Luister nou

Wie laat die boer se stem hoor?

Deur Redaksie

Bennie van Zyl

Daar word dikwels gesê dat die boer die fondament van voedselsekerheid is. Dit is waar. Maar net so belangrik is die vraag: Wie praat namens die boer wanneer besluite geneem word wat sy toekoms bepaal?

Elke dag word daar besluite geneem wat ’n direkte invloed op landbou het. Dit sluit wetgewing, regulasies, infrastruktuur, handel, belasting, arbeidsake, veiligheid en eiendomsreg in. Hierdie besluite word nie op die plaas geneem nie, maar in raadsale, staatsdepartemente en die parlement. Daarom is dit noodsaaklik dat die boer se stem ook daar gehoor word.

Gelukkig beskik Suid-Afrika oor gevestigde strukture vir georganiseerde landbou wat juis hierdie rol vervul. Nie alle boere voel altyd gemaklik met organisasies nie, en daar sal altyd verskillende menings wees oor hoe sake aangepak behoort te word. Tog bly die beginsel dieselfde: Wanneer produsente saamstaan, dra hul stem verder as wanneer elkeen alleen probeer om verandering te bewerkstellig.

Organisasies soos TLU SA fokus hoofsaaklik op die sake- en beleidsomgewing waarbinne landbou moet funksioneer. Vanuit plaaslike boereverenigings, distrikstrukture en streke word kwessies geïdentifiseer, bespreek en uiteindelik op nasionale vlak verteenwoordig. Dit is deur hierdie strukture dat gesprekke met ministers, staatsdepartemente, parlementêre komitees en ander besluitnemers gevoer word.

Hierdie werk is nie eenvoudig nie. Suid-Afrika bevind hom reeds vir meer as drie dekades in ’n beleidsomgewing waar groter staatsbeheer, sentralisering en ideologiese denke dikwels die rigting van beleid bepaal. Vir kommersiële landbou, wat afhanklik is van privaat eiendomsreg, entrepreneurskap en vryemarkbeginsels, bring dit besondere uitdagings mee.

TLU SA glo dat volhoubare welvaart geskep word wanneer mense die geleentheid kry om verantwoordelikheid vir hul eie ondernemings te aanvaar. Privaat eiendomsreg en ’n gesonde vryemarkstelsel is nie bloot ekonomiese begrippe nie; dit vorm die grondslag waarop boere kan belê, uitbrei en voedsel produseer. Daarom is dit noodsaaklik dat georganiseerde landbou voortdurend hierdie beginsels beskerm en bevorder.

Maar beleidsake is slegs een deel van die prentjie.

Daarmee saam speel kommoditeitsorganisasies ’n ewe belangrike rol. Organisasies soos Graan SA, die Rooivleisprodusente-organisasie en ander bedryfsorganisasies fokus op die spesifieke behoeftes van hul onderskeie bedrywe. Hulle doen marknavorsing, ontwikkel nuwe markte, ondersteun navorsing, bevorder produkontwikkeling en help produsente om hul boerderye so winsgewend en volhoubaar moontlik te bestuur.

Hierdie twee bene van georganiseerde landbou behoort nie teenoor mekaar gestel te word nie. Inteendeel, hulle vul mekaar aan. Waar kommoditeitsorganisasies fokus op die produk en mark waarin die boer funksioneer, fokus landbou-unies op die beleids- en sakeomgewing waarbinne daardie boerdery moet voortbestaan. Albei werk uiteindelik aan dieselfde doel: om Suid-Afrikaanse landbou sterker, meer volhoubaar en meer winsgewend te maak.

Die belangrikste skakel in hierdie hele proses bly egter die boer self.

Geen organisasie kan namens produsente praat as produsente nie hul insette lewer nie. Die feite, ervaring en praktiese kennis lê op plaasvlak. Dit is die boer wat eerste die impak van swak beleid, onwerkbare regulasies of nuwe uitdagings ervaar. Wanneer hy sy plaaslike boerevereniging ondersteun, vergaderings bywoon, insette lewer en betrokke bly, word sy ervaring deel van ’n veel groter stem.

’n Individuele boer het selde direkte toegang tot ministers, direkteure-generaal of parlementêre komitees. Georganiseerde landbou het daardie toegang juis omdat dit die gesamentlike belange van sy lede verteenwoordig. Hoe sterker die betrokkenheid van produsente is, hoe sterker word die mandaat waarmee hierdie organisasies onderhandel.

Elke boer staan uiteindelik voor ’n keuse. Hy kan apaties wees en aanvaar dat ander namens hom sal besluit, of hy kan deel word van die oplossing deur sy organisasies te versterk en sy stem beskikbaar te stel. Invloed word nie uitgeoefen deur stil te bly nie; dit word uitgeoefen deur deel te wees van die gesprek.  Konstruktiewe en toekomsgerigte kollektiewe insette bring iets anders tafel toe as ’n individu wat iesegrimmig net ’n klomp warm lug die wêreld inblaas.

Die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou gaan nie slegs bepaal word deur reënval, markpryse of nuwe tegnologie nie. Dit gaan ook bepaal word deur die beleid waarbinne boere moet funksioneer. Daarom kan ons nie bekostig dat die boer se stem stil raak nie.

Net so stem en praat die verbruikers ook oor die rigting waarheen landbou se produkte moet ontwikkel d.m.v. hulle koopkrag.  Die brug tussen produsent en verbruiker is sekerlik een van die belangrikste aspekte wat stabiliteit in ons land teweegbring.

Wanneer georganiseerde landbou en kommoditeitsorganisasies hand aan hand werk, én wanneer boere self aktief betrokke bly, word die stem van landbou sterker. En uiteindelik is dit nie net tot voordeel van die boer nie, maar van elke Suid-Afrikaner wat elke dag afhanklik is van voedsel; van boer tot bord.

Van Zyl is die hoofbestuurder van TLU SA. 

Gewilde Nuus

Brandstofstygings

R10 mjd. om motoriste teen brandstofpryse te buffer

Bedrog - GWK ECE

SA het hoogste aantal beroepsbedrog in Afrika

Fotokrediet: Maroela Media

Regering beplan strenger wette

Regstelsel

Vier wetsontwerpe goedgekeur om wetgewing te hervorm

Fotokrediet: Son

SA se amptelike werkloosheidskoers is heelwat hoër

Ander Nuus Artikels

Ramaphosa-besigheidsberaad
Ramaphosa eis goedkoper elektrisiteit
Fotokrediet: The Citizen
SANW waarsku oor informele nedersettings wat nader kruip
BenTzur en Ori - Instagram
Twee jong leeus is nou Vrystaters
Brandstofstygings
R10 mjd. om motoriste teen brandstofpryse te buffer
Bedrog - GWK ECE
SA het hoogste aantal beroepsbedrog in Afrika

Luister nou