Heinrich Marnitz
Die rugbygeskiedenis tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland strek baie ver terug. Suid-Afrika het die eerste keer in 1921 na die land van die Silwervaring of die Lang Witwolk gereis. Die Kiwi-manne in hul swart rugbydrag het Suid-Afrika die eerste keer in 1928 besoek.
Politiek het reeds van 1948 af, ná die oorwinning van dr. D. F. Malan se Nasionale Party, sy invloed op sport laat geld. Daar was geen Maori’s in die All Black-toerspan van 1949 nie. Die All Black-spelers het ook geweier om die haka voor ’n wedstryd uit te voer.
Die toer van 1949 het sonder voorvalle verloop. Suid-Afrika wen die reeks vier-nul.
Met die Springboktoer na Nieu-Seeland in 1956 het die politieke rimpelings op die oseaan se deinings sigbaar begin raak.
Die slagspreuk “No Maoris, no tour” het in 1960 sterk politieke spanning rondom die All Black-toer na Suid-Afrika weerspieël.
Suid-Afrika het in 1960 die laaste keer aan die Olimpiese Spele deelgeneem as gevolg van sportboikotte. 32 jaar moes eers verloop voor ons atlete weer in Barcelona aan die Spele kon deelneem.
Ondertussen het die doyen van Suid-Afrikaanse rugby, dr. Danie Craven onverpoos voortgeskrum om Suid-Afrika se internasionale rugbybetrekkinge in stand te hou. In 1960 besoek die Kiwi’s Suid-Afrika en Dawie de Villiers se Springbokke vertrek na Nieu-Seeland in 1965.
Toe die wolke van sportboikotte teen Suid-Afrika donkerder begin hang, is die All Blacks se beplande besoek aan Suid-Afrika in 1967 afgelas. Daar sou een of twee Maori-spelers in die span ingesluit word, maar die Nasionale Party het voet by stuk gehou: Geen ander land sal ons politieke beleid vir ons voorskryf nie.
Met die hulp van dr. Danie Craven se rugbyvriend in Frankryk, Albert Ferrasse, is ’n Franse toer in 1967 gereël.
In 1969 is die beweging Halt All Racist Tours, met die afkorting HART, gestig.
Die protestoer deur die Britse Eilande is gekenmerk deur ongekende onluste voor wedstryde. Voor die hotelle waar die Springbokke tuisgegaan het, is dwarsdeur die nag betoog.
In Nieu-Seeland word lank en indringend onderhandel. Die toenmalige eerste minister van Nieu-Seeland, mnr Rob Muldoon, het sterk standpunt ingeneem en geweier dat die toer van 1970 gekanselleer word. Twee Maori-spelers, Bryan Williams en Sid Going, is in die toergeselskap ingesluit.
Daar was nie juis ernstige probleme met die toer van 1976 na Suid-Afrika nie.
Om gehoor te gee aan die Gleneagles-ooreenkoms en as protes teen Nieu-Seeland se rugbybande met Suid-Afrika, het verskeie lidlande geweier om aan die Olimpiese Spele van 1976 in Montreal deel te neem.
Gedurende die middel-tagtigerjare het Suid-Afrika se krieketbestuur agter die skerms nieamptelike toere na ons land georganiseer.
Australië, die Wes-Indiese Eilande en Engeland besoek ons.
Betogings in Bloemfontein het daartoe gelei dat die Engelse toerspan se wedstryd in die middel gestaak moes word. Dit was ook die einde van die “vriendskaplike” kriekettoere.
Die gevolg was dat die geskeduleerde All Black-rugbytoer van 1985 ná regsaksie en toenemende politieke druk afgelas is.
Weer onderhandel dr. Craven onverpoos om ’n alternatiewe toer te reël. Die gevolg? Die All Blacks het in 1986 na Suid-Afrika gekom onder die skuilnaam van “Die Kavaliers”.
Suid-Afrika verkeer onder ’n noodtoestand en die boikotte neem in alle erns toe.
Niemand was bedag op die ontvangs wat die Springbokke van Wynand Classen gedurende die toer van 1981 sou ervaar nie.
Die wedstryd teen Waikato in Hamilton kon nie plaasvind nie, en die derde toets in Auckland was ’n skrikwekkende ervaring. Die Springbokke kon nie in ’n hotel tuisgaan nie, hulle moes onder die paviljoen bly en slaap. Terwyl die toets op Saterdag in 1981 plaasgevind het, het ’n vlieënier in ’n Cessna-vliegtuig 80 minute lank heen en weer oor die speelveld gevlieg. Met elke verbyvlug is meelbomme op die spelers afgegooi. Dreigemente is geopper dat die vliegtuig in die hoofpawiljoen sou vasvlieg. Buite die stadion het honderde betogers met plakkate saamgedrom. Slagspreuke soos “Paint them black and send them back” is vertoon .
En vanjaar in 2026 vind een van die belangrikste Nieu-Seelandse rugbytoere nóg plaas. Wat ’n geleentheid is ons beskore, om in gewone omstandighede hierdie enorme voorreg te kan meemaak.
Pretoria FM sal tydens al die wedstryde gereeld opsommingsverslae aan luisteraars bied. Laai gerus die Pretoria FM-toepassing by die toepassingswinkel van jou keuse af of skakel in op DStv-kanaal 887.
Marnitz is ’n bekende sportkommentator wat al 164 rugbytoetse en twee Rugbywêreldbekertoernooie uitgesaai en sewe buitelandse rugbytoere onderneem het.