Net meer as tien weke voor die middeltermynverkiesing in die VSA dui byna alles daarop dat die Republikeinse Party (in die volksmond beter bekend as die GOP – ‘Grand Old Party’) ’n ernstige nederlaag gaan lei met die kanse wat toeneem dat die Demokrate beheer oor die senaat en die huis van verteenwoordigers kan kry. Die afgelope week was die Demokrate in byna elke nasionale peiling met 6% tot 7% voor en in deelstate waar die Republikeine behoort te wen, soos Noord-Carolina, Alaska, Georgia en selfs Texas, loop die Demokrate se senaatskandidate in byna elke peiling voor.
Soos wat skole regoor die VSA begin heropen na die lang somervakansie en mense na hulle werkplekke terugkeer, begin die verkiesingsveldtogte van duisende kandidate spoed te vang. Soos wat Amerikaners meer op die verkiesing begin fokus, bestaan daar ’n wesenlike risiko dat die Republikeine, soos wat byna altyd die geval is met die party wat die Withuis beheer, in November se middeltermynverkiesing setels kan verloor. Om die situasie te vererger het oliepryse die afgelope twee weke verder gestyg, lyk dit tans of daar nie enige einde in sig is met die oorlog in Iran nie en is ’n meerderheid Amerikaners ontevrede met president Donald Trump se hantering van die Amerikaanse ekonomie – wat ook die belangrikste kwessie in November se verkiesing gaan wees.
Oor die afgelope paar jaar het die verdelingslyne in die VSA verdiep. Ook die skeiding tussen stedelike en plattelandse gebiede het groter geraak en so ook tussen Republikeinse en Demokratiesgesinde deelstate. Daarmee saam neem die kanse vir groot verkiesingsoorwinnings ook af.
Oor die afgelope 32 jaar was daar vier werklike grondverskuiwingsverkiesings waar een party ’n reuse-oorwinning oor die ander behaal het. In 1994 het die Demokrate (tydens Bill Clinton se eerste termyn) 54 setels in die huis van verteenwoordigers en agt in die senaat verloor. In 2006 het Republikeine onder George W. Bush 30 setels in die huis van verteenwoordigers en ses in die Senaat verloor. In 2010 onder Barack Obama het Demokrate 63 setels in die huis van verteenwoordigers en ses in die senaat verloor en in 2018 het Republikeine (in die middel van Trump se eerste termyn) 42 setels in die huis van verteenwoordigers verloor, maar twee in die senaat bygewen.
Die afgelope paar jaar het ’n paar belangrike dinge egter gebeur wat ’n herhaling van reuse-oorwinnings, veral soos in 2006, 2010 en 2018, byna onmoontlik maak. Daar was eerstens ’n wesenlike politieke herskikking. Wit werkersklas-kiesers het byna heeltemal na die Republikeinse Party onder leiding van Trump oorgeskuif.
Die Demokrate se steun is toenemend gekonsentreer in digbevolkte stede en deelstate aan die kus, terwyl die Republikeine se kiesers meer verspreid is. Die verdeling is breedweg dat die Republikeine redelik maklik in 26 tot 27 van die deelstate wen, terwyl die Demokrate in 23 tot 24 state wen. In 2024 het Trump egter 31 van die 50 state gewen, maar Michigan, Nevada, Pennsilvanië, Wisconsin, Arizona, Georgia en Noord-Carolina bly state waar die Demokrate kan wen.
Dit beteken egter dat die Republikeine ’n ingeboude voordeel het. Elke deelstaat het twee senatore – Wyoming met sy minder as 600 000 burgers en ook Kalifornië met sy byna 40 miljoen inwoners. Omdat die Republikeine wen in meer state as die Demokrate het die party ʼn ingeboude voordeel om die senaat makliker as die huis van verteenwoordigers te behou.
Die huis van verteenwoordigers se 435 setels is tot ’n groot mate volgens bevolking ingedeel met die gemiddelde inwonertal van 761 000 Amerikaners per distrik. Dit beteken dat ’n nasionale stempersentasie baie meer relevant is vir die uitkoms in die huis van verteenwoordigers as die senaat. Wat egter die afgelope paar jaar gebeur het, is dat distrikte se grense in talle deelstate so getrek is (die Amerikaners noem dit ‘gerrymandering’) dat een party bo ’n ander bevoordeel word. Omdat die wetgewers in deelstate meestal die grense bepaal, het state soos Texas en Florida onlangs hulle distrikte se grense verander dat daar baie min distrikte oorbly waar Demokrate kan wen. Die omgekeerde is die geval in plekke soos Illinois en Kalifornië waar die Republikeine setels weens nuwe grense gaan verloor. Die Republikeine beheer egter baie meer wetgewers as die Demokrate en die netto uitkoms van nuwe grense is dat daar vanjaar heelwat meer distrikte in die huis van verteenwoordigers is as twee jaar gelede en baie meer as agt jaar gelede (voor die vorige herindeling) waar ’n redelike meerderheid van kiesers Republikeinsgesind is.
Die geografiese verspreiding van kiesers (senaat) en nuwe grense van distrikte (huis van verteenwoordigers) tel dus tot voordeel van die Republikeine. Anders as in die afgelope paar verkiesings het die Republikeine ook vanjaar meer geld as die Demokrate. Dit lyk of Trump self honderde miljoene dollars uit sy verkiesingsbeursie van 2024 kan spandeer.
Nog ’n rede waarom die GOP nog lank nie as die verloorders in November afgemaak moet word nie, is die verskuiwing na links in die Demokratiese Party. Die afgelope Dinsdag is Angie Nixon byvoorbeeld in Florida as die Demokrate se kandidaat vir die senaat aangewys. Sy is ’n redelik ekstremistiese sosialis en sluit aan by Abdul el-Sayed wat die Demokrate se radikaallinkse senaatskandidaat in Michigan is. Vir baie kiesers is talle van hierdie radikale kandidate net te links.
Die laaste rede waarom die GOP steeds kan wen of minstens verliese kan beperk is die ekonomie. Hoewel oliepryse hoog is, inflasie steeds te hoog bly – hoewel dit daal – en daar te min werksgeleenthede geskep word, is die Amerikaanse ekonomie steeds baie gesond. Die gemiddelde inkomste in die VSA styg steeds. Dalk kom daar tog binne die volgende week of drie ’n uitkoms in die Midde-Ooste en begin oliepryse weer daal. Dalk wys die Amerikaanse ekonomie oor die volgende tien weke meer kante van sy veerkragtigheid. Dit is egter alles groot ‘maars’.
Daarom as ’n uitslag vandag voorspel moet word sou ’n mens waarskynlik verwag dat die Demokrate beheer oor die huis van verteenwoordigers en die senaat met elk ’n piepklein meerderheid op 3 November sal neem. Tyd raak min vir Trump en sy party om dit te verhoed, maar daar is genoeg rede om te glo dat dit steeds moontlik is. Die afgelope 10 jaar het Trump immers bewys dat hy ’n politieke kat met baie lewens is.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/08/NUUSWEEK-Uitgawe-80-21-Aug-2026-1.pdf