Luister nou

Jou wil bepaal jou weg!

Deur Redaksie

Het jy al ooit gedink aan dit wat jy in jou dra? Jou roeping.

Een van die dinge van ouer word, is dat ’n mens meer besin oor die lewe, veral met betrekking tot jou eie lewe en die keuses en besluite wat jy neem. Iets wat in besonder vir my uitstaan. is dat wanneer jy lewe skenk aan dit wat jy in jou dra, dit wat jy in jou dra jou red. Elke keer wat jy kies om dit wat jy in jou dra nie voort te bring nie, dit waaraan jy nie lewe gegee het nie, verwoes dit jou. ’n Mens is baie meer spyt oor dít wat jy nie gedoen het in die lewe nie, as die kere wat jy gewaag het en gereageer het op dit wat jy in jou hart dra.

Om betekenis in die lewe te vind, moet jy leer om jouself te stroop van die laag op laag leuens, totdat net wat waar en wat edel is, bly. Dit is al hoe jy weer kan leer droom, kan skep, kan kreatief wees en innoveer. Dít kan jy net doen wanneer jy leer om lief te raak vir jouself. Leer om vir jou lief te wees soos jy lief is vir dié mense wat kosbaar is in jou lewe.

Ons praat baie oor ons drome en ons bid baie daaroor, maar wanneer was die laaste keer wat jy daadwerklik iets gedoen het? Wanneer laas het jou droom oorgegaan tot aksie? Ons drome is nie iets wat tot vervulling kom deur wensdenkery nie. Ook word dit nie verwesenlik deur daaroor te bid nie, maar deur dit wat jy die Here voor vertrou te begin lééf. Lééf asof jy alreeds dit in besit geneem het! Nie net wanneer jy so voel nie, maar ook daardie dae wanneer jy nie so voel nie en emosies die oorhand probeer kry.

Geloof is eintlik presies so eenvoudig: Stap in die volheid waarvoor jy God vertrou. Dit is ons wat dit probeer oorkompliseer. En waarom maak ons dit meer gekompliseerd en ingewikkeld as wat dit is? Omdat ons so bang is dat ons nie gaan slaag nie. Bang is om te misluk. Die vrees vir verlies. Daardeur beroof ons onsself van alles wat ons het om te wen.

Ons almal het al die een of ander tyd mislukking of verlies ervaar. Niemand is vrygeskeld daarvan nie. Wat ons egter vergeet, is dat alhoewel ons in hierdie wêreld is, ons nie van hierdie wêreld is nie. Die hoop in ons hart mag dalk kantel met tye, maar God bly ewig staan, die Groter Een wat leef in jou en in my!

Daarom, moenie bang wees om weer te probeer nie. Om weer te probeer, neem nie die seer van mislukking of verlies weg nie, maar dit verander die kern daarvan. Dit neem daardie negatiewe impak wat dit het op jou wese en psige, en transformeer en omskep dit in iets nuut, iets konstruktief. Iets wat aan jou ’n diepte gee, ’n wysheid, ’n insig, wat jy nie daarsonder sou gehad het nie.

Soos wat ons hierdie saadjie in ons onderbewussyn plant en begin om anders oor ons verlies of mislukking te dink, gee dit aan die ervaring ’n nuwe betekenis en voel ons dit anders in ons binnekant. Dit gee aan ons die vermoë om die intensiteit van die verlies te ervaar, maar terselfdertyd iets te skep wat die seer ver oortref.

Wanneer jy deur ’n moeilike ervaring soos mislukking of verlies gewerk het, ervaar jy dinge minder as vanselfsprekend en het jy ’n dieper waardering daarvoor. Jy ontwikkel ook ’n opregte nederigheid wat nodig is om die eer wat kom met grasie te kan dra, dit gee aan jou wysheid en deursettingsvermoë sonder gelyke.

Dit is met goeie rede dat Jesus gesê het “spreek tot die berg” en nie “bid daaroor” nie, want ons moet reageer om te transformeer. Verandering in jou gedragspatroon begin by ’n verandering in jou denkpatroon, maar dit stop nie daar nie. Wanneer ons bly fokus op die negatiewe, spreek ons negatiwiteit en reageer ons daarop in die wyse waarop ons onsself handhaaf en optree. Wanneer ons hierdie gedrag oor en oor herhaal, raak dit ’n gewoonte en binnekort ons natuur.

Geloof is om seker te wees van die dinge wat ons glo, oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie en gehoorsaam te wees aan dit wat die Here in jou hart geplaas het. Ons lees die Woord maar leef dit nie. Leef in God se beeld geskep, leef met die sin van God, leef met dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het se krag in en deur jou!

Raak van voor af verlief op God se plan vir jou lewe en laat sy Woord soos vuur in jou bene brand en lewend raak in jou hart, jou verstand en alles wat jy aanpak! Wees so vervul met die Heilige Gees dat jou emosies belyn met sy wil. Jou gedagtes bepaal jou toekoms en jou liggaam reageer daarop. Jou wil bepaal jou weg!

Alta Strauss is breinprofielpraktisyn, motiveringspreker en skrywer.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-77-31-Jul-2026.pdf

Gewilde Nuus

Fotokrediet: Netwerk24

Deel van vuurpyl stort op die maan neer

Fotokrediet: Netwerk24

Nasionale Minimumloonkommissie begin met openbare proses

Anil Sooklal

Nuwe beleid sal oudpresidente se buitelandse reise reguleer

Fotokrediet: Moneyweb

Ondersoeke teen Patrick Dlamini gaan steeds voort

Fotokrediet: Kalahari Tours and Travel

Die Augrabieswaterval Nasionale Park vier 60 jaar

Ander Nuus Artikels

St. Stithians Collage
St. Stithians-tieners: Nadoodse ondersoek onthul skokgebeure
Fotokrediet: Wikipedia
Tafelberg se kabelkar is Maandag weer oop
OVK
Verkiesing waarskynlik vandag geproklameer
Fotokrediet: Netwerk24
Deel van vuurpyl stort op die maan neer
Fotokrediet: Netwerk24
Nasionale Minimumloonkommissie begin met openbare proses

Luister nou