slegs 31 persent van die Yanks Noord-Korea op ’n kaart sal kan vind. Natuurlik is die Amerikaners berug vir hul wêreldgeografie, en in 2014 het dit geblyk net 33 persent kan Skotland op ’n kaart vind.

In ’n nuwe peiling is bevind dat altesaam 43 persent Amerikaners meen Noord-Korea wil in ’n oorlog met die VSA betrokke raak. Daar is egter ’n effense afname onder die Amerikaners wat wil oorlog maak. In Julie vanjaar was 75 persent van die Amerikaners oortuig dit is belangrik dat die VSA en sy bondgenote Noord-Korea ’n les leer, terwyl al meer Amerikaners gevoel het die VSA moet die werkie sommer self afhandel.

Politiek het ondertussen die syfers deurmekaar kom krap met ’n weerstand onder die Demokrate, van wie 70 persent gesê het Trump is ’n groter bedreiging as Noord-Korea.

Dit is baie seker dat Trump se raadgewers die president deurlopend sal adviseer oor hoe die publiek oor die saak voel. Dit klink op die oog af onlogies om ’n land by ’n oorlog te betrek waarvoor die bevolking nie lus het nie. Maar peilings is nie al wat ’n rol speel nie – ingesamelde intelligensie oor die werklike aard van die bedreiging sal ’n groter rol speel, asook faktore soos die verliese wat gelei sal word.

Met die vassuig eers in die Viëtnamese oorlog, en daarna in Afganistan en Irak, is dit ook seker dat die VSA sal huiwer alvorens in nog ’n vassuig-oorlog betrokke geraak word. Noord-Korea se militêre doktrine is egter feitlik uitsluitlik op ’n soort massa-aanslag afgestem, wat sal beteken die VSA en sy bondgenote sal hul werklike swaar wapentuig moet inspan, en waar moontlik, eerste inspan om die vyand se vermoë met ’n enorme blitzkrieg pap te slaan. Noord-Korea se kernwapens sal byvoorbeeld vernietig moet word.

Dit is natuurlik ’n ope vraag of China, Noord-Korea se enigste maar teensinnige bondgenoot, ook tot die oorlog sal toetree, veral as die slag effektief reeds geslaan is.

By ’n woorde-oorlog tussen die twee lande kan dit ook nie bly nie. Japan is nie meer gewillig om ’n toebroodjie tussen strydende magte te wees nie, en versterk beslis sy vermoë om self doeltreffend teen Nood-Korea op te tree. Suid-Korea is ook nie bereid om ’n lammetjie ter slagting te wees nie, en beskik oor vernietigende slaankrag – waar dit in getalle agter Noord-Korea is, wen dit in moderniteit en doeltreffendheid.

’n Oorlog lyk onafwendbaar om ’n kanker uit te sny voor dit wêreldwyd vernietigend kan optree.

 

 

Nuuskommentaar: 3 Oktober

Suid-Afrika word wat hy is

Die groeiende krisis in Suid-Afrika het die land weereens voor ʼn historiese kruispad te staan gebring. Die vraag is eerstens: Hoe het ons hier gekom? Tweedens volg: Hoe gaan ons hier uitkom?

 

Suid-Afrika het in die tagtigerjare algaande in ʼn politieke doodloopstraat beland. Die ANC kon nie in sy doel slaag om die regering met ʼn gewelddadig rewolusie omver te werp nie, en die NP-regering kon nie genoeg swart vennote kry om sy hervormingsprojek te laat slaag nie.

 

Grootskaalse demografiese, politieke, ekonomiese en maatskaplike omwentelings het ʼn rigtingverandering onvermydelik gemaak. Boonop het die einde van die Koue Oorlog die politiek terselfdertyd “ontvries”, wat verdere druk op die twee hoofrolspelers geplaas het. Die groot vraag was egter: In watter rigting moes daar verander word?

 

Daar was basies twee keuses. Die eerste een was ʼn gewone “een mens, een stem”-meerderheidsregering wat oor die hele Afrika in gebruik is, teenoor ʼn federale bedeling wat meerderheidsregering vir minderheidsbeskerming sou verruil. Die Amerikaanse staatsman, Henry Kissinger, het só gewaarsku dat die gewone meerderheidsdemokrasie nie hier sou werk nie:

 

In die Weste het demokrasie uit homogene samelewings ontwikkel. Daar was nie institusionele versperrings vir ʼn minderheid om ʼn meerderheid te word nie. In die Weste is verkiesingsneerlae gesien as ʼn tydelike terugslag wat weer omgekeer kan word. Maar in multi-etniese lande beteken minderheidstatus gereeld permanente diskriminasie en die risiko van politieke uitwissing.” Dis hoekom demokrasie in Afrika misluk het.

 

Federalisme

 

Daarteenoor het die Britse staatsman, Lord Acton, ʼn federasie gesien as die beste stelsel teen die misbruik van staatsmag: “Van alle soorte toetse aan demokrasie, is ‘n federasie die beste stelsel om vryheid vir almal te verseker. Die federale stelsel beperk en beheers die soewereine gesag deur dit te verdeel en slegs sekere omskrewe regte aan die regering toe te ken.”

 

In die praktyk lei ʼn gewone meerderheidstelsel in ʼn land soos Suid-Afrika, onvermydelik tot magsentralisasie, en het ʼn party selfs met 51% steun prakties 100% van die mag. Daarenteen word mag in ʼn federasie verdeel en versprei om te verseker dat gemeenskappe oor die oorspronklike magte beskik om oor hulle eie sake te besluit.

 

Dit is die rede hoekom multi-etniese federasies soos Switserland, Kanada en België bestendig en voorspoedig is, teenoor “demografiese demokrasieë” waar die meerderheidsregering in die praktyk tot meerderheidsoorheersing lei. In hierdie lande in al die samestellende dele vry, en nie net die meerderheid nie.

 

Nieteenstaande hierdie internasionale lesse het Suid-Afrika egter téén federalisme en vir ‘n gewone meerderheidsbestel gekies. Nou sit ons met ‘n sentralistiese stelsel waar die mag in ‘n korruptte president gekonsentreerd is.

 

Maar daar is hoop. Suid-Afrika is ‘n uiters heterogene staat, wat tans deur die werklikhede van die land “federeer” word. Die sentrale regering se mag word van bo en onder af verswak. Van bo deur globalisering en swak regering, en van onder af deur privatisering, tegnologie en gemeenskappe wat hulself begin help. Dit lyk of die land die vorm van die federale werklikheid begin aanneem. Suid-Afrika gaan uiteindelik word wat hy is.

 

 

 

 

Nuuskommentaar: 2 Oktober

Red jouself

Die gort was gaar nadat mnr. Johann Rupert onlangs by ʼn jaarvergadering van Richemont gesê het die regering se beleid van “radikale ekonomiese transformasie” is bloot ʼn kodewoord vir diefstal. Die gewone groepering en omtrent elke vleuel van die ANC, het die uitspraak veroordeel.

 

Die omgewing waarbinne “radikale ekonomiese transformasie” deesdae bevorder word deur huidige en aspirant presidentskandidate, moet gesien word in die volgende konteks:

 

  • Volgens die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan kos staatskaping die algehele fiskus R150 – R250 miljard
  • Volgens Ebrahim Patel,  minister van ekonomiese ontwikkeling, beroof  korrupsie die algemene bruto binnelandse produk van sowat R27 miljard jaarliks met ʼn gevolglike verlies van 76 000 werksgeleenthede
  • Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Gesertifiseerde Bedrog-ondersoekers se uitvoerende hoof, Jaco de Jager, sê dat korrupsie die land sowat R105 miljard per jaar kos.

 

Dit alles is astronomiese bedrae en ’n mens lig nie eers meer ʼn wenkbrou oor die reuseverliese nie. Die feit is dat mnr. Rupert die versiersuiker van nóg ʼn mislukte ideologie gestroop het en die onding by sy naam genoem het: Diefstal. Niks meer nie, niks minder nie.

 

Tydens dieselfde geleentheid het mnr. Rupert ook gesê dat ekonomiese ongeregtighede uitgewis moet word en dat meer geleenthede geskep moet word vir swart sakelui om te floreer. Dit is korrek en dit moet ondersteun word. Maar bemagtiging moet en kan vanuit eie geledere gebeur en dit kan nie die staat se rol wees nie. Nog minder deur  ʼn verdagte “radikale ekonomiese transformasie”-ideologie, wat al so besmet is deur diefstal, staatskaping en wanbestuur dat die ideologie net soos soveel ander op die puinhoop van mislukkings gaan beland.

 

Afrikaners het in hul geskiedenis ook bitter swaar getrek. Vanuit eie geledere en sonder hulp van ʼn goedgesinde staat is grootskaalse armoede doelbewus en planmatig in die 1930’s aangepak.

 

In ʼn uittreksel uit die boek, “Historikus – ʼn Outobiografie” haal prof. Herman Giliomee vir dr. Anton Rupert aan, wat hom beantwoord op die vraag of hy aan enige Afrikaanse maatskappy kon dink wat deur ’n Engelse maatskappy “bemagtig” is. Dr. Rupert se antwoord was: “Ek kan nie dink aan een geval nie en ek is baie dankbaar daaroor.”

 

Enige staatsinmenging is gedoem en hierop reageer prof. Giliomee in die uittreksel van sy boek soos volg: “Die ANC het voor dit aan bewind gekom het ’n studie van bemagtiging in Maleisië gemaak, waar die staat die Chinese maatskappye verplig het om maatskappye wat deur Maleiers opgerig is te bemagtig en ook aan hierdie Maleisiese maatskappye voorkeurbehandeling met kontrakte te gee. Die argitek van hierdie beleid van Maleisiese bemagtiging, wat die “New Economic Policy” genoem is, was Mahathir bin Mohamad, wat later eersteminister geword het. Toe hy in 2003 ná dertig jaar uit die politiek tree, het Mahathir gebieg dat hy misluk het in sy doel om die Maleiers as die “meerderheidsras” ekonomies suksesvol te maak – ’n ras wat deur die Chinese en ander gerespekteer word. Die sakelui het steeds van die “kruk staatskontrakte en regeringsdwang op Chinese maatskappye afhanklik gebly.”

 

Wat ʼn verskriklike aanklag is dit nie teen staatsinmenging en dwang nie. Transformasie, Swart Ekonomiese Bemagtiging of selfs “Radikale Ekonomiese Transformasie” – al is dit diefstal – gaan nie werk as dit deur die regering afgedwing word nie.

 

Geskiedenisbronne dui op die geweldige omvang van Afrikaners wat ekonomies uit die dieptes van armoede opgestaan het. By nadere ondersoek was eie ingryping en die eie-ekonomiese-redding enorm: In slegs 10 jaar, vanaf 1939 tot 1949, het Afrikaner-besighede van 5% tot 11% van die nasionale besighede gestyg. Afrikaner-industrieë styg van 1 239 tot 3 385 en die omset van £6 miljoen tot £44 miljoen. Kommersiële ondernemings/handelaars styg in die tydperk van 2 428 – 9 585 en omset styg van £38 miljoen na £204 miljoen.

 

In professor Fransjohan Pretorius se boek: “Geskiedenis van Suid-Afrika” word gesê Afrikaners se per capita-inkomste was die helfte van die Engelssprekendes rondom 1933. Elf jaar later in 1944 sê die voorsitter van die AHI  met trots – Die koopkrag van die Afrikaner is £120 miljoen pond per jaar. Dit alles het gebeur voordat die fokus na politieke bemagtiging gelei het en die Nasionale Party in 1948 die bewind oorgeneem het.

 

Die lesse is daar – ʼn Volk red homself – vanuit homself en nie met Radikale Ekonomiese Transformasie nie.

 

 

Nuuskommentaar: 29 September

Gaan Spanje staande bly?

’n Verskeidenheid scenario’s is aan die ontvou oor wat die uiteinde van die huidige hardhandigheid van die Spaanse regering teen Katalaanse separatiste is. Dit, terwyl die wêreld nog nie juis kennis geneem het dat daar ’n krisis aan die ontwikkel is nie.

Trouens, die oë van die wêreld is veel meer op die referendum vir Koerdiese onafhanklikheid in die Noorde van Irak. Die VN het selfs ’n resolusie aangeneem om die planne af te keur.

Katalonië, ’n eiesoortige streek rondom Barcelona, sou op 1 Oktober ’n referendum hou oor onafhanklikheid vir die streek. Dit is bitterlik deur die Spaanse regering teengestaan, wat daarop wys dat dit onwettig en ongrondwetlik sou wees. Die Katalane kan streekoutomie kry, maar nie onafhankikheid nie, en daarmee basta.

Volgens die jongste aanduidings val planne vir die referendum deur die mat.

Die Spaanse regering het besluit om hardhandig op te tree, en verskeie Katalaanse politici in hegtenis geneem. Die gevolglike massa-saamtrekke is deur die polisie uitmekaar gejaag. Minstens ’n deel van die streekoutomie is opgeskort.

Die gevolg is ’n warboel van uitlatings uit verskillende oorde. Die optrede van die Spaanse regering is met dié van oud-diktator Franco vergelyk. Franco se afkeer aan minderheidsregte word nog goed onthou, soos die amper volledige verbod op die Baskiese taal. Die Katalane praat ook ’n eie taal.

Uit eie geledere word die vrees uitgespreek dat Spanje weer politieke gevangenes kan hê. ’n Demokrasie hoort nie sulke gevangenes te hê nie.

Die groot gevaar is dat ekstremiste die stryd ondergronds kan neem. Spanje is juis jare lank deur ’n terreurstryd teen die Baskiese beweging ETA, en vrede het amper onverwags gekom toe Spanje streekoutomie aan die Baske en Katalane toegestaan het. Is Spanje werklik gewillig om weer in ’n onverkwiklike terreurstryd betrokke te raak?

Hier en daar word soortgelyke vrae gevra oor of die Baske nie ook weer kan betrokke raak by terreur nie. Uit uitlatings van Baskiese ekstremiste, en selfs Spaanse ekstremiste, is dit duidelik dat hulle geskok was om te sien met hoeveel minagting die Spaanse regering teen die Katalaanse regering opgetree, en outonomie ingekort het.

Ander spreek vrese uit dat die Spaanse regering hom nou blootstel aan ’n staatsgreep. Die regering, wat self so maklik burgerregte inkort, sal net homself kan blameer as uiteenlopende groepe saamstaan om dié outokratiese optrede te stuit, hoewel ’n staatsgreep opsigtelik die gevaar inhou dat nog meer regte in die slag kan bly.

Breedweg is die les dat daar met omsigtigheid met minderheidsregte omgegaan moet word, maar ongelukkig is die wêreldreaksie nie konsekwent nie. Die gevolg is dat sommige minderhede die lieflinge van die internasionale gemeenskap is, terwyl ander erg deur hul regerings onderdruk word.

 

Nuuskommentaar: 28 September

Selfbeskikking wanneer dit wêreldmagte pas

Vroeër hierdie week het die Koerde in Irak ’n sterk boodskap aan die res van die wêreld gestuur. Die Koerde van Irak, maar ook Sirië en Turkye soek ’n eie onafhanklike land. In Katalonië in die noord-ooste van Spanje wil Katalane graag dieselfde doen, maar word hulle deur die Spaanse regering in Madrid op ondemokratiese wyses verhoed om ’n onafhanklikheidsreferendum te hou. Skotte wil ook weer na die stembus gaan om vir onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk te stem en peilings wys dat die onafhanklikheidsbeweging in Skotland waarskynlik hierdie keer genoeg stemme sal kry.

 

Die strewe na onafhanklikheid deur die Koerde, Katalane en talle ander volkere word egter deur die groot moondhede van die wêreld ontmoedig. In die VSA, die bakermat van vryheid, het die politici en hoofstroommedia hulleself almal teen referendums vir onafhanklikheid in Kurdistan en Katalonië uitgespreek. Dit is hierdie maand drie jaar sedert die vorige onafhanklikheidsreferendum in Skotland toe die groot moondhede van die wêreld almal die Skotte se strewe na vryheid, teengewerk het.

 

Terwyl globalisering voortwoed, het volkere van die moderne Weste tot die primitiewe Midde-Ooste en Afrika toenemend die behoefte vir beter begrensing. Die behoud van identiteit is slegs moontlik wanneer ’n volk binne ’n begrensde gebied sy eie taal, kultuur en tradisies in stand kan hou. Oor eeue heen het volkere na selfbeskikking gestreef ten einde die reg te bekom om oor hul eie sake te besluit.

 

Hoe sou die wêreld gelyk het indien die Verenigde State van Amerika nooit onafhanklik van Engeland geword het nie? Hoe sou die Europeërs daaroor gevoel het indien die Oekraïne vandag nog, soos voor die einde van die Eerste Wêreldoorlog, deel was van Rusland? Die skeiding van Pakistan en Indië in twee volledig outonome lande en die onlangse afstigting van Suid-Soedan is nog voorbeelde van hoe die wêreldkaart bly verander.

 

Die interessantste voorbeeld van afskeiding in die onlangse geskiedenis was op 17 Februarie 2008 toe Kosovo homself onafhanklik van Serwië verklaar het. Die VSA, Brittanje, Duitsland, Frankryk en die meeste Westerse lande het vinnig gespring om Kosovo as soewereine land te erken. Ook Suid-Soedan het kort na onafhanklikheid erkenning gekry.

 

Amerika, ander Westerse lande en selfs Rusland en China se voorkeur of afkeur van volkere soos die Koerde, Katalane en natuurlik die Albaniërs van Kosovo, se reg tot selfbeskikking gaan baie meer oor hul eie belange en voorkeure en het weinig te make met die meriete van hierdie volkere se saak.

 

Terwyl die Europese Unie toenemend onder druk verkeer met sterk opposisie uit Oos-Europa en groeiende ongelukkigheid met die burokrasie in Brussel, sien die regerende elite van Amerika en Europa nie kans vir die onsekerheid wat ’n onafhanklikheidsreferendum in Katalonië kan veroorsaak nie. In Kosovo kon Amerika en die Europeërs egter hul kamstige steun vir die reg tot selfbeskikking bevestig, terwyl Serwië geen belangrike bondgenoot is nie. Terwyl die Koerde Amerika en Irak in die stryd teen die Islamitiese Staat bygestaan het, dien Amerika nou weer die belange van Turkye en die korrupte Irakse regering in Bagdad in sy opposisie teen die Koerde se onafhanklikheidstryd.

 

Volkere wat na selfbeskikking streef sal moet besef dat eie belange eerder as goeie beginsels groot wêreldmoondhede se reaksie op hul vryheidstrewe sal bepaal.

 

Nuuskommentaar: 27 September

‘n Wrang Erfenis . . .

Dit is elke jaar prettig om te sien hoe Suid-Afrikaners uit alle volksgroepe hulle tradisionele klere rondom Erfenisdag dra.  Die land het ‘n ryk geskiedenis en in dié opsig hoef niemand vir mekaar terug te staan nie.  Suid-Afrika het ‘n ingeboude diversiteit wat hom uniek in die wêreld maak en dit is goed om te sien hoe die land se mense mekaar se “andersheid” op Erfenisdag respekteer. Daarom is dit jammer dat politieke leiers dié kosbare dag weer eens gebruik het om propaganda vir hulle eie bekrompe sienings te maak. Die uitgaande president, Jacob Zuma, het andermaal die Apartheid-kaart gespeel toe hy ‘n Erfenisdag-viering in Mpumalanga toegespreek het. Hy laat dit klink asof die vorige bestel die alleenoorsaak is van vandag se probleme in die land. Gelukkig het hy opgehou om net Jan van Riebeeck te blameer. Het die president al daaraan gedink dat miljoene mense in die land nooit onder die Apartheidbedeling gelewe het nie?

Die Ekonomiese Vryheidsvegters het op hulle beurt die Khoi- en San-gemeenskappe besoek en hulle verseker dat hulle die eerste mense in die land was voordat die blanke voet aan wal gesit en hulle sogenaamde “erfenis” gesteel het.  Wat het van al die ou geskiedenisboeke geword? Dit is nie net deur Suid-Afrikaanse historici geskryf nie indien vandag se leiers dalk vermoed dat die geskiedenis eensydig opgestel is. Daar bestaan duisende boeke wat die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse geskiedenis weergee en daar is ook tonne beeldmateriaal van wat gedurende die ANC se politieke bevrydingstryd gebeur het.

Wanneer gaan die regerende party erken dat vandag se agteruitgang net voor sy eie deur gelê kan word? Mense is jarelank omgekoop met beloftes dat hulle die land van melk en heuning gaan erf solank hulle die ANC steun. Aanvanklik is duisende huise ingevolge die heropbou en ontwikkelingskema gebou, maar algaande het die HOP-huise al hoe minder geword. Werk is aan almal belowe, maar weinig werkskeppings-inisiatiewe het verder gekom as die papier waarop dit geskryf is. Sedert die ANC se bewindsoorname in 1994 het die buitewêreld hom maar min gesteur aan die nuwe Suid-Afrika. Geld is geskenk vir onderwys en gesondheidsprojekte maar geen land wou regtig in Suid-Afrika belê nie. Die gevolg was dat al hoe meer werksgeleenthede van die land se minderheidsgroepe weggeneem en aan ander groepe gegee is. Die wêreld het toe nog minder belanggestel om sy geld na Suid-Afrika te kanaliseer. Die ANC se grootste fout ná die Mandela-era, was om witmense ekonomies uit te sluit. Baie kundigheid het as gevolg daarvan verlore gegaan. Die ANC se heel grootste fout was egter om die rewolusie bo die ewolusie te stel.

 

 

Nuuskommentaar: 26 September

Kan swak stadsbeplanning mense eensamer maak?

In die meeste Westerse samelewings is daar ’n skerp toename in eensaamheid. Navorsing in die VSA, Europa en Australië het reeds bewys dat die aantal mense wat erken dat hulle gereeld eensaamheid beleef, voortdurend toeneem.

 

Ons leef in ’n tyd waar sosiale media soos Facebook, Twitter, WhatsApp, Instagram en alle ander virtuele middelle mense se enigste sosiale verwysingsraamwerk word. Jou perspesie oor sosiale aanvaarding word bepaal deur die aantal mense wat van ’n plasing van jou op Facebook hou. Die spoed waarteen iemand jou op WhatsApp antwoord bepaal sy lojaliteit aan jou.

 

Die mens is ’n sosiale wese. Ons vermoë om te sosialiseer is egter aan die verswak. Die redes hiervoor is uiteenlopend en veelerlei. Meer en meer mense skakel nie meer by gemeenskapsinstellings soos kerke, sportverenigings en gemeenskapsdiensorganisasies in waar hulle nuwe vriende kan maak nie.

 

’n Onlangse studie in Amerika het bewys dat meer en meer jongmense na skool by hul ouers aanbly, sukkel om ’n lewensmaat te vind en ook nie daarin slaag om uiteindelik te trou en deel van ’n groter familieband te word nie. Baie van hierdie mense se sosiale ruimte word tot enkele familielede en die wêreld van slimfone en die internet beperk.

 

Die toenemende individualisering van Westerse gemeenskappe het sonder twyfel meegebring dat baie mense nie eers meer weet wie hul bure is of wie die ouers van hul kinders se beste skoolmaats is nie. In die gejaagde moderne hoogsproduktiewe lewe van vandag is ons veel meer gefokus op prestasie, monetêre uitsette en ongelukkig oordrewe materiële middelle dat ons vergeet wat die waarde van goeie vriende en lekker goeie ou sosiale ervarings is.

 

Steve Price, ’n kenner van moderne stedelike ontwerp in die VSA skryf egter in ’n onlangse artikel dat swak stadsontwerp as oorsaak vir mense se verswakkende sosiale vaardighede nie onderskat moet word nie. In lande met goeie stedelike ontwerp waar openbare ruimtes deeglik by residensiële en sakebuurte ingewerk word, is daar laer vlakke van eensaamheid. Pierce skryf dat hoë vlakke van ontmoeting, interaksie en kommunikasie tussen mense wat redelik naby aan mekaar woon en werk tot goeie sosiale vaardighede aanleiding gee en uiteindelik eensaamheid teenwerk.

 

Twee van die oorsake vir swak stedelike beplanning is eerstens die persepsie dat ’n groot huis op ’n groot erf ’n beter leefstyl as ’n wooneenheid in ’n goed beplande digter woonbuurt met goeie openbare ruimtes kan verseker. Tweedens ervaar stede regoor die wêreld die uitdaging van die koste om volhoubare woonbuurte te ontwikkel. Dit is goedkoper, makliker en veral vir ontwikkelaars meer aantreklik om openbare ruimtes soos parke, gemeenskapsentrums, fietsbane en stadspleine uit die ontwikkeling van nuwe woonbuurte te laat.

 

In beide van hierdie gevalle is daar korttermynvoordele soos die persepsie van rykdom wanneer jy ’n groot erf besit en natuurlik die finansiële voordeel vir munisipaliteite en privaatontwikkelaars wanneer openbare ruimtes beperk word. Oor die langtermyn is die instandhouding van dienste oor lang afstande en die verlies aan sosiale interaksie egter ’n duur prys wat vir swak stadsbeplanning betaal moet word. Ook Afrikaners ervaar vandag vervreemding en eensaamheid binne woonbuurte waar sosiale interaksie baie keer uiters beperk is.

 

Nuuskommentaar: 25 September

Erfenisdag

Gister is Erfenisdag landswyd gevier. Die gedagte agter dié vakansiedag was dat Suid-Afrika se diverse gemeenskappe van die geleentheid gebruik moet maak om hulle unieke kulture ten toon te stel. Intussen het die vakansiedag `n gedaanteverwisseling ondergaan en staan tans in die volksmond bekend as Nasionale Braaidag. Alhoewel braaivleis `n belangrike deel vorm van Suid-Afrikaanse kultuur kan daar geredeneer word dat die nuwe gedaante `n afgewaterde weergawe is van dit waarvoor Erfenisdag bedoel was. Daar kan egter ook geredeneer word dat die ander vakansiedae slegs vir laat slaap benut word en daar in elk geval minimale deelname is aan die geleentheid wat vir die dae gereël word.

Suid-Afrika beleef tans `n era waarbinne kulturele diversiteit as `n meulsteen eerder as `n geleentheid gesien word. Dit is so dat diverse kulture `n uitdaging kan bied en dat `n land met elf amptelike tale strategies te werk moet gaan om te verseker dat elke taal sy regmatige plek kry. Wat ons egter tans sien is die marginalisering van inheemse tale, nie net Afrikaans nie, en die toenemende gebruik van Engels as amptelike taal. Dit is nie net by staatsdepartemente waar dit voorkom nie maar ook by groot besighede wat Engels as die korporatiewe taal beskou.

Ons sien tans by universiteite dat sommige studente `n veldtog genaamd Afrikaans-must-fall dryf. Hulle verwys graag na hulle rolmodelle as Steve Biko of Robert Sobukwe maar hulle veg vir Engels as onderrigmedium. Hulle praat van `n stryd teen kolonialisme maar wil sien dat die taal waaronder hierdie einste land gekolonialiseer is as enigste onderrigtaal op têrsiere vlak erken word.

Om die braaivleisvure word daar gereeld, met verwysing na die regering, gehoor: “Hulle gun ons niks nie.” Toe daar sprake was dat die standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein verwyder gaan word was daar massahisterie op sosiale netwerke. Maar hoeveel keer was jy daar? Hoeveel keer het jy jou kinders die standbeeld gaan wys en van Paul Kruger vertel. `n Geskiedenisdosent vertel een jaar op Aardklop dat hy `n vraag aan sy eerstejaarsklas oor Paul Kruger se beleid stel. Die klas kan hom nie antwoord en later besef die dosent dat dit nie is omdat hulle nie Paul Kruger se beleid verstaan het nie – dit is omdat hulle nie weet wie Paul Kruger was nie.

“In vandag se skole leer jy mos nie meer van Kruger en De la Rey nie,” sal die verskoning kom. En dit is dalk waar, maar wat leer jy jou kinders van dié helde? Vertel jy vir hulle van die Groot Trek, die Slag van Bloedrivier, die oorwinning by Magersfontein en die nederlaag by Paardeberg?

Die vierde strofe van Die Stem van Suid-Afrika bevat twee baie belangrike reëltjies:

Dat die erwe van ons vadere

Vir ons kinders erwe bly

In daardie twee reëls word die wens uitgespreek dat ons kultuur, ons erfenis, ook oorgedra word aan ons nageslag. Of dit gebeur en of ons erfenis met tyd verdwyn berus by ons en ons alleen. Neem more, hierdie Erfenisdag, `n uitstappie na die naaste monument of slagveld en vertel jou kinders van die heldedade van hulle voorgeslagte. Maar moenie wag vir die volgende Erfenisdag voor jy weer `n monument of slagveld besoek nie. Maak jou erfenis `n belangrike deel van jou daaglikse bestaan.

 

Nuuskommentaar: 22 September

Demografie

`n Onlangse artikel uit die pen van die bekende demograaf, prof Flip Smit, dui daarop dat Afrikaners in die jaar 2030 sal moet erken dat hulle die getalleoorlog verloor het. Teen 2050 gaan die situasie nog meer benard wees. Die middeljaarraming plaas Suid-Afrika se totale bevolking op 56,5 miljoen. Die blanke deel van daardie bevolking word op 4,5 miljoen gereken en die Afrikaanstalige deel van die blanke bevolking word op 2,7 miljoen gereken. Prof Smit wys verder daarop dat Suid-Afrika se blanke bevolking met 40 000 per jaar afneem, die Afrikaanssprekende deel van daardie groep met 24 000 per jaar. Prof Smit reken dat daar teen 2030 slegs 1,8 miljoen Afrikaners in Suid-Afrika sal wees en teen 2050 slegs 900 000. Dit beteken dat die Afrikaner teen 2050 minder as 1% van die Suid-Afrikaanse bevolking sal uitmaak. Faktore soos emigrasie speel `n rol maar daar word gereken dat daar tans 10 000 meer sterftes as geboortes in Afrikanergeledere is. Wat emigrasie betref, reken prof Lawrence Schlemmer dat 750 000 Afrikaanstaliges tussen 1990 en 2010 geëmigreer het. Prof Smit skets in sy artikel `n somber prentjie oor die toekoms van die Afrikaner. Dit is `n artikel wat duidelik uitwys hoe daar anders gedink en beplan moet word in tye waar nóg getalle nóg politieke mag aan jou kant is. So uitstekend nagevors soos die artikel is, stop prof Smit tog kort van `n daadwerklike oplossing. In die laaste deel van sy artikel verwys hy na twee groepe Afrikaners. Die een groep onttrek hulle van die samelewing en vestig hulle binne sekuriteitsgebiede en agter veiligheidsheinings. Dit is diegene wat die pad van politieke korrektheid of die minste weerstand volg. Dan, reken prof Smit, is daar ook `n tweede groep. Dié groep maak bydraes tot die welstand van alle mense en lewer onbaatsugtige diens aan die breër gemeenskap. Sodoende, reken prof Smit, sal hierdie groep hulself onmisbaar maak.

Prof Smit is wel korrek dat bovermelde twee groepe bestaan. Daar is inderdaad die groep wat, na die verlies van politieke mag, hulself uit die samelewing onttrek het. Hulle vestig hulself op gholflandgoede en vermy politieke gesprekke uit vrees dat hulle geteiken kan word. Daar is inderdaad ook die tweede groep wat poog om hulself onmisbaar te maak. Die vraag is of hulle daarin slaag. Ongeag die harde werk wat sommige van die persone in die staatsdiens lewer, sal hulle steeds in die slag bly wanneer dit by regstellende aksie kom. Die gedagte dat jy kan hard werk en jouself sodoende onmisbaar maak, is verskeie kere sedert die implementering van die Wet op Gelyke Indiensneming in 1996 verkeerd bewys.

Afrikaners kan onttrek na hulle veiligheidskomplekse of hard werk om te probeer om hulself onmisbaar te maak, maar hulle sal nie met een van die opsies hulle politieke situasie verbeter nie. `n Ander alternatief is om selfbeskikking na te streef en te poog om deur middel van die politiek van konsentrasie `n meerderheid in `n bepaalde grondgebied te vorm. Slegs waar `n minderheid `n meerderheid in `n geografiese gebied vorm, kan hy besluit hoe munisipale belastinggeld bestee word, wat die taalbeleid in plaaslike skole is en wat die naam van die straat is waarin hy bly. Slegs dan sal Afrikaners werklik weer seggenskap hê oor dit wat hulle direk raak.

 

 

Nuuskommentaar: 21 September

Die pen se skerpkant

Die  Joodsgebore politieke filosoof en denker, Hannah Arendt, het met  haar besoek aan die post-Wêreldoorlog Duitsland opnuut haar waardering uitgespreek vir die Duitse taal.

Om weer haar moedertaal te hoor en te praat was vir haar iets besonders.

Taal, volgens Arendt bevat  mag en krag.

Dit is ‘n instrument, ‘n stuk gereedskap waarmee die mens nie net die werklikheid bevraag nie, maar ook die werklikheid vorm.

Taal is uniek aan die mens en volgens sosioloë is dit dié vermoë wat tot die mens se sukses bydra, omdat dit samewerking op terreine soos die wetenskap en ekonomie fasiliteer. Dit is die middel waardeur waardes en ideale geskep en oorgedra word van die kateder tot die kansel.

Maar dit kan ook in die mens se hand ‘n middel wees waarmee beswadder en vernietig word, die werklikheid verdraai word en vind die mens dat die pen ook ‘n skerpkant het.

Hiervan getuig die daaglikse politieke retoriek en aantygings wat deur Afro-sosialiste teen Afrikaners geloods word.

Begrippe soos kolonialiste, imperialiste, rassiste word in dieselfde asem Afrikaners toegesnou.  Die geskiedenis van Afrikaners word onmiddelik met bondelbegrippe , soos ‘apartheids-verlede’ en ‘kolonialisme’ omsingel en veroordeel.

Hierdie bedenklike strategie is nie nuut nie.  Die oorsprong daarvan strek na die betrokkenheid van Sowjet-Rusland by Afro-sosialiste en die bydrae van hierdie magte tot die taal-register van die Suid-Afrikaanse politiek.

Die skrywers, Irina Filatova en Apollon Davidson, het in hulle publikasie The Hidden Thread: Russia and South Africa in the Soviet Era, nie net die bande tussen die SAKP, ANC en Sowjet beskryf nie, maar ook gewys op die onmisbare ondersteuning wat die SAKP/ANC geniet het.

Die geweldige ondersteuning sluit in die formulering en benutting van taal, van propaganda strukture, van begrippe soos imperialisme, nasionale demokratiese rewolusie en ‘n spesiale soort kolonie waar die koloniale magte werkers deur die grond en ekonomie uitbuit.

Onberekenbare ure is volgens die navorsing gespandeer om begrippe te formuleer wat die massas tot rewolusionêre aksie sal oprui, die Afrikaner sal isoleer en ‘n ‘swart onafhanklike staat’ tot gevolg sal hê.

Die skep van ‘n ‘swart onafhanklike staat’ was nie die finale doel nie, maar slegs ‘n fase na die volgende doel – ‘’n sosialisties ingerigte staat van en vir die werkersklas’.

Die aanvanklike inisieerders van die strategie het intussen beleef dat sosialisme rampspoedige gevolge het en hulle hiervan gedistansieer.

Afro-sosialistiese bewegings soos die ANC en EFF, het egter nie.  Hierdie begrippe en die gevolglike strategiese raamwerke is huidjie en muidjie deel van die groeperinge se daaglikse taal en gang.

Trouens, in 1969, het ‘n ANC-beraad te Morogoro, Tanzanië die dokument ‘Strategy and Tactics of the ANC’ gebaar. Hierdie dokument is deurlopend aangepas en is tot op hede die basis vir Afro-sosialistiese taal en strategie.

Kritiek teen die dokument, teen die grondslae hiervan of die implikasies sal dadelik en hewig vertolk word as ‘rassisme’ en ‘n ‘imperialistiese aanslag’ deur  ‘grondhonger wittes, kapitaliste of ‘ideologiste van apartheid’.

Of Suid-Afrika hierdie soort taal nog kan bekostig is te betwyfel.

Indien taal bydra tot die werklikheid of selfs vorm daaraan gee, dan is ‘n ruimer woordeskat nodig as die ANC en EFF se nou verouderde begrippe, strategie en taktiek .

En internasionaal  word ‘n ruimer taal gepraat: minderheidsregte, selfbeskikking, multi-kulturele ruimtes, ekonomiese werklikhede en afwentelende demokrasie.

Sonder ‘n verruiming van die Suid-Afrikaanse taalregister met hierdie begrippe, bly die werklikheid skraal.

 

Nuuskommentaar – 20 September

Bitcoin en die wederopkoms van privaat geld

Digitale geld is die afgelope tyd in die nuus. Die bekendste hiervan is Bitcoin, die elektroniese geldeenheid gebasseer op kettinglêer-, of sogenaamde blockchaintegnologie. Dit is veral die wisselvallige prys van Bitcoin wat die aandag trek – dit verhandel onlangs so hoog as $5000 per Bitcoin. Meer belangrik as die prys is egter die groter implikasies van die tegnologie agter Bitcoin en die historiese konteks daarvan. Tereg verwys die ekonoom Dawie Roodt na Bitcoin nie as digitale geld nie, maar eenvoudig privaat geld.

Bitcoin is die skepping van ‘n anonieme kundige of span kundiges onder die skuilnaam Satoshi Nakamoto. In 2009 het hulle ‘n wiskundige proses ontwikkel om onvervalsbare elektroniese betaaleenhede te skep en ‘n rekenaarprogram geskryf wat ‘n maksimum van 21 miljoen van hierdie eenhede skep.

Sny ‘n mens deur al die kompleksiteit, dan kom Bitcoin op die volgende neer: ‘n digitale eenrigtingjoernaal vir 21 miljoen digitale munte is geskep, waarop enigeen wat die voorwaardes nakom ‘n inskrywing kan maak, maar waarvan niemand iets kan uitvee nie. Boonop word kopieë van hierdie joernaal op deelnemers se rekenaars regoor die wêreld en selfs in satelliete gestoor en regstreeks opgedateer, sodat dit in praktyk onmoontlik is om die rekords te vernietig.

Die wiskundige onvervalsbaarheid, die verspreide aard van die joernaalrekords, en die beperkte uitreiking saam maak Bitcoin uiters interessant.

Alhoewel state ook voor die 20ste eeu by geldstelsels betrokke was, is dit eers in die 20ste eeu dat privaat geld verdwyn het en geld werklik ‘n staatsmonopolie geword het. State het geld gedruk en met wetgewing mense gedwing om dit te aanvaar. Aanvanklik is die illusie in stand gehou dat reserwebanke gelykstaande hoeveelhede goud in bewaring hou. In praktyk het dit natuurlik nie gebeur nie, en is meer geld gedruk as waarvoor die staatsbanke reserwes gehad het, ‘n proses bekend as inflasie. Teen die 1970’s is finaal met die illusie gebreek dat state op aanvraag goud vir papiergeld sou omruil; en vandag sit ons met die situasie dat state soveel geld kan druk as wat hulle wil. In sommige gevalle lei dit tot geleidelike prysstygings soos in die geval van die Amerikaanse dollar, maar in ander weer tot hiperinflasie, soos wat in Zimbabwe gebeur het.

Die suksesvolle Kaapse IT-entrepreneur, Justin Stanford, vra onlangs op Twitter: wat as die mense van Zimbabwe die opsie gehad het om Bitcoin tydens Mugabe se hiperinflasie te gebruik? Die antwoord is natuurlik dat dit, soos wat tans in Venzuela gebeur, baie daartoe sou bydrae om die ekonomie aan die gang te hou en mense se bates te beskerm.

Bitcoin is wisselvallig en riskant en kan dalk weer ver val van sy huidige prys af, maar dit dui op die begin van ‘n nuwe era in geld; ‘n era waarin hiperinflasie nooit weer dieselfde sal wees nie.

 

Nuuskommentaar: 19 September

Die Staat se moederinstink het opgedroog

Werkloosheid onder die Suid-Afrikaanse jeug is rede tot groot kommer en geen verantwoordelike mens, regering of organisasie mag dit as ‘n politieke speelbal gebruik nie. Die jonges van vandag moet môre die leisels oorneem en hulle kan dit nie doen as hulle nie eers hul basiese skoolloopbaan voltooi het nie. Die Departement van Basiese Onderwys het pas met sy landwye Tweede Kans Matriekprogam begin.  Minister Angie Motshekga sê 47-persent van die land se werklose jeug het nie matriek voltooi nie. Selfs werklose Suid-Afrikaners tussen die ouderdomme van 25 tot 35 jaar word genooi om die program te gebruik as ‘n tweede kans om vir matriek in te skryf. Insgelyks word leerlinge wat wel Graad 12 geslaag het, aangemoedig om die program te gebruik om beter punte te behaal. Die Minister se erkenning dat byna die helfte van die land se jeug nie ‘n matrieksertifikaat kan voorlê nie, is skokkend. Jarelank het Onderwys die grootste hap uit die landsbegroting gekry en die land se bestaande staatskole – veral die Afrkaansmedium-skole – is selfs onder beleg geplaas om onderrig vir almal moontlik te maak. Skole word steeds geteiken as ‘n simbool van landsburgers se ontevredenheid met die staat se dienslewering. Vuwani in Limpopo is ‘n goeie voorbeeld. Kinders word gedwing om tuis te bly omdat skole afgebrand is of hulle deur vyandige inwoners verbied word om skool by te woon. Dit is onbeskryflik onregverdig teenoor kinders. Dit herrinner ook sterk aan die Soweto-opstand van 1976 toe kinders as pione gebruik is om volwassenes se besware teen die regering van die dag aan te voor. Die land se onderwysowerhede het al van verskillende leerplanne gebruik gemaak om soveel moontlik kinders te onderrig en selfs punte is aangepas om ‘n kunsmatige slaagsyfer te skep. En nou kom die Minister en sy beaam dat byna die helfte van die land se werklose jeug nie klaargemaak het op skool nie. Dit is ondanks die stelsel van gratis onderwys vir ouers wat nie skoolgeld kan bekostig nie. Miskien moet daar weer gekyk word na die drievoudige stelsel wat gedurende die ou bedeling ten opsigte van jongmense gevolg is. Die Staat, ouers en die Kerk het gesamentlik verantwoordelikheid vir die land se jeug geneem. Kinderhuise of plekke van oorgang is geskep vir die kinders van ouers wat nie in staat was om hulle groot te maak nie. Die staat was nooit suinig met subsidies nie –  en dit het alle skole gegeld. Ouers met karige inkomstes is gehelp om hulle kinders op skool te hou en kerke het mildelik tot huishoudings se basiese behoeftes bygedra. Skole het baie moeite gedoen om by elke kind betrokke te wees. Vandag word die getalle-argument voorgehou. As die regering dan nie die al-groter-wordende bevolking kan hanteer nie, is dit tog seker tyd om teen die gevare van oorbevolking te waarsku? Kinders word gebore, nie geteel nie. Veral nie om ‘n spesifieke party aan bewind te hou nie.

 

 

Nuuskommentaar:  18 September

Die engel of die satan?

Nie lank gelede nie was Aung San Suu Kyi, regeringsleier van Mianmar, of te wel die ou Birma, internasionaal ’n heldin. Vir haar veldtogte te midde van verdrukking om demokrasie in haar land te herstel het sy die Nobel-vredesprys ontvang.

Onder internasionale druk het Mianmar uiteindelik weer demokrasie gekry, hoewel nie volmaak nie.

Mianmar is ’n hoofsaaklik Boeddhistiese land, maar in die provinsie Rhakine  in die weste van die land woon die Rohingya wat tot die Islam behoort, met ’n klein Hindoe-minderheid.

Na die staatsgreep in 1982 is die Rohingya van hul burgerskap gestroop. Optrede en vergeldingsoptredes het verskeie internasionale waarnemers laat glo die regering is daarop uit om etniese suiwering te pleeg. Van die sowat ’n miljoen het na raming sowat 370 000 die afgelope maand gevlug.

Die Rohingya woon al eeue in die land, maar dat hulle ’n ander herkoms het, is ook duidelik. Net soos die Afrikaner hier te lande geleidelik weggedryf het van Nederlands, terwyl Nederlands ook sy eie ontwikkelingskoers ingeslaan het, het die Rohingya ook ’n eiesoortige ontwikkeling deurloop. Boonop het hulle, nes die koloniste aan die Kaap, ook ander Indo-Germaanse vlugtelinge en selfs slawe ontvang, wat veroorsaak dat dit nie so maklik is om te bepaal presies waarvandaan hulle oorspronklik gekom het nie.

Die groot teleurstelling is egter Aung San Suu Kyi. Sy het altesaam 15 jaar in huisarres deurgebring terwyl sy haar vir die herstel van demokrasie beywer het. Nou is daar wye aandrang dat sy haar Nobelprys moet verbeur.

Die jongste geweld volg na Rohingya-militantes die enkele polisiestasies in hul gebied aangeval het. Die weerwraak was verskriklik, met heel dorpies wat glo verwoes is, en vlugtendes wat afgemaai is.

Met die eerste buitelandse kritiek het Aung San Suu Kyi haar stilswye verweer en gesê die wêreld verstaan nie die kompleksiteite van die probleem nie.

Later het sy van deuntjie verander, en haar woordvoerder het laat weet dat sy die nasie Dinsdag sal toespreek oor versoening en vrede. Sy het ook ’n besoek aan die VN opgeskort om hulpverlening te koördineer. Dit klink meer na die Aung San Suu Kyi wat die wêreld leer liefkry het.

As sy ernstig is in haar voornemens, plaas sy haar eie toekoms baie sterk op die spel. Die negatiewe gesindheid jeens die Rohingya loop diep, en daar is ook diepliggende historiese redes hiervoor, soos dat die Rohingya by geleentheid met die Britse besettingsmagte saamgespan het om ’n opstand te onderdruk. Die Britte het hulle ook ruim in regeringsampte en -poste voorgetrek.

Sou Aung San Suu Kyi daarin slaag om versoening te bring, kan die vraag tereg gevra word of dit dan nodig is dat ons in Suid-Afrika so gepolariseerd moet leef. Ook hier speel die verlede ’n rol, en die regering se volharding met rasdiskriminerende wetgewing, en polariserende uitsprake van onder meer die president self, sal die ontlonting van die situasie kompleks maak. Die onewehandige optrede wanneer dit by rassisme en haatspraak kom, werk polarisasie aan. Die minagting van minderheidsregte, selfs dit wat duidelik in die grondwet vervat is, word gereeld vertrap. Ook hier wag groot werk.

 

Nuuskommentaar – 15 September

Duitsers dol gelukkig met vervelige politiek

Die Amerikaners het Trump en sy onvoorspelbaarheid, populisme en selfvoldane grootsheid. In Brittanje is Brexit besig om die politieke landskap lekker deurmekaar te krap. Emmanuel Macron wil ’n ekonomies sukkelende Frankryk herstruktureer en skep meer onsekerheid as sekerheid vir Franse wat wonder of die land dieselfde pad as Suid-Europese lande gaan volg. Nederlandse politieke partye sukkel al sedert Maart om ’n nuwe regerende koalisie bymekaar te skraap. In Spanje, Italië en Griekeland is die politieke terrein om die minste te sê onseker en onstuimig.

 

Duitsland die groot uitsondering. Die huidige Duitse verkiesingsveldtog is nie net vervelig nie, dit is grootliks irrelevant. Die boodskap van een politieke party kan nie behoorlik van ’n ander onderskei word nie. Niemand behalwe die media praat oor die verkiesing nie. Daar is vir die meeste mense belangriker dinge om op te fokus.

 

Die rede is eenvoudig. Duitsers is tevrede. Die wêreld smag na meer Duitse motors, masjinerie en toerusting. Die land se handelsoorskotte bewys dit. Werkloosheid bestaan byna nie en die welsynstaat beskik oor genoeg kapasiteit om daar waar nood bestaan dit vinnig en doeltreffend op te los. Belasting kan verlaag word terwyl staatspandering op infrastruktuur, onderwys en maatskaplike dienste styg. Die immigrante-kraantjie is byna heeltemal toegedraai.

 

Na al die aksie en drama van die twintigste eeu, is Duitsers tevrede met ’n vervelige, aksielose Duitsland. Die Duitse filosoof Friedrich Engels sou tevrede gewees het met die Duitsland van 2017. Die redakteur van die Duitse weekblad, Die Zeit, Josef Joffe beskryf die toestand in Duitsland as die einde van politiek en in wese ’n toestand waar die proses om oor mense te regeer deur die administrasie van dinge vervang word. Marx en Engels sou lekker hieroor glimlag.

 

Angela Merkel is ’n onindrukwekkende politikus. Haar liggaamshouding, voorkoms, kleredrag en stemtoon staan in kontras met dié van sterk regeringsleiers. Terwyl Westerse lande na sterk leiers smag, is die Duitsers net te dankbaar vir ’n vervelige politieke leier. Terwyl Merkel fisies onindrukwekkend voorkom is sy en haar regering briljante administrateurs en burokrate.

 

Wanneer Duitsers kan fokus, is hulle meestal briljant. Dit het die geskiedenis bewys. Die afgelope paar dekades se fokus op ekonomiese eerder as politieke kwessies deur innovasie, gehalte, presisie en produktiwiteit het ’n omgewing geskep waarin ekonomiese groei die nodige ruimte vir ’n leier soos Merkel kon skep om vir elke Duitser iets van alles te gee. Vryemarkgesinde Duitsers kry minder regulasies, laer belasting en robuuste vryhandel. Sosialiste kry ’n sterker welsynstaat en beskerming vir die werkersklas. Groenes kry enorme investering in sonkrag, die sluiting van steenkoolkragstasies en die beskerming van die omgewing. Duitsland is vandag ’n sentristiese staat waar ekonomiese welvaart min ruimte vir politiekery in die sentrum laat. Selfs die partye aan die meer linkse en regse kant van die spektrum sukkel om met die konsensus van ’n netjiese burokrasie stry te kry.

 

Die uitslag van die Duitse verkiesing op 24 September is redelik irrelevant. Merkel sal regeer en Duitsland sal vir die volgende vier jaar goed bestuur word. Oor die langtermyn sal lae bevolkingsaanwas, arbeidstekorte, toenemende kulturele diversiteit en die probleme van die res van Europa en die wêreld egter vir politieke oplossings vra. Vir nou wil die meeste Duitsers egter nie te ver in die toekoms probeer kyk nie.

 

 

 

 

Nuuskommentaar: 14 September

Skuld en straf

‘Daar is geen plek vir enige opvatting dat enige rasse-, etniese-, taal-, godsdienstige of ander groep kollektief in die beskuldigdebank is nie…Want soos met ander taal- en kultuurgemeenskappe, is dit nie in die aard van die Afrikaner as sodanig om so wreedaardig teenoor andere te wees nie.’

So het Beeld op 16 April 1991 mnr Mandela aangehaal en hiermee is vanuit sy siening bevestig dat die Afrikaner, lees ook ‘wit mense’, nie in die aanklagbank is nie.

Tumi Morake het in die afgelope week haar egter geoorloof om op Jacaranda FM die onafgehandelde skuldtema te opper en ‘witmense’ aan te kla.

Volgens haar is ‘witmense’ soos die boelies op die skoolterrein wat nooit gestraf is nie en sy wil nou straf uitdeel.

Hiermee versterk Tumi Morake, soos talle ander, die idee dat die onreggeskiedenis voortgaan en dat ‘witmense’ nie genoegsaam geboet het nie of ad infinitum moet boete doen.

Tumi Morake se uitspraak is tekenend van meer as net politieke opportunisme of soos Jacaranda FM verduidelik – om gesprek te stimuleer.

Dit openbaar eerder wraaksug en sadisme.

Dit waarvan ‘wit mense’ onophoudelik beskuldig word, blyk nou net die skoen aan die ander voet te wees naamlik dat ‘witmense’ nie menslik behandel moet word nie.

‘Wit mense’ beleef sedert 1994 toenemend dat daar ‘n ander morele maatstaf geld; dat daar gereeld onderskei word tussen  groot en klein sondaars en dat skuld gebruik word om mense eerder onvry te maak en ‘n morele meerderwaardigheid te bevorder.

Trouens Tumi veroorloof haar die reg om die skuld te bereken en die straf af te meet.

Met so ‘n polities-ideologiese gedrewe visie op die werklikheid en die geskiedenis, sal Suid-Afrika en haar gemeenskappe nie vorder nie.

Is daar vir Suid-Afrika en haar gemeenskappe ‘n ander uitweg? ‘n Ander ingesteldheid?

Dalk kan dit binne ‘n ander ruimte gevind word.

‘n Ruimte waar vergiffenis en genade nie deur aardse aanklaers en regters bepaal word nie.

Dalk is dit te vinde daar waar wraaksug nie politieke agenda’s en ideologiese dwangbuise bepaal nie en waar skuld nie teenoor skuld gemeet word nie.

Dalk kan Suid-Afrikaanse gemeenskappe vanuit hulle gemeenskaplike Christelike geloof hulle weerhou van skuldiges uitwys en straf af te meet en hulle voor die reddende en verlossende genade van Christus plaas.

 

Nuuskommentaar: 13 September

Te veel, of te min regering?

Tradisioneel wil Amerikaners hê dat die regering se rol so ver moontlik ingeperk word. Dit is om te voorkom dat die staat individuele vryheid te veel inperk, en vryheid is iets wat vir die Amerikaners uiters belangrik is.

Hoewel dit nog die geval is, dui ’n meningspeiling nou daarop dat die minste Amerikaners ooit ’n moeilikheid met die hoeveelheid mag waaroor die staat beskik. Dit lyk nie of ’n tevredenheid met pres. Donald Trump se bewind hiertoe bydra nie. Hoewel tevredenheid met sy werk die laaste paar dae effens toeneem het, staan dit nog op minus 15, teenoor minus 26 vroeg in Augustus. Hy kon laas op 3 Maart vanjaar ’n positiewe syfer, weliswaar net-net positief op plus een behaal.

Tog, ten spyte van die baie kritiek wat die Kongreslede kry, toe storm Harvey sy verwoestingswerk verrig het, was die burgers gou om bakhand by die regering te staan vir hulp. Ernstige storms tref die VSA nou gereeld, en met elke storm word die Amerikaners herinner aan hul afhanklikheid van die federale regering. Die verskriklike lewensverlies en skade deur Harvey het volgens peilings ook die omgeegees van Amerika laat ontwaak.

Die debat oor te veel of te min regering, word wêreldwyd gevoer, en die antwoorde is nie maklik nie. Ook hier manifesteer dit ten dele in die howe, en selfs die Grondwethof, waar koppe gestamp word oor waar die grens lê waar die hof te veel mag aan die dag sou lê deur te ver in die verantwoordelikhede van die regering in te meng. Die gewone landsburger sou waarskynlik voel die vraag moet bloot wees of die staat die grondwet skend deur ongrondwetlik op te tree.

Die ANC is lief om voor verkiesings met hul sogenaamde goeie storie vorendag te kom. Daar is soveel huise gebou, soveel mense kry maatskaplike toelaes, en soveel word vir MIV/Vigs behandel. Dat die huise uitmekaar bars, dat die strate vol riool is, dat talle dorpe werklik wanfunksioneel is, dat werkloosheid en armoede sterk aan die deur klop, dat misdaad hande uit geruk het maak uiteraard nie deel uit van die goeie storie nie. Die goed wat so verkeerd loop is oorlede apartheid se skud, of die skuld van wit monopoliekapitaal, of die stadige pas van grondhervorming.

Dat staatskaping waarskynlik ’n R100 miljard uit die ekonomie geruk het, se blaam moet ook elders heen verplaas word want die verdagte plegers van hierdie ekonomiese sabotasie is vriende van die president. As ’n groot deel van die droogtehulp nie by die veronderstelde begunstigdes uitgekom het nie, maar skynbaar verdamp het, is dit die boere se skuld.

’n Kenmerk van ’n grondwetlike demokrasie is die opkoms van, naas ’n vrye pers, die totstandkoming van burgerlike strukture, soos byvoorbeeld Freedom Under Law, Outa en die Solidariteit-beweging. Aan die een kant word probeer om die regering sy grondwetlike pligte te laat nakom, en aan die ander kant ’n groot aantal selfhelpaksies waardeur gemeenskappe bemagtig word om minstens te sorg dat hul eie gemeenskappe die gees van uitnemendheid dra. Vat hande en help dat projekte soos opruimaksies, buurtwagte en die uitbouing van Akademia slaag, want om vir hierdie regering te wag om vinger te trek gaan dalk ’n baie lang wag behels.

 

Nuuskommentaar: 12 September

Die prys van ‘n gebalanseerde toekoms

 

Enkele jare gelede publiseer die bekende Amerikaanse politieke filosoof Michael Sandel sy boek What money can’t buy met die veelseggende subtitel, The moral limits of markets. Hierdie boek beskryf op ’n baie leesbare wyse Sandel se ontleding van een van die mees kommerwekkende kenmerke van die moderne wêreld, naamlik die feit dat daar baie min oorgebly het wat nie gekoop of verkoop kan word nie. Sandel bespreek ’n hele aantal voorbeelde van waar die mark die samelewing binnegedring het. Sy argumente dui aan dat die moderne bestaan self grootliks ’n verhandelbare kommoditeit geword het – iets om te koop en te verkoop en, nog meer onrusbarend, dat hierdie toedrag van sake blykbaar sonder probleem deur die gemeenskap aanvaar word. Sandel vra aan die einde van sy ontleding ’n dringende openbare debat oor die kwessie van ‘kommodifisering’ van ons bestaan.

Meer onlangs verskyn ’n herdruk van ’n artikel van Russell Kirk waar hy dit oor iets soortgelyk het, alhoewel hy nie soseer die klem op die geldelike sy van dinge laat val nie. Kirk gee sy artikel die titel The humane businessman en het hy dit oor die mate waartoe besigheidsmense in die VSA ook ‘menslik’ is. Kirk maak ’n belangrike onderskeid tussen humanisme en humanitarisme. Hy argumenteer dat Amerikaanse sakemanne wel goeie humanitariste is (hulle gee veel in die lyn van skenkings en hulp aan minderbevoorregtes), maar dat hulle die beperkte deugde en selfs gevare van humanitarisme miskyk as hulle hulself nie bedien van sommige insigte van die humanisme nie.

Morele, kulturele en intellektuele kapitaal kan jou lank dra, maar moet uiteindelik weer aangevul word, anders is betekenisloosheid die gevolg. Hierdie aanvulling is vandag in die sakewêreld die uitsondering op die reël.

Stelselmatig neem die dringendheid van massa-ontspanning oor by massaproduksie, en om dit reg te kry is spandering en die groots-moontlike versameling van ‘dinge’ aan die orde van die dag.

By die lees hiervan vra mens jou onwillekeurig af tot watter mate dit van toepassing is op Suid- Afrika? Mens moet egter versigtig wees. In Suid-Afrika en elders waar die ekonomiese model aantreklik is, maar die maatskaplike een nie noodwendig nie, met die gevolg dat jy die eienaardigste redenasies en stellings teëkom, moet mens nie soek na logiese argumente nie – dekolonisasie beteken byvoorbeeld glad nie die omvattende afwys van alles Westers nie. Inteendeel, mens kan blykbaar gemaklik teenstrydige standpunte huldig en ’n geïdealiseerde bestaanswyse met ’n bepaalde kulturele inhoud tegelyk volhou en haat, sonder dat dit ’n probleem verteenwoordig.

Daar is ook ’n ander kwessie hier ter sake. Kirk self raak daaraan wanneer hy sê:  “Daar is geen vlak waartoe ons nie sal daal, solank dit wil lyk asof die publiek dit wil hê nie.” Klink die strekking hiervan in ’n moderne Suid-Afrikaanse konteks bekend?

Die vraag is nou: as ons kyk na Suid-Afrika en byvoorbeeld die huidige ‘kapingsgedrag’, wat beslis nie nuut is nie, hoeveel staan vandag steeds tou om gunste te onderhandel met diegene wat hulle in ’n oogwink sou kelder; hoeveel is suksesvol sonder hierdie gunsbedel en hoe, en wie het regtig die kuns van balans met integriteit bemeester? Universiteitsbesture, kulturele instellings en sakemanne moet ook dié keer aan die dink kom. Dié twee benaderings skuld hulle ondersteuners nou nog, en veral sedert die vernietigende oorloë en vergrype van die 20ste eeu enersyds en die Suid-Afrikaanse verval andersyds, ’n goeie antwoord hieroor. Hierdie antwoord, of gebrek daaraan, is die prys van die toekoms.

 

Nuuskommentaar – 11 September

Scenarios vir SA

Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, Dr Frans Cronje het onlangs sy tweede boek met toekomsscenario’s vir Suid-Afrika uitgegee.

In die boek, ‘n Tydreisigersgids vir Suid-Afrika in 2030, identifiseer Cronje vier toekomsscenario’s vir die volgende dertien jaar: die opkoms van die reënboog, die opgang van regtervleuel, die tirannie van die linkses en laastens die verbrokkeling van Suid-Afrika.

Die “opkoms-van-die-reënboog” scenario kan ontvou as daar ‘n groeiende kultuur van vreedsame naasbestaan tussen Suid-Afrikaners bestaan. Die regering aanvaar ‘n ekonomiese beleid wat groei stimuleer en toelaat met die staat wat ‘n al kleiner rol speel. Ekonomiese groei kry ‘n hupstoot en armoede en werkloosheid verdwyn stelselmatig namate ekonomiese groei, werkskepping tot gevolg het. In hierdie scenario ontwikkel die politieke landskap van die land stelselmatig na ‘n veelparty demokrasie waarin ‘n meer gematigde ANC in koalisie met partye soos die DA, Cope, die VF Plus en die ACDP regeer.

Die tweede moontlike scenario word beskryf as die opgang-van-die-regtervleuel. Regs in dié verband verwys nie na die regse politiek van reaksionêre nie, maar eerder regse ekonomiese denke wat vir vrye mark beginsels voorsiening maak. Die regeringstyd van Thabo Mbeki met sy ekonomiese plan bekend as GEAR was ‘n tyd waarin hierdie scenario waarskynlik gelyk het. Die ANC beweeg in so ‘n scenario weg van nasionalisering van landbougrond en myne. Ekonomiese groei en werkskepping vind wel plaas en die groeikoers keer terug tot die koers tot en met 2006 toe 5% nie ‘n onrealistiese groeisyfer was nie. Omdat die beleidsrigtings wat meer vryemark georiënteerd is nie gewild is by die massas nie verg hierdie scenario polities ‘n sterk regering met dapper leierskap wat bereid is om ongewilde ekonomiese besluite te neem en deur te voer.

Die derde scenario het steeds ‘n sterk regering, maar die regering word gedomineer deur linkse politieke ideologie waarin nasionalisering van banke, myne en landbougrond die beleid van die dag word. Hierdie scenario staan bekend as “die tirannie van die linkses”. Dis die gevaarlikste van al die scenario’s omdat dit behels dat ekonomies nadelige beleidsrigtings met ‘n ysterhand deur ‘n oppermagtige staat toegepas word met ‘n regering waarin partye soos die ANC en die EFF in koalisie regeer. In so scenario plat ekonomiese groei heeltemal af en styg werkloosheid net verder. Die regering pas sosialistiese beleidsrigtings toe en veroorsaak net dat groei verder gedemp word en die land in ‘n bose kringloop van groter staatsinmenging, groter werkloosheid en geen ekonomiese groei beland.

Die laaste scenario, word deur Cronje beskryf as die “verbrokkeling van Suid-Afrika”. In hierdie scenario het die regering tot so mate sy legitimiteit verloor as gevolg van sistemiese korrupsie, ekonomiese verval, hoë werkloosheid en politieke onrus, dat die staat irrelevant raak. Suid-Afrika verbrokkel in enklawes van verskillende soorte. In sekere enklawes voer bendeleiers die botoon, in ander plattelandse enklawes tree tradisionele leiers as de facto regeerders op, in sekere stedelike gemeenskappe woon middelklasgemeenskappe in enklawes of sekuriteitskomplekse waarin die bestuur van die huiseienaarsvereniging ‘n groter rol in speel as die plaaslike of selfs provinsiale regering. Die enklawes organiseer hulleself langs etniese, rasse of klasgrense, afhangende van waar hulle bestaan en hoe hulle saamgestel is. Maar goed georganiseerde enklawes funksioneer eintlik soos staatjies binne die staat.

In die laaste hoofstuk van die boek spekuleer Cronje oor die waarskynlikste scenario. Sy gevolgtrekking dat die verbrokkeling scenario waarskynlik is, kom as ‘n skok, maar ook as ‘n wekroep om te werk en te bou en te organiseer. Deur hard te werk aan die goeie – oorwin ons dalk die kwade op die koop toe.

 

Nuuskommentaar: 8 September 2017

Bell Pottinger

 

Die Bell Pottinger-debakel het weereens ʼn duidelike waarskuwing aan buitelandse maatskappye gestuur, dat Afrika en sy mense nie op hul baadjies getakseer moet word nie.

Dié Britse skakelmaatskappy het waarskynlik homself blindgestaar teen die miljoene pond wat hy maandeliks sou verdien om as beeldpoetser vir die omstrede Gupta-maatskappye op te tree. Dit was per slot van sake ʼn uitstekende geleentheid om vastrapplek te kry in die lonende Afrika-mark waar die narsisme van politieke leiers deursigtige regering oorskadu.

Bell Pottinger is per slot van sake bekend vir sy internasionale skakelkontrakte met regerings en maatskappye.

Wat die maatskappy egter uit die oog verloor het, is dat daar steeds elemente in Afrika, maar veral aan die suidpunt is, wat etiese sakegebruik aanhang.

Die Demokratiese Alliansie se klagte teen Bell Pottinger by die Britse Openbare Betrekkinge en Kommunikasievereniging het gelei tot ʼn beslissing deur die vereniging dat die maatskappy se lidmaatskap vir vyf jaar opgeskort is. Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat dié bedryfsliggaam só ʼn verdoemende besluit neem.

Die vereniging het bevind dat Bell Pottinger ʼn onetiese mediaveldtog gegrond op rassespanning gevoer het. Die maatskappy het in plaas daarvan om die beeld van die Guptas se Oakbay-groep te verbeter, die aandag van hul vergrype afgelei, deur om op wit welgestelde indiwidue en maatskappye in Suid-Afrika te fokus. Bell Pottinger het die begrip witmonopoliekapitaal misbruik in hul veldtog. Die vereniging sê dít het tot rassespanning gelei en kan selfs as ʼn belediging vir Suid-Afrikaners gesien word.

Die vereniging verdien ʼn pluimpie.

In die Suid-Afrikaanse media is daar selfs berig dat die Pottinger-skandaal ʼn vulletjie is teenoor die destydse Inligtingskandaal van die vorige regering.

Bell Pottinger se grootste kliënte, het soos te wagte was, die sinkende skip een-vir-een verlaat. Die jongste nuus is dat die reusebankgroep, HSBC ook sy kontrak beëindig het. Een van die stigterslede van Bell Pottinger, lord Tim Bell, het in ʼn televisieonderhoud erken dat die maatskappy die gebeure moontlik nie sal oorleef nie.

In die afgelope dae is berig dat Bell Pottinger nou in die mark is.

Al dié gebeure plaas ʼn vraagteken op die etiese standaarde wat deur die skakelbedryf toegepas word. Die vraag wat gedebatteer moet word is hoeveel vryheid die skakelbedryf gegun moet word om inligting tot voordeel van sy kliënte te manipuleer. Dit is die publiek se goeie reg om in die lig van die Bell Pottinger-skandaal op deursigtige beeldpoets-projekte aan te dring.

Die debakel het hopelik tot gevolg dat die wêreld nie sondermeer alles wat vir die waarheid opgedis word vir soetkoek sal opeet nie.

Tweedens sal internasionale en plaaslike skakelmaatskappye in vervolg twee keer dink voordat hulle aanvaar dat die Afrika-gehoor liggelowig is. Die maatskappye sal veral versigtig wees om geld na te jaag en ondeurdagte projekte van stapel te stuur.

En laastens is die uitersgevaarlike witmonopoliekapitaal-mantra van pres. Jacob Zuma en die ANC se rasverdelende uitsprake vol gate geskiet en word dit met die agterdog wat dit toekom bejeën deur die internasionale gemeenskap.

Dit is waardevolle lesse vir die pad vorentoe.

 

 

Nuuskommentaar: 7 September

Misdaadintelligensie het die nuwe modewoord geword

 

Minstens drie van die voorlopers in die ANC se presidentswedloop gebruik deesdae die woord misdaadintelligensie om elke hoek en draai. Dit is glo die enigste manier waarop regte misdadigers uitgevang kan word. Hulle modus operandi moet bestudeer word, en daar moet vasgestel word of daar bepaalde patrone is wat deur reeksmisdadigers gevolg word. Verlede naweek het die Minister van Polisie, Fikile Mbalula, te velde getrek teen wat hy noem die voortgesette piekniek in die hoofkantoor van die polisie se Misdaadintelligensie-eenheid. Op tipiese Mbalula-styl het hy die nuwe waarnemende Misdaadintelligensiehoof, King Bhoyi Ngcobo, gewaarsku dat hy van nou af gereelde inspeksies kan verwag. Die polisieminister het hom ook skerp uitgespreek teen parlementslede wat die gedenkdiens vir ontslape polisielede by die Uniegebou bygewoon het. Hy sê hulle hou hulleself besig met beuselagtighede terwyl die misdaadwêreld die land oorneem. Mbalula het ook aangekondig dat hy voortaan ‘n polisieuniform gaan dra om die midaadstryd te lei. Adjunkpresident Cyril Ramaphosa was ook teenwoordig op die gedenkdiens. Hy is die jongste slagoffer van ‘n smeerveldtog wat nie net hom nie, maar ook sy familie benadeel. Hy hou die staatsagentskappe verantwoordelik vir die diefstal van sy persoonlike e-posse waarin hy aan onetiese gedrag verbind word. Almal in die land besef dit is deel van die vuilspel in die aanloop tot die ANC se verkiesings-konferensie oor drie maande.  Selfs die konserwatiewe faksie in die ANC het gevra dat die regering moet probeer vasstel of Staatsveiligheid by dié skandaal betrokke is. Niemand ontken die afmetings wat misdaad in die land aanneem nie, maar wat van politieke misdaad? Miskien moet die polisieminister juis sy Misdaadintelligensie-eenheid inspan om dié soort misdaad op te los voordat hy die veronderstelde elite-eenheid op die strate loslaat. Dit is onaanvaarbaar dat die ANC se leierskapstryd toegelaat word om die laaste stukke morele weefsel in die land te vernietig. Wie kan regtig vertroue hê in politici met sulke swak leierseienskappe? Die huidige president se tweetermyn-bewind is van die begin af deur skokke en skandale gekenmerk. Selfs misdadigers ken die verskil tussen goed en kwaad – daarom dat hulle in die nag toeslaan of op dié tye dat niemand dit verwag nie. Politieke leiers weet tog van beter. Hoekom is dit so belangrik vir die president om sy gewese vrou voor te stoot in die ANC se opvolgstryd?  Waarom slaan die ANC-Vroueliga ‘n dreigende houding in teen twee vroue wat hulle ook as kandidate beskikbaar gestel het? Misdaadintelligensie kan help om misdaad af te weer, maar niks kan meer gedoen word aan die ANC se verlies aan karakter nie. Dit is onherroeplik gesteel…

 

Nuuskommentaar: 6 September

Wonderwerkers

Die sterkste krag op aarde is nie ‘n atoombom, vliegdekskip of ‘n tsunami nie. Dis ‘n idee wie se tyd gekom het. Dis idees wat die wêreld verander, wat die geskiedenis in beweging bring, wat geweldige kragte ten goede of kwade losmaak. Daarom is niks so hewig soos die stryd om idees nie. Die twee botsende idees in die land word simboliseer deur die vuurhoutjie wat  brandstig, teenoor die troffel wat opbou.

Suid-Afrika word geteister deur idees soos radikale transformasie wat al groot dele van die land laat verval het, of wit monopolie kapitaal. Maar die vraag is hoe ‘n vernietigende idee gestuit kan word? Die geskiedenis het hard en duidelik die antwoord hierop gegee. ‘n Idee kan nie gekeer word deur tenks en vliegtuie, politieke mag of militêre krag nie. ‘n Idee kan net deur ‘n ander en beter idee gestuit word, mits dit daadkragtig deur sterk organisasies verwerklik word. Anders bly dit dagdrome.

In wese gaan die kern van die idee wat besig is om ons land te verniel oor “val” of afbreek. Ons het oor die afgelope jare gesien hoe dat vele top instellings verval het agv onwerkbare politieke idees. Dink net hoeveel eens werkende dorpe vandag nie meer behoorlik werk nie, hoeveel skole nie meer kinders kan leer nie, hoeveel hospitale pasiënte nog sieker maak, hoeveel kolleges nie meer goed oplei nie, hoeveel polisiekantore nie meer burgers kan veilig hou nie, en hoeveel regeringsleiers nie kan regeer nie.

Hierdie verval in die land maak baie mense so negatief dat hulle nie meer ‘n toekoms sien nie, en die land wil verlaat. Hulle glo dat die idees wat hierdie verval dryf so sterk is dat dit nie omgekeer kan word nie.

Maar dit ís moontlik om hierdie toestand te verander. Afrikaners se eie geskiedenis leer dat gemeenskapskrag sterker is as staatsmag. Dat mense wat saamstaan en saamwerk meer regkry as diegene wat saam afbreek. Afrikaners was nog nooit net toeskouers nie, ons het deelgeneem aan die maak van die geskiedenis. Ons wenresep was nog altyd skeppende vernuwing op grond van beproefde waardes.

Ons voorouers het ‘n onontwikkelde land op die onderste punt van ‘n onderontwikkelde vasteland skouspelagtig ontwikkel. Hulle was nie supermense nie, maar gewone mense, wat in ongewone omstandighede buitengewone prestasies behaal het. Natuurlik het hulle ook foute gemaak, maar dit word verdwerg deur hul prestasie om aan die spits te staan van die vorige eeu se projek om die grootste ekonomie in Afrika op te bou.

Mense het al gesê dit sal ‘n wonderwerk  verg om ‘n oplossing vir ons probleme te bewerkstellig. Dit is waar. Maar wonderwerke val nie uit die lug nie, mens spel dit wonderWERK! Wonderwerke word gebou, dit gebeur nie vanself nie. En mense wat saamwerk om die skynbaar onmoontlike te vermag, kan met reg “wonderwerkers” genoem word. Pretoria FM is ‘n goeie voorbeeld. Word vandag nog ‘n mede-wonderwerker wat saam met ons aan ‘n landswye wonderwerk bou!

 

Nuuskommentaar: 5 September

Trump se opsies min in stryd met Noord-Korea

 

Tydens verlede jaar se Amerikaanse verkiesingsveldtog het ’n jongman by een van Donald Trump se reuse byeenkomste ’n plakkaat vasgehou met die woorde: “Uiteindelik, iemand met waagmoed” daarop geskryf. Baie Amerikaners, spesifiek ’n meerderheid van daardie 63 miljoen kiesers wat vir Trump gestem het, het gevoel dat Barack Obama op verskeie terreine te sag opgetree het en dat ’n meer polities-inkorrekte, byna bombastiese harde benadering in die Withuis nodig was.

 

Wanneer Trump dus wegtrek met neerhalende Twitter-boodskappe vroeg op ’n Sondagoggend moet ’n mens onthou dat sy retoriek en aanslag juis dit is wat hom verlede jaar se verkiesing laat wen het. Wanneer retoriek en die werklikheid voor die ongemaklike posisie staan om mekaar êrens te ontmoet, word leierskap werklik getoets.

 

Noord-Korea se aggressiewe  militêre toetse, insluitende die afgelope naweek se toets van ’n waterstofbom, skep die grootste buitelandse uitdaging vir Trump sedert hy in Januarie president geword het. Sy reaksie in ’n reeks boodskappe op Twitter Sondagoggend was vol van die soort retoriek wat talle van sy ondersteuners baie gelukkig sal maak. Trump se dreigemente dat Amerika ’n grootskaalse aanval op Noord-Korea sal loods spreek van kragdadigheid. Selfs China en Suid-Korea het Sondagoggend deurgeloop omdat Trump voel hulle nie genoeg doen of goed genoeg besef hoe groot die Noord-Koreaanse bedreiging regtig is nie. Trump se vroegoggend boodskappe op Twitter is opgevolg deur ’n mediakonferensie deur sy minister van Verdediging Generaal Jim Mattis, waar Mattis gesê het dat die Amerikaanse weermag reg is om Noord-Korea volledig uit te wis.

 

Dit is nou hier waar retoriek en werklikheid mekaar gaan begin toets. Oor die afgelope vier dekades het Amerikaanse regerings probeer om met dreigemente, sanksies, militêre oefeninge op die Koreaanse Skiereiland en selfs kubersabotasie die Noord-Koreaanse bedreiging intoom te hou. Dit lyk egter asof geen van hierdie opsies meer suksesvol is nie.

 

Vir lank was Noord-Korea soos ’n skoorsoekende klein hondjie wat eintlik geen bedreiging inhou nie. Dit raak egter duidelik dat dié land se vermoë om langafstandmissiele suksesvol af te vuur en hul ontwikkeling van ’n kernbom, klein genoeg om op so ’n missiel te pas, ’n werklikheid raak. Dat Noord-Korea binne die volgende twee of drie jaar oor die vermoë sal beskik om Amerikaanse stede soos Los Angeles, San Francisco en Seattle met ’n kernbom aan te val, lyk toenemend moontlik.

 

Wat is dan die opsies vir Amerika en sy bondgenote? Die ideaal sou wees indien China meer druk op Noord-Korea kon plaas om sy militêre program te staak en tot onderhandelings met die Weste, Suid-Korea en Japan toe te tree. Noord-Korea is besonder afhanklik van ekonomiese betrekkinge met China. China moet egter ’n goeie motief hê om Noord-Korea finaal ekonomies te isoleer en Trump se houding jeens China is nie juis hiervoor bevorderlik nie.

 

Die Amerikaners kan sekerlik oorweeg om ’n vinnige, volskaalse oorlog teen Noord-Korea te loods. Noord-Korea se militêre vermoë kan so vinnig uitgewis word, maar dit sal gepaardgaan met enorme lewensverlies. Daar is min ander opsies soos om Kim Jong Un te laat vermoor of om te hoop huidige sanksies en druk slaag wel een of ander tyd.

 

Gaan Trump ’n balans tussen retoriek en werklikheid vind en sal die probleme met Noord-Korea sy groot nalatenskap of sy ondergang beteken? Niemand weet, maar ons behoort binnekort uit te vind.

 

Nuuskommentaar: 4 September

Wat maak ’n staat belangrik?

 

Wat maak ’n staat belangrik? Dit is waarskynliker makliker om te sê wat nié daartoe bydra om ’n staat belangrik te maak nie.

Die vraag is weer relevant nadat Noord-Korea onlangs ’n missiel minagtend bo-oor Japan afgevuur het. Ontleders het verduidelik dat die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-Un, meen ’n vertoon van mag maak sy land belangrik en sal bydra daartoe dat die and as ’n volwaardige lid van die internasionale gemeenskap se gerekende state sal wees. Die ontleders het bygevoeg dat niemand hierdie logika verstaan nie.

Maar so ver verwyder van logika is dit ook nie, soos om te wys hoe China nie respek vir menseregte, en veral minderheidsregte toon nie, maar by byna die hele wêreld voorkeur kry. Trouens, China dikteer aan ’n groot deel van die wêreld dat hulle nié die Nobelpryswenner, die Dalai Lama, mag ontvang nie. En hoe meer Taiwan menseregte en die demokrasie laat nesskop het, hoe meer het dié land op aandrang van China, ’n skop in die tande gekry.

Noord-Korea het egter agterstande, soos dat sy menseregterekord so sleg is, dat selfs China internasionale sanksies teen sy buurland steun, al word dit skynbaar ruim oortree. Suid-Korea weeg in feitlik elke opsig op teen Noord-Korea, en veral wat demokrasie en die ekonomie betref, verdwerg dit sy noordelike buurman geheel en al. Dit is dus maklik vir lande om ’n keuse te maak wanneer ’n keuse gemaak moet word. Noord-Korea was tot dusver ’n prominente deel van die sogenaamde muishondlande en militêre bande met Iran hinder erg.

Maar hoekom die missiel bo-oor Japan afvuur?

Die eerste oorweging het niks met politiek of die militêre te make nie. Alle lande lanseer hul vuurpyle en interkontinentale missiele van wes na oos af as dit moontlik is. Hierdeur word die draaispoed van die aarde as bonus gewen, wat kostes  bespaar, en reikafstande verhoog. So word Amerikaanse vuurpyle meestal van Kaap Canaveral ooswaarts en oor die Atlantiese Oseaan gelanseer. Japan se ligging blokkeer egter hierdie opsie vir Noord-Korea, en Japan het al lankal gedreig om enigiets wat Noord-Korea oor sy grondgebied lanseer, af te skiet. Vir Korea is dit ’n ingewikkelde proses om byvoorbeeld satelliete te lanseer aangesien met die ontbranding van elke fase koers aangepas moet word om die tuig deur ’n kronkelpad in ’n suidelike rigting die ruimte in te lanseer.

Toe Noord-Korea wel ’n missiel oor Japan afvuur, is Japan skynbaar met die broek afgevang. Burgers het wel noodboodskappe op hul selfone ontvang, maar oefeninge om die missiel af te skiet is eers dae later gehou. Duidelik beskik Japan oor die vermoë, maar Kim het gedreig dat dit net die eerste van vele sal wees.

Japan is ook nie meer ’n militêre vulletjie nie. Na die Tweede Wêreldoorlog is daar allerlei beperkings op Japan geplaas wat veral sy buitelandse operasionele vermoë aan bande sou lê. Veral die afgelope paar jaar het Japannese nasietrots swaarder geweeg en Japan het ’n beduidende mag geword. Twiste oor die besit van eilande met China, asook Noord-Korea se uitdagings, het ook daartoe bygedra dat die wêreld Japan se versterkte vermoë eerder verwelkom het as ongelukkig was daaroor.

Noord-Korea moet weet, daar is ’n verskil in respek en ontsag, en hy kan enige oomblik sy hand erg oorspeel.

 

 

Nuuskommentaar: 1 September

Alweer die grondsteel debat

 

Skielik het ‘n lang vergete veteraan van die ANC, en iemand wat die Afrikaner se bloeddruk al voorheen diep in die rooi gedruk het, weer op die politieke toneel verskyn.

Dit is Carl Niehaus.

In die beginjare van die nuwe bedeling het hy met sy keurige Afrikaans die taal van die vyand gepraat en Afrikaners veral behoorlik die harnas in gejaag.

Teen alle verwagting in het hy geen minister geword in die kabinet van Mandela nie. Dié het hom eerder in ballingskap gestuur as ambassadeur in Nederland.

Na sy terugkoms het hy redelik stil geword en genadig van die politieke toneel verdwyn. Dit blyk toe dat Niehaus toe ook nie heeltemal so eerlik was nie, en het op ‘n stadium gebieg oor sy oneerlikhede.

Nou is hy terug, en nogal in die uniform van die ANC se Umkhonto we Sizwe, oftewel MK.  Hy het skielik lid van die uitvoerende bestuur van die MK veterane geword, en dit is vir hom genoeg rede om onmiddellik weer politieke uitsprake te maak, wat, soos in die verlede, veral Afrikaners die joos in maak.

Verstommend genoeg kry hy nog publisiteit ook. So het hy die naweek ‘n hele onderhoud gehad, nogal met ‘n Afrikaanse koerant.

Behalwe dat hy absoluut klink soos ‘n afgeloopte Zuma-naprater en apologeet, kom hy ook met die uiters aanvegbare stelling dat die grond waarop die boere ook kos vir hom produseer, gesteelde grond is en daarom genasionaliseer moet word.  Hy word verder woordeliks aangehaal dat hy sou gesê het: “Dit was in baie gevalle algehele diefstal en ek dink nie ons moet voortgaan met ’n beleid van betaal vir grond wat in werklikheid gesteel is van die meeste swart mense van die land nie.”

Dit is nie die eerste keer dat daar vanuit ANC-geledere gesê word dat die boere in wese diewe is wat op gesteelde grond boer nie.

TLU SA het in die verband al ‘n brief aan president Jacob Zuma geskryf en hom gedaag om met die feite van sy stelling in die verband vorendag te kom, of die konsekwensies van regsaksies te moet dra. Zuma het toe stil geword, maar ander ANC-lojaliste van hom gaan steeds voort daarmee.

Ook het TLU SA al ‘n beloning van R100 000 uitgereik vir enigeen wat kan bewys dat enige van sy lede, of enige ander boer, sy grond gesteel het.  Niemand het nog na vore gekom om dit op te eis nie, maar mense soos Niehaus, wat skynbaar weer vry vir ‘n politieke posisie, gaan voort daarmee, in ‘n tyd dat boere aangeval, gemartel en vermoor word.  Hoekom sal hulle dan nie? Boere is dan immers diewe wat geen genade van die samelewing hoef te verwag nie.

Sodanige uitsprake kan nog verwag word van ‘n Jacob Zuma of ‘n Julius Malema. As dit egter kom van ‘n Carl Niehaus, wat van beter behoort te weet, is dit soveel erger.

 

 

 

Nuuskommentaar: 31 Augustus

Die Mammon Staat

 

Oud-president Thabo Mbeki het jare gelede op sy herrie gekry toe hy gesê het net armoede-opheffing kan misdaad doeltreffend verhoed. Dit was nogal ná ‘n reeks skokkende plaasaanvalle en stadsmoorde en baie landsburgers was ontsteld omdat lewensverlies tog nie iets is waaroor daar gemoraliseer kan word nie. Vandag is sy stelling oor en oor verkeerd bewys. Misdaad duur voort – selfs deur dié mense wat ‘n fortuin opgebou het.

Die Moerane-kommissie wat polities-gemotiveerde moorde in Kwazulu-Natal ondersoek, hoor gereeld getuienis aan oor huurmoordenaars wat ingespan word om opponente te vermoor. Die “opponent” behoort dikwels aan dieselfde politieke party, maar steun ‘n ander faksie. Armoede op sigself maak nie van mense moordenaars en rowers nie. Daar is ‘n groot verskil tussen iemand wat ‘n brood steel omdat hy honger is en ‘n bende wat by huise en sakeondernemings inbreek om waardevolle goedere weg te dra. Hulle het nie kos en komberse in gedagte nie, maar luukse-motors, ontwerpersklere en ‘n luilekker-lewe – totdat die geld wat met die verkoop van die gesteelde goedere gemaak is, opdroog. Hierdie geldsug heers ook in regeringskringe en die ANC. ‘n Bietjie geld wat met feitlik onsigbare oneerlikheid bekom is, maak gou plek vir miljoene rand wat nog meer verdoesel is en daarna word dit miljarde rand.  Oud-president Mbeki het destyds gesê daar is niks verkeerd as kabinetslede en ander regeringsleiers privaat-sakeondernemings bedryf nie. Hy het waarskynlik nie insae gehad in die honderde staatstenders wat gemanipuleer is om salaristrekkende amptenare te verryk nie. Toe daar uiteindelik strenger beheer toegepas is, is tenders na familielede en vriende gekanaliseer.  Meneer Mbeki se waardigheid en integriteit het hom waarskynlik naïef-dom gemaak vir sulke verregaande uitbuiting. Sy opvolger, Jacob Zuma, het sy lewenslesse egter op ‘n ander plek geleer. Sedert die begin van sy politieke loopbaan het hy altyd ‘n geldtekort gehad en ander kaders – selfs oud-president Nelson Mandela – moes hom uit sy penaries help. Vernuftige sakemanne soos die Shaik-broers het dié swakheid uitgebuit en nie lank nie of die president-in-wording verskyn op die salarisstate van oorsese maatskappye wat tenders vir die wapenaankope gekry het.

Vandag het die Shaiks vir die Guptas plek gemaak en die presidensiële vergoeding verloop ietwat anders. Hy het nou ook opgeskote seuns wat hom kan help om sy nes te veer en nog genoeg geld oor het om hulle eie neseiers op te bou. Die president verdien ‘n stewige salaris en al sy uitgawes word deur die staat betaal. Die regering betaal ook salarisse en toelaes aan verskeie lede in sy poligame huishouding. Steeds is dit nie genoeg nie – die versugting na geld is net te groot. Dit is die probleem met duisende en selfs miljoene landgenote. Hulle wil nie nie net genoeg hê om van te lewe nie – hulle wil skatryk wees. Armoede-verligting het toe nie gehelp om misdaad te verminder nie – die begeerte na rykdom het dit juis laat toeneem.

 

 

Nuuskommentaar: 30 Augustus

Skuldobsessie kan Weste kelder

 

Die Westerse beskawing verkeer in sy grootste bestaanskrisis sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Selfs tydens die donkerste dae van die oorlog, was daar dalk selfs meer rede om steeds in die voortbestaan van die Weste te glo, as wat vandag die geval is.

 

Westerse lande en gevolglik Westerse kulture en tradisies is onder druk weens massa-immigrasie uit Derde Wêreldlande, demografiese verskuiwings soos die lae bevolkingsaanwas onder Westerlinge en die onvermoë van Westerse volkere om motiewe vir voortbestaan nie net uit te leef nie, maar selfs net te identifiseer.

 

Die kern van die probleem lê egter opgesluit in Westerlinge se behoefte om hulself vir alles wat in die wêreld verkeerd is te blameer. Wanneer ’n seuntjie op die kus van Turkye uitspoel is dit ryk Europeërs se skuld. ’n Natuurlike storm wat tot sterftes in Haïti aanleiding gee is die gevolg van Amerikaners se liefde vir elektrisiteit wat uit steenkool opgewek word.

 

In die VSA is dit nie net Generaal Robert Lee se standbeelde wat verwyder moet word nie, maar word selfs Christopher Columbus se kop nou ook geëis. Die burgemeester van New York, Bill de Blasio het verlede week ’n hersieningsproses van negentig dae aangekondig waartydens die stad glo oor al sy monumente gaan herbesin. Regoor Amerika word die verwydering van standbeelde en die naamsverandering van strate, openbare instellings soos universiteite en selfs dorpe geëis.

 

Terwyl ’n eeue oue tradisie, bekend as Zwarte Piet, die assistent van Sinterklaas onlangs byna heeltemal in Nederland verban is, word Britte, Swede en ander Europeërs deur linkse akademici, menseregte-aktiviste en selfs regerings gemaan om met meer sensitiwiteit teenoor vreemdelinge op te tree. Sensitiwiteit is in hierdie geval slegs ’n kodewoord vir die verwerping van die eie en die bring van offers aan die armsalige vreemdelinge wie se hele hartseer lot voor die deur van die Weste gelê kan word.

 

Westerlinge ervaar ’n diepe skuldgevoel vir alles van kolonialisme en Westerse kapitalisme tot die Kruistogte en slawerny, ’n praktyk wat al eeue gelede deur Westerse lande afgeskaf is.

 

Terwyl die meeste Westerlinge geen benul het van die redes vir die Kruistogte en die politiek van daardie tyd nie, dink miljoene van hulle sonder behoorlike beredenering dat die toelaat van groot getalle immigrante uit die Midde-Ooste maar ’n klein vergoeding vir die kamma-bose dade van die Weste tydens die Kruistogte is.

 

Derde Wêreldse volkere het oor die afgelope paar dekades die perfekte mengsel van selfbejammering en ’n slagoffermentaliteit ontwikkel sodat die mengsel hiervan met die na-oorlogse Westerse skuldgevoelens tot ’n perfekte resep vir die vernietiging van Westerse volkere aanleiding gegee het.

 

Liberale Westerlinge kan soveel monumente laat verwyder, straatname laat verander en die verskonings vir kolonialisme en alles wat boos was, laat inrol, slegs die simptome van ’n veel groter probleem sal aangespreek word.

 

’n Nuwe balans in die verhouding tussen die Weste en die Derde Wêreld is nodig. Dit moet begin deur Westerlinge se herontdekking van die waarde van identiteitsbehoud en ’n poging tot demografiese herstel. Derde Wêreldlande sal moet besef dat die koestering van ou wrokke en voortdurende selfbejammering nie die voordele van visie, produktiwiteit, eerlikheid en ’n eie pligsbesef inhou nie.

 

Nuuskommentaar:  29 Augustus

Kan die Amerikaanse vloot nog kers vashou?

 

Kan die Amerikaanse vloot nog kers vashou by sy reputasie as die grootste en sterkste vloot ter wêreld? Kwantitatief is die antwoord onbetwisbaar ja, en so gaan dit nog vir dekades bly met ’n bogemiddelde begroting om nie net vir baie skepe nie, maar nog groter en beter skepe te sorg.

Die Amerikaanse vloot kan wêreldwyd optree, en met 3 700 vliegtuie aan boord, het hul ook die tweede grootste lugmag. Voeg hierby ander wapentuig, soos interkontinentale ballistiese missiele met kernplofkoppe, en soms ’n hele klomp kernplofkoppe wat deur die MIRV op ’n groot stad en sy verspreide voorstede losgelaat kan word.

Met sy seesoldate en Seals  aan boord kan daar op teikens ver van die kus af toegeslaan word.

Die syfers is indrukwekkend. Die vloot het meer as 300 000 manskappe wat tot aksie kan oorgaan.  Daar is 288 gevegskepe, tien vliegdekskepe, nege amfibiese aanvalstuie, 22 kruisers, 62 aanvalstuie, 17 fregatte en 72 duikbote.

Vraagtekens het egter oor die kwaliteit van die beheer hiervan ontstaan nadat die vierde Amerikaanse tuig vanjaar, die USS John S. McCain in die Stille Oseaangebied in ’n ongeluk met ’n handelstuig betrokke was. Altesaam 10 Amerikaanse soldate is vermis.

In Junie het die USS Fitzgerald teen ’n houerskip gebots, en sewe soldate het omgekom.

In Mei is die USS Champlain deur ’n Suid-Koreaanse vissersboot getref, maar niemand is beseer nie.

In Januarie vanjaar het die USS Antientam gestrand toe dit in Tokyo se hawe wou vasmeer.

Die bevelvoerder van die Sewende Vloot is pas van sy pligte onthef. Ondersoeke na die ongelukke word uitgebrei.

In dié stadium is Amerikaanse kiesers nog nie seker of daar besonder baie ongelukke was, en of die media die storie so opgeblaas het dat dit ongewoon voorkom nie. Tog, so lyk dit, het dit die Amerikaanse kiesers se koppe oor ’n hele paar kwessies laat draai wat in hul oë eintlik onbetwisbaar was. In Maart het pres. Donald Trump se planne om die VSA se militêre mag uit te brei vir ondersteuners van die Republikeinse Party nog soos musiek in die ore geklink, hoewel die Demokrate meer langlip daaroor was. In Julie, met die Noord-Koreaanse krisis wat prominent geword het, het 55 persent van die kiesers gevoel die VSA het te veel militêre ysters in die vuur en kan nie oral doeltreffend bykom nie. Ook in Julie het die meeste kiesers gevoel die VSA se weermag moet gebruik word om die vyand slae te gee, en moet nie vir vredesoperasies aangewend word nie. ’n Maand later, met die vierde vlootongeluk vars in die geheue, het die meeste Amerikaners nie meer geglo die VSA kan die 16 jaar oue oorlog in Afganistan wen nie, ten spyte van ’n voorgenome versterking van magte.

Die Amerikaanse gemoed oor hul land se uitnemendheid veral ter see, sal nog dikwels van hoog na laag swaai afhangende van hoe ’n magsvertoon met voete van klei mekaar opvolg.

 

Nuuskommentaar: 28 Augustus

Regeringsbeleide misluk steeds

Statistiek Suid-Afrika het verlede Dinsdag hul verslag, ‘Armoede Tendense In Suid-Afrika’ bekendgestel. Hierdie verslag plaas die kollig die steeds skokkende grootskaalse armoede in die land. Die verslag behoort, na regte, beleidmakers en regeringsamptenare se oë oop te maak vir die realiteit van mislukte ekonomiese beleide van die afgelope dekade.

Meer as 30 miljoen uit die beraamde 55 miljoen Suid-Afrikaners lewe onder die boonste armoededrempel van ‘n inkomste van R992 per persoon per maand. Dit is 55% van die land se bevolking ­- en ‘n toename sedert 2011 met 3,1 miljoen meer burgers wat in hierdie soort armoede lewe.

‘n Interessante feit wat uit die studie gekom het, is dat die nasionale statistiekediens die gini koëffisiënt per rassegroep bepaal het. Die gini koëffisiënt meet ongelykheid en gelykheid, met die getal 0 wat gesien word as perfekte gelykheid en 1 word gesien as perfekte ongelykheid. Alhoewel sommige ekonome nie die gini-koëffisiënt as ‘n belangrike ekonomiese aanduier ag nie omdat ongelykheid nie noodwendig armoede beteken nie, is dit steeds interessant om na die statistiek te kyk.

Die inkomste-ongelykheid van die wit en kleurling Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe het verlaag en die Indiese/Asiese bevolkingsgroep is onveranderd. Die inkomste-ongelykheid van die swart Suid-Afrikaanse bevolkingsgroep het egter tussen 2011 en 2015 vergroot. Dis die enigste bevolkingsgroep wat ‘n toename in ongelykheid gesien het.

Hierdie toename in ongelykheid onder swart Suid-Afrikaners is ‘n sprekende voorbeeld van die mislukking van huidige regstellende aksie en swart bemagtigingsplanne. Alhoewel daar groot en goeie groei van die swart middelklas is, bly die meerderheid Suid-Afrikaners steeds ekonomies agter.

Die 200% verhoging in inkomste ongelykheid vanaf 1994 beklemtoon egter die mislukte sosialistiese en ingrypende staatsbeleide in die land. Dit dien egter as verdere bewys dat deur te poog om gelykheid na te streef, word daar nie rykdom geskep nie, en word ongelykheid selfs nog minder aangespreek.

Solank as wat die ANC nie bereid is om fout te erken nie, lyk die ekonomiese toekoms maar donker. Met die regering se onvermoë om koers te verander en eerder ander vae eksterne redes die skuld te gee, blyk dit dat geen ekonomiese omkeer binnekort gaan plaasvind nie. Die ANC is steeds ‘n revolusionêre party op strewe na ‘n oneindigende revolusie. Sodra hierdie ideologiese blindheid oorkom kan word, sal ons dalk die menswaardigheid van die land kan begin herstel.

 

Nuuskommentaar: 25 Augustus

Plastiekpaaie die alternatief vir teerpaaie of ‘n teer saak?

 

‘n Voorstel deur die Demokratiese Alliansie in die Oos-Kaap dat ‘n loodsprojek begin moet word om die lewensvatbaarheid van plastiekpaaie te toets, is luidkeels deur die ANC afgeskiet. Lede van die land se regerende party kan net nie insien dat daar ‘n toekoms bestaan vir paaie wat van herwinbare plastiek gemaak word nie. Die Oos-Kaap se agterstand in padinfrastruktuur beloop meer as 100-miljard rand en daar is nie genoeg geld in die provinsiale koffers nie. ‘n DA-beheerde munisipaliteit in Gauteng het hom intussen bereid verklaar om ‘n stuk pad uit plastiek te vervaardig as ‘n toetsprojek vir ‘n skoner omgewing, die langer lewensduur van paaie en les bes geen slaggate nie. Plastiekpaaie word reeds in Indië, Nederland en ander plekke in Europa gebruik en Brittanje toon groot belangstelling vir die tegnologie. Teer is afkomstig van ru-olie en is dus nie omgewingsvriendelik nie. Asfalt of teer is verantwoordelik vir twee-persent van die wêreld se koolstofvrystellings. Dit is ook moeilik om teerpaaie te herstel omdat die teermengsel bo-op asook die betonlaag daaronder opgekap moet word en tot groot verkeersontwrigting lei. Plastiekpaaie word so gebou dat dit ineenskakel en kan stuk-stuk teen minder tyd en koste vervang word. Tog is dié paaie se lewensduur drie keer langer as dié van teerpaaie. Plastiek het verskeie chemiese en fisiese eienskappe en kan gebruik word om paaie meer weerbaar teen uiterste weerstoestande te maak. ‘n Nederlandse maatskappy het ‘n model voorgestel waarvolgens plastiekpaaie met ‘n spasie binne-in gebou word waar waterpype en elektriese verbindings aangebring kan word. Die oop ruimte kan ook gebruik word vir natuurlike verhitting wat keer dat paaie toesneeu of sal help dat reënwater vinniger opdroog. Herstelwerk aan die krag- en waterinfrastruktuur in die oop spasies kan vinnig gedoen word omdat net ‘n stukkie van die pad verwyder moet word. ‘n Belangrike oorweging om van teer na plastiek oor te slaan. is die tonne plastiek wat by stortingsterreine beland en gebruik word vir opvulling. Dikwels lek besoedelingstowwe in die omliggende grond terwyl plastiekverbranding kan lei tot die vrystelling van kweekhuisgasse soos koolstofdioksied.  Mikroplastiese afval is ook besig om die oseane te besoedel. Modulêre plastiek is makliker om mee te werk as teer. Selfs paaie wat gebou word met ‘n mengsel van plastiek én teer absorbeer nie water nie, is meer buigsaam, minder groewe ontstaan en minder herstelwerk is nodig. Padoppervlaktes is gelyker en aborbeer klank beter. Ongeveer een-miljoen plastieksakke is nodig om ‘n stuk plastiekpad van een-kilometer te bou en die boutempo is 70-persent vinniger as die aanlê van ‘n teerpad. Is dit nie tyd om kreatief te dink nie?

 

Nuuskommentaar: 24 Augustus

Die stryd duur voort

Wat het Grace Mugabe, staatskaping, grondgrype in Zimbabwe en Suid-Afrika en plaasmoorde in gemeen?

Miskien is dit ‘n wilde vraag – of dalk nie. Die afgelope week het ons onsself gereeld met verwysing na AfriForum se betrokkenheid by die Grace Mugabe versus Gabriella Engels-voorval, met die vraag gevra: waarom soveel aandag aan ‘n enkele voorval van aanranding in Sandton?

Die afgelope naweek was daar vier plaasmoorde in 48 uur.

More word Piet en Tilla van Zyl van die plaas Immerpan naby Potgietersrus/Mokopane begrawe. Hulle is die afgelope naweek koelbloedig op hulle plaas vermoor. Dit is nie duidelik wat presies gesteel is nie. Nog niemand is na die voorval gearresteer nie.

Eergister is Johan Muller op sy kleinhoewe deur vier aanvallers oorrompel. Drie was gewapen. Hulle het hom met ‘n warm strykyster gemartel en hom in sy bobene en lieste gebrand om toegang tot sy kluis te verkry.

Vanjaar was daar reeds 277 aanvalle op plase en kleinhoewes en 55 slagoffers is gedood. Die vervolgings- en skuldigbevindingskoers is skrikwekkend laag.

Suid-Afrikaners is vuisvoos en keelvol van die blatante korrupsie van – wat toenemend bekend raak as – die Zupta-regime. Die voormalige Openbare Beskermer, Adv. Thuli Madonsela het vroeër die week voor die Joodse Raad van Afgevaardigdes, haar misnoeë te kenne gegee met die feit dat daar nege maande na die bekendmaking van haar staatskapingsverslag, steeds niks gebeur het om uitvoering te gee aan haar aanbevelings nie.

In Zimbabwe het president Robert Mugabe voorverlede week voor ‘n saamtrek van Zanu-PF gesê die moordenaars van wit boere en hulle familielede wat vermoor is toe hulle hulle teëgesit het toe sogenaamde oorlogsveterane hulle plase beset het nadat die staat die plase gekonfiskeer het, sal nie vervolg word nie.

Die volgende dag het Grace Mugabe ‘n hotel in Sandton binnegevaar en met die hulp van haar lyfwagte en skynbaar onder toesig van polisiebeamptes, verwoesting gesaai voordat sy die 20-jarige Gabriella Engels met ‘n elektriese verlengkoord aangeval het. Volgens die sekuriteitsverslag van die hotel wat deur TimesLive onder oë geneem is, het die polisiebeamptes die hotel se sekuriteit verbied om in te gryp.

Saterdag het die Minister van Internasionale Verhoudinge, Maite Nkoane-Mashabane besluit om diplomatieke immuniteit aan Grace Mugabe te verleen “in belang van verhoudinge tussen Suid-Afrika en Zimbabwe”.

Suid-Afrika se goeie verhouding met sy misdadige buurland is dus – na die oordeel van die minister –  van meer belang as die beginsels van geregtigheid en aanspreeklikheid.

Dit bring my terug by die vraag hierbo: watse verband bestaan daar tussen al die gebeure?

Die gemene deler in al hierdie voorvalle kan saamgevat word in een woord: straffeloosheid.

Ons het verval in ‘n moeras waarin die grofste moontlike skendings van die reg, ongestraf verby gaan.

Die regverdiging vir hierdie blatante misdadigheid deur korrupte maghebbers word meestal in mooi woorde getooi:

  • goeie diplomatieke verhoudinge;
  • die gesag van die demokraties verkose regering;
  • respek vir die amp van die president;
  • stabiliteit in die streek;
  • die noodsaak van radikale ekonomiese transformasie; en
  • die gevaar van wit monopolie kapitaal.

Diewe en misdadigers gee altyd goeie redes – in hulle eie oë – vir hulle aksies. Hulle is dikwels gewetenloos genoeg om aan hulle slagoffers te laat blyk dat die slagoffers die blaam moet dra vir die pyn, verlies en onreg wat hulle ly.

Juis daarom hou al hierdie gebeure verband.

Die stryd oor Grace Mugabe se ongeregverdigde immuniteit moet dus nie in isolasie gesien word nie. Grace Mugabe het die simbool geword van die sieklike kultuur van onaantasbaarheid. Daardie stryd duur voort.

 

Nuuskommentaar: 23 Augustus

DRK bewys Weste moet anders kyk na Afrika

 

Die Demokratiese Republiek van die Kongo is geografies die tweede grootste land in Afrika en die elfde grootste in die wêreld. Met ’n bevolking van tagtig miljoen mense het die DRK die sewentiende grootste bevolking ter wêreld. Die land is ryk aan minerale hulpbronne soos koper en diamante en meer as die helfte van die wêreld se kobaltreserwes word daar aangetref. Die land het volgens ’n Amerikaanse studie die potensiaal om genoeg hidroëlektrisiteit op te wek om in die hele Afrika-kontinent se kragbehoeftes te voorsien.

 

Volgens die Wêreldbank het die DRK die vierde hoogste persentasie inwoners van enige land in die wêreld wat onder die armoedelyn leef. In meer as die helfte van die land se 26 provinsies is rebellegroepe in ’n kleinskaalse oorlog met die regering gewikkel. Byna vier miljoen burgers is binnelands verplaaste vlugtelinge.

 

Die Kongo se probleme is nie nuut nie. Die vigspandemie het gedurende die eerste dekades van die twintigste eeu eers in die Kongo ’n houvas gekry voordat dit na die res van die wêreld versprei het. Ebola het ook sy herkoms in die reënwoude van die land. Die land het verlede jaar ’n uitbraak van onder andere geelkoors, cholera, Ebola en polio ervaar en in talle gevalle het hierdie siektes ook na buurlande versprei. Verlede maand is een ton heroïen wat in ‘n Kongolese skip op pad na Europa was, onderskep. Die land word gereeld deur internasionale dwelmsmokkelaars as deurgang na Europa gebruik. Om te dink ‘n arm Afrikaland hou nie nadelige gevolge vir die res van die wêreld in nie, spreek van ernstige naïwiteit.

 

Oor die afgelope vyftien jaar het Westerse lande meer as 37 miljard Amerikaanse dollar vir noodleningswerk in die DRK spandeer. Die resultate van dié spandering bykans afwesig terwyl armoede toeneem en die land se ekonomie stagneer. Die plaaslike geldeenheid stort tans in duie en die land se inflasiekoers staan op 50%.

 

Soos in talle Afrikalande is die kern van die land se uitdagings van ’n politieke aard. President Joseph Kabila het in 2001 aan bewind gekom nadat sy pa in ’n sluipmoordaanval dood is. In 2006 het hy ’n demokratiese verkiesing gewen en in 2011 ’n omstrede verkiesing wat geensins as vry en regverdig beskou kan word nie. Daar was veronderstel om verlede jaar weer ’n verkiesing in die DRK plaas te vind, maar Kabila het geweier dat so ’n verkiesing plaasvind. Nadat geweld uitgebreek het, het hy belowe dat die verkiesing vanjaar sal plaasvind. Dit het ook nie en gaan ook nie gebeur nie. President Jacob Zuma het onlangs Kabila gelukgewens met die wyse waarop hy die DRK regeer. Of dit Mugabe, Kabila of Al-Bashir is, Afrika hou van sy diktators.

 

Daar is min rede om te glo dat die DRK en ook talle ander Afrikalande oor die volgende paar jaar vreedsaam, ekonomies voorspoedig en meer demokraties sal raak. Diktators sal geïsoleer moet word en Afrika moet in plaas van gesus eerder geskud word. Terwyl die Weste Afrika as ’n maatskaplike projek beskou sal die Kabila’s aanhou om hul lande te plunder en hulself te verryk.

 

 

Nuuskommentaar: 22 Augustus

MYNE EN HULLE S’N

Die afleggings in die mynbousektor en staalbedryf die afgelope ruk veroorsaak nie net onbestendigheid in die land se ekonomie nie, maar sorg vir onsekerheid vir etlike werknemer en sy afhanklikes.

 

Die vakbond, Solidariteit, het onlangs gesê dat die staalreus, ArcelorMittal Suid-Afrika se herstruktureringsplan bloot net ‘n rookskerm is om werkers af te lê, nadat die maatskappy aangekondig het dat hy reeds met sy konsultasieprosesse begin het.

 

Die geraamde hoeveelheid werknemers wat deur dié stap geraak sal word is waarskynlik 50 en daar word voorspel dat dit ‘n reuse impak op gemeenskappe sal hê.

 

Intussen het die goudmynmaatskappye, Harmony Gold en Gold Fields genoeg verdien om hul aandeelhouers met dividende te beloon, terwyl AngloGold Ashanti en Sibanye albei waarsku dat hulle groot verliese verwag en duisende werkers sal moet aflê om kop bo water te hou.

 

Die maatskappy het vroeër gesê dat hy 7-duisend-4-honderd van sy werknemers sal moet aflê.

 

Benewens hierdie kriewelrighede in die mynbousektor en staalbedryf, is dit nou 5 jaar na die Marikana-slagting waartydens 47 mense doodgeskiet is.

 

In Augustus 2012 het stakende mynwerkers geëis dat hul lone met 3-honderd-persent verhoog en hul gewelddadige betogings het die polisie se openbare orde polisiëring genoop om op oproeriges los te brand.

 

Die media berig ook dat daar nog geen polisiebeampte wat by die voorval betrokke was, in hegtenis geneem is nie en die nasionale vervolgingsgesag word nou uit verskeie oorde gekritiseer oor die sloer met die vervolging van die sogenaamde moordenaars in die polisie.

 

Die president van die vakbond, Amcu, het hom ook uitgespreek oor die Marikana-slagting en sê dat dit geensins verskil van 1960 se voorval in Sharpeville nie.

 

Hy meen dit is ‘n skande dat die mense wat beweer dat hulle die land bevry het en polisie-geweld teen betogers veroordeel het, dieselfde mense is wat toelaat dat die polisie betogende mynwerkers van agter doodskiet.

 

Om alles te kroon sal die Kropz Elandsfontein die inbedryfstelling van sy fosfaatmyn naby Langebaan in die Wes-Kaap uitstel, so daar is nie binnekort hoop vir werkskepping vir die aflegdes nie.

 

Dit volg na die vertraging in die uitreiking van die myn se watergebruikslisensie en die situasie word vererger deur tegniese uitdagings en die prys van fosfaat, wat die laagste punt in tien jaar bereik het.

 

Intussen lyk die toekoms by die Lily en Barbrook-goudmyn nie rooskleurig nie, nadat nog ‘n mynmaatskappy op die laaste nippertjie besluit het om dit nie te koop nie. Die onderhandelinge met Galane Gold van Kanada en Vantage Goldfields van Australië het deur die mat geval.

 

Die bedrywighede by die Lily-myn naby Baberton in Mpumalanga het verlede jaar tot ‘n stilstand gekom toe die myn ineengestort het en drie mynwerkers onder die grond in ‘n vraghouer vasgekeer is. Hulle is steeds nie na die oppervlak gebring nie.

Dit laat die vraag by landsburgers ontstaan oor waarheen die land met sy minerale hulpbronne, mense en ekonomie op pad is en hoe die toekoms daaruit sal sien.

 

Mense, het geld nodig, om geld te verdien moet daar ‘n werk wees en om werk te skep is volhoubare ekonomiese groei nodig.

 

Dit klink soos een groot bose kringloop wat lelik skeefgeloop het.

 

Nuuskommentaar : 21 Augustus

Gratis onderrig of goeie onderrig?

 Daar is nie iets soos gratis universiteitsopleiding nie. Iemand betaal altyd – al is dit die ouers van kinders wat nie toelating tot kampusse kry nie omdat hulle matriekuitslae te swak of ontoepaslik is. Die FeesMustFall-opstande is bewys van die geweldige en gewelddadige onkunde wat daar oor tersiêre onderrig bestaan.

Nou wil ‘n groep Suid-Afrikaners die eeu-lange praktyk, finansiering en tradisie van universiteitsopleiding met een haal doodkrap. Daar bestaan ‘n persepsie dat na-skoolse akademiese opleiding die uitsluitlike voorreg van die ryk en bevoorregtes is.  Daar is ook ‘n wanindruk dat iemand met universiteitsopleiding ‘n vyf-keer beter kans op werk het as ‘n gewone matrikulant.

Bykans 40-persent jongmense in die land is tans werkloos en die syfer word jaarliks groter. Daar is talle gegradueerde studente wat ook nie werk kry nie. Of hulle het nie in die regte rigting gestudeer nie, of hulle is nie vaardigheids-georiënteerd nie. Dan is die regering glo van plan om te sorg dat 75-persent van alle studente in die land die minimum betaal.

Die verwaarloosde middelinkomste-groep sal glo ook by dié besluit baat. Die regering brei doelbewus nie uit oor wat die oorblywende 25-persent gaan betaal nie.  Het die regeerders ‘n soort kruissubsidie in gedagte? ‘n Mens kan tog nie onregverdigheid met nog groter onregverdigheid beveg nie. Dit is al weer die ANC se ou kwasi-kommunistiese uitgangspunt – moenie nuwe welvaart skep nie, neem eerder weg by die wat het. Bied ouers wat kan betaal eerder ‘n lonende belastingkorting aan. Daar is baie Suid-Afrikaanse studente wat hard studeer en naweke en vakansies hard werk om hulle ouers te help betaal. Tersiêre onderrig het nie net ‘n geldwaarde nie – dit is veronderstel om selfstandgheid te kweek en karakter te bou.

Die geldelike aspek van universiteitsopleiding gaan ook nie die hoë uitsakkoers verlig nie. Duisende studente staak hulle studies omdat hulle net die mas opkom nie. Dit is ondanks die feit dat die regering universiteite en kollleges gedwing het om hulle toelatingsvereistes te verslap. Studente wat in ‘n goeie rigting klaarmaak, ploeg weer terug in die land in die vorm van kundigheid, belasting, koopkrag en werkskepping.

Die Suid-Afrikaanse grondwet waarborg slegs bekostigbare onderwys en opleiding – niks word gesê van gratis onderrig nie.  Die ware oplossing is ook nie om nou onder druk gratis onderwys aan te bied nie. Dit is om die ganse onderwysstelsel reg te ruk, ‘n gesonde belastingmodel te skep en die strooptogte op die Tesourie te staak.

 

 

Nuuskommentaar: 18 Augustus

Waar het Noord-Korea sy nuwe missieltegnologie gekry?

Na minder suksesvolle pogings om interkontinentale missiele oor lang afstande gelanseer te kry, het Noord-Korea eensklaps met nuwe tegnologie die wêreld met sy nuwe generasie missiele verstom, en sommer pres. Donald Trump se maanhare laat regop staan. Min waarnemers glo Noord-Korea kon in so ’n kort tydjie ’n nuwe blaadjie omslaan en met heel nuwe tegnologie suksesvolle interkontinentale missiele bou.

En boonop lyk dit verbasend baie na-aan Russies-ontwerpte missielenjins uit die Sowjet-era wat gebruik is.

Maar hoe gebeur dit dat ’n land wat veronderstel is om volledig deur internasionale sanksies aan bande gelê te wees, sy hande op die alternatiewe en suksesvolle tegnologie gelê kan kry? Gou is skynbaar gesaghebbend berig die masjiene en hul ontwerpe kom van ’n ou Sowjet-fabriek, wat na die uiteenval van die Sowjet-Unie, in Oekraïne by Dnipro beland het.

Sou dit waar wees, is dit ook nie duidelik of die fabriek, wat glo spartel om kop bo water te hou, hom op die swart mark begeef het, en of Noord-Korea die tegnologie gesteel het nie. Enkele jare gelede is ’n paar Noord-Koreane juis hier aangekeer na hulle tegnologie probeer steel het.

Oekraïne ontken dat sy fabriek verantwoordelik kan wees, en so ook Rusland dat hy of van sy fabrieke die sondebok kan wees. Luidens die jongste berigte glo die Amerikaanse intelligensieinstellings ook nie dit is van Oekraïne afkomstig nie.

Die aandag verskuif dus weer na Iran, teen wie die administrasie van pres. Donald Trump pas skynbaar om onsinnige redes sanksies teen nog mense van die land ingestel het. Iran was al jare lank by Noord-Koreaanse missielontwikkelling betrokke, en omgekeerd. In 2016 is ’n missielenjin, met ’n krag van 80 ton, getoets. Die nuwe missiele wat nou getoets is, se stukrag is 45 ton, dus heelwat minder – en toevallig dieselfde stukrag as die Sowjet-enjins waaruit dit glo ontwikkel is. Voortgesette Iranse betrokkenheid by Noord-Korea hou dus die gevaar in dat dié muishondland binnekort nog veel kragtiger missiele met kernplofkoppe sal kan lanseer.

Gelukkig is daar nog die kwessie van akkuraatheid, wat Noord-Korea en sy vennote skynbaar nog nie behoorlik onder die knie het nie. Dit kan, veral danksy die swart mark of Iranse betrokkenheid, binnekort reggestel word.

Die boodskap bly egter dat as Noord-Korea sulke wapens kon bekom, is daar min rede om te glo dat Al Kaïda en Isis nie ook binnekort met sulke wapens sal kan spog nie. En dan het die wêreld groot probleme.

Noord-Korea bied reeds ’n groot probleem, al is die land ook blootgestel aan voorspringoperasies wat sy kernmissielvermoë op die grond, en selfs reeds in die lug, kan uitwis. Trouens, Noord-Korea se ganse militêre slaankrag kan met tydigheid en geluk vernietig word voor veel skade aangerig kan word, soos om die nabygeleë Suid-Koreaanse hoofstad, Seoel, met artillerie grootliks weg te blaas.

Maar waar gaan soek ’n mens na Al Kaïda, Isis of ander terreurorganisasie se kernwapens?

 

Nuuskommentaar: 17 Augustus
Leë beloftes, vals belonings en die gebrek aan sosiale kapitaal

Die politieke wetenskaplike en -ekonoom, Yoshihiro F Fukuyama bespreek in sy boek, Political order and Political decline, ondermeer die effek van wat hy noem lae-vertroue stelsels soos dit in Italië en Griekeland voorkom.
Hy steun veral op die navorsing van Robert Putnam wat ‘n ontleding van die Italiaanse Noord-Suid kwessie gedoen het.
Die Noord-Suid kwessie dui op die verskil in welvaart, effektiewe regeringsinstellings en infrastruktuur tussen die Noorde en Suide van Italië.
Ten spyte van gelyke toegang tot bronne en mags-instellings is die Suide in vergelyking met die Noorde armer.
Putnam en ander navorsers kom tot die gevolgtrekking dat die Suide se disfunksionaliteit aan onder oorsake toegeskryf moet word, waaronder oorgelewerde kultuur waardes of sosiale kapitaal.
Van hierdie waardes of sosiale kapitaal is die beskermheer- kliënt verhouding.
Judith Chubb stel dit so: ‘In ruil vir toegang tot bevoordeling deur die staat en volmag op plaaslike vlak, word die meerderheid in die parlement, ongeag beleid en agenda ondersteun.
Dit herinner aan die beskermheer-kliënt verhouding wat reeds tydens die Romeinse heerskappy voorkom; ‘n verhouding tussen die maghebber en dienskneg wat op beheer, veral die beheer van bronne, gebou is.
Op die lange duur lei dit na die inrigting van die politieke speelveld aan die hand van persoonlikhede en die belofte van beloning in plaas van ‘n ideë-raamwerk en effektiewe regering.
Alhoewel nie in alle opsigte nie, toon die ontwikkeling en gang van die politieke orde in die suide van Italië tog ooreenkomste met gebeure in Suid-Afrika.
Die uitslag van die onlangse wantroue mosie teen Mnr Jacob Zuma wys enersyds dat ten spyte van die klagtes van korrupsie en staatskaping, die ANC onverbiddelik is in hulle steun ter wille van ‘n eenheidsfront en dat mag ten alle koste behou moet word.
Wie die mag beheer, beheer die bronne en die nagenoeg 16 miljoen stemgeregtigdes wat van staatstoelaes afhanklik is.
Hierdie bronne is egter aan die kwyn; Suid-Afrikaners is aan die verarm, werkloosheid neem toe en die middelklas sal teen die huidige tempo nie meer in staat wees om die belastinglas te dra nie.
Om die ramp te verbloem word die blaam verskuif na minderheidsgroepe. Blankes in die algemeen en Afrikaners in die besonder word as struikelblokke getipeer.
Wantroue word gesaai en vertroue tussen gemeenskappe aan flarde geruk met beskuldigings en valse beloftes.
Aan die hand van die Italiaanse Suide en wat Suid-Afrikaners tans beleef kan gevra word:
Is die oorsprong van ‘n oneffektiewe staatsbestel en die toenemende armoede nie te wyte aan ‘n gebrekkige waarde sisteem; aan ‘n tekort aan sosiale kapitaal nie?
Die oorsprong van dié gebrek en tekort begin by ‘n sosiale orde waar die beskermheer sy kliënt versorg en die kliënt ongeag die persoon, ter wille van ‘n beloning vir sy landheer stem.
Dit begin wanneer die staat ter wille van magsbehoud vertroue tussen gemeenskappe vernietig en gemeenskappe sosiale kapitaal verruil vir eie gewin.

Leë beloftes, vals belonings en die gebrek aan sosiale kapitaal

Deur: Dr. Christo Pretorius

 

Die politieke wetenskaplike en -ekonoom, Yoshihiro F Fukuyama bespreek in sy boek, Political order and Political decline, ondermeer die effek van wat hy noem lae-vertroue stelsels soos dit in Italië en Griekeland voorkom.

Hy steun veral op die navorsing van Robert Putnam wat ‘n ontleding van die Italiaanse Noord-Suid kwessie gedoen het.

Die Noord-Suid kwessie dui op die verskil in welvaart, effektiewe regeringsinstellings en infrastruktuur tussen die Noorde en Suide van Italië.

Ten spyte van gelyke toegang tot bronne en mags-instellings is die Suide in vergelyking met die Noorde armer.

Putnam en ander navorsers kom tot die gevolgtrekking dat die Suide se disfunksionaliteit aan onder oorsake toegeskryf moet word, waaronder oorgelewerde kultuur waardes of sosiale kapitaal.

Van hierdie waardes of sosiale kapitaal is die beskermheer- kliënt verhouding.

Judith Chubb stel dit so: ‘In ruil vir toegang tot bevoordeling deur die staat en volmag op plaaslike vlak, word die meerderheid in die parlement, ongeag beleid en agenda ondersteun.

Dit herinner aan die beskermheer-kliënt verhouding wat reeds tydens die Romeinse heerskappy voorkom; ‘n verhouding tussen die maghebber en dienskneg wat op beheer, veral die beheer van bronne, gebou is.

Op die lange duur lei dit na die inrigting van die politieke speelveld aan die hand van persoonlikhede en die  belofte van beloning in plaas van ‘n ideë-raamwerk en effektiewe regering.

Alhoewel nie in alle opsigte nie, toon die ontwikkeling en gang van die politieke orde in die suide van Italië tog ooreenkomste met gebeure in Suid-Afrika.

Die uitslag van die onlangse wantroue mosie teen Mnr Jacob Zuma wys enersyds dat ten spyte van die klagtes van korrupsie en staatskaping, die ANC onverbiddelik is in hulle steun ter wille van ‘n eenheidsfront en dat mag ten alle koste behou moet word.

Wie die mag beheer, beheer die bronne en die nagenoeg 16 miljoen stemgeregtigdes wat van staatstoelaes afhanklik is.

Hierdie bronne is egter aan die kwyn;  Suid-Afrikaners is aan die verarm, werkloosheid neem toe en die middelklas sal teen die huidige tempo nie meer in staat wees om die belastinglas te dra nie.

Om die ramp te verbloem word die blaam verskuif na minderheidsgroepe. Blankes in die algemeen en Afrikaners in die besonder word as struikelblokke getipeer.

Wantroue word gesaai en vertroue tussen gemeenskappe aan flarde geruk met beskuldigings en valse beloftes.

Aan die hand van die Italiaanse Suide en wat Suid-Afrikaners tans beleef kan gevra word:

Is die oorsprong van ‘n oneffektiewe staatsbestel en die toenemende armoede nie te wyte aan  ‘n gebrekkige waarde sisteem; aan ‘n tekort aan sosiale kapitaal nie?

Die oorsprong van dié gebrek en tekort begin by ‘n sosiale orde waar die beskermheer sy kliënt versorg en die kliënt ongeag die persoon, ter wille van ‘n beloning vir sy landheer stem.

Dit begin wanneer die staat ter wille van magsbehoud vertroue tussen gemeenskappe vernietig en gemeenskappe sosiale kapitaal verruil vir eie gewin.

 

Nuuskommentaar: 16 Augustus

‘n Jurie van landsburgers vir die ANC en sy president?

Die Juriestelsel is in 1969 in Suid-Afrika afgeskaf. Die stelsel het mettertyd in onbruik geraak en was ook nie verteenwoordigend van alle rasse nie. Dit is gevolglik deur ‘n mate van vooroordeel gekenmerk en ‘n paar keer het regters hulle van ‘n jurie-uitspraak gedistansieer. In 1991 is daar met ‘n stelsel van leke-assessore in die laerhowe begin om groter gemeenskaps-betrokkenheid aan te moedig, maar of dit ‘n wesenlike bydrae tot die regstelsel gemaak is, is nog nie duidelik nie. ‘n Paar jaar gelede het hoofregter Mogoeng Mogoeng hom skerp uitgespreek teen ‘n juriestelsel in Suid-Afrika. Hy het daarop gewys dat die opvoedings- en geleerdheidsvlakke in die land hemelsbreed verskil wat dit baie moeilik sou maak om ‘n objektiewe jurie-uitspraak te kry. Daar is ook kulturele aspekte wat drasties van mekaar verskil – met ander woorde, wat vir een groep toelaatbaar is, sou vir ‘n ander groep onaanvaarbaar gewees het. Die land se hooggeregshowe gebruik dikwels twee assessore in sake van belang en in die Appèlhof en Grondwethof word sake deur verskeie regters beslis. In Amerika werk die juriestelsel goed, al ontaard dit soms in ‘n sirkus. Daar is egter verskeie appèlmoontlikhede wat sorg dat juries nie in alle gevalle die laaste woord het nie. Die VSA se Opper-Appèlhof het die hoogste gesag en die meeste sake waaroor dié regters besin, is wanneer daar ‘n sterk vermoede bestaan dat sekere wette wat tot sekere uitsprake gelei het, in stryd met die Amerikaanse grondwet is. Die VSA se regstelsel is in dié opsig gelyktydig die voog én bewaarder van burgerlike vryhede. In Suid-Afrika vervul die Grondwethof die rol van die VSA se Opper-Appèlhof,  hoewel die Appèlhof in Bloemfontein steeds die hoogste hof van appèl is. Die naam van die ANC-president en Suid-Afrikaanse staatshoof, Jacob Zuma, het al ‘n paar keer in die Grondwethof opgeduik. Hy is daaraan skuldig bevind dat hy sy ampseed oortree het deur die grondwet  te minag met die Nkandla-kwessie. Minstens drie opposisiepartye gaan binnekort in dieselfde hof aansoek doen dat hy in ‘n staat van beskuldiging geplaas word. Die president gaan egter voort asof niks in sy pad staan nie en die ANC sterk hom in sy kwaad. Geleerdes sê die ANC plaas ‘n hoë premie op lojaliteit en sal nie toelaat dat faksie-botsings die party kelder nie. Dit gaan glo nie oor Zuma nie, maar oor die ANC. Nou wonder die man op straat wie die faksievorming en al die ander probleme in die eerste plek veroorsaak het? Dalk is dit nou die aangewese tyd om weer met ‘n juriestelsel  in Suid-Afrika te begin sodat landsburgers in die breë die kans kry om ‘n hofbeslissing oor die president en sy party te maak. Sy/hulle skuldigbevinding kan gewaarborg word – en dit “bo alle redelike twyfel” soos die regskenners graag sê.

 

Nuuskommentaar: 15 Augustus

Ekstremiste in VSA se optrede moet verwerp word

Die wêreld is die afgelope naweek geskud met die geweldadige betogings en teenbetogings in Charlottesville in die VSA wat tot die dood van een betoger, twee polisielede en talle ernstige beserings aanleiding gegee het. Regses en linkses het mekaar so erg beet gekry dat ’n noodtoestand in die stad afgekondig is.

 

Charlottesville in die deelstaat Virginia, is ’n klein stad met net minder as 50 000 inwoners. Twee Amerikaanse presidente, Thomas Jefferson en James Monroe is van Charlottesville afkomstig. Jefferson het die Universiteit van Virginia in Charlottesville gestig en vandag is dié universiteit steeds ’n gerespekteerde universiteit. Charlottesville het ook verskeie ander talent opgelewer insluitende die litirêre reuse Edgar Allan Poe en William Faulkner.

 

Gedurende April vanjaar het die stadsraad van Charlottesville besluit dat die standbeeld van die bevelvoerder van die weermag van die Gekonfedereerde State van Amerika tydens die Amerikaanse Burgeroorlog, Generaal Robert E. Lee, uit ’n park in die stad verwyder moet word. Dit volg nadat talle ander stede regoor Amerika die afgelope tyd besluit het om soortgelyke standbeelde te verwyder.

 

Die vraag oor Robert E. Lee is ingewikkeld, maar hy was ’n waardige bevelvoerder vir sy tyd en het ’n ambisieuse militêre stryd teen die Yankies van die noorde van die VSA gevoer. Lee het tydens die oorlog sy swart slawe vrygestel en dit is bekend dat hy na die oorlog goeie rasseverhoudinge gehandhaaf het. Regoor veral die suide van Amerika word Lee vir sy leierskap en dapperheid en vir die vlam van vryheid wat hy en sy magte vir so lank tydens die Burgeroorlog lewendig gehou het, onthou en gerespekteer. Lee se denke oor ras sou in vandag se terme as kras rassisties beskryf kon word, maar vir sy tyd was dit grootliks normaal. Daar is sekerlik goeie argumente vir en teen die nalatenskap van Generaal Lee.

 

Dat daar in Amerika ’n wesenlike aanslag teen die Gekonfedereerde State se geskiedenis heers, is waar. Dat daar oor die algemeen onder talle blanke Amerikaners ’n gevoel van vervreemding oor die afgelope paar jaar ingetree het, is ook ’n feit. Donald Trump het sy verkiesing juis aan hierdie vervreemding te danke.

 

Talle pogings van geloofwaardige instellings wat historiese monumente beskerm is sedert April aangewend om die verwydering van die Lee-standbeelde gestop te kry. Talle hofsake daaroor moet nog voorkom. Die besluit van Neo-Nazi’s en mense met ekstremistiese en kras rassistiese slagspreuke en motiewe om die afgelope naweek op Charlottesville toe te sak om in hul eie woorde Lee se standbeeld in beskerming te neem, is ’n ramp.

 

Die uitdaging vir konserwatiewe indiidue en groepe wat die beskerming van kultuur en identiteit voorstaan, in die VSA en talle ander plekke in die wêreld, is om nie toe te laat dat ’n redelike klein geïsoleerde groep ekstremiste hul saak vernietig nie. Wat die afgelope naweek in Charlottesville gebeur het, is vernietigend vir die billike argumente van gematigde groepe wat Lee se standbeeld wil beskerm.

 

Konserwatiewes in die VSA moet juis die optrede van Neo-Nazis en Klu Klux Klan-groepe hard en duidelik verwerp. Natuurlik was die teendemonstrasies ook onaanvaarbaar, maar geen regdenkende konserwatiewe persoon kan simpatie toon vir die ekstremiste se gedrag nie.

 

Nuuskommentaar: 14 Augustus

Wes-Kaap moet raakvat oor klimaat

 

Die Wes-Kaap is erg in die knyp weens ’n derde agtereenvolgende droë winter. Politici en amptenare praat openlik oor die impak van klimaatsverandering. Die situasie is inderdaad deur studies voorsien, maar eers vanaf ongeveer 2020, terwyl die bevolking ook vinniger toegeneem het as wat verwag is.

Dit is egter nie net die stedelike gemeenskap wat geraak word nie – die landbou trek noustrop, en plek-plek staan dit op die randjie van ’n ongekende ramp. Die landbou moes nou ook al ’n hele ruk ’n groot deel van hul waterkwota aan die stedelike gebiede afstaan.

Frustrasie met die situasie bou op, enersyds omdat dit duidelik is dat baie stedelinge hulle eenvoudig nog nie aan waterbeperkings steur nie, ook omdat daar meer beplan en beloof word as wat materialiseer, en omdat inligting wat verskaf word, dikwels teenstrydig is. Pas was daar weer vloedwaarkuwings vir dele van Kaapstad, maar behalwe dat watersuiweraars volgens die burgemeester aangeskaf is, word nog bykans niks gedoen om die miljoene liter water wat van Tafelberg se fonteine en strome in die see loop, te onderskep nie. Slegs sowat twee persent word benut, onder ander vir die Kompanjiestuine, en dit dateer weens werk wat lank voor die krisisbeplanning gedoen is.

In ’n noodsituasie is dit ook nie verbasend nie dat al hoe meer mense die werklikheid in die oë staar dat Kaapstad en ander stedelike kusgebiede langs ’n onuitputlike bron, die see is. Dit word wel deeglik besef dat ontsouting ’n duur proses  is, veral in lande met hoë elektrisiteitstariewe. Maar dit bly egter ’n feit dat duur water beter is as geen water.

Beplanning word oor ’n wye front gedoen, soos eksperimentele ontsoutingsaanlegte, en as finansies dit toelaat, ’n groot ontsoutingsaanleg ter see. Opgewondenheid bly egter agterweë weens aangekondigde planne van die verlede, soos oor aquafir-water teen einde Julie, wat onaangekondig nie gerealiseer het nie. Samewerking met die privaatsektor in ’n verskeidenheid projekte word nou gesoek, maar neem weer tyd in beslag, en dis tyd wat nie bestaan nie.

Die Wes-Kaap se krisis is egter nie losstaande nie, al is dit grootliks  afsonderlike weerstelsels wat die Wes-Kaap en die res van die land beïnvloed. Die feit is egter dat wat in die Wes-Kaap aan die gebeur is, min of meer ook in die res van die land aan die posvat is. Wat die landbou betref, is dit oor baie jare getemper met verbeterde  gewasse, soos die mielies wat nou op ’n kleiner oppervlak ’n rekordoes oplewer. Meer geharde diere wat steeds goeie produksie kan lewer word ook deurlopend geteel. Maar die plant of dier wat heeltemal sonder water kan regkom, is nog nie geteel nie.

Die slegte nuus is dat 2016 die warmste jaar was sedert meting 137 jaar gelede begin het. Dit blyk uit ’n verslag van die Amerikaanse natuuragentskap. Die vorige jaar is die warmterekord  ook verbeter. Die verslag is deur 450 wetenskaplikes van 60 lande opgestel.

Die les is dat grasiejare met hoë en normale reënval nie gebruik kan word om agteroor te sit nie, maar juis gebruik moet word om vir die toekoms gereed te maak.

 

 

Nuuskommentaar: 11 Augustus

Salomo se wysheid nodig vir godsdiens in skole

Die onlangse besluit van ses openbare skole om nie teen die uitspraak oor godsdiens in skole te appelleer nie, het opnuut vrae laat ontstaan oor hoe dié praktyke in die toekoms in skole gaan uitspeel nadat talle ander skole sedertdien dreigbriewe van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie gekry het.

Die hof het vroeër beslis openbare skole kan steeds voortgaan met godsdiensbeoefening, maar dat ’n enkele geloof nie tot uitsluiting van ’n ander bevorder of beoefen mag word nie.

Intussen het Hans Pietersen, voorsitter van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie, wat die saak teen die ses skole gebring het, dit in die media duidelik gemaak dat hy sy bes gaan doen om elke skool met ’n uitsluitlik Christelike etos aan te vat.

Volgens Pietersen voer hy al ’n nege jaar lange stryd om te sorg dat skole hulself nie met een spesifieke geloof identifiseer nie.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het gesê hy is tevrede met regter Willem van der Linde se bevel, terwyl die burgerregte-organisasie AfriForum steeds van mening is dat ’n gemeenskap moet kan besluit oor die godsdienstige etos van ’n skool. Dié etos moet uitvoerbaar wees sonder om ander leerlinge uit te sluit of te benadeel.

Ingevolge die bevel maak die Grondwet voorsiening vir godsdiensbeoefening in skole, maar dat een geloof nie bo ’n ander bevorder mag word nie. Die uitgangspunt van die Grondwet en ander beleide is dat geloof op gelykwaardige basis beoefen moet word en dat bywoning vrywillig moet wees. Die klem is ook op godsdiensverdraagsaamheid en die viering van diversiteit. Die vraag is nou tot watter mate mag skole wat doen?

Fedsas meen die uitspraak het meegebring dat verskeie skole wel aanpassings aan hul beleid en praktyke sal moet maak om aan die bevel te voldoen.

Met die houding en ingesteldheid van iemand soos Pietersen, wat geen geheim daarvan maak dat hy sekere skole met valkoë dophou nie, bestaan die gevaar egter dat skole en onderwysers so uitgelewer en blootgestel kan voel, dat godsdiensbeoefening heeltemal afgewater kan word.

Dit is om die rede dat ouergemeenskappe met groter erns moet kennis neem van veranderende omstandighede wat nie noodwendig in die beste belang van hul kinders is nie. Die plek van godsdiens in die openbaar is wel met die hofuitspraak bevestig, maar die gedagte dat skole tog geteiken kan word indien die toepassing van hul godsdienspraktyke nie aan die verwagtinge van enkele individue kan voldoen nie, is ook kommerwekkend.

Godsdiens kan nie in vrees beoefen word nie. Dit kan ook nie halfhartig gedoen word nie. Daarom sal ouers wat sterk oor dié saak voel, opnuut verantwoordelikheid moet neem om godsdiensonderrig en –beoefening deel van hul kinders se opvoeding te maak. En die plek waar dit eerste moet begin, is in die ouerhuis.

Dalk het dit tyd geword om stil te word en weer oor die woorde van Joshua te besin:

“Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: óf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.

 

 

Nuuskommentaar: 10 Augustus

Trump se Rusland-beleid gekaap

’n Duidelik teësinnige President Donald Trump het verlede week wetgewing onderteken waarvolgens Amerika nuwe sanksies teen Rusland, Iran en Noord-Korea instel. Noord-Korea maak dalk sin, maar onverwagse nuwe sanksies teen Rusland en Iran in ’n tyd van reeds verswakkende verhoudinge met beide, belangrike lande, maak eenvoudig nie sin nie.

 

Trump se waarskuwing nadat hy die wetgewing onderteken het, dat die verhouding tussen Amerika en Rusland ’n gevaarlike laagtepunt bereik het, is belangrik. Dit dui daarop dat Trump die erns van die krisis verstaan. Amerikaanse politici buite die Withuis is egter sodanig verenig in hul haat vir Rusland dat ’n veto deur Trump net tot groter verdeeldheid binne sy party en tot meer bespiegelinge oor Trump se verhouding met Rusland aanleiding sou gee.

 

Verlede jaar tydens die Amerikaanse verkiesingsveldtog was Trump se boodskap duidelik. Amerika moet hom uit konflik en oorloë wat nie sy belange dien nie hou. Tweedens het hy herhaaldelik belowe dat sou hy president word sy administrasie daarop sal fokus om deur dialoog en onderhandeling die verhouding tussen Amerika en Rusland te verbeter. Tydens die Republikeinse Party se verkiesingskonvensie in Cleveland was dit duidelik dat die party se grondvlakstrukture hierdie boodskap ernstig opgeneem het. Partybeleid wat hiermee ooreenstem is aanvaar en die oorloglustige neokonserwatiewes wat in die Oekraïne teen Rusland wou gaan oorlog maak en wat nuwe konflik met Iran wou skep, het verloor. In November verlede jaar het die Amerikaanse kiesers gespreek en is Trump verkies.

 

Vandag, byna sewe maande na Trump se inhuldiging lyk dit egter asof die oorloglustiges ten spyte van die wil van die Amerikaanse kiesers daarin slaag om hul agenda weer te laat geld. Die Amerikaanse regering het onlangs besluit om ten spyte van Trump se beloftes van verlede jaar wel wapentuig en ammunisie aan die regering in Kiev te voorsien. Verlede week het adjunkpresident Mike Pence in Georgië belowe om dié land deel van NAVO te maak en daardeur Amerikaanse militêre teenwoordigheid in nog ’n land tot op die grens met Rusland te neem. Dit alles spreek van Amerikaanse aggressie teenoor Rusland.

 

Ten spyte van Trump se beloftes van dialoog met Rusland, verkies die Amerikaanse kongres om eerder die Russe met nog sanksies te verras en kwaad te maak. Nie eers die Europeërs het van die beplande sanksies geweet nie en talle Europese leiers het met ontsteltenis daarop gereageer.

 

Verlede maand is ’n standbeeld van Roland Reagan en Mikhail Gorbachev in Moskou onthul. Talle hooggeplaasde Russiese politici het die geleentheid bygewoon. Ten spyte van talle uitnodigings het Amerika besluit om niemand na die geleentheid te stuur nie. President Gorbachev se reaksie op die onthulling van die standbeeld was dat die projek nie net na die verlede kyk nie, maar ook na hoe die toekoms tussen Rusland en Amerika moet lyk: Een van reguit praat en gesonde dialoog.

 

Die teenwoordigheid van meer en meer Amerikaanse tenks in Oos-Europa, sanksies wat sonder goeie rede ingestel word en die voordurende vernedering van Rusland se mense en leiers is nie in die belang van Amerika nie. Dit lyk ongelukkig of Trump se beleid jeens Rusland toenemend deur die neokonserwatiewe oorlogslustiges gekaap is. Dit kan net tot meer konflik en lewensverlies aanleiding gee.

 

Nuuskommentaar – 9 Augustus

Vrouedag uit ‘n ander perspektief

Nasionale Vrouedag word vandag gevier en herdenk die protesoptog van 20-duisend vroue na die Uniegebou in 1956 om beswaar te maak teen pasboeke en die Groepsgebiedewet. Maar lank voor dit – in 1914 – het ‘n beweging tot stand gekom in ‘n poging om die rebelle-gevangenes in die tronk te bevry.  Die Klementie-beweging het hom vir die begenadiging van hulle geliefde generaal Christian de Wet en nagenoeg 120 ander rebelle beywer. Vanoor die land het sowat vier-duisend vroue by die Pretoria-stasie bymekaar gekom en in hulle beste Nagmaal-drag na die Uniegebou gestap om ‘n petisie met duisende handtekeninge aan die goewerneur-generaal  te oorhandig. Die optog was gekenmerk deur ‘n gewyde stilte, kalmte en waardigheid. Ná die oorhandiging is ‘n gebed gedoen en Psalm 146 vers 5 is gesing. Die Klementie-beweging het onder leiding van mevrou Hendrina Joubert, die bejaarde weduwee van generaal Piet Joubert, en ‘n dogter van president Paul Kruger tot stand gekom. Mevrou Joubert het later erken dat haar inspirasie die verhaal van Ester in die Ou Testament was.  Die afvaardiging moes egter hoor dat die Goewerneur-generaal nie by magte is om die versoekskrif te hanteer nie, maar dat hy dit na sy ministers sal verwys. Die vroue moes onverrigter sake omdraai en het tot op Kerkplein gestap waar hulle weer die innerlike mens versterk het met lofsang en gebed. Die volgende dag het hulle by die dieretuin vergader om op die ministers se antwoord te wag. Daar is die eggenotes van onder meer generaals De Wet, De la Rey, Kemp, Muller en Pienaar, en die moeder en weduwee van Jopie Fourie na die verhoog geroep om medelye met hulle te betoon.  Fourie was toe reeds terreggestel. Toesprake is gehou, en daar is weer gebid en gesing. Die vroue moes nog vier dae wag voordat die ministers geantwoord het dat hulle geen aanbevelings kon maak totdat al die hoogverraadsake afgehandel is nie. Daarna sal elke geval op eie meriete beoordeel word.  Dit het Die Burger genoop om vyf dae later in sy redaksionele kommentaar te sê dat die regering met dié optrede weer eens bewys het dat hulle nie met die volksgevoel rekening hou nie. Die Klementie-beweging en ander getroue volksgenote het daarna geld ingesamel om De Wet en van die ander rebelle se boetes te betaal. Die Bittereinder-generaal se lot het ook in die buiteland opgeklink en ‘n komitee van Nederlandse en Vlaamse vroue het op hulle eie handtekeninge ingesamel vir ‘n versoekskrif aan die Suid Afrikaanse regering.  In Desember 1915 het die Volksraad ‘n voorstel vir die mans se begenadiging verwerp, maar hulle is nietemin vyf dae later onder streng voorwaardes vrygelaat. Dié sonderlinge Vroueoptog word nie amptelik herdenk nie, maar die trots en waardering wat dit gebring het, staan na al die jare steeds bankvas.

 

Nuuskommentaar: 8 Augustus

Die stryd om dagga

 

Op die oomblik woed daar ’n hofstryd in die Noord-Gautengse Hooggeregshof, onder meer om die gebruik van dagga vir medisinale doeleindes te wettig. Vroeër het die Wes-Kaapse Hooggeregshof beslis dat mense dagga in die privaatheid van hul huise mag gebruik.

Die aansoek van ’n paartjie vir die wettiging, kry sowel sterk ondersteuning as teenkanting.

In ’n land waar dwelmmiddels ’n groot rol in bendebedrywighede speel, en dagga as ’n toetreedwelm beskou word, is dit verstaanbaar ’n sensitiewe kwessie, en al vir baie jare. So lees ons in die werke van Herman Charles Bosman van hoe die lede van ’n stam snags vreeslik kan lawaai en baklei, omdat hulle hul eers dronk gedrink het, en toe nog dagga gerook het wat hulle toe erg geklap het.

Dagga kom oorspronklik uit die ooste, en dit is onseker hoe dit Suid-Afrika bereik het. Met die blanke se eerste kontak met swart mense, het die swart mense reeds dagga gebruik. Tog was die gebruik beperk, en het eers behoorlik ’n probleem geword toe van die mynbase vroeg in die vorige eeu, mynwerkers van dagga voorsien het. Die voordeel was dat hulle baie harder gewerk het, maar die nadeel was ’n rits asosiale klagtes soos bakleilustigheid, stompsinnigheid en onredelikheid.

Selfs vandag nog moedig kontrakteurs in die geheim sommige van hul werkers aan om dagga te gebruik, veral diegene wat in die warm son slote moet graaf. Hulle word eenvoudig nie moeg nie.

Dagga vir medisinale gebruik het die eerste keer behoorlik die openbare aandag in Suid-Afrika getrek, toe die bekende IVP-LP, dr. Mario Ambrosini, ’n vurige pleidooi daarvoor in die parlement gelewer het, en selfs konsepwetgewing ingedien het. Hy het erken hyself rook dagga om die ontsettende pyn van die terminale kanker waaraan hy gely het, te verdoof.

Bitter baie aansprake word egter gemaak oor die medisinale voordele van dagga, anders as bloot vir pynverligting. Dr. Donald Abrams van die VSA wat as getuie vir die verhoor in Pretoria beskikbaar was, maar klaarblyklik nie gaan getuig nie, maak daarop aanspraak dat hy bewyse het dat dagga talle siektetoestande kan genees of verlig. Hy het 183 artikels wat aan portuuroorsig onderwerp is agter die blad.

Die gebruik wissel deur dagga gewoonweg te rook, tee van die blare te trek, of peperduur druppeltjies dagga-olie te drink of aan te smeer.

Buite die hof getuig talle mense en organisasies teen die moontlike wettiging. Onder hulle tel verskeie gerehabiliteerde dwelmslawe, wat vertel hulle het via dagga aan ander dwelms blootstelling gekry, en so die spoor heeltemal byster geraak.

In die VSA het Kalifornië in 1996 die eerste deelstaat geword wat dagga gewettig het. Nou is daar 26 state plus die Distrik Colombia waar dit in die een of ander vorm gewettig is. Dit vind, ironies, plaas teen die agtergrond dat die VSA wetgewing oor die gebruik van tabakrook so streng gemaak het, dat daar al ’n beduidende afname in die aantal kankergevalle is.

Onkoloë dui oor die algemeen aan dat daar nog nie genoeg kliniese getuienis is dat dagga vir kankerbehandeling doeltreffend is nie. Sommiges staan egter nie in hul pasiënte se pad nie omdat dit wat die pasiënt glo, sterk sielkundig op die hantering van sy kanker inwerk.

 

 

Nuuskommentaar: 7 Augustus

Die Stockdale-paradoks en Afrikaners

 

Om in geloof te glo dat ‘n mens ‘n uitdaging uiteindelik te bowe sal kom ongeag wat gebeur, maar steeds ook die moed aan die dag te lê om die harde feite in die gesig te staar, is ’n rare verskynsel, veral  wil dit voorkom onder sekere Afrikaners en Afrikanerorganisasies.

Admiraal James Stockdale was ‘n offisier in die Amerikaanse weermag wat tydens die Vietnamoorlog gevange geneem is en vir byna agt jaar lank aangehou is. Stockdale wat tydens sy gevangenskap meer as 20 keer gemartel is skryf in sy boek oor hierdie ervaring dat hy nooit getwyfel het dat hy sal vrykom nie, maar ook dat hy geweet het dat dié ervaring hom sou verryk vir die res van sy lewe.

Die bekende Amerikaanse besigheidskonsultant, Jim Collins het tydens sy navorsing vir sy boek, Good to Great, met Stockdale ‘n onderhoud gevoer en na aanleiding hiervan die sogenaamde Stockdale-paradoks neergepen. Collins het tydens sy onderhoud vir Stockdale gevra wie van sy mede-gevangenes nie oorleef het en sy antwoord was eenvoudig: die optimiste. Stockdale verduidelik dat die optimiste aanhou glo het dat hul vrygelaat sou word teen ‘n sekere tyd, en wanneer dit nie gebeur nie, hulle teleurgesteld was. In sy eie woorde: “And they died of a broken heart”. Hulle geloof was daar, maar nie hulle vermoë om die harde feite van hul situasie in die gesig te staar nie.

Wat kan ons as Afrikaners hieruit leer?

Eerstens, dat geloof die kern moet vorm van ons plan om in Suid-Afrika te oorleef. In dié verband is Afrikaners bevoorreg omdat ons ‘n ryk Christelike tradisie het waarop ons kan voortbou en nie nodig het om geloofspronge in die onbekende in te maak nie. Ons kan nooit hierdie geloof verloor nie, want dit sal die einde van Afrikaners beteken.

Tweedens, sal Afrikaners die vermoë moet aanleer om die harde feite in die gesig te staar en dan ten spyte daarvan ‘n vaste geloof te hê in ‘n positiewe uitkoms, al is die spesifieke tyd wanneer dit gaan gebeur nie seker nie.

Dit blyk toenemend moeilik te wees. Ons sus gedurig onsself deur ons hoop te plaas op verkiesings of hofsake of selfs politieke leiers en hul partye. Dié verskynsels kom en gaan, maar dit is die mense wat hul hoop hierop plaas wat uiteindelik moed verloor en as’t ware doodgaan van ‘n gebroke hart.

Ons sit tans in die gevangenekamp met geen vooruitsig oor wanneer ons hier gaan uitkom nie. Ons het politieke mag verloor. Ons is besig om teen ‘n geweldige tempo ekonomiese mag te verloor. Ons is ook besig om ons mense te verloor deur immigrasie, lae aanwas en ook as gevolg van assimilasie veral onder die jeug.

Stockdale en sy medegevangenes het egter nie ledig rondgesit tydens hul gevangenskap nie. Hulle het onder meer hul eie morsekode ontwikkel om ongemerk te kommunikeer en mekaar moed in te praat, maar ook ‘n gedragskode ontwikkel wat toegepas is wanneer hulle gemartel is om sodoende die marteling so goed as moontlik te deurstaan. Hierdie en vele ander klein handelinge tesame met hul geloof het uiteindelik die momentum verskaf wat nodig was vir hierdie mans om aan te hou en uit te hou.

Uiteindelik is daar twee goed wat ons voor oë moet hou:

  1. ‘n Vaste geloof in die drie-enige God en dat dit sy wil is vir Afrikaners om in Suid-Afrika te oorleef; en
  2. Dat ons nie ledig kan rondsit nie, maar betrokke moet wees by aktiwiteite en organisasies soos die Solidariteit Beweging om sodoende elke dag positief by te dra tot ons einddoelwit.

 

Nuuskommentaar: 4 Augustus

Herbou die staatsmasjien

 

Die ondersoeke na korrupsie en staatskaping het nog weinig resultate opgelewer. Wetstoepassings-agentskappe wag op mekaar om die leiding te neem en die regering self is nog besig om raamwerke op te stel. Berigte van staatskaping en korrupsie in die regering het nog nooit tevore so duidelik openbaar dat die Staat se masjinerie eenvoudig net te lomp is om te hanteer.

Daar is ook ‘n gebrek aan bekwame toesighouers en kundiges in die onderskeie departemente en die semi-staatsinstellings soos Eskom, Transnet en die SAL. Die staatsmaatskappye word beheer deur die Departement van Openbare Ondernemings wat in 1994 as die Kantoor van Openbare Ondernemings tot stand gekom het.  Sy opdrag was om die herstrukturering van die staatmaatskappye te lei sodat dié entiteite hulle volle ekonomiese en ontwikkelings-potensiaal sou bereik. Vyf jaar later het Minister Jeff Radebe voorgestel dat die Kantoor in ‘n volwaardige staatsdepartement omskep word wat ‘n sleutelrol in ekonomiese vooruitgang sou speel. Oud-minister Barbara Hogan wou in een stadium onderpresterende staatsmaatskappye verkoop, maar het erg deurgeloop onder die ANC en die SAKP. Dit was egter nie teen ANC-beleid nie en daar is gewonder of dit deel was van die voortgesette stryd om die hegemonie in die bewiste areas van ekonomiese beleid en bestuur te behou.  Die ANC was nog altyd ten gunste van die verkoop van staatsbates en deelname deur die privaatsektor en selfs ‘n gemengde ekonomie wat albei sektore bevoordeel. Algaande het minister Hogan se kritici besef dat staatsentiteite nie voldoen aan die doelwitte van werkskepping en die instandhouding daarvan nie.  Eskom het in 1985 byna 70-duisend werknemers gehad. Vandag is daar skaars 30-duisend. Armoede is toe nie verlig nie, maar vererger. Die kragvoorsiener se elektrisiteits-aanlegprogram het fluks begin, maar toe afgeneem en talle landsburgers het steeds nie toegang tot elektrisiteit nie. Telkom het ook nie die landelike en armer gemeenskappe bereik nie ondanks sy toegewysde Algemene Diensfonds. Privaat-selfoonmaatskappye het ook die mark oorgeneem. So het elke staatsmaatskappy sy eie treurmare. Infrastruktuurontwikkeling wat beskou is as die beste manier om werk te skep, het agterweë gebly en het volgens ‘n oorsese hersieningspaneel ook nie die topstandaard bereik nie.  Telkom vergelyk nie goed met die telekommunikasie van ontwikkelde lande nie en Eskom se beurtkrag is nog vars in die geheue. Staatsmaatskappye se monopolistiese aard is ook nie bevorderlik vir ekonomiese opbloei nie. Hulle verkoop of verhuur ten duurste ‘n deeltjie van hulle monopolie aan privaat-instansies en dit is uiteindelik die publiek wat moet opdok. ‘n Ander staatsmasjien word dringend benodig.

 

 

Nuuskommentaar: 3 Augustus

Inheemse tale kwyn

Die onverkwiklike debat oor die ATKV en Afrikaans het nou weer ʼn klomp mense se nekhare laat rys. Baie is alweer geskryf en gesê maar dit word duidelik in die debat dat daar groter duidelik moet wees oor die terme wat gebruik word. Taal, kultuur, Afrikaans en Afrikanerskap word vermeng en word ʼn debat wat verantwoordelik gevoer behoort te word, verskraal tot beskuldigings, etikettering  en wilde aantygings. Dit strek niemand tot eer nie.

 

Afrikaans is nie ʼn kultuurtuiste nie, maar ʼn gedeelde taal. Daarom het niemand eiendomsreg nie, maar gedeelde belange En verantwoordelikheid om die taal te bevorder. Afrikaans behoort heeltemal uit die loopgrawe gehaal word. Afrikaans gaan net nog verder seerkry. Engels is die oorlogstaal, Afrikaans is die omgangstaal.

 

Niemand kan Afrikaans opeis as kultuurbate of kultuurerfenis nie. Afrikaans is slegs die medium of instrument waardeur ek my kultuur mag kan uitleef. Ons is deel van ʼn groter Afrikaanse gemeenskap. Die 2011-sensus beraam dat ongeveer 6,8 miljoen mense Afrikaans praat. Hierdie Afrikaanssprekendes vorm dus 13,5% van die bevolking.

 

Net so moet duidelikheid kom oor kultuurtuiste. My Afrikanerskap is my kultuurtuiste maar ek kan ook nie eksklusief daarmee omgaan of dit eng definieër nie. Dit is ook nie vir my om dit te gebruik om mense uit te sluit of vir my om te bepaal wie ek wil insluit nie.

 

Maar wie is dan die Afrikaner? Dr Danie Langner , Hoofleier van die Voortrekkers skryf onlangs in #VoortrekkersKAN “Die oorgrote meerderheid middelgrondsoekende Afrikanerorganisasies definieer vandag Afrikanerskap as ruimteskeppend (nie voorskriftelik) op die beginsel van vryheid van assosiasie. Afrikanerskap is ‘n hartsaak. Die beste definisie vir selferkende Afrikanerskap is om te sê: Ek weet in my hart ek is ‘n Afrikaner en ek is trots daarop.”

.

In die wilde geskreeu tussen kommentators, redakteurs en joernaliste en ook in oor-en-weer beskuldigings staan een ding duidelik. Ons ontbreek balans in die gesprek. Die gesprek behoort te gaan oor die aanvaarding van mekaar. Maar meer as dit. Begrip en respek. Tussen Afrikaners, tussen Afrikaanssprekendes en tussen Suid-Afrikaners. Dit het egter alles verlore geraak in die gejaag na nasiebou en die prysgawe van identiteit. Dit het half makliker geword om eerder gevegte met mekaar as saam met mekaar te voer, deur selfsugtig om te gaan met ons denke en uitsprake. Terwyl die onderlinge gevegte gevoer word is daar aan die ander kant nog steeds diegene wat oordrewe  transformeer en met politieke korrektheid gevestigde ruimtes prysgee.

 

As ons na alles kyk is daar vandag ʼn stryd om oorlewing, polities en ekonomies en veral ook rondom taal en kultuur. Nou is daar selfs ook sprake van gebaretaal as amptelike 12e taal. Ons kan nie eers behoorlik die ander inheemse tale, waaronder Afrikaans beskerm teen die verdringing van Engels nie. Dalk is ons soms te vinnig om honderde woorde te proeflees vir spel en grammatika foute sodat dit vinnig gepubliseer kan word maar ons kontroleer nie die inhoud van woorde en die teks aan integriteit, verantwoordelikheid en regverdigheid nie. Die nuanses van die uitlewing van taal en kultuur word egter baie vinnig afgemaak as rassisme, teen-transformatief en soms ook onchristelik. Dit doen niemand eer aan nie. Hiermee wens ons die veldslag, maar nie die oorlog nie.

 

Ons moet mekaar se goeie trou rondom Afrikaans aanvaar. Elkeen van ons wil Afrikaans op ʼn manier bevorder. Daardie verantwoordelikheid het ons lankal aanvaar. Daar is ruimte vir ons elkeen want nie een het eienaarskap van die taal nie.

 

 

Nuuskommentaar: 2 Augustus

Kan die mensdom by omgewingsveranderinge aanpas?

 

Die Wes-Kaap beleef sy derde agtereenvolgede lae reënvaljaar, en plek-plek lyk dit regtig nie goed nie. Kaapstad moes baie streng waterbeperkings instel, maar tot dusver sukkel die stad om die inwoners by die daaglikse maksimum te hou.

Verskeie Wes-Kaapse politici, insluitend die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, dui aan dat Kaapstad nou in die greep van klimaatsverandering verkeer, en ook dat Kaapstad se bevolking te vinnig toegeneem het sodat die stad sy beplanning drasties moes aanpas.

Heelwat van Kaapstad se waterbronne, soos die Bergrivierdam wat met tonnels met die Theewaterkloofdam  verbind is, word met die landbou gedeel. Grootskaalse werksverliese staar die provinsie in die gesig as die stad, al is dit afgeskaal, aanhou water gebruik, maar die sluise word op die landbou toegetrek. Die landbou in die Wes-Kaap is ook ’n belangrike verdiener van buitelandse valuta, en as boorde nou hervestig moet word, gaan dit selfs met goeie neerslag, ’n paar jaar neem om weer in volle produksie te kom.

Volgens vroeëre berigte sou Kaapstad teen die einde van Julie water uit reuse ondergrondse waterdraende sandsteenruimtes begin onttrek. Voorts het De Lille aangedui dat daar reeds suiweraars aangeskaf is om die aansienlike hoeveelheid water uit 35 fonteine op Tafelberg drinkbaar te kry. Twee mobiele ontsoutingstoestelle sal volgens beplanning in Desember begin drinkwater lewer, terwyl Eskom ook so ’n aanleg by Koeberg beplan. Die skeiding van grys water vir sommige doeleindes word ook beplan.

Die Wes-Kaap is egter nie al gebied in die land wat deur geprojekteerde klimaatsveranderings geraak word, of nog geraak kan word nie.

Maar die mens sit ook nie stil nie. Danksy geneties gemodifiseerde mielies het die land vanjaar ’n rekordoes, al is die oppervlak wat beplant is kleiner as met die vorige rekord. Geharder veestapels word ook geteel.

Argeologiese opgrawings toon egter ook dat die mens, of dan sommige gemeenskappe, by klimaatsveranderings kon aanpas. ’n Internasionale studie het byvoorbeeld pas bevind dat die Middelsteentydperk mense van Howiesonspoort in vandag se Oos-Kaap, tydens ’n droë tydperk onder meer die pyl en boog ontwerp het. Die Vikings van Groenland en Amerika, of Vinland soos hulle dit genoem het, het nie aangepas toe ’n klein ystydperk aangebreek het nie, en die oorlewendes moes uiteindelik hul nedersettings ’n duisend jaar gelede ontruim. Net hier en daar is nog spore van hierdie vroeë kolonisasie van die nuwe wêreld. Hul volksgenote in Ysland het egter gediversifiseer en aangepas, en het as gemeenskap bly voortbestaan. Talle ander voorbeelde kan verskaf word oor hoe aangepas is, of ondergegaan is waar nie aangepas is nie.

Terwyl die Wes-Kaapse regering skynbaar vas oortuig is klimaatsverandering het reeds ingetree, wys die kosmo-klimatoloog Kobus Olckers daarop dat die son nou ’n son-minimum ingaan. Dit veroorsaak weer die soort kouer tydperke soos wat die Vikings uit Amerika en Groenland gedryf het.

Ongelooflik baie aspekte moet dus in gedagte gehou word wanneer vir die toekoms beplan word, en dit is nie altyd moontlik nie.

Maar dit is beter om soos die tien wyse maagde voorbereid te wees.

 

Nuuskommentaar: 1 Augustus

Trump-regering verval toenemend in chaos

Die Trump-regering verkeer toenemend in chaos. Duisende poste in die administrasie is steeds nie gevul nie en twee van sy belangrikste raadgewers het die afgelope tyd bedank. Verlede week was sekerlik een van die slegste weke tot nog toe vir Donald Trump met sy nuwe kommunikasiehoof, Anthony Scaramucci, wat al vloekende ander senior kollegas in die Withuis met ’n joernalis bespreek het. Kort na hierdie onsmaaklike voorval het Trump sy baie bekwame stafhoof, Reince Priebus, afgedank. Dit alles nadat Trump se woordvoerder, Sean Spicer, ook onlangs skielik bedank het.

 

Intussen het Trump en die Republikeinse Party se pogings om President Barack Obama se mediese hervorming, die Obamacare-wetgewing, te laat herroep en vervang, ook verlede week finaal misluk. Dit het tot ’n bitter woordewisseling gelei waarin Trump sy party se leierskap deeglik sleggesê het. Trump se binnelandse agenda begin al hoe meer skipbreuk ly weens die onvermoë van die Republikeine om wetgewing deur te voer. Daar is tans soveel binnegevegte in die Republikeinse Party dat daar twyfel bestaan of belastinghervorming, Trump se volgende belangrike doelwit, enige kans op sukses het.

 

Trump het ook meer en meer kopsere op die internasionale front. Amerika se verhouding met Rusland het verlede week nog ’n verdere duik gevat nadat die Amerikaanse kongres nuwe sanksies teen Rusland ingestel het en Rusland in antwoord daarop opdrag gegee het dat meer as 700 Amerikaanse diplomate Rusland moet verlaat. Intussen word Rusland se verhouding met lande soos China en Iran net sterker. Die spanning met Noord-Korea vererger. Daar bestaan tans geen duidelike plan hoe om die krisis te hanteer nie en die geweld en politieke onrus in Venezuela kan vir Amerika heelwat uitdagings skep.

 

Die ondersoek na Russiese inmenging in die Amerikaanse verkiesing verlede jaar tel ook stoom op en talle persone naby aan Trump word toenemend hierby geïmpliseer. Robert Mueller, wat aangestel is om die ondersoek te lei, beplan duidelik om diep te krap en terwyl sy ondersoek besig is, plaas dit ’’n demper op die Trump-administrasie se werk.

 

Na ses maande as president is Donald Trump die ongewildste president sedert peilingsagentskappe met gereelde gewildheidspeilings begin het. Minder as 40% van Amerikaners is nog tevrede met sy werk as president. Trump geniet egter steeds sterk steun onder dié mense wat verlede jaar vir hom gestem het en die vraag bestaan of al die probleme in die Trump Withuis een of ander tyd ook die goeie getroue Trump-ondersteuners kan begin vervreem.

 

Daar bestaan geen twyfel dat die Trump-administrasie onder druk verkeer nie. Tog het Trump talle bekwame mense in sy span en het die Republikeinse Party ’n meerderheid in die Senaat en Huis van Verteenwoordigers. In elke krisis behoort daar ook ’n geleentheid te wees en indien Trump daarin kan slaag om sinvolle hervormings deur die Kongres te laat goedkeur en om byvoorbeeld met die hulp van China die geskil met Noord-Korea by te lê, kan dinge nog omgekeer word. Trump se herverkiesingsveldtog is eers oor meer as drie jaar van nou af, maar die tendens van binnegevegte, onprofessionele gedrag, onkonsekwente optrede en verdagmakery sal dan baie vinnig aan ’n einde moet kom.

 

Nuuskommentaar: 31 Julie

Selfgawe en gemeenskapsbetrokkenheid

 

Gemeenskapsbetrokkenheid is iets wat veral die laaste paar jaar weer baie prominent in die media is. Daar is voorbeelde van suksesvolle misdaadbestryding deur GPF’s en AfriForum se buurtwagte asook die wyse waarop water voorsien word waar tekorte voorkom. Vir baie lank was dit nie moeilik om die indruk te kry dat gemeenskapsbetrokkenheid moes plek maak vir individualisme nie.

Die verkiesing van 1994 en die nuwe politieke bedeling wat gevolg het, het die meeste Afrikaners ontnugter gelaat. Die verwagtinge wat geskep is moes baie vinnig plek maak vir harde realiteite. Veral ouer Suid-Afrikaners was gewoond aan `n regering wat hulle belange sou beskerm en vooropstel terwyl die koms van die nuwe regering hulle in `n posisie geplaas het waar dit wat vir hulle belangrik is bedreig word. `n Versoek om betrokkenheid is dikwels begroet met die kreet: “Wat help dit tog?” Veral Afrikaners het onttrek uit die gemeenskap en die eie ek het swaarder begin weeg as die belange van die breër gemeenskap.

Reeds op skool het die meeste van ons met Maslow se hierargie van behoeftes kennis gemaak. Die boonste deel van die piramide verwys na die behoefte aan selfverwesenliking. Natuurlik is dit nodig om tot die beste van jou vermoë te presteer en natuurlik is dit wonderlik om erkenning vir jou prestasies te kry. Dit bly egter belangrik om nie jou eie prestasie belangriker te ag as die welstand jou gemeenskap nie. `n Verdere vraag kan wees watter waarde daarin lê om na die beste van jou vermoëns te presteer terwyl jou prestasies min of geen waarde vir jou breër gemeenskap inhou nie. Die huidige speaker in die Amerikaanse huis van verteenwoordigers, die Republikein Paul Ryan, het by geleentheid gesê dat elke suksesvolle individu weet dat sy of haar prestasies afhanklik is van `n gemeenskap waar mense saamwerk. Ryan wys daarop dat die sukses wat die individu bereik toegeskryf kan word aan die gemeenskap waaruit hy kom. Daar berus dus `n verantwoordelikheid op die individu om weer in daardie gemeenskap terug te ploeg en by te dra tot `n volgende se sukses.

Indien `n persoon gevra word waarom hulle in hulle gemeenskappe betrokke raak sal verskillende redes aangevoer word. Een sal sê dat hulle nie `n blinde oog kan gooi terwyl `n ander in nood is nie terwyl `n ander sal sê dat hulle nie losgemaak kan word van die gemeenskap nie en dat die welvaart van die gemeenskap `n direkte invloed op hulle eie welstand het. Beide antwoorde is reg. `n Derde antwoord wat nie uit die oog verloor moet word nie hou verband met persoonlike verryking waar jou eie prestasies nie losgemaak kan word van die welstand van die gemeenskap nie.

Met al jou weelde, toegesluit in `n sekuriteitskompleks, afgesonder van jou gemeenskap waar jy geen bydrae lewer nie word jy allermins verryk. Jy verarm. Ons oorleef, soos Winston Churchill gesê het, met wat ons kry maar ons maak `n lewe met wat ons gee. Gemeenskapsbetrokkenheid, in watter vorm ookal, dra by tot die gehalte van ons bestaan terwyl `n selfgesentreerde individualistiese benadering ons verarm.  Die bekende maatskaplike werk en die eerste vrou wat die nobelprys vir vrede ontvang het, Jane Addams, het by geleentheid gesê dat die goeie dinge wat ons vir onsself verseker is van veel meer waarde wanneer dit met ons algemene bestaan verweef word.

 

Nuuskommentaar: 28 Julie

Media

Koerantopskrifte en die voorblaaie van sogenaamde gesinstydskrifte basuin dit uit. Plakkate teen lamppale vuur dit aan. Die tent is opgeslaan en die springmielies in hand.

Die sirkus kan maar begin.

Opspraakwekkende onthullings oor bekendes en beroemdes is skynbaar die lewensbloed van veral Afrikaanse mediaverbruikers.

Die bloedlus word verder aangevuur deur sosiale media waar elke Jan Rap en sy maat ʼn kenner is en ʼn opinie het. Met vlytige vingertjies en oordrewe verontwaardiging word daar sommer met modderstewels in mense se private lewens en karakters rondgewals.

Die persoonlike lewens van dié mense word betas, bevoel en besit. Dit is paparazzi-pers op sy beste.

Op Rapport se voorblad – nogal bokant die mashoof – staan: “Skok oor hoe Amor met siek Joost praat.” Die Huisgenoot publiseer weer op sý voorblad, bo-oor ʼn reusefoto van Amor: “Iemand wil my slaan waar dit seermaak… Sangeres pak uit oor Joost se platsak boedel.”

Die ander dagblaaie en tydskrifte blaf soos brakkies wat ʼn bus jaag agterna en elkeen probeer ʼn groter lawaai maak.

Die deurwinterde joernalis en skrywer, Dana Botha, vra vandeesweek op Facebook met reg die vraag: “Het ons nie almal vir Joost mishandel nie?” Botha is bekend daarvoor dat hy sy vinger in baie opsigte op die Afrikaner-pols het.

Hy skryf oor ʼn geleentheid waar ʼn opmerklike lewensmoeë Joost die sóveelste fondsinsameling bygewoon het en gebukkend in sy rolstoel geparadeer is vir ek-kiekies

Die meeste mense sal met verontwaardiging ontken dat hulle enigsins deel aan die sirkus het. Feit is hulle sal egter ook vinnig hulle mening oor die Joost en Amor-parodie byvoeg.

Die heksejag eindig nie by die Van der Westhuizens nie.

Vir weke word ons nou reeds tot in die fynste besonderhede toegelig oor die lewens van Sunita en Jacques van Dyk van Wellington wat op 10 Mei in hul huis doodgebrand het.

Eers is daar berig oor ʼn beweerde verhouding tussen Sunita en haar vriendin, Eloise le Roux. Daarna was dit die beurt van Eloise se eggenoot, die hoof van die Laerskool Paarl Gimnasium, Danie. En die stroop het behoorlik begin drup nadat daar beweer is dat Sunita en Danie selfs in die vroeë oggendure tydens ʼn sporttoer saam verdwyn het.

Die vraag wat dit laat is, hoekom is dit nodig om dié vuil wasgoed te was? Waarom moet ons dit weet?

Daar is talle ander voorbeelde: Oscar Pistorius, Don Steenkamp, en Henri van Breda en hulle gesinne.

Daar is ʼn baie dun skeidslyn tussen beriggewing oor die nuus van die dag en die uitmekaartrek van mense se persoonlike lewens. Die verslag oor vordering met ʼn polisieondersoek en die verrigtinge in ʼn hofsaak is in openbare belang, maar wanneer die swaard magtiger word as die pen, moet koerant- of tydskrifredakteurs goeie oordeel aan die dag lê en vra wat is die werklike doel met die storie?

Ons weet die koerant- en tydskrifbedryf is onder druk en is dít dalk nie net ʼn poging om meer eksemplare te verkoop nie?

Regverdiging wat aangevoer word dat hierdie mense openbare figure is en daarom openbare besit is, kan in geen beskaafde samelewing geld nie.

 

 

Nuuskommentaar: 27 Julie

Max du Preez het besluit om by die ATKV aan te sluit.

Dit is opsigself goeie nuus vir ‘n taal- en kultuurgemeenskap as enigiemand hom voeg by die geledere van een van sy kultuurorganisasies.

Die motivering vir Max se besluit in sy rubriek het my egter laat kopkrap. Dit lyk of Max by die ATKV aansluit omdat hy kwaad is vir AfriForum en Solidariteit. Dis ‘n vreemde beweegrede.

Hy meen AfriForum en Solidariteit bou mure terwyl die ATKV brûe bou.

Mens se woede vir een persoon kan tog nooit die beweegrede vir jou liefde vir ‘n ander raak nie. Iewers gaan jy tog vir die nuwe liefde ook kwaad raak.

Die ATKV is 87 jaar oud. Die organisasie is destyds gestig om as kultuurtuiste vir verarmde Afrikaners wat vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë gaan werk het, te dien. In dieselfde tyd is ‘n soortgelyke kultuurtuiste, die ATKB, vir poskantoorwerkers opgerig.

Die ATKV en ATKB het later jare saamgesmelt onder die vaandel van die ATKV. Lidmaatskap is oopgestel vir almal wat graag betrokke wil wees en die ATKV het van krag tot krag gegaan. Die kultuurtuiste het inderdaad ‘n groot huis, met sterk mure, ‘n stewige dak en ‘n kaggelvuur met lieflike koormusiek, Afrikaanse musiek of poësie wat in die agtergrond speel.

Solidariteit het ontstaan uit die Mynwerkersunie wat meer as 100 jaar gelede, eweneens ‘n arbeidstuiste moes bied vir hoofsaaklik arm Afrikaners wat hulle plase moes verlaat en op die myne in die stede ‘n nuwe lewe moes vind. Net soos die ATKV, het die vakbond homself omvorm tot ‘n lewenskragtige arbeidsbeweging met lidmaatskap wat vandag vanoor die hele beroepspektrum strek en selfs uitreik tot professies deur middel van beroepsgildes wat oral tot stand gebring word.

Solidariteit se lede, almal werkende mense, word egter gekonfronteer met die ongenaakbare kant van transformasie en regstellende aksie. In werksplekke word afleggings dikwels gebruik om van wit gesigte ontslae te raak. Dissiplinêre optredes word dikwels selektief toegepas en die optrede van verskillende werkers word dikwels nie met dieselfde maat gemeet nie. Terwyl korrupsie op die hoogste vlak geduld en selfs beloon word by maghebbers, mag ander nie ‘n halwe voet verkeerd sit nie of hulle word summier afgedank. Solidariteit en sy lede word daagliks met hierdie realiteit gekonfronteer. Daarom bou Solidariteit steeds aan ‘n arbeidstuiste en ander instellings. Die mure van daardie instellings moet inderdaad sterk wees, want die aanslag is hewig.

AfriForum is net meer as ‘n dekade oud. Sy lede ondersteun hom omdat hy opstaan teen die misbruik van staatsgesag. Waar minderhede se stem stil gemaak is en burgerregte bedreig word, probeer AfriForum daardie stem weer laat hoor. Toe universiteite verlede jaar doodluiters Afrikaans as akademiese taal tot niet gemaak het, het AfriForum teen groot koste met regsaksie probeer herstel wat universiteitsbesture verwoes het. AfriForum se takke van oor die hele land word daagliks gekonfronteer met diensleweringsmislukkings, misdaad en korrupsie op plaaslike vlak. Dit is die realiteit. Daarom bou AfriForum strukture. Die mure van daardie strukture moet eweneens sterk wees want dit is wat die ongenaakbare realiteit vereis.

Die vraag is dan of ‘n organisasie hom moet besig hou met die bou van mure of die bou van brûe.

Die antwoord is eintlik eenvoudig: albei is noodsaaklik. Die ATKV moet dus brûe bou maar nie die mure van sy huis in die proses afbreek nie, terwyl Solidariteit en AfriForum die mure van sy strukture sterker maak maar voortgaan om uit te reik.  So nie, het ons in die toekoms slegs bouvalle en brûe.

 

Nuuskommentaar: 26 Julie

Strukturele hervorming begin by die toplaag

 

Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling het aanbeveel dat Suid-Afrika dringend strukturele hervormings moet aanbring om die ekonomie te stimuleer. Volgens die organisasie is daar min ruimte vir monetêre en fiskale stimulasie aangesien die land tegnies in ‘n resessie inbeweeg het en deur twee van die wêreld se drie bekendste graderingsagentskappe afwaarts gegradeer is. Die OECD betreur ook die land se hoë werkloosheidskoers, die gebrek aan verbruikersvertroue en die invloed wat politieke wendings op die land se ekonomie het.  Die organisasie, wat sy hoofkantoor in Parys het, sê regtig niks nuuts oor die stand van Suid-Afrika nie. Die sogenaamde uitdagende strukturele hervormings wat voorgestel word, kan dalk help as die land oor genoeg politieke waagmoed beskik en die privaatsektor se steun kan werf. Die OECD sê sleutelsektore soos energie, telekommunikasie en vervoer moet aan groter wedywering onderhewig wees. Dit is onmoontlik om mededinging te bewerkstellig as die regering nuwe marktoetreders by voorbaat aan bande lê soos wat met Neotel gebeur het. Telkom het al die jare die telekommunikasie-sektor oorheers en die regering besit ‘n leeue-aandeel in die maatskappy. Die regering sal nooit soveel wedywering toelaat dat dit sy inkomste in die gedrang bring nie. Tans word daar weer oorweging geskenk aan die verkoop van staatsbates om sukkelende semi-staatsinstellings soos Eskom en die SAL te help. Sou dit nie beter gewees het om dié maatskappye lankal te privatiseer nie? Die regering kon op ‘n aandeleverdeling aangedring, of die geld uit die eenmalige verkoop belê het. In dié stadium het die verrotting van staatskaping al so diep in al die staatsentiteite gevorder dat hulle nie meer as lonende bates beskou word nie. Watter regdenkende belegger stel belang in maatskappye wat selfs oorsee ‘n slegte naam gekry het? En al die sprake van radikale ekonomiese transformasie wat hoofsaaklik gerig is op swart opheffing maar ‘n skuiwergat bied vir swart bevoorregting, help ook nie. Die negatiewe reaksie op die nuwe Mynbouhandves getuig daarvan.  Die OECD sê die Suid-Afrikaanse regering moet dringend optree om die geweldige inkomstegaping te verklein, maar sê nie presies hoe nie. Nie almal in die land – of in die wêreld – is ewe opleibaar nie en kan dus onmoontlik dieselfde inkomste verdien. Selfs al word meer werksgeleenthede geskep, gaan dit nie die inkomstegaping laat verdwyn nie. Skep eerder werk sodat almal volgens sy eie vermoë tot die staat se belastinginkomste bydra.  Die grootste uitdaging vorentoe is om eers die land se politieke kwellinge uit die weg te ruim. ‘n Verantwoordelike en eerbare regering wat vêr vooruit kan kyk, is die antwoord. Moontlik sal die keerpunt aan die einde van die jaar kom as die regerende party nuwe leiers kies. Dit is die grootste enkele strukturele hervorming wat die land nog van ondergang kan red.

 

Nuuskommentaar: 25 Julie

Goeie besluit van VSA om wapenvoorsiening aan Siriese rebelle te staak

 

Vier jaar en sowat een miljard dollar later, het die VSA nou uiteindelik besluit om sy mislukte poging om sogenaamde gematigde rebelle in Sirië te bewapen, te staak. ’n Program wat aanvanklik deur Hillary Clinton, toe minister van Buitelandse Sake en Generaal David Petraeus, direkteur van die Amerikaanse Sentrale Intelligensiediens, voorgestel is, is gedurende 2013 nadat President Barack Obama die program goedgekeur het, deur die CIA in groot geheimhouding ingestel.

 

Die Obama-administrasie wou graag sien dat die Assad-regering in Sirië tot ’n val kom. Obama was egter bang om soos sy voorganger, George W. Bush, in nog ’n uitgerekte oorlog in die Midde-Ooste betrokke te raak. Die idee om sogenaamde gematigde rebellegroepe met wapens, opleiding en strategiese beplanning te help om die Assad-regering tot ’n val te bring en demokrasie na Sirië te bring, is dus deur Obama as ’n goeie idee beskou.

 

Die probleem hiermee is natuurlik dat die werklike situasie in Sirië en eintlik die hele Midde-Ooste onderskat het. Die radikalisering van Soenniete sedert die oorname van ’n Sjiiete-regering in Irak en die totstandkoming van die Islamitiese Staat het ook ernstige gevolge vir Sirië gehad. Die Islamitiese Staat het die Burgeroorlog wat sedert Maart 2011 in Sirië woed en die chaos wat dit tot gevolg gehad het, gebruik om ook sy invloed daar onder die Soenniete uit te brei.

 

Die rebellegroep wat deur die Amerikaanse program gesteun is, die Vry Siriese Weermag, was aanvanklik ’n splintergroep wat met die ontstaan van die burgeroorlog van die land se weermag weggebreek het met die uitsluitlike doel om die Assad-regering te onttroon. Meer as 90% van die groep se lede was Soenniete en kort nadat die CIA sy program in 2013 ingestel het, was dit reeds duidelik dat dele van die Vry Siriese Weermag geradikaliseer is en selfs bande met die Islamitiese Staat aangegaan het.

 

Die Britse joernalis Patrick Cockburn skryf in ’n boek oor die Islamitiese Staat wat in 2014 verskyn het, dat daar reeds teen 2014 nie meer veel tekens van ’n gematigde groep rebelle in Sirië oor was nie. Groot dele van die Vry Siriese Weermag het toe reeds saam met die Islamitiese Staat teen Assad se weermag geveg. Meer en meer van die wapens en ammunisie wat deur die Amerikaners aan die sogenaamde gematigdes gegee is, het in die hande van die Islamitiese Staat begin beland.

 

Daarteenoor het Rusland en Iran met gefokusde aanslae daarin geslaag om gematigde groepe wat wel oor was, aan te val en ruimte vir die Assad-regering te skep om grondgebied wat deur beide die Islamitiese Staat en die Vry Siriese Weermag bekom is, terug te wen.

 

President Trump se besluit verlede week om die peperduur CIA-program in Sirië te staak maak goeie sin. Indien Amerika enigiets uit sy eksperimente in Irak en Libië kon leer, is dit dat Midde-Oosterse lande soms beter daaraan toe is met ’n diktator as daarsonder. Onder Assad is menseregtevergrype gepleeg, maar was Sirië redelik vreedsaam en stabiel en kon selfs die land se Christene, meer as 11% van die bevolking, in vrede leef.

 

Die Trump-besluit beteken dat Amerika aanvaar dat Assad nie gaan padgee nie. Na Irak en Libië het Amerika en sy wapens ook in Sirië meer sleg as goed gedoen.

 

Nuuskommentaar: 24 Julie

Word die wetenskap bedreig?

 

Wetenskaplikes en wetenskapverslaggewers ervaar gereeld hoe daar met ’n emmer vol vitrioel op hul skryfwerk gereageer word, en selfs ’n baie positiewe berig oor ’n nuwe deurbraak met kankernavorsing, as boos en ’n klug afgemaak word.

Die soort kritiek kom uit verskillende oorde, maar het in die literatuur ’n oorkoepelende naam, die pseudo-wetenskap gekry. Uiteraard maak nie almal wat ’n pseudo-wetenskap aanhang hulle aan die vitrioel skuldig nie, maar geoordeel aan die omvang van die negatiewe reaksie wat soms verkry word – georkestreer of spontaan, kan dit so erg word dat dit intimiderend word, en uiteindelik veroorsaak dat lesers van die betrokke publikasie van artikels van ’n wetenskaplike aard beroof word. Nie dat Suid-Afrika met sy swak posisie op internasionale indekse onderaan die kategorieë vir wetenskap en wiskunde boer nie.

Die kritiek wissel van aanhangers van die plat-aarde teorie, tot mense wat glo die maanlandings het nie plaasgevind nie, maar dat die storie as deel van ’n reuse sameswering in stand gehou word. Onder die velde wat as pseudo-wetenskap beskou word, tel astrologie, alchemie, mediese kwakery,  okkultisme en die skeppingswetenskap.

Die wetenskap word in teologiese kringe as ’n tweede openbaringswyse van God, naas die Bybel, beskryf. God is immers die Skepper van die natuur. Die mensdom se verstaan van die natuur en die verskillende vakgebiede wat dit voortbring, is egter ’n moeisame en dikwels baie duur proses.  Dit probeer deurlopend om te verbeter op ouer teorieë. In die mediese wetenskap het dit 45 jaar geduur om die helfte van die feite as verkeerd te bewys, in die natuurwetenskap het dit 13,7 jaar geduur en in die ekonomiese wetenskappe, net 9,3 jaar.

Dr. Piet Geyer van die Hervormde Kerk het die wetenskap se plek soos volg beskryf: “So het elke onderdeel van die wetenskap hul wêreldbeeld, modelle, teorieë en metodes. In elke onderdeel van die wetenskap (soos natuurwetenskappe, biologie, paleontologie) is daar gemeenskappe van kollegas wat mekaar se metodes en resultate voortdurend evalueer, en nuwe ondersoekvelde identifiseer. Wanneer hulle mekaar op bepaalde punte vind en saamstem oor resultate, kom hulle ooreen om sulke resultate te AANVAAR. Hulle is ook gewoonlik die eerstes om te erken dat daar nog bepaalde leemtes is wat verder nagevors moet word.”

In ’n nuwe artikel in die Nederlandse koerant Trouw, vra twee wetenskaplikes asseblief dat met die “wetenschap-bashen” end gekry moet word. Volgens hulle het hierdie looiery momentum gekry in die, wat hulle, Trumpiaanse tye, noem.

Tog hoef die wetenskap nie ontoeganklik vir die gewone burgery te wees nie. Miljoene mense wat self geen wetenskaplikes is nie, werk reeds mee aan projekte waar lede van die publiek vir verskillende doeleindes betrek word. ’n Australiese tegnikus het byvoorbeeld onlangs ’n veraf sterrestelsel ontdek deur deur Nasa se data te werk.  Burgerlike wetenskaplikes kan in bykans elke veld betrokke raak, van astro-fisika tot ekologie deur van moderne tegnologie soos tuisrekenaars gebruik te maak.

Hierdie burgerlike wetenskaplikes verrig noodsaaklike werk, en die wetenskap het hulle nodig. Maar wie sal nou belangstel om aan so iets deel te neem as hy onder die tonge van ander gaan deurloop?

 

Nuuskommentaar: 21 Julie

Help Afrikaanse jongmense om hul volle vermoë te verwesenlik

Die omvangryke krisis in die land se swart onderwys is welbekend. Daarteenoor bedek die uitnemende prestasie van Afrikaanse skole soms die verskuilde onderrigprobleme in die Afrikaanse gemeenskap. Statistieke van die Solidariteit Navorsingsinstituut wys dat hier egter ook groot probleme skuil.

 

ʼn Belangrike aanwyser van die onderwysuitdagings onder bruin jongmense is dat ʼn skrale 2,5% bruin mense aan universiteite studeer. Hoewel daar jaarliks talle toppresteerders onder Afrikanerjongmense is, verskuil dit soms die onderliggende probleme. Min mense weet byvoorbeeld dat byna 20% van Afrikanerkinders die skool sonder matriek verlaat.

 

Nóg ʼn rooi lig is dat net 27% van jong Afrikaners universiteit toe gaan. Dit beteken dat bykans 75% van Afrikanerjongmense nie universiteitskwalifikasies verwerf nie. Wanneer dit gemeet word aan die 40% jongmense onder wit Engelssprekendes wat universiteit toe gaan, wys dit dat alles nie pluis is wat die opleiding van jong Afrikaners betref nie. Hoewel die oorwegend Afrikanerskoolonderwys nog uitnemend is, laat Afrikanerdeelname aan naskoolse opleiding veel te wense oor.

 

Die gaping tussen die goeie Afrikaanse onderwys en die ondergemiddelde deelname aan naskoolse opleiding kan aan die hand van drie faktore verklaar word: Engelssprekendes woon meer gekonsentreerd in metropole met goeie universiteite; die Engelse gemeenskap het ʼn langer tradisie van universiteitsopleiding; en hierdie twee faktore lei tot groter welvaart wat die derde rede vir hul hoër vlakke van opleiding is.

 

Daarteenoor veroorsaak Afrikaners se yl, landswye verspreiding dat baie jongmense ver van universiteite af bly wat meebring dat hulle nie maklike toegang tot naskoolse opleiding het nie. Die feit dat daar minder welvaart in talle plattelandse gebiede is, is egter die belangrikste rede dat hierdie groep so ʼn lae deelname aan universiteitsopleiding het. Dit is dubbel so duur vir plattelanders om kinders universiteit toe te stuur omdat verblyf, kos en vervoer die koste van die reeds duur universiteitsopleiding verder opjaag.

 

Die transformasie van baie universiteite beperk die toegang van hierdie jongmense verder. Daarmee gepaardgaande ontmoedig die ingrypende rassewetgewing talle Afrikaanse jongmense om verder te studeer. Die gesamentlike uitwerking van al hierdie faktore is die kommerwekkende verskynsel dat baie Afrikaanse jongmense swakker as hul ouers opgelei is. Navorsing toon dat dit een van die belangrikste vroeë waarskuwingstekens vir komende armoede van die nuwe geslag is.

 

Daar is egter hoop. Die vader van die moderne Singapoer, Lee Kuan Yew, het met dieselfde probleem gesit ná hierdie stadstaat se onafhanklikwording in 1960. Sy oplossing was ʼn eenvoudige resep wat Singapoer binne een geslag vanaf ʼn derderangse landjie na die top van die Eerste Wêreld laat uitstyg het. Hierdie suksesresep was dat elke lid van hierdie klein stadstaat gehelp moes word om sy of haar volle vermoë te verwesenlik. In die praktyk het dit beteken dat elke jongmens, sover hulle kon, verder opgelei moes word. Grootskaalse befondsing is daarvoor beskikbaar gestel.

 

Die oplossing vir ons probleem is dat grootskaalse studiefondse bymekaargemaak sal moet word om Afrikaanse jongmense te help om hulself deur verdere studies te help. Goeie opleiding bly die beste belegging wat in die nuwe geslag se toekoms gemaak kan word.

 

Nuuskommentaar: 20 Julie

Die toekoms van die SAKP

Met ‘n nuusopskrif wat klink asof dit reguit uit die 1960’s kom, het die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party die afgelope naweek aangekondig dat díe lid van die drieparty-alliansie Suid-Afrikaanse verkiesings op sy eie gaan aandurf.

Hierdie besluit is geneem aangesien, onder andere, die 96 jaar oue organisasie glo dat die drieparty-alliansie tussen die ANC, COSATU en die SAKP gebreek is. Daar word egter geglo dat hierdie aankondiging slegs ‘n poging is om mag binne die alliansie in die SAKP se guns te herbalanseer. Die afgelope twee dekades het juis duidelik gewys dat die SAKP, immer in die skaduwee van sy ouer en groter neefs, bloot op die alliansie se rug gery het om politieke posisies vir sy lede te kry.

Die aankondiging het wel op sosiale media – en in sommige nuusberigte – debatte aangevuur oor die SAKP se vermoë om die ANC se mag te breek. Die SAKP se potensiaal as belangrike rolspeler in Suid-Afrikaanse verkiesings moet wel in konteks gesien word.

Indien daar slegs na die syfers gekyk word, het die SAKP in 2015 ongeveer 220 000 amptelik geregistreerde lede gehad. ‘n Groot aantal van hierdie lede is egter, ter selfde tyd, lede van die ANC.

Dit bly egter onduidelik of enige lede van die SAKP die vloer sal kruis om hul ANC lidmaatskap te behou. Vir doeleindes van hierdie bespreking word daar, hipoteties en liefdadig, aangeneem dat die SAKP al 220 000 van hul lede hou – en hul stemme in ‘n nasionale verkiesing kan kry.

Om een setel in die Suid-Afrikaanse parlement te verwerf, benodig ‘n party byna 47 500 stemme. Indien al die SAKP se lede dus vir die party stem behoort hul 4 – 5 setels te hê. Dit is minder setels as die ANC, DA, EFF, IVP en NVP. Die SAKP gaan dus ‘n klein minderheidsparty wees, in ‘n omgewing waar soortgelyke partye reeds volop is.

Dit moet nog egter uitgepluis word of die SAKP ‘n wesenlike rol gaan speel in die Suid-Afrikaanse politieke omgewing. Gaan die SAKP meer met hul beperkte verteenwoordiging in die wetgewer meer kan doen as, byvoorbeeld, Agang, COPE of die PAC?

Die SAKP se besluit is ‘n interessante verwikkeling in die Suid-Afrikaanse politiek, maar die gevolge moet nie oorskat word nie. Dit dien as bewys van die agteruitgang in die ANC, maar, wat hulle kanse in ‘n nasionale verkiesing betref, moet daar eerder geen drastiese sukses verwag word nie. Meeste lojale ANC ondersteuners stem nie vir die party weens ideologie nie – maar eerder weens ander geskiedkundige redes.

Die rooi gevaar blyk dus, in die 21ste eeu, grootliks uitgedien te wees.

 

Nuuskommentaar: 19 Julie

Oorbevolking ‘n groter probleem as klimaatverandering

President Emmanuel Macron van Frankryk het kwaai deurgeloop oor sy aanmerkings op die G-20-beraad dat ontwikkeling in Afrika bemoeilik word deur ‘n gebrek aan beskawing. Hy sê daar kan nie ‘n suksesvolle demografiese oorgang op die vasteland bereik word as vroue steeds sewe tot agt kinders het nie. Die jong president is as ‘n onsensitiewe rassis uitgekryt. Tog het hy net verwoord wat die Westerse wêreld al lankal vrees en dit is dat die aarde meer uitgemergel word deur oorbevolking as kweekhuisgasse. Om die waarheid te sê, is menslike oorbevolking die grootste enkele verswarende oorsaak van aardverwarming, omgewingsbesoedeling en die verlies aan habitat. Wetenskaplikes stry gereeld onder mekaar of die wêreld nie reeds midde-in die Sesde Massa-uitwissing verkeer nie. As daar inderdaad so iets is.  Dié keer – sê hulle – is die mens daarvoor verantwoordelik.

Nuus oor ‘n ysberg van etlike miljard ton wat in Antarktika van die yswand weggeskeur het, is kommerwekkend.  Net so die styging van 1 Graad Celsius in die gemiddelde wêreld-temperatuur.  In Suid-Afrika is die voortdurende berigte van droogtes en waterskaarstes onrusbarend en voorspellings oor die terugkeer van El Nino klink soos iets uit Langenhoven se Brolloks en Bittergal.

Maar dan dink ‘n mens weer aan die Skepper en die wonder van sy skepping. En tog het Hy nie die aarde geskape om woes te wees nie, maar dit gevorm om bewoon te word. Daar was ook ‘n bepaalde opdrag om die aarde te bewerk. Dit was eintlik ‘n kultuuropdrag wat regstreeks verband hou met menslike aktiwiteite. Hoe het dit gebeur dat die meeste varswaterbronne onbereikbaar geword het of so besoedel is dat minder as een-persent nog toeganklik is vir menslike gebruik? Volgens die Verenigde Nasies sal meer as die helfte van die wêreldbevolking teen 2025 blootgestel wees aan watergebaseerde kwesbaarheid. Die oorsaak van dié waterkrisis is weereens menslike aktiwiteite. Waterbestuur word nie behoorlik gedoen nie, daar word nie betyds meer opvanggebiede geskep vir wanneer dit die slag reën nie en nywerhede onderdruk hulle gewetens as dit by waterbesoedeling kom. Dit is veral streke in Noord-Afrika, die Midde-Ooste, Indië, Pakistan, China en Amerika wat water 10-keer vinniger gebruik as wat dit aangevul word.

In Suid-Afrika kan plaaslike owerhede nie eers toesien dat riviere teen rioolstortings beskerm word nie. Die vertraging in die tweede fase van die Lesotho-Hoogland-waterprojek word toegeskryf aan ‘n Minister van Water en Sanitasie in die Zuma-kabinet wat ‘n maatskappy met politieke bande wou bevoordeel. Dit te midde van gewelddadige betogings oor watervoorsiening en ander dienslewerings-tekorte regoor die land. ‘n Groot deel van die probleem is deur instroming en toestroming veroorsaak wat die Suid-Afrikaanse bevolking met miljoene mense opgejaag het. ‘n Verstandige regering sou voorsorg getref het en dit is waarskynlik wat die Franse president bedoel. Hy sê Afrika-leiers sal voortaan self moet besluit hoe die vasteland van plan is om ekonomiese groei te bewerkstellig. Dit help nie om aanmekaar euros in die gapende put te gooi nie.

 

Nuuskommentaar: 18 Julie

Twee jaar later en kernooreenkoms met Iran toon sukses

Twee jaar na die ondertekening van die kernooreenkoms tussen Iran en Westerse lande raak dit moeilik vir die oorloglustiges wat die ooreenkoms as gevaarlik en verkeerd beskryf het om nog enigsens by die suksesvolle implementering daarvan verby te kyk.

Die Internasionale Atoomenergieagentskap en die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake het onlangs beide erken dat Iran die ooreenkoms nakom. Philip Gordon en Richard Nephew, twee van die voorste Amerikaanse kenners oor Iran en die politiek van die Midde-Ooste, skryf verlede week in die nuustydskrif The Atlantic dat die drie belangrikste doelwitte van die ooreenkoms bereik word. Eerstens wou Westerse lande verhoed dat Iran genoeg materiaal bekom om ’n kernwapen te vervaardig. Daar is grootliks in hierdie doel geslaag.

Tweedens wou hulle aan die bevolking van Iran die voordele van samewerking met die internasionale gemeenskap wys. Die persepsie dat die hele bevolking van Iran ’n klomp Moslemekstremiste is, is heeltemal verkeerd. ’n Groot deel van die land se bevolking is gematig en wil graag in vrede met hul buurlande en ook die Weste saamleef.

Die derde doelwit wat Westerse onderhandelaars in 2015 vir hulself gestel het, is om ’n ooreenkoms met Iran te bereik wat tyd sal koop totdat politieke hervorming uiteindelik wel in Iran plaasvind en die land sy buitelandse beleid begin aanpas. Ook in hierdie doelwit is geslaag en die gemaklike verkiesingsoorwinning van die meer gematigde President Hassan Rouhani vroeër vanjaar is ’n goeie teken daarvan.

Terwyl die meeste Europese lande tans verkies om nie in konflik met Iran te tree nie is die stem van oorlogslustiges in Amerika en Brittanje steeds baie sterk. Dit word veral gedryf deur Amerika en Brittanje se enorme wapenhandel met Saoedi-Arabië. Die stryd tussen die Soenniete en Sjiiete in die Midde-Ooste verteenwoordig ook die stryd tussen Saoedi-Arabië en Iran vir mag en invloed in die Midde-Ooste.

Saoedi-Arabië, wat Soenni-dominasie in die Midde-Ooste nastreef, speel ’n groot rol in die verskaffing van wapens aan Soenni-militante groepe in Sirië, Irak en Yemen. Hierdie wapens word natuurlik van veral Amerika en Brittanje aangekoop en dit is ’n ope geheim in die strate van Washington DC dat die steunwerwers vir wapenvervaardigers ’n stewige greep op talle senatore het.

Iran se huidige groeiende invloed in Irak is meegebring deur die Amerikaners se voortydige verwydering van Saddam Hoesein as diktator. Die Islamitiese Staat, wat as terreurgroep sy ontstaan en veral vinnige groei weens die isolasie van die Soenni-bevolking in Irak na Hoesein se omverwerping te danke het, sal makliker verslaan word indien Amerika en Iran kon saamwerk. Die voormalige Amerikaanse minister van Verdediging Robert Gates het reeds in 2010 voorspel dat Saoedi-Arabië Amerika dieper en dieper in hul eie konflik met Iran gaan insleep. Dit is presies wat vandag in Sirië en Irak gebeur.

Die Weste se benadering tot magshonger Midde-Oosterse lande moet wees om minder kant te kies en eerder meer ooreenkomste te onderhandel en raakvlakke te vind wat konflik sal verminder, die ontwikkeling van kernwapens kan beperk en unieke oplossings vir hedendaagse Midde-Oosterse vraagstukke kan skep. Die kernooreenkoms van 2015 doen presies dit en behoort geprys eerder as veroordeel te word.

 

Nuuskommentaar: 17 Julie

Afrikaans en Afrikanerinstellings die sleutel tot die toekoms van Afrikaners in Suid-Afrika

Die 8ste Thabo Mbeki gedenklesing is onlangs by UNISA deur die gevierde historikus en politieke kommentator, prof. Mahmood Mamdani  gelewer. Mamdani is oorspronklik afkomstig van Uganda, maar werk tans as ’n dosent in politieke wetenskap by die Columbia universiteit in New York, Amerika. Wat egter die oë laat rek het, en mense laat regop sit het, was sy opmerking oor Afrikaans en Afrikanerinstellings tydens die apartheidsera.

Mamdami het tydens die paneelbespreking gereageer op ’n vraag oor die dekolonisasie van onderwys en universiteite en die volgende opmerking gemaak: “One of the most succesfull experiences in decolonisation of education on this continent, I believe was at the time of apartheid. Think of Afrikaans. Afrikaans in the 1940’s was no different from Xhosa, from Venda, from Zulu, basically a folk language. A folk language to theorize the experience of the Afrikaans people. You needed a whole set of institutions, which they built in a few decades. They built universities, they built publishing houses, they built newspapers, they created an Afrikaans inteligenzia. In terms of their relationship to English they decolonized Afrikaans.”

Die gehoor wat onseker was oor wat om met hierdie opmerking te doen, het spontaan begin handeklap. Prof. Mamdami bepleit in sy opmerking dat dekolonisasie nie oor eenvormige verengelsing moet gaan nie, maar wel oor die ontwikkeling van tale en instellings wat Afrikane in staat kan stel om vir hulself ’n nuwe toekoms te bedink, anderkant kolonialisme.

Afrikaners het dit reeds suksesvol reggekry, maar die vraag is nou, kan ons weer ons taal en ook ons instelling op so ’n wyse inspan om vir onsself ’n toekoms anderkant apartheid te bedink.

Die eerste stap in so ’n proses sal wees om Afrikaans weer terug te neem en sterk standpunt in te neem teen die hedendaagse afskaling en vermenging van die taal op alle terreine veral in die vermaaklikheidsbedryf. Waarom sal jy toelaat dat jou beitel roes en stomp word as jy dit nog gaan nodig hê om in die woorde van Van Wyk Louw “dwarsdeur die sterre te loop”.

Tweedens sal die nuwe Afrikaner instellings wat ontstaan het om Afrikaners in die post-apartheid denke te lei, ten volle ondersteun moet word.

Laastens, sal ons die vermoë moet ontwikkel om toekomsgerig te dink en te droom. Ons sal weer moet leer hoe om die taal en instellings tot ons beskikking in te span om die toekoms van Afrikaans en Afrikaners in ’n post-apartheid Suid-Afrika te visualiseer.

Denke gaan altyd die praktyk vooruit en ons kan nie toelaat dat ander groepe en instellings ons toekoms namens ons bedink nie. Ons toekoms lê in ons eie hande, wat gaan ons daarmee doen?

 

Nuuskommentaar: 14 Julie

Nasionale Gesondheidsversekering

Niemand kan die edel motief agter ‘n werkbare nasionale gesondheidsplan vir alle landsburgers ontken nie. Gesonde burgers lei immers tot ‘n gesonde ekonomie. Dit is egter hier waar die knoop ontstaan. Suid-Afrika is nie ‘n ontwikkelde land soos die Grootmoondhede nie. Trouens, die verwagting dat die ekonomiese groeikoers nog laer gaan wees as wat voorspel is, maak die inwerkingstelling van die NGV onmoontlik. Of het die regering weereens ‘n soort kruissubsidering in gedagte? Die land se hoër inkomste groep moet betaal sodat die werklose burgers gratis mediese dienste kan kry. Die feit dat ‘n ANC-minister en lid van die party se hoogste besluitnemings-liggaam al klaar gesê het die regering oorweeg dit om die belastingverligting vir mediese fonds-lede te kanselleer, spreek boekdele. Die ANC kan net nie verstaan dat bestaande welvaart nie herverdeel kan word nie, die uitdaging is om nuwe welvaart te skep.

Sedert die party se bewindsoorname in 1994 is talle wette aanvaar en besluite geneem om gesondheidsorg vir almal toeganklik te maak. Hospitale en klinieke is aanvanklik met noodsaaklikhede toegerus, maar daar was toe alreeds ‘n tekort aan behoorlik-opgeleide personeel. Gemeenskapsdiens word ingestel om afgestudeerde studente te dwing om in die landelike gebiede te werk sodat dienslewering kan verbeter. Nie lank nie of dokters, verpleegsters en ander kundiges verlaat die land in hordes omdat standaarde so gedaal het in die staatshospitale. Toerusting word nie herstel nie, korrupsie vier hoogty en medisyne, kosvoorrade, formulemelk vir babas, hospitaallinne, babadoeke en seep word gesteel en teen ‘n groot wins in die afgesonderde gebiede verkoop. Nie lank nie of talle klinieke en hospitale bied nog net die basiese dienste en honderde pasiënte word weggewys. Hierna sak die inwoners van ander provinsies op die ryker provinsies soos Gauteng toe en hospitale kan baie gou nie meer in dié verhoogde vraag voorsien nie. MIV-Vigs was al sedert die begin van die negentigerjare ‘n groot probleem in die land. Hoe meer die Verenigde Nasies gewaarsku het dat Suid-Afrika se infeksiekoers van die hoogste in die wêreld is, hoe minder is daar gedoen. Die Mbeki-regering was bekend vir sy ontkenning van die Vigs-virus en die destydse adjunkpresident, Jacob Zuma, was die hoof van die Nasionale Vigsraad. Hy het ook nie die geweldige omvang van die siekte besef nie – kortom, hy het niks aan die probleem gedoen nie. Landsburgers is nie ingelig oor die aansteeklikheid van die siekte nie en duisende gevalle van moeder-tot-kind-oordrag van die virus is aangemeld. Dit is ook opvallend dat gesondheidsvoorligting glad nie voorrang geniet het nie. Selfs geslagsvoorligting is geïgnoreer. Daar was geen duidelike beleid oor inentingsprogramme of algemene higiëne nie en die VN moes uiteindelik ingryp om die duisende gevalle van diarree in die land onder die knie te kry. Behandelbare tuberkulose het plek gemaak vir multi-weerstandige tering omdat daar nie betyds voorsorgmaatreëls getref is nie.  Hierdie is nie die ideale agtergrond vir Nasionale Gesondheidsversekering nie. Dit help nie om die simptome te behandel nie – diagnoseer eers die siekte. Die land se gesondheidsprobleme het meer te make met gebrekkige opvoeding en voorligting as hospitalisasie.

 

Nuuskommentaar: 13 Julie

Bastille

More sal dit 228 jaar wees sedert ‘n waterskeidingsoomblik in die Franse- en wêreldgeskiedenis  aangebreek het.

Op 14 Julie 1789 het die Franse gepeupel die gevangenis bekend as die Bastille in Parys gestorm en klip vir klip afgebreek.

Alhoewel daar ten tye van die bestorming slegs sewe gevangenes in die Bastille was, was daar in die geskiedenis bekendes aangehou soos Marquis de Sade en Voltaire. De Sade was ‘n filosoof wat behep was met erotika en pornografie en bekend was vir sy godslasterlike geskrifte. Die term sadisme word ontleen aan die naam van De Sade. Voltaire, die beroemde filosoof en skrywer is weer vir ‘n tyd in die Bastille opgesluit omdat hy die koningshuis van bloedskande beskuldig het.

Die Bastille-gevangenis was vir die arm Franse werkersklas die simbool van onderdrukking deur die monargie en feodalisme van die tyd. Die bestorming en verwoesting van die Bastille was die inleiding tot die Franse Rewolusie.

Die Rewolusionêre het hulle daarvoor beywer om die land van die heerskappy van die adel, die kerk en ook – wat deur hulle bestempel is as – “die Christelike bygeloof”, te bevry. Die rewolusionêres van destyds was vir die kerk en die adel net so kwaad soos wat Zuma-ondersteuners deesdae vir “wit monopolie kapitaal” is.

In 1789, kort na die val van die Bastille het die Franse edelman, Charles-Jean-François Depont vir Edmund Burke, ‘n Britse staatsman gevra vir sy indrukke oor die Franse revolusie. Die resultaat van sy skrywes was ‘n trefferboek Reflections on the Revolution in France wat in November 1790 uitgegee is.

Burke het geglo dat vryheid en gelykheid nie dieselfde ding was nie; dat ware gelykheid slegs bestaan het indien dit deur God beoordeel word en dat vryheid slegs iets is wat binne die perke van die reg geniet kon word en nie ‘n verskoning was om net te doen wat mens wil nie.

Burke was ook ongemaklik met radikale verandering soos deur Franse rewolusionêres voorgestaan en was van mening dat die rewolusionêres hulleself spoedig in groter probleme sou bevind omdat hulle nie verstaan het dat regte altyd gepaard gaan met ooreenstemmende verpligtinge nie.

Burke se kommentaar op die rewolusie was profeties. Die jare van die rewolusie wat gevolg het, was bloedig. Vanaf 1793 tot 1794 het die sogenaamde heerskappy van verskrikking onder die Jakobyn, Robespierre gevolg. Tussen 16 000 en 40 000 burgerlikes is ten tye van die revolusie met die gevreesde guillotine tereggestel. Die Franse samelewing is gestroop van enige Christelikheid, kerke is gesluit, geestelikes is vervolg en onthoof en eiendomsreg is tot niet gemaak. Van vryheid gelykheid en broederskap was weinig oor. Die land was in chaos en grootskaalse anargie gedompel.

Edmund Burke was ook bekend vir ‘n bekende spreuk “if good men do nothing, evil will prevail”.

Gelukkig het goeie mense in die Frankryk van destyds nie niks gedoen nie.

Die rommel wat oorgebly het na die vernietiging van die Bastille is gebruik om ‘n brug oor die Seinrivier, die Pont de la Concorde, te voltooi. So is beweeglikheid deur die verskillende dele van Parys verbeter en is die vernietiging omskep in ‘n proses van heropbou. Die brug staan vandag nog en word steeds gebruik.

In 1799 het die welvarende burgerstand of bourgeoisie van Frankryk besluit: genoeg is genoeg. Die korrupte direktoraat – wat die land die laaste vyf jaar van die revolusie regeer het is omvergewerp en Napoleon Bonaparte het die staatshoof geword. Goeie mense het inderdaad aan die werk gespring, gebou waar gebreek was en verseker dat die kwaad nie die goeie finaal oorwin nie.

 

Nuuskommentaar: 12 Julie

Trump lewer belangrikste toespraak van sy presidentskap tot dusver

Verlede Donderdag voor duisende ondersteuners in die Poolse hoofstad, Warskou, het die Amerikaanse president, Donald Trump, seker die belangrikste toespraak van sy eerste paar maande in die Withuis gelewer. Die redaksie van die grootste Amerikaanse koerant, die Wall Street Journal, het tereg na afloop van die toespraak gevra waarom Trump meer as ses maande gewag het om so ’n bepalende toespraak te lewer.

 

Die kern van Trump se toespraak, waarin hy talle kere na die Weste en na Westerse beskawing verwys het, is die vraag oor of Westerse volkere nog die wil het om te bly voortbestaan. Hierdie vraag staan natuurlik aan die basis van die meeste uitdagings wat Westerse lande vandag moet hanteer, maar is een wat moeilik in wêreldstede soos New York, Parys, London of Berlyn gevra sou kon word.

 

Warskou in Pole is egter anders. Pole soos die meeste lande in Oos-Europa is meer konserwatief, minder politieskorrek en sekerlik dieper bewus van die waarde van ’n stryd vir die behoud van die goeie. Trump se verwysing na die wyse waarop een miljoen Pole in 1979 saam met Pous Johannes Paulus II in Warskou bymekaar gekom het om te skree: Ons soek God!, was ’n perfekte vertrekpunt vir sy argument dat min volkere beter as die Pole weet wat soms nodig is om die Westerse beskawing lewendig te hou.

 

Hierdeur sluit Trump aan by Pous Benedictus XVI wat ook ’n paar jaar gelede Europa gewaarsku het dat die sekularisering van die kontinent tot ’n bestaanskrisis vir sy mense aanleiding sal gee. In sy toespraak verlede week sê Trump dat die voorbestaan van die Weste nie sal afhang van Westerse lande se finansiële en militêre vermoëns nie, maar wel van Westerlinge se wil om hul waardes ten alle koste te beskerm. Die beskerming van grense, sterk gesinne en gedeelde Christelike waardes was van die punte waarop Trump gefokus het.

 

Drie verdere bedreigings vir die voortbestaan van die Weste wat Trump in sy toespraak uitgelig het, is die opkoms van radikale Islam in Europa, die kruipende burokrasie wat mense van hul dryfkrag en welvaart beroof en derdens magte van buite die Weste wat Westerse waardes uittart en bedreig.

 

Trump was egter reguit en eerlik dat hy glo dat die voortbestaan van die Westerse beskawing van sy eie mense se wil om te oorleef, eerder as van bedreigings van buite, sal afhang. Terwyl Warskou ’n veilige keuse vir die lewering van hierdie toespraak was, het die woorde van sy toespraak in elke dorp en stad van die Westerse wêreld weergalm. Globalistiese, neo-liberale koerante en televisiekommentators het dit as gevaarlike nasionalisme afgemaak.

 

Dit is egter gewone Westerlinge wat toenemend by die boodskap van Trump aansluiting vind. Dit is die miljoene mense wat oor die afgelope paar jaar vir Marine Le Pen in Frankryk, Nigel Farage in Brittanje, Norbert Hofer in Oostenryk, Viktor Orban in Hongarye en natuurlik vir Trump self in die VSA gestem het wat besef dat die toekoms van die Weste bedreig word, dat Westerse waardes beskerm moet word en dat nuwe leiers nodig is om Westerse volkere hierin te lei. Trump het met verlede week se toespraak sy presidentskap herfokus. Die vraag is of hy die geleentheid sal opneem om ’n projek van Westerse herophou, wat hy begin het, met ywer voort te sit.

Nuuskommentaar :  11 Julie

Vryheid deurmekaar geklits

 

Veranderende situasies in die VSA het verskeie van die VSA se voorste denkers die pen laat opneem tydens die onlangse onafhanklikheidsvieringe. Dit lyk of almal die snuf in die neus het dat dinge net nie meer dieselfde is nie, en dat nuwe denke nodig is.

Lawrence Kudlow, wat as konserwatiewe skrywer bekend is, trek ’n noue band tussen vryheid en onafhanklikheid. Die agtergrond is dat die inwoners van die destydse dertien Amerikaanse kolonies van Brittanje, baie sleg deur hul koloniale moondheid behandel is. Dit word as ’n tirannie beskryf. Die opkomende Amerikaners het bitter min sê in hul eie sake gehad.

Die gevolg was die opstel van die Deklarasie van Onafhanklikheid.

Kudlow wy uit oor die beskaafdheid van die dokument, met onder meer reg om gesprek te voer, en respekvol van mekaar te verskil.

Hierdie vryheid, meen Kudlow, het die ruggraat van die wêreld geword. Vryheid is dus een van die VSA se beste uitvoerprodukte.

John Stossel trek die lyn ’n bietjie verder tot die ontstaan van die Amerikaanse grondwet. Een van die gevolge van onafhanklikheid en ’n grondwet is dat die Amerikaners nie net hul ekonomiese agterstand teenoor die Britte gou kom inhaal nie, maar binne ’n eeu die mees welvarende nasie in die wêreld kon word.

Maar terwyl Kudlow opgewonde is oor die guns wat die VSA die wêreld aangedoen het, is daar ’n ander kant van die munt – en dit is dat dinge in die VSA self aan die verander is. Patric J. Buchanan skryf ’n artikel onder die titel: “Is Amerika nog ’n nasie?”

Hy verwys na die aanvanklike beskouing dat die Amerikaans nasie, waarmee hy eintlik volk bedoel, aanvanklik almal dieselfde taal gepraat het, dieselfde godsdiens aangehang het, dieselfde waardes aan ’n regeringstelsel geheg het, en was baie soortgelyk in hul gebruike en gewoontes.

Buchanan stel dit dat dit lank nie meer die geval is nie. Hy wys daarop dat die elite nou graag sê dat die VSA se krag in sy diversiteit geleë is, en betwis dit. Hy laat aan die einde van sy artikel die vrae en moontlike antwoorde in die lug hang.

Dit laat ’n mens egter oor Suid-Afrika wonder. Ook hier, met oud.pres. Mandela se vergelyking van die reënboognasie is die konsep bevorder van krag wat in diversiteit opgesluit lê. Maar tydens die Kliptownberaad, wat juis belê is om rassespanning te verlig, haal dr. Nkosazana Zuma vir dr. Pieter Mulder, destydse leier van die Vryheidsfront Plus, oor die kole oor hy minderheidsregte bevorder. Volgens haar moet die blankes eenvoudig deel van die meerderheid word.

Nugter weet hoe sy meen dis prakties moontlik met ’n regering wat die een rasdiskriminerende wet na die ander instel wat blankes benadeel.

Nugter weet hoe sy dit versoen met pres. Zuma se herhaalde verwysing na blankes as “white supremacists” – nogal op ’n saamtrek teen rassisme. Die lysie is baie lank.

Vryheid is ’n delikate voorreg, wat baie maklik skade ly as dit veral in ’n heterogene gemeenskap nie reg hanteer word nie. En namate die VSA meer heterogeen word, besef al hoe meer Amerikaanse skrywers dit, en tas vervaard rond om antwoorde te kry.

 

Nuuskommentaar:  10 Julie 2017

‘N AANSLAG WAT ONS NIE KAN VERDUUR NIE

 

Mediavryheid is een van die vertrekpunte van die Suid-Afrikaanse Grondwet.

In artikel sestien van die Wet word onomwonde verklaar: “Elkeen het die reg op vrye meningsuiting, wat vryheid van die pers en ander media insluit.”

Voor 1994 was die media in twee kampe verdeel wat oorvereenvoudig kan word as dié media-organisasies wat die Nasionale Party-regering gesteun het en dié organisasies wat teen die regering was. Eersgenoemde was hoofsaaklik Afrikaans en die ander hoofsaaklik Engels. Toe die ANC aan bewind gekom het, het die meerderheid van die media, as gevolg van oudpres. Nelson Mandela se versoeningspogings, die “nuwe demokrasie” reikhalsend verwelkom. Veral Afrikaanse mediabase, uitgesonder die groep joernaliste wat ʼn voorlegging aan die Waarheid- en Versoeningskommissie gedoen het, het die vorige bedeling uiteraard verloën en ontken dat hulle óóit verbintenisse met die regering gehad het.

Oor die afgelope 23 jaar het die prentjie egter ingrypend verander en het die media een van die ANC-regering se grootste kritici geword. Die media het in meer as een opsig weer ʼn waghond geword en die jongste onthullings deur organisasies soos die amaBhungane Sentrum vir Ondersoekende Joernalistiek het die ANC in sy spore laat stuit. Dit is veral die uitgelekte e-posse van die Gupta-familie wat die konkelwerk van die ANC ontbloot het.

Dit is dus logies dat die ANC in sy binnekamer ʼn geheime oorlog teen die media verklaar het. Dit is ondenkbaar dat die party hom in die openbaar met ʼn aanslag op mediavryheid kan vereenselwig. Dit beteken egter nie dat ʼn koverte aanslag uitgesluit is nie.

Dit is in hierdie konteks voor die hand liggend om na die Guptas se ANN7-televisiekanaal en The New Age-koerant te verwys. Mens moet egter verder kyk.

Die dood van die SAUK-joernalis, Suna Venter, ná maandelange teistering, het die land geruk. Wie het agter die aanslag gesit?

Die organisasie Black First Land First, of BLF, se aanslag op joernaliste wat oor staatskaping berig, dreig om in geweld te ontaard en dit het beide die Suid-Afrikaanse Redakteursforum, of Sanef, en die Menseregtekommissie se optrede genoodsaak. Sanef het hom selfs tot die Hooggeregshof gewend. Maar weereens die vraag: wie sit ágter die BLF?

Onthullings in Business Day dat die BLF direkte kontak met die Gupta-familie gehad het is deur die organisasie afgemaak, maar beweringe dat Gupta-geld die organisasie rugsteun en só rassehaat in die land aanblaas, kan nie bloot geïgnoreer word nie.

As landsburgers moet ons nou kennis neem van dié georkestreerde aanslag wat in sommige gevalle selfs deur buitelandse maatskappye soos die Britse skakelmaatskappy, Bell Pottinger, ondersteun word.

Hoewel die media altyd bevraagteken moet word, kan Suid-Afrika dit nie meer bekostig dat koerante geboikot, media-organisasies teen mekaar afgespeel word en joernaliste sondermeer afgekraak word nie. Dié mense doen ʼn ondankbare werk. Hulle is ʼn laaste bastion teen die oorweldigende tsunami van bedrog en korrupsie wat oor die land spoel.

Koerante, internetblaaie, radiostasies en die televisiekanale verdien ons steun.

 

Nuuskommentaar: 7 Julie

Ek is ʼn bevryde Afrikaner

 

Die hele Gupta sage en die feit dat die familie deur vroeë en waarskynlik onregmatige naturalisasie burgerskap in Suid-Afrika ontvang het, laat ʼn wrang smaak. Klasse of grade van burgerskap is ʼn nou reeds bekende feit en die onlangse Mynbou Handves klassifeer nou ook ʼn “Swart persoon” as Swart Bruin en Indiër en diegene in die groepe wat deur naturalisasie, burgerskap ontvang het.  Dit sluit witmense uit.

 

Iemand van die reeds bevoordeelde Gupta familie ontvang dus nou ook die geleentheid om te deel in Suid-Afrika se myne en gepaardgaande rykdom bo ʼn wit Suid-Afrikaner wat al reeds vir geslagte lank in die land woon.

 

Die vraag is dus. Hang ‘n mens se identiteit en burgerskap af van iemand anders se politieke nukke of grille?  As ʼn Afrikaner is jy onlosmaaklik deel van die groter Suid-Afrikaanse samelewing.  Afrikaners is al lankal bevry  van die verlede wat soos ‘n albatros om ons nek gehang word. Andere mag ons dalk beskou as tweedeklas burgers en ons deur wetgewing en ander maatreels ontneem van die voordele van burgerskap.

 

Ons is al vantevore deur soortglyke onderdrukte en vernederende maatreels. Die Afrikanergemeenskap het uit die as van die 2e Vryheidsoorlog opgestaan en het homself ekonomies en later ook polities bemagtig.  Afrikaners het nie gewag dat die staat aalmoese uitdeel en het ons nie verryk geword uit staatstenders, bedrog en korrupsie nie. Vanuit Afrikaner geledere is armoede aangespreek en het die Afrikaner besef dat opheffing slegs sal slaag as onderwys ʼn prioriteit is. Groot hoeveelhede geld is ingesamel om aan Afrikaners kwaliteit onderwys te besorg. Later het skole en later universiteite gevolg.

 

Daarom moet ons vra waar is die swart sakemanne wat so mildelik voordeel trek uit Swart Ekonomiese Bemagtiging se bydraes tot hulle gemeenskappe? Waar is die onderwysfondse uit swart privaat inisiatief om kwaliteit Venda, Xhosa en Sotho onderrig te verseker? Die staat kan nie ‘n al hoe groter welsynstaat word en die privaatinisiatief ontbreek nie.

 

Die  toekenning van burgerskap aan die Guptas het onomwonde gewys dat wanbestuur en korrupsie prioriteit geniet bo die belange van Suid-Afrikaners wat deur harde werk ʼn bestaan probeer maak. Transformasie, ondeurdagte beleide, gebrekkige dienslewering, die verval in infrastruktuur, verswakking in onderwysstandaarde, korrupsie, onvermoë om misdaad vas te vat, xenofobie en vele meer voorbeelde van wanbestuur ken nie meer kleur nie. Dit raak elke Suid-Afrikaner. Maar dit is asof ons regering lankal lojaliteit aan sy eie burgers versaak het. Geld praat hard en dit koop nou enige iets wat enige politikus te koop kan aanbied. Burgerskap is maar net een ding. Mark Twain het by geleentheid  gesê: “Wees altyd lojaal aan jou land, wees egter lojaal aan die regering wanneer dit verdien word.” Dit wat rondom die Guptas en die koop van burgerskap gebeur toets hierdie stelling tot sy uiterste. Net soos ander Suid-Afrikaners wil ons deel wees van ʼn Suid-Afrika waarin daar goeie regering is, gebaseer op die sleutel eienskappe vir goeie regering wat die VN se Kommissie oor Menseregte geïdentifiseer het naamlik, deursigtigheid, verantwoordelikheid, aanspreeklikheid, deelname en responsiwiteit teenoor die behoeftes van die mense.  Hierdie elemente het met tyd begin vervaag of het heeltemal verdwyn.

 

Witmense in die algemeen en Afrikaners in die besonder hoef nie meer skuldig te wees oor die verlede nie. Ons skuld is lankal betaal. Met dit in gedagte weet ons dat ons volledig Suid-Afrikaners is, lojaal is en daarom ons regte kan opeis as Suid-Afrikaners. Ons hoef die regte nie te koop nie.

 

 

Nuuskommentaar: 6 Julie

Die rottevanger maak plek vir die sinkende skip

Die omstrede Gupta-familie is al beskryf as die rottevangers van Hamelin – behalwe dat hulle van Indië kom. Net soos die rottevanger sy towerfluit gebruik het om ontslae te raak van die rotplaag in die Duitse stad, so gebruik die Guptas die slangtowernaar in die Indiese volkskuns om sy slagoffers te hipnotiseer. Die Suid-Afrikaanse staatshoof en die kabinet is eers op glansgeleenthede en huispartytjies onthaal. Dit sluit die omstrede Gupta-familiebruilof van 2013 in. Foto’s en beeldmateriaal verraai die teenwoordigheid van etlike ministers en ANC-meelopers op die swierige troue by die blinkversierde Sun City. Daarna volg die individuele bearbeiding. Kabinetslede wat moontlik die familie se sakebelange kan bevoordeel, word miljoene rand aangebied om “bevorder” te word in posisies waar hulle die tenderproses en die bestuur van die voorradeketting na willekeur kan buig – solank die Indiërfamilie die grootste sny van die koek kry. ‘n Paar miljoen rand later word dieselfde tegniek op nuwe toetreders tot die Gupta-mark gebruik. Dit is hier waar die miljarde rand ter sprake kom. Gunslone word gebruik om lonende Transnet en Eskom-kontrakte te kry en so amper was die SAL ook gekaap en Denel kry ‘n Asiese vennoot. Hulle tentakels reik ook diep in die mynbou. Staatsentiteite soos die SABC word gebruik om ANC-hooggeplaastes gul te onthaal op ontbytsessies wat  teen betaling hoofsaaklik op die ANN7-televisiestasie van die familie uitgesaai word – deur personeellede wat met behulp van ‘n ANC-minister sommer baie gou permanente verblyfpermitte gekry het. Net om te wys dat die Guptas ook groot empatie met die werklose jeug in Suid-Afrika het, word die ANC-jeugleier met behulp van ‘n Indiese bank gehelp om ‘n huislening te kry. Aalmoese word ook onder die Black First Land First-beweging uitgedeel, – al word dit ontken – met die gevolg  dat die BLF die Guptas van sonsopkoms tot sonsondergang besing – darem in Engels – die land verstaan nie eintlik Hindi, Gujarat en Hindoestani nie. Die Guptas kom van Saharanpur in die noorde van Indië waar hulle ‘n reusetempel van miljoene rand ter ere van die Hindoegod Sjiwa – die vernietiger – opgerig het. Die broers is al sedert die negentigerjare in Suid-Afrika en sedertdien het hulle meteoriese opgang gemaak. Dit was egter eers in die nuwe millenium dat agterdog oor hulle ontstaan het en met die jongste sarsie gelekte e-posse is dit moeilik om te glo dat hulle nog nie terug in Saharanpur is nie. Nou skielik wil elke staatsmaatskappy hom van die familie distansieer en kommissies van ondersoek word aanbeveel om te kyk hoever hulle invloed strek. Hulle beskermheer, Jacob Zuma, gaan nie lank meer in dié pos wees nie en selfs die Zuma-faksie in die ANC begin kop uittrek. Dit is baie moontlik dat die laaste rot die sinkende skip sou verlaat het teen die tyd wat ‘n opvolger vir die omstrede president aangewys word. Al is dit ‘n “Titanic” van ‘n skip . . .

 

Nuuskommentaar: 5 Julie

Sirië ontbloot groter uitdagings in Midde-Ooste

Die sesjaarlange burgeroorlog in Sirië is lankal nie meer net ’n burgeroorlog nie. Terwyl President Bashar al-Assad met die hulp van Rusland en Iran ’n verbete stryd teen rebellegroepe, gesteun deur onder andere Amerika en Saoedi-Arabië, voer om beheer van die land, is die konflik in Sirië besig om die werklike vraagstukke oor mag in die Midde-Ooste duidelik te ontbloot.

 

Die oorlog in Sirië is besig om ou vraagstukke oor Midde-Oosterse landsgrense wat na die Eerste Wêreldoorlog deur Europeërs geskep is, weer na vore te bring. Terwyl die Koerde op die punt van onafhankliheid staan steun sommige Amerikaners soos die voormalige ambassadeur by die Verenigde Nasies, John Bolton, die skep van nuwe landsgrense wat die stryd tussen die Soenni’s en Sjiette, minstens in Sirië en Irak kan verlig. Die stryd tussen Amerika en sy Soenni-vriende soos Saoedi-Arabië aan die een kant en Rusland en die Sjiette van Iran aan die ander kant, raak toenemend duideliker, nie net in Sirië nie, maar ook in Irak en Yemen.

 

Die konflik in Sirië ontbloot ook belangrike vraagstukke oor die toekoms van groepe soos die Koerde, ’n volk wat die noorde van Irak en Sirië en suidooste van Turkye domineer en wat veral in die noorde van Irak op die randjie van onafhanklikheid staan. Die toekoms van die Alawis in Sirië en Turkye, sou President Bashar al-Assad tot ’n val kom, is ook onseker. Ook die toekoms van die Yazidi-minderheid is baie onseker met die meeste Yazidi’s wat reeds na lande in Europa gevlug het. Die Christenbevolkings van veral Sirië en Irak is onder groot druk en die vraag kan tereg gevra word oor of die Christendom ’n kans staan om in hierdie lande te oorleef.

 

Die stryd in Sirië is egter ook ’n stryd om invloed. Beide Amerika en Rusland het belangrike belange in die Midde-Ooste. Oor die afgelope paar weke is Amerika nog vêrder in die konflik in Sirië ingetrek en met die Amerikaners se besluit op 18 Junie om ’n Siriese vegvliegtuig af te skiet, kan ’n mens nou sê dat Amerika volledig tot die stryd toegetree het. Waar die Obama-administrasie swaar gefokus was op die ondersteuning van sogenaamde gematigde rebellegroepe, wat veral teen die Islamitiese Staat geveg het, is die Trump-administrasie toenemend besig om direk in konflik met die Siriese weermag te tree.

 

Terwyl Donald Trump verlede jaar in sy verkiesingsveldtog die teenoorgestelde belowe het, is sy administrasie besig om homself dieper en dieper in konflikte in die Midde-Ooste in te grawe. Ook Rusland bevind homself toenemend dieper ingegrawe in die konflik terwyl sy eie belange soos belangrike weermagbasisse in die Midde-Ooste beskerm moet word.

 

Die konflik in Sirië het die potensiaal om tot oorlog tussen Amerika en Iran en selfs tussen Amerika en Rusland aanleiding te gee. Ook Saoedi-Arabië en Iran grom vir mekaar en is in praktyk reeds in Yemen in oorlog met mekaar gewikkel.

 

Dapper leierskap en visionêre denke is nodig om die konflik in Sirië, maar ook in die hele Midde-Ooste, te ontlont. Die huidige stryd om mag en invloed deur lande van die streek, maar ook van groot wêreldmoondhede voorspel egter eerder meer as minder konflik.

 

Nuuskommentaar: 4 Julie

#GuptaLeaks bly aan hap

Twee bydraes van die Daily Maverick oor die sogenaamde #GuptaLeaks kan ’n lang skaduwee werp oor die ANC se beleidskonferensie wat Vrydag begin het.

Volgens die nuutste onthullings het die Vrystaatse provinsiale regering in effek R30 miljoen bygedra tot die Gupta-troue by Sun City wat destyds tot die onthulling oor die hegte vriendskap tussen pres. Jacob Zuma en die Guptas gelei het.

Die onthulling betrek nog ’n omstrede Vrystaatse projek, naamlik die Vrede-suiwelprojek. Hoewel die Guptas deurlopend enige betrokkenheid by die projek ontken het, het #GuptaLeaks nou wel duidelike bande aangetoon. Hiervolgens is R30 miljoen aan ’n dopmaatskappy in Dubai oorbetaal, en die geld kort daarna terug na Suid-Afrika gestuur is waar vir die troue betaal is.

Die destydse Vrystaatse LUR vir Landbou, Mosebenzi Zwane, is ondertussen as minister van Minerale aangestel. Lang vingers word ook na hom gewys in verband met beweerde Gupta-bande.

Die Vrystaatse provinsiale regering se optrede jeens die Vrede-projek, was deurgaans vreemd. Opposisiepartye het op ondersoeke deur onder meer die Openbare Beskermer aangedring. Die ouditeur-generaal het groot fout gevind. Aandrang op dissiplinêre optrede teen skuldiges word gewoon geïgnoreer.

Die beriggewing van die Daily Maverick kan nie anders as om enorme reperkussies te hê nie. Daar word onder meer ’n beskuldigende vinger na ’n bekende en gerekende ouditeursfirma gewys, wat nie net geen fout met die finansiering van die troue kon kry nie, maar waar die betrokke hoof van die firma se afdeling wat dit ondersoek het, die troue as gas bygewoon het en dit as die geleentheid van die millennium beskryf het. Daar sal erg walgegooi moet word om ander sake wat die firma ondersoek het, nie ook onder verdenking te laat beland nie.

Sal premier Ace Magashule hierdie jongste verwikkelings kan oorleef? Magashule en sy twee seuns is reeds tevore by die Guptas betrek. Magashule het hierna die wind van voor gekry toe die minister van polisie op die sosiale media ’n striemende aanval op hom geloods het. Oud-premier Lekota het hierna openlik gesê hy het Magashule destyds as LUR afgedank omdat die LUR staatsgeld gesteel het.

Die nuutste onthullings kon sekerlik ook nie vir Zuma op ’n slegter tyd gekom het nie. Die burgerregte-organisasie, Outa, het pas dokumente voltooi wat onder meer aan alle LP’s en die Vervolgingsgesag oorhandig gaan word, waarin volgens Outa genoeg bewyse is om Zuma krimineel te vervolg. Volgens Outa is hul saak baie versterk deur die #GuptaLeaks tot in daardie stadium.

Gaan Zuma die beleidskonferensie oorleef? Selfs a oorleef hy dit nou, sal hy erg gewond wees. Met nog Gupta-lekkasies onderweg kan die wond fataal wees.

Terwyl die troue van die millennium met R30 miljoen Vrystaatse belastingbetalersgeld betaal is, was ’n parlementêre afvaardiging wat die Pelonomi- en Universitas-hospitale pas besoek het, geensins beïndruk nie. Skole sukkel om hul subsidies uit die staat te kry, en welsynsorganisasies is kort-kort in die knyp weens die nie-betaling van subsidies.

 

Nuuskommentaar: 3 Julie

Menseregte tot die derde mag

 

Op 26 Junie, die vooraand van die  Nie-Verteenwoordigde Nasies en Volke Organisasie (UNPO) se dertiende Algemene vergadering, het verskeie akademici, politici en ander rolspelers aan ‘n inleidende konferensie deelgeneem wat op derde generasie regte fokus.

Hierdie konferensie – Die deel van perspektiewe oor die regte van nie-verteenwoordigdes – word ondermeer deur die navorsingsinstituut Third Generation Project ondersteun en volgens dié instituut moet die onderskeiding van Regs-generasies teruggespoor word na die Tsjeggiese juris, Karel Vasak.

In 1977 het Vasak in die Unesco Courier aangevoer dat kollektiewe regte van individuele regte onderskei moet word en dat sekere regte nie van groepe of gemeenskappe vervreem mag word nie, waaronder die reg tot selfbeskikking sowel as die erkenning van individue se deelwees aan sosiale groepe.

Voorts hou derde generasie regte daarmee rekening dat mense sosiaal geankerde wesens is, dat hulle gemeenskappe vorm en saam streef na en werk vir gedeelde ideale.

Die erkenning en bevordering van derde generasie regte is ‘n normale ontwikkeling van eerste generasie regte – individuele regte wat op burgerlike–  en politieke regte fokus – en tweede generasie regte: individuele regte wat op sosiale en ekonomiese regte fokus.

Trouens, eerste generasie regte wat op die denke van John Locke gebaseer is, is beperk tot die vorige eeu se politieke-, sosiale en ekonomiese omstandighede.  In die 21 ste eeu geld egter ander werklikhede.

Dr Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfrontplusparty, het tydens die derde paneelbespreking van die UNPO-konferensie –Die mag van voorspraak ter bevordering van politieke verandering- betoog vir die nie-geweldadige bevordering van minderheidsgemeenskappe se kollektiewe regte.

Hy het ondermeer na die Franse skrywe Alexis de Tocqueville verwys wat minderhede se dilemma so opgesom het: ‘Van die minderheid word verwag om deel van die meerderheid te word, maar hulle kan dit net doen as hulle bereid is om dinge wat vir hulle belangrik is prys te gee en dit veroorsaak konflik tussen hulle en die meerderheid.’

Vir State is minderheidsgemeenskappe problematies en die beste ‘oplossing van die probleem’ is om die minderheid te assimileer, te akkultureer of te absorbeer.

Die vraag bly hoe reageer minderheidsgemeenskappe op die maklike uitweg wat meerderheidsregerings voorstaan?

Vir Afrikaners word kollektiewe en gekoördineerde optrede al hoe dringender.

Die vernietiging van kulturele erfenis soos die Bloemfonteinse Raadsaal is simbool van vernietiging en ondermyning wat Afrikaners as gemeenskap op ander terreine ervaar.

Enkelmedium Afrikaanse skole word eweneens gedemoniseer en in stryd met nasionale- en internasionale handveste geviktimiseer.

Ondanks die huidige staat se onderskrywing van die Konstitusie sowel as internasionale- en streeks verdrae, waaronder die Afrika Unie se Handves vir mense– en gemeenskapsregte, word Afrikaners in die openbaar en in politieke raadsale se regte op eiendom, kultuur-, taal en ander gemeenskaplikhede geïgnoreer of gedemoniseer.

Die noodsaak om deur gekoördineerde pogings ‘n positiewe politieke verandering vir minderheidsgemeenskappe te bewerk vereis toenemend mobilisering van hulpbronne, die identifisering van kwessie en strydpunte, die organisering van srtukture en meganismes en die implementering van volhoubare strategieë.

Met ander woorde: Die bevordering en implementering van menseregte tot die derde mag.

 

Nuuskommentaar: 30 Junie

Die adjunkpresident se ANC-kleed . . .

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het weer sy verbondenheid aan die ANC bewys tydens sy spreukbeurt op die leierskapkonferensie van die Gesondheid en Onderwysvakbond, Nehawu. Die konferensie eindig presies op die dag wat die ANC se nasionale beleidskonferensie begin. Nehawu het ‘n magtige vakbond geword omdat duisende van sy lede beroepe volg wat besonder gewild is onder die land se swartmense – gesondheid en onderwys. Die adjunkpresident het met ‘n pleitende stem gevra dat vakbonde en vennote van die ANC meer as ooit tevore moet hande vat om die ANC sterk te maak – veral met die oog op die 2019-verkiesing. Hy het verwys na die DA en die EFF wat op die oomblik geweldig veld wen. Sy grootste kommer is die einde van die jaar se verkiesingskonferensie wanneer nuwe leiers vir die ANC genomineer word. Volgens hom sal die ANC teen daardie tyd bewapen word deur die beste beleidsrigtings moontlik. Dit sal glo gerugsteun word deur rewolusionêre radikalisme. Maar, waarsku hy, die ANC se pad vorentoe kan net gelykgemaak word as daar eenheid in die Drieparty-alliansie en aanverwante organisasies is.  Hy bepleit ook hernuwing, maar verduidelik nie presies wat hy daarmee bedoel nie. Die ANC wat hy skets stem ooreen met die ANC wat daar nog altyd was. Behalwe dat president Jacob Zuma die laaste jare erge verdeeldheid veroorsaak het omdat talle van sy ondersteuners hom nie meer vertrou nie.  Nehawu het van die geleentheid gebruik gemaak om te waarsku dat Cosatu in ‘n doodloopstraat is omdat soveel vakbonde wanfunksioneel is. Die vakbond sê drastiese optrede is nodig om Cosatu van binnegevegte, wanbestuur en dodelike gevegte oor die vakverbond se topposte te red. Adjunkpresident Ramaphosa het instemmend geknik, maar sy waaksame oog het oor die Kommuniste-afgevaardigdes gegaan. Die SAKP-leier, Blade Nzimande, het aan Nehawu-lede gesê hy twyfel steeds of die ANC die vermoë het om die land te lei. Volgens hom moet die ANC-strukture dringend gewysig word om weer momentum te kry. Hy sê die alliansie is besig om uitgedien te raak en herkonfigurasie is dringend nodig. Die SAKP hou ook aanstaande maand sy belangrike konferensie en na verwagting sal die party dan finaal besluit of hy nog saam met die ANC gaan stap. Die Kommuniste-party in die Vrystaat het reeds besluit om die verkiesing alleen aan te durf. Gaan die Nasionale SAKP dieselfde rigting inslaan?  Miskien is dit die rede waarom die adjunkpresident so pleit vir ‘n verenigde front sodat die ANC kan voortbestaan. Wat laat hom dink dat dit die enigste organisasie is wat die land reg kan bestuur? Veral na soveel skandes en omstredenheid waarin die ANC gedompel is. Dit is die land wat opgehemel moet word, nie die ANC nie. Die party het sy kans gehad . . . .

 

 

Nuuskommentaar: 29 Junie

Amerika se verlore stryd in Afganistan

 

Meer as vyftien jaar nadat die Verenigde State van Amerika op 7 Oktober 2001 besluit het om Afganistan binne te val en die Taliban, wat op daardie stadium dié land met ’n ystervuis beheer het, te onttroon, lyk die kanse op stabiliteit en vrede in dié land eerder onwaarskynlik.

 

Die amptelike oorlog het reeds in 2014 tot ’n einde gekom met meer as 100 000 mense, insluitende soldate van meer as tien lande, sowel as ’n groot aantal burgerlikes, wat hul lewens weens die konflik verloor het. Tot op hede is byna 2300 Amerikaanse soldate dood en meer as 20 000 beseer in die langste oorlog waarby die VSA nog betrokke was. Die koste van die oorlog in Afganistan beloop reeds honderde miljarde dollars.

 

Na aanvanklike sukses met die onttroning van die Taliban het die stryd om die vestiging van ’n stabiele regering in Afganistan meer teëspoed as voorspoed beleef. Toe President Obama in 2008 die leisels by George W. Bush oorgeneem het, was dit gou duidelik dat Amerika nie sommer net uit Afganistan kon onttrek nie. Teen 2011 het Obama die teenwoordigheid van Amerikaanse soldate in Afganistan tot 100 000 verhoog met die hoop dat die Taliban so finaal uitgewis kon word. Vandag is daar 8500 Amerikaanse soldate in Afganistan en oorweeg President Trump om dié getal met tussen 3000 en 5000 te verhoog.

 

Die vraag is egter: Wat sal dit alles help? Moraal in die Afgaanse weermag is besonder swak, terwyl burgerlikes min vertroue in die land se regering het. Mense leef in erge armoede en terreurgroepe se boodskap spreek gereeld tot veral jong mans wat geen toekomshoop het nie.

 

Sowat 40% van Afganistan se grondgebied word weer deur die Taliban beheer en gewelddadige aanvalle, meestal bloedige selfmoordbomontploffings, vind byna daagliks in die hoofstad, Kabul en ander stede plaas.

 

Die Taliban is lankal nie meer die enigste probleemgroep in Afganistan nie. Die Islamitiese Staat het die afgelope tyd sy teenwoordigheid in Afganistan wesenlik uitgebrei, terwyl nog ’n terroristegroep, die Haqqani-netwerk, vir sommige van die bloedigste aanvalle in Kabul verantwoordelik is.

 

Dit het onlangs aan die lig gekom dat Rusland en Iran samesprekings met die Taliban voer. Die verwagting onder meer en meer politici in die Midde-Ooste is dat die Taliban ’n realistiese kans staan om weer beheer oor Afganistan oor te neem. Nie 3000 of selfs 5000 addisionele Amerikaanse soldate sal so ’n oorname stuit nie. In 2011 kon nie eers 100 000 soldate die Taliban se opmars stuit nie.

 

Die realiteit is dat Afgaanse terreurgroepe en hul leiers reeds vir lank deur individue en groepe in Pakistan ondersteun word. Sonder die uitwissing van Moslem-ekstremiste in Pakistan, sal terreur in Afganistan nie gestuit kan word nie. Terwyl Amerika sy hande vol het in Afganistan, Irak, Sirië en selfs Libië, weet niemand regtig hoe die Pakistan-uitdaging hanteer kan word nie.

 

Die Amerikaners hou egter nie daarvan om ’n oorlog te verloor nie en sal sekerlik voortstoom in Afganistan met meer soldate en nog miljarde dollars se uitgawes. Intussen raak dit moeiliker en moeiliker om Amerikaanse militêre betrokkenheid in Afganistan te verdedig.

 

 

Nuuskommentaar: 28 Junie

ANC beleidskonferensie moet na korrupsie kyk

 

Die ANC se beleidskonferensie vind eerskomende Vrydag by NASREC in Johannesburg plaas. Dit is belanrik om net eers kennis te neem dat die beleidskonferensie nie oor die bevoegdheid beskik om ANC beleid te wysig nie. Daar word na bestaande beleid gekyk en wysigings word voorgestel.  Slegs by die ANC se nasionale konferensie word hierdie voorstelle in oorweging geneem en word wysigings aan bestaande beleid aanvaar of afgekeur. Mediaberigte dui daarop dat die ANC homself daarmee getaak het om die uitdaging van armoede, ongelykheid en werkloosheid te ondersoek.

Dit is duidelik dat die komende beleidskonferensie baie sterk daarop gaan fokus om eenheid binne die party te bewerkstellig. Op die voorblad van elkeen van die besprekingsdokumente staan daar: “Kom ons verdiep eenheid”. Maar waarom is dit so belangrik om eenheid te bevorder terwyl daar duidelike teenkanting teen president Jacob Zuma is? Die antwoord is ‘mag’. Die vrees binne die ANC is nie dat Zuma se gewildheid gaan taan nie maar eerder dat dit daartoe lei dat die ANC in die proses hulle mag verloor.

Alhoewel armoede en werkloosheid ongetwyfeld aandag moet geniet behoort die ANC se beleidskonferensie veel eerder voorstelle te formuleer om korrupsie aan te spreek. President Zuma se ongesonde verhouding met eers die Schaik- en later die Guptafamilie maak dit duidelik dat korrupsie `n reuse probleem binne die ANC is. Eintlik is die groter probleem die ANC se onvermoë om dit aan te spreek. Na twee termyne is Zuma steeds nie, soos sy voorganger Thabo Mbeki, herroep nie. In die parlement staan die speaker, Baleka Mbete, soos `n wafferse hekwagter tussen die president en opposisiepartye. Geen vrae oor korrupsieaantygings word in die nasionale vergadering geduld nie.

Intussen slaag die Zuma-faksie binne die ANC meesterlik daarin om Zuma se kritici binne die party as verraaiers uit te kryt wat die ANC probeer ontsetel. En die enigste manier waarop die anti-Zuma faksie buite die ANC die politieke terrein kan betree is as hulle bereid is om soos hulle voorgangers in COPE, die UDM en die EFF in die opposisiebanke te sit. Dus kom daardie klein woordjie weer ter sprake – ‘mag’.

Te oordeel aan die uitslae van die afgelope munisipale verkiesing lê die beskerming van mag en die keuse om die ANC as die regerende party te behou nie by die Zuma- of die anti-Zumafaksie nie. Die kiesers sal besluit of hulle bereid is om vir `n party te stem wat nie die bereidwilligheid toon om korrupsie aan te spreek nie. In die afgelope munisipale verkiesing is daardie protesstem uitgebring deur weg te bly van die stembus – nie deur vir `n ander party te stem nie. En tensy die ANC daarin slaag om sy kiesers te oortuig dat hulle korrupsie kan aanspreek en skuldiges tot verantwoording roep kan hy dieselfde uitslag in 2019 te wagte is. Dit is goed dat die ANC se beleidskomitee armoede en werkloosheid by die komende beleidskonferensie bespreek. Dit is egter baie belangriker om `n beleid te formuleer oor die hantering van korrupsie binne die party.

 

Nuuskommentaar: 27 Junie

SUID-AFRIKA , AZANIË OF  GUPTASTAN

– DIT IS ʼn KWESSIE VAN PRIORITEITE EERSTE

 

Mnr Nathi Mthethwa die Minister van Kuns en Kultuur het gehoop om die nasionale agenda wat nou sentreer om die Gupta e-posse, te verander deur ʼn stelling dat daar  ʼn geskikte naam vir Suid-Afrika gevind moet word. Mthethwa, wat ook ʼn lid van die  ANC-NUK en ʼn geswore Zuma lojalis is het ANC kaders onlangs toegespreek  en onder andere gesê  “Suid-Afrika is nie die naam van die land nie, maar net ‘n geografiese beskrywing van waar ons is.” Een van die kaders het die naam Azania voorgestel.

 

Sy standpunte het hier en daar mediadekking gekry maar die weerligafleier om aandag weg te trek vanaf die president en die ANC se interne moeilikheid was nie suksesvol nie. Naamsveranderinge bring nie die veranderinge waarop mense gehoop het nie. Soveel dorpe, strate en munisipaliteite se name het verander, maar dieselfde probleme het gebly en net groter geword. Slaggate het meer geword, dienslewering het nie verbeter nie en korrupsie gedy. Die blote verandering van die naam wat simbolies is en transformasie reflekteer kan op die korttermyn politieke wins inhou maar vir die langtermyn is dit geen oplossing nie.

 

Naamsverandering in Suid-Afrika is dus heeltemal ʼn legitieme en ook verstaanbare proses. Dit word allerweë aanvaar dat plekname standvastigheid en sekerheid skep. In dokumente van die Stad Kaapstad word die volgende gesê:

  • Name is belangrike liggingsinstrumente en navigasiehulpmiddels vir ’n voorspelbare, bestuurbare en ordelike omgewing, en skep ‘n “plekbesef”.
  • Name verteenwoordig die begin en einde van reise of bestemmings.
  • Name is plekbakens en fokuspunte deur simboliek, assosiëring en herinnering.
  • Name het kragtige positiewe of negatiewe betekenisse vir mense, en bied geleenthede om eensgesindheid binne ‘n gemeenskap te bevorder, of pyn
  • en verdeling te vererger.

 

Waar Suid-Afrika – nou meer as ooit – ‘n behoefte aan ware versoening het en met opregte dade woorde, aksies en gebare eengesindheid moet bevorder, het oorhaastige naamsveranderinge die potensiaal om groter polarisering in gemeenskappe teweeg te bring. Die wyse waarop daar tot dusver in die meeste plekke in die land omgegaan is met plekname en dit geïmplementeer is, het nie eensgesindheid en versoening, bevorder nie, allermins.

 

Binne Suid-Afrika word naamverandering nie gekoppel, aan kulturele versoening nie, maar ook aan ontplooiende politieke en transformasiedoelstellings. Ondeurdagte, onsensitiewe en eensydige pleknaamsveranderinge, wat al as kulturele sloping beskryf is is ruim deur die ANC regering ingespan om struggle helde te vereer. Veral is dit ook handig as ʼn politieke en ideologiese instrument om die “apartheid” en “koloniale” verledes van minderhede by te kom. Soveel sinvolle voorstelle oor naamsverandering is in die verlede gemaak deur verskillende rolspelers maar die ANC het deur sy optrede gewys dat voorstelle met moontlike oplossings nie ʼn plek het in sy toepassing van meerderheidsdemokrasie nie.

 

Dit bring ons nou terug by die voorstel dat Suid-Afrika se naam nou kwansuis moet verander. Afrika het sy kwota name van lande wat name verander het. Ons onmiddellike bure Zimbabwe was oorspronklik Rhodesië, in die dae die broodmandjie van Afrika, Suid-Wes Afrika het Namibië geword. Die naamsverandering as sulks het nie bygedra  tot vertroue in die lande en hul mense nie. Inteendeel. Veel eerder is dit die politieke aksies wat aandag trek en in Zimbabwe se geval wat die land vernietig het.

 

Die swartbewussyn groeperinge wat die naam Azanië bevorder is ook ietwat oningelig aangesien die naam afkomstig is van die Antieke Grieks wat verwys na verskeie gedeeltes van Suid-Oosters tropiese Afrika.

 

Die 66 verwysings na Suid-Afrika in die Suid-Afrikaanse Grondwet (Wet108 van 1996) bevestig die naam van die land, die staatsvorm, en vestig ook die term Suid-Afrikaner vir die inwoners van die land. Dit alles wys hoe ondeurdag, onverantwoordelik en oningelig die minister van Kuns en Kultuur is. Naamsveranderinge het enorme implikasies, vir ʼn land nog meer, en politieke leiers moet besef dat naamsveranderinge heel onder op ʼn lys van prioriteite behoort te lê.  Naamsveranderinge spreek nie armoede, werkloosheid, korrupsie wanbestuur, gebrekkige dienslewering, lae of geen ekonomiese groei en misdaad aan nie.

 

 

Nuuskommentaar: 26 Junie

Fort Bloemfontein

Die staking en vandalisme deur SAMWU-werkers in Bloemfontein, se impak strek veel verder as net die stad, of die groter munisipale struktuur, Mangaung wat onder meer Thaba Nchu en Botshabelo ook insluit. Verskeie plattelandse dorpe, waarvan sommiges taamlik ver van Bloemfontein is, is ook ingesluit, met behoorlike dienslewering as motivering.

Dit strek ook veel wyer as die afbrand van die historiese juweel, die stadsaal.

Maar hoe lyk hierdie sogenaamde behoorlike dienslewering? Verskeie projekte is minstens voorlopig onvoltooid gestaak omdat die kontrakteurs nie betaal nie. Vullisverwydering is so haak en tak, inwoners weet nie sommer of dit bestaan nie. Die stad se watertoevoer is weens wanbetaling deur Bloemwater beperk, maar gou na ’n afbetalingsooreenkoms herstel. Maar nie voor verskeie woonbuurte sonder water gesit het nie, al het die burgemeester ontken dat daar waarheid steek in die sogenaamde gerug dat daar ’n haakplek met Bloemwater is.

Net om sout in die wonde te vryf was ’n deel van die stad sonder krag, en sommige inwoners se Telkomlyne dood. Dit het, so ver bekend, niks met die staking of swak munisipale bestuur te make nie, maar dit toon nietemin hoe maklik dit kan gebeur dat ’n stad heeltemal tot stilstand kan knars.

Hoewel die staking formeel oor ’n wye aantal kwessies handel, soos ontevredenheid met korrupsie, nepotisme, kaderontplooiing en ander, en die salariskwessie amptelik eintlik net ’n kleinerige kwessie was, het sake uiteindelik erg om die salariskwessie lelik geword. ’n Deel van die probleem is dat sommige kategorie werkers se salarisse laer is as wat dit volgens die stad se metrostatus moet wees, terwyl die burgemeester, raadslede en senior amptenare almal metro-salarisse verdien.

Onderliggend speel lojaliteit aan pres. Jacob Zuma en Cosatu se ongemak met Zuma ’n rol. Samwu is by Cosatu geaffilieer. Op 1 Mei is Zuma ook in Bloemfontein uitgejou, en sy spreekbeurt by Cosatu se Werkersdagverrigtinge is opgeskort.

En dit is hierdie faktor wat maak dat dit wat nou in Bloemfontein gebeur, soos domino’s oor die land kan spoel.

Die vandalisme is ook nie net tot Bloemfontein beperk nie. In Wellington is die historiese Goodnow-saal verlede jaar tydens die #FeesMustFall-veldtog afgebrand. Bloot interessant, beide sale is deels opgerig met hout wat van vergane houtskepe bekom is. AfriForum het pas ’n onsmaaklike afjakbrief van ’n senior amptenaar van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie ontvang, toe dié organisasie aangebied het om te help omdat die stene en hout aan die reën uitgelewer word, en restourasie baie bemoeilik word.

Terwyl die moontlike verlies van twee historiese bakens die aandag trek, was daar ook reeds ’n wye verskeidenheid voorvalle van vandalisme landswyd. Die standbeeld van oud-pres. Blackie swart het beskadig in ’n visdam op die Kovsiekampus beland, die taalmonument op Burgersdorp is beskadig, waardevolle skilderye op die Ikeykampus is vernietig, en so kan die lys langer en langer gemaak word. Op Coligny is heel onskuldige mense se huise vernietig of erg beskadig.

Die belangrikste is dat leiers die regte voorbeeld moet stel, en nie op die voorpunt staan met korrupsie of om die land te verkwansel nie.

 

Nuuskommentaar: 23 Junie

Die magte van die Openbare Beskermer

 

Dit was ‘n skok om te verneem dat Suid-Afrika se huidige Openbare Beskermer, advokaat Busisiwe Mkhwebane, aanbeveel het dat die Grondwet hersien moet word. Dit is glo sodat die Suid-Afrikaanse Reserwebank ’n gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei in die republiek kan bevorder, asook verseker dat die sosio-ekonomiese welstand van burgers beskerm word. Indien die OB haarself toegelaat het om die Grondwet te bestudeer, sou sy besef het dat die Reserwebank se hoofdoel is om die rand te beskerm. Terselfdertyd kondig sy aan dat sy die president se hersienings-aansoek van haar voorganger se staatskapingverslag gaan teenstaan. ‘n Mens wonder of dit haar troosprys is om die land gerus te stel dat sy objektief is. Of het sy deel van die gevaarlike politieke spel in Suid-Afrika geword?

‘n Jaar en vier maande gelede het die Sentrum vir Menseregte aan die Universiteit van Pretoria in samewerking met die Suid-Afrikaanse Regsvereniging ‘n akademiese seminaar aangebied om die toekomstige pad van die Openbare Beskermer te bespreek. Die deelnemers aan dié sogenaamde kollokwium het regspraktisyns, akademici en studente vanoor die land ingesluit. Dit is hoofsaaklik gereël om die magte van die Openbare Beskermer te bespreek, veral in die lig van ‘n hofuitspraak dat haar/sy beslissings nie bindend is nie en bloot as aanbevelings gereken moet word. In Brittanje is die Openbare Beskermer – of Regsombudsman – se bevindings nie bindend nie, maar in Swede gaan dié amp gepaard met uitgebreide magte  – selfs die bevoegdheid om beslissings van ’n geregshof op hersiening te neem. Suid-Afrika se Grondwet bepaal uitdruklik dat die Openbare Beskermer die bevoegdheid het om bindende regstellende stappe aan te beveel. Die Grondwethof het dan inderdaad besluit dat die president en die parlement albei gefaal het om die vorige OB  se aanbevelings ten opsigte van die Nkandla-kwessie te volg. Uiteraard het dit gelei tot ‘n felle aandrang deur ‘n groot deel van die Opposisie dat die president vervolg moet word omdat hy sy ampseed oortree het. Dit val vreemd op dat die OB se gesag betwyfel word terwyl nóg ‘n Hoofstuk Nege-instelling – die Onafhanklike Verkiesingskommissie –  bevoeg is om bindende beslissings te maak wat slegs deur ’n geregshof verwerp kan word. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie asook die Mededingingskommissie se uitsprake is ook bindend. Die Suid-Afrikaanse Menseregte-kommissie se bevindings word ook geredelik aanvaar. Tot op datum het die regering hom nog altyd gesteur aan die OB se bevindings en dit waar moontlik, toegepas. Tydens die Zuma-administrasie is dié pos egter geminag, verneder en alle aanbevelings vir regstellende optrede uit dié oord, is verwerp. Advokaat Busisiwe Mkhwebane loop op dun ys. Sy kan nie ter wille van haar eie behoud besluit om die president se opponering van die vorige OB se verslag oor staatskaping, te troef, maar terselfdertyd die land se Grondwet op die spel plaas nie. Sy is veronderstel om die Suid-Afrikaanse samelewing met oorgawe te dien omdat haar pos haar toelaat om growwe wanadministrasie aan die kaak te stel. Of is sy besig om die pos van draadsitter te vervolmaak omdat sy self nie weet waarop die politiek afstuur nie?

 

 

Nuuskommentaar: 22 Junie

OM TE BEHOORT: HERWINNING VAN AFRIKANER-IDENTITEIT

 

Om te wil behoort, is ‘n basiese menslike kenmerk. Mense wil deel voel van ‘n groep. Hierdie behoefte word byvoorbeeld in groepsdruk gesien, waardeur ‘n indiwidu iets doen wat nie uit eie gedagte kom of met goeie rede gedoen word nie, maar bloot omdat dit hom deel maak van ‘n groep.

Die bestaan van volke kom in ‘n geglobaliseerde wêreld in verwarring, omdat die verband tussen woonplek en volkwees vervaag het, en die Amerikaanse idee dat ‘n volk uit baie steeds kenbare verskillende volke kan bestaan maar een patriotisme kan hê, vandag se denke oorheers.

Die geglobaliseerde wêreld met sterk media wat dieselfde inligting, temas, logos en voorkomste oombliklik universeel vertoon en opdring, het die grense van voorkoms en optrede vervaag.

Die Afrikaner is ‘n unieke volk: in die ligging van sy woonplek op die aardbol as westerse volk op Afrikabodem, in sy taal wat relatief klein in sprekerstal is en tog voluit ontwikkel is sodat dit alle vakgebiede en lewensterreine hanteer, en dat hierdie volk as minderheid in getal in die hele Suid-Afrika se geskiedenis ‘n deurslaggewende rol gespeel het.

Die Afrikaner het min uiterlike tipiese kenmerke. Sy protestants-christelike oorsprong en harde wordingsgeskiedenis geïsoleer van sy stamlande het, saam met die calvinistiese inslag, soberheid afgedwing, en die Afrikaner is dus eerder deur geestelike eienskappe soos geloof, dapperheid, deursettingsvermoë en inisiatief getipeer. Sy kulturele gewoontes was nog altyd maar afgeleides van verskillende stamlande en hierdie koppeling word voortgesit deur hoe byvoorbeeld gewoontes vir troues en begrafnisse maar aanhou om neigings elders in die westerse wêreld te volg.

Sy identiteit word getipeer deur Afrikaans as sy taal, en sy protestants-christelike herkoms. Die christelike karakter is oorspronklik spesifiek protestants en gereformeerd, wat ‘n afkeer in uiterlike vertoon het. Die hardheid van volkswording en die oopmaak en opbou van Suid-Afrika het in elk geval nie veel ruimte gelaat vir aandag aan uiterlike dinge nie.

Die werklikheid dat Afrikaner-identiteit aan protestants-christelikheid, aan die gereformeerde belydenis, gekoppel is, beteken dat die Afrikaner sy identiteit verlaat as hy sy kerkwees-geaardheid verlaat. Sy twee deurlopende tiperende kenmerke is sy kerkwees en sy taal. Sy kerkwees bepaal geloof in God eerste, dus is selfs Afrikaans tweede en is die behoud van sy kerkwees deurslaggewend.

Afrikaners wil behoort, en dis menslik om in sigbare groepering te wil vergader. Die Angus Buchan-byeenkoms in April vanjaar en die opkoms by die begrafnis van Eugene Terblanche ‘n paar jaar gelede het dit bewys. Die herwinning van identiteit en selfvertroue is egter moeiliker as dit: dit eis ‘n terugkeer na die ware kerk in ‘n tyd waar die gees van menseregte en godsdiensgelykheid sterk is. Die Afrikaner sal sy sterkte in vashou aan die belydenis van die hervorming moet herwin om teen die wêreldgees staande te bly.

Dis nie sy Afrikaanspraat wat hom primêr definiëer en weer selfvertroue gaan gee nie. Dis sy geloof in die Drie-Enige God en kerkwees in die belydenis van die hervorming wat hom tipeer. Dis waaraan hy moet behoort om te oorleef.

 

Nuuskommentaar: 21 Junie

Franse verkiesingsuitslag nie oop mandaat vir Macron

Die Franse is ’n wispelturige volk. Hul geskiedenis vertel die verhaal van revolusie, opstand en hervorming. Tog is die Franse ook ’n konserwatiewe volk wat graag terugkeer na wat hom uniek en anders maak.

 

Generaal Charles de Gaulle, die vader van die naoorlogse Franse republiek word vandag nog sterk onthou as die leier wat Franse konserwatisme na die Tweede Wêreldoorlog hervestig het en daarna vir dekades ekonomiese sukses vir Frankryk verseker het. Sedert die regering van Francois Mitterrand gedurende die 1980’s en 1990’s het Frankryk egter ’n nuwe vlak van onstabiliteit begin ervaar. Sosialistiese hervormings het tot toenemende ekonomiese onmededingendheid aanleiding, gegee terwyl massa-immigrasie uit voormalige Franse kolonies en die Midde-Ooste tot ’n groeiende en onrustige Moslembevolking, die grootste in enige Europese land, gelei het.

 

Vandag is Frankryk ’n land met ’n onseker toekoms. Frankryk is steeds die tweede grootste Europese ekonomie, sou die Verenigde Koninkryk buite rekening gelaat word, en ’n land met ’n sterk weermag en enorme invloed in wêreldpolitiek. Tog is dit ook ’n land met ’n stagnante ekonomie, 10% werkloosheid wat heelwat hoër as die meeste van sy buurlande is, landelike verval, gereelde terreuraanvalle en ’n geïsoleerde en onrustige Moslembevolking van minstens ses miljoen mense.

 

Die Franse bevolking se reaksie op die land se huidige uitdagings was Sondag duidelik toe die tweede ronde van parlementêre verkiesings plaasgevind het. Dit is nie die uitslag self wat skokkend is nie, maar wel die feit dat 56% van kiesgeregtigdes besluit het om tuis te bly en nie te gaan stem nie. Sondag se deelnamekoers is die laagste sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. ’n Meerderheid van Franse voel duidelik dat deelname aan parlementêre verkiesings geen bydrae tot die hantering van die land se groot uitdagings kan lewer nie.

 

Die tweede reaksie van Franse kiesers was om die gevestigde politieke partye wat oor die afgelope paar dekades afwisselend Frankryk regeer het, by die stembus te verneder. Die Sosialistiese Party, wat tot voor Sondag se verkiesing die grootste party in die Franse parlement was, se setels het van 328 tot slegs 45 afgeneem. Die sentrumregse Republikeine se setels het van 225 tot 137 afgeneem. Die onlangs verkose president, Emmanuel Macron, se nuutgestigte party, La République en Marche, het van geen setels tot 350 setels, sowat 60% van alle setels in die parlement, toegeneem.

 

Die Franse het duidelik min vertroue in die land se politieke stelsel en nog minder vertroue in die politieke partye wat vir die huidige probleme verantwoordelik is. Dit skep ’n groot uitdaging vir Macron wat in Mei met ’n groot meerderheid tot president van Frankryk verkies is. Aan die een kant is Macron in ’n sterk posisie met ’n meerderheid in die parlement wat dit vir hom maklik sal maak om sy agenda deur te voer.

 

Aan die ander kant moet Macron besef dat ’n meerderheid van Franse nie eers die moeite wou doen om aan die verkiesingsproses deel te neem nie. Sy sterk mandaat kom dus van ’n minderheid van die land se bevolking. Sal die wispelturigheid van die Franse tot groter politieke drama oor die volgende paar jaar aanleiding gee of sal die land soos onder De Gaulle ’n fase van konserwatisme as veilige hawe kies? ’n Uitdagende tydperk lê vir die Franse voor.

 

Nuuskommentaar: 20 Junie

Kan stryd teen ISIS gewen word?

Kan die stryd teen die Islamitiese Staat-beweging gewen word?

Suid-Afrikaners, wat lank aan ’n rebellie en terreuroorlog blootgestel was, was terdeë bewus daarvan dat so ’n stryd hoofsaaklik in die harte en gedagtes van mense woed, en nie soseer op die oorlogsfront nie.

Die radikale Isis het egter van die patroon van vele Moslem-gebaseerde terreurgroepe voor hom, soos die Swart September en ander Palestynse groepe, en die latere Al Kaïda geneem wat min aandag geskenk het aan die oorneem van gebied, wat dan verdedig en bestuur moes word. Soos Isis sy kalifaat beset het, het Hamas, die Gaza-strook beset, wat later met verkiesings en ’n ooreenkoms effektief sy eie geword het. Onmiddellik het Hamas ’n blok aan die been gehad. Die oomblik wat ’n vuurpyl vanuit die Gaza-strook op Israel afgevuur word, is die mense en infrastrukuur in die gebied aan weerwraakaanvalle blootgestel. Die Palestyne het die internasionale gemeenskap probeer opvorder om die Israeli’s se hande af te kap, maar hieraan het Israel hom, te midde van internasionale verdoeming, min gesteur.

Isis, wat nie so in die internasionale oog was nie, het so amper ongemerk ’n reuse gebied in Sirië en Irak onder sy beheer gekry. Die omvang daarvan is eintlik misleidend, want dis grootliks onbewoonde woestyngebied en is nie effektief beset nie, maar dit het groot stede ingesluit, soos Mossul in Irak, en Rakka in Sirië, wat beide op die een of ander manier hoofstadstatus geniet het.

Met teenoffensiewe is Isis in beide stede nou onder druk, al word die laaste vestings verbete verdedig.

Maar terwyl dié aanslag teen Isis stoom opgebou het, is eers Frankryk en toe Brittanje met meer klassieke terreuraanvalle geteister – die soort operasies wat nie ’n eie grondgebied vereis nie, en waar enigiets tot ’n kombuismes ’n wapen is. Dat selfdood nie ’n probleem vir die aanvallers is nie, word die vermoë om burgerlike ongevalle te voorkom, baie bemoeilik.

Waarnemers wys egter daarop dat Isis, terwyl dit op grondvlak opgerol word, sy tentakels na verskillende wêrelddele uitgebrei het. Soms het dit bestaande organisasies oorgeneem en hoewel die ou naam steeds gebruik word, onder die Isis-vaandel laat vaar. In Nigerië het Boko Haram in effek geskeur omdat ’n deel Isis se vaandel aanvaar het. In die Filippyne is die Abu Sayyaf effektief deur Isis oorgeneem, en skielik het die regering na jare van lae intensiteit oorlogvoering, te kampe met ’n organisasie wat op ’n heel ander skaal opereer. So word tussen 500 en 1 000 gyselaars aangehou.

Ook in Afganistan en Pakistan waar die Taliban jare lank die stryd gevoer het, is daar nou ’n Isis-teenwoordigheid. Ook in die Russiese republieke van Tsjetsnië en Dagestan het die tentakels ingedring. Dan moet lande soos Algerië en Libië nie vergeet word nie.

Dit blyk werklik of hoe meer Isis op die fronte waar dit as strydmag probeer manifesteer slae kry, dit elders steun en daarmee gepaard ’n operasionele vermoë kry. Hoe meer die weste dit na ander wêrelddele wegstu, hoe meer kon nestel dit aan die bors van die weste.

Sekere oorloë word eerder met die kop en hart as wapens gewen.

 

 

Nuuskommentaar: 19 Junie

Die vrees vir misdaad is groter as die vrees vir terreur

 

Dit is amper ‘n skokonthulling om met Suid-Afrikaners oorsee te praat oor die talle terreuraanvalle wat nie eers ‘n wêreldstad soos Londen en Parys ontsien nie. Plaaslike joernaliste probeer altyd so vinnig moontlik uitvind of iemand van Suid-Afrika dalk nadelig geraak is deur gebeure soos die afgelope drie voorvalle van terrorisme in Londen.  Dit is altyd met ‘n sug van verligting dat familielede en vriende hoor dat hulle “mense” in die buiteland nog veilig is. Selfs met die gekoördineerde bomontploffings in die Britse hoofstad in 2005 is die bykans een-miljoen Suid-Afrikaners op daardie tydstip in Londen gespaar.

Ons mense in die buiteland sê terreur is nie hulle groot bekommernis nie – dit is die misdaad in Suid-Afrika wat hulle klaarmaak. Nie ‘n dag gaan verby dat hulle nie hoor van die gewelddadige aanvalle, moorde, rooftogte, inbrake, kapings en verkragtings in hulle geboorteland nie. Die kommer oor hulle bejaarde ouers, ooms en tantes, broers en susters is soms te veel om te verduur en dan word daar maar weer huis toe geskakel of geskryf om seker te maak dat alles nog reg is. Hulle is ook diep begaan oor die politieke wending in die land wat al hoe meer gebruikers-onvriendelik teenoor witmense raak.

Groot groepe Suid-Afrikaners oorsee het in April meegedoen aan die DisTyd biddiens en net soveel Suid-Afrikaans-geborenes betoog voor die kantore van organisasies soos Bell Pottinger wat die witmonopoliekapitaal-storie versin het. Lojaliteit kan nie gemeet word nie en bloed is dikker as water. Dit is erg om te besef dat die diaspora nie bang is vir terreur nie, maar vir misdade teen die persoon of kontakmisdade. Hulle het min vertroue in Suid-Afrika se wetstoepassers soos die polisie en die staat se veiligheidsagentskappe. Daar is wel ‘n mate van vertroue in buitelandse sekuriteitsmaatskappye.  Die regering wou drie jaar gelede van hulle ontslae raak of minstens ‘n beperking op hulle aandeelhouding plaas omdat sekuriteitsbeamptes met vuurwapens glo die nasionale veiligheid bedreig.

Die sekerheidsbedryf huisves meer as 450-duisend individue wat geldige wapens besit en van hulle word dikwels gebruik om selfs die polisie en die parlement te beskerm.  Die regering het dié privaatmaatskappye ook daarvan beskuldig dat hulle nie intelligensie-gedrewe is nie, maar net toeslaan as die gevaar reeds daar is. Die staat besef blykbaar nie dat misdadigers juis impulsief optree sodat mense onverhoeds betrap word. Later verdwyn hulle tussen die massa in die informele nedersettings waar selfs die polisie te bang is om te beweeg. Dit is juis die onvoorbereidheid op kitsmisdaad wat vrees inboesem en die feit dat oortreders niemand ontsien nie. Geen wonder nie dat die diaspora meer bekommerd is oor Suid-Afrika se misdaadtoestand as buitelandse terreuraanvalle.

 

 

Nuuskommentaar: 16 Junie 2017

Ekonomiese uitskieter die teiken

Dis natuurlik nie juis meer nuus dat die land in ‘n ekonomiese ellende verkeer nie. Twee van die drie grootste graderingsinstellings het die land reeds op die rommelhoop gegooi, en die derde een huiwer nog ‘n bietjie, alhoewel Moody’s reeds ‘n afgradering gedoen het wat Suid-Afrika net bo rommelstatus laat huiwer.

Moody’s het egter nie hier geëindig nie, en sy afgraderingsmes nog verder ingelê.  Die grootste banke is afgegradeer, en ‘n hele aantal ander instellings, waaronder MTN, Sanral, en verskeie munisipaliteite, waaronder selfs dié van Kaapstad en Johannesburg, wat deur die opposisie beheer word.

Intussen het die land weer in ‘n resessie beland nadat twee agtereenvolgende kwartale ‘n negatiewe groei getoon het.  Dit is volgens syfers van Statistieke Suid-Afrika, oor wie se betroubaarheid daar voorheen reeds vrae was.

Wat egter opmerklik was, was dat twee sektore van die ekonomie egter gegroei het. Dit was mynbou, wat ‘n groei van sowat dertien persent getoon het, ten spyte van talle arbeidsprobleme in dié sektor.  Die groot uitblinker was egter die landbousektor, wat met ‘n formidabele 22,2 persent gestyg het, ten spyte van knellende droogtes en ander wispelturige natuurverskynsels.

Dit is die landboubedryf, wat daagliks kos op die tafel voorsien, wat steeds presteer. Maar dit is ook die bedryf wat op die oomblik die meeste geteiken word deur die ANC-bewind om sogenaamd getransformeer te word.

Praatjies van grondonteiening sonder vergoeding, vanuit radikale geledere maar deesdae selfs vanuit die presidensie, is nie meer vreemd nie, en die onsekerheid wat daardeur gekweek word, blyk duidelik uit die feit dat daar meer as twintigduisend plase in die mark is. Grondeienaars is van mening dat hulle nou eerder moet vat wat hulle nog kan kry, voordat die grond net gevat word sonder dat ‘n sent in ruil daarvoor gekry gaan word. Dit is immers in effek dieselfde wat in Zimbabwe gebeur het.

Die argument wat vir die onteiening gevoer word, is dat “die mense” grondhonger is, omdat die boere dit sou gesteel het.

Die feit is egter, dat in meer as negentig persent van die gevalle waar grondeise ingestel is, die eisers eerder die kontantvergoeding verkies het, eerder as om die grond te neem.

Tereg sê TLU SA dat daar geen grondhonger is nie, maar wel ‘n geldhonger.  Dis makliker om ‘n sak vol geld te kry, as om grond te kry waarop oor dekades heen hard gewerk moet word, in die hoop om dan uiteindelik wel ‘n sak vol geld te kan hê.

Dit is juis wat die Suid-Afrikaanse boere doen. Hulle boer oor dekades heen, kundigheid is van geslag tot geslag oorgedra, hulle ken die klimaat en die boerderytoestande. En terwyl die res van die land geleidelik na die rommelhoop gly, blink die boere uit en toon die grootste enkele groei in die ekonomie. Hulle skep dus werk, beide op die plase en indirek in die verwerkingsektor wat uit die primêre landbou voortspruit. Maar dit is daardie boere, die ganse wat die enkele skaars goue eiers lê, wat vermoor word en op wie se grond jag gemaak word onder valse voorwendsels.

Geen wonder dat TLU SA verlede week nog in ‘n verklaring kon sê: “Los ons uit: ons doen ten minste ons werk om kos op jou tafel te kry.”

 

 

Nuuskommentaar: 15 Junie

Gaan Donald Trump sy termyn kan uitdien?

 

Nog lank voor Donald Trump as ’n ernstige aanspraakmaker sou wees om die Republikeinse Party se kandidaat vir die presidentskap te wees, het sy opponente veral aan die linkerkant van die politieke spektrum hom al afgeskryf. Die Huffington Post het byvoorbeeld aangedui dat as iemand iets oor Trump se verkiesingsveldtog wil lees, moet hulle die publikasie se vermaaklikheidsblaaie raadpleeg.

Trump was nie beïndruk nie.

Trump het deurgedruk en is tot president verkies, al het hy ’n lang rits flaters begaan. Sy vyande het egter nie by die verkiesingsuitslag berus nie, en druk word op elke denkbare en ondenkbare wyse op hom volgehou.

Die jongste klip in Trump se maag is ’n senaatskomitee se ondersoek na Trump se verkiesingspan se beweerde Russiese betrokkenheid. ’n Baie belangrike getuie is James Comey wat onlangs deur Trump as direkteur van die FBI afgedank is.

Soos te verwagte was, was Coney se getuienis tot dusver erg skadelik vir Trump. Trump se pogings – ook deur sy gebruiklike twiets – om die angel uit Coney se getuienis te haal, was nie baie suksesvol nie.

In dié stadium, so lyk dit, kom Trump as’t ware te staan teen iemand wat wyd in die VSA gerespekteer word, en meer geloofwaardigheid as Trump geniet. Coney het so ver gegaan om Trump as ’n opperste leuenaar uit te maak.

En Coney kom tot dusver die beste daarvan af, hoewel die meerderheid Republikeine hom nog steun.

Volgens ’n nuwe Rasmussenpeiling beskou 45 persent van alle Amerikaanse kiesers vir Coney meer geloofwaardig as Trump, en 37 persent weer Trump is meer geloofwaardig. Waar Trump aanvanklik gesê het Coney moet maar bid dat ’n gesprek tussen hulle nie op band opgeneem is nie, kon Coney nou met groot selfvertroue terugkap en sê hy sal die Here dank as die gesprek wél op band opgeneem is. Weer eens knak Trump se geloofwaardigheid.

Trump het teruggekap en aan ’n gehoor van ondersteuners gesê sy administrasie is onder beleg. Hy het ’n beroep op die groep konserwatiewe Evangelistiese Christene gedoen dat hulle wedersyds mekaar nie in die steek moet laat nie.

Uit nog ‘n peiling  blyk dit dat net 46 persent van die kiesers tevrede is met hoe Trump sy werk doen, teenoor die 54 persent wat ontevrede is. Die werklike slegte nuus vir Trump is dat 43 persent van die kiesers erg ontevrede is, en net 29 persent baie tevrede is met hoe hy sy werk doen.

Altesaam 60 persent van die kiesers meen die Kongres, eerder as Trump, moet besluit of die VSA uit die internasionale klimaatakkoord moet tree.

Intussen, seker tot die verbasing van sy felste teenstanders, staan Amerika nog, en is Trump steeds in die stoel al moet hy al meer en meer gaatjies in die dyk stop, gaatjies waarvan hy self ’n hele rits gemaak het.

As Trump nog lank president wil wees, sal hy moet leer om ’n wag voor die mond in te span, en na sy adviseurs te luister.

 

Nuuskommentaar: 14 Junie

Bid en werk

Dit voel soms of ons oorweldig word deur ʼn stortvloed van slegte nuus. Die daaglikse dosis berigte oor staatskaping, staatsverval, rommelstatus, werkloosheid en geweldsmisdaad is genoeg om ʼn mens te laat wanhoop oor die toekoms. Dit is so dat die probleme enorm is en dat oplossings baie uitdagend is. Ons land beleef nie net ʼn leierskapskrisis nie en die probleem lê selfs dieper as ʼn regeringskrisis. Daar is ʼn onderliggende bedelingsprobleem omdat die volhoubaarheid van die land en sy instellings self op die spel is.

 

Daar is egter ook positiewe tekens. Die omstrede Eskom-hoof is na ʼn lang sage darem ontslaan en die SAUK se Hlaudi Motsoeneng is uiteindelik uitgeskop. Polisiehoofde wat van onbevoegdheid en korrupsie verdink word, is uitgeskuif. Die media rig daagliks hul grofgeskut op die Zuptafikasie van die staat. Die howe staan sterk teen korrupsie, al voel ʼn mens met reg teleurgesteld oor hul uitsprake oor taal en gelykheid in die werkplek. Die kommunistiese vakbonde het baie van hul slaankrag verloor en graderingsagentskappe het die land nog nie verder afgradeer nie.

 

Dit wil al meer lyk of president Zuma en die ANC in ʼn eindspel gewikkel is. Elke dag wat Zuma langer in die Uniegebou sit, verswak die ANC se kanse in die volgende verkiesing. Dit is duidelik dat daar oor ʼn wye front al sterker teen die Zuma-kliek standpunt ingeneem word. Boonop is die buiteland ook besig om vinnig uit die politieke betowering waarin hulle sedert die Mandela-tyd verkeer het, wakker te skrik.

 

As die geskiedenis egter een ding bewys het, is dit dat die toekoms nie vas en voorspelbaar is nie. Wêreldmoondhede kom en gaan en so ook korrupte en onbevoegde leiers en regerings. Lande wat onlangs nog veilig en bestendig gelyk het, raak feitlik oornag broeiplekke van terrorisme. Regerings wat gedink het hulle gaan vir altyd regeer, kry gereeld ander groepe nodig. Minderhede wat vir dekades uitgelewer was, bepaal die magsbalans as dinge skielik verander. Regerende partye wat gedink het hulle kan doen wat hulle wil, moet soms onverwags vir minderhede se belange voorsiening maak.

 

Die belangrikste is dat Afrikaners nie net moet sit en wag dat dinge self verbeter nie, maar dat hulle moet doen wat hulle kan, waar hulle is en met wat hulle het. As jy nie jou eie toekoms gaan beheer nie, gaan iemand anders dit doen. Ons is wel polities magloos, maar dit beteken nie ons is magteloos nie. Niemand kan keer dat die see onstuimig word nie, maar almal kan sorg dat hulle sterker skepe bou om die storms te weerstaan. Sterk gemeenskapsorganisasies kry dikwels meer uitgerig as swak staatsdienste.

 

Daarom bly die tydlose wysheid wat ons deur die hele Bybel kry, vandag nog net so waar. Dit is om te bid in die wete dat alles van God afhang, en dan te werk asof alles van jouself afhang.

 

Nuuskommentaar: 13 Junie 2017

DIE WAARDE VAN ONTHULLINGS

Die Suid-Afrikaanse media het die afgelope weke groot pret gehad met die talle e-posse van die berugte Gupta-familie wat op die lappe gekom het.

Die een onthulling oor staatskaping na die ander het gevolg en elk het met nog ʼn groter sak patats vorendag gekom. Sommige van die stories het wonderbaarlike stertjies bygekry en dit het soos ʼn sepie-saga geword: elke dag word die koerant oopgeblaai om die volgende episode te lees.

Joernaliste loop dikwels die gevaar om deur oorywerigheid meegesleur te word. Bitter min het die vraag gevra hoeveel van die onthullings die waarheid is. Die omvang van die onthullings is verbysterend, want daar is na wat berig word tussen ʼn honderd en tweehonderd duisend e-posse.

Blootleggings van dié aard deur die lekkasie van dokumente, het deesdae ʼn algemene bron van onthullings in die media geword.

Waarnemers vergelyk die Gupta-onthullings met dié van die kontrakteur by die VSA se Nasionale Sekerheidsagentskap, Edward Snowden. Dit is gevolg deur die lekkasie aan die media van die sogenaamde elf komma vyf miljoen Panama-dokumente wat met sowat 214-duisend geheime buitelandse bankrekenings van invloedrykes handel.

Die Gupta-familie se prokureur, Gert van der Merwe, hou vol dat sy kliënt nog nie die gewraakte e-posse onder oë gehad het nie. Soos te wagte maak hy dit af as sogenaamde fopnuus. Hy sê selfs daar kleef ʼn stank aan die e-posse.

Die belangrike punt wat hy egter maak is dat ʼn verhoor in die media slegs opinies tot gevolg kan hê. Van der Merwe sê die Gupta-familie sal ʼn amptelike ondersoek deur ʼn regter verwelkom.

President Jacob Zuma, wat opnuut in die spervuur is as gevolg van die e-posse, het intussen op aanbeveling van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee aangekondig dat ʼn kommissie van ondersoek aangestel sal word om die staatskapingsbeweringe te ondersoek. Die ironie is egter dat die vorige openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, dit reeds in haar verslag aanbeveel het. Met dié verskil dat Zuma nie die kommissie moet aanstel nie – om verstaanbare redes want nou kom dit neer kom op selfondersoek.

Die jongste hieroor is dat die kommissie nou eers vir Oktober beoog word. Intussen sê die Valke darem dat hulle ook die bewerings oor staatskaping ondersoek. Die geskiedenis het egter bewys dat ons nie te veel hoop hierin moet vestig nie.

Die aankondiging gister deur die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, dat die organisasie se adv. Gerrie Nel nou by ʼn onafhanklike ondersoek na die e-pos-onthullings betrokke gaan raak, word dus verwelkom. Dit sal egter op niks uitloop indien die oorsprong en geloofwaardigheid van die e-posse nie eers bo alle twyfel bevestig kan word nie.

Regskenners maan dat hoewel die e-posse toon dat ongerymdhede na bewering plaasgevind het, dit opsigself nie genoeg is om die Guptas of Zuma hof toe te sleep nie.

Voordat ons dus te opgewonde raak dat die staatkapingshidra se koppe afgekap gaan word, kom ons benader dit nugter en laat iemand soos adv. Nel dit eers ondersoek.

 

Nuuskommentaar: 12 Junie

Politieke profete

 

Die bekende skrywer, historikus en politieke wetenskaplike, Richard William Johnson, het met die bekendstelling van sy boek How Long Will South Africa Survive in Junie 2015 gesê Suid-Afrika het waarskynlik nog net twee jaar om te leef. Hy het voorspel dat die land se ekonomie in 2017 so in die knyp gaan wees dat die regering die Internasionale Monetêre Fonds hoed-in-die hand sal moet nader vir ‘n reddingsboei. In ruil sal daar ‘n bewindsverandering van een of ander aard moet plaasvind. Is dit die paralelle regering buite die landsgrense waaroor die president en sy lojaliste so baie praat? Johnson het terselfdertyd gewaarsku dat werkloosheid in die land dramaties gaan toeneem en dat die landsbegroting al hoe meer uitgeput sal word terwyl handelstekorte sal styg. Buitelandse beleggers en huishoudelike kapitaal gaan die land toenemend verlaat en kredietafgradering sal voortduur totdat algehele rommelstatus bereik word. Volgens Johnson sal die land se skuldkoste so skerp styg dat dit waarskynlik onmoontlik sal word om die skuld te diens.

Dit sal net ‘n kwessie van tyd wees voordat die regering besef hy gaan kop eerste by die gapende skuldput inval as hy nie dringend deur die IMF gehelp word nie. Johnson sê dit sal die begin van die einde van die ANC-regering wees – wanneer hy van sy ekonomiese soewereiniteit afstand doen. Die IMF sal uiteraard voorwaardes stel soos dat die reuse staatsdiens-salarisrekening besnoei moet word en moontlik ook maatskaplike toelaes. Daar sal onvermydelik ‘n bevryding van die arbeidsmark moet wees en Cosatu en die SAKP gaan voel asof hulle ‘n staatsgreep uitgevoer het. Kortom, die ANC gaan nie meer die ekonomiese beleid beheer nie.

Johnson sê oud-finansminister Nhlanhla Nene het dit terdeë besef en juis daarom ‘n streng fiskale beleid probeer toepas. Hoeveel van Johnson se voorspellings is bewaarheid? Die afgelope paar weke is die land se rommelstatus bevestig. Werkloosheid het ‘n rekord-hoogtepunt bereik en in die jongste slagting is die land tegnies in ‘n resessie nadat hy twee agtereenvolgende kwartale negatiewe groei getoon het. Johnson het vantevore ‘n boek met diesefde titel geskryf om die oorlewingsmoontlikhede van die Apartheidsregime te ontleed. Hy het korrek voorspel dat die ou Nasionale Party-regering langer gaan oorleef as wat die meeste ontleders verwag het. Maar, sê Johnson, Suid-Afrika is weer in ‘n krisis omdat dit ‘n betongegote geskiedenis-les is dat die land sedert die ontdekking van goud staatmaak op die bestendige invloei van buitelandse kapitaal. As dié stroompie opdroog, kan dit maklik die voorspel tot ‘n bewindsverandering wees. Johnson se boek begin met ‘n insiggewende waarneming – dat dit tans die era van korporatiewe familieoptrede in Suid-Afrika is. Optrede wat gelei het tot die omvattende kriminalisering van Die Suid-Afrikaanse Staat.

 

Nuuskommentaar: 9 Junie

Zuma tans in die eindspel van sy presidentskap.

Die eindspel in skaak is wanneer die koning al meer vasgekeer word. Uiteindelik, wanneer die koning nie meer kan beweeg nie, is dit skaakmat en die einde van die koning en van die spel.

President Zuma bevind hom tans in die eindspel van sy presidentskap.

As na die ANC verklarings en propaganda na die onlangse vergadering van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee gekyk word, lyk dit egter nie so nie.

Gwede Mantashe, die ANC se hoofsekretaris, sê na die vergadering dat die aanvalle teen Zuma eintlik ʼn aanval teen die hele ANC is en dat die ANC saamstaan teen sulke aanvalle.

Die Gupta TV-stasie ANN7 berig na die vergadering dat die ANC baie sterk agter Zuma staan.

ʼn Verdere ANC verduideliking is dat dit opposisiepartye en Westerse magte is wat saamspan teen Zuma om so die ANC uit die kussings lig.

Wat is die regte feite?

Die mosie van wantroue teen Zuma tydens die vergadering is nie deur Westerse magte of opposisielede ingestel nie. Dit is deur van die sterkste en prominentste ANC leiers in die vergadering ingestel. Die oproep om te bedank kom uit Zuma se binnekring. Dit is verder ondersteun deur verskeie lede van sy kabinet. Ministers wat hy aangestel het.

Zuma het ook meeste gevegte by die vergadering verloor en sy posisie na die vergadering is beduidend swakker as voor die vergadering.

Enkele voorbeelde:

  1. Thuli Madonsella het as Openbare Beskermer verlede jaar aanbeveel dat ʼn kommissie aangestel moet word om staatskaping te ondersoek. Zuma het hierdie aanbeveling ontduik deur dit na die howe te verwys om so tyd te wen.

Die vergadering het besluit dat daar dadelik so ʼn kommissie aangestel moet word. Hulle is nie bereid om langer vir die howe en vir Zuma te wag nie. Zuma het dus hier verloor.

  1. Volgens binne-inligting het Zuma ʼn paar weke gelede vir minister Lynne Brown geskakel en opdrag gegee dat Brian Molefe weer by Eskom aangestel moet word. Molefe is na alles Zuma en die Guptas se man. Brown het gehoorsaam en Molefe is weer by Eskom aangestel. (Daardeur hou Molefe waarskynlik die rekord vir die kortste Parlementêre loopbaan sonder om ooit ʼn toespraak te hou!)

Die Nasionale Uitvoerende Komitee het besluit dat Brian Molefe se heraanstelling by Eskom onmiddellik herroep moet word. Die Eskom raad het daarna Molefe se heraanstelling teruggetrek. Zuma het hierdie geveg ook verloor.

  1. In die Noordkaap het premier Sylvia Lucas skielik van sekere ministers ontslae geraak. Dit was enkele dae voor die ANC se Noord-Kaapse kongres. Die Noord-Kaapse premier is ʼn Zuma ondersteuner wat daarmee haar en Zuma se posisie in die Noordkaap wou versterk.

Tydens die kongres is Zamani Saul, ʼn Ramaphosa ondersteuner, as nuwe Noord-Kaapse leier gekies. Die premier is daarna vanuit die hoogste ANC kringe gedwing om die ministers wat ontslaan is, terug in hulle posisies te plaas. Dit is duidelik ʼn Ramaphosa oorwinning en nog ʼn geveg wat Zuma verloor het.

  1. Zuma se kantoor het die duisende Gupta-e-posse wat uitgelek het, as vals-nuus afgemaak.

In reaksie daarop reik die ANC hoofkantoor ʼn eienaardige verklaring uit. In die verklaring vra die ANC dat die Regering dringend die e-posse moet ondersoek. Wie is nou die ANC en wie is die Regering? Teoreties is dit dieselfde mense – maar in werklikheid is dit die Ramaphosa ANC faksie wat die Zuma ANC faksie oor die e-posse repudieer en ʼn ondersoek vra?

By die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee vergadering het Zuma meeste gevegte verloor. Hy het die mosie om te bedank net oorleef omdat daar geargumenteer is dat dit beter is om ses maande te wag. In Desember word ʼn nuwe ANC president in elk geval verkies. Deur die saak nou op die spits te dryf, kan die ANC skeur — so kort voor die 2019 verkiesing. Dit was hierdie argument van die Zuma ondersteuners wat die deurslag gegee het.

Soos in skaak se eindspel word Zuma se beweegruimte elke dag minder. Die vraag is of hy skaakmat kan ontduik tot Desember wanneer ʼn nuwe ANC leier verkies word?

 

 

Nuuskommentaar – 8 Junie

Trump teen Merkel en die einde van Westerse eenheid

 

Duitsland het gedurende die twaalf maande van 2016 sowat 65 miljard dollar se handelsoorskot met die Verenigde State van Amerika getoon. Slegs China en Japan toon groter handelsoorskotte met die Amerikaners. Terwyl die Duitsers verlede jaar 114 miljard dollar se produkte na Amerika uitgevoer het, kon die Amerikaners slegs 49 miljard dollar se uitvoere realiseer.

 

Dit behoort dus nie verrassend te wees dat President Trump omgekrap is nie. Reeds tydens sy verkiesingsveldtog verlede jaar het dit duidelik geblyk dat hy ’n meer proteksionistiese ingesteldheid gaan hê. Sy talle aanvalle op Chinese handelspraktyke en geldeenheid manipulasie het dit ook beaam.

 

Na ’n rustige wegspring in Saoedi-Arabië tydens sy eerste oorsese besoek, het Donald Trump egter vuur onder die Europeërs gemaak toe hy Europese leiers aangespreek het oor hul onvermoë om die gedeelde NAVO-doelwit, wat bepaal dat lidlande 3% van hul bruto-binnelandse produk aan verdediging moet spandeer, na te kom. Terwyl die VSA 3,6% van sy BBP aan verdediging spandeer staan Duitsland s’n maar op 1,2%.

 

Donald Trump werk nie met ongetoetste ou lojaliteite nie. Die transatlantiese pakt wat reeds na die Tweede Wêreldoorlog tussen die VSA en Europa ontstaan het, beteken nie veel vir hom nie. Trump het sy oorwinning in verlede jaar se Amerikaanse presidentsverkiesing te danke aan die stemme van Amerikaners wat voel dat dit juis die handelspraktyke van lande soos China en Duitsland is wat veroorsaak het dat die vervaardigingsektor in die VSA oor die afgelope paar jaar miljoene werksgeleenthede prysgegee het.

 

Kiesers wat verlede jaar vir Trump gestem het, is mense wat wil sien dat Amerika sterk staan. Trump se positiewe uitsprake oor Putin van Rusland, El-Sissi van Egipte, Salman van Saoedi-Arabi, Duterte van die Filippyne en Jinping van China spreek van ’n leier wat gemakliker harde taal met outokratiese politici praat as om polities-korrekte sagte dialogies met leiers wat gevestigde belange wil beskerm, wil voer.

 

Die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, se frustrasie met Trump, is dus verstaanbaar. Die twee leiers verteenwoordig totaal verskillende maniere van dink en doen. Merkel is ‘n globalis, wat die liberale orde van die afgelope paar dekades in stand wil hou. Sy hou Duitse kiesers gelukkig deur te verseker dat Duitse uitvoere nie spoedhobbels tref nie. Die invloei van meer as ’n miljoen laagsgeskoolde meestal Moslemmans oor die afgelope paar jaar help natuurlik om te verseker dat daar bekostigbare arbeid vir die Duitse vervaardigingsektor beskikbaar is.

 

Trump daarteenoor is ’n nasionalis wat sy eie land se belange eerste wil stel. Hy moet verantwoord aan die werkersklaskiesers wie smag na proteksionisme. Trump-kiesers is min gepla oor wat die hoof van Navo of selfs die bondskanselier van Duitsland van Amerika dink.

 

Merkel se uitsprake onlangs dat Europa moontlik voortaan op sy eie sal moet staan en haar kritiek op Trump sluit aan by Martin Schulz, leier van die Sosialistiese Party in Duitsland se opmerking dat Trump die vernietiger van alle Westerse waardes is. Merkel se minister van buitelandse sake, Sigmar Gabriel, het ook onlangs gesê dat die Weste kleiner geraak het.

 

Die vraag is nie of die Weste kleiner raak nie, maar eerder of die Weste nie besig is om heeltemal uitmekaar te spat nie. Demografiese veranderinge en ekonomiese druk gaan die ou ordes van die afgelope dekades toets.

 

Nuuskommentaar – 7 Junie

Kaders se korrupsie

Ons word daagliks toegegooi deur die kaders se korrupsie wat onthul  word. Die blootstellings van die Gupta ryk se e-posse wys hoe diep die tentakels van die kanker in die staatsinstellings is.   Een van die onthullings die laaste ruk is die Gupta aandadigheid aan die term “Wit- Monopolie kapitaal”  wat in Londen deur ʼn groot openbare skakelfirma uitgedink en gedryf is. As dit maar net ʼn politieke poetsveldtog was, was dit dalk een saak maar dit het ras demagoë soos die jeugleier van die ANC Collin Maine en Andile Mngxitama van die Black First Land First (BLF) beweging, al die ruimte gegee en bemagtig om met haatspraak en rassistiese uitsprake hulle eie agendas te bevorder en daardeur self vermoedelik verryk te word.

 

Ons neem kopskuddend kennis van elke dag se onthullings. Ons word effe ontsteld oor die bedrae ter sprake. Ons weet as ons in ander wêrelddele gebly het, was die politici en sakemanne alreeds in die tronk. Suid-Afrika het egter ʼn land geword waar internasionale norme en standaarde as Westers, kolonialisties is en daarom van geen belang vir ons is nie.

 

Die ooglopende korrupsie wat hier toegelaat is om te gebeur en waarvan die Zuma en Gupta families die begunstigdes is, bring nou ook ʼn ander perspektief na vore. Die Redakteur van Beeld, Barnard Beukman skryf in sy rubriek. “Deur die e-posse wat nou die lig sien, word die ANC se slothoofstuk geskryf. Die groot bevryding is as ’n mitologiese bedrogspul onthul.” Die groot “struggle” die bevryding wat die ANC se fondament is, word nou onder hom uitgeruk.  Dit bring ook ander begrippe weer na vore wat die sogenaamde regstelling van die verlede uiters verdag maak. Regstellende aksie, kader ontplooiing , swart ekonomiese bemagtiging en ander was klaarblyklik toe alles die voorlopers van “Wit- Monopolie kapitaal” oftewel staatstroping deur kaders.  In Engelse is die korrupsie dalk meer toepaslik – “Cadre stashing” Dit alles is maar die uitvloeisel van die “struggle.”

 

Dit het nie alles vandag of gister gebeur nie.  Dullah Omar, in 1997 minister van justisie regverdig  Alan Boesak wat skuldig bevind is aan bedrog deur te sê Boesak was bloot besig met “struggle bookkeeping”.

 

Smuts Ngonyame, ANC woordvoerder in November 2006 sê dat hy nie by die “struggle” aangeluit om arm te wees nie. So  verdedig  hy die  sowat R160 miljoen wat hy sou maak uit ʼn SEB transaksie.

 

Dit alles was egter kleingeld met die bedrae wat nou ter sprake is. Dan word die lot van armes by politieke geleenthede hoogheilig op die voorgrond gestel en word daar wondere verrig met begrippe en grondwetlike waardes wat dan besing word. Deur staatskaping en aandadigheid en aandadigheid aan staatskaping word dieselfde grondwet egter terselfdertyd vertrap en bespotlik gemaak.

 

Die kernwoord is die gebrek aan verantwoordbaarheid. In die Suid-Afrika van 2017 is dit waarskynlik te veel gevra. Ons kan maar net hoop dat ʼn Korrupsie Waarheidskommissie onder ʼn nuwe regering en ʼn nuwe president alles sal oopvlek en dat almal wat gebaat het by staatskaping dan aan die man sal ry. Die wiel draai stadig.

 

 

Nuuskommentaar: 6 Junie

Verwag nóg misdaad

 

Die land moet hom voorberei op ‘n feller-wordende misdaadvlaag in die aanloop tot die ANC se leierskapskonferensie in Desember. Politieke moorde begin nou-al om die toneel in Kwazulu-Natal  te oorheers – te meer nog nadat die Inkatha Vryheidsparty die tussenverkiesings in 14 van die 17 wyke in Nqutu, oos van Dundee, ingepalm het. Nqutu is ‘n skrale 54-kilometer van Nkandla. Die ANC sal nie dié vernedering in sy eie hartland maklik vergewe nie. Die nasionale voorsitter van die IVP het later gesê die party het nie veldtogte gevoer met staatsbronne en groot beloftes oor dienslewering nie, die mense het bloot op grond van vertroue gestem.

Die Black First Land First-beweging, die BLF, wat die eerste keer aan ’n groot munisipale verkiesing deelgeneem het, het liederlik in die stof gebyt. Die groot misdaadaanslag sal egter nie net tot die politiek beperk wees nie. Gewone misdaad gaan waarskynlik ook skerp toeneem. Die land beleef elke keer as daar ‘n politieke krisis is- soos wat gereeld rondom die persoon van president Jacob Zuma gebeur – dat geweldsmisdade skielik opvlam.  Dit is asof daar ‘n riemtelegram onder misdadigers rondgaan dat hulle nou moet toeslaan want die paradys se hekke is besig om toe te gaan. Selfs die gehardste misdadiger besef dat hulle ná Zuma se vertrek strenger vasgevat gaan word. Die beheerstelsels onder sy bewind het jaar na jaar minder geword en die polisiebegroting moes al hoe meer plek inruim vir sy persoonlike beskerming – asook dié van ‘n paar uitgesoektes soos sy gewese eggenote en en die heraangestelde Eskombaas. Staatsveiligheid is meer bekommerd oor die sogenaamde onsigbare inval van buite as interne landsveiligheid en misdadigers buit dadelik die nuwe gapings uit om te moor en te roof.

Dan is daar nog die kwessie van respek. Hoe meer die president en die regering van oneerlikheid en ‘n saamheulery met geldsugtige individue beskuldig word, hoe meer voel misdadigers geregverdig om hulle eie pad van bloed en verwoesting te loop. Hoekom sal hulle skielik ‘n gewete ontwikkel as hulle leiers nie ‘n duit omgee nie? Niemand – so redeneer hulle – speel nog volgens die Queensberry-reëls nie so hoekom sal hulle? Dié bokskode het op alle terreine van toepassing geword omdat dit so absoluut etiek-gebonde is. Ongelukkig het die woord Etiek uit Suid-Afrika se woordeskat verdwyn. Mense word vir ‘n skrale vyf rand vermoor en daar is geen respek vir ander se eiendom nie. Die Zuma-regering stel telkens die voorbeeld – as grondherverdeling te stadig vorder- kry die blanke grondeienaar of sy voorsate die skuld. Radikale ekonomiese transformasie beteken in al elf landstale blykbaar net een ding en dit is neem wat jy nie op ‘n ander manier kan kry nie. Dit beteken ook om die stemme van naïewe landsburgers te steel sodat die ANC nog ‘n klompie jare op die vette van die land kan leef.

 

 

Nuuskommentaar:  5 Junie

VSA  se besparing op wetenskaplike navorsing rede tot kommer

 

Met pres. Donald Trump se onttrekking van die VSA aan die Paryse klimaatakkoord van 2015, val die fokus baie sterk op Trump se skeptisisme oor klimaatskwessies. Hoewel klimaatsnavorsing in die VSA skerp geteiken word met die oog op begrotingsbesparings, is wetenskaplikes oor ’n wye spektrum bekommerd oor voortgesette befondsing van navorsingsprojekte.

Die twee organisasies wat die meeste noustrop trek, is die Nasionale Wetenskapstigting, of NFS, en die Nasionale Gesondheidsinstituut, of  NIH. Die Trumpadministrasie beoog om die NFS se begroting met 17 persent te besnoei, en dié van die NIH met 21 persent.

Volgens ’n woordvoerder van die Trump-administrasie beteken dit nie die administrasie is teen die wetenskap gekant nie, maar dat dinge net weer onder beheer gebring moet word, veral wat klimaatsnavorsing betref.

Die twee organisasies befonds ongeveer tweederdes van alle akademiese navorsing in die VSA. Meer as 300 Nobel-pryse het al uit die navorsing wat befonds is gespruit, en verskeie deurbrake, soos die LASIK-laser-oogchirugiebedryf het uit die navorsing voortgespruit. Volgens die teenstanders van dié besnoeiing, sal dit daartoe lei dat die VSA sy leierskapsrol in tegnologie, wetenskap en gesondheid aan ander moet afstaan.

Een uit elke vyf navorsers oorweeg dit reeds om hul navorsingsprojekte oorsee voort te sit. Uit 3 700 jong navorsers wat by navorsingslaboratoria in die VSA wou werk, is meer as die helfte weggewys. Dit is nie verbasend nie, as in ag geneem word dat slegs een uit vyf voorleggings vir die befondsing van navorsing by die NFS, en net een uit ses wat aan die NIH voorgelê word, goedkeuring kry. Die hoeveelheid innovasies en uitvindings wat verlore gaan selfs nog voor die jongste besparings in werking getree het, is onberekenbaar.

Wetenskaplikes plaaas nou hul hoop op die Kongres om te keer dat die snoeiskêr so erg ingelê word. In die verlede het die Kongres simpatiek teenoor navorsing gestaan.

Trump het egter reeds aangekondig dat die VSA uit die kimaatakkoord tree, hoewel hy ook aangebied het dat die akkoord heronderhandel kan word. Hiervan wil die ander wêreldeiers, wat Trump se optrede gekritiseer of betreur het, egter niks weet nie.

‘n Groot deel van die ironie is dat Trump sy verkiesing tot ‘n groot mate te danke het daaraan dat Trump die slagspreuk, “Make America great again” gebruik het. Nou, so vind die Amerikaners al meer, dat dit eerder tot ’n verskraling van die VSA se grootsheid bydra. Voorts dui ‘n peiling wat  die lig gesien het ‘n dag na Trump uit die Parys-akkoord onttrek het, dat die meerderheid Amerikaners verkies dat die VSA doen wat sy bondgenote wil hê dit moet doen.

 

Nuuskommentaar: 2 Junie

Konserwatiewes se voorsprong in Britse verkiesing raak kleiner

 

Sedert Theresa May skielik verlede jaar eerste minister van Brittanje geword het, het haar gewildheid bly toeneem en is sy deur politieke kommentators met die ystervrou Margaret Thatcher vergelyk. Met ’n sak vol politieke kapitaal, het May op 18 April vanjaar die skokkende aankondiging gemaak dat Britte op 8 Junie in ’n vervroegde verkiesing sal moet gaan stem. Die volgende Britse verkiesing was veronderstel om eers in 2020 plaas te vind.

 

May se strategie was duidelik: Sy en haar Konserwatiewe Party se steun was aan die toeneem terwyl die Arbeidersparty, erg verdeeld was met hul leier Jeremy Corbyn wat net te ekstreemlinks is en nie daarin kon slaag om die Arbeidersparty agter hom te verenig en veral werkersklaskiesers uit die politieke sentrum binne die party te hou nie.

 

May se besluit om ten spyte van beloftes dat sy nie ’n vroeë verkiesing sal uitroep nie, wel so te maak is toenemend as ’n meesterlike skuif aangesien. Teen laat April het mense begin voorspel dat die Konserwatiewe Party sy klein meerderheid in die Britse parlement met dosyne sou groei. Die Thatcher-vergelyking is weer gemaak.

 

Margaret Thatcher was sekerlik een van die suksesvolste eerste ministers wat Brittanje nog ooit gehad het. In 1979 het sy haar party tot ’n reuse oorwinning by die stembus gelei. Die party se parlementslede het met 62 toegeneem. In die verkiesing van 1983 het sy op die sukses van 1979 voortgebou en het die Konserwatiewe Party se parlementêre koukus met nog 37 lede gegroei.

 

Theresa May het nog geen verkiesing as eerste minister van Brittanje gewen nie. Hoewel haar styl, briljante intellek, vermoë om moeilike politieke vrae te antwoord en meer populistiese vorm van konserwatisme oor die afgelope paar maande tot baie kiesers gespreek het, moet sy nog by die stembus getoets word.

 

May en die Konserwatiewe Party se gewildheid die afgelope paar maande is veral veroorsaak deur die bykans in duie storting van die Verenigde Koninkryk Onafhanklikheid Party, ook bekend as UKIP, nadat dié party sy bestaansdoel, Britse uittrede uit die Europese Unie, verwesenlik het. UKIP het nog in die vorige verkiesing vier miljoen stemme getrek, meestal mense wat andersins vir die Konserwatiewe Party sou stem. Verder het die Arbeidersparty se binnegevegte en Jeremy Corbyn se ekstreemlinkse standpunte baie gemagtigde werkersklaskiesers na May se sagter, omgee tipe konserwatisme getrek.

 

Volgende week se vervroegde verkiesing is dus die grootste geleentheid in baie jare vir die Konserwatiewe Party om ’n sterk meerderheid in die Britse parlement daar te stel. ’n Gewilde eerste minister en verswakte opposisiepartye behoort tot ’n groot swaai na die konserwatiewes aanleiding te gee.

 

Tog wys peilings wat oor die afgelope paar dae gedoen is presies die teenoorgestelde. Die Arbeidersparty is besig om in te haal en die gaping tussen hull en die Konserwatiewe Party word vinnig kleiner. Intussen het Theresa May ’n reeks foute begaan en moes sy oor verskeie kwessies haar standpunt verander.

 

Indien die Konserwatiewe Party volgende week swakker as verwag doen, iets wat toenemend waarskynlik lyk, sal May nie soos Thatcher as ’n ystervrou wat Brittanje in ’n nuwe era ingelei het, onthou word nie, maar eerder as die eerste minister wat ’n baie groot kans deur haar vingers laat glip het.

 

Nuuskommentaar: 1 Junie

Meer as net Iemand

 

Die afgelope tyd het die wêreld kennis geneem van die afsterwe van talle bekendes: Karel Schoeman, Nickey Hayden, Roger Moore en Piet Byleveldt om maar ‘n paar te noem. Elkeen se lewe het op ‘n ander manier tot die einde gekom; elkeen se einde het reaksie ontlok, is betreur, elkeen se einde laat ‘n leemte wat nie weer gevul kan word nie omdat elkeen so uniek was.

Vir die wêreld was elkeen van hierdie persone ‘n besonderse persoonlikheid, al het die wêreld net ‘n aks van die persoon geken en gesien. Wat die wêreld ken is net die persoon se talent: Skrywer by uitnemendheid; Begaafde renjaer; Galante akteur; baasspeurder. Elkeen het ‘n merk gemaak in ‘n spesifieke bedryf, ‘n bydrae gelewer tot ‘n groter samelewing. Hierdie groter samelewing sal vir altyd getuie wees van die talente van hierdie individue, hulle nalatenskap sal opgeteken word.

Vir ‘n handjievol is hierdie talente egter ‘n bysaak van bitter min belang. Die hartsmense van hierdie bekendes het die lewe gedeel met die omvang van elkeen se mens-wees. Hierdie persone was deel van hul harts-mense se daaglikse realiteit en bestaan; ‘n realiteit wat in ‘n oogwink verander om nooit weer dieselfde te wees. Wanneer die wêreld al grootliks vergeet het, sal die handjievol steeds aanpas by die veranderde omstandighede en ‘n nuwe vorm van normale bestaan.

Onwillekeurig dink elkeen van ons, wat die realiteit van hierdie aanpassings ken, aan ons eie ondervinding, ons eie seer van verlies, ons nuwe vorm van normal, want die lewe is nie ‘n kleedrepitisie; die lewe is werklikheid wat net eenmaal geleef word. Daarom is dit so uiters ontstellend om te lees van plaasmoorde en ander sinnelose moorde wat leemtes laat wat nooit weer gevul kan word. Nie een van hierdie slagoffers se lewe was minder werd as die bekendes nie, hulle talente was bloot nie aan die wêreld bekend nie, daarom ook nie hulle name nie. Diegene wat egter werklik saak maak, hulle handjievol hartsmense, staar dieselfde pyn van verlies in die gesig, leef deur dieselfde aanpassings, dikwels met erge trauma en nagmerries oor hul geliefdes se laaste oomblikke.

Elkeen van ons gaan die een of ander tyd hierdie lewe agterlaat saam met die handjievol vir wie dit ‘n onuitspreeklike verlies gaan wees. In wêreld terme sal dit geen impak hê nie, want die wêreld ken nie die unieke mens-wees waarvan jou geliefdes kan getuig nie. Wat saak maak is juis dit – die getuienis van die wat agterbly. Die getuienis wat spreek van ‘n blywende nalatenskap van ‘n man/vrou wat deel is van soveel mooi en kosbare herinneringe, wat sy/haar geliefdes met soveel liefde ontvang en versorg het, ‘n omgee-hart openbaar het, so onbaatsugtig gelewe het . . . een wat méér as ‘n Iemand was, wat vir geliefdes die wêreld beteken het en nooit vervang kan word nie.

Koester elke geleentheid saam met geliefdes, bou aan herinneringe wat ewig sal hou, wees die trotse getuie van geliefdes se diepste mens-wees want tyd en lewe is aan elkeen net geleen.

 

Nuuskommentaar: 31 Mei 2017

Dit het sin om Republiekdag te onthou

 

Op 31 Mei 1961 het Suid-Afrika ’n Republiek geword. Dié dag, toe Suid-Afrika sy algehele onafhanklikheid van die Britse Ryk verklaar het, was vir talle Afrikaners bevrydend en van groot betekenis.

Suid-Afrika se lidmaatskap van die Britse Statebond is met Republiekwording opgeskort en die land het eers weer in 1994 deel daarvan geword.

Daar was baie pessimiste en teenstanders wat gemeen het die opskorting van lidmaatskap van die Statebond sal geweldige negatiewe gevolge vir die land inhou. Die teendeel was egter waar en Suid-Afrika het onder leierskap van dr. H.F. Verwoerd van toe af ’n ongekende maatskaplike opbloei vir al sy inwoners ervaar.

Ondanks volgehoue boikotaksies het die land op haas elke terrein vooruitgegaan wat selfs die opposisie in die parlement verbyster het.

Marthinus van Bart het in ’n artikel vir die FAK geskryf: Die Bruto Binnelandse Produk van die Suid-Afrikaanse ekonomie het jaarliks teen ’n koers van 6% gegroei, terwyl die inflasiekoers 2% was. Die land was selfversorgend vir sy voedsel, terwyl hy ’n vername uitvoerder van vrugte en graanprodukte geword het. Met die stigting van Sasol en die verkryging van brandstof uit steenkool, was die land besig om hom van sy afhanklikheid van die petroleum-oliemark te speen. Sy verdedigingsmag het een van die doeltreffendstes ter wêreld geword en die vervaardiging van pantsertuig, wapens, ammunisie en vegvliegtuie het goed op dreef gekom. Ook die Vloot is met verbeterde skepe en wapentuig toegerus. Kernnavorsing het met rasse skrede gevorder sodat Suid-Afrika ’n wêreldleidende rol daarin begin speel het. Die geldstelsel is gedesimaliseer (Rand en sent), goudproduksie is verhoog – met Federale Mynbou wat ook Afrikaanse kundigheid toegang tot die mynwese gebied het. Nywerhede het sterk aangegroei en werkgeleenthede vir al die inwoners het vir ekonomiese opheffing van die hele gemeenskap gesorg. Net 5% van die swart bevolking was teen 1966 nog werkloos.

Van die ouer garde dink gereeld en met heimweë terug aan die kleurryke byeenkomste wat ter viering van Republiekdag, wat ook ’n vakansiedag was, gehou is. Dit was vir baie Afrikaners ’n kultuurbelewenis en dit het ’n belangrike dag in die geskiedenis geword wat met vryheid en die afskud van die Britse juk vereenselwig is. Ook op skoolvlak is dié geskiedenis oorgedra en is kinders op ’n jong ouderdom deelgemaak van die vieringe deur aan tablo’s, spreekkore, debatte en vlaghysingparades deel te neem.

Maar waarom is dit dan belangrik dat Republiekdag in die harte van mense voortleef en dat die nageslag steeds oor die betekenis hiervan ingelig word?

Met Republiekwording het ons ons vryheid teruggekry. Om vry te wees, het vandag nog meer waarde en betekenis vir Afrikaners as minderheidsgroep. Ons wil vry wees om oor onsself en ons instellings te besluit en te regeer. Ons wil vry wees om ons eie lot te beslis en nie van ‘n korrupte meerderheidsregering afhanklik te wees.

Daarom pak organisasies soos AfriForum en Solidariteit veldtogte en projekte aan om uiteindelik by hierdie vryheidsideaal uit te kom.

Omdat ons ook vry wil wees om ons geskiedenis in herinnering te roep en aan ’n nuwe geskiedenis te bou, glo ons dat ons steeds Republiekdag in ons harte mag vier en ons kinders oor hiervan mag vertel.

 

 

Nuuskommentaar: 30 Mei 2017

Gaan die spoke Trump se kop laat rol?

 

Suid-Afrikaanse ondersteuners van pres. Donald Trump raak bitterlik boos as rubriekskrywers selfs die mees terloopse ooreenkoms tussen Trump en pres. Jacob Zuma tref. Dat daar omringende faktore is wat ooreenkomste toon, is egter so, soos dat beide presidente te kampe het met ’n groep wat hul termyne wil kortknip, en dat hierdie groepe onophoudelik besig is om hul planne te probeer realiseer.

Beide presidente het egter ook die vermoë om deur vreemde uitlatings of optredes die aandag op ’n negatiewe manier op hulle te trek.

Zuma se uitlatings en optredes, soos om die land rommelstatus te besorg, is goed bekend.

Maar algaande begin meningspeilings, die media en die kritici van Trump ook dieselfde taal praat. En dit sluit peilingsagentskappe is wat taamlik akkuraat was in die uitslag van die presidentsverkiesing, en dus nie van ’n bevooroordeeldheid teenoor Trump beskuldig kan word nie.

Trump se onplesierigheid met ’n groot deel van die media is welbekend. So ook sy skeptisisme met die land se intelligensiedienste, wat sy afdanking van die direkteur van die FBI, James Comey, insluit. Dit blyk dat Trump van Comey verwag het om ’n ondersoek na Michael Flynn, ’n voormalige veiligheidsadviseur, onder die mat in te vee.

Dadelik het die bedenkinge oor Trump se omgaan met veiligheids- en intelligensie-aangeleenthede posgevat. En Trump sal nog leer … die spioene word nie om dowe neute spoke genoem nie, want hulle kan erg by jou kom spook.

Kort hierna raak dit bekend dat Trump hoogs-geklasifiseerde en sensitiewe inligting met die Russe gedeel het. Die aanvanklike reaksie was dat Trump net sowel hoogverraad kon gepleeg het, maar Trump, as hoogste gesag oor geklassifiseerde inligting, kan in teorie daarmee maak wat hy wil. Hy self sê hy het dit as gebaar van goeie gesindheid gedeel.

In die praktyk moet egter nou bepaal word of Trump se gulhartigheid nie die sensitiewe bron se lewe in gevaar gestel het nie.

Voorts leef bewerings voort dat van Trump se verkiesingsveldtogwerkers in 2016 ook inligting na die Russe laat sypel het. Dit maak nou deel uit van ’n ondersoek wat gelei word deur Robert Mueller, ook ’n voormalige hoof van die FBI. Dié ondersoek kan daartoe lei dat Trump in ’n staat van beskuldiging geplaas word.

Maar dis nie al nie. Na die onlangse terreuraanval in Brittanje, het die Britte die Amerikaners daarvan beskuldig dat hulle sensitiewe inligting wat met hulle gedeel is, aan die media uitgelek het. Die deel van inligting tussen die Amerikaanse en Britse agentskappe is na berig word hieroor opgeskort.

Zuma se verhouding met Suid-Afrika se intelligensie-agentskappe word al lankal as hoogs bedenklik beskryf.

Tog het die ergste gevalle van intelligensie-manipulasie heel moontlik niks met die intelligensiedienste te make nie. Die sogenaamde intelligensieverslag wat gebruik is om Pravin Gordhan as minister te pos, is na bewering deur ’n Britse beeldpoetsersorganisasie, destyds met Guptabande, opgestel.

Nog ’n beweerde intelligensieverslag wat glo regeringsoptrede gemanipuleer het, is glo deur Zuma se seun opgestel. Hierdie twee verslae gaan nog erg by Zuma kom spook.

 

Nuuskommentaar: 29 MEI 2017

NET ‘N VONK IS NODIG

 

Tersiêre onderwysinstellings is vandag ʼn kruitvat wat die toekoms van Suid-Afrika gyselaar hou.

Sonder om te verwys na die vraagteken wat daar tans oor die vlak van opleiding by universiteite en kolleges bestaan, wil dit voorkom of dié mikrokosmos van jong denkers, wat allerweë beskou word as die kern van vernuwing in enige land, reeds gesterf het.

Die landswye protes teen klasgelde wat die voortgesette akademiese program by alle groot tersiêre instellings in trurat laat ruk het, is reeds ou nuus. Dit het egter ʼn agterstand veroorsaak wat kwalik ingehaal gaan word. En dit het die sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie miljoene rand uit die sak gejaag.

Nog belangriker. Die kultuur van protes wat gevestig is, het veroorsaak dat wat andersins ʼn sinvolle smeltkroes vir die leiers van die toekoms kon wees, nou eerder net nog ʼn slagveld geword het. Feitlik elke stuiptrekking in die land, hetsy polities, maatskaplik of verhoudings tussen rasse en geslagte, vind ʼn rimpeling op kampusse.

In die jongste dae is die sosiale media oorheers deur ʼn naakte betoging teen geweld teen vrouens op die Tukkie-kampus. Skaars het stof gaan lê of mansstudente van die universiteit kom in die spervuur nadat hulle openlike seksistiese en selfs banale plakkate tydens die inoefening van vroulike groepe vir die jaarlikse Serrie-kompetisie vertoon het. Die optrede word afgemaak as studentetradisie, maar talle studente voel dat dit net té toevallig is dat dit net na die vrouebetoging gebeur het.

Die feit is, twee gebeurtenisse wat skynbaar nie met verband hou nie word onmiddellik as ʼn simptoom van seksisme in die land ervaar. Dieselfde kompetisie het verlede week ook ʼn rassekleur bygekry toe die Sonop-manskoshuis onttrek het ná ʼn klag deur die EFF dat hulle sanggroep te wit is en nie die demografie van die universiteit verteenwoordig nie.

Voorvalle soos dié op kampus bekommer ouers wat hul kinders universiteit toe wil stuur al hoe meer. Dit kom dus nie as  ʼn verrassing dat al hoe meer jong Suid-Afrikaners, wit en swart, elders ʼn heenkome vind nie.

Die opsie om in die VSA of in Europa te gaan studeer is dood eenvoudig nie haalbaar nie, want dit is te duur. Dit het ouers genoop om na ander moontlikhede, selfs op die Afrika-kontinent, te kyk. Lande soos Namibië, Botswana, Zambië en selfs Kenia bied vir sommige studierigtings oplossings.

Daar is egter ook bestaande beurse vir Suid-Afrikaners wat aangebied word deur die Koreaanse Ontwikkelingsinstituut, die Mauritius-Afrika Beursskema, beurse van die Japanese ministerie van onderwys, kultuur, sport, wetenskap en tegnologie en die Pan Afrikanistiese universiteit in Ethiopië.

In Mauritius is dit selfs moontlik om medies te studeer vir die helfte van wat dit in Suid-Afrika sou kos. Mens moet egter byvoeg dat die studie net drie jaar duur.

Die universiteite en kolleges se standaarde is op ʼn hoë vlak en bied grade en diplomas wat internasionaal aanvaar word.

Die hartseer gevolg is, dat Suid-Afrika só outomaties sy toekomstige leiers wat ʼn verskil in ons sukkelende demokrasie kon maak, verloor.

 

Nuuskommentaar: 26 Mei 2017

Ekonomie vra ʼn nuwe manier van sake doen

 

Manne (en vroue), ons gaan moet begin anders dink oor hoe ons sake doen. Dit is beslis nie nuus dat Suid-Afrika se ekonomie tans onder erge druk verkeer nie, nee, daarvoor flikker die rooi ligte al ʼn geruime tyd.

Kyk maar net na verskeie sektore in Suid-Afrika:

Highveld Steel, die eens suksesvolle staalreus in Witbank, het vroeër in 2016 sy deure finaal gesluit en sowat 1 753 werknemers is hierdeur hulle inkomste kwyt.

Verder bly die platinum-mynboubedryf in Suid-Afrika steeds onder druk met die waarde van platinum wat oor die laaste vyf jaar gehalveer het. Mail and Gaurdian berig dat dit Lonmin tans meer kos om platinum te myn as die prys wat hulle daarvoor kan kry.

Die plaaslike hoenderbedryf het aan die begin van die jaar ʼn dringende beroep op die regering gedoen om hulle te beskerm teen buitelandse invoerders wat sekere hoenderprodukte teen ʼn appel en ʼn ei in die plaaslike mark stort. Die bedryf meen tot 133 000 mense kan hulle werk verloor indien die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf sou vou.

So onlangs soos Donderdag verlede week het General Motors aangekondig dat hulle die motorvervaardiger se bedrywighede in Suid-Afrika dramaties gaan afskaal. Ian Nicholls, president en besturende direkteur van GM in Suid-Afrika, het aangevoer die besluit is geneem omdat daar die afgelope paar jaar aansienlike veranderinge in die internasionale motorbedryf is. Maar hy het egter ook duidelik gesê dat GM glo daar is internasionale geleenthede waar hulle ʼn groter opbrengs op belegging kan hê.

Verlede week is daar ook berig dat die sosialemedia-boikotveldtog teen die Spur-restaurantgroep verreikende gevolge op sekere van die restaurante se maand-tot-maand inkomste gehad het. Die Spur-restaurant in die Nigel het volgens die plaaslike gemeenskapskoerant sy deure gesluit na ʼn volgehoue wegblyaksie, terwyl sekere ander Spur-restaurante ʼn afname in besigheid van tussen 24% en 45% toon.

Ons kan donkiejare sit en debatteer oor wat hierdie bedrywe en besighede gedoen of nie gedoen het nie. Wat veroorsaak het dat hulle verliese ly, en hoekom mense hulle nie sal, kan of wil ondersteun nie.

Maar as ʼn mens vir ʼn oomblik net een tree terugneem, moet jy besef dat enige onderneming wat sy deure sluit, of ʼn bedryf wat nog mense moet aflê, in werklikheid beteken dat daar iewers ʼn gesin vanaand honger gaan slaap, en as dit nie vanaand is nie, gaan dit moontlik binne die volgende paar dae of maande wees.

Suid-Afrika het reeds een van die wêreld se hoogste werkloosheidsyfers: dit bly hier rondom 27%. Sowat ʼn derde van ons samelewing het nie werk nie, het nie ʼn inkomste nie – kom ons herkou eers ʼn bietjie hieraan.

Daar is dikwels en verskeie waarskuwings gerig oor die gevare wat ʼn groeiende werklose massa kan inhou.

Politici raak tog soms ʼn waarheid of ʼn wysheid kwyt. Die voormalige Nigeriese president Olusegun Obasanjo het tydens die onlangse bekendstelling van sy boek “Making Africa Work” gesê die werklose jeug is sy grootste vrees. “Hulle frustrasie sal lei tot woede. Dit gaan sal geen politieke, streeks- of godsdienstige grense ken nie, dit sal ʼn ontploffing wees.”

Werkloosheid is ʼn tikkende tydbom – dit stel mense op verskeie wyses bloot. Ek wil nie weet hoe dit voel om te wonder waar jou volgende bord kos vandaan sal kom nie, en dit is soveel erger as jy na ʼn gesin moet omsien.

Daarom sê ek weer ons sal eenvoudig anders oor sake moet begin dink: Bedrywe sal hulle werksaamhede dalk heeltemal anders moet aanpak. Dit kan gedoen word – daar is planne om nuwe lewe in Highveld Steel te blaas, en dit werk. Ondermenings sal natuurlik ook moet dink of hul pryse en dienste nog mededingend is in ʼn internasionale mark, en of hulle steeds waarde vir geld bied. Hulle sal ook moet nadink oor hoe hulle hul klante, die verbruikers, hanteer.

Maar ons as verbruikers het ook ʼn verantwoordelikheid oor wie ons ondersteun en hoe ons, ons plaaslike bedrywe dra.

 

Nuuskommentaar: 25 Mei 2017

Die ruimte van God se liefde.

 

Tradisioneel vier Christene veertig dae na die eerste Paasdag die hemelvaart van Jesus Christus en vir sommige werklikheidsbeskouings word die hemelvaart ‘n verleentheid.

Die beeld van die hemel as ‘n salige en ewige rusplek, ‘n plek bo die wolke of ruimtes waarheen Christus soos ‘n ruimtereisiger vaar, word as onrealisities of oudmodies beskryf.

Sulke beskrywings, uitsprake en beelde kan egter baat deur nie op die hoe van Christus se hemelvaart te fokus nie, maar op die wat, op die betekenis van sy hemelvaart.

Hierdie betekenis word so bely: Ek glo…in Jesus Christus wat opgevaar het na die hemel en wat sit aan die regterhand van God…

In hierdie belydenis word die hemelvaart van Christus verbind aan sy almag, veral soos dit in die kruisiging en opstanding geopenbaar is.

Twee gedagtelyne vanuit die verbintenis dien tot troos en bevryding vir gelowiges.

Die eerste is dat die hemelvaart Christus se troonbestyging bekend maak.

Dit openbaar dat Hy mag het oor lewe en dood, oor die diepste misteries van menswees en dat Hy álle mag het: om te oordeel en genade te betoon, om te laat kwyn en weer te laat groei en die mens en die kosmos te stuur.

Dit beteken dat Christus nie onaktief terugsit nie, maar vanuit sy heilige ruimte sy kerk en skepping teen vyande en aanvalle verdedig en dit doen Hy met die mag waarmee die dood verslaan is.

Dit is in die tweede plek bevrydend, want die mens kan so weer mens word.  Die mens is nie God nie en Hy hoef nie God se werk oor te neem nie; die mens kan vertrou op God se mag: ‘n Mag van liefde soos in die kruisiging en opstanding gewys word.

Die hemelvaart waarsku juis teen die mens se dors om soos God te wees, deur alle mag na te streef; dit plaas die mag van God se liefde teenoor die mens se liefde vir mag.

Die mens se gedagtes en dade is behep met mag en hy span alles in om mag te kry.

Daagliks berig die radio, koerante en media platforms oor wie het die mag en wie gaan die mag verloor. Ure, maande en jare word gespandeer om te ontleed hoe mag gebruik en misbruik is en hierdie vrae fassineer die mens.

Politici smag na mag en geld;  en in ruimtes soos die kantoor, fabriek en selfs in huwelike word magspeletjies gespeel. Mense gebruik manipulering om mag oor ander mense te kry en die filosoof Nietze het sinies opgemerk dat mense nie vertrou moet word nie, want hulle is daarop uit om mag oor jou te  kry.

Daar is geen tekort aan die mens se vermoë om instrumente en middele van mag te kaap of te skep nie; ten spyte van die mens se onuitputlike dors na mag, bly dit verganklik.

Tereg het Napoleon Bonaparte opgemerk dat state se mag op vrees en dood gebaseer is en wanneer die state wissel word die vrees en dood net voortgesit. Wie is dan in wie se mag?

Wat die Bybel in die boek Daniël hiervan sê is tog kenniswaardig: Ten spyte van al die praatjies, kan die mens en magte net roem op wat hy vernietig, wat hy kan doodmaak; nie op wat hy kan skep of kan opwek nie.

Hierteenoor vier Christene die hemelvaart van Christus wat met al sy mag lewe uit die dood wek, die ruimte van God se liefde vir ons oopsluit en ons daar(in) dra.

 

 

Nuuskommentaar: 24 Mei 2017

Iran nie die groot sondebok in Midde-Ooste

 

Twee belangrike gebeure het die afgelope naweek in die Midde-Ooste plaasgevind. Saterdag is President Hassan Rouhani met ’n wegholoorwinning tot ’n tweede termyn van vier jaar as president van Iran verkies. Sondag het President Donald Trump in Riyadh in Saoedi-Arabië ‘n belangrike toespraak voor leiers van talle Moslemlande gelewer.

 

Een probleem van Amerikaanse buitelandse beleid is dat dié land nie maklik vergewe en vergeet nie. Die huidige obsessie oor Noord-Korea en voortdurende verdagmakery van Rusland is goeie voorbeelde daarvan. Sedert die revolusie in Iran in 1979, toe ’n Amerikaans-gesteunde monargie omvêrgewerp is, is Iran deel van die lysie van lande wat voortdurend deur Amerika beveg moet word.

 

Die verdelingslyn tussen Soenniete en Sjiiete in die Midde-Ooste word die afgelope jare toenemend deur die Amerikaners uitgebuit. Dit maak dus sin dat President Trump besluit het om sy groot Midde-Oosterse toespraak Sondag in die hartland van Soenni-Islam te gaan lewer.

 

Tydens die toespraak het Trump ook te velde getrek teen Iran en is die Irannese byna gelykgestel aan die Islamitiese Staat. Oor die afgelope paar jaar is die verhouding tussen Amerika en Saoedi-Arabië versterk met Amerikaanse wapenvervaardigers wat blink glimlag soos wat hulle wapens aan Saoedi-Arabië verkoop. Dit is immers ook hierdie wapens wat tot verwoesting in Yemen aanleiding gegee het en wat aan talle rebellegroepe in Sirië beskikbaar gestel is.

 

Die Amerikaanse oorloglustiges is sekerlik spyt daaroor dat die gematigde President Rouhani van Iran Saterdag herkies is. Die Amerikaners sou eerder wou sien dat sy meer ekstreme teenstander, Ebrahim Raisi, die verkiesing moes wen sodat hulle kon verklaar: Kyk daar, ons was reg oor Iran!

 

Die realiteit is egter dat Amerika soos met Noord-Korea en Rusland nie van hul uitgediende denke oor Iran kan ontsnap nie. Die feit dat 57% van Irannese kiesers Saterdag vir Rouhani gestem het, stuur ’n sterk boodskap dat ’n meerderheid van kiesers in Iran beter verhoudinge met die Weste wil handhaaf. Rouhani se veldtog is gebou op goeie verhoudinge met die Weste, beter internasionale handel en die regte van minderhede soos Christene. Klink dit nie soos die soort Midde-Oosterse leier wat die steun van die Weste verdien nie? Daar bestaan min rede om te dink dat Iran ’n bedreiging vir die Weste of selfs die res van die Midde-Ooste inhou.

 

Wat in Sirië en Yemen gebeur, is genoeg rede om te besef dat die Soenni’s van Saoedi-Arabië veel meer die sondebokke van die Midde-Ooste is. Onder die diktatorskap van Bashar al-Assad, gesteun deur Rusland en Iran, het minderhede soos Christene beskerming in Sirië geniet. Na die Soenni-gedrewe burgeroorlog is Sirië vandag aan flarde geskeur, is die meeste Christene uit die land verjaag en het ekstremistiese groepe ’n voet in die deur.

 

Amerikaanse beleid jeens Iran word grootliks gedryf deur die Amerikaanse wapenhandel met Saoedi-Arabië, bitterheid oor die Irannese Revolusie en Amerika se vrees vir die gesamentlike invloed van Rusland en Iran in Midde-Oosterse politiek.

 

Die Amerikaanse regering hou homself blind vir die finansiering wat talle terroristegroepe soos Al-Kaïda en die Islamitiese Staat uit Saoedi-Arabië ontvang. Westerse leiers wat ernstig is oor vrede in die Midde-Ooste en goeie verhouding tussen die Weste en Moslemlande sal eerder gematigdes in Iran moet ondersteun en met meer kritiese oë na Saoedi-Arabië moet kyk.

 

Nuuskomentaar: 23 Mei 2017

Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit

 

Eergister is Unesco se Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit in Suid-Afrika en baie ander lande gevier.

Suid-Afrika, as buitengewone heterogene land, sou op die oog af besonder toegerus wees om kulturele diversiteit te vier. Die grondwet maak immers vir elf amptelike tale voorsiening en dat ook ander inheemse tale soos die KoiSan-tale spesiale beskerming geniet. Benewens Pansat is daar nog ’n grondwetlike liggaam wat na die belange van diversiteit moet omsien, naamlik die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die regte van Taal-, godsdiens, en kultuurgemeenskappe. Suid-Afrika het ook verskeie internasionale verdrae onderteken en geratifiseer wat byvoorbeeld kwotastelsels verbied, en ’n sonsondergangsklousule vir regstellende aksie vereis.

Maar waar is hierdie land, Utopia? Want Suid-Afrika is dit nie.

In dié stadium veg Solidariteit en AfriForum in die howe oor universiteite wat onder die gehawende vyeblaar van die bevordering van meertaligheid, Afrikaans uitfaseer. Die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap het Afrikaans as een van sy amptelike talle laat vaar, en Sepedi en isiZoeloe in die plek daarvan ingevoer, terwyl Afrikaans die enigste Afrikataal met ’n ruimte-woordeboek is.

Die president en sy kornuite raak-raak gereeld aan haatspraak in hul woordestryd teen blankes. In die proses word die Afrikaner as kulturele entiteit heeltemal van sy kulturele onderbou gestroop, en in die proses van sy volkeregtelike regte beroof.

Uit mediaberigte wil dit voorkom of die tyd toe die Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit hoofsaaklik gevier is deur byeenkomste waar verskillende kulture iets tradisioneels met die ander kom deel het, nou in onguns begin verval. ’n Groepie wat die riel dans dat die stowwe staan, ’n paar volkspeledansers, en ’n myn of twee se gumboot-dansers doen net nie meer die ding nie. Die beleefde handeklap by die hoë gaste kompenseer eenvoudig nie daarvoor dat die betrokke kulture die volgende dag weer die skyf van aanvalle en allerlei vorme van diskriminasie is nie.

Dit beteken nie dat diegene wat aan sulke byeenkomste wil deelneem of bloot wil bywoon, dit nie moet doen nie. Solank besef moet word dat taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe meer regte het as net die taal-, godsdiens en kultuurregte. En juis daarom is dit so hartseer dat die howe ter wille van byvoorbeeld taalregte opgesoek moet word – en dit skynbaar sonder ’n gewaarborgde gunstige uitkoms.

Dit is skreiend dat die Afrikaner knaend by politici moet hoor dat hulle eintlik vreemdelinge, of besoekers, aan die land is. Hulle moet in hul spoor trap, aldus die EFF se leier, Julius Malema.

Juis omdat die Afrikaner sy kulturele erfenis koester – en daardeur inhoud gee aan Unesco se viering van Kulturele Diversiteit. Dit is tyd dat Unesco en ander internasionale liggame objektief kyk na hoe die Suid-Afrikaanse regering mooi doelwitte ondermyn. Unesco en ander moet kennis van die dokumentasie wat Solidariteit met bewyse aan VN-liggame voorsien. Die Suid-Afrikaanse regering wat sy eie reëls maak wat teen internasionale norme indruis is ’n bespotting van mooi ideale.

Want so kan dit nie aangaan en ’n volk gestraf word wat die regte ding probeer doen nie.

 

Nuuskommentaar: 22 Mei 2017

Tegnologie vereis nuwe menseregte

 

Nuwe tegnologie hou vir die mens verskeie voordele in, maar terselfdertyd loop die mens gevaar om ten dele van sy mensheid gestroop te word – en daarom moet twee menseregte tot die bestaandes  toegevoeg word.

So stel die Rathenau Instituut in ’n verslag voor. Hoewel dié verslag op Europese menseregte gemik is, geld van die argumente ook hier en verdien aandag.

Drie aspekte word gelys wat voordele sowel as bedreigings kan inhou, naamlik robotte, kunsmatige intelligensie, en wat genoem word, die internet van dinge.

Die voorgestelde nuwe regte werp terselfdertyd lig op wat as bedreigings beskou word. Ten eerste is die reg om nie deur toegang tot die tegnologie beoordeel, geanaliseer of  beïnvloed te word nie, en tweedens die voortgesette reg op kontak met die medemens.

Tot hoe ’n mate wend groot broer reeds die kuberruim aan om mense te monitor, te ontleed en ten slotte te beïnvloed, of dit nou wettig is of nie?

En hoe goed is dit vir die psige van die bejaarde persoon met min geleentheid om met ander mense te sosialiseer, om dan nog via die kuberruim hom af haar vas te loop teen robotiese stelsels wat ’n mens met sekere sake moet help?

Die kommer hieroor in Europa is nie heeltemal verrassend nie. Skielik is die media vol oor selfs sterk pro-Europese partye wat brieke wil aandraai met die proses van globalisering. Die woordkeuse van globalisering in hierdie verband is interessant – tot onlangs was die waarskuwings oor die bedreiging van globalisering wat in die konteks van die Europese Unie genoem is, as ’n uiterste randakker-verskynsel beskou, en min of meer so ernstig opgeneem soos diegene wat allerlei sameswerings- en ontkenningsteorieë aanhang.

Nou wat het die verandering in denke teweeggebring? Dit is die kiesers, wat dit duidelik maak dat nasionalisme steeds vir hulle baie punte tel. Die kiesers word op hul beurt sterk deur die nuusbeskikbaarheid in die kuberruim beïnvloed, en baie van hierdie nuus is ongelukkig fopnuus, of selfs propaganda van ander regerings. Maatreëls om fopnuus hok te slaan staan nog in hul kinderskoene, terwyl die invloed al jare lank kans gekry het om nes te skop.

Mense se verwysingsraamwerk mag nou feitelik versteur wees, maar dit laat hulle nietemin buite geykte blokkies dink, en daar is nou ’n baie groter veelheid van idees wat mense se besluitneming beïnvloed.

In die Coligny-geval het die kuberruim as ’n baie groot alternatiewe nuusbron vir die SAUK se nuusdekking gedien. Baie vereenvoudig gestel, dit het daartoe bygedra dat verskillende gemeenskappe heel verskillende persepsies oor die gebeure, en agtergrond daaroor, ontwikkel het. En natuurlik skend nuusmanipulasie mense se menseregte. Die geval waar die SAUK ’n onderhoud met ’n blanke so gesensor het dat dit ’n heel ander indruk geskep het van dit wat die man werklik gesê het, het nie net die reg van die persoon met wie die onderhoud gevoer is geskend nie, maar ook van die TV-kykers. Dit kan weer ’n hele gemeenskap laat ontplof, met die regte van nog veel meer wat geskend word.

Nuuskommentaar: 19 Mei 2017

Merkel op koers om vierde termyn te wen

 

Oor die afgelope sestig jaar het die Christelik-Demokratiese Unie van Angela Merkel net vyf jaar ’n regering in die deelstaat Noordryn-Wesfale gelei. Dié deelstaat, waar een uit elke vyf Duitse kiesers woon, was nog altyd die hartland van die Sosiaal-Demokratiese Party. In Sondag se verkiesing in Noordryn-Wesfale het die Christelik-Demokratiese Unie egter eerste geëindig. Daar het vanjaar in drie Duitse deelstate verkiesings plaasgevind en in al drie het die CDU gewen. In twee van die drie het hulle die sosialiste uit die top posisie geskop.

 

Angela Merkel, voorsitter van die CDU en sedert 2005 bondskanselier van Duitsland, het met die naweek se oorwinning in Noordryn-Wesfale haar greep op beheer van Duitsland verder versterk. Toe Merkel ’n paar maande gelede aangekondig het dat sy haarself vir ’n vierde termyn as bondskanselier beskikbaar gaan stel het politieke kommentators wyd bespiegel dat sy moontlik besig is om haar hand te oorspeel.

 

Die toestroming van vlugtelinge na Duitsland oor die afgelope twee jaar het ernstige druk op Merkel en haar oopgrensebeleid geplaas. Met byna twee miljoen aankomelinge, meestal Moslems, uit Derde Wêreldlande soos Sirië, Afganistan, Irak en talle Afrikalande het die Duitse regering groot druk ervaar om huisvesting, maatskaplike en ander dienste aan almal te lewer. Kulturele botsings en ’n toename in misdaad deur vlugtelinge het die vraag laat ontstaan of die einde van Merkel se politieke loopbaan in sig was.

 

Op 24 Januarie vanjaar het Martin Schulz aangekondig dat hy homself beskikbaar gaan stel om die Sosiaal-Demokratiese Party se kandidaat vir bondskanselier te wees. Schulz was die afgelope vyf jaar president van die Europese Parlement en is redelik gewild in Duitland. Binne weke het Schulz sê party begin voorloop in peilings en was daar nog meer rede om te glo dat Merkel se rakleeftyd verby is.

 

Vandag, vier maande voor die Duitse federale verkiesing, lyk dinge egter totaal anders. Na drie deelstaatoorwinnings loop die Christelik-Demokratiese Unie gemaklik voor in peilings en is Merkel weer baie gewild. Beide die sosialiste aan haar linkerkant en die populistiese Alternatief vir Duitsland aan haar regterkant het wesenlike steun verloor.

 

Hoe kry Merkel dit reg? Eerstens moet belangrike ekonomiese gegewens nie onderskat word nie. Die Duitse ekonomie is tans baie sterk met hoër as verwagte ekonomiese groei en laer as verwagte werkloosheid. Data wat verlede week bekend gemaak is, toon dat die regering se belastinginkomste oor die volgende vyf jaar sowat 54 miljard Euro meer as verwag gaan wees. Merkel en haar regering het dus baie beweegruimte om belasting te verlaag en spandering te verhoog.

 

Oor die afgelope paar maande het Merkel ook stelselmatig strenger teen immigrante begin optree. Baie asielsoekers se aansoeke is afgekeur en na hul lande van herkoms teruggestuur. Minder vlugtelinge word ontvang en Merkel doen alles in haar vermoë om ’n ooreenkoms met Turkye waarvolgens die Turke die meeste vlugtelinge teen ’n prys huisves, in stand te hou.

 

Terwyl Merkel en haar Christelik-Demokrate spog oor hul ekonomiese sukses en beloftes oor laer belasting, infrastruktuurontwikkeling en beter veiligheid maak, het die ander partye min om aan Duitse kiesers te bied. Die vraag is nie meer of Merkel in September gaan wen nie, maar eerder hoe vêr sy gaan wen.

 

Nuuskommentaar: 18 Mei 2017

Die Zumakrasie

 

Twee uiteenlopende politieke leiers waarsku dat die land op ‘n Zuma-diktatorskap afstuur. Die ANC-veteraan Matthews Phosa sê dit word bewys deur die president se verontagsaming van die grondwet asook sy drastiese besluite sonder om met die ANC se top-leierskap te beraadslaag. Julius Malema sê as president Jacob Zuma nie nou of binne die afsienbare toekoms deur ‘n mosie van wantroue gestuit word nie, sal hy bloot aanvoer dat die ANC nie van hom ontslae wil raak nie en dit as ‘n verskoning gebruik om verdere grondwetlike skade aan te rig.

‘n Diktator word gewoonlik gesien as iemand met ‘n fors houding en militêre drag wat mense die hasepad laat kies as hy nader kom. Dink maar aan Adolf Hitler en Benito Mussolini. Kim Jong-un van Noord-Korea is ‘n moderne diktator met ‘n bra potsierlike voorkoms, maar hy skroom nie om mense te laat verdwyn nie. Teoreties word daar tussen sterk en swak diktators onderskei. ‘n Sterk diktator het absolute mag en span alles in om sy doel te bereik soos om belastings te verhoog en huurmoorde te beveel. Swak diktators, daarenteen, volg ‘n plan van aksie om die gewenste uitwerking te kry. Hulle manipuleer die politieke scenario en skuil gewoonlik in die duister of agter ander mense. Hulle maak staat op propaganda en beheer die openbare mening. Die eerste gevaarligte van ‘n naderende diktatorskap in Suid-Afrika het begin met die middernagtelike afdanking van ‘n gerespekteerde finansminister en ‘n omstrede kabinetskommeling sonder om die ANC se ses mees senior leiers te raadpleeg. Kort voor dit word die einste finansminister met ‘n telefoonoproep uit die buiteland teruggeroep al was hy besig om stewige beleggings te bemiddel. Daarna verdwyn die president weer met ‘n vliegtuig in die donkerte.

Sy reaksie op die Grondwethof se Nkandla-uitspraak, sy openlike minagting van die howe en sy manipulasie van ANC-ministers om sy doen en late goed te praat, was reeds waarskuwingstekens van ‘n staatsleier wat ‘n verskuilde agenda het. Sy houding oor die land se kredietafgradering en sy uitlatings dat daar ‘n paralelle regering buite die landsgrense is wat die ANC wil verdring, kom al hoe nader aan die profiel van ‘n diktator, weliswaar ‘n swak een.

Brian Molefe moet Eskom onder ‘n wolk verlaat oor sy verhouding met die Guptas, maar word binne ‘n paar maande heraangestel. Waarskynlik om te sorg dat die kernkragprogram voortgaan nadat die hof alle ooreenkomste in dié verband ter syde gestel het. Die Zuma-hand is weer eens sigbaar. Gesiene ANC-leiers kritiseer sy optrede, maar is net ‘n paar dae later weer soos slaapwandelaars wat nie eers weet hulle is in ‘n nagmerrie nie. ‘n Groep Serwiërs het jare gelede aan ‘n groep Siriërs gesê ‘n vuil oorlog word met ‘n oorlog van burgerlike verset, hofsake en internasionale bewusmaking beveg.  Selfs ‘n diktator sal uiteindelik sneuwel . . .

 

Nuuskommentaar: 17 Mei 2017

As redelikheid ’n skaars kommoditeit word …

 

Die Suid-Afrikaanse politieke speelveld het in absurdheid verval en die paar stemme van redelikheid wat wel nog bestaan, lê werklik yl gesaai. Indien ons egter hierdie stemme in die publieke diskoers teëkom, moet ons met alle erns na hulle luister en die boodskap wat hulle uitdra, versterk, veral as dit van swart leiers kom.

Redelikheid het te doen met billikheid en regverdigheid, terwyl redeloosheid geassosieer word met sinlose, onverstandige handelinge wat volgens die HAT selfs vergelyk kan word met die redelose optrede van ’n dier.

Die gesprek oor kolonialisme wat onlangs deur die FAK by die Voortrekkermonument gefasiliteer is, het baie stof tot nadenke opgelewer. Maar, bowenal, was daar by prof. Pitika Ntuli, die gasspreker, ’n stem van redelikheid te bespeur en dit behoort goeie nuus te wees vir Afrikaners wanneer invloedryke swart persone met redelike argumente vir die toekoms van Suid-Afrika vorendag kom.

Gewis sal Afrikaners en leiers soos prof. Ntuli nie oor alles saamstem nie, maar Afrikaners kon binne eie geledere self nog nooit saamstem oor alles nie en dit is dus niks nuut nie. Wat wel van belang is, is dat daar gesprekke begin plaasvind tussen groepe wat voorheen skepties en selfs suspisieus teenoor mekaar gestaan het.

Aan die ander kant van die spektrum is daar vandag die oorgrote meerderheid van politici, akademici en ander leiers wat werklik die toonbeeld van onredelikheid en sinloosheid is. In Henry Hazlit se klassieke werk getiteld Economics in one lesson is die groot les, in ’n neutedop, wat enige ekonoom of selfs gewone persoon moet leer dat: Alle beleid of selfs gewone persoonlike keuses korttermyn- sowel as langtermyngevolge het. Die goeie ekonoom of redelike persoon sal nie slegs die korttermyngevolge van ’n besluit in ag neem nie, maar ook die langtermyngevolge, asook wie almal daardeur geraak sal word. Dit klink seker voor die hand liggend, maar duidelik vind hierdie basiese kennis geen neerslag by mense soos prof. Chris Malekane van Wits nie. Sy uitlatings oor nasionalisering en dat ’n gewelddadige stryd regverdigbaar is om sekere ekonomiese doelwitte te bereik, getuig nie van redelikheid nie, maar eerder die teenoorgestelde. Die korttermyngevolge van sy planne mag dalk armoedeverligting meebring, maar die langtermyneffek hiervan op die land en ander groepe mense sal katastrofies wees.

Alhoewel redelike stemme ondersteun moet word, sal daar terselfdertyd baie versigtig geoordeel moet word of die redelikheid nie dalk valse redelikheid is wat ingespan word as politieke wapen nie. Vanuit hul geskiedenis is Afrikaners uiteraard hiermee goed bekend.

Maar, met die warboel tans binne die ANC en sy alliansievennote, is daar dalk nou ’n gaping vir redelike stemme om leiding te gee, en Afrikaners behoort kennis te neem hiervan en dit te ondersteun.

 

 

Nuuskommentaar: 16 Mei 2017

WETTELOSE GEMEENSKAPPE BEDREIG DIE TOEKOMS VAN SUID-AFRIKA

 

Die onluste en verwoesting by Coligny die afgelope tyd het die kollig opnuut op die uitdagings wat op Suid-Afrika wag laat val. Bo en behalwe dat Suid-Afrika op ekonomiese gebied tot rommelstatus verklaar is, het die verwoesting en plundery van eiendom die vraag laat ontstaan of die owerhede hoegenaamd in staat is om die land te regeer. Dit het ‘n algemene verskynsel geword dat eiendom verwoes en geplunder word hetsy om uiting aan griewe te gee of onder die  voorwendsel dat dit om griewe gaan. Die polisie is oënskynlik magteloos om die slagoffers van die verwoesting en plundery te beskerm.

Wat veral kommerwekkend is dat verslaggewing deur sekere mediaplatvorms die indruk skep dat die wettelose optrede oogluikend goedgekeur word. Dit geld ook vir sekere  gemeenskapsleiers en kerkleiers wat óf nie die moed van hulle oortuiging het om dit te veroordeel nie óf andersins dit oogluikend goedkeur.

Sondagaand het ‘n nuusleser op ‘n televisienuuskanaal doodluiters berig dat die moord op ‘n seun die onluste by Coligny ontketen het. Eerstens bots dit met die feite wat algemeen bekend is en tweedens minag dit die beginsel van ons reg dat ‘n persoon slegs van moord beskuldig kan word  indien so ‘n persoon deur die hof skuldig bevind is. Landdros Magaola Fosa wat die aansoek van die twee beskuldigdes om borgtog moes oorweeg, het hom in ‘n onbenydenswaardige posisie bevind. Enersyds moes hy reg en geregtigheid laat geskied en die aansoek op grond van die vereistes van ons reg oorweeg en andersyds die gramskap van sekere lede van die gemeenskap trotseer wat geen agting vir die reg hoegenaamd het nie. Die feit dat landdros Fosa wel borgtog toegestaan het, spreek boekdele vir sy integriteit. Dit is uiters jammer dat die media, gemeenskap- en kerkleiers nie moeite gedoen het om die regsbeginsels waarop borgtog oorweeg moet word te beklemtoon en ‘n beroep op die betrokke gemeenskap te doen  om hulle daaraan te onderwerp nie.

Dit is ook opvallend dat onderhoude wat met die betogers gevoer word en op televisie gebeeldsend word, klakkeloos geskied en dat geen poging aangewend word om dit op ‘n ewewigtige wyse te doen  sodat alle aspekte van die saak belig kan word nie.

Indien ons Suid-Afrika uit die moeras wil lig waarin die land hom tans bevind, gaan dit ‘n reuse spanpoging deur kerk en samelewing verg. Die media kan in  hierdie opsig ‘n belangrike rol speel deur wettelose optrede op ‘n objektiewe en ewewigtige wyse te rapporteer waar die handhawing van wet en orde die grondslag is.

 

 

Nuuskommentaar: 15 Mei 2017

Vier die Moeder in jou lewe

 

Gister het ons weer Moedersdag gevier.

In soveel huise het dit ‘n gewoonte geword om deel te wees van die viering van die moeder van die huis omdat die gemeenskap dit aanmoedig, self in kerke word daar ‘n groot fokus op die moeders geplaas.  As daar nou ‘n vrou is wat behoorlik verdien om gevier te word is dit die Ma in jou lewe. Dit is so dat jy eers werklik besef wat ‘n ma vir haar gesin doen wanneer jy self ‘n ma is. Daar lê soveel opgesluit in die woord Mamma – ‘n legio benamings is onlosmaaklik verbind hieraan: trooster, versorger, verpleegster en so hou die lys aan en aan. Vra enige vrou wat sy in ruil vir goeie moederskap verwag en sy sal jou vertel sy verwag nie om oorlaai te word met geskenke nie, want die hart waarmee sy dit doen dag-na-dag, jaar-na-jaar is net so vol onvoorwaardelike liefde vir haar kinders dat dit haar vreugde bring en dìt is vir haar genoeg.

Natuurlik is dit ‘n spesiale oomblik wanneer ‘n kind kom dankie sê, maar dit bepaal nie ‘n ma se toewyding aan haar gesin nie. Die beste wat enige kind vir ‘n ma kan doen, ongeag ouderdom, is om meer gereeld as net op Moedersdag, liefde te bewys deur waardering, respek en erkenning; klein gebare wat deel kan en behoort te wees van ons kind-wees en mens-wees.

Moedersdag is die ideale dag waarop elke vrou wat die voorreg en vreugde van moederskap ken, met ‘n hart vol dankbaarheid, vir haar Here God kan dankie sê dat sy ‘n geseënde vrou is. Baie ma’s bid gereeld vir hul kinders, ongeag of hulle al self ouers is, maar hierdie dag is die gebed anders.  Hierdie keer is die gebed nie vir die kinders, hierdie is ‘n dankbare hart wat lof bring aan die Een wat lewe gee. Daarmee saam is daar die erkenning van afhanklikheid van God en die versoek om genade, wysheid, krag en leiding om die beste MA te wees wat Hy ‘n vrou gemaak het om te wees.

Nie elke ma ken die vreugde van geboorte gee, maar dit maak haar niks minder ‘n moeder nie. Elke vrou met ‘n moederhart vir die kinders wat aan haar toevertrou is, moet gevier word!

Vier die moeders in jou lewe, hulle is kosbaar en spesiaal. Moeders vier jou moederskap met vreugde en dankbaarheid vir die voorreg van ma-wees.

Die mooiste naam waarby ‘n vrou geroep kan word, is Mamma!

 

 

Nuuskommentaar: 12 Mei 2017

Kernkragplanne voorlopig gestuit.

 

Die ANC-regering se kernkragplanne is deur ʼn uitspraak in die hooggeregshof in Kaapstad gestuit. Die vraag is of die planne permanent gestuit is?

Solank Zuma president is, moet aanvaar word dat die planne net voorlopig gestuit is. Hy is baie ernstig om dit deur te voer.

Waarom is die kernkragplanne vir Zuma so belangrik?

Omdat dit meer gaan oor Brics en Zuma se verhouding met president Putin van Rusland as wat dit gaan oor die noodsaaklikheid van kernkrag vir Suid-Afrika.

In Desember 2010 het Suid-Afrika lid van Brics geword met Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika as lidlande. Van die vyf lande is Suid-Afrika by verre die kleinste. In elke meetbare opsig hoort Suid-Afrika eintlik nie tussen hierdie groot ontwikkelende ekonomieë nie.

Waarom is ons dan daar?

Omdat die groot Brics lande soos China en Rusland, Suid-Afrika sien as ʼn gerieflike toegangspoort na Afrika. Afrika met ʼn potensiële koopmark van 1200 miljoen inwoners. Afrika met minerale en landbougrond wat hierdie groot ekonomieë nodig het.

In Julie 2014 het die Brics-lande ooreengekom om ʼn nuwe Brics ontwikkelingsbank te skep. Die bank moet hierdie lande help met infrastruktuur ontwikkeling. Die nuwe bank is gestig oor frustrasies wat die Brics-lande met die Internasionale Monetêre Fonds – die IMF het. Die IMF is te Westers volgens hulle. Die IMF se hoofkantoor is in Washington en die VSA en die Europese lande kan effektief enige besluit van die IMF veto.

Die Brics besluit is dat die Afrika hoofkantoor van die nuwe ontwikkelingsbank in Suid-Afrika moet wees.

Zuma voel baie gevlei en belangrik om deel van hierdie Brics-klub se leiers te wees.

Na gesprekke tussen Zuma en die Russiese leier Putin, is sekere ooreenkomste oor kernkrag vir Suid-Afrika tussen die twee lande geteken.

Minister Gordhan het ernstige probleme met die finansiële implikasies van hierdie ooreenkomste en het dit vertraag.

Minister Joemat-Petterson, wat nog altyd lojaal aan Zuma se kant was, moes die kernooreenkomste so gou as moontlik begin implementeer. As gevolg van opposisiepartye se navrae, sekere media-onthullings en die hofsake kon sy die proses nie vinniger laat gebeur nie. By elke Brics beraad is Zuma nou in die verleentheid omdat hy nie vordering teenoor Putin oor die kernsake kan rapporteer nie.

Dieselfde probleme geld vir die Afrika deel van die nuwe Brics-bank. Minister Gordhan het voorwaardes vir die stig van die bank gehad wat nie vir Zuma aanvaarbaar was nie. Die gevolg is dat die bank na drie jaar nog nie in Suid-Afrika gevestig is nie. In April vanjaar moes Suid-Afrika weer aan die ander Brics-lande verslag doen waarom daar nie met die Afrika deel van die bank gevorder is nie. Dit is ʼn groot verleentheid vir Zuma voor die ander Brics leiers.

Deur Gordhan en Joemat-Petterson in Maart te vervang met ja-baas ministers — hoop Zuma om gouer kernkrag- en bank resultate te kry. Daarmee bewys hy aan sy Brics-mede-leiers dat hy wel nog in beheer van Suid-Afrika is.

Daarom moet ook aanvaar word dat Zuma teen die jongste hofuitspraak oor die kernooreenkoms sal appelleer of alles in sy vermoë sal doen om dit te omseil.

Baie van Zuma se onlogiese en kortsigtige besluite maak nie sin nie. Om van Minister Gordhan en Joemat Petterson in Maart ontslae te raak, maak wel meer sin as dit teen die Brics agtergrond beoordeel word. Dan is sake soos korrupsie en persoonlike bevoordeling van sekere individue uit hierdie transsaksies, nog nie by gereken nie.

 

Nuuskommentaar: 11 Mei 2017

President Macron. Wat nou?

 

Die uitslag van Sondag se presidentsverkiesing in Frankryk was vir niemand ’n verrassing nie. Frankryk is net soos die meeste lande in Wes-Europa nog nie reg vir ’n patriotiese kandidaat wat nasionale belang en eie identiteit onbeskaamd voorstaan nie. Frankryk se probleme is nog nie so ernstig dat genoeg kiesers die risiko sou neem om vir Marine Le Pen te stem nie. Le Pen het immers belowe om op revolusionêre wyse Frankryk se grense te sluit, immigrasie te beperk en Frankryk uit die Europese Unie, Schengen-ooreenkoms en Eurosone te onttrek. Vir baie Franse skep dit alles net te veel onsekerheid.

 

Hoewel die sentrum van Franse politiek dus staande bly en die verkiesing van President Emmanuel Macron beteken dat Frankryk se rol binne Europa min sal verander, is die onderliggende probleme in Frankryk steeds teenwoordig en sal dit net erger word indien Macron soos sy twee voorgangers, Nicolas Sarcozy en Francois Hollande daarvan wegskram om groot en belangrike hervormings te onderneem ten einde die ekonomiese en veiligheidsuitdagings wat die land in die gesigstaar, die hoof te bied.

 

Die 35-ure werkweek wat in 1999 in Frankryk ingevoer is, is totaal onvolhoubaar. Dit gekombineer met die land se maatskappybelasting van 33,3% maak dit baie moeilik vir Franse maatskappye om op die globale mark met hul produkte en dienste mee te ding.

 

Die regeringsburokrasie in Frankryk is van die ergste in Europa en gedurende 2015 het die regering 57% van die land se bruto-binnelandse produk opgeslurp. Terwyl vakbonde in talle Westerse lande oor die afgelope paar jaar saam met tradisionele ekonomiese bedrywe weggekwyn het, is groot vakbonde in Frankryk steeds goedgeorganiseerd en magtig. Tien jaar na die finansiële krisis wat ’n resessie en werkloosheid na die meeste Westerse lande gebring het, is die werkloosheidskoers in Frankryk steeds 10%. In lande soos Duitsland, Nederland, Engeland en Amerika het die werkloosheidskoers skerp afgeneem en is dit in baie gevalle vandag onder 5%.

 

’n Probleem wat in Frankryk, soos in talle ander Westerse lande ook toeneem, is die ekonomiese agteruitgang van die platteland weens voortdurende verstedeliking, tegnologiese veranderinge in die landbousektor, die vergroting van landbou-eenhede en die regering se onvermoë om weens hoë staatskuld steeds die nodige infrastruktuur op die platteland te skep sodat ekonomiese aktiwiteit daar gestimuleer word. Soos in die VSA voel mense op die Franse platteland en in ou industriële dorpe toenemend vervreemd van die elite in Parys en ander groot stede. Dit is belangrik om te onthou dat meer as 40% van Franse kiesers in die eerste rondte van die presidentsverkiesing vir die twee partye op die mees linkse en mees regse grens van die politieke spektrum gestem het. Hierdie kiesers het duidelik protes aangeteken teen die gevestigde politieke orde. In Sondag se tweede rondte van die verkiesing het een derde van kiesers hul stembriefies bederf of eenvoudig tuis gebly en nie gestem nie.

 

Met ’n Moslembevolking van 6 miljoen word die land se veiligheidsbedreiging ook nie kleiner nie. Die Franse kiesers het Sondag vir die korttermyn ’n lae risikobesluit geneem. Die vraag is nou of President Macron bereid gaan wees om die nodige, groter risiko’s te neem om Frankryk op ’n nuwe, beter pad te plaas. Net tyd sal leer.

 

Nuuskommentaar: 10 Mei 2017

Rassisme met traangevulde oë…

 

Premier Supra Mahumapelo van Noordwes is een van drie ANC-politici wat onregverdig en rassisties opgetree het tydens twee hoogs emosionele begrafnisdienste. Hy het sommer by voorbaat wit Afrikaners die skuld gegee vir die dood van ‘n swart tienerseun op Coligny selfs nog voordat die hof ‘n beslissing gemaak het. Die twee beskuldigdes is op borgtog vrygelaat omdat die landdros gemeen het hulle is geregtig daarop. Mahumapelo se tirade het regstreeks gelei tot grootskaalse geweld en plundery net ná die uitspraak en ‘n bejaarde vrou het ternouernood aan die dood ontkom toe haar plaashuis aan die brand gesteek is. Daarna is nóg huise aan die brand gesteek. Die premier se uitlating dat hy nie witmense se meerwaardigheidshouding kan verdra nie, dui op ‘n diepe minderwaardigheidsgevoel onder sekere etniese rassegroepe in die land.  Die land se handjievol witmense probeer juis om hulle soveel moontlik op die agtergrond te hou. Misdaad, regstellende aksie en vals beskuldigings van gronddiefstal is onder meer daarvoor verantwoordelik. Die premier het baie onverantwoordelik opgetree. Mense is onskuldig totdat hulle skuldig bewys word. Hy het ook nie een keer die gedrag van swart inwoners buite Coligny veroordeel nie.  Ná die massabegrafnisdiens van 16 van die 18 skoolkinders wat in ‘n gru-ongeluk naby Bronkhorstspruit in Gauteng gesterf het, is die Minister van Vervoer, Joe Maswanganyi, skerp gekritiseer oor sy uitlating dat die Padongelukkfonds in die verlede net omgesien het na ryk wittes. Hy het oud-president FW de Klerk ook veroordeel vir sy uitlating dat die ANC ‘n grondwetlike krisis veroorsaak het.  Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, word daarvan beskuldig dat sy dieselfde begrafnisdiens gekaap het om die ANC te verdedig. Sy het die duisende mense wat teen die ANC in die strate betoog, as leë blikke beskryf wat net ‘n groot geraas maak.  Wat gebeur het, is dat drie hoëvlak ANC-lede hulle slegs 24-uur uitmekaar aan gevaarlike rassistiese uitsprake skuldig gemaak het. Om politieke speletjies te speel ten aanskoue van die hartseer en geskokte naasbestaandes van oorledenes, is onvergeeflik. Hulle was net op soek na troos en versterking, maar moes in soveel woorde hoor dat die land se wittes eintlik vir hulle pyn en lyding verantwoordelik is. Het president Jacob Zuma dus daarin geslaag om sy anti-wit sentimente te vestig?   Wat ‘n mens laat wonder – is hy net desperaat om aan sy eie wankelrige politieke bestaan vas te klou of wil hy ‘n burgeroorlog ontketen?  Hy lewer nooit kommentaar op die groot aantal wit boere en wit stedelinge wat vemoor, vermink of verneder word nie.   Totdat hierdie gevaarlike politieke spel homself uitgespeel het, kan ons net vashou aan die sesde en negende gebod:  Jy mag nie moord pleeg nie en jy mag nie valse getuienis spreek nie …

 

NUUSKOMMENTAAR: 9 Mei 2017

Witmense weer die slaansak

 

Die gerespekteerde dr Mamphela Ramphele het onlangs tydens ʼn radio onderhoud gesê dat “witmense verskoning moet vra vir die rykdom wat hulle bekom het sonder om daarvoor te werk.” Skatryk in eie reg met ʼn rykdom waarvoor die meeste wit mense ʼn paar leeftye sal moet werk is nie ter sake nie.

 

ʼn Rubriekskrywer op News24 skryf ʼn rubriek onder die opskrif “Moet witmense Vryheidsdag vier? en argumenteer hy, witmense moet die dag vier, want hulle moet herinner word daaraan dat hulle spesiale regte en voorregte op die dag weggeneem is. In die tweede plek moet bevoorregte witmense besef dat hulle ʼn verpligting het teenoor swartmense wie se stryd nog ʼn werklikheid is.

 

Christi van der Westhuizen wroeg op Vryheidsdag onder die vaandel van die Ahmed Kathrada Stigting by die Apartheidsmuseum by ʼn paneelbespreking oor “Of ʼn nie-rassistiese Suid-Afrika moontlik is? Sy het dit oor “nie-rassisme wat nie aangespreek kan word, as wit bevoorregting nie aangespreek word nie.”

 

Uit die paar voorbeelde word dit duidelik. Daar kan nie meer sinvol aan ʼn debat oor 2017 se probleme gepraat word, sonder om eers witmense by te sleep en te beskuldig nie. ʼn Kapstok (gewoonlik anti-wit, wit beskuldigend, of selfs haatspraak) kan selfregverdiging bied om vandag se swart wandade te kan kritiseer. Sonder die kapstok  mag hulle dalk net gesien word as regverdigend teenoor die verlede, teenoor witmense en die hemele behoed ons enige iets wat na kolonialisme ruik.

 

Dit is baie maklik om witmense vandag te betrek en verder te blameer. Dr Ramphele soek verskonings en witmense wat erkenning moet gee aan die stryd van swart landgenote.

 

Daar is genoeg verskoning gevra vir apartheid. Die grootste struikelblok is nie meer die wil om verskoning te maak nie, maar die wil om vergifnis te bied. Wie moet dit vandag doen? Die groter ironie is dat witmense nie vir 23 jaar smekend om vergifnis en verneder op hulle knieë kan bly nie. Die verskonings van mnr FW De Klerk by die Waarheid en Versoeningskommissie is afgemaak en is de Klerk selfs verkleineer. Oud polisieminister Adriaan Vlok het in ‘n besonderse simboliese gebaar dr Frank Chikane se voete gewas, as teken van sy berou oor dit wat onder apartheid gedoen is. Hierdie verskoning is deur Adv Dumisa Ntsebeza, gewese hoof van die Waarheid-en-versoeningskommissie se ondersoekeenheid as “te min, te laat” afgemaak.

 

Verskonings is al deur kerkgroepe, media groepe en vele meer gemaak. Wie nog?

 

Wit mense se bydrae in die Suid-Afrika van vandag ten spyte van vele struikelblokke is enorm. Dit kon egter soveel meer gewees het as witmense nie deur wetgewing en beleidsraamwerke soos Swart Ekonomiese Bemagtiging en regstellende aksie, uitgesluit word van die ekonomie nie.

 

Nog verskonings gaan nie die hedendaagse probleme oplos nie. Betrek eerder die goeie wil van wit Suid-Afrikaners wat geroepe voel en vasberade is om in Suid-Afrika te bly, wat wil meewerk om die land te laat werk tot voordeel van almal.

 

NUUSKOMMENTAAR: 8 Mei 2017

Presidentskap nie vir onkundiges

 

In die VSA het dit tradisie geword om ’n 100 dae na bewindsaanvaarding die president se vertoning te evalueer. By dié geleentheid het pres. Donald Trump laat blyk dat dit ingewikkelder is om president te wees as wat hy gemeen het dit sou wees.

Soos dit dikwels met die oorneem van Amerikaanse gebruike die geval is, het Suid-Afrikaners ook die aanbied van ’n staatsrede en die 100-dae-oorsig oorgeneem. Trouens, die staatsrede is in behoorlike uithanggeleenthede ontwikkel, en daar is nou ook sommer provinsiale en munisipale redes – ten duurste en met glans.

Pres. Jacob Zuma is baie lank by sy eerste 100 dae as president verby. Tog, na die jongste ruk gebeure waarby hy betrek is, kan ’n mens wonder of hy nie nou ook kopkrap en binnensmond mompel nie: “Dit is baie moeiliker om president te wees as wat ek gedink het.”

Die Sondag voor Werkersdag spreek Zuma ’n werkersdaggeleentheid in Mamelodi toe, wat amper ’n presiese weergawe moes wees van die hooffunksie wat die volgende dag in Bloemfontein moes plaasvind. Donker donderwolke van moeilikheid was saam gepak, maar Zuma se spreekbeurt in Mamelodi verloop glad. Trouens, hy praat dubbel so lank as wat sy amptelike spreekbeurt was. Hy kry soveel selfvertroue dat hy die skare vra om met die volgende verkiesing die ANC ’n tweederde-meerderheid te besorg, sodat die grondwet gewysig kan word. Volgens hom verhinder beperkings in die grondwet vooruitgang.

Net ’n dag later verhinder ’n deel van die skare in Bloemfontein nie net hom nie, maar van sy ander kornuite, om te praat. Zuma moes die verrigtinge druipstert verlaat, na hy aanvanklik nog lekker ontspanne gegiggel het. En nie alleen sink die Bloemfonteinse geleentheid – Cosatu se hooffunksie vir Werkersdag nie, in KwaZulu-Natal word die speaker Baleka Mbethe uitgejou, en in Limpopo word Jesse Duarte verhinder om te praat. Beide is stoere Zuma-aanhangers.

Duidelik is dit wat oornag gebeur het te ingewikkeld vir Zuma en sy apparatuur, wat die intelligensiedienste insluit, om ontleed te kry.

Na sowat ’n kwart eeu kom daar al hoe meer geluide uit die ANC dat onbevoegde ontplooide kaders op verskillende regeringsvlakke met kundiges vervang moet word. En net soos dit lyk of besef word dat regeerwerk eintlik nie so maklik is nie, en dat volop kundigheid vereis word, word weer ’n rits politieke kommissarisse ontplooi wat van die werk g’n benul het nie.

In ander lande waar politieke kommissarisse ontplooi word, word hulle gewoonlik parallel of bykomend tot die kundige amptenaar aangestel, juis omdat die ingewikkeldheidsvlak besef word.

Selfs politici word teen onkundigheid beskerm deurdat adviseurs aangestel kan word. Die ingewikkeldste aspek hiervan is om te sorg dat die kundiges inderdaad kundig is, anders gaan die staat ritse hofsake verloor, om maar een gevolg te noem.

Of ’n ekonomiese adviseur raak erg skadelike twak kwyt en ondermyn beleggersvertroue op groot skaal. Normaalweg, as ’n minister so ’n blaps begaan, is die skokeffek kleiner omdat die belegger weet daar is kundiges agter die skerms wat sal keer dat sake ontspoor.

Pas het Zuma weer ’n hofsaak verloor, en ’n rits hofsake wag …

 

Nuuskommentaar: 5 Mei

Franse verkiesing plaas kollig op langtermyn vraagstukke

Meer as veertig miljoen Franse burgers sal eerskomende Sondag hul stemreg kan opneem om die volgende Franse president te verkies. Frankryk staan voor ’n kruispad. Na die teleurstellende presidentskap van die sosialis, Francois Hollande moet Franse Sondag kies tussen ’n gematigde pro-Europese vryemarkgesinde liberalis, Emmanuel Macron en die nasionalistiese en anti-Europese Unie kandidaat, Marine Le Pen.

 

Frankryk se werkloosheidkoers is hoër as lande soos Duitsland, Brittanje, Nederland, België, Switserland en Oostenryk. Die land se ekonomie staan voor talle uitdagings weens die agteruitgang van die vervaardigingsektor in die noorde, die afname in toerisme weens veiligheidsvrese, die ontvolking van die platteland en gevolglike lae groei in die landbousektor en natuurlik die land se drakoniese arbeidswette wat ’n lae aftree-ouderdom en kort werkweek wat die land onmededingend maak, insluit.

 

Die toename in Moslemterrorisme in Wes-Europa oor die afgelope paar jaar het Frankryk ook harder getref as enige ander land. Frankryk het die grootste Moslembevolking in Wes-Europa en talle stedelike woorbuurte is vandag enklaves van arm, werklose Moslems wat nie by die Franse bevolking geïntegreer is nie. Groot getalle jong Moslemmans het oor die afgelope vyf jaar na lande soos Sirië en Afganistan gereis om daar by terreurgroepe aan te sluit en in burgeroorloë te veg. In talle gevalle het hierdie geradikaliseerde jongmans na Europa teruggekeer, reg om die heilige oorlog teen die vyande van die Islamgeloof voort te sit.

 

Die vraag in Sondag se verkiesing is meer wesenlik as korttermyn vraagstukke oor die hervorming van arbeidswetgewing, wysigings aan die belastingstelsel of investering in nuwe infrastruktuur. Die vraagstukke waarmee Franse kiesers gekonfronteer word, het eerder te make met die soort land wat Frankryk in die toekoms wil wees en hoe Franse hul rol in die res van die wêreld sien.

 

Macron is ten gunste van ’n sterk Europese Unie, die behoud van die Euro en samewerking binne die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie. Binnelands probeer hy ’n fyn balans handhaaf deur homself effens links van die sentrum te posisioneer sonder om te veel sentrumregse kiesers in die rigting van Le Pen te dryf. Hy is dus ten gunste van die hervorming van arbeidswette, maar nie op wyses wat die vakbonde te kwaad sal maak nie.

 

Daarteenoor is Marine Le Pen uitgesproke in haar teenstand van die Europese Unie en die Euro. Sy is ten gunste van die herinstelling van grensbeheer en strenger immigrasiewette. Wat die land se ekonomiese uitdagings aanbetref, is Le Pen proteksionisties ingestel.

 

Die nuutste peilings wys dat die gaping tussen Macron en Le Pen stadig begin toemaak met Macron wat hier en daar onder die 60% begin inbeweeg en Le Pen wat in sommige peilings steun van 40% begin toon. Daar is slegs ’n baie skraal kans dat die gaping teen Sondag heeltemal toegemaak kan word.

 

Die vraag is egter, net soos in verlede jaar se Amerikaanse verkiesing: Wie gaan stem? Die wegblystem gaan Sondag ’n wesenlike impak op die verkiesingsuitslag hê. Die keuse is soos in verlede jaar se Amerikaanse verkiesing een tussen ’n lae-risiko pragmatis en ’n hoër risiko populis. Wie ook al wen, Frankryk sal na die verkiesing groot veranderinge moet ondergaan om op die behoeftes van ’n onrustige bevolking te antwoord en om sy toekomstige rol in Europa en die wêreld te herdefinieer.

 

Nuuskommentaar: 4 Mei 2017

Die ANC moet ‘n denkskuif maak

Baie is al gesê oor president Jacob Zuma se vernedering in Bloemfontein tydens Cosatu se Werkersdagvieringe. Hy is vooraf gewaarsku dat talle vakbonde wat by Cosatu geaffilieer is, hom nie daar wil hê nie, maar die premier van die Vrystaat, Ace Magashule, het blykbaar die president gerus gestel dat hy met ope arms verwelkom sal word. Dit het nie gebeur nie en die eerste keer in sy termyn moes meneer Zuma die aftog blaas. Wat die voorval in ‘n vreemde en selfs simboliese lig plaas, is dat die ANC juis in die Waaihoek Wesleyaanse Kerk net buite Bloemfontein in 1912 gestig is. Wie het ooit gedink die leier van die regerende party wat homself ewigheidswaarde toegeëien het, 105 jaar later so behandel sou word?  Boonop het die land se grootste biddiens – Dis tyd –  ook pas buite die Rosestad plaasgevind. Dit is tyd dat die ANC homself in oënskou neem en eerlik oor sy ware identiteit besluit.  Die party se stigterslede het hoofsaaklik ‘n grondvisie gehad. Verskeie besoeke is aan Brittanje gebring omdat dié land die koloniale heerser in Suid-Afrika was. Die daaropvolgende ANC-leiers het ‘n soort van ‘n burgerregte-organisasie bedryf wat alle voorregte en moontlikhede vir hulle eie ondersteuners wou opeis. Daarna begin die vryheidstryd wat vanuit die buiteland gevoer is en toe begin die gewapende offensief. Nóg later beding die ANC vir ‘n demokrasie sonder om te besef dat ‘n demokratiese bestel na alle kante toe werk. Daar word ‘n grondwet aanvaar wat eiendomsreg verskans en gelyke behandeling voorsien vir die land se uiteenlopende volksgroepe. Nie lank nie, of die ANC word weer ‘n bevrydingsbeweging omdat hy nie aan die massa se eise kan voldoen nie. Terselfdertyd word sy stigters se grondvisie weer geïnkorporeer, behalwe dat dit nou deur middel van onteiening gedoen sal word. Die land se wit minderheid word andermaal verduiwel en as diewe, onderdrukkers en kapitaal-monopoliste voorgehou. Tans is dit die ANC se era van staatskaping, selfverryking, en grootskaalse magsmisbruik. Gevolglik is daar ‘n reuse-toename in die aantal mense wat onder die broodlyn moet lewe omdat al hulle vooruitsigte opgedroog het. Dit is asof die ANC al sy beginsels en waardigheid verloor het.  Hoe meer die party se leiers daaroor vermaan word, hoe erger word die ondeursigtigheid en verontagsaming van vasgelegde reëls en regulasies. Hoe meer die ANC struikel en spartel, hoe meer word die skuld op buite-faktore en selfs die buiteland gepak. Die African National Congress sal drasties moet herbesin of aanvaar dat sy rakleeftyd nader kom. Daar is ‘n nuwe land aan die opstaan.

 

Nuuskommentaar: 3 Mei 2017

Die reg om te staak en die reg om te werk

 

In Suid-Afrika is dit redelik algemeen dat vakbondbase en politici met mekaar meeding om revolusionêre retoriek oor die ekonomie en arbeidsake uit te basuin. Daar is immers ’n magstryd aan die ontwikkel rondom interne ANC-pogings om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak.

Hierdie retoriek is skadelik, en dra daartoe by dat die land hard gaan spook om van sy rommelstatus ontslae te raak.

Suid-Afrika se grondwet en arbeidswetgewing het dit al dikwels moontlik gemaak dat enorme skade deur stakings en die intimidasie en geweld wat daarmee saamloop, aangerig word. Dink maar net aan Marikana.

Hierdie hooggeroemde grondwet maak voorsiening vir die reg om te staak, maar nie vir die reg om te werk nie. Op die pragmatiese skaal sou ’n mens graag wou sien dat die persoon wat nie wil staak nie, of nie kan bekostig om te staak nie, die reg sal hê om te werk, en nie deur stakers aangerand, en selfs doodgemaak te word nie.

Die vakbond Solidariteit het in 2014 aangedui dat hy sy regspan opdrag gegee het om voorbereiding te doen vir regstappe om dit aan te spreek. Voor veel water in die see kon loop het die Suid-Afrikaanse regering egter ’n internasionale verdrag geratifiseer wat reeds twintig jaar tevore geteken is. Die verdrag, bekend as die Internasionale Konvensie oor Burgerlike, Maatskaplike en Kulturele Regte, erken onder meer die reg om te werk. Dit bepaal ook dat daar ’n sonsondergangskousule vir regstellende aksie moet wees, en dat kwotas verbied word.

Dié ratifikasie het in 2015 gebeur.

Van ’n sonsondergangsklousule is daar nog geen sprake nie, en van die opskorting van kwotas nog minder. Trouens, as na die rasbenepe retoriek van Zuma geluister word, beweeg die land vinnig in die teenoorgestelde rigting.

Van die reg om te werk kan daar ook min sprake wees as daar nie werk is nie, en Zuma se retoriek vernietig die staatkundige klimaat wat bevorderlik is vir ekonomiese groei. Sy irrasionale optredes het trouens baie daartoe bygedra dat die land reeds by twee graderingsagentskappe rommelstatus verwerf het, en ’n derde is klaarblyklik op hande.

Ironies dat Werkersdag vroeër die week gevier is, terwyl ’n baie groot deel van die bevolking nie kan meedoen nie omdat daar bloot nie vir hulle werksgeleenthede is nie. Nie almal is immers entrepreneurs nie.

Verskeie Amerikaanse deelstate het wel hulle eie bepalings oor die reg om te werk, en nog ander oorweeg dit. Peilings in die deelstate wat dit nie het nie, toon dat die meeste inwoners so ’n bepaling as leë woorde ervaar, maar dit toon ook dat die inwoners van deelstate wat die bepaling wel bevat, meer positief daaroor is. Dit het dus minstens sielkundige waarde.

Dit sou dus goed wees as die veldtog teen Zuma sommer die regering se verbintenis tot hierdie verdrag opeis, en wel op ’n manier wat ekonomies sin maak. Dus ver verwyder van die rowersmentaliteit soos om grond sonder kompensasie te wil onteien – iets wat die ekonomie heeltemal sal laat inplof.

 

Nuuskommentaar: 2 Mei 2017

Witmense in Suid-Afrika skrikwekkend minder

 

Frans Cronje van die Instituut vir Rasse-verhoudinge is onlangs deur ‘n joernalis genader oor die toekoms van witmense in Suid-Afrika. Sy antwoord was dat witmense teen die middel van hierdie eeu bes moontlik uit die bevolking sal verdwyn het.

 

Frans Cronje was jare gelede deel van ‘n span wat die toekoms van die Suid-Afrikaanse bevolking bestudeer het. Omdat daar ‘n aantal huidige en historiese vrae oor die akkuraatheid van Suid-Afrikaanse bevolkingsyfers is, het die span noukeurig na die ouderdomstruktuur van die bevolking gekyk.

 

Een van die bevindings was dat daar meer witmense in die ouderdomsgroep 50 tot 59 was as mense van die ouderdom 20 tot 29. Oor die hele ouderdomsgroep 20 tot 40 jaar was daar bewys van witmense wat die land verlaat het. Die span het dié getal op etlike honderdduisende geskat.

 

Daar is ook bevind dat hierdie witmense Suid-Afrika ná 1994 verlaat het. Die span het dit geweet omdat diesulke jongmense se ouers nog in die data was, maar dat die kinders voor 1994 nog te jonk sou wees om sonder hulle ouers te emigreer.

 

Die span het ook opgemerk dat daar ‘n skerp afname was in die getal wit kinders wat in Suid-Afrika gebore word. Dit was nie net die afname wat ‘n mens sou verwag van ‘n al voorspoediger middelklas wat minder kinders kry nie. Die getal wit kinders wat in Suid-Afrika gebore word is ‘n weerspieëling van die afname in die getal witmense in die ouderdomsgroep 20 tot 40 jaar.

 

Die feit dat baie jong witmense buite Suid-Afrika kinders kry, suggereer dat hulle die land permanent verlaat het. Volgens Frans Cronje is dit onwaarskynlik  dat witmense na Suid-Afrika sal terugkeer nadat hulle kinders in die buiteland gebore is.

 

Die navorsingspan het voorspel dat Suid-Afrika se wit bevolking al ouer sal word en mettertyd tot byna niks nie sal verminder.Daar is beraam dat 40 persent van die huidige wit bevolking in die volgende drie dekades weens ouderdom of siekte kan sterf. Namate wêreldwye ekonomiese toestande verbeter, sal dit vir jong witmense makliker word om hulle lewens in die buiteland te lei – veral as die regering voortgaan met dreigemente teen eiendomsregte en die afdwinging van rassekwotas in die sakesektor en werkplek. Geboortesyfers van witmense is te laag om te vergoed vir mense wat sterf of emigreer. Die slotsom is dat ‘n aansienlike vermindering in die wit bevolking voorsien word.

 

Terwyl wit bevolkingsyfers afneem, sal die breër Suid-Afrikaanse bevolking waarskynlik toeneem. In 1994 was die beraamde bevolking in Suid-Afrika 39 miljoen mense. Die syfer het met 40 persent toegeneem tot 56 miljoen vandag. MIV-vigs vertraag wel bevolkingsgroei, maar ten spyte daarvan is die bevolking tans 10 miljoen meer mense as ‘n dekade gelede.

 

Witmense vorm tans ‘n beraamde 8 persent van die totale Suid-Afrikaanse bevolking. Voortgesette veroudering en toenemende emigrasie kan die persentasie tot tussen 1 persent en 3 persent laat daal. Bloot wat die ekonomie betref, sal die implikasie hiervan ingrypend wees.

 

Nuuskommentaar: 28 April 2017

Radikale Ekonomiese Transformasie.

 

Wat presies beteken die begrip radikale ekonomiese transformasie?

Die begrip word vandag in bykans elke ANC toespraak gebruik.

Toe aan president Zuma gevra is wat hy met radikale ekonomiese transformasie bedoel, het hy ʼn baie vae verduideliking gegee — opgevolg deur sy gewone senuweeagtige laggie.

Na 23 jaar van ANC regering is armoede en werkloosheid meer en nie minder nie. Van die ANC se beloftes van ekonomiese groei en werk vir almal, het niks gekom nie. Verkiesingsuitslae wys dat ANC kiesers meer en meer ekonomies ontnugter raak.

Julius Malema het hierdie gaping raakgesien. Dit skep vir hom ʼn geleentheid waarmee hy president Zuma en die ANC kan vernietig. Hulle wat hom as ANC jeugleier geskors het. Daarom kies Malema “EFF” as sy politieke party se naam – Economic Freedom Fighters — Ekonomiese Vryheidsvegters. Die begrip radikale ekonomiese transformasie forseer hy so op die politieke agenda.

Skielik, na die ANC se terugslae by die stembus, begin president Zuma ook praat van radikale ekonomiese transformasie. In sy jaarlikse verklaring op 8 Januarie – ter viering van die ANC se stigtersdag, is radikale ekonomiese transformasie ʼn belangrike tema.

Hy herhaal dit weer in vanjaar se staatsrede in die parlement. Blatant steel Zuma so sekere EFF beleidstandpunte. Hierdeur probeer Zuma keer dat die EFF die ontnugterde ANC kiesers daarmee aan hulle kant kry.

Binne in die ANC het die begrip radikale ekonomiese transformasie die laaste paar maande die kodewoorde geword om te identifiseer watter ANC leiers in die Zuma kamp is.

Verlede week het mev. Dlamini Zuma by ʼn byeenkoms in Sasolburg al die onrealistiese standpunte van haar eks-man president Zuma herhaal en natuurlik na “radikale ekonomiese transformasie” verwys. Daarmee stuur sy die sein uit dat sy die Zuma-groep se kandidaat in die ANC presidentsverkiesing in Desember is.

ANC leiers wat hierdie woorde vermy en eerder van “inklusiewe ekonomiese groei” praat, was tot onlangs nog duidelik nie in die Zuma kamp nie maar wel in die Ramaphosa en Gordhan faksie in die ANC.

Wat die ANC debat en leierskapstryd skielik meer verwarrend maak, is dat Ramaphosa hierdie week (Woensdag 19 April) by die Black Business Council (BBC) hiervan afgewyk het. In sy toespraak verwys hy nou ook skielik na “radikale ekonomiese transformasie”.

Beteken dit dat Ramaphosa nou ook in die Zuma kamp is?

Nee, dit beteken eenvoudig dat die ANC leierskapresies voluit aan die gang is.

Dit beteken verder dat hierdie nie ʼn geveg is om Suid-Afrika se mense of die wêreld se steun te kry nie.

Hierdie is ʼn geveg om die steun van die ANC taklede te kry. Dit is hierdie taklede wat in Desember vanjaar die nuwe ANC president gaan aanwys.

Deurdat Ramaphosa skielik dieselfde woorde as president Zuma en sy eksvrou gebruik, verhoed hy dat hulle die begrip radikale ekonomiese transformasie vir hulle alleen kan opeis.

Ramaphosa se verduideliking van wat radikale ekonomiese transformasie beteken, verskil egter in verskeie opsigte van Zuma se vae verduidelikings.

Vir die volgende paar maande gaan meeste Suid-Afrikaners hierdie speel met woorde as deel van ʼn vernietigende leierskapgeveg binne die ANC moet verduur. Tans is dit propaganda towerwoorde waaragter ANC-leiers hoop om hulle mislukkings weg steek deur die indruk te wek van groot nuwe ekonomiese planne.

Wat radikale ekonomiese transformasie werklik in die praktyk beteken, sal in die toekoms afhang van wie hierdie leierskapstryd in Desember wen

 

Nuuskommentaar: 27 April 2017

Die verval in dorpe  – tekenend van algemene verval

 

Wanneer laas het jy die vooreg gehad om ons land se natuurskoon te waardeer?  Die platteland met netjiese landerye en boerdery aktiwiteite vertel die storie van harde werk, vooruitgang en trots. Ongelukkig is dit nie orals die geval nie.Die buitewyke van Ventersdorp Sannieshof, Delareyville, Vryburg en Kuruman vertel slegs een storie, die verhaal van verval. Dit is dieselfde ervaring in Mpumalanga waar slaggate in dorpsgebiede die norm raak. Dit is asof dit eenvoudig net maar gelate aanvaar word.

 

Dit is geensins kritiek op die inwoners van die dorpe nie. Voorstede in Gauteng vertel ook die verhaal van jarelange verval. Rommel lê die wêreld vol en instandhouding word feitelik nie meer gedoen nie.

 

Die sigbare verval in die platteland herinner aan die waarskuwing wat Dr Frans Cronje van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge by ʼn grondkonferensie op 31 Mei 2013 in Muldersdrift gerig het. By die konferensie wat deur die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte aangebied is, het dr Cronje pertinent die waarskuwing gerig dat ondeurdagte wetgewing veral ʼn negatiewe impak het op die samelewings het rondom kleiner dorpe. Vier jaar later is die negatiewe impak nie net meer ʼn dreigement nie maar is dit duidelik sigbaar.

 

Dr Cronje het gewaarsku dat kommersiële boerdery die ekonomiese kern is van ons klein dorpies. As die skaal en produktiwiteit van hierdie boerderye belemmer word sal dit grootskaalse gevolge vir ons platteland meebring. Klein besighede is almal op die platteland direk afhanklik van die kommersiële boerderygemeenskap.

 

As die kommersiële boerderye kwyn is daar direkte gevolge vir besighede soos apteke, kafees en supermarkte. Dit is vandag baie duidelik as mens deur die platteland ry dat die sakekerne grootliks begin verdwyn het. Die langtermyn gewin wat die boerderygemeenskap aan die dorpies voorsien het, is uitforseer. Plaaslike geld word nou spandeer by die Chinees, Pakistani, Ethiopiër of Somaliër en dit is hoogs waarskynlik dat daardie geld nie weer plaaslik belê word nie maar aan familie aan daardie lande gestuur word. Dit sou ook redelik veilig wees om te beweer dat die meeste van die handelaars ook geen inkomste- of invoerbelasting, of BTW op hul produkte betaal nie.

 

Die gevolge is katastrofies. Soos wat die ekonomie kwyn en die verval toeneem, begin die skole kleiner raak en sluit later heeltemal. Ons hoor ook van die impak op kerke en gemeenskappe in die breë. Prof Andries Bezuidenhout van die Universiteit van Pretoria gebruik die term “sosiale involusie” om sulke agteruitgang te beskryf. Dit gebeur telkens as die formele ekonomie deur ’n informele ekonomie vervang word en die staat gevolglik nie meer belasting kan invorder om dienste te verskaf nie.

 

Ons hoor nou gereeld dat die huidige regering nie goed is vir die land nie. Dit is sagkens gestel. Beleidsraamwerke en ondeurdagte wetgewing waarteen telkens gewaarsku word, is ekonomies vernietigend. Nêrens is dit meer sigbaar as in die landelike gebiede nie.  Praatjies oor nasionalisering van myne en onteiening van grond gaan die verval net nog verder stukrag gee.

 

Nuuskommentaar: 25 April 2017

Selektiewe rassisme al groter probleem as rassisme

 

Min mense sal stry dat rassisme in Suid-Afrika, soos elders in die wêreld, ’n probleem is. Wat egter pas opnuut bevestig is, is dat selektiewe rassisme ’n nog groter probleem is, toe die Menseregtekommissie op ’n verslag van Solidariteit, Rassisme, haatspraak en dubbele standaarde: Geensins ’n swart-en-wit saak nie.

Die verslag bevat verskeie gevallestudies wat bewys dat rassistiese optredes deur blankes in wese as ’n veel groter vergryp beskou en hanteer word as veel erger rassistiese uitlatings van swart teen wit. Dat dit in die verslag empiries bewys word, het die Menseregtekommissie egter nie verhinder om die verslag erg te kritiseer nie, en in die proses ’n klomp strooipoppe voos te skiet.

Die basiese redenasie is dat apartheid ’n situasie geskep het wat steeds ’n blywende werklikheid skep, wat onewehandige optrede verg. Daarom sal mense soos pres. Jacob Zuma en Julius Malema hul monde nogal wyd kan rek oor blankes, en hoef nie naastenby dieselfde sanksie as Penny Sparrow te vrees nie.

Die onewehandigheid lei nou daartoe dat Solidariteit later vanjaar die regering by verskeie plaaslike en internasionale instansies vir rassisme gaan verkla.

Die huidige aksie wat massa-aksies insluit, om Zuma uit sy amp te dwing, was gou die skyf van Zuma se taktiek om dit as rassisme af te maak. Dat die optogte, wat hom skynbaar meer pla as enige van die ander aksies soos hofsake, blyk daaruit dat die optogte rassisties sou wees al was by verre die meerderheid deelnemers swart, en beslis meer veelrassig as enigiets wat Zuma kan monster. Hy was heldersiende genoeg om plakkate te sien waarop swart mense as ape uitgebeeld word, iets wat niemand anders te siene gekry het nie.

Sy deuntjie oor wit monopolistiese kapitaal, wat glo deur die Guptas se gewese beeldpoetsers, Bell Pottinger in Londen geskep is, is nou al erg afgesaag en maak die vooruitsigte vir die land om uit rommelstatus te wikkel, net moeiliker.

Ja, rasitiese optredes oor die sosiale media is skadelik en ’n probleem, maar dit kan nie opweeg teen die verwoestende gevolge van uitsprake en optredes van politici tot in die hoogste gestoelte nie. En dit kom maar telkemale na vore, soos ’n ANC-LP wat tydens die debat oor plaasaanvalle in die parlement uitroep: “Begrawe die boere lewend.”

Dié persoon is sedertdien geïdentifiseer, maar so ver bekend nog nie eens deur sy partystrukture aangespreek nie. Ook ander LP’s het al die parlementêre privilegie misbruik om uiters vlambare stellings oor die kleurgrens heen te maak.

Al regverdig die ANC en die menseregtekommissie die onewehandige hantering van rassisme ook hoe verbete, rassisme bly rassisme. Selfs die uitdrukking, omgekeerde rassisme, moet liefs daargelaat word omdat dit ook ’n vorm van onderskeid impliseer. Al wat regtig omgekeer word is die Volla wat te vinnig om die draai is.

Onewehandigheid oor rassisme is nou ’n groter probleem as rassisme self, juis omdat die onregverdigbare geregverdig word, en dat dit die grondwet wat gelykheid voor die reg waarborg, tot in sy wortel verkrag.

 

 

Nuuskommentaar: 24 APRIL 2017

LOOP-EN-VAL PROTES

 

Skaars het die protesstof in die strate gaan lê, of die eerste krake verskyn reeds in die kits-koalisie wat wil hê pres Jacob Zuma moet die trekpas kry.

Verlede week het die Demokratiese Alliansie alleen, hulle ietwat tenger stemmetjie dik gemaak in Polokwane/Pietersburg en vroeër die maand is Pretoria se strate letterlik rooi geverf met uniforms van die Ekonomiese Vryheidsvegters.

Die leier van die UDM, Bantu Holomisa, wat in die afgelope weke as ʼn sterk figuur in die opposisiekoalisie teen Zuma na vore getree het, het nou ʼn beroep gedoen op, soos hy dit gestel het, “less walking, more talking”. Dit was Holomisa wat parlementslede se reg om in die geheim te stem na die grondwethof geneem het.

Op sosiale media is die slagspreuk van DA-leiers in teenstelling “less talking, more walking”.

Holomisa se uitgangspunt is dat protesoptogte alleen, nie vir Zuma uit die kussings gaan lig nie. Hy sê die optogte het nou hul doel gedien. Holomisa sê Suid-Afrika het nou ʼn verenigde opposisie nodig wat die wa deur die drif kan trek. Hy stel voor dat al die opposisiepartye om ʼn tafel saamtrek tydens ʼn nasionale konvensie en ʼn toekomsvisie vir die land bepaal.

Hy het ʼn punt beet, want as daar ooit ʼn tyd was om teen die ANC te verenig dan is dit nou. Die party is deurspek met agterdog en broederhaat.

Dit het begin met sprake van ʼn komplot om Zuma te vergiftig, toe volg ondermeer die beweerde sameswering deur oudminister Pravin Gordhan om die ANC-regering omver te werp.

In die afgelope dae was daar gerugte van ʼn sluipmoordplan op beide die party se kroonprinses, Nkosazana Dlamini-Zuma, en die SAKP se adjunksekretaris-generaal, Solly Mapaila. Om alles te kroon is ʼn koplose kat in Cosatu- president, Sdumo Dlamini, se tuin gekry.

Dit moet gesien word teen die agtergrond van die sistematiese uitmoor van SAKP-leiers in KwaZulu-Natal, sedert die begin van die afgelope plaaslike verkiesingstryd.

Die ANC is voor die grootste krisis sedert die muitery teen die party se regime in sy kampe in Angola in die tagtigs. Zuma het ʼn integrale rol in die onderdrukking van die komplot gespeel. Onder die kodenaam Pedro was hy lid en later tweede in bevel van die ANC se gevreesde sekuriteitsafdeling bekend as Mkobodo – dit beteken die klip wat vermorsel.

Die afdeling was verantwoordelik vir die marteling en in sommige gevalle ook die teregstelling van uitgewekenes in onder andere die Angolese kampe Quatro en Viana.

Zuma en die ANC het dus ʼn geskiedenis van die onderdrukking van enige komplot teen die leierskap.

Indien die opposisie dus nou saamstaan kan hulle die geleentheid benut. Maar dan moet die EFF afstand doen van sy onsinnige kwetsende grondbesitbeleid en die DA moet eerder die bal speel as om vervolgings teen sy eie lede in te stel. Die partye sal dalk selfs die leierskap van mense soos Bantu Holomisa en Cope se Mosiuoa Lekota moet aanvaar.

Maar wat is die kans dat dit alles gaan gebeur?

 

 

Nuuskommentaar: 21 April 2017

Die Mandela Personifikasie

 

Dit is teleurstellend om te veneem dat die Wes-Kaapse regering ‘n Mandelabeeld van miljoene rand en ‘n gepaardgaande uitstalling van sy lewe en werk by die Stadsaal beoog. Die standbeeld sal opgerig word op die balkon waar die voormalige politieke vryheidsvegter sy eerste toespraak gelewer het ná sy vrylating uit die Victor Verster Gevangenis. Die provinsie sal drie-komma-vyf-mljoen rand tot die standbeeld en uitstalling bydra en die metroraad een-komma-drie-miljoen rand.  Kapenaars is darem gevra om insette te lewer oor hoe die voormalige staatshoof ten beste vereer kan word. Die inisiatief word deur die departement van ekonomiese geleenthede gelei wat vraagtekens laat ontstaan oor hoe ekonomies-vatbaar en regverdigbaar ‘n standbeeld en uitstalling in vandag se onsekere finansiële klimaat is. Kaapstad gaan reeds gebuk onder ‘n enstige waterskaarste, misdaad op die Kaapse Vlakte het buite beheer getol en motoriste kan skaars oor die weg kom op die stad se besige paaie. Nelson Mandela is meer as drie jaar gelede oorlede na ‘n lang lewe wat grootliks bestaan het uit die strewe na ‘n politieke bestel wat destyds verbode was, hofsake, tronkstraf, persoonlike opofferings en ernstige siektetoestande. Na sy vrylating het hy egter die wêreld aan sy voete gehad. Dit was asof selfs die internasionale gemeenskap op ‘n held gewag het. Mandela se oproep vir vrede en verdraagsaamheid en ‘n demokratiese Suid-Afrika het op dowe ore geval. Van sy ondersteuners was agterdogtig oor sy tegemoetkomendheid en ander mense wat die ANC voorheen wantrou het, het onseker gebly – veral nadat die leiers wat hom opgevolg het, ander kleure begin toon het. Dit het later daartoe gelei dat politici van Mandela se ANC begin praat het om ‘n onderskeid met die hedendaagse ANC te tref. Mandela was nie in sy eie oë ‘n held nie. Hy het in sy skrywe, Conversations with Myself, dan ook gewaarsku teen mensverering en menslike afgodsaanbidding. Dit was moontlik hierdie nugtere denke wat selfs die hardvogtiges met nuwe oë na hom laat kyk het.  Dit bewys dat daar ‘n groot verskil is tussen waardering en aanbidding. ‘n Politieke leier kan heldhaftig optree sonder om ‘n held te wees.  Standbeelde is ook nie altyd die beeltenis van ‘n goeie leier nie. Goeie leierskap word gemenmerk aan die vrugbare opbengs wat dit lewer. En tog lewe die Mandela-kultus voort soos blyk uit die kosmopolitiese Kaapstad se vasberadenheid om die stad met ‘n beeld van die gewese leier te versier. Of is dit om munt te slaan uit die Mandela-nalatenskap? Onlangs het die Noordwes-regering se voorneme om ‘n Zuma-standbeeld op Groot Marico aan te bring, onder opposisiedruk gesneuwel. Met goeie reg, want ‘n ware leier se uitnemendheid word gemeet aan sy erflating. Dit is onnodig om ‘n Goue Kalf te maak.

 

Nuuskommentaar: 20 April 2017

Uitslag van referendum in Turkye hou uitdagings vir Weste in

 

Die president van Turkye, Reccep Tahip Erdogan, was suksesvol. Die ja-stem in Sondag se referendum het, hoewel ook maar net-net, gewen. Dit beteken dat die nodige grondwetlike wysigings in Turkye nou aangebring word om die parlementêre stelsel af te skaf in ruil vir ’n uitvoerende presidentskap.

 

Die realiteit in Turkye is dat die land sterk in twee verdeeld is. Erdogan se meer konserwatiewe, regse Party vir Regverdigheid en Ontwikkeling het sedert sy stigting in 2001, die politieke toneel in Turkye gedomineer deur stedelike en suid-westelike liberales saam met die Koerdiese minderheid in die suid-ooste van die land te isoleer in ’n meesterlike konsolidasie van die meer konserwatiewe Islamitiese stem saam met dié van die armer werkerklas en laaggeskoolde massas van veral die oostelike dele van Turkye.

 

Die resultaat in Sondag se referendum is nie juis iets waarop Erdogan trots kan wees nie. Die ja-stem het met slegs 51% gewen en 18 grondwetwysigings sal na die land se verkiesing in 2019 geïmplementeer word. Erdogan het gehoop vir ’n wegholoorwinning om sy sterk posisie as absolute leier van Turkye te bevestig. Dit het egter nie gebeur nie.

 

Erdogan en sy regering het elke magsmiddel tot hulle beskikking ingespan om die verkiesing in hul guns te beklink. Joernaliste is in hegtenis geneem en media-instellings wat krities teenoor die ja-stem was, is gesluit. Een van die beste leiers van die nee-stem, die Koerdiese politikus Selahattin Demirtas, is weens kamstige terrorisme in die tronk gestop en kan ’n vonnis van tot 142 jaar tronkstraf opgelê word.

 

Die ja-stem is gelei deur Erdogan, sy eerste minister en die hele regering wat van elke regeringsmiddel gebruik gemaak het om die nee-stem te stoomroller. Enige besoeker aan Turkye sou in die afgelope weke beleef het hoe die ja-stem die openbare domein gedomineer het. Regeringsleiers het op groot verhoë die ja-stem bevorder terwyl baniere en advertensies ten gunste van die ja-stem orals te sien was.

 

’n Studie van 168,5 ure se beriggewing op 17 nasionale televisiekanale wys dat die ja-stem meer as 90% van die dekking geniet het. Erdogan het verlede jaar se mislukte staatsgreeppoging deur pro-demokratiese groepe, insluitende ’n wesenlike deel van die land se weermag, misbruik om instellings wat die nee-stem kon bevorder, te vernietig.

 

Turkye was vir dekades ’n bondgenoot van Westerse lande soos Amerika en Europa. Sedertdien Erdogan in 2003 eerste minister van Turkye geword het, het die land egter groter Islamisering in ruil vir Westerse demokrasie toegelaat terwyl outokrasie en nasionalisme die moderne waardes van die Weste begin vervang het. Waar Turkye ’n paar jaar gelede nog lid van die Europese Unie wou word, is daar vandag min wil daarvoor onder leiers soos Erdogan.

 

Turkye is ten spyte van Sondag se verkiesingsuitslag en alles wat die afgelope paar jaar gebeur het, egter steeds een van die belangrikste lande in ’n streek met baie uitdagings. Westerse lande het Turkye nodig om massa-immigrasie te bekamp en vrede na die Midde-Ooste te bring, maar met ’n toenemend outokratiese regering staan die verhouding tussen die Weste en Turkye voor groot uitdagings.

 

Nuuskommentaar: 19 April 2017

Kan Suid-Afrika iets by die Siriese situasie leer?

 

Omstandighede in die burgeroorlog-geteisterde Sirië en in Suid-Afrika het byna ongesien so begin plooi dat daar sterk ooreenkomste begin ontwikkel het. Daar is egter ook genoeg verskille, soos die opstand in Sirië wat tot geweld oorgegaan het, sodat ons moet duime vashou die ooreenkomste makeer die pas.

Beide lande beskik oor presidente wat in hul eie lande verkies is, al word die proses in Sirië nie as ’n ware demokratiese produk beskou nie.

Beide presidente Bashar al-Assad en Jacob Zuma, lei partye wat ’n tradisie het van sterk te wees, en waar verdeeldheid soos in eenpartylande hanteer word.

Teen beide is daar ’n wye opstand, en in beide is die opposisie erg uiteenlopend en onderling nie op goeie voet met mekaar nie. In hul opstand teen die onderskeie bewinde, staan die opposisie egter taamlik eendragtig saam.

In beide lande is die bevolkings erg heterogeen, en skroom die presidente nie om die etniese faktor te manipuleer nie.

Behalwe Rusland, Iran en enkele organisasies, het Assad se bewind min steun in die buiteland. Die ANC se buitelandse teenspoed kom nou in hoofsaak in die simboliek van rommelstatus wat twee graderingsagentskappe nou al op omvattende terreine aan Suid-Afrika toegeken het.

Beide presidente klou soos nete aan hul ampte, terwyl daar vir beide veel aantrekliker opsies sou wees om die politiek te verlaat en af te tree. Trouens, vir beide is dit beter om te gaan omdat die vasklouery ernstige probleme kan oplewer – in Assad se geval aanklagte van misdade teen die mensdom, en in Zuma se geval sewehonderd drie en tagtig aanklagte van onder meer bedrog.

Beide het nou nog die kans om in ’n mindere of meerdere mate die terme van hul uittrede te beding. Assad sal in Rusland ’n welkome toevlug kan kry, en Zuma in een van die Sadek-lande. Dit is selfs moontlik dat Zuma ’n soort spesiale amnestie kan beding en ongesteurd op Nkandla kan aftree, maar aanduidings is dat die publiek dit nie sal duld nie. Die ondersteuning wat van opposisiepartye nodig is hiervoor lyk skraal.

Tot hoe ver sou Zuma bereid wees om te gaan as sy tweede en laaste termyn as staatspresident in 2019 ten einde begin loop, en die moontlikheid van tronkstraf hang steeds oor sy kop? Dit is ondenkbaar dat hy ook chemiese wapens op selfs kinders sal inspan. Maar daar is tog ook iets onheilspellends oor Zuma se geneigdheid nou om sy stempel met groot magsvertoon van die gewapende magte te demonstreer, soos tydens die onlangse parlementsopening, en pas verlede week met die opposisiesaamtrek by die Uniegebou.

Wat wel soos ’n paal bo water staan is dat geweld nie nou deur Zuma se opponente oorweeg word nie. Een van die opposisieleiers, Bantu Holomisa, van die UDM, het wel gesê dit kan nie toegelaat word dat die opstand in protesoptogte stagneer nie – die gesamentlike opposisie moet onder een dak byeenkom en oor verdere opsies besluit. Dit klink darem nie of geweld een van die opsies wat oorweeg word nie.

 

Nuuskommentaar: 18 April 2017

Trump maak een na die ander ommeswaai in internasionale beleid

 

Verlede jaar tydens die Amerikaanse verkiesingsveldtog het Donald Trump die dapper stap geneem om teen die grootste deel van sy party se standpunt in te gaan en die Amerikaanse oorlog in Irak as ’n sinnelose oorsese avontuur wat tot voortslepende skade vir Amerika lei, te beskryf.

Trump het verder gegaan deur te sê dat enige poging van Amerika om President Bashar al-Assad van Sirië uit die kussings te lig in die hand van terroristegroepe soos die Islamitiese Staat sal speel. Trump se standpunt het vir hom sterk steun gewen onder mijoene Amerikaners wat moeg was vir die oorlogsmal, intervensionistiese konsensus wat vir te lank die Republikeinse Party oorheers het. Genoeg Amerikaners was en is steeds teen duur oorsese oorloë gekant dat Trump se standpunt oor Amerikaanse militêre betrokkenheid in die Midde-Ooste en Asië baie stemme vir hom gewen het.

Die afgelope paar weke het Trump en sy administrasie egter totaal van standpunt verander. Eers het die Trump-administrasie hul verbintenis tot die verdediging van Suid-Korea en selfs Japan teen Noor-Koreaanse aggressie bevestig. Sowat 30 000 Amerikaanse soldate en ’n groot verskeidenheid van die beste wapentuig waaroor die Amerikaanse weermag beskik word teen ’n enorme koste in Suid-Korea en Japan gereed gehou.

Waar Trump aanvanklik, heeltemal korrek, krities was oor die uitgediende idees van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie en veral die groot koste van dié na-oorlogse verdedigingsburokrasie, het Trump intussen kritiek teen Rusland se betrokkenheid in die Oekraïne uitgespreek en voortgegaan om Amerika se betrokkenheid in Oos-Europa te bevestig, alles teen die wil van Rusland.

Die grootste ommeswaai deur die Trump-administrasie het egter verlede week gekom met die skielike besluit om ’n lugmagbasis van die Siriese weermag gedurende die nag met dosyne missiele te bombardeer. Die konflik in Sirië is uites ingewikkeld en talle Westerse leiers het al bevestig dat dit onmoontlik is om tussen ’n goeie en slegte rolspeler te kies. Eerstens is die konflik tussen ’n wye reeks partye van regoor die spektrum tussen goed en baie boos.

Deur Bashar al-Assad uit die kussings te lig sal ’n leierskapsvakuum geskep word wat soos vroeër in Irak en Libië nadat Saddam Hoesein en Moeammar al-Ghaddafi deur Westerse magte uit die kussings gelig is, tot ’n teelaarde vir ekstremistiese groepe sal lei. Talle groepe soos die Islamitiese Staat en Al-Qaïda droom van ’n situasie waar al-Assad se regering deur Westerse magte uit die kussings gelug word.

Trump se ommeswaai in Sirië word gemotiveer deur die gifgasaanval in ’n stad wat tans deur rebellemagte beheer word. Daar bestaan eerstens geen bewyse dat die Siriese regering vir die aanval verantwoordelik was nie en tweedens kan een enkele, hoewel bose aanval, tog nie die beleid van die magtigste land in die wêreld bepaal nie. Hierdie gifgasaanval was in elk geval nie die eerste van sy soort in die Siriese oorlog nie.

Trump se toenemend aggressiewe internasionale beleid vernietig enige kanse op ’n beter verhouding met Rusland, Iran, Turkye en ander belangrike moondhede. Dit laat ook vrae oor Trump se blykbare maklike ommeswaai in standpunte en sy vermoë om deur die neo-konserwatiewe oorlogsmal groepering binne die Republikeinse Party by onnodige konflik in lande soos Sirië en Noord-Korea ingesleep te word nie. Intussen verloor hy van sy grootste ondersteuners.

 

Nuuskommentaar: 17 April 2017

Bokkieweek

 

Die afgelope naweek is die tweede o/21-Bokkietoernooi op Orania aangebied. Dié toernooi word deur AVS gereël wat ook verantwoordelik is vir die Winterweek of Bokkieweek soos dit algemeen bekendstaan. Die gewilde toernooi, wat weer op skolespanne gemik is bied rugby- netbal- en hokkietoernooie aan en lok jaarliks 10 000 mense na die gasheerdorpe. Hierdie redelike nuwe toernooi maak weer voorsiening vir naskoolse spanne om teen mekaar mee te ding. Die eerste 0/21-Bokkietoernooi is deur ses rugbyspanne bygewoon en vanjaar het agt rugbyspanne en ses netbalspanne aan die toernooi deelgeneem. Die aantal toeskouers het ook in groot getalle toegeneem.

Die sukses van die tweede toernooi en die verwagte groei van toekomstige toernooi kan aan `n paar faktore tooegeskryf word. Die eerste is die politieke redes. Daar word toenemende druk geplaas op skole-, universiteits- en professionele spanne om meer swart spelers by die span in te sluit. Daar is ongetwyfeld baie talentvolle swart spelers en hulle word reeds by spanne ingesluit. Ongelukkig word die spelers se talente in twyfel getrek weens die groot druk wat op spanne geplaas word om te transformeer. Verder is daar ook `n frustrasie by spelers en ouers oor die feit dat transformasie  swaarder weeg as meriete.

`n Verdere faktor is AfriForum se betrokkenheid. As hoofborg van die toernooi verseker AfriForum dat daar voldoende geriewe en infrastruktuur in plek gestel word om `n suksesvolle toernooi aan te bied. Rugby- en netbalballe met mooi kunswerk op, netjiese tente en afdakke langs die veld en ander geriewe wat dié toernooi op `n ander vlak plaas. Die afgelope naweek se toernooi is weereens `n bewys dat `n sterk vennoot `n belangrike bydrae lewer tot die sukses van `n geleentheid.

Die derde is gemeenskapsbetrokkenheid. In samewerking met AfriForum en AVS het die Orania Dorpskantoor die Steenbok Herberg opgerig wat verblyf aan `n groot getal spelers kan voorsien. Verblyf sal vorentoe `n belangrik faktor wees as Orania as gasheer van ander groot sportgeleenthede wil optree. Buiten rugby en netbal het die spelers ook geleentheid gehad om jukskei te speel, museums te besoek en ander Afrikaneraktiwiteite te beleef.

As daar oor die toekoms van die Afrikaner gepraat word, word dikwels beklemtoon hoe belangrik selfstandigheid is. Daar word gesê dat die Afrikaner slegs sal oorleef as hy eienaarskap van sy toekoms neem en eie instellings vestig. Selfstandigheid beteken nie net poltieke selfstandigheid nie, dit beteken ook eie sport en kulturele instellings daarstel. Die groei wat die redelik nuwe 0/21-Bokkietoernooi tans beleef is `n aanduiding dat daar suksesvol in daardie rigting gewerk word.

 

Nuuskommentaar: 14 April (Goeie Vrydag) 2017

Nuus en Goeie Nuus

 

Afrikaners bevind hulle in ‘n ANC-beheerde Suid-Afrika toenemend in ‘n vyandige omgewing en redes daarvoor is legio.

Daagliks word berig van plaasaanvalle wat met brutaliteit gepleeg word en ‘n parlementêre debat oor plaasmoorde en aanvalle het laat blyk dat Afrikaners nie van die owerheid enige simpatie moet verwag nie.

Mosuia Lekota se oproep dat die rasretoriek en radikalisme van sowel ANC, EFF en ander opstokers gestaak word, was ‘n nugter oomblik wat gou weer deur ‘n see van rassevooroordeel oorspoel is.

Die rasgebaseerde radikale transformasie word met mening voortgesit soos uit die Minister van Landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugili Nkwinti, se wetsvoorstelle blyk.

Volgens mnr Nkwinti sal wit minderhede se reg om eiendom aan te koop en die reg om volgens hulle voorkeur grond te verkoop, streng gereguleer word.

Vir die waarde van Afrikaners se eiendom sal dit waarskynlik rampspoedig wees en ‘n verdere inperking van Afrikaners se lewensruimte.

Hierby bly dit nie.

Onlangse statistieke wat deur die Sentrale Statistiek Diens bekend gestel is, voorspel dat Afrikaners binne 60 jaar ‘n skrale 3 % van die land se bevolking wees.

Jong Afrikaners emigreer na groener weivelde en die ouer garde verhuis na die Weskaap met die hoop op ‘n rustiger bestaan. In terme van die huidige owerheid se ras – en getalle politiek beteken dit dat Afrikaners nog minder regte gegun sal word.

Afrikaners beleef nie net die aftakeling van hul regte en lewensruimtes nie, maar verduur ook ‘n aanslag op hulle siel.

In die howe woed ‘n stryd tussen diegene wat die Christelike godsdiens uit skole wil ban en diegene wat die opvoeding van hul kinders as verlengstuk van die Christelike geloof bely.

Die aanslag op die Christelike geloof is nie soseer polities gemotiveer nie, maar dit is deel van ander keuses naamlik  tussen tradisie en moderniteit, tussen geloof en ongeloof.

Voorts takel die uitvlug na materialisme en genotsug die kern van die Afrikaner se wese.

Die kern van die Afrikaner se wese is, soos by ander volke en nasies, deur die verkondiging van die een heilige algemene Christelike kerk gevorm.

Hierdie verkondiging het die Afrikaner na Christus gelei en vandag op Goeie Vrydag neem Afrikaners kruis en dwars in Suid-Afrika  en wêreldwyd kennis van sy lyding en kruisiging.

Teenoor die daaglikse nuus word die kruis van Christus as ‘Goeie Nuus’, as Evangelie beskryf.

Tereg word gevra hoe dié tragiese dood aan die kruis op Golgotha as goeie nuus beskryf kan word, veral as die gekruisigde nie voldoen aan die kenmerke van wat die mens as held of redder beskou nie.

Trouens aan die kruis sterf Christus met die vraag: ‘My God, my God waarom het u my verlaat?’

Hierdie vierde kruiswoord van Christus uit Psalm 22 dra nie net menslike twyfel nie, maar ook hoop.

Die hoop dat God sal hoor en in die nood van die sondaarmens sal ingryp.

Die menslike nood is juis godverlatenheid vanweë die sonde en die sonde begrens die mens, verskraal alle lewensruimtes tot die dood toe.

Die mens is dus gedoem om duskant die dood sinloos te lewe of sin te soek in selfgemaakte gebrekkige  geregtigheid.

Christus se kruisdood en hoop op God is nie tevergeefs nie, sy opstanding uit die dood, laat blyk dat God  die nood van die mens hoor en die kruisvraag beantwoord naamlik: God gryp deur Christus in die mens se nood in.

Deur die ingryp in Christus word die dood net ‘n oomblik in die lewe en word die opstanding die  anker van die lewe.

Dit is die Evangelie wat die grondslag is van die kerk; wat ook aan Afrikaners verkondig is en ons verseker dat die lewe en geskiedenis ten spyte van die mens in die hande van die opgestane Here is.

 

Nuuskommentaar: 13 April 2017

Van Rommel tot Gemors

  

Onlangs het die president van TLU SA in ‘n mediaverklaring gesê dat as daar so ‘n kategorie was, Suid-Afrika waarskynlik sou kon kwalifiseer vir gemorsstatus, wat uiteraard ‘n graad erger is as die pas verworwe rommelstatus.

 

Dit laat onwillekeurig die vraag ontstaan wat dan nou die huidige status is van ‘n land soos Zimbabwe. Doen graderingsagentskappe nog die moeite om te probeer kyk of daar nog iewers ‘n vlammetjie van hoop onder die rommel te vinde is met die oog op die toekoms?

 

Die volgende vraag is dan hoe lank dit vir Suid-Afrika sal neem om by daardie selfde posisie uit te kom, met ander woorde, hoe lank het die regering nodig om die huidige rommel in ‘n totale gemors te omskep?

 

Regeringsleiers skyn ongeërg hieroor te wees, en natuurlik word dieselfde ou rympie gesing, naamlik dat dit maar deel is van die erflating van die verlede, en dat die graderingsinstansies nie in ag neem waar die land vandaan kom nie.  Dit is natuurlik loutere onsin.  Die gradeerders kyk na die toekoms, en neem waarskynlik die bewese potensiaal van die verlede in ag, en ongeag hulle moontlike politieke bril, sien hulle geen ontwikkeling nie maar slegs agteruitgang.

 

Eweso is daar kommentators wat aan strooihalms vasgryp, en in wese niks anders as ‘n valse gerusstelling kweek nie. Die protesoptogte van verlede Vrydag word as een van daardie strooihalms gesien. Hulle glo dat die graderingsagentskappe die burgerlike ongelukkigheid sal raaksien en dit gebruik om nie te hard op die land se graderings vir die toekoms te wees nie. Net soos die kommentators glo dat die optogte die einde van president Jacob Zuma se ampstermyn gaan wees. Die feite is dat die kiesers vir die ANC gestem het, die ANC het Zuma as hulle leier verkies, en die ANC het hom weer eens agter Zuma geskaar. In terme van die huidige definisie of praktyk van die demokrasie, is Zuma dus onaantasbaar en kan hy voortgaan met sy radikale ekonomiese transformasie.

 

Dit is dalk ‘n sterker punt om te begin, ons eie radikale ekonomiese opbou.  Dit sal egter beteken dat ons vernuwend en dalk selfs radikaal anders sal moet begin dink en optree om op enige wetlike wyse denkbaar, die ANC en EFF se ekonomiese revolusie te frustreer. Doen ons dit nie, pleeg ons ‘n stadige en pynlike selfmoord.

 

Dit was dieselfde TLU SA wat die insinuasie gelaat het dat om selfs net gedeeltelik mee te doen met regeringsprojekte, gaan lei tot algehele selfvernietiging. Boere, en vir die argument sluit dit sakemanne in, wat bereid is om tien of vyftig persent aandele van hulle boerderye of besighede af te staan, is nie meer in beheer nie, en daardie wig in die deur, gaan die deur uiteindelik oop forseer tot wawyd oop, wat honderd persent is.

 

Die Instituut vir Rasseverhoudinge het ook al daarop gesinspeel dat boere en besighede moet kennis neem van wat die regering doen, maar voluit aangaan met hulle bedrywe en om hulleself sterk te maak sonder om mee te doen aan regeringsbeleid, ten minste nie vrywillig nie. Die regering se kapasiteit vir die afdwing van sy kommunistiese maatreëls, word met die dag minder omdat sy krag op elke terrein van regering afneem. In daardie opsig kan dit selfs voordelig wees dat bekwame ministers met swakkes vervang word. Daaruit kan ons net sterker groei as ons dit uit ‘n posisie van beginsel en eendrag aanpak.

 

 

Nuuskommentaar: 12 April 2017

Ons en die geskiedenis

 

Dit is ironies dat Suid-Afrika se derde etniese president, Jacob Zuma, sy verjaardag vier op dieselfde dag as die anneksasie van Transvaal op 12 April 1877. Theophilus Shepstone van Brittanje het daarmee die Sandrivierkonvensie van 1852 verbreek en die anneksasie was die voorloper tot die Eerste Vryheidsoorlog tussen die Ou Zuid-Afrikaansche Republiek en die Verenigde Koninkryk.  In die ooreenkoms is die onafhanklikheid van die Boere noord van die Vaalrivier, dus die Ou Republiek, erken. Shepstone se minagtende ontkenning van dié konvensie sal vir altyd in die geskiedenis opgeteken wees. So ook die daaropvolgende veldslae tussen Boer en Brit wat uiteindelik tot die seëvierende Slag van Majuba gelei het. Naas Bloedrivier was dit die belangrikste enkele gebeurtenis vir die Afrikanervolk in sy oorlewingstryd. Die Vryheid van Transvaal is immers herwin.

President Zuma het waarskynlik nog nooit kennis geneem van dié stuk geskiedenis nie. En tog is daar ‘n ooreenkoms tussen sy optrede en dié van Lord Shepstone. Die Britse edelman het hom weinig gesteur aan ‘n konvensie wat deur sy eie seniors mede-onderteken is. Net so minag die president die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 wat deur sy eie voorlopers onderteken is. Verskanste eiendomsreg is in dié landswet tot in die fynste besonderhede uiteengesit. Dit was inderdaad een van die belangrikste voorwaardes vir die oorgawe van die mag aan die African National Congress. Taal, kultuur en godsdiensregte is eweneens verskans en die Grondwet verbied rassisme, onderdrukking, haatspraak, minagting van regte en ongelykheid op grond van ras en geslag.

Net soos Lord Shepstone het die president egter bewys dat hy die Grondwet weinig hoër ag as die paper waarop dit geskryf is.  Sy spreekbeurt by die herdenkingsdiens vir die voormalige SAKP-leier, Chris Hani, is gekenmerk deur rassisme. Volgens hom was die anti-Zuma-betogings regoor die land die handewerk van wittes wat hulle kapitaal wil beskerm. Vroeër is die einste wittes van gronddiefstal beskuldig. Daar was wel wit landsburgers wat aan die protesoptogte deelgeneem het, maar elke optrede is deur oowegend swart organisasies gereël. Die president is ongetwyfeld besig met ‘n haatveldtog teen die land se witmense. Hy speel met vuur. Dit is nie altyd getalle wat die oorwinning besorg nie. Gideon en sy klein bende het ‘n groot oormag verslaan. En aan die Kruis is ‘n nóg groter oorwinning behaal

 

Nuuskommentaar: 11 April 2017

Seerowers, terroriste en droogte waarborg Somalië se ondergang

 

Gekleë in `n militêre uniform het die president van Somalië, Mohamed Abdullahi Mohamed, die land tot `n oorlogsone verklaar en die weermag opdrag gegee om `n nuwe offensief teen die terreurgroep Al-Shabab voor te berei. Al-Shabab word met die terreurnetwerk Al-Kaida verbind. Die aankondiging volg op verskeie aanvalle wat in die laaste tyd uitgevoer is. Minstens sewe mense is verlede week dood toe `n motorbom by `n restaurant in Mogadishu ontplof het. `n Verdere elf mense is dood toe `n minibus oor `n landmyn gery het. President Mohamed is uitgesproke oor die terreurgroepe in Afrika en sy verkiesing die afgelope Februarie het sterk reaksie uitgelok. Al-Shabab het Somaliërs gewaarsku om nie die “vals leier”, soos hulle dit stel, te ondersteun nie.

Al-Shabab is besig om die gebiede wat hulle voorheen beheer het teen `n vinnige tempo te verloor. Hulle is reeds grootliks uit Mogadishu en ander voorstedelike gebiede gedryf. Die stryd teen Al-Shabab word hoofsaaklik deur Afrika Unie en Somaliese magte gevoer. President Donald Trump van Amerika het intussen ook aangedui dat hy magte vir lugaanvalle beskikbaar sal stel.

President Mohamed het ook `n beroep op die kindersoldate gedoen om hulself binne 60 dae oor te gee. Volgens Mohamed is die kidners gebreinspoel en gee hy hulle geleentheid om hulself oor te gee sonder dat hulle vervolging in die gesig sal staar.

Terreuraanvalle is egter nie die nuwe president se enigste of selfs grootste probleem nie. Somalië ervaar tans `n droogte wat `n groot deel van sy 12 miljoen inwoners in hongersnood kan dompel. Dit is een van verskeie lande in daardie deel van Afrika wat `n reuse voedselkrisis in die gesig staar. `n Ander uitdaging is die grootskaalse kapings van vragskepe wat teen die land se kus voorkom. Volgens alle aanduidings het seerowery weer sy terugkeer in dié waters gemaak.

Somalië beskik tans oor al die bestanddele wat nodig is om die land se ondergang te bewerkstelling. Die kombinasie van terreurgroepe, seerowers en `n vernietigende droogte vereis dat daar op verskillende fronte krisisbeheer toegepas moet word. Dit is tans ook bykans onmoontlik om te verseker dat droogtehulp die nodige bestemmings bereik aangesien daar eerstens `n risiko is dat die vragskip deur seerowers gekaap word en daarna dat Al-Shabab dit kan skaak.

Die groot tragedie is dat Somalië se ondergang nie slegs aan `n natuurramp soos droogte toegeskryf kan word nie maar dat dit `n mensgemaakte ondergang is.

 

Nuuskommentaar: 10 April 2017

Kinders in chemiese bomaanvalle

 

Die skreiende tonele van kinders wat deur chemiese aanvalle in Sirië getref is, het pres. Donalld Trump van die VSA, oornag die spelreëls van die internasionale politiek laat herskryf.

“Geen kind deur God geskape verdien om so te ly en te sterf nie,” het hy verklaar.

Donderdagnag het die VSA sestig kruisermissiele van Amerikaanse skepe in die Middellandse See afgevuur op die lughawe van waar die Siriese vliegtuie opgestyg het wat die bomaanvalle uitgevoer het.

Dit is nie die eerste keer dat Sirië daarvan beskuldig is dat hy gifgas inspan nie. Soos vantevore, het Sirië ook hierdie aanval op ’n rebellebeheerde dorpie in die noordooste van die land ontken.

Ook Rusland, wat aan die kant van pres. Basjar al Assad aan die oorlog deelneem en dikwels die leiding met lugaanvalle neem, het die gebruik van gifgas ontken. Een van die opsies wat die Russe geopper het, is dat daar ’n gifgas-opslagplek in die dorp was, en dat dit deur die bomme getref is.

Dit kan egter aanvaar word dat die kwaliteit van die intelligensieverslae waarop Trump sy oë kon lê, aansienlik in gehalte sou verskil van die stuk prulwerk wat pres. Jacob Zuma gebruik het om sy minister van Finansies, Pravin Gordhan, af te dank.

Maar het Trump nie eerder emosioneel as strategies opgetree toe hy die kruisermissiel-aanval gelas het nie? Sy reaksie is wel verstaanbaar. Sirië het by herhaling getoon hy hou hom nie by reëls en ooreenkomste nie, en het selfs in ’n stadium met die internasionale gemeenskap saamgewerk om alle gifgas op te spoor en te vernietig. Die internasionale agentskap wat dit uitgevoer het, het selfs die Nobelprys vir Vrede gekry. Maar algaande het dit geblyk dat Sirië die wêreld ’n rat voor die oë gedraai het.

Die Russiese toetrede tot die oorlog het boonop Assad se regering weer die botoon laat voer. Vredespogings is in werking gestel, en net so dikwels geskend. Die Russiese betrokkenheid het die werklikheid geskep dat Assad deel van die oplossing sal wees, nie deel van die probleem, soos die ingesteldheid voorheen was nie.

Min of meer terselfdertyd het Trump ook laat blyk dat die VSA nie sal aarsel om eensydig in Noord-Korea betrokke te raak, as dit nodig sou wees nie. Tot dusver het die wêreld, die VSA ingesluit, China se beskermingsrol oor Noord-Korea gerespekteer. Trump het nou, op die vooraand van sy ontmoeting met die Chinese leier, Xi Jinping, ook laat blyk dat hy niemand se toestemming nodig het om die belange van die VSA en sy bondgenote te beskerm nie.

Trouens, Trump het iets van die rol van ’n internasionale polisiemag laat blyk toe hy gesê het die VSA behou hom die reg voor om eensydig op te tree as internasionale liggame voete sleep.

Natuurlik verdiep Trump se optrede die gevegslinies van die nuwe Koue Oorlog. Die probleem is dat die Koue Oorlog nie op alle fronte ewe koud verloop nie, soos die stryd teen die radikale Islam. En dit lyk juis of Rusland nou ook na ’n paar jaar se blaaskans, ook weer hieronder begin deurloop het.

 

Nuuskommentaar: 7 April 2017

Zumafikasie spruit uit die President se grondwetlike magskonsentrasie

 

Die nuus word deesdae oorheers deur oproepe regoor die politieke sprektrum om van President Jacob Zuma ontslae te raak. Die rede hiervoor is baie eenvoudig: Jacob Zuma het ons land manalleen tot op die rand van die afgrond gesleep. Maar dit is opmerklik dat die skare van kritici wat op sy bedanking aandring, nie ‘n woord rep oor die rede hoekom een mens soveel mag het dat hy ‘n moderne staat kan kaap en verwoes nie.

 

Die basis van mnr. Zuma se bykans onbeperkte magsposisie is sy uitgebreide magte ingevolge die Grondwet. Die belangrikste faktor wat sy onbeheerste Zumafikasie moontlik maak, is sy omvattende magte om sleutelaanstellings te maak.

 

Zuma se strategie van “Zumafikasie”, behels dat hy die land se sleutelinstellings kaap het deur lojale politieke kaders en persoonlike vriende as hul hoofde te “ontplooi”. Hy beheer die land grootliks deur hierdie netwerk van persoonlike aanstellings, in plaas van deur die amptelike instellings.

 

Hierdie stelselprobleem is al in 2014 vierkantig op die tafel geplaas deur die afgetrede adjunkhoofregter van die Konstitusionele Hof, Dikgang Moseneke. Hy het beklemtoon dat die Grondwet en ander wetgewing ’n merkwaardige hoeveelheid aanstellingsmagte aan die president verleen. In enkele gevalle is die parlement en ander staatsinstellings medeverantwoordelik, maar in die meeste gevalle berus die mag uitsluitlik by die president.

 

Dit spruit uit die grondwetlike onderhandelingsproses, wat omvattende aanstellingsmagte vir die President ingestel het. Hierdie magte strek vanaf die aanstelling van ministers, tot die regters op advies van die regterlike dienskommissie, die hoofde van talle sleutel openbare instellings soos die nasionale direkteur van openbare vervolging, die openbare beskermer, die ouditeur-generaal, lede van die Menseregtekommissie, die Onafhanklike Verkiesingskommissie, asook die ander artikel 9-grondwetlike instellings wat die demokrasie moet bevorder, die kommissarisse van die Staatsdienskommissie, wat staatsamptenare aanstel; hoofde en bevelvoerders van die weermag; die polisiehoof;die hoof van die Intelligensiediens; die hoofde van die Reserwebank, die Belastingdiens en die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid.

 

Daarby het die President ‘n bepalende sê met die aanstelling van die hoofde van die land se 715 openbare ondernemings soos Eskom, die SAL, die SAUK, Transnet, en Denel. As ANC leier beheer Zuma ook die ANC se nasionale Kaderontplooiingskomitee, wat ANC lojaliste landswyd aanstel.

 

Zumafikasie is ’n onbedoelde maar grootliks voorsienbare gevolg van die omvattende magte wat die Grondwet aan die president verleen. Gesien in die lig van die ANC se dekades lange uitgesproke voorkeur vir ’n totalitêre regeringsvorm en die risiko dat so ’n magsposisie misbruik kon word, moes soveel magte nooit aan ’n president toegeken gewees het nie. Daarom kan al die skuld vir die treurige stand van sake nie net op ’n onbevoegde en korrupte president en sy gedweë party geplaas word nie. Dit is uiters noodsaaklik dat die stelselfout wat ’n Zuma moontlik maak, dringend hersien moet word om te verhoed dat hierdie of ’n volgende “Zuma” die land finaal oor die afgrond stoot. Die magtige presidensiële stelsel bedreig nie net die grondwetlike demokrasie nie, maar die land se toekoms.

 

Nuuskommentaar: 6 April 2017

Tyd

 

Die malle gejaag van ons moderne lewe is iets wat ons moeilik systap. Daar is net toenemend druk van alle kante. Vir alles word kits-oplossings gesoek, kits-resultate verwag en kits gee die pas aan.

Die kits, gejaagde lewe maak ons ongeduldig, oorhaastig. Al hierdie gejaag is dikwels uiteindelik maar net n gejaag na wind. Kwaliteit ontbreek in ‘n gejaagde lewe. Dit is noodsaaklik om bietjie rem te trap, tot stilstand te kom en tyd met jou hartsmense deur te bring. Verhoudings word versterk en verdiep deur tyd saam te spandeer.

Doen dinge saam met jou geliedes wat julle geniet. Skakel die televisie en selfone af en fokus op mekaar. Wanneer paartjies nie kwaliteit tyd saam spandeer nie gaan hulle konneksie met mekaar verloor. Volgens die wêreldbekende huweliksberder, Kevin Thompson, is die grootste oorsaak van egskeidings nie noodwendig ontrouheid of geldsake nie, maar eerder die feit dat paartjies dikwels nie moeite doen om nie doelbewus in mekaar te belê nie. Dit strek selfs wyer as net die huwelik. ‘n Mens moet ook doelbewus belê in jou kinders, vriende en kollegas.  Goeie, gesonde, gelukkige verhoudings met jou maat en kinders en mense in jou direkte leefwêreld is immers meer waardevol as enige besitting.

Daar is geen verskoning om verhoudings af te skeep. Tyd diskrimineer nie: elke dag gee aan elkeen 24 uur. Hoe dit gevul word is elkeen se keuse. Tyd is ‘n ontasbare ding, maar tog draai ons hele lewe daarom. In die skeppingsverhaal lees ons van die skeppingsdae en na elke dag wat God geskep het, staan daar: “En dit was aand, en dit was môre.” God verwys na tyd en dan, op die sewende dag, sê God, was dit tyd om te rus. Rus is belangrik. Die Here skep die mens om te heers oor sy skepping, maar ongelukkig kry die mens nie geheers oor tyd nie. Tyd heers oor die mens. Ons maak so maklik tyd vir werk, vir sport, ja selfs die getroue ou sepie saans, maar die gesin kom tweede laaste. Tweede laaste, want dikwels kom die Here heel laaste. En dis waarskynlik hoekom daar so min vervulling in ons lewens is. Die meeste tyd word in beslag geneem deur dit waarvoor soveel van ons nie noodwendig eers ‘n passie het nie.

Daar is ‘n tyd vir werk, en ‘n tyd om te rus. Daar is ‘n tyd om te verdien, en ‘n tyd om te spandeer. Daar is ‘n tyd om vir die werk nee te sê, en vir die kinders ja. Daar is ‘n tyd vir laat werk, en ‘n tyd vir die gesin. Daar is ‘n tyd vir vriende, maar ook ‘n tyd om aandag aan jouself te gee. Daar is ‘n tyd vir oortyd, maar ook ‘n tyd vir speeltyd….

Neem eienaarskap van elke uur, bestuur dit optimaal en gee jou hartsmense die beste deel want dit is hier waar jou rykdom lê.

Mag jy, met jou voet op die rem, vreugde vind in elke oomblik saam met die mense wat sin gee aan jou bestaan.

 

Nuuskommentaar: 5 April 2017

Kreeftegang of Swanesang ?

 

Sedert 1994 met die ANC se bewindsoorname was daar ‘n stelselmatige agteruitgang in die party en gevolglik ook in die regering. Die ANC se topleiers het al vele keer erken dat korrupsie endemies word en dat openbare bronne geplunder word deur ‘n proses wat gou die naam van tenderpreneurskap gekry het. Dit is gou opgevolg met wat vandag algemeen bekend staan as staatskaping. Dit is ironies dat die ANC een van die eerste entiteite was wat dié euwels geïdentifiseer het, maar so min gedoen het om dit te verwyder of minstens hok te slaan. Wat die vraag laat ontstaan: Was dit alreeds te laat om die stortvloed te keer?  Trouens, die blaam is aanvanklik subtiel, maar later openlik verskuif na die sogenaamde nalatenskap van Apartheid. Toe daar besef is dat dié regeringsbestel lankal dood is, het die regeerders Apartheid se voorloper, Kolonialisme begin blameer.

Gedurende die Skuldspeletjie het selfs Jan van Riebeeck die blaam gekry vir baie dinge waarvan hy onmoontlik kon geweet het. Intussen het die ANC al hoe meer weg beweeg van die gewone mense in die land  wat die armes, die werkendes, die werkloses, en die kundiges insluit. Niemand is vandag seker oor die dag van môre nie. Dit is asof die Staat almal se raison d’etre – die rede vir ons bestaan  – vernietig of minstens erg verniel het.  Niemand glo meer in die oppergesag van die Grondwet nie. Politiek het ‘n vloekwoord geword en minderheidsgroepe twyfel aan hulle eie herkoms. Soveel vir die retoriek van nie-rassigheid. Meerderheidsgroepe is ook nie meer seker oor hulle toekoms nie. Mense word vermoor, beroof, besteel en verneder soos nog nooit tevore nie.

Dit is wanneer ons weer troos en versterking vind in Petrus se woorde: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur”

 

Nuuskommentaar: 4 April 2017

Wladimir Poetin toenemend internasionale simbool van nasionale soewereiniteit

 

Die meeste Amerikaanse politici is bekend vir hul sterk afkeur in enigiets wat Wladimir Poetin, die president van Rusland, sê of doen. Terwyl Amerika besig is om voortdurend uit sy posisie as wêreldleier gestoot te word, het Poetin sedert hy in 1999 in Rusland aan bewind gekom het daarin geslaag om die Russe weer in die sentrum van internasionale politieke, ekonomiese en veiligheidsvraagstukke te plaas en om homself as een van die belangrikste politieke rolspelers in die wêreld te vestig.

 

Na die einde van die Koue Oorlog het die Amerikaners daarin geslaag om as onbestrede wêreldleier na vore te tree. Die Amerikaanse model van demokrasie en die Amerikaanse oplossings vir internasionale konflik en ekonomiese uitdagings, het die bloudruk vir ‘n nuwe wêreldorde geword. ‘n Chaotiese Rusland en die talle state wat uit die Sowjetunie losgebreek het, moes hieraan onderwerp word.

 

Na verskeie katastrofale oorloë, die gevolge wat ekonomiese krisisse in Amerika vir die res van die wêreld ingehou het en die opkoms van nuwe reuse in veral Asië, is Amerikaanse politici vandag hard aan die werk om met die hulp van groot Westerse media-instellings die Koue Oorlog te laat herleef in die hoop dat hul eie uitgediende ideologie nie ontbloot sal word nie. Indien genoeg Amerikaners net sal glo dat Poetin boos is en ‘n groot veiligheidsbedreiging vir Amerika inhou, sal hulle voortgaan om politici te ondersteun wat die ideologie van globalisme op die wêreld wil afdwing. Jy kan maar net lande soos Pole, Georgië en die Oekraïne besoek om te sien waarmee die Amerikaners daar besig is.

 

Donald Trump se aanvanklike poging om na Rusland uit te reik is vinnig deur die politieke elite in Washington gesmoor. Daar is enkele politici wat egter voortgaan om te vra dat daar nuut oor Rusland gedink moet word. Dana Rohrabacher, ‘n Republikeinse lid van die Huis van Verteenwoordigers bespreek onlangs in ‘n toespraak die spanning tussen idealisme en meer realistiese prioriteite in Amerikaanse politieke besluite.

 

Volgens hom is Amerika voortdurend besig om idealistiese idees oor hoe die wêreld moet lyk op soewereine state te probeer afdwing. Amerikaners wil nie opgee op die droom dat Rusland eintlik na die Koue Oorlog ‘n prototipe van Amerika moes word nie. Die realiteit is egter dat die meeste Russe die demokrasie van die 1990’s baie negatief beleef het en dat Wladimir Poetin vandag met goeie rede een van die gewildste politieke leiers in die wêreld is. Hy het Rusland weer ‘n bestaansrede gegee en het die soewereiniteit van sy land hard en duidelik herbevestig.

 

Christopher Caldwell, ‘n senior redakteur van die Weekly Standard, sê vroeër vanjaar in ‘n toespraak by die Hillsdale College in Arizona dat Poetin vandag vir populistiese konserwatiewes dieselfde betekenis inhou as wat Fidel Castro vir lank vir kommuniste ingehou het. Ten spyte van enorme druk van buite het Castro die outonomiteit van sy land beskerm. Poetin doen dieselfde vir Rusland.

 

Die skrywer Pat Buchanan skryf dat Poetin die grootste simbool van die beskerming van nasionale soewereiniteit in die stryd teen Westerse globalisme geraak het. Dit is waarom nuwe regse politieke partye van regoor Europa na Poetin uitreik. Westerse leiers sal ‘n fout maak om hul eie mense se behoefte na nasionale soewereiniteit te ontken.

 

Nuuskommentaar: 3 April 2017

Gordhan se afdanking

 

Sedert Donderdagaand verlede week val ontleders oor mekaar se voete soos hulle eiertjies oor die weglating van Pravin Gordhan uit die kabinet probeer lê. Al om die uur was dit egter ook duidelik hoe dikwels die pot misgesit is, of die ore aan fopnuus uitgeleen is.

Wat redelik duidelik is, is dat die laaste hoofstuk oor hierdie saga nog nie geskryf is nie. Verskeie kragte is aan die woel, en verskeie daarvan het dit ten doel om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak. Voorlopig lyk dit of Zuma sy sin gekry het al het dit groot weerstand onder die Top Ses gekry.

Daar was selfs  sprake dat Suid-Afrika reeds die afgelope naweek afgegradeer sou word as die politieke situasie nie stabiliseer nie.

Intussen het Suid-Afrikaners opnuut die boodskap gekry dat as Zuma iets wil doen, en hy het die mag daartoe, dan doen hy dit, ongeag die gevolge vir die land. Soos sake nou staan, gaan die land se goedkoper petrol in April ook nie lank hou nie – net sodat Zuma sy sin kan kry.

Dit is reg en noodsaaklik dat die inspekteur-generaal vir intelligensiedienste die sogenaamde intelligensieverslag wat Zuma as verskoning gebruik het om Gordhan af te dank, deeglik ondersoek. Volgens alle aanduidings is dit ’n slordige stuk ploertwerk. Volgens die EFF is dit die werk van iemand wat deur die Guptas betaal is, en is die opsteller ook sommer met ’n leuen oor die EFF uitgevang.  Kom dit werklik uit die Suid-Afrikaanse intelligensiegemeenskap is die land hier ook wat gehalte betref diep in die knyp.

Dit sal interessant wees om te sien hoe die veldtogte om Zuma te laat bedank nou verskerp gaan word. Die EFF, met die rugsteun van die UDM en Cope, het ’n aansoek aan die Konstitusionele Hof gerig om die speaker te verplig om Zuma in ’n staat van beskuldiging te plaas. Die DA gaan nog ’n mosie van wantroue instel, en dit sal interessant wees om te sien of mense soos Gordhan en afgedankte minister Derek Hanekom, teen so ’n mosie sal stem. Hulle sal vermoedelik afwesig wees.

Voorts word ’n groot optog deur Save South Africa en Zwelinzima Vavi se nuwe vakbondfederasie na die Tesourie beplan. ’n Petisie waarin Zuma gevra word om sy goed te vat en te loop is op die sosiale media in omloop.

Die samestelling van die nuwe kabinet word as ’n oorwinning vir die Guptas beskryf. Indien dit ook die waarneming van die SAKP is, gaan die onmin in die Kabinet voortduur. En miskien ontwikkel die Groot Ses bietjie ruggraat, wat die situasie op die duur kan omkeer.

Want so kan dit nie aangaan nie…

 

Nuuskommentaar: 31 Maart 2017

Rwanda bloei nie meer inwendig nie

 

In ‘n tyd waarin sogenaamde polities-bevryde lande soos Suid-Afrika vasklou aan kwessies soos apartheid, kolonialisme, menseregte en rassisme om hulle eie onbevoegdheid en nuwe bestaanstryd te verberg, onderskei Rwanda hom as ‘n land wat toenemend saam met die wêreld kan praat. President Paul Kagame het pas die eerste Afrika-leier geword om Amerika se grootste Israel-gesinde forum in Washington toe te spreek. Hy het aan die Amerikaans-Israelse Openbare Sake Komitee, AIPAC, gesê die Joodse Staat was waarskynlik Rwanda se grootste inspirasie in die land se heropbou ná die menseslagting van 1994. Hy vergelyk dit met Israel se suksesvolle vestiging en ontwikkeling selfs na die gruwels van die Jode-slagting. Hy het ook Rwanda se vriendskapsbande met Israel bevestig.

Kagame sê Israel het nie net bestaansreg nie, maar ook die reg om ‘n volwaardige lid van die internasionale gemeenskap te wees. Kagame regeer per gewysigde grondwet sedert die jaar 2000, en kon daarin slaag om die reuse-konflik tussen die Tutsis en Hutu-ekstremiste hok te slaan en Rwanda in ‘n suksesverhaal te omskep.  Hy sê die sekuriteit en veiligheid van mense wat eens vir uitwissing bestem was, kan nie uitsluitlik fisies wees nie. Volgens hom sal die wêreld nooit regtig veilig wees as daar steeds ideologieë bestaan wat moord as ‘n patriotiese plig bejeën nie.

Sommige regerings en politieke bewegings op die vasteland kan hulle net met die Palestynse stryd vir ‘n eie staat vereenselwig. Hulle beskuldig Israel van apartheid en kolonialisme en kan maar net nie vergeet dat die Israelis Suid-Afrika se apartheidsbestel bygestaan het in die moeilike sanksiejare nie. En tog het Israel se aktiewe diplomatieke betrokkenheid en tegniese en ekonomiese samewerking met sleutelspelers soos Rwanda, hom al baie vriende op die vasteland besorg. Premier Benjamin Netanyahu sal later vanjaar minstens 30 Afrika-leiers tydens ‘n beraad in Togo toespreek. Dit is van groot belang vir Afrika-state wat vooruit streef, om bande met ‘n wêreldland op die gebied van tegnologie te vestig.

Israel is ook ‘n leier op militêre gebied en een van die grootste uitvoerders van militêre toerusting. Israel en Rwanda is nie alleen bondgenote nie, maar steun sterk op Amerika, hoewel albei lande al Washington se geduld onder die Obama-administrasie tot die uiterste beproef het.

Kagame is van toenemende outokrasie beskuldig en Netanyahu is gereeld berispe oor Israel se voortgesette uitbreiding in die Palestynse besette gebiede.  President Donald Trump openbaar tot dusver ‘n meer gematigde houding teenoor Rwanda en Israel en albei lande hoop op ‘n hegte vriendskap met die VSA. Israel hou vol dat ‘n vredesooreenkoms met die Palestyne net bereik kan word deur regstreekse onderhandelings en nie deur diplomatieke druk van buite nie. Rwanda steun dié standpunt ten volle. Die land het immers die gevolge van sy bloedige Volksmoord op eie stoom oorwin. Dit is verfrissend om ‘n Afrika-leier teë te kom wat buite die grense van die rewolusie kan dink.

 

Nuuskommentaar: 30 Maart 2017

Poging om mediese hervorming te herroep, rampspoedig vir Republikeine

 

Die Republikeinse Party in Amerika is tans in ’n sterker posisie as tydens die afgelope agt dekades. Die party beheer die Withuis, Senaat, Huis van Verteenwoordigers en die oorgrote meerderheid van goewerneurskappe en wetgewende liggame in die 50 state. Tog het die party verlede week lelik pakslae gekry met sy langverwagte poging om President Obama se groot mediese hervormingsprogram te herroep en met ’n meer konserwatiewe, vryemarkgesinde program te vervang.

 

Donald Trump het die herroeping van “Obamacare” een van sy belangrikste verkiesingsbeloftes gemaak en het onderneem om dit een van sy eerste prioriteite as president te maak. Dit is dan ook presies wat hy gedoen het, maar die groot onderhandelaar kon nie daarin slaag om genoeg konsensus binne sy eie party vir die aanvaarding van die “American Health Care Act” te bewerkstellig nie.

 

Donald Trump, die ewige populis, het tydens sy verkiesingsveldtog op die rug van die ongewildheid van Obamacare gery. Hy het belowe om Obamacare te herroep en dan nuwe wetgewing voor te stel wat sou sorg dat meer Amerikaners, teen ’n laer koste beter mediese dekking sou kry.

 

Die American Health Care Act wat deur Trump en Paul Ryan, die speaker van die Huis van Verteenwoordigers, voorgestel is, het alles behalwe hierdie beloftes nagekom. Mense wat meer as 1 miljoen dollar per jaar verdien sou soveel as 14% bespaar terwyl die armes, werkerklas en landelike kiesers wat almal vir Trump gestem het, die seerste sou kry. Meer as 20 miljoen Amerikaners sou hul mediese dekking verloor het indien die wetgewing aanvaar is. Voorts het die wetgewing in ’n poging om nie te veel mense te vervreem nie steeds die regering se groot rol in gesondheidsorg behou, maar net geherdefinieer.

 

Die eindproduk was ’n stuk wetgewing wat deur tientalle Republikeine in die Huis van Verteenwoordigers nie ondersteun kon word nie. Vir die harde vryemarkgesindes was die rol van die regering steeds te groot. Vir verteenwoordigers van landelike en industriële distrikte sou die verlies aan dekking vir miljoene mense in die werkersklas net te veel stemme gekos het. Kort voordat die Huis van Verteenwoordigers oor die wetgewing moes stem het ’n peiling van Quinnipiac Universiteit getoon dat slegs 17% van Amerikaners die nuwe wetgewing steun.

 

Nog voordat daar gestem kon word het die Republikeine hul nederlaag aanvaar en besluit om die wetgewing te onttrek. Waar laat dit vir Donald Trump? Trump het slegs 46% van die stemme in verlede jaar se verkiesing ontvang. Sy gewildheid neem sedert sy inhuldiging op 20 Januarie konstant af en byna tweederdes van Amerikaners is nie tevrede met sy prestasie nie. Deur sy klein bietjie politieke kapitaal op hierdie gedoemde wetgewing te spandeer, het Trump as die groot verloorder uit die stryd getree.

 

Sy dreigemente teenoor Republikeine wat nie met hom wil saamstem nie veroorsaak nou selfs groter verdeeldheid in sy party. Trump is toenemend op die agtervoet en die kanse dat die Republikeine tydens volgende jaar se middeltermynverkiesing ernstig pakslae gaan kry, word by die dag groter. Die vraag is: Gaan Trump van benadering verander of gaan hy sy party verder in die wildernis in saamsleep?

 

Nuuskommentaar: 29 Maart 2017

Die geboorte van die Europese Unie

Sestig jaar gelede het ses Europese lande in Italië die Verdrag van Rome geteken. Hiermee het die Europese Ekonomiese gemeenskap tot stand gekom wat later tot die stigting van die Europese Unie gelei het. Dit het nou 28 lede.

Sestig jaar na die stigting is daar steeds nie eenstemmigheid oor of dit goed of sleg was nie. Brittanje het verlede jaar gestem teen voortgesette lidmaatskap, en die proses wat as Brexit bekend staan is ingelui.

Die Europese Unie besef dat hervorming dringend noodsaaklik is. Lande moes vir deelname ’n deel van hul soewereiniteit afstaan, maar hoewel daar ’n Europese Parlement is wat demokraties saamgestel is, het daar so ’n burokrasie in die unie se hoofsetel, Brussel, tot stand gekom dat die alledaagse ervaring is dat demokrasie beperk is ter wille van hierdie reuse burokrasie.

In verskeie Europese lande is daar ook partye en bewegings wat hulle vir afskeiding beywer, en Geert Wilders en sy party in Nederland was juis nou met die pas-afgelope verkiesing in die kollig. Hierdie partye beskou die Europese Unie as ’n manifestasie van ’n wêreldorde wat afgestem is op die vorming van ’n wêreldregering.

Die vorming van die Europese Unie het ingrypende gevolge op verskeie vakgebiede uitgeoefen. Een voorbeeld is Turkye wat al jare lank probeer om lid van die Unie te word. Die Unie se grondwet vereis egter dat minderhede in lidlande ’n groot mate van soewereiniteit moet geniet. Dit druis teen die Turkse tradisie in wat eerder gemik is op verturksing, en minderheidsregte, soos die taal van die Koerde, is onderdruk. In ’n poging om lid van die Unie te word is die doodstraf afgeskaf en het die Koerde veel meer erkenning gekry, soos Koerdiese stede wat hul oorspronklike name teruggekry het.

Na die mislukte staatsgreep van verlede jaar, lyk dit egter of die kloof tussen Turkye en die Europese Unie aan die vergroot is.

In Spanje het die Baske en Kataloniërs, wat erg deur Franco onderdruk was, selfregering gekry.  In die proses is ander kragte weer oopgemaak, soos dat die Kataloniërs stem dik begin maak vir onafhanklikheid.

’n Verskynsel wat nie ewe goed deur alle politieke ontleders ontvang is nie, is dat die sambreel wat die Europese Unie skep, vir sommige groepe eintlik die behoefte aan ’n nasionale regering laat verval. Dit was veral merkbaar in België self wat in ’n federasie omskep is, en steeds verder verdeel, sodat die grootste party in Vlaandere die moontlikheid van ’n konfederasie vir algemene bespreking oopgestel het. Die basiese vraag is, as daar ’n Europese Unie is, waarom moet Vlaandere dan nog deur ’n Belgiese regering ook gedien word?

Min of meer dieselfde paadjie word in Skotland geloop, met Skotse onafhanklikheid wat weer na vore gedwing word deur wat daarop neerkom dat Engeland namens hulle besluit het om van die Europese Unie weg te breek.

Deur die Europese Unie het minderheidsregte, wat daar as deel van menseregte beskou word, ’n veel groter prominensie in die internasionale reg gekry. Uiteindelik behoort dit ook minderhede in Suid-Afrika tot voordeel te strek.

 

Nuuskommentaar: 28 Maart 2017

Ouerskap

Is daar ‘n titel wat groter verantwoordelikheid dra as ‘ouer’?

Om lewe te gee, bly ‘n wonderwerk. Dit verander ook jou persepsie van liefde en sorg – vir altyd. ’n Mens wonder dikwels of so baie kinders verwek sou word indien ouers werklik die verantwoordelikheid, wat daarmee gepaard gaan, vooraf sou besef.

Meeste regdenkende volwassenes wil die beste ouers vir hul kinders wees, of so reken ons. Tog het die nuus die laaste maande gereeld berig oor die mishandeling en verwaardlosing van weerlose kinders, onwelvoeglike blootstelling en selfs die ‘weggooi’ en ontvoering van ‘n eie baba.

Die feit is egter dat dit gebeur in gemeenskappe waarin goeie, regdenkende mense woon. Dis haas ondenkbaar dat enige vrou haar dag-oue suigeling soos ‘n lappop op ‘n ashoop weggooi! Dat ‘n man wat moet beskerm juis aanrand, verniel, verwoes. Dit laat mens stom van magtelose ontsteltenis.

Hierdie is uiterste gevalle is ongelukkig nuuswaardig vanwee die brutaliteit, die onmenslikheid en die feit dat dit sosiaal onaanvaarbaar is.  In geen gemeenskap mag sulke optrede ooit verskoon word nie, ongeag die rede of verweer.

Maar helaas is daar in meeste gesonde gemeenskappe sogenaamde ‘normale’ ouerhuise waar kinders op minder sigbare manier ly.  ‘n Kind wat voortdurend blootgestel word aan ouers wat nie in liefde en vrede kan saamleef nie, ‘n kind wat voorwaardelik, op grond van prestasie of gedrag, liefde bewys word; ‘n kind wat net materiele liefde ken omdat ouers emosioneel en/of fisies afwesig is. Wat is dìt anders as mishandeling? Selfs ‘n gebrek aan reels, dissipline en opvoeding met grense, ontneem ‘n kind die sekuriteit van ‘n veilige omgewing.

Kinders wat binne die raamwerk van reëls, respek en dissipline grootword ken die veiligheid binne daardie grense.  Kinders is geen ouer se besitting nie – hulle word ons net geleen. Geen kind mag ooit ‘n pion wees in ‘n magstryd tussen ouers nie.

Is jy ‘n ouer? Hoe lyk die vrug van jou opvoeding? Die grootste vreugde van ouerskap is om met jou volwasse kinders ‘n vriendskap te deel gebou op jarelange respek, vertroue, liefde, aanvaarding en herinneringe om ‘n leeftyd te hou. Indien enige aanpassings gemaak moet word om hierdie vreugde te ken, is daar geen beter tyd as NOU want ouerskap is ‘n voorreg en vreugde, nie ‘n reg en straf nie.

 

Nuuskommentaar: 27 Maart 2017

Neo-kolonialisme

Die koloniale debat het weereens vlamgevat in Suid-Afrika.

Die Wes-Kaapse premier en voormalige DA-leier, Helen Zille, se Twitter-boodskap oor die land se koloniale geskiedenis is reeds ou nuus.

Die veldbrand in die sosiale media duur egter steeds voort en dit begin al hoe meer lyk asof, wat ʼn sinvolle debat kon wees, ontaard het in die steniging van ʼn boodskapper.

Wat die klipgooiers uit die oog verloor is dat Afrika ʼn maklike teiken vir enige land met koloniale versugtinge is. Die geskiedenis vertel die verhaal. Die betrokkenheid van die Britte, Franse, Duitsers, Portugese, Russe, Kubane, Belge en selfs Italianers in die kontinent se geskiedenis kan nie weggewens word nie.

Mens sou dink dat die mense van Afrika hul les geleer het. Koloniale betrokkenheid is ʼn parasitiese vennootskap wat min voordeel vir die sogenaamde gasheerland inhou. Of dit nou grondstowwe, landbouprodukte of nedersetting is, die koloniale moondheid het ʼn eensydige agenda.

Die versuikerde omhulsel van dié bitter pil het in die geskiedenis weinig voordeel vir Afrika ingehou. Hoewel infrastruktuur en in sommige gevalle onderwysstelsels daarby gebaat het, is ons gelaat met vreemde kulturele gebruike, mislukte regeringstelsels en vreemde tale.

In die jongste tyd word die ANC-regering se korrupte regime telkens gekoppel aan die Indiese Gupta-gesin se pogings tot staatskaping. Die broers se betrokkenheid is egter nie die grootste gevaar wat Suid-Afrika in die gesig staar nie.

Die Sjinese se verklaarde beleid jeens Afrika hou ʼn baie groter bedreiging vir die kontinent in. Die rooi golf van neo-kolonialisme spoel reeds soos ʼn tsunami die afgelope dekade oor Afrika en die inwoners is maar net te gretig om die golf te ry.

Die gebroke ekonomieë wat die vorige vlaag van koloniale besetting agtergelaat het is dors vir die finansiële voordeel wat Sjinese betrokkenheid in Afrika bring. Dit is soos daardie geduldige kredietkaart of gemene geldskieter wat teen die einde van die maand kruideniersware koop.

Die ANC wat in ʼn groot mate nog in die Koue Oorlog leef, sien Sjina skynbaar as ʼn verlosser wat hulle gaan red van gevaarlike Westerse invloede. Sjinese betrokkenheid is as’t ware ʼn wonderpil om hulle eie politieke bloedarmoede te genees.

Die afgelope dekade het Sjina se direkte investering in Afrika van 491-miljoen dollar tot 14-komma-7-miljard dollar toegeneem. Die Sjinese nuusagentskap, Xinhua, (SJIN-WHA) spog openlik dat Sjina tientalle hospitale en honderde skole op die kontinent kom bou het. Die agentskap maak die Weste se waarskuwings aan Afrika oor neokoloniale besetting af en sê dié lande is net bang hulle eie selfsugtige belange word in gevaar gestel.

Suid-Afrikaanse politieke ontleders het die afgelope jare telkens daarop gewys dat Sjina se betrokkenheid ter plaatse gevare inhou.

Daar kan volgens hulle geen gelyke vennootskap wees nie, want die jongste geskiedenis het bewys dat Sjinese sakeondernemings geneig is tot korrupsie. ʼn Sjinese werksmag word ingevoer om sleutelposisies in industrieë te vul met geen kennisoordrag aan die plaaslike arbeiders nie. En die goedkoop produkte wat vervaardig word ondermyn Afrika om sy eie industrieë te ontwikkel.

Terwyl die ANC hulle vaardigheid met Sjinese eetstokkies opskerp, word ons land vir die soveelste keer uitverkoop.

 

Nuuskommentaar: 24 Maart 2017

Die afdraende pad is voorhande

Dit was met skok en ontnugtering dat die land verneem het van die inbraak by hoofregter Mogoeng Mogoeng se kantoor. Wat uit die staanspoor geblyk het, is dat die diewe presies geweet het waarna hulle soek. Vyftien rekenaars met sensitiewe inligting soos regters se woonadresse is met militêre presisie uit die afdeling vir menslike hulpbronne gesteel. Ander waardevolle items is net so gelaat. Die opposisie het dadelik vingers gewys na die Departement van Staatsveiligheid, wat natuurlik enige betrokkenheid ontken.

Die feit dat die gewaagde inbraak so gou na die Grondwethof se uitspraak in die Sassa-debakel plaasgevind het, het ‘n sterk vermoede laat ontstaan dat die diefstal daarop gemik was om die land se hoogste hof die skrik op die lyf te jaag. So asof die howe gewaarsku word om nie die wetgewende en uitvoerende gesag in die land teen te gaan nie.

Hoe vergesog dit ookal klink, moet dit gesien word teen die agtergrond van die ANC se plan om die presidensie in ‘n soort oppergesag te omskep. ‘n Magsentrum wat die staat se beskikbare geldbronne na sy eie goeddunke aanwend sonder inmenging van die Tesourie. Die feit dat regters se persoonlike inligting nou in die openbare domein is, is skrikwekkend. As dié gegewens in die verkeerde hande val, kan regters afgepers word om uitsprake te lewer wat die staat goedgesind is. Die regering en die ANC het al soveel keer bloedneus in die land se howe gekry, dat dit nie onmoontlik is vir onderduimse regeerders om op dié manier hulle wil af te dwing nie. Die ondersoek is in die hande gelaat van die hoogste polisiegesag, maar selfs dit is ‘n skrale troos aangesien die hooggeregshof pas besluit het dat die aanstelling van die Valkehoof onwettig was.

Watter versekering is daar dat die polisie nog vertrou kan word? Daar is al dikwels gesê dat die Nasionale Vervolgingsgesag en die Valke-eenheid blote marionette van die regering is. Die groot vraag is egter wie die politieke poppespel beheer? Dit bring die kantoor van die president onder verdenking. Net hy het genoeg mag om al die toutjies te trek – veral as senior kabinetslede hulle samewerking gee.

Daar is dikwels voorspel dat die maande in die aanloop tot die ANC se leierskapskonferensie aan die einde van die jaar, uiters gespanne gaan wees. Niemand het egter verwag dat die onafhanklike regbank tot die uiterste beproef gaan word nie. Die howe is al toevlug vir die land se burgerlike organisasies, opposisiepartye en gewone Suid-Afrikaners om reg en geregtigheid te laat geskied. As hierdie onafhanklikheid wegval deur staatsmanipulasie, kan daar net sowel ‘n militêre staatsgreep afgekondig word. Die geskiedenis het geleer dat ‘n land so dikwels deur rewolusionêre magte oorgeneem word, net vir die einste magte om teen hulle ondersteuners te draai as hulle teenkanting kry. Is dit wat tans in sonnige Suid-Afrika gebeur?

 

Nuuskommentaar: 23 Maart 2017

Geert Wilders die ware wenner van Nederlandse verkiesing

Verlede Donderdagoggend het die internasionale media dit uitbasuin: Populisme het ’n bloedneus in Nederland gekry. Die sittende eerste minister, Mark Rutte van die vryemark gesinde, VVD, is op CNN, BBC en in koerante van New York tot in Berlyn as die groot oorwinnaar wat regse nasionalisme ’n bloedneus gegee het, beskryf. Angela Merkel het haar vreugde uitgespreek dat Nederland nie sy rug op die Europese Unie gekeer het nie. Politieke kommentators het na ’n lang nag waartydens die byna 13 miljoen stemme getel is, glimlaggend ontleed hoe Nederlanders die voortou geneem het met die verwerping van ekstremisme, nasionalisme en identiteitspolitiek.

Wat het regtig verlede week in Nederland gebeur? Het Nederlandse kiesers die Partij voor de Vrijheid van Geert Wilders verwerp? Het Nederlanders hul rug op identiteit gekeer en ten gunste van minder grense en meer magte aan die Europese Unie gestem?

In ’n land waar 28 partye aan ’n verkiesing deelneem, 13 setels wen en die grootste party slegs 21% van die stemme kry, is dit onmoontlik om eenvoudige gevolgtrekkings oor die uitslag te maak.

Mark Rutte verdien krediet. Hy sal waarskynlik binnekort tot ’n derde termyn as eerste minister van Nederland aangewys word. Dit op sigself is reeds ’n uitsonderlike prestasie. Sy party het wel 8 setels minder gekry, maar waarvoor Rutte die meeste krediet verdien is die meesterlike wyse waarop hy tydens die verkiesingsveldtog met slim retoriek teen massa-immigrasie en teen meer magte vir die Europese Unie na regs beweeg het om uiteindelik letterlik honderde duisende stemme by Geert Wilders weg te vat.

Vir maande het Wilders se PVV in die peilings voorgeloop. Oor die afgelope drie maande het beide die regerende VVD en die Christen-Demokratiese Appél van Sybrand Buma egter na regs beweeg en talle standpunte van Wilders hul eie gemaak om sodoende veld te wen. Die bekende kommentator Jelte Wiersma skryf in Elsevier dat Wilders die groot wenner van die verkiesing is. Hoewel die PVV swakker gedoen het as wat die peilings voorspel het, het hulle van 15 tot 20 setels gegroei en het hul stemtotaal van 950 000 tot 1,3 miljoen toegeneem. Die belangrikste element van Wilders se oorwinning lê egter nie in die aantal stemme en setels wat die PVV gewen het nie, maar wel in die wyse waarop die PVV die agenda van die Nederlandse verkiesing beïnvloed het.

Kwessies soos immigrasie, die invloed van die Islam op die Nederlandse kultuur, wat Nederlandse identiteit vandag behels, die belangrikheid oor grense en die soewereiniteit van EU-lidlande, was hooftemas tydens die verkiesingsveldtog en is bykans almal temas wat deur Wilders en sy PVV op die voorgrond geplaas is. ’n Meerderheid van Nederlandse partye het meer skepties oor die Europese Unie geraak en groot partye soos die VVD en CDA het sterk uitsprake teen massa-immigrasie gemaak.

Nederland het verlede week na regs beweeg, nie net weens die vyf setels wat die PVV bygekry het nie, maar ook weens die wyse waarop Wilders talle partye om hom na regs gedwing het. Wilders sal nou die hoof opposisieleier van Nederland wees. Enigiemand wat dink dat hy die verkiesing verloor het of dat die verkiesingsuitslag ’n verwerping van die PVV se standpunte is, sal baie naïef wees

 

Nuuskommentaar: 22 Maart 2017

Watter onderwys gaan die leiers oplewer?

In Suid-Afrika is vier skoolgaantipes: Staatskole, wat vir hierdie bespreking na die skole met Model C-wortels verwys, privaatskole, tuisskolers en leersentrums.

Afrikaanse staatskole, en sommige Engelse staatskole soos die tradisieryke Boy’s en Girls High-skole, lewer nog oënskynlik goeie onderwys. Die verswakkende uitwerking van die sosialistiese staatskurrikulum bring verlaagde standaarde, al is die onderwys toegewyd. Dit tersyde, is die groot getalle van hierdie skole kenmerkend, en is dit massaproduksiefabrieke met oulike tradisies en dikwels goeie dissipline, maar wat massaprodukte lewer.

Privaatskole strek oor ‘n wye spektrum, en volg vanweë die regering se opdringerigheid dikwels ook staatskurrikulum in een of ander vorm, direk of soos IEB, maar met die massa-gerigte kenmerke. Waar privaatskole kleiner klasse en/of meer unieke aanbiedings lewer, en soms soos onder Christene ‘n duideliker karakter het as staatskole, is daar meer geleentheid vir indiwidualiteit en kultuurvorming.

Tuisskolers se verskeidenheid is natuurlik so wyd as die indiwidue daarby betrokke, en sal dus noodwendig meer indiwiduele verskeidenheid oplewer. ‘n Groter mate van selfstudie as by die skole bring die waarskynlikheid dat kinders grootmense word met meer eie denke en inisiatief as wat die massaprodukskole lewer.

Suid-Afrika het ‘n tradisie van eenvormige skooldrag wat in staatskole en meeste privaatskole geld. Dit het voordele vir dissipline, eenheidsgevoel en trots. Die persepsie van leersentrums, waar selde skoolklere gedra word, is dus dat dit minder gedissiplineerd is en vir bedorwe of rebelse kinders daargestel is. Leersentrums is soms in kantoorgeboue of beknopte huise gevestig en doen min vir buitemuurse aktiwiteite. Die waarneming is dat praktyke soos rook en persoonlike slordigheid meer opvallend by leersentrums is.

Daar is ook ‘n verskynsel dat onafhanklike, kleiner privaatskole proporsioneel ‘n groter aantal leerlinge het wat meer aandag benodig waar sulke skole in die skadu van sterk Model C-skole opkom vir byvoorbeeld sterker christelike beklemtoning. Kleiner skole bied egter ook aan die akademies sterker leerling meer direkte kontak met die onderwyser, met geleentheid om indiwiduele vordering te versterk, belangstellings uit te bou en meer te doen as wat in ‘n massaskool moontlik is.

Die vraag is watter onderwysformaat die leiers en mense wat uitstaan gaan voortbring?

Staats- en privaatskole beklemtoon puntebehaling deur eksamenvoorbereiding pleks van die leerproses, asook prestasies van sportspanne, en afrigting word toenemend professioneel aangebied in klaar-gevormde formaat. Lewer die massastelsel met sy oënskynlike krag leiers en inisiatief op, of nabootsers met gemiddelde vaardighede wat nie juis uitstyg nie?

So gesien ontstaan daar ‘n moontlikheid dat die voorlopers en uitstygers dalk eerder in die minder glansryke privaatskooltjie en dalk selfs die leersentrum gekweek word. In ‘n siniese beskouing sal dit beteken dat die leierskorps uit die kinders wat harder as ander moet werk om bo uit te kom en andersyds uit die rebelle gaan kom wat weier om in die groot, eenvormige skooldraggeklede en reëlgedrewe skool te gaan.

Is dit net sinies of moet veral Afrikaners wat nog ‘n baie hoë premie plaas op staatskole, dalk meer aktief begin dink daaraan dat die kleiner skool waar elkeen tot sy reg kom, noodsaaklik is om die leiers vir sy toekoms te kweek?

 

Nuuskommentaar: 21 Maart 2017

Nederlandse verkiesing – moenie teen Wilders-faktor vaskyk

 

Die eerste reaksies op die Nederlandse verkiesingsuitslae was op die oog af hoofsaaklik teleurstelling oor hoe Geert Wilders se Partij voor Vrijheid gevaar het, en ander wat bly is dat die PVV nie so goed gedoen het soos algemeen verwag is nie.

Maar is dit werklik die belangrikste saak op die agenda en kan veel afgelei word met die oog op die latere verkiesings vanjaar in Frankryk en Duitsland?

Verskeie Amerikaanse kenners meen Wilders moet eerder in isolasie beskou word as die breë regspopulistiese beweging in Europa. Die oë word veel meer gerig op Marine Le Pen in Frankryk.

Wilders en sy party is immers lank deel van die Nederlandse parlement, en was in ’n stadium met gedoogde steun effektief die party wat die regerende koalisie aan bewind gehou het min of meer soos die EFF nou DA-geleide koalisies in staat stel om die ANC uit verskeie munisipaliteite se regeerampte te hou. Dis ongemaklik, en het ook ingeplof.

Wilders is ook al verskeie kere vir sy uitsprake van ’n vorm van haatspraak aangekla, en onlangs weer toe hy wel skuldig bevind is maar nie gevonnis is nie.  As leier van die tweede grootste party, kan hy nie geïgnoreer word nie.

Sake moet egter ook in perspektief gesien word. Die PVV het wel vyf setels bygekry, maar die Christen-Demokratiese Appèl  het ses, en die GroenLinks ’n yslike tien setels bygekry.

Met die hulp van die CDA, die D66 en Parij voor de Arbeid kan premier Mark Rutte se VVD ten spyte van ’n verlies van agt setels maklik ’n koalisieregering vorm.

Sou die Partij voor Arbeid egter besluit om nie deel te neem nie, soos wat wyd bespiegel word nadat die party ’n yslike 29 setels verloor het, kan na die ChristenUnie en die SGP gekyk word.

Miskien selfs belangriker as hoe Wilders en sy party gevaar het, is die knou wat die Partij van de Arbeid ervaar het. Dié party was in die jare van Joop den Uyl aan bewind, en was sedertdien dikwels sterk genoeg om minstens ’n sleutelrolspeler in die koalisiepolitiek te wees. Met net nege setels is hy nou nie eens meer die grootste sosialisteparty nie, met die Sosialisteparty wat 14 setels verower het.

Met die vorige nasionale verkiesing in België kon ook geslaag word om die sosialiste heeltemal uit die koalisie te hou, terwyl die Sosialiste die dominante politieke mag in Wallonië is, en selfs die vorige premier vir België opgelewer het. Die uitsluiting van die sosialiste het in daardie geledere ontsteltenis veroorsaak omdat die land toe glo ’n regering sou kry wat nie vir die armes omgee nie.

Barack Obama het die VSA in ’n sosialistiese staat begin omskep, en is nou deur die teenpool, Donald Trump vervang.

Beleef ons nie nou as eerste dominante wêreldpolitieke faktor ’n voortgesette kwyning van die sosialisme nie – nogal ironies synde dat die ANV hier verder in daardie rigting neig? Dit beteken nie die opkoms van die regspopulisme is onbelangrik nie.

 

Nuuskommentaar: 20 Maart 2017

Amerika moet nuut dink oor Koreane

Vanaf 1950 tot 1953 het tussen 2 en 3 miljoen soldate en burgerlikes hul lewens in die Koreaanse Oorlog verloor. Die oorlog was veral ’n toets vir Amerika wat na die einde van die Tweede Wêreldoorlog sy nuwe rol as bewaarder van internasionale vrede en as die hoof aanvegter teen kommunisme, ingeneem het.

Hoewel die Verenigde Nasies leiding geneem het in die konflik nadat meer as 130 000 soldate uit Noord-Korea die suide op 25 Junie 1950 ingeval het, was dit die Verenigde state wat meer as 90% van die soldate vir die stryd teen die Noorde, ondersteun deur China en die Sowjetunie, gelewer het.

Nadat meer as 36 000 Amerikaners hul lewens in die oorlog verloor het en die twee Korea’s en China selfs veel groter lewensverlies moes verduur, is ’n skietstilstand in 1953 onderteken. ’n Vredesverdrag is egter tot vandag toe nog nie gesluit nie en tegnies is Noord-Korea en Suid-Korea steeds in ’n staat van oorlog gewikkel.

Sedert die vroeë 1950’s het heelwat dinge in die wêreld egter verander. Amerika het na die Koreaanse oorlog ook ’n bloedneus in Vietnam gepaardgaande met selfs groter lewensverlies, gekry. Oor die afgelope paar jaar het die land grootlik met oorloë in Afganistan en Irak misluk. Amerika se weermag is steeds enorm groot en die land se spandering op verdediging styg steeds. Byna 40 000 Amerikaanse soldate is permanent in Suid-Korea gesetel om dié land teen sy noordelike aggressor te help beskerm. Grootskaalse, peperduur oorlogoefeninge word tans weer deur Suid-Korea en Amerika uitgevoer. Beide lande is reg vir oorlog met Noord-Korea.

Suid-Korea se bevolking is vandag dubbel dié van Noord-Korea terwyl die land se ekonomie 40 keer groter as sy kommunistiese vyand is. Suid-Korea is die land in die wêreld wat die 10de meeste geld op verdediging spandeer. Sy weermag troon uit bo die vermoëns van sy armsalige vyand, Noord-Korea. Ten spyte van groot militêre vertoon, die voortdurende afskiet van missiele en die 33-jarige diktator, Kim Jong-un, se oorloglustige praatjies, beskik Noord-Korea eenvoudig nie oor die vermoë om Suid-Korea soos in die 1950’s storm te loop en te oorwin nie. Met China wat weens sy goeie, veral ekonomiese, betrekking met die Weste nie meer in ’n oorlog aan die kant van Noord-Korea sal staan nie, die afwesigheid van die Sowjetunie wat in die 1950’s Noord-Korea van wapentuig voorsien het en die militêre en ekonomiese posisie van die twee Korea’s wat totaal verander het, is dit sinneloos om te dink dat Noord-Korea enige kans staan om ’n oorlog teen Suid-Korea of ander lande in die streek, soos Japan, te wen.

Het Amerika dan regtig nog ’n rol om in Suid-Korea te speel? Indien dié land deur die Noorde aangeval word kan die Amerikaners mos steeds met wapentuig en selfs lugaanvalle bystand verleen. Daar is egter geen rede waarom Amerika meer soldate in Suid-Korea moet hê en in ’n oorlog tussen die Noorde en Suide lewensverlies moet verduur nie. Die Amerikaners is egter steeds in die 1950’s vasgevang en kan steeds nie hul rol as internasionale bewaarder van vrede in ’n veranderende wêreld herbedink nie.

 

 

Nuuskommentaar: 17 Maart 2017

Die presidensie ‘n strategiese magsentrum?

Een van die voorstelle wat op die ANC se beleidskonferensie in Junie bespreek sal word, is om die presidensie in ‘n strategiese magsentrum te omskep wat beleidsrigtings en die toekenning van hulpbronne beheer. Dit is waarskynlk die duidelikste aanduiding nóg dat geldbeheer uit die Nasionale Tesourie se hande geneem en na die president en sy uitgebreide kantoorkorps oorgeplaas moet word. Die ANC se beleidshoof, Jeff Radebe, sê die voorstel moet vertolk word teen die agtergrond van die Nasionale Ontwikkelingsplan wat nie kan vorder as daar nie ruimskoots voor begroot word nie.

President Jacob Zuma het al ‘n paar keer gekla dat die Tesourie ‘n struikelblok in die pad van radikale ekonomiese transformasie is. Radebe meen die NOP sal ‘n illusie bly as daar nie drasties ‘n begrotingshervorming plaasvind nie. Hy sê die Tesourie kan steeds die begrotings toewys, maar die president se kantoor moet ‘n mandaat hê om oor die vernaamste prioriteite te besluit. Die presidensie moet ook die reg hê om die staatsdiens in ooreenstemming met die kern-prioriteite van die staat te bring en alle sfere van die regering – wat staatsinstellings insluit – te koördineer. Dit sal glo ‘n einde bring aan swak leierskap en bestuur in staatsentiteite soos SAL, Eskom, Transnet en die SABC. Die bekende Romeinse satirikus, Juvenalis, het die uitdrukking “en wie pas die wagters op” beroemd gemaak. Dit is wat elkeen in die land ook wil weet.  Wie gaan toesig hou oor ‘n president as sy kantoor ‘n magsentrum word? Aan wie gaan hy verslag doen as sake ernstig verkeerd loop?

Die huidige president was al soveel keer by skandale en onreëlmatighede betrek dat die blote gedagte aan ‘n presidensie met ekonomiese oppergesag verbysterend is.  Gedurende die Zuma-administrasie kon selfs die onafhanklikste gesagsowerheid hom nie in toom hou nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag en die Valke is lankal onder sy beheer en sy lojaliste is blind vir sy optrede – solank hulle ook daarby baat. Voeg daarby die Nkandla-sage, die Guptas se inmenging in staatsake, die ondeurdagte afdanking van ‘n bekwame Finansminister, die vroeë vrylating op mediese parool van Zuma se eertydse finansiële adviseur, Schabir Shaik, die regering se omstrede wapenaankope, die nie-verklaring van bates en die wydverspreide korrupsie op al drie regeringsvlakke. Die president en sy poligame huishouding leef soos die adelstand. Een van die Zuma-vroue word met blink swart motors en polisiemanne op motorfietse na ‘n hospitaal begelei net om plastiese chirurgie te ondergaan. ‘n Mens wonder hoekom die president nog enigsens die moeite doen om die magsentrum waaroor hy reeds beskik, amptelik te maak. Of is daar ander sogenaamde prioriteite ingevolge die Nasionale Ontwikkelingsplan waarvan ons nie weet nie – soos ‘n Russiese kernkragstasie op eie bodem?

 

Nuuskommentaar: 16 Maart 2017

Mensgemaakte hongersnood

 

Twee streke is die afgelope maand in Suid-Soedan tot `n rampgebied verklaar en daar word gewaarsku dat Somalië, Nigerië en Jemen die gevaar loop om dieselfde roete te volg. Volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie sal dit die derde keer in 25 jaar wees dat Somalië `n hongersnoodkrisis beleef. Die vorige keer was in 2011 toe 260 000 mense dood is. Bykans 20 miljoen mense kan binnekort weens hongersnood sterf. Volgens die Verenigde Nasies is vier miljard doller binne die volgende drie weke nodig, of selfs meer mense sal sterf. In Suid-Soedan sal minstens een miljoen mense binne die volgende week nie meer toegang tot kos hê nie.  In Nigerië word bykans 400 000 kinders reeds deur wanvoeding geraak. Byna 80 000 van hulle sal nie die volgende paar maande oorleef nie.

Maar wat is die oorsaak van hierdie reuse voorkoms van hongersnood? Droogte is ongetwyfeld een van die redes maar die grootste oorsaak is mensgemaak. Eerstens is daar terreurgroepe soos Boko Haram wat nedersettings tot die grond toe afgebrand het en dus die boerdery-aktiwiteite belemmer het. Dié terreurgroepe veroorsaak ook `n groot aantal vlugtelinge wat in kampe opeindig en verdere druk plaas op die lande waar die vlugtelingkampe gehuisves word.

`n Tweede oorsaak is swak beplanning. Die afgelope ses jaar word daar gewaarsku dat die hongersnood wat in 2011 voorgekom weer herhaal sal word. VN-filiale probeer al 25 jaar lank om voorkomingsmaatreëls in plek te kry om te verhoed dat daar `n herhaling is van die vorige sterftes wees hongersnood. Dan moet daar ook gevra word hoe hongersnood in `n land soos Nigerië kan voorkom. Die bekende verslaggewer Chido Onumah sê die feit dat daar wel hongersnood in Nigerië voorkom is `n skande. Nigerië is `n land wat oor verskeie hulpbronne beskik en kan as `n ryk land beskryf word. Onumah wys egter daarop dat dit ook `n land is met `n hoë voorkoms van korrupsie en `n gebrekkige politieke wil om probleme soos hongersnood betyds aan te spreek.

Die mees skandelike rede vir die voorskoms van hongersnood is die beperkte toegang wat hulpverleningsorganisasies tot geteisterde gebiede kan kry. Die hoof van die Verenigde Nasies se afdeling vir humanitêre dienste, Stephen O’ Brien het onlangs `n besoek aan Suid-Soedan gebring. Tydens die besoek het hy daarop gewys dat hulle nie daarin slaag om belangrike hulpbronne by Suid-Soedan se mense te kry nie weens blatante aggressie teenoor hulpverleningswerkers en lomp burokratiese prosesse.

In die volgende tyd gaan bykans 20 miljoen mense deur hongersnood geteister word en `n groot aantal mense gaan sterf. Dié sterftes kan egter nie op natuurrampe soos droogtes blameer word nie maar vierkantig voor die deur van onbevoegde regerings geplaas word.

 

 

Nuuskommentaar: 15 Maart 2017

Tyd vir herskikking van verhouding tussen Weste en Rusland

Watter bedreiging hou Rusland vir Wes-Europa en selfs Amerika in? Wat moet die Weste se reaksie op Russiese aggressie wees?

Dit is veral die Amerikaanse president Donald Trump se uitsprake en suggesties oor die afgelope twee jaar wat die vraag laat ontstaan of die Weste sy verhouding met Rusland moet herbedink.

Gedurende die Amerikaanse verkiesingsveldtog van 2012 het die Republikeine se kandidaat, Mitt Romney, Rusland as Amerika se grootste geopolitieke bedreiging beskryf. Barack Obama het daarop reageer deur Romney daarvan te beskuldig dat hy nog in die Koue Oorlog-tyd vasgehaak het.

Oor die vier jaar wat na die 2012-verkiesing gevolg het, het die verhouding tussen Amerika en Rusland wesenlik verswak met die einste Barack Obama wat sterk uitsprake teen Rusland en President Wladimir Putin gemaak het. Toe Rusland in 2014 die Krim-gebied in die Oekraïne annekseer en stelselmatig sy militêre teenwoordigheid in Oos-Europa en veral teen die Baltiese State, begin opbou, het Obama en sy regering sonder erkenning eintlik die standpunt van Romney, hul eie gemaak.

Met Russiese aggressie duidelik in Oos-Europa en Rusland se strategiese rol in die burgeroorlog in Sirië, sou niemand seker in 2012 of 2014 kon dink dat die Republikeinse Party in 2016 ’n kandidaat sou kies wat uitgesproke ten gunste van beter verhoudinge met Rusland sou wees nie.

Die opmerkings wat Donald Trump reeds tydens sy verkiesingsveldtog oor Rusland en Putin gemaak het, het behoorlik die oë laat rek. Sou dit ’n paar jaar gelede gebeur het, sou sulke opmerkings vir enige van die partye verdoemend gewees het. Na die mislukte oorloë in Afganistan en Irak en die Weste se rampspoedige demokratiseringspogings in Libië en Egipte het baie Amerikaners hulself begin afvra: Waarom moet ons betaal vir die een na die ander mislukte poging om ander wêreldstreke se probleme op te los?

Wat is Rusland se ware agenda? Die bekroonde Ameikaanse joernalis, Josh Marshall, doen reeds vir baie jare navorsing oor Rusland. Volgens hom is Donald Trump se lang verhouding met Russiese sakelui en banke die hoofrede waarom Trump wil sien dat Amerikaanse sanksies teen Rusland afgeskaf moet word. Trump het oor die jare groot beleggers uit Rusland gewerf en sanksies benadeel sy sakeryk. Trump het dus ’n duidelike persoonlike agenda vir ’n beter verhouding tussen Amerika en Rusland.

Wat is die Russe se agenda? Marshall en ander skrywers wys toenemend daarop dat die Russiese gevaar nie oorskat moet word nie. Rusland het wesenlike ekonomiese probleme en armoede, ’n lae bevolkingsaanwas, korrupsie en heelwat ander uitdagings gaan vir Putin en sy span vir lank besig hou. Dit beteken nie dat Rusland homself nie internasionaal wil laat geld nie. Hy doen dit egter deur strategiese vennootskappe soos in Sirië en deur aggressie in die ooste van die Oekraïne waar hy ’n debatteerbare motief het.

Trump se motief is duidelik selfverrykend. Vir Putin gaan dit ook mag. Die realiteit is egter dat die tyd baie lank laas so ryp was vir ’n gesonde herskikking van verhoudinge tussen die Weste en Rusland. As verkeerde motiewe vir eens oorgesien kan word, maar dit dalk juis Trump en Putin wees wat hierdie herskikking kan bewerkstellig.

 

Nuuskommentaar: 14 Maart 2017

Vertroue wêreldwyd al meer daarmee heen

Suid-Afrikaners het die afgelope jaar die derde meeste vertroue in die sogenaamde stelsel verloor, aldus die jaarlikse vertrouensbarometer van die Edelmangroep.

Volgens die groep het die mense in die helfte van die lande wat gemeet is, vertroue in die stelsel verloor, met Frankryk waar die meeste verloor is, en Suid-Afrikaners waarvan 67 persent vertroue verloor het in die derde plek.

Dit sal waarskynlik niemand verbaas nie dat Suid-Afrikaners se vertroue in die stelsel, bestaande uit die sakesektor, die regering, die media en nie-regeringsorganisasies, so getuimel het. Dit sou seker nog laer gewees het as die parlementêre sirkus al agter die blad was waar die ANC se koukus teen ’n EFF-voorstel vir grondonteiening sonder kompensasie gestem het, en pres. Jacob Zuma kort daarna self weer ten gunste daarvan gepraat het.

Trouens, byna geen regeringsoptrede boesem meer vertroue in nie, met waarskynlik die pandemonium in semi-staatsinstellings voorop.

Wêreldwyd is daar ook ’n skerp afname in die vertroue in die tradisionele media, met die sosiale media wat ook ’n geloofwaardigheidshou vat, maar aanlyn-nuus weer ’n toename in vertroue behaal het.

Suid-Afrika, as heterogene land, sal baie moeilik eenparige opinies kan vorm.

Pretoria FM ervaar nie die wêreldwye verlies aan lesers of luisteraars vir tradisionele media nie. Met die vertroue in die regering wat onder Afrikaners oënskynlik ’n liederlike knou weg het, beleef ’n nie-regeringsorganisasie soos die Solidariteitbeweging soveel steun dat die rubriekskrywer, Max du Preez al geskryf het dat Solidariteit ’n staatskaping op die Afrikaner uitgevoer het. Ook die belastingwaghond, Outa, kry enorm baie steun, al is dit grootliks morele steun. Freedom Under Law en ander gee saam met Solidariteit en AfriForum die regering so ’n rowwe tyd in die howe dat pres. Zuma het hom dikwels al bitter teen die howe uitgespreek wat meerderheidswil frustreer. In die proses trap hy net dieper daarin, want dit beteken hy streef ’n meerderheidstirannie na.

Bitter min Afrikaners het waarskynlik ooit oor ’n breë front veel vertroue in Zuma se kabinet gehad, maar onlangse gebeure het vertroue in veral ’n paar ministers behoorlik onder druk geplaas. En sou daar op 1 April probleme kom met die betaal van welsynstoelaes, gaan die poppe dans.

Die debat môre (Dinsdag) in die parlement oor plaasmoorde gee aan partye ’n goeie geleentheid om weer vertroue by veral die Afrikanergemeenskap ’n hupstoot te gee. Dit is bekend dat van die LP’s wat kennis gekry het dat hulle in die debat moet praat, dit baie ernstig opneem en hul navorsing agtermekaar kry. ’n Kommer is hoe om die kwessie te ontras, want sake gaan baie bemoeilik word as dit in ’n rassedebat ontaard, terwyl sekere partye ook intern rassespanning kan opbou.

Ongelukkig is daar reeds soveel sake waarom spanning opbou en vertroue onder druk geplaas word. Dit help ook nie dat Zuma in sy pogings om die mag deur radikalisme te behou en in die proses ’n Malema-naprater ontaard het nie.

Bitter harde en volgehoue werk voor om genoegsame vertroue te kweek dat die motiewe van groepe onder mekaar bewegingsruimte toelaat.

 

Nuuskommentaar: 13 Maart 2017

XENOFOBIE – HOEKOM?

 Dis weer xenofobie-seisoen in Suid-Afrika.

Met ander woorde, dis weer tyd vir plundertogte op buitelanders se winkels en tyd vir die ANC-regering om sy hande in onskuld te was en die bevolking te paai.

Dit is ook tyd dat die regering aandag aflei van ander krisisse soos die betaling van maatskaplike toelaes teen 1 April.

Die jongste oproep teen xenofobie uit regeringsgeledere, kom vanaf die minister van polisie, Nathi Nhleko. Hy gebruik die ANC se nuwe modewoord naamlik Afrofobia, om na die geweld te verwys. Volgens hom is dit ondenkbaar dat Afrikane mekaar kan aanval.

En dan gee hy apartheid en die minderwaardigheidsgevoel onder swart mense, die rede vir die geweld. Soos talle kere tevore beloof hy kragtige optrede deur die polisie teen dié aanvalle.

Nhleko het skynbaar nie koerant gelees nie.

Uit KwaZulu-Natal berig The Witness dat ʼn ANC-raadslid van die Msunduzi-munisipaliteit in Pietermaritzburg, Caiphus Ndawonde, sy steun toegesê het aan die Imbali-sakegemeenskap se pogings om die deure van Abaynhe Alemehu, ʼn buitelandse sakeman, gesluit te kry. Talle dreigbriewe wat ondermeer Ndawonde se stempel dra, het nie gewerk nie. Toe word die perseel aangeval en gestroop. Daar was geen polisieteenwoordigheid nie.

En in Olievenhoutbosch in Centurion het die gemeenskap se protes oor die toekenning van HOP-huise die afgelope week sommer vinnig oorgeskakel in aanvalle op buitelanders se sakepersele. Pretoria News skryf dat een van die winkeleienaars te midde van ʼn sterk polisieteenwoordigheid tienduisende rand se skade gely het. ʼn Werknemer kon betyds by die agterdeur van die winkel uitvlug.

Alles dui daarop dat die geweld nie spontaan uitbreek nie, maar dat dit goed georganiseer word.

Hoekom sal ʼn inwoner een dag melk koop by ʼn winkel en die plek die volgende dag afbrand? Hoekom is ʼn plaaslike raadslid aktief betrokke by ʼn aksie teen ʼn buitelandse handelaar? En hoekom sal die polisie stilswyend toekyk hoe buitelanders se winkels geplunder word as hulle nie ʼn spesifieke opdrag in die verband gekry het nie?

Die minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, se uitspraak dat Suid-Afrikaners nie xenofobies is nie, is dalk nader aan die waarheid as wat mens besef.

Gigaba lê natuurlik die oorsaak vir die geweld voor die deur van die sakesektor in die land. Hy sê besighede stel goedkoop buitelanders in die plek van landsgenote aan en dít veroorsaak wrywing.

Die argument is net so onsinnig soos om xenofobie aan veranderende weerpatrone toe te skryf.

Die voorkoms van dié geweld speel waarskynlik ʼn belangrike rol in die ANC se verkiesingsvoorbereidings. In DA-beheerde metro’s is dit ʼn handige instrument om die gebiede onregeerbaar te maak. In ander gebiede wat gekenmerk word deur ʼn felle tweestryd in die ANC, soos in KwaZulu-Natal, is xenofobie ʼn geslaagde weerligafleier.

Die regering het reeds sedert 2008, toe die geweld vir die eerste keer uitgebreek het, tyd gehad om xenofobie uit te roei, maar dis nie gedoen nie. Die vraag wat die slagoffers met reg kan vra is hoekom nie?

 

Nuuskommentaar: 10 Maart 2107

Stiksienig of onverskillig?

 

Die Pan Afrikaanse Parlement hou vandeesweek sy soveelste sitting by die Gallagher-landgoed in Midrand. Suid-Afrika is die hoofkwarter van die PAP wat met soveel trots en verwagting in 2004 tot stand gekom het. Een van die hooftemas op vanjaar se sitting is die uitreiking van die spesiale Afrika Paspoort. Dit sal nie alleen oor-grens besoeke vergemaklik nie, maar kan ook tot ‘n opbloei in handel lei. Ongelukkig is die normaalweg skouspelagtige opening van die parlement ontsier deur die talle klagtes van afgevaardigdes oor die misdaad in Suid-Afrika. Verskeie vooraanstaande burgers van die vasteland is van die lughawe tot by die landgoed agtervolg, oorrompel en van hulle besittings beroof. Dit is ook nie die eerste keer dat dit gebeur nie. Een of twee keer het die regering spesiale polisie-beskerming vir die buitelandse besoekers aangevra, maar vanjaar lyk dit asof die pleidooie op dowe ore val. In so’ n mate dat ‘n groot groep afgevaardigdes ‘n mosie wou afdwing dat die PAP se hoofkantoor na ‘n ander land verskuif word.  Dit is ‘n klad op Suid-Afrika se naam.

Die vorige ANC-presidente, Nelson Mandela en Thabo Mbeki, het groot gewag gemaak van ‘n enkele parlement vir Afrika. Dit sou eenheid en selfstandigheid bevorder en ‘n handelsklimaat skep.  Op die oog af lyk dit asof die Zuma-regering belangstelling in die Afrika-parlement verloor het. Geen vooraf publisiteit is gemaak nie en geen hoëvlak amptenare is gevra om die opening by te woon nie. Dit staan is skrille kontras met die Afrika Unie se beraad in 2015 toe president Omar al-Basjir van Soedan nie alleen in stryd met ‘n bevel deur die Internasionale Strafhof genooi is nie, maar deur die Suid-Afrikaanse regering gehelp is om te ontsnap. Dit was in in weerwil van ‘n hooggeregshofbevel dat hy nie die land mag verlaat nie. Die Zuma-administrasie het daarna openlik kant gekies vir al-Basjir en baie gou is daar met planne begin om Suid-Afrika aan die Strafhof te onttrek.  Al wil die ANC dit nie erken nie, was dit moontlik een van die oorsake van sy kwynende steun in verlede jaar se munisipale verkiesing. Die man op straat het begin wonder hoe die regering ooit misdaad op eie bodem gaan uitroei as hy nie eers skroom om die wêreld te tart met sy bewondering en steun vir ‘n vermeende oorlogsmisdadiger nie. ‘n Regering wat ongehoorsaam is, kan seker nie wetsgehooraamheid van sy burgers verwag nie?

Dit is verstommend dat ‘n regering nie eers besef dat hy inkonsekwent optree nie.  Of is dit na aanleiding van die Suid-Afrikaanse staatshoof se dubbelpratery? Hy ontken dat daar iets soos vreemdelinge-haat in die land bestaan, maar bly doodstil oor die feit dat 12 Somaliese winkeleienaars binne twee maande in Khayelitsha vermoor is. Binne die ANC-strukture sê hy niks oor grondonteiening sonder vergoeding nie, maar wag net tot hy alleen is of voor ‘n groep bondgenote praat. Is die ANC en sy leier stiksienig, onverskillig of bloot domastrant?

 

Nuuskommentaar: 9 Maart 2017

Wat is jou reaksie?

 

Kyk en luister ‘n mens na die nuusgebeure die afgelope weke voel dit soms of ‘n staalhand om jou keel sluit.  Afwissellende emosies warrel deur jou wese – woede, frustrasie, ontsteltenis, magteloosheid dreig om jou te oorweldig.  Die veiligheid van geliefdes druk swaar op jou hart en ‘n desperate sug ontsnap oop jou lippe in die besef dat daar min is wat jy aan die groot prentjie van ons werklikheid kan doen.

‘n Mens lees dikwels die kommentaar onderaan ‘n welbekende Afrikaanse webwerf se nuusberigte. Dit is duidelik dat meeste dieselfde emosies ervaar want dit is ons elkeen se leefwêreld vir die hier en nou. Die kommentare vuur ander aan en kort voor lank is die nuusberig nie meer die onderwerp van kommentaar nie, maar wel die ander se kommentaar.  Individue wys mekaar tereg, aannames word gemaak, uitsprake word gemaak en die bose word al boser.

Dit is haas onvermydelik dat deelname hieraan ‘n effek het, nie net op die deelnemer maar ook die gemeenskap waarvan hy/sy deel is. Die gemeenskap is heel moontlik net die gesin – maar hierdie is juis jou geliefdes.

Niemand kan die realiteit van ons leefwêreld eenvoudig ontken, misken of ignoreer nie.  Wat gebeur om ons en met ons, kan ons nie altyd beheer maar ons reaksie wel.  Dit is juis hierdie reaksie wat ‘n effek op almal om ons het. Elke reaksie is ‘n keuse met gevolge.

Wat is jou reaksie op al hierdie negatiewe nuusgebeure? As Afrikanervolk leer ons van kindsbeens af dat die Woord van God ons kompas is, ons handleiding om volgens te leef. Juis daardie Woord leer ons dat ons, ons harte moet bewaar; dat wat in jou hart is, so is jy; dat dood en lewe in die mag van die tong is; dat ons God moet aanroep in die dag van benoudheid.

Lees ‘n mens baie van die kommentare is, wat die Woord ons leer, by verre die minderheid se reaksie.  Elke hoopvolle kommentaar, elke erkentenis van ons afhanklikheid van God, elke positiewe motivering, trooswoord, uitspraak is ‘n helder lig in die oseaan van donker, negatiewe kommentare.

Selfs die nuuswaardige berigte is nie net negatief nie – hoe onbeskryflik groot wys God ook Sy genade, liefde en betrokkenheid vir en by die mensdom wanneer ons sien en lees van droë damme wat weer oorloop, van ‘n gesin wat Sy troos beleef in die omgee van ander nadat hulle in ‘n gru-ongeluk betrokke was waar kosbare kinders gesterf het en ‘n mamma lank om haar lewe geveg het.

Dan wèèt ons God is steeds God. Mag God sigbaar wees in elke reaksie op gebeure rondom ons. Hy leef in die lofsange van sy kinders – negatiewe uitsprake sonder hoop en lewe is teelaarde vir die vyand om die oorhand te kry.

Omhels jou geliefdes meer gereeld, dat hulle sonder twyfel weet hoe lief jy hulle het, hoe besorgd jy oor hulle is. Spreek Sy vrede oor hulle, seën hulle, bid Sy beskerming oor hulle. Ons almal is hier vir ‘n rede – laat joune ‘n sinvolle, positiewe uitwerking hê op almal om jou.

 

Nuuskommentaar: 8 Maart 2017

As “njet” eintlik “da” beteken

 

Een van die gevolge van pres. Donald Trump se oorlog teen sekere media is dat die nie-goedgesinde media hom en sy medewerkers nou met ’n valkoog dophou. Op die internet kan ’n mens behoorlik kies en keur oor welke publikasie se dagboek oor kontak tussen Trump se medewerkers en senior Russiese amptenare ’n mens wil gebruik.

En terwyl van hierdie kontakte heel in die haak blyk te wees, soos om ’n vergadering tussen Trump en president Wladimir Poetin solank te begin skeduleer, werp die Trump-administrasie se aanvanklike ontkennings oor dié kontakte ’n negatiewe beeld oor die hele affêre. Die aanvanklike “njet” oor kontak moes dikwels na die nodige bewyse getoon is, teensinnig na “da” verander word. In een geval het al 17 Amerikaanse intelligensiedienste saam bevestig dat so ’n kontak wel plaasgevind het.

Die vyandiggesinde media hoef hulle nie lank te verknies het oor wat om te maak met Trump se meesterlike toespraak voor die Amerikaanse kongres nie. Die Trump-Russiese verbintenisse het gesorg dat daar ’n ander stukkie vleis rondhang om die tande in te slaan.

Trump self het by geleentheid Poetin se stert geprys. In die VSA werk dit egter nie so goed nie, want peilings toon dat meer Amerikaners Rusland as die groot gevaar beskou as wat China as die grootste gevaar beskou.

Intussen het dit nou die koppe van Trump-vertrouelinge laat rol. Die eerste groot kanon wat ingeplof het was luitenant-generaal Mike Flynn, Trump se veiligheidsraadgewer.

Nou lyk dit of ook die pas aangewese prokureur-generaal, Jeff Sessions, in die slag kan bly. Hy het onder meer kluitjies gebak in sy ondervraging in die Kongres oor kontak met die Russe. Sessions het hom ook pas verskoon van enige ondersoek wat ingestel kan word na beweerde Russiese inmenging in die Amerikaanse verkiesingsveldtog.

Oor hierdie inmenging het Trump self ook bontgepraat, deur aanvanklik te midde van oorweldigende bewyse, te ontken daar was so iets, dit later tog toegegee maar volgehou dit het nie die uitslag van die verkiesing bepaal nie.

Die aandrang op ’n onafhanklike ondersoek na die beweerde Russiese bande met die Trump-administrasie word nou nie net deur Demokratiese Kongreslede gesteun nie, maar ook sommige Republikeine. So ’n ondersoek kan die Wit Huis maande lank lamlê.

Aanvanklike aanduidings en uitsprake van Trump oor nouer samewerking met Poetin en Rusland het gou onder druk gekom. Die VSA verwag steeds van Rusland om by die Minsk-ooreenkoms oor Oekraïne te hou, en Trump verwag van Rusland om uit die Krim te onttrek.

Rusland het gereageer deur op die oog af die Koue Oorlog weer voluit te hervat. Russiese TV-stasies het opdrag gekry om minder dikwels na Trump te verwys en spaarsamig om te gaan met lof vir Trump. Verskeie militêre stappe is hervat.

Volgens Rasmussen se jongste peiling is 52 persent van die kiesers tevrede met Trump se vertoning. Diegene wat bitter ontevrede met hom is, is egter effens meer as die wat baie tevrede met hom is.

Dit gaan klaarblyklik nie ’n vervelige presidentskap wees nie.

 

NUUSKOMMENTAAR: 7 Maart 2017

Laat ons nie gebuig word nie

 

Daar was ‘n tyd toe die volkere van die beskaafde wêreld  die Boerevolk bewonder en gerespekteer het. Dit was tydens die Anglo-Boereoorlog toe die  Boererepublieke opgestaan het teen Brittanje wat die ryk goudmyne van die ZAR wou  inpalm.

Van hierdie volk het die beroemde sir Arthur Conan Doyle geskryf:

“Neem ‘n gemeenskap van Hollanders van dié soort wat hulleself vir vyftig jaar lank teen die volle  mag van Spanje verdedig het op ‘n tydstip toe Spanje die magtigste moontheid in die wêreld was. Voeg daarby ‘n treksel / die bloed van daardie onbuigbare Franse Hugenote wat huis en haard prysgegee en hulle land vir ewig verlaat het ná die herroeping van die Edik van Nantes. Die produk moet vanselfsprekend een van die stoerste, manmoedigste, onoorwinbare rasse wees wat ooit op aarde was. Neem nou hierdie formidabele mense en oefen hulle vir sewe geslagte in volgehoue oorlog teen barbaarse mense en wilde diere in omstandighede waaronder geen swakkeling sou kon oorleef nie, plaas hulle so dat hulle buitengewone vaardigheid in wapenhantering en rykuns ontwikkel, gee hulle ‘n land wat by uitstek geskik is vir die taktiek van die jagter, die skerpskutter en die ruiter. Verhard dan hulle militêre vermoëns met ‘n gestrenge fatalistiese Ou Testamentiese godsdiens en ‘n hartstogtelike  en verterende  patriotisme. Kombineer al hierdie eienskappe en polsinge in een individu, en jy het die moderne Boer — die mees formidabele teenstander wat ooit die pad van imperiale Brittanje gekruis het.”

Brittanje het die oorlog gewen en die Boerevolk byna uitgewis deur “metodes van barbarisme” – soos die opposisieleier in die Britse Parlement die Britse militêre strategie beskryf.

Lord Alfred Milner, wat die oorlog aangestig het, het na die ondertekening van die vrede egter verklaar dat die oorlog voortgaan. “Dit is nie langer ‘n oorlog met koeëls nie, maar dis steeds  oorlog”. Hy wou  “die laaste spore van Afrikanerskap uitwis”.

Die Afrikanervolk het egter opgestaan en Suid-Afrika tot ‘n volwaardige vennoot in die internasionale gemeenskap opgehef.

 

Nuuskommentaar: 6 Maart 2017

Hongersnood weer al hoe groter krisis

 

Sedert die begin van 2017 is ernstige toestande van hongersnood reeds deur die Verenigde Nasies in Suid-Soedan, Venezuela en Yemen uitgewys. In talle ander lande regoor die wêreld heers daar reeds vir lank toestande van hongersnood. In ’n era van globalisering, groeiende rykdom, hoë produktiwiteit, verfynde produksievermoëns en uitnemenende benutting van hulpbronne moet die vraag gevra word: Is die wêreld nie veronderstel om in die basiese behoefte van voedsel vir al sy mense te voorsien nie?

 

Die sekretaris-generaal van die VN het verlede week bekend gemaak dat minstens 20 miljoen mense, insluitende 1,4 miljoen kinders tans weens hongersnood dood in die gesigstaar. Die grootste risiko’s is in die noorde van Nigerië, Somalië, Suid-Soedan en Yemen. Wanneer ’n mens na hierdie 20 miljoen persone kyk, is dit belangrik om te besef dat hier na die ergste gevalle gekyk word en dat die honderde mijoene mense wat voortdurend voedseltekorte ervaar, hoewel hulle lewens nog nie deur hongersnood bedreig word nie, nie bygereken word nie.

 

Die rede vir die huidige toename in hongersnood is hoofsaaklik oorlog en geweldadige konflik. Volgens die hoof ekonoom van die Wêreldvoedselprogram in Rome, Arif Husain, beskou hulle ’n toestand van hongersnood slegs daar waar mense reeds daagliks weens honger sterf. In Somalië is daar volgens hom verlede jaar minstens 260 000 mense weens hongersnood dood.

 

Hoewel oorlog en konflik die oorsaak vir die hongersnood is, vra leiers en aktiviste regoor die wêreld die vraag oor waarom instellings soos die VN en die Wêreldvoedselprogram nie oor die vermoë beskik om die situasie te besleg nie. Die eerste antwoord is eenvoudig: Daar is nie genoeg geld beskikbaar om voedsel aan te koop en na gebiede wat hongersnood ervaar te versprei nie. In ’n era waar Westerse lande begrotingstekorte en enorme staatskuld moet trotseer, is dit duidelik dat ’n alternatiewe model vir die finansiering van voedselprogramme nodig is. Lande soos China, Indië en ander ontwikkelende lande sal hul bydrae moet verhoog.

 

Die tweede rede waarom die probleem met hongersnood nie opgelos word nie is meer kompleks. In byna al die lande waar hongersnood tans tot sterftes lei word voedsel as speelbal gebruik om die konflik verder aan te blaas en om een groep teen ’n ander af te speel. Terroristegroepe beheer grondgebied deur die voedselvoorraad te beheer.

 

Daar is egter nog ’n rede vir die geweldige toename in armoede en hongersnood in sommige wêrelddele. Globalisering het oor die afgelope paar dekades die slimste en suksesvolste mense na die lande met die sterkste ekonomieë en beste geleenthede getrek. ’n Mediese dokter in ’n Afrikaland emigreer eerder na Amerika om daar in beter werksomstandighede te gaan werk as om in sy eie land mediese dienste te lewer. Die entrepreneur uit die Midde-Ooste emigreer na Kanada of Australië in plaas van om in sy eie onstabiele en onveilige land ekonomiese aktiwiteit te bevorder.

 

Nog ’n probleem is dat die bevolkingsaanwas in die armste lande baie hoog is. Dit gekombineer met voortslepende konflik, die mobiliteit van suksesvolle mense en Westerse lande se afnemende vermoë om vir die armste mense in ander wêrelddele te sorg, lei tot die huidige hongersnoodkrisis.

 

Nuuskommentaar: 3 Maart 2017

Vreemdelinge-haat of Vreemdelinge-afguns

 

Die Afrika Diaspora Forum het ‘n belangrike opmerking gemaak in antwoord op die president se uitlating dat Suid-Afrikaners nie xenofobies is nie, maar slegs beswaar maak teen buitelanders se misdaadbedrywighede. Die Forum sê tereg dat dwelmhandel, mensehandel, witboordjie-misdaad en selfs halssnoermisdade nog altyd endemies aan Suid-Afrika was. Die Forum bestaan uit duisende Afrika-boorlinge wat tans in die buiteland is vir werk of daarheen gevlug het weens die dikwels onuitstaanbare omstandighede op die vasteland.

Die media berig dikwels oor buitelanders wat deel vorm van misdaadsindikate of bordele bedryf, maar dit is gewoonlik beperk tot Nigeriërs en Mosambiekers. Zimbabwiërs word ook verbind aan plaasaanvalle. Daar word selde gehoor van Somaliërs, Etiopiërs, Kongolese en  ander migrante van Wes-Afrika wat by misdaad betrek word. Dié mense is ekonomiese migrante of polities-godsdienstige vlugtelinge wat ‘n heenkome in Suid-Afrika probeer vind. Van hulle is geleerde mense wat nie tot die informele handel in hulle nuwe vaderland beperk is nie, maar as dosente, navorsers en mediese dokters ‘n belangrike bydrae maak. Die Somaliese en selfs Pakistanse winkeleienaars in die tradisionele swart woongebiede stel lede van die plaaslike bevolking as werkers aan en bied ‘n onontbeerlike diens in verafgeleë plekke. Inwoners kan nie elke dag ‘n bus haal of ‘n minibus nader wink om ‘n brood te gaan koop nie. Aanvalle op dié mense word as polities-gedrewe voorgehou, maar is in werklikheid net ‘n verskoning om te plunder.

Afguns speel ‘n groot rol in die aanvalle op vreemdelinge en dit word altyd vererger deur histeriese groepsdruk. Hierdie opswepery en massa-histerie was nog altyd te sien in Suid-Afrika. Organiseerders begin dikwels ‘n vreedsame betoging, maar baie gou verander dit in geweldsaanvalle en strooptogte. Destyds met die sogenaamde Beleg van Bophuthatswana was inwoners min gepla oor die oorgangspolitiek of die toekoms  van hulle Tuislandregering – hulle het winkels met behulp van kruiwaens, kostrollies en selfs vragmotors leeggedra. Die skade het miljoene rand beloop. Een van die beweegredes vir die Groot Trek was grootskaalse veediefstal en plundery. Boere aan die Oosgrens het eerder kans gesien vir die onbekende binneland as om verder die prooi van sommige regeringsgesteunde inheemse volkere te wees.

Suid-Afrika moet ‘n slag die waarheid in die oë kyk. Die onderskeie etniese bevolkings in die land  kom nie eers met mekaar oor die weg nie – wat sê nog met vreemde bevolkings uit die buiteland. Die faksiegevegte in die ANC waaroor daar so dikwels gepraat word, is niks anders nie as ‘n blote verfynde vorm van stamgevegte. Die Zuma-Zoeloe-monargie sal ten alle koste geslote en onaantasbaar gehou word.

 

Nuuskommentaar: 2 Maart 2017

Israel en die spook van apartheid

 

Pres. Donald Trump se onlangse aankondiging dat sy administrasie nie meer noodwendig die tweestaat-opsie vir Israel en die Palestyne voorstaan nie, het ’n stortvloed mediakommentaar ontlok, meestal krities.

Wat opval is dat hierdie kritici dikwels die eenstaat-opsie met apartheid vergelyk en meen daardeur word apartheid na Israel gebring.

Ook die Suid-Afrikaanse regering, geswore vyand van apartheid, steun die tweestaat-opsie.

Is dit blote onkunde oor wat die beleid van afsonderlike ontwikkeling was, wat veroorsaak dat waarnemers nou die Israelse opsie wat die minste daarmee ooreenstem, naamlik die eenstaatopsie, daarmee vergelyk? Die tweestaatopsie met afsonderlike state vir Palestyne en Jode, vergelyk immers veel meer met die model van afsonderlike ontwikkeling.

Uit die besprekings is dit duidelik die ontleders se siening van apartheid is dat dit ’n stelsel van wit bevoorregting was, en dat swart mense erg onderdruk is. Die staatkundige hoeksteen daarvan is vergete.

Omdat die Palestyne vinniger as die Jode aanwas, meen hierdie ontleders dat die Joodse regeerders allerlei maatreëls sal instel om te voorkom dat Israel, wanneer die Palestyne die meerderheid word, die bewind oorneem.

Om te bepaal wanneer so iets ’n werklikheid sal word, is baie ingewikkeld omdat die syfers nie vir alle groepe ewe akkuraat is nie, en ook nie dieselfde jaartal s’n is nie.  In breë trekke het Israel ’n bevolking van 8,6 miljoen, waarvan 6,4 miljoen, of te wel 74,8 persent, Jode is. Die Palestynse bevolking is sowat 1,8 miljoen sterk, of te wel 20,8 persent. Sou die eenstaat-opsie ’n werklikheid word, moet egter nog sowat 2,5 miljoen Palestyne van die Wesoewer ingesluit word, en 1,5 miljoen van die Gazastrook.

Dit gee ’n samestelling van ongeveer 8,4 miljoen Jode teenoor 5,8 miljoen Palestyne, met die Palestyne van veral die Gazastrook wat teen ’n geweldige tempo aanwas.

Nog ’n faktor is die Palestyne in diaspora, wat op byna 10 miljoen geraam word. Terwyl baie, veral diegene wat in lande soos Chili en die VSA hervestig is, nie na hul oorspronklike gebied wil terugkeer nie. Daar kan egter verwag word dat baie van die meer as 3 miljoen in Jordanië en die bykans halfmiljoen in Libanon sal wil terugkeer. Ook die Palestyne in Sirië en Egipte sal waarskynlik wil terugkeer.

Of sal Israel steeds probeer keer dat hierdie diaspora-Palestyne wat na oorloë uit Israel gevlug het, terugkeer, terwyl Joodse immigrasie na Israel steeds aangemoedig sal word?

Hoeveel mense kan Israel in werklikheid dra? Die grootste ontsoutingsaanleg wat in ongeveer ’n derde van Kaapstad se behoefte kan voldoen, tel onder Israel se indrukwekkende waterbenuttingsprogramme. Maar iewers gaan ’n perk kom.

Maar wat ook al Israel se opsies is, die begrip apartheid kan nie sommer omgekeerd daarop van toepassing gemaak word nie. In Suid-Afrika gebeur iets soortgelyks – om bloot op internasionaal erkende en grondwetlike minderheidsregte aanspraak te maak beteken dikwels dat die persoon met ’n “hunker na apartheid” om die nek getooi word. Dit het ’n strooipop van die werklikheid geword.

En so word ’n regverdige, werkbare oplossing nie net hier nie, maar ook elders, in die wiele gery.

 

Nuuskommentaar : 1 Februarie 2017

Vuilspel

 

Die jongste onthullings oor die ANC se beplande verkiesingstruuks tydens die 2016 plaaslikebestuursverkiesing behoort eintlik glad nie te verras nie.

Komende van ʼn regeringsparty wie se betrokkenheid by die Gupta-koerant, The New Age, die Inligtingskandaal van 1978 soos ʼn piekniek laat lyk het, is die beweringe oor ʼn vuilspel-projek wat tydens die verkiesing teen die DA en EFF beplan is, te wagte. Dit is tipies van die ANC om sodra hulle aan die korste ent trek te begin modder gooi – én dit na die tyd te ontken.

Van die projekte wat aan die lig gekom het is vals verkiesingsplakkate vir die EFF, ʼn reuse-sosiale media veldtog teen die DA en die gebruik van streekskoerante om halwe waarhede of sogenaamde fop-nuus te versprei.

Daar is ook ʼn nuwe ANC-beheerde nuus-tuisblad bekend as “The New South African” gestig om joernaliste te mislei en ʼn televisieprogram met die onskuldige naam “The right to vote with Pearl Thusi”, is vir plaaslike televisiekanale opgeneem.

Die advertensiemaatskappy Ogilvy & Mather in Bryanston is gekontrakteer om dié projek, waarvoor 50-miljoen rand begroot is, te help bestuur.

Net so tipies aan die ANC is dat dit nou aan die lig gekom het dat daar feitlik niks gekom het van al die planne wat agter toe deure in donker kamers gesmee is nie. Voorts het die party se propaganda-kryger, Shaka Sisulu, wat glo aan die hoof van die sogenaamde Oorlogskamer, later bekend as die “Media Advisory Team”, gestaan het, heftig ontken dat hy ooit by so ʼn projek betrokke was.

Die ANC se woordvoerder, Zizi Kodwa, was ewe verontwaardig oor die beweringe. Kodwa het gesê die ANC was nog altyd, sedert 1994, verbind aan skoon verkiesingsveldtogte. Hy swyg egter nou, ná die jongste onthullings, soos die graf.

Soos met baie vorige ANC-planne, het die party nagelaat om diegene wat hulle gekontrakteer het te betaal, want al het die projek uit die staanspoor misluk, is daar steeds kostes aangegaan. En dit was ʼn groot fout, want só kom die hele sak patats toe op die lappe. ʼn Vooraanstaande bemarkingskundige en lid van die Oorlogskamer, Sihle Bolani, het vandeesweek die ANC vir sowat 2-komma-2-miljoen rand gedagvaar.

In die naweek het die binnekring van die geheime projek verder uitgebrei toe dit uit Bolani se hofdokumente aan die lig gekom het dat die ANC se hoofbestuurder, Ignatius Jacobs, teenwoordig was op vergaderings, sedert die projek van stapel gestuur is.

Die onthullings bevraagteken die ANC se respek vir demokratiese prosesse in die land en moet nou reeds rooi ligte laat flikker in aanloop tot die algemene verkiesing oor twee jaar. Dit het egter ook ʼn ander boodskap; en dit is dat die regerende party in baie groot moeilikheid is en dat hy enigiets sal doen om te oorleef.

En dít is die belangrikste boodskap – die ANC gaan weer en weer probeer om deur politieke vuilspel aan bewind te bly en die land se kwynende joernaliskorps wat nog ruggraat het sal hierop bedag moet wees.

 

 

Nuuskommentaar : 2 Februarie 2017

Die versugting na selfbeskikking

 

Marokko se hertoelating tot die Afrika Unie voorspel niks goeds vir Wes-Sahara se selfbeskikkings-ideale nie. Die Koninkryk van Marokko het reeds die AU – destyds die Organisasie vir Afrika-eenheid – verlaat omdat die Sahrawi Arabiese Demokratiese Republiek as ‘n lid van die AU toegelaat is. Marokko het die gebied in 1975 geannekseer, maar die Polisario Front het voortgegaan om homself as minstens ‘n gedeeltelike soewereine staat te verklaar totdat die internasionale gemeenskap dit later bekragtig het.

Baie bloed het in die woestyn gevloei en Algerië was een van Wes-Sahara se grootste bondgenote in sy strewe na onafhanklikheid.  Wes-Sahara se uitgeweke regering word ook in die Algerynse stad Tindouf gehuisves. Algerië het vroeër die week saam met Suid-Afrika teen Marokko se hertoelating gestem, maar 39 van die AU se 54-lidlande was daarvoor.

Die Verenigde Nasies het Algerië destyds van grootskaalse menseregte-skendings onder Marokkaanse vlugtelinge verdink, maar het ongelukkig na die Koninkryk van Marokko as ‘n besetter verwys en die hoop op ‘n blywende oplossing was daarmee heen. Marokko het tot verlede jaar nog geëis dat die AU Wes-Sahara se lidmaatskap beëindig, maar sal nou as gevolg van die AU se meerderheidsbesluit die liggaam se grondwet moet onderteken en bekragtig. Voorlopig sal Wes-Sahara dus aanbly as ‘n lid. Die Polisario Front was verlede jaar in Suid-Afrika en president Jacob Zuma, as die hoof van die regering, het opnuut belowe om hom te beywer vir selfbeskikking vir die gebied.  Hy het Marokko se aanspraak op die selfverklaarde republiek as kolonialisme bestempel – al was die gebied vroeër Spaans-Sahara wat op versoek van die VN gedekolonialiseer is. Die president se beloftes aan Wes-Sahara is nogal ironies as in gedagte gehou word dat hy die Arikaner se strewe na selfbeskikking van die tafel gevee het. Selfs nadat Suid-Soedan die jongste onafhanklike staat in die wêreld geword het, was die Suid-Afrikaanse regering steeds neusoptrekkerig by die blote gedagte aan selfbeskikking.  In 2009 het die president in sy staatsrede bevestig dat Wes-Sahara steeds gesteun sal word om ingevolge internasionale wetgewing respek vir menseregte in besette gebiede af te dwing  – veral wat betref die reg op vryheid van assosiasie, beweging en spraak. Suid-Afrika sal ook alles doen om buitelandse maatskappye se ontginning en uitbuiting van Wes-Sahara se natuurlike bronne te verhoed. Die regering se steun vir Wes-Afrika lees soos ‘n sprokie. Daarom is dit so jammer dat vryheid van spraak, assosiasie en beweging in ons eie land nou deur haatspraak en haatmisdaad-wetgewing bedreig word.

 

 

Nuuskommentaar : 3 Februarie 2017

Afrika Unie: `n nuwe voorsitter en nuwe geleenthede

 

Staatshoofde het hierdie week by die Ethiopiese hoofstad, Addis Ababa bymekaargekom waar hulle Moussa Faki Mahamat, Tsjaad se minister van buitelandse sake, as die nuwe voorsitter van die Afrika Unie aangewys het. Hy neem die voorsitterskap by dr Nskosazana Dlamini-Zuma oor. Mahamat het `n paar prominente kandidate vir die plek uitgestof. Onder andere Amina Mohamed, Kenia se minister van buitelandse sake, Abdoulaye Bathily, `n diplomaat en akademikus van Senegal en Mba Mokuy, voorheen `n senior raadgewer vir die president van Ekwatoriaal Guinee.

Die Afrika Unie bestaan uit 54 state en `n twee derde meerderheid of 36 stemme is dus nodig om die voorsitterskap te verseker. Dit het Mahamat sewe rondtes van stemming geneem om die nodige stemme op hom te verenig. Die AU was veronderstel om reeds in Julie verlede jaar `n nuwe leier te verkies maar na drie rondtes kon nie een van die kandidate daarin slaag om die minimum 36 stemme op hulle te verenig nie. Meer as 50% van die ledestate het verlede jaar nie aan die tweede rondte van die verkiesing deelgeneem nie. Die stryd om `n opvolger te kies kan toegeskryf aan die grootskaalse verdeeldheid tussen die onderskeie streke in Afrika.

Mahamat het vanaf 2003 tot 2005 gedien as die eerste minister van Tsjaad. Hy was ook voorheen betrokke by die Afrika Unie waar hy as die voorsitter van die ekonomiese, sosiale en kulturele raad gedien het. Hy dien sedert 2008 as Tsjaad se minister van buitelandse sake. Mahamat het onlangs gesê dat hy droom van `n Afrika waar die knal van geweerskote oorweldig word deur die klanke kulturele liedjies en die gedruis van fabrieke. Hy het ook onderneem om die AU se reputasie vir burokrasie aan te spreek en onnodige aanstellings van nog amptenare stop te sit. Hy was ook aktief betrokke by die stryd teen Islam-terreurgroepe.

Daar word dikwels gevra of die Afrika Unie van enige waarde is. Anders as die Europese Unie word daar nie groot besluite oor immigrasie geneem wat bindend op alle lidlande is nie. Daar is ook nie sprake van `n sentrale geldeenheid soos die Euro nie. Dit is waar maar wat wel in gedagte gehou moet word is die feit dat belangike Afrikakwessies daar bespreek word – die verskynsel van ekstremitiese Islam, die kontinent se verhouding met Amerika en lidlande se houding teenoor die Internasionale strafhof. Verder het die AU `n belangrike gerol gespeel om te verseker dat Gambië se demokraties verkose president sy plek kon inneem nadat die verloorder, Yahya Jammeh geweier het om uit tree.

Kan die Afrika Unie meer doen? Ongetwyfeld. Die Afrika Unie kan diktators soos Robert Mugabe van Zimbabwe uit die kussings lig en verseker dat oorlogskriminele soos Omar al-Bashir van Soedan in hegtenis geneem word. Die Afrika Unie kan meer doen om `n dreigende etniese oorlog in Suid-Soedan te verhoed. Daar is baie meer wat die Afrika Unie kan doen en ons kan net hoop dat dit vorentoe `n belangrike bydrae sal lewer om stabiliteit op die kontinent te bevorder.

 

 

Nuuskommentaar : 6 Februarie 2017

’n Meer realistiese politiek nou nodig

 

Vra enige ekonoom en hy sal vir jou sê dat een van die grootste bedreigings vir aandelemarkte, die stabiliteit van geldeenhede en kommoditeitspryse onsekerheid is. Wanneer mense en instellings onseker is oor die toekoms neem hulle makliker besluite om hier en nou hul belange te beveilig of om hul posisie te verskans.

 

Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die meeste Westerse lande ekonomiese sukses, politieke stabiliteit en redelike vlakke van vrede en veiligheid beleef. Oor die afgelope paar jaar het die gevolge van onbekostigbare sosiale programme, verouderende bevolkings, uitgediende ekonomiese stelsels, onbeheersde immigrasie uit Derde Wêreldlande, globalisering, terrorisme en ’n algemene tekort aan ’n gedeelde visie en burgerlike motivering tot nuwe onsekerheid in Westerse lande aanleiding gegee.

 

Die politieke ruimte in talle Westerse lande word toenemend deur opportunisme, ideologiese intervensionisme, reaksionêre denke en populisme beset. Terwyl mense in Europese lande op ’n ouderdom van tussen 60 en 65 jaar met ruim voordele kan aftree, sit baie jongmense sonder werk of slegs met tydelike werk en beleef die middelklas hoe hul inkomste stagneer en hulle nie meer vir aftrede voorsiening kan maak nie.

 

In Amerika voel ’n groot deel van die bevolking reeds vir lank dat dit eintlik jaar na jaar met hulle slegter gaan. Talle peilings wys hoe mense voel dat hulle harder moet werk sonder dat hul lewenspeil daarmee saam verbeter. In Europa sien jong gesinne hoe stagnante ekonomieë, demografiese druk en enorme staatskuld ’n swaar las op volgende generasies plaas.

 

Weens al hierdie onsekerheid sien ons vandag dat die politieke middel in duie stort met die linkse en regse pole wat sterker word en toenemend teen mekaar opgestel word. Die verval van die politieke middel, wat in baie Westerse lande vir dekades regeer het, is nie noodwendig sleg nie. Die soort leierskap van Angela Merkel, Barack Obama, David Cameron en talle ander Westerse hoofstroompolitici het oor die afgelope paar jaar die vlakke van onsekerheid eerder verhoog as verlaag.

 

Westerse politici het die afgelope paar jaar in reaksie op ekonomiese, politieke en demografiese onsekerheid met oordrewe selfvertroue reageer deur pypdrome van die kitsdemokratisering van die Midde-Ooste tot die ekonomiese en uiteindelik politieke vereniging van Europa voor te staan. Die groot drome wat eerstens die krag van Westerse beginsels moes bewys en tweedens identiteit- en ander verskille moes oorkom in die naam van langtermyn vrede, het grootliks misluk. Amerika en Europa se intervensionisme in die Midde-Ooste was rampspoedig. Die Europese Unie en die Eurosone dreig om uitmekaar te bars en Amerikaners draai soos vir ’n lang periode voor die wêreldoorloë weer hul gesig na binne met die rug na buite.

 

Die enorme tekort aan politieke realisme lei daartoe dat hoofstroom politici se pypdrome met reaksionêre denke meeding. Langtermyn onrealistiese idees stry dus teen korttermyn onuitvoerbare kitsoplossings.

 

Wat die Westerse wêreld nou nodig het, is ’n sterk politieke beweging wat op realistiese ontledings van waar ons nou is en waarheen ons kan gaan, moet fokus. Die mislukking van globalisasie moet aanvaar word, intervensionisme moet verwerp word en die waarde van die plaaslike, die kosbaarheid van die eie en die realisme van dit wat nou en hier gedoen kan word, moet weer vooropgestel word.

 

 

Nuuskommentaar : 7 Februarie 2017

Vryehandel versus Sogenaamde Vryehandel

 

 

Op die hakke van Brexit verlede jaar is Donald Trump vanjaar in die nuus oor sy onttrekking van Amerika uit die sogenaamde Trans Pacific Partnership, oftewel TPP. Trump word, soos met Brexit-voorstanders, wyd en syd daarvan beskuldig dat hy hierdeur teen die vryemark en teen vrye internasionale handel is, maar hou hierdie beskuldiging steek?

Die TPP sou naas die Noord-Amerikaanse Vryehandelsooreenkoms (NAFTA) en die Europese Unie die derde groot streekshandelsooreenkoms ter wêreld wees. State soos Japan, Australië en Kanada was deel van die aanvanklike twaalf ondertekenaars van die inisiatief.

Vooraanstaande sakelui, joernaliste en regeringslui wêreldwyd het Trump intussen vir die onttrekking gekritiseer. Anthony Gardner, pasuitgetrede Ambassadeur vir die Verenigde State na die Europese Unie, sê byvoorbeeld: “Ons glo in goeie handelsooreenkomste. Ek dink die Transpasifiese Ooreenkoms sou belangrik wees nie net om ekonomiese groei te stimuleer nie, maar meer belangrik, om ons te help om die reëls vir globale handel te skryf – iets wat ons vir dekades nou al doen.”

Gevra oor die moontlikheid dat die VSA ‘n direkte vryehandelsooreenkoms met Brittanje kan sluit, sê Gardner dat die vroegste waaroor samesprekings daaroor kan begin twee jaar van nou af is: “Om ‘n vryehandelsooreenkoms tussen die Verenigde State en die Verenigde Koninkryk te doen sal nie eenvoudig wees nie; en dit sal nie vinnig wees nie.”

Hierdie uitlatings van Gardner is tipies van die dubbelpratery en ingesteldheid van vandag se staatlike politici. Aan die een kant praat hulle van vryehandel – en aan die ander kant is hy trots daarop dat hulle nou al “dekades” lank die “reëls vir globale handel” skryf.

Die sogenaamde vryehandelsooreenkomste wat die wêreld vandag ken is allesbehalwe vryehandelsooreenkomste – dit is duisende en duisende bladsye van tegniese puntjies, reëls, uitsonderings, subsidies, heffings, begunstiging en penalisering met ‘n legioen van regslui wat toustaan om dit te interpreteer. Vra maar vir enige Afrikaanse boer, wat probeer om iets na die sogenaamde vryemark-EU uit te voer, hoe Gardner en die eurokrate klippe in hul pad rol.

Dit is goeie nuus dat Gardner vervang gaan word. Bloomberg spekuleer dat die plaasvervanger die Brexit-voorstander professor Ted Malloch kan wees. Malloch was in Januarie vanjaar in die nuus nadat hy die EU met die VSSR vergelyk het; en na die EU verwys het as ‘n supranasionale en onverkose liggaam met burokrate wat hande uitgeruk het.

Dit is intussen tog so dat Trump met ‘n hele aantal ander uitsprake nie noodwendig ‘n voorstander van vryehandel is nie, maar wat sy afbreek van die bestaande internasionale sogenaamde vryehandelsooreenkomste betref is hy op die regte koers.

Anders as wat Gardner beweer is ‘n ware vryehandelsooreenkoms baie maklik. Dit skaf belastings, heffings, kommissies, kwotas en burokrate se werksgeleenthede af; en laat dit aan boere, maatskappye, entrepreneurs en ander private organisasies om hul eie handelsooreenkomste te beklink. Hier is nog ‘n geleentheid vir Trump om die wind uit die seile van die establishment te haal – om voor Gardner se voorspelde twee jaar om is reeds ‘n kort, bondige vryehandelsooreenkoms met die Verenigde Koninkryk te sluit.

 

 

Nuuskommentaar : 8 Februarie 2017

Die onbesonge helde

 

Regeringsleiers se huldeblyke aan die voormalige Springbok-skrumskakel, Joost van der Westhuizen, is goed ontvang. Dit gebeur nie baie dat witmense met Afrikaanse name en vanne deur politici uitgesonder word nie. Dit was dus ‘n riem onder die hart om te hoor dat swart politici die rugbylegende se veggees op die veld en teen sy dodelike siekte bewonder en uitlig. Destyds toe die ABW-leier, Eugene TerreBlanche dood is, was die polisieminister feitlik dadelik op die toneel om eerbied te betoon en ‘n oproep om kalmte te doen. Met oud-president Nelson Mandela se afsterwe was dit weer talle plaaslike en internasionale witmense wat opregte medelye met sy familie gehad het. Hy is ook vereer vir sy bydrae tot vrede. Die dood is ‘n gelykmaker.  Dit onderskei nie tussen swart en wit, ryk of arm nie. Maar wanneer dit by die dood kom van mense wat vermoor word, kry die dood ‘n ander gedaante. Tegnies sou mens ‘n moordenaar kan vergewe as daar ware berou is, maar gebeur dit ooit? Hoeveel keer hoor ons nie van ‘n regter wat in sy uitspraak benadruk dat die skuldige of skuldiges geen berou toon nie. Of die grynsende gesigte van moordverdagtes wat ons op beeldmateriaal sien as hulle skuldig bevind word.  Dan kry die dood weer ‘n angel en die doderyk word bemagtig. Dit is goed om helde te vereer. Almal doen dit. Maar dit is net so goed  – indien nie beter nie, om elke dag die duisende onbesonge helde te vereer. Die mense wat ander in nood te hulp snel. Die landbouers wat ongeag die droogte, peste en plae nog sorg vir die land se kostafel. Die regeringsleiers wat korrupsie veroordeel en daarvoor gestraf word, die jongmense wat nie huiwer om ‘n ouer mens oor die straat te help nie.  Studente wat tydens ‘n betoging sien hoe ‘n vrou in haar motor geïntimideer en gedreig word en haar na veiligheid lei. Mense wat uit hulle pad gaan om diere te red.  Daar is duisende voorbeelde van heldhaftigheid in ons land en elders in die wêreld. Die helde en heldinne is dikwels naamloos en gesigloos, maar die warm gevoel wat hulle in harte veroorsaak, kan nie misken word nie. Hoekom dan soveel gruwelmisdade in ons land?  Plaasaanvalle vind gelyktydig in twee of selfs drie provinsies plaas en stad- en dorpsaanvalle is net ‘n kort kop agter. Dit is gewoonlik weerlose inwoners wat geteiken word. Dit help nie om wetgewing teen haatspraak en haatmisdaad op te stel as daar reeds soveel haat-misdade plaasvind nie. Die regering het te lank uitsprake gemaak wat gewetenlose burgers aanmoedig om mede-landsburgers uit te wis. Stel ‘n ander voorbeeld. Bring hulde aan die gewone man op straat en die talle mense wat liefdeswerk oor die kleurskeidslyn verrig. Besing die onbesonge helde.

 

 

Nuuskommentaar : 9 Februarie 2017

Is dit die einde van globalisasie?

 

In ’n verslag wat onlangs deur die navorsingsinstituut van die internasionale bank, Credit Suisse, bekendgestel is, dui alle koersaanwysers daarop dat globalisasie besig is om af te neem. In dieselfde verslag word globalisasie beskryf as “… the most powerful economic force the world has witnessed in the past seventy years.”

Die vraag wat nou ontstaan is: ‘Hoe gaan die enorme impak van ’n afname of selfs verdwyning van globalisasie die wêreld verander en wat kan ons doen om onsself teen die moontlike gevolge te beskerm?’

In die verslag word drie moontlike scenario’s geskets oor die toekoms van globalisasie.

Eerstens, kan hierdie afname van tydelike aard wees waarna globalisasie nie net sal herstel nie, maar tot ’n groter mate toeneem. Dit sal inhou dat die wêreldekonomie steeds deur die Weste en veral Amerika en die dollar oorheers word en dat algemene stabiliteit sal voortduur met internasionale handel wat toeneem en sosio-politiese omstandighede wat wêreldwyd, oor die algemeen verbeter.

’n Tweede scenario behels die opkoms van Asië wat tesame met ’n meer stabiele Europa gevolglik ’n wêreldekonomie sal skep wat op drie pilare rus, naamlik die Amerikas, Europa en Asië. Asië sal in dié verband deur China gelei word. Hierdie scenario sal teweeg bring dat internasionale instansies en organisasies, soos die Wêreldbank, vervang word deur selfs groter, maar meer streeksgeoriënteerde finansiële instellings. Ontwikkeling op verskillende vlakke sal meer gefokus word om te voldoen aan plaaslike behoeftes wat sal lei tot die totstandkoming van meer plaaslike kern- ekonomiese sentrums, asook minder internasionale migrasie. Daar kan verwag word dat die vorme van regering ook sal aanpas tot die verskillende streke met ’n wegval van die eenvormige internasionale strewe na demokrasie volgens die Amerikaanse model.

Die derde scenario wat voorgehou word, skets ’n donker prentjie waar globalisasie totaal in duie stort met gevolglike omstandighede wat soortgelyk is aan die gebeure in 1913 met die aanvang van die Eerste Wêreldoorlog. Die globale finansiële krisis tesame met ’n toename in terreuraanvalle die afgelope paar jaar het tot gevolg gehad dat nasies nou minder geneig is om saam te werk om sodoende ’n herhaling van hierdie gebeure te verhoed. Hierdie situasie kan verder versleg namate die wêreldekonomie afneem. Die faktore tesame met hoë vlakke van skuld, ongelykheid en immigrasie kan verder aanleiding gee tot groter proteksionisme, militêre skermutselinge tussen magtige lande, volskaalse wedywering tussen geldeenhede, die opgang van anti-globalisasiebewegings en politieke partye, ’n aanslag teen internasionale maatskappye en uiteindelik ’n verval van demokratiese waardes. Hierdie scenario, wat tot onlangs toe nog as hoogs onwaarskynlik gesien is het uiteraard nou ’n moontlikheid geword. Die Brexit-uitslag tesame met die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president, wat ten spyte van die algemene verwagting wel plaasgevind het, is hiervoor verantwoordelik.

In hul gevolgtrekking maak die samestellers van die verslag die volgende opmerking: “…, our view is that globalisation has now come to an end and is slowly being replaced by a world where very distinct poles are forming – economically, socially, ethically and politically. This process has the potential to provoke friction, specifically as regions develop different ways of ‘doing things’”.

In Suid-Afrika sal die verdere afplatting van die ekonomie en gepaardgaande styging in armoede die disfunksionele politieke sisteem en faksiegevegte binne die ANC op die spits dryf. Dit kan verder veroorsaak dat die regerende party in ’n desperate poging om aan bewind te bly, skerp aanvalle loods op vryheid, asook eiendomsreg om sodoende die massas te probeer paai. Indien ’n meer gefragmenteerde internasionale orde ons voorland is, sal Afrikaners hand in eie boesem moet steek om hierdie situasie te beredder. Wat ook al die oplossing behels, die basis waarvan af ons sal moet optree, lê in die herwinning van die gemeenskapsgedagte. Dis waar ons krag lê.

 

 

 

Nuuskommentaar : 10 Februarie 2017

Vooruitgang of verval vir Frankryk?

 

Is die eens magtige Frankryk op ’n onstuitbare pad van verval? Frankryk staan deesdae bekend as die land met die mees pessimistiese burgers in Wes-Europa. Op 23 April sal Franse na die stembus gaan om ’n nuwe regering en president te verkies. Met die verkiesingsveldtog volstoom aan die gang is dit duidelik dat agteruitgang van amper alles in Frankryk die groot tema van vanjaar se verkiesing sal wees.

 

Die land se werkloosheidskoers staan tans op 10%. Frankryk het die grootste Moslembevolking in Wes-Europa. Na verskeie bloedige terroriste-aanvalle oor die afgelope paar jaar het Frankryk se toerismebedryf ’n skerp afname in besoekersgetalle beleef. Die huidig president Francois Hollande is uiters ongewild en sy beleid word grootliks deur die meeste Franse verwerp. Daar is sekerlik genoeg rede vir Franse om pessimisties te wees.

 

Met die sosialiste wat na Hollande in ’n warboel verkeer en die sentrumregse kandidaat Francois Fillon om wie se kop ’n nepotisme-skandaal ontwikkel het, kon die nasionalistiese kandidaat, Marine Le Pen nie ’n beter tyd as die afgelope Sondag gekies het om haar verkiesingsveldtog te loods nie.

 

In haar toespraak voor duisende ondersteuners in Lyon het Le Pen die Franse verkiesing as ’n keuse tussen patriotisme en globalisme gestel. Le Pen en haar Front National staan onbeskaamd vir patriotiese waardes en die beskerming van die eie.

 

Waar lê die oplossing vir Frankryk se probleme? Om die oplossing te vind moet die rede vir die probleme in Frankryk eers ondersoek word. Globalisme het talle Westerse lande oor die afgelope paar dekades wesenlik verander. Net soos in Amerika en Brittanje het Frankryk ook ‘n sogenaamde ‘roesstrook’ in die noorde van die land ontwikkel soos wat fabrieke moes sluit omdat produkte teen goedkoper pryse ingevoer kon word. Die gemiddelde ouderdom van boere in Frankryk styg voortdurend en daar is ’n groot tekort aan jongmense wat tot die landbousektor toetree. Met massa-immigrasie oor die afgelope vier dekades ervaar Frankryk demografiese druk van ’n groterwordende Moslembevolking.

 

Wat die verkiesing van Donald Trump in Amerika en die Brexit-stem in Brittanje ons gewys het, is dat daar ’n wesenlike irritasie met die gevolge van globalisme in die grootste Westerse moondhede is. Die gewildheid van Viktor Orban in Hongarye en die feit dat Marine Le Pen in Frankryk en Geert Wilders in Nederland in verkiesingspeilings voorloop, behoort alle twyfel oor die wesenlikheid van die afkeur vir globalisme uit die weg te ruim.

 

Wat behels die alternatief tot globalisme? Wat in die media as regse populisme uitgebeeld word, behoort eerder as die patriotiese alternatief beskou te word. Le Pen soos Trump, Wilders en Orban wil onwettige immigrante deporteer, immigrasie uit Moslemlande beperk, invoerheffings instel om eie vervaardiging weer aan te moedig en plaaslike bedrywe beskerm.

 

Terwyl Franse pessimisties oor die toekoms is, is daar rede om in ’n blink Franse toekoms te glo. Frankryk het steeds ’n sterk kultuuridentiteit. Die land het ook die hoogste bevolkingsaanwas in Wes-Europa en is steeds die gewildste toerismebestemming in die wêreld. Van die beste landbouprodukte in die wêreld word in Frankryk geproduseer. Die vraag is of die Franse daarin kan slaag om hul bindende krag van identiteit te behou en die negatiewe gevolge van globalisme teen te werk. Net tyd sal leer.

 

 

Nuuskommentaar : 13 Februarie 2017

Ken mekaar se geskiedenis

 

Februarie elke jaar die afgelope 41 jaar staan in die VSA bekend as Black History Month. Die idee is dat Amerikaners in hierdie maand meer oor die geskiedenis van hul swart landgenote moet opdoen met die veronderstelling dat dit tot rekonsiliasie sal bydra.

Hoewel daar vraagtekens is oor of so ’n maand na soveel jare nog nodig is, en of dit ooit nodig was, word daar vanjaar oor ’n wye front meer aandag as in jare hieraan spandeer. Daar is eenvoudig te veel tekens dat rasseversoening in die VSA nie op koers is nie. Selfs die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president word in sekere kringe as ’n manifestasie hiervan beskou.

Die vraag is egter of groter kennis van mekaar se geskiedenis in Suid-Afrika nie die polarisasie wat oor ’n wye front ervaar word, sal kan help besweer nie? Of is die verskillende persepsies van die geskiedenis so ingebed dat die pad uit hierdie verskillende weergawes nie meer weerstand en konflik sal oplewer as die verskille self nie?

Hoewel persepsie oor grondbesit in Suid-Afrika uiteenlopend is, was die duidelikste demonstrasie van uiteenlopende historiese perspektiewe toe pres. Jacob Zuma ’n striemende aanval op die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap gedoen het. Sy idee dat swart mense tot voor 1652 in vrede en harmonie geleef, en baie pret gehad het, strook wel nie met die geskiedenis nie, maar het aanklank by baie gevind, ook sommige senior wit joernaliste.

Hoe sensitief die grondkwessie is, het geblyk uit die geskiedenisles wat dr. Pieter Mulder, destyds leier van die Vryheidsfront Plus, oor grondbesit in die parlement gelewer het. Dit het groot verontwaardiging onder swart parlementslede ontlok, en selfs Zuma het baie skerp reageer. Ook verskeie swart LP’s van die DA het Mulder erg verkwalik.

Peilings toon dat tot ongeveer 85 persent van swart mense glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Die persentasie blankes wat dit ook glo, neem ook geleidelik toe. Hierteenoor het die Ad hoc-komitee oor grondbesit, wat verskeie Afrikanerorganisasies insluit, hierdie opvatting as die groot leuen beskryf.

Zuma se volgehoue opmerkings dat blankes swart mense se grond gesteel het, het hom verskeie klagtes van haatspraak by die Menseregtekommissie op die lyf laat loop. Die kommissie is opsigtelik nie lus om die nodige aandag aan die saak te skenk nie.

Die oorwinnaar skryf die geskiedenis, en al beteken die Nasionale Vredesakkoord in beginsel dat daar nie ’n verloorder was nie, is dit nie wat in die praktyk ervaar word nie. Niemand behalwe die Afrikaner sal sy eie geskiedenis behoorlik bewaar nie, en daar is ’n groeiende bewuswording by KoiSangroepe dat hulle ook verantwoordelikheid vir hul eie geskiedenis moet neem. In te veel gevalle is die Koisan se geskiedenis reeds heeltemal verdring, en bring dit botsende grondaansprake mee.

Om ter wille van ’n skynbare vrede op leuens terug te val, kan ook nie deug nie.

 

 

Nuuskommentaar : 14 Februarie 2017

Lesse te leer uit parleboendoe-debakel

 

 

Die skandalige gemors tydens verlede week se parlementsopening hou tog ’n paar lesse in.

Hoewel die EFF se optrede op geen manier goedgepraat kan word nie, het staatkundige vergrype heelwat vroeër die geleentheid geskep vir dié party se ontwrigtende optrede.

Dit het veral gehandel oor die Nkandla-saga, waar die parlement sy oorsigrol versuim het om die president verantwoordbaar te hou. Die uiteinde is dat Zuma en die parlement in die grondwetlike hof liederlik slae gekry het omdat hulle die grondwet verontagsaam het.

Boonop het nie die ANC of die parlement enige saakmakende regstellende optrede hieroor van stapel gestuur nie.

Suid-Afrika se posisie kan nie werklik met dié van die VSA vergelyk word nie. Daar word die president deur die kiesers, en nie die partye nie, verkies. Die president het ook heelwat meer magte wat normaalweg elders deur die lande se parlemente verrig word.

Van hierdie magte het die wêreld nou ook reeds deeglik kennis geneem na die nuutverkose pres. Donald Trump ’n hele rits daarvan onderteken het. Die geldigheid van een daarvan word nou in die howe uitbaklei, wat toon dat die president se magte ook beperkings het.

Die konsep hieragter is dat die demokrasie alleenlik gesond kan bly as die verskillende regeerinstansies se magte beperk bly deur dit met ander magte te laat balanseer.

Na Trump se verkiesing het die kiesers ’n regomkeer gemaak. Terwyl Barack Obama aan bewind was het die meeste Demokratiese kiesers geglo die president  se uitvoerende magte moet aan min beperkings onderhewig wees. Die Republikeine was daarteen. Na die verkiesing glo die meeste Republikeinse kiesers nou Trump moet grootliks vrye teuels hê – iets wat die demokrate by voorbaat laat sidder.

In die geheel wil die kiesers nie die president se  magte te onbeperk laat nie, veral as die Kongres nie saamstem nie. Net 32 persent glo die president moet desondanks kan voortgaan.

Zuma het vanuit Luthuli-huis die ANC in die parlement met afstandbeheer beheer. Hierdeur is die parlementêre oorsigrol en verantwoording hou soos deur die grondwet vereis, basies tot niet gemaak. Zuma beskik ook oor buitengewone magte om aanstellings te doen, so kon ’n stelsel van patronaatskap tot stand kom.

Zuma kan egter nie die opposisiepartye ook so inbind nie, en dit het veroorsaak dat die parlement met die staatsrede eerder aan die parleboendoe van ’n piesangrepubliek herinner.

Weer sal die howe moet oordeel oor hoe grondwetlik juis dit is dat ’n president wat deur die Konstitusionele Hof tot orde geroep is, as president kan bly dien.

Selfs al is dit tegnies houdbaar, is dit prakties onhoudbaar, en sal die grense getoets  word tot Zuma die aftog blaas.

Die chaotiese gebeure moet egter nie die aandag van die feit aflei dat Zuma steeds sy rasse-obsessie bly dryf nie.

 

Nuuskommentaar : 15 Februarie 2017

Trump die Twisappel

 

Sedert die inhuldiging van pres. Donald Trump as die 45ste president van die VSA, verlede maand, behou hy sy status as ikoniese internasionale twisappel.

Die honderde openbare protesoptogte waartydens miljoene in ʼn staat van massahisterie kort ná sy inhuldiging teen sy presidentskap betoog het, is nou reeds ou nuus.

Uit die staanspoor is daar ook ʼn vurige debat oor Trump se verkiesing in die sosiale media gevoer. Aanvanklik oor die wettigheid van die verkiesing, daarna oor die inhuldigingstoespraak en nog later oor sy omstrede besluite. Dit duur ad nauseum voort.

Maar hoe is dit moontlik dat een leier soveel emosionele reaksie uitlok. Selfs in lande soos Suid-Afrika, waar ons veel kan sê oor ons eie president?

Dit het luidens mediaberigte aan die lig gekom dat een van Trump se grootse teenstanders, die Hongaars-gebore miljardêr, George Soros, miljoene dollar aan dié georkestreerde openbare protes bestee het. Soros het nie alleen miljoene dollar aan Hillary Clinton se verkiesingsveldtog spandeer nie. Gerugte wil dit ook hê dat hy ʼn reusebedrag in ʼn weddenskap verloor het toe Clinton die presidentsverkiesing verloor het.

Die vraag is of die sosiale mediaveldtog teen Trump, wat oënskynlik spontaan ontstaan het, steeds só voortduur? Sommige ontleders vergelyk dit selfs met die rol van die sosiale media in die sogenaamde Arabiese Lente in die Midde-Ooste en Noord-Afrika in 2010. Die “Dubai School of Government” het ʼn studie oor die invloed van sosiale media op burgerlike verset gedoen en bevind dat daar teen Januarie 2011 ʼn gekoördineerde veldtog van verset was – veral om die bestaande leierskap te bevraagteken en om landsburgers aan te moedig om te onttrek aan staatsbeheerde prosesse.

Is dit nodig om die vraag te vra: Word die veldtog wat teen Donald Trump in die sosiale media gevoer word georkestreer? Of is dit ʼn samesweringsteorie?

Ter plaatse word daar feitlik daagliks sogenaamde fopnuus oor Trump op die sosiale media versprei en gulsig deur sy opponente opgeraap. Dit is duidelik dat die debat oor Trump lank reeds enige balans verloor het. Reg of verkeerd, het hy die nommer een slaansak op veral Facebook geword.

Of mens nou verskil of saamstem met Trump se omstrede besluite, dit is altyd belangrik om die kaf van die koring te skei. Dit is ook belangrik om nie emosioneel te raak nie – ter wille van sinvolle debat.

Tans is daar selfs ʼn groepie op Facebook wat sover gaan as om te wonder wanneer Trump dan ʼn sluipmoordenaar ten prooi sal val?

Een aspek wat duidelik opval, is dat ʼn hele aantal plaaslike joernaliste nou gesoute politieke ontleders geword het en willekeurig hulle standpunte deel, sonder om vir een oomblik te huiwer by die beginsel van onpartydigheid in die nuus. Hulle deel houe links en regs uit en kan nie insien dat Trump inderdaad die verkose president van die VSA is nie.

Dit is nie alleen irriterend nie, dis onverskillig, want die groepie raak so Trump-behep dat hulle skynbaar die ware vraagstukke op eie voorstoep miskyk. Dis jammer, want debatsvoerders laat hul onderrokke vér uithang en doen skade aan hul eie reputasies.

 

 

Nuuskommentaar : 16 Februarie 2017

Moedertaaldag

 

Later hierdie maand op Dinsdag 21 Februarie – is dit Internasionale Moedertaaldag. Hierdie dag het ten doel om erkenning te gee aan die wêreld se tale (waarvan daar omtrent 6500 is) asook om hulde te bring aan die eie moedertaal – in ons geval Afrikaans.

 

Dit wil met ‘n eerste oogopslag voorkom of Afrikaans tans ‘n bloeitydperk beleef. Pretoria FM – by verre die grootste gemeenskapsradiostasie in die land – hoop, glo en leef in Afrikaans.  Vertonings soos Afrikaans is Groot lok duisende toekouers. In tuisnywerhede, snuffelwinkels en by buiteligmarkte is produkte in Afrikaans beskikbaar. Dit het mode geword om koffiebekers en skinkborde te koop waarop Afrikaanse slagspreuke staan soos “Gaan groot of gaan huis toe”. Studente dra T-hemde met die woorde “Praat Afrikaans of hou jou bek”. Daar is in die meeste toonaangewende materiaalwinkels materiaal vir gordyne en beddegoed en klere  waarop eg-Afrikaanse woorde gedruk is wat ook iets van ons kultuur weerspieël – woorde soos “pypkan”, “boeretroos” en “Afrikaners is plesierig”.

 

Die Afrikaanse filmbedryf beleef ‘n hoogtepunt met die vervaardiging van die meeste Afrikaanse flieks ooit die afgelope jare. Hieronder tel goeie kwaliteit films soos Modder en bloed, Dis ek, Anna, Die wonderwerker  en Treurgrond.

 

Tog het Afrikaans op ander baie belangrike gebiede in die woorde van NP van Wyk Louw “tussen die engtes” beland. Na die ANC se bewindsoorname in 1994 het Engels die de facto-amptelike landstaal geword. Afrikaans is doelbewus op verskeie lewensterreine uitgeskuif – in die staatsdiens, die regstelsel en op universiteitsvlak.

 

In 1990 kon ‘n Afrikanerjongmens kies tussen vyf uitnemende residensiële Afrikaanse universiteite met Afrikaanse koshuise. Tans is Afrikaans by die enkele universiteite wat wel nog sekere klasse in Afrikaans aanbied, voortdurend in die spervuur.  Afrikaanse skole het in so ‘n mate verengels dat getalle gekrimp het van meer as 1 200 Afrikaanse skole voor 1994 na minder as 600 Afrikaanse skole landwyd. Voorts word Afrikaanse skole gedwing om Engelssprekende leerders in te neem, selfs is daar voldoende plek in nabygeleë Engelse skole.

 

Dis kommerwekkend en noop ons om op hierdie terreine nog meer vir Afrikaans te doen as wat wel gedoen word – veral in die lig daarvan dat die wenslikheid van moedertaalonderrig nie meer gedebatteer word nie. Dit word as voldonge feit aanvaar.

 

Dr Pierre Edwards, hoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, wys daarop dat die beste onderwysstelsels sterk voorstaanders van moedertaalonderrig is. Finland word beskou as een van die wêreld se beste onderwysstelsels. Inwoners van Finland praat Fins of Sweeds en leerlinge van beide tale kan akademiese moedertaal-onderrig vanaf die eerste skooljaar tot op universiteitsvlak kry. Nie Fins of Sweeds is wêreldtale nie, maar dit verhoed nie dat studente tot op tersiêre vlak daarin onderrig word  en daarna ‘n regmatige plek in die samelewing inneem nie.

 

Droom, dink en leef in Afrikaans. Deur dit te doen, aanvaar ons verantwoordelikheid vir Afrikaans. Afrikaans is immers deel van ons DNA.  Daarom is Afrikaans vir ons veel meer as net nog ‘n taal.

 

 

 

 

Nuuskommentaar: 17 Februarie 2017

Politieke versplintering na nuwe vlak gevoer in Nederland

 

Op 15 Maart, vier weke van nou af, sal sowat 10 miljoen Nederlanders die geleentheid kry om 150 volksverteenwoordigers tot die Tweede Kamer der Staten-Generaal te verkies. Die Tweede Kamer der Staten-Generaal, oftewel die laerhuis van die Nederlandse Parlement, is ‘n magtige politieke instelling waar koalisieregerings na verkiesings gevorm word en waar die meeste wette geskryf en toesig oor die kabinet uitgevoer word.

 

Tans het 17 politieke partye verteenwoordiging in die Tweede Kamer. Tydens die komende verkiesing sal kiesers vir kandidate van 28 partye kan stem. Nederland word tans regeer deur ’n koalisie van die sentrumregse Volkspartij voor Vrijheid en Democratie en die sentrumlinkse Partij van de Arbeid. Hoewel hierdie koalisie sedert die vorige verkiesing in 2012 oorleef het, lyk die kanse skraal dat die twee partye na vanjaar se verkiesing weer saam sal kan en wil regeer. Die Partij van de Arbeid het oor die afgelope vier jaar bykans in duie gestort wees sy rol in die huidige regering. Mark Rutte, die huidige Eerste minister van Nederland en leier van die Volkspartij voor Vrijheid en Democratie het die arbeiders op meesterlike wyse gebruik om sy sentrumregse, meer vryemark gesinde beleid uit te voer. Behalwe dat hierdie twee partye nie meer vreeslik lus is om met mekaar in ’n regering saam te werk nie, is daar byna geen kans dat hulle saam genoeg steun sal kry om ‘n regering te vorm nie.

 

Soos in die meeste Europese lande, beleef ook Nederland hoe die gevestigde politieke partye wat meestal sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog regeer het, toenemend ongewild raak en hoe die politieke landskap ’n totale versplintering beleef. ’n Tweede Kamer met 150 parlementslede wat uit soveel as 20 politieke partye saamgestel is, gaan sukkel om ’n werkbare regeringskoalisie te vorm. Die dae waar twee of drie partye kon saamkom om die nodige 76-stemme meerderheid te behaal, is waarskynlik verby. Soveel as vyf of selfs ses politieke partye van regoor die ideologiese spektrum sal in ’n koalisie bymekaar moet kom ten einde ’n nuwe regering te vorm.

 

Die politieke uitdaging in Nederland is nie net die agteruitgang van die ou groot partye nie, maar ook die vestiging van ’n breë front van nispartye wat elkeen deur een of twee kernsake gedryf word. Tans is daar in die parlement ’n party vir diereregte, ’n party wat die belange van bejaardes vooropstel en selfs ’n party wat op die regte van Turkse immigrante fokus.

 

Soos wat daar in België, Spanje en Griekeland deesdae gesukkel word om regeringskoalisies saam te stel, gaan Nederland waarskynlik ook toenemend dieselfde beleef. Burgers se frustrasie met die gevestigde politieke orde en die toenemende ondermyning van demokrasie deur ’n regerende Europese elite gaan tot ’n verdere fragmentering van die Nederlandse politieke aanleiding gee. Intussen gaan die nasionalistiese Partij voor de Vrijheid van Geert Wilders waarskynlik eerste of tweede eindig. Die uitsluiting van hierdie party uit ’n koalisieregering sal die vertroue in die Nederlandse demokrasie eerder laat afneem. Massa-immigrasie, terrorisme, die burokrasie van die Europese Unie en Nederlandse identiteit in ’n globalistiese wêreld kan oor die volgende vier weke tot ’n baie interessante politieke stryd in Nederland aanleiding gee.

 

 

Nuuskommentaar : 20 Februarie 2017

Hoop ten spyte van nuwe vlaag plaasaanvalle

 

In die afgelope 17 dae was daar reeds 11 plaasaanvalle in Suid-Afrika. Tydens hierdie aanvalle is 11 mense vermoor. Die skokkendste hiervan was waarskynlik die grusame moord op twee egpare, Gert Smuts en sy vrou Paulina, albei in hul 70’s, en hul seun Louis en skoondogter Belinda, albei in hul 40’s, op die plaas Modderbult in Mpumalanga. Louis en Belinda se kinders het in hierdie aanval hul ouers én grootouers verloor.

Dan word berig ontvang van ʼn plaasaanval wat Dinsdagaand naby Hartbeespoort plaasgevind het, en waarvan die details nog nie bekend is nie.

ʼn Soektog na mediadekking wat aan hierdie elf plaasaanvalle gegee is, lewer nie veel op nie. Met die uitsondering van Maroela Media is daar net hier en daar en slegs oor die mees grusame plaasaanvalle en –moorde verslag gedoen deur digitale nuuswebwerwe en hul gedrukte eweknieë.

Dit wil blyk dat plaasaanvalle deesdae dieselfde status geniet as padongelukke – ʼn minimum lewensverlies of ʼn bepaalde graad van grusaamheid word vereis voor so ʼn aanval as nuuswaardig beskou word.

In 2016 het die waarnemende nasionale polisiekommissaris, luitenant-generaal Khomotso Phahlane, dit tydens ʼn mediakonferensie duidelik gestel dat plaasmoorde vanaf verlede jaar as prioriteitsmisdaad beskou sou word en die aandag sou kry wat dit verdien.

Met 11 aanvalle in twee weke wil dit egter lyk asof sommige media en sommige polisielede ewe min aandag en prioriteit aan plaasaanvalle en plaasmoorde gee.

Die resultate van ʼn navorsingstudie wat Maroela Media in 2016 gedoen het om Afrikaanssprekendes se moraal te probeer bepaal, beaam wat ons reeds weet: 99% van die respondente het saamgestem dat die land se regering korrup is; 80% het aangedui dat hulle en hul geliefdes nie veilig voel in die land nie, en 77% het min of geen hoop gehad dat die land se ekonomie en finansies reggeruk kan word. Van almal wat die vraelyste voltooi het, het 84% gesê dat hulle baie meer angstig is as ʼn paar jaar gelede en 90% het aangedui dat hulle nie dink hulle kinders het ʼn toekoms in SA nie. ʼn Mens kan hierdie persentasies afspeel teen plaasaanvalsyfers, wat maar een van die faktore is wat tot gevolg het dat mense onveilig voel en angs ervaar.

Maar uit die navorsing wat gedoen is, is daar ook enkele ligstraaltjies wat ʼn mens gerusstel dat Afrikaanssprekendes nie heeltemal hopeloos geword het en moed opgegee het nie.

70% van die respondente het aangedui dat hulle voel hulle kan private produk- en diensleweringsinstansies vertrou. 67% van die respondente het gesê hulle stem tot ʼn groot mate of volkome saam dat hulle die vrugte daarvan sal pluk as hulle hard werk, en 72% het gesê hulle glo hul toekoms is in hul eie hande, ten spyte van omstandighede in die land. 91% het aangedui dat hulle Afrikaanssprekend is, en trots is daarop. Gevra oor hoe hulle hul eie identiteit sien, het die grootste persentasie geantwoord dat hulle hulself in die eerste plek sien as Christene, en eers daarna as Afrikaans, Suid-Afrikaners of Afrikaners.

Ons moet bly vertrou dat Afrikaanssprekendes, ten spyte van terugslae en aanslae, nuwe hoop sal kry in hul identiteit as Christene en in hul karakter as hardwerkende landsburgers wat hul toekoms in hul eie hande neem.

 

 

Nuuskommentaar : 21 Februarie 2017

Verstaan vandag die waarde van taal

 

Vandag is Internasionale Moedertaaldag. Die toekoms van die wêreld se taalskatkis is egter donker met sowat 2400 van die bestaande 2700 tale waarvan die voortbestaan ernstig bedreig word. Globalisme en die afbreek van grense lei toenemend tot die redusering van taal tot ’n ekonomiese faktor waar groot tale wat oor grense heen gepraat en verstaan word vernietigende gevolge vir kleiner en veral streeksgebonde tale het.

 

Die kulturele waarde van taal gaan toenemend verlore in ’n wêreld waar die materiële oor die kulturele heers. Vir dekades het filosowe in die rasionele empiriese tradisie beweer dat taal slegs ’n middel is om inligting te kommunikeer.

 

Die Kanadese filosoof en skrywer, Charles Taylor, beskryf egter in sy nuwe boek, The Language Animal, dat die rol wat taal speel om die gedagtes wat dit oordra ook te help vorm, vir te lank onderskat is. Die manier waarop taal deur artistieke uitdrukking, stemtoon, gebare, metafore en klemverskille die inligting wat dit oordra, beïnvloed, maak taal meer as net ’n middel van kommunikasie.

 

Die Amerikaanse skrywer, John Ciardi, wat reeds in 1986 oorlede is en wie bekendheid vir sy vertaling van die werk van Dante verwerf het, het voor sy dood reeds gesê dat vertalings uit een taal na ’n ander verkeerd is omdat vertalings eintlik uit een kultuur na ’n ander plaasvind. Volgens Ciardi was sy ervaring met vertalings uit Italiaans na Engels dat die mens eintlik meestal onbewus is van die wyse waarop sy woordkeuse deur ’n breër kulturele raamwerk beïnvloed word.

 

In 1930 het Benjamin Lee Whorf ontdek dat die Hopi-taal van ’n inheemse Amerikaanse stam geen merkers vir tyd het nie. Woorde soos ‘later’, ‘voor’ en ‘na’ bestaan nie in die taal nie en daar is ook geen verlede- of toekomstige tyd in die Hopi-taal nie. Een van die gevolgtrekkings van Whorf se studie is dat die Hopi-mense ’n totaal ander begrip en belewenis van tyd gehad het.

 

Nog ’n meer bekende voorbeeld van die kulturele uniekheid van tale is die feit dat sommige tale van volkere in Alaska en die noorde van Kanada tussen 50 en 70 woorde vir ys het. Deur ’n artikel oor ys uit byvoorbeeld die Inuit-taal na Engels te vertaal, lei tot ’n noodgedwonge verlies aan kulturele inhoud. In Russies is daar geen woord vir ‘blou’ nie, maar wel woorde vir ‘ligblou’ en donkerblou’.

 

Taylor bevind in sy boek dat die mens deur taal homself inlig, die inligting op verskillende maniere verwerk en interpreteer en dan dit uiteindelik oordra of kommunikeer. Die betekenis wat ’n individu aan inligting gee, word beïnvloed deur die woorde, klemverskille en ander kulturele merkers in daardie persoon se gebruik van sy taal.

 

Wanneer ons dus vandag op Internasionale Moedertaaldag die vraagstuk oor die toekoms van die wêreld se taalskatkis probeer in oënskou neem, is dit belangrik om die waarde van taal vêrder as net die algemene persepsie van ‘’n kommunikasiemedia te neem.

 

Vir ’n taal soos Afrikaans wat tot ’n streek en een of twee kultuurgroepe beperk is, sal sy voortbestaan afhang van ons vermoë om verby die aanhang van globalisme uit koue ekonomiese oortuigings, te tree.

 

 

Nuuskommentaar : 22 Februarie 2017

BTW betrek almal in die land

 

Dit gons al geruime tyd oor die landsbegroting wat vanaand deur Minister Pravin Gordhan gelewer word. Hy verkeer onder enorme druk om staatskuld te verminder en die regering se belasting-inkomste te vergroot. Die Suid-Afrikaanse belastingbetaler is nie baie geneë oor die voorspelling dat die betroubare middelinkomste-groep al weer moet opdok vir die regering se oordadigheid en/of armoede nie. Die land se superrykes is ook nie te vinde vir ‘n spesiale welvaartbelasting om die boeke te laat klop nie. Daarom is verskeie finansiële ontleders dit eens dat ‘n twee-persent verhoging in BTW – Belasting op Toegevoegde Waarde – die ideale oplossing is om die land se oortrokke rekening te verlig. Die ANC is gekant teen die voorstel want dit is kort voor sy leierskapskonferensie en die volgende algemene verkiesing wat uiteindelik sal bepaal  wie die land oor die volgende paar jaar gaan lei. Vakbonde is ook glad nie ten gunste van verhoogde BTW nie, hulle dink dit sal werkers en diegene sonder werk net nog verder benadeel.  ‘n Paar onduidelikhede moet in dié verband opgeklaar word. Baie produkte – veral stapelvoedsels – was nog alyd vrygestel van BTW. Daarby bied die Staat gereeld hulppakkette in die vorm van voedsel aan die armstes van die armes. Nóg konsessies kan bygevoeg word.  Gewone belastingbetalers sal ‘n twee-persent verhoging in BTW kan bekostig.  Hulle het ook nog altyd die keuse om van sekere produkte en dienste af te sien as hulle nie regtig meer wil betaal nie. Die groot voordeel is dat almal in die land met verhoogde BTW betrek word. Die staat se probleme word dus nie net deur sekere groepe en groepies gedra nie. – almal maak ‘n bydrae – of hulle nou ryk, arm, swart of wit is. BTW is dus inklusief en transaksie-gedrewe en sal beslis die belasting-gaping verklein en die Staat ‘n bykomende inkomste van 30-miljard rand besorg. Dit was nog altyd ‘n ongesonde beginsel om superbelasting  te hef. Mense in dié kategorie dra al reeds die las of beskik oor strukture om die bykomende verhoging te systap.  Die Verenigde Koninkryk en Amerika het bevind dat ‘n verlaging in korporatiewe belasting juis tot verbeterde groei en wekskepping lei. Ongelukkig is Suid-Afrika se fiskale nood te groot om langtermyn te dink. Opposisiegroepe onder leiding van die DA gaan ná die begroting vra dat ‘n omvattende bestedings-hersiening gehou word om uitgawes oor die volgende twee boekjare te herpriotiseer.  Australie, Kanada en Brittanje doen dit al jarelank. Dit stel die regering in staat om vir toekomstige voorkeur-uitgawes te beplan. Dit kan dalk net daartoe lei dat minder dienslewerings-betogings en stakings in Suid-Afrika plaasvind.  Die bestedings-hersiening moet in samewerking met die Tesourie, die nasionale, provinsiale en munisipale regerings gedoen word. Geld wat op dié manier bespaar word, kan vir werkskepping, infrastruktuur en nóg fiskale dissipline gebruik word.

 

 

Nuuskommentaar : 23 Februarie 2017

Demokrasie deur Regspraak

 

Suid-Afrika is op binneaarse voeding. Die daaglikse stapelvoedsel wat ʼn staat nodig het om te oorleef, die brood en botter van ʼn werkende demokrasie, is die land en sy mense ontneem.

In die plek daarvan lewe ons in ʼn oorgereguleerde bestel wat deur ʼn warboel van wette en subartikels, soos geïnterpreteer deur die land se howe, die daaglikse werking van die staat reguleer.

Dit het ʼn vaste patroon begin word.

Eers word die staatsrede omver gewerp, dan tree die veiligheidsmagte buite jurisdiksie op parlementêre grond op en dan word die grondwetlikheid van die proses deur een of ander opposisieparty in die hof getoets.

Uitspraak word gelewer en reëls word neergelê – net om tydens volgende jaar se staatsrede deur die Speaker geminag te word. Die gevolg? Die howe word van vooraf genader en die hele proses word ʼn karousel van geregtelike rompslomp.

In die jongste bedryf van die makabere teater, gaan die leier van die EFF, Julius Malema hom opnuut wend tot die grondwethof om pligte wat deur die land se parlement nagekom moes, word oor te neem.

Nie alleen word die proses om die parlementêre reëls te verander weereens na die howe geneem nie, die plig van die parlement om in terme van ʼn opdrag van die grondwethof op te tree, word nogmaals getoets.

Die EFF wil hê dat die hof die parlement moet verplig om pres. Jacob Zuma te dissiplineer, nadat laasgenoemde ingevolge ʼn vroeëre uitspraak deur dieselfde hof aangedui het, dat hy sy plig as staatshoof in terme van die grondwet versuim het. Die hof het bevind dat Zuma nie die grondwet gehandhaaf, verdedig en gerespekteer het nie.

Regskenners is van mening dat die EFF se aansoek nie suksesvol gaan wees nie.

Die direkteur van die Sentrum vir Grondwetlike Regte, Phephelaphi Dube, sê indien die grondwethof uitspraak in die Zuma-aangeleentheid lewer, ʼn gevaarlike presedent geskep sal word. Dit sal die skeiding van magte tussen die wetgewende gesag, uitvoerende gesag en die regbank laat vervaag. Dit beteken dat as die hof die parlement se werk doen, die parlement die hof se werk sal kan begin doen.

En dít wil ons nie hê nie.

Nog ʼn voorbeeld van die oorregulering van die samelewing is die voorgestelde Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade. Kenners is dit eens dat dié wet net so min voordeel vir harmonieuse rasseverhoudinge in die land gaan inhou, as wat die doodstraf as afskrikmiddel vir moord dien.

Dié wet is net nog ʼn stok in die hande van ʼn bang regering.

Soos by talle vorige geleenthede is die konsepwet nie goed deurdink nie en dit blyk nou byvoorbeeld dat die domini wat teen selfde-geslag huwelike predik, maklik vir 10 jaar agter die tralies kan gaan sit.

Dit is te verstane dat die ANC bang is. Die party is besig om stadig maar seker in duie te stort.

ʼn Regering deur die howe is ongesond, maar tans is dit die land se enigste redding. Laat ons maar net hoop dit bly so en dat geregtigheid in die lang duur sal seëvier.

 

Nuuskommentaar : 24 Februarie 2017

Terugslag vir demokrasie tref Afrika in die hart

 

Die Demokratiese Republiek van die Kongo, of ook bekend as die DRK, het pas aangekondig dat die land nie die beloofde verkiesings aan die einde van die jaar gaan hou nie. Dit sou te duur wees, en aangesien veral die koperprys gedaal het, het die land nie sy verwagte inkomste gehaal nie.

Die probleem is egter groter as net ’n verkiesing wat nie gehou word nie. P

res. Joseph Kabila se tweede, en laaste termyn, het reeds einde verlede jaar verstryk. ’n Verkiesing is egter nie gehou nie, omdat volgens die regering, die land nie reg was daarvoor nie.

Dié besluit het tot onluste gelei waartydens minstens vyftig mense dood is. Met die tussenkoms van veral kerkleiers het die regering en opposisieleiers tot ’n ooreenkoms gekom dat Kabila tot Desember aan bewind sal bly, maar dat hy nie in die verkiesing wat dan gehou word, herkiesbaar sal wees nie.

Onderhandelings oor ’n tussentydse regering wat ook lede van die opposisie sal insluit, het egter hierna doodgeloop.

Min mense wat die Kongolese tradisie ken waar die presidente hulself ten koste van die land verryk, het verwag dat Kabila sonder ’n paar maneuvers die aftog as president sal blaas. Opstande, afskeidings, burgeroorlog en sluipmoord is veel meer volgens die Kongolese “tradisie.” Kabila se pa, Laurent Kabila, wat die jarelange diktator Mobutu Sese Seko verjaag het, is self in ’n sluipmoord  dood.  Joseph het self twee verkiesings oorleef, maar toe die grondwet sy verdere presidentskap kelder, word die grondwet eenvoudig onder die mat ingevee.

Bloomberg het in Desember  verlede jaar die sluier effens gelig oor die omvang van die rykdom wat die Kabila-familie versamel het. Hulle besit of beheer onder meer 120 firmas, beheer mineraleregte op onder meer ’n groot diamantveld, en hierdie invloed strek oor die hele land. Presiese syfers is moeilik om te bekom, maar een firma se opbrengs oor vier jaar het 350 miljoen dollar beloop.

In Mei 2014 het die City Press berig dat pres. Jacob Zuma se broerskind, Khulubuse Zuma, twee olievelde in die DRK ter waarde van 100 miljard dollar bekom het. Dit het glo deur die bemiddeling van die president self geskied. Na berig word het Kabila, wat die oordrag per dekreet laat geskied het, bepaal dat Suid-Afrika, die ANC en selfs die Zuma-familie baat daarby moet vind.

Dit is nie baie bemoedigend vir die demokrasie en die grondwet in Suid-Afrika as Zuma ongeveer heeltemal passief is oor wat Kabila met die DRK aanvang nie. In Wes-Afrika het Nigerië en ander moondhede gou ingegryp toe die sittende presidente in eers Senegal, en toe Gambië, die verkiesings verloor het maar aan die mag bly klou het. Laurent Gbakbo, die afgesette Senegalese leier, word nou deur die Internasionale Strafhof verhoor.

Suid-Afrika se rol as streekmoondheid word so ontplooi dat Robert Mugabe al jare lank ’n skrikbewind in Zimbabwe kan voer, en dat die verkiesings wat te midde van streng perssensuur plaas, op ’n streep vry en regverdig verklaar word. Dit boesem nie baie vertroue in oor wat op eie bodem kan gebeur nie.

 

 

 

Nuuskommentaar: 27 Februarie 2017

Onthou Majuba!

 

Die Britse weermag het die Tweede Vryheidsoorlog met die kreet ‘Onthou Majuba’ binne gegaan. Diè kreet het sy ontstaan in die laaste slag van die Eerste Vryheidsoorlog toe die Boere die Engelse oorwin het en die vryheid van die Boererepublieke herstel is. Vandag onthou ons steeds Majuba. Die afgelope naweek het honderde Afrikaners die slag by die Majubaberg herdenk en op verskeie plekke, soos Orania, word dit as `n vakansiedag herdenk.

In vandag se tyd met sy gejaag is dit baie maklik om verwyder te raak van ons erfenis. Op Geloftedag staan ons skielik stil en herdenk die oorwinning tydens die Slag van Bloedrivier. Dié dag val darem aan die begin van die Desembervakansie. Maar Majubadag, Van Riebeeck-dag en selfs Hemelvaartsdag gaan ongesiens verby. Toe die vakansiedae destyds afgeskaf en vervang is met Vroue-, Jeug- en Werkersdag was daar verskeie Afrikaners wat gesê het dat hulle steeds sal vasklou aan die oorspronklike erfenisdae. Met die verloop van tyd het dit egter al moeiliker geraak en was dit maar te gerieflik om op die nuwe vakansiedae langnaweek te hou.

Om jou kultuur te herdenk verg egter nie ‘n vakansiedag nie. Jy hoef nie die dag van die werk af te kry om die heldedade van Stephanus Roos en ander manskappe te herdenk nie. Dit is veel belangriker dat die verhale lewendig gehou word, dat dit aan die jonger geslag oorvertel en dat die vieringe wat wel steeds gereël word ondersteuning geniet.

Toe die Britte die Tweede Vryheidsoorlog met die kreet ‘Onthou Majuba’ binne gaan het hulle `n motivering in daardie woorde gevind. Dit het hulle aan `n vorige nederlaag herhinner en hulle laat besef dat hulle nie te vol selfvertroue moet wees nie. Dit het hulle daarop gewys dat hulle kwesbaar is.

Die vraag is wat ons, vandag in 2017, ‘onthou’. Waaraan klou ons vas en watter leuse dien vir ons as motivering? Vandag, waar die Afrikaner as `n minderheid moet veg vir sy eie oorlewing, die van sy taal en die van sy kultuur is daar een baie gepaste slagspreuk. Vandag, met die onsekerheid en uitdagings wat ons moet trotseer is daar wel twee woorde wat as inspirasie kan dien. In 2017 waar ons eie alternatiewe moet skep en eienaarskap moet neem van ons toekoms is daardie selfde slagspreuk wat die Britte aan hulle nederheid herhinner het ook op ons van toepassing. Daarom kan ons vandag wanneer ons op ons kwesbaarste voel stil raak, terugdink aan die heldedade van die Eerste Vryheidsoorlog en saggies prewel: “Onthou Majuba!”

 

 

 

Nuuskommentaar : 28 Februarie 2017

Hoe naïef wil mense wees?

 

Die ANC het van die begin van die jaar af dit duidelik gestel dat hy sy planne vir ‘n radikale, selfs revolusionêre, ekonomiese transformasie in werking gaan stel.

 

Nie net president Jacob Zuma het daarvan melding gemaak nie, maar ook die minister van Grondhervorming en die adjunkminister van die Staatsdiens, het tydens amptelike toesprake namens die ANC, verwys daarna dat wetgewing, wat die Grondwet kan insluit, aangepas moet word deur hulle ANC-meerderheid te gebruik om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Gerusstellende praatjies dat die ANC geen tweederde meerderheid het om die Grondwet te verander nie, moet helaas verwerp word. As dit oor grond gaan, sal die ANC die steun van die EFF kry, terwyl dit nie seker is dat die IVP en van die ander partye hierdie Grondwetlike verandering sal teenstaan nie.

 

Ook in minister Pravin Gordhan se begrotingsrede, het hy die klimaat geskep vir die radikale ekonomiese transformasie, wat op niks anders neerkom as dat die sogenaamde voorheen bevoordeelde witmense van apartheid nou moet begin bloei ten gunste van die sogenaamde agtergeblewenes, wat hulleself in meer as twintig jaar en met behulp van wetgewing tot hulle voordeel, nog nie noemenswaardig kon vorder nie.

 

Die ANC is dus vasbeslote om radikale verandering deur te voer, wat waarskynlik hoofsaaklik sal geskied ten koste van witmense.

 

Wat egter verstommend is, is die feit dat soveel mense gewoon nie wil glo dat die ANC gaan doen wat hulle sê nie. Twee onlangse meningsopnames op die webblad van Landbou.com bewys dit. In die twee min of meer gelyksoortige vrae, waarvan die laaste lui: Het die Regering erns met die implementering van “radikale sosio-ekonomiese transformasie”? het respondente byna dieselfde oorweldigende mening van tussen 70 en 80 persent gehuldig dat die regering dit nie kan, wil of sal doen nie.

 

Die geskiedenis tot dusver het al geleer dat die ANC alles doen wat hy aanvanklik in sy Freedom Charter van 1953 gestel het. Hy hoef dit nie vandag of more te doen nie. Volgende week of volgende jaar is ook goed, want die ANC het die tydsfaktor aan sy kant.

 

Daarbenewens het die regering reeds begin om boere wat wil uitvoer, se aansoeke om uitvoerpermitte te koppel aan die mate waarin hulle hulleself af verkoop het aan swart ekonomiese bemagtiging. As ‘n boer nie ge”BEE” is nie, sal hy nie kan uitvoer nie. Netso sal boere sonder ‘n SEB-gradering nie weer in aanmerking kan kom vir ‘n waterregistrasie nie. Die regering begin dus om sy beleid van diskriminasie te ondersteun deur afpersing ten opsigte van noodsaaklikhede vir boere. Wat die stomme regering egter nie besef nie, is dat die land skade ly as daar geen buitelandse valuta verdien word nie as gevolg van te min uitvoere, en nie net die betrokke boer nie. Hoe kort moet kortsigtigheid nie nog word nie?

 

Daar kan aanvaar word dat die ANC al sy beleidsdokumente en –uitsprake gaan nakom. Daarom is dit so eenvoudig dom om enigsins daarby betrokke te raak, of dit te ondersteun, al is dit gekwalifiseerd. Die ANC-bewind het al oor twee dekades geleer om mense en instansies in te suig in sy denke sodra daar ‘n beginselondersteuning is.

 

Ons moet wakker word, en vinnig ook, en ons eie agenda begin bepaal in plaas daarvan om die ANC se agenda reaksionêr te volg.