Luister nou

Wag-’n-bietjie-bos

Deur Redaksie

Soos ek deur die veld stap, gryp die tak van ’n wag-’n-bietjie-bos my vas en ek wonder oor die wag-’n-bietjie-takkies wat ons in ons lewens vashou. Die woorde roer in my en ek begin skryf… “In die purper skadu van ’n wag-’n-bietjie-bos… want skadu’s is nie swart nie, maar purper en purper is heilig en nie donker of boos nie …”

Hierdie week staan ek met die eerste proef van my nuwe bundel, met dieselfde titel as die rubriek, in my hand: Wag-’n-bietjie-bos. Ek lees die voorwoord deur ’n goeie vriend geskryf: “Wanneer woorde in ’n mens leef, leef ’n mens in woorde. Alta leef in woorde … ” en dit kry dadelik vastrapplek in my hart, soos waarheid maak.

Ek begin dink aan die woorde uit Zorba the Greek deur Nikos Kazantzakis waar hy sê dat jy alles het behalwe een ding: waansin. ’n Mens het ’n bietjie waansin nodig, anders durf hy nooit die tou deursny en vry wees nie.

Die tou waarna daar hier verwys word, is soos daardie wag-’n-bietjie-bos-tak. Die dinge wat jou vashou en jou daarvan weerhou om waarlik voluit te leef. Waarlik vry te wees. Vryheid wat net deur innerlike vrede kom.

Soms is die tou die lelik vanuit die verlede wat ons vashou. Ander kere is dit die mooi. Die herinneringe wat ons nie wil laat gaan nie, of wat voel asof dit ons nie wíl laat gaan nie. Carl Jung, bekend vir sy verduideliking van skadu-integrasie, beskryf dit as die lewenslange proses om die onbewuste, onderdrukte of onherkende dele van die persoonlikheid in die bewuste bewustheid te bring om sodoende heelheid te bereik. Daardie gevoel van innerlike vrede.

Dit is die ding van ’n wag-’n-bietjie-bos. Dit hou ons vas en dwing ons om ’n bietjie langer stil te staan. Te besin. Te dink. Soms voel dit selfs ongemaklik en ontydig. Ons word gekonfronteer met herinneringe. Goed en sleg. Dinge wat jy wil vergeet; dinge wat jy wil onthou.

En seker een van die grootste interessanthede van herinneringe is dat hierdie herinneringe, ervarings of emosies selde ’n feitlike herroep van gebeure is. Die meeste van die tyd dien dit meer as ’n oorlewingsgids. Ons stoor gebeure, suksesse of mislukkings in die vorm van ’n storie. ’n Storie, verpak as ’n herinnering om ons te help om sin te maak van wat ons deurgemaak het en wat ons daaruit geleer het.

Dít is ook een van die wonders van digkuns, wat dit so ’n besondere kunsvorm maak. Die psigologiese aard daarvan. Hoe die artikulasie van ’n ervaring of ’n emosie jou help om sin te maak van die kompleksiteit wat dit in jou laat woed. Bykans dieselfde as wat met ons gebeur wanneer ons droom. Dit orden die chaos in ons gedagtes en ons onderbewussyn en versoen dit met wat die bewuste beeld van onsself verteenwoordig.

Soos die purper aard van die skadu van die Wag-’n-bietjie-bos, nie boos is nie, maar goed, is hierdie emosies (seer, woede, hunkering, ambisie, liefde, kreatiwiteit) bloot onderdrukte emosies wat nie ooreenstem met dit wat ons sien in onsself in die bewuste nie. Daarom is dit so belangrik om daardie innerlike vrede te vind. Iets wat baie maal eers heelwat later in die lewe ’n realiteit word en waarvan ons die belangrikheid besef. Want wanneer ons nog kind is, dink ons soos ’n kind en sien ons soos ’n kind, maar soos ons ouer raak, kom daar ook meer wysheid en diepte aan ons menswees en soms vang dit ons onkant. En dan wonder jy waar al hierdie dinge nou vandaan kom. Maar wat ’n absoluut bevrydende ervaring.

Ons leef in ’n wêreld waar selfvertroue verwar word met insig, tendense hoër geag word as beginsel, dié wat soek na waarheid uitgelag word om plek te maak vir gerieflike illusies. Kom ons begin weer dink, doen selfondersoek en introspeksie, want om ware innerlike vrede te vind, is lewensveranderend. Dit verander jou perspektief en gee aan jou dieper begrip en die besef dat konteks alles is. Dat jy daardie emosies en keuses binne konteks moet sien. Dat jy moet wéét dat jy die beste besluit geneem het in die bepaalde omstandighede waarin jy jouself bevind het.

Deur vrede daarmee te maak en die onderbewuste met die bewuste te versoen, maak jy dit vir jouself moontlik om vry en in oorgawe te leef en om die beste weergawe van jouself te wees. ’n Beter weergawe as wat jy al ooit vantevore was.

Om los te kom uit ’n wag-’n-bietjie-bos verg geduld, tyd en nugterheid van verstand. Dit verg vergifnis van jouself én aanvaarding – jy is presies waar jy moet wees!

Alta Strauss is ’n breinprofielpraktisyn, motiveringspreker en skrywer.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/08/NUUSWEEK-Uitgawe-79-14-Aug-2026-1.pdf

Gewilde Nuus

Kragdag 2

Selfstandigheidsgids wil gesinne help om die eerste stap na groter selfstandigheid te neem

Lady Grey

VF Plus: Naamsveranderinge in Oos-Kaap is onnodig, verdelend en polities gemotiveerd

ChatGPT Image Aug 14, 2026, 08_46_41 AM

Brand by Bloedrivier bring gemeenskap byeen

Kleinfontein

Kleinfontein verwelkom skikking

Untitled design (28)

Nog winterkoue is moontlik, maar die lente is op pad

Ander Nuus Artikels

Internasionale Perspektief nuut
Iran wil Trump in die middeltermyn aanvat
Bakkiefees
SA Bakkie en SNV Fees gaan weer brul
Kragdag 2
Selfstandigheidsgids wil gesinne help om die eerste stap na groter selfstandigheid te neem
Lady Grey
VF Plus: Naamsveranderinge in Oos-Kaap is onnodig, verdelend en polities gemotiveerd
ChatGPT Image Aug 14, 2026, 08_46_41 AM
Brand by Bloedrivier bring gemeenskap byeen

Luister nou