Luister nou

Dawie Roodt: Die ANC sit met eier op hulle gesigte ná BTW-verhoging geskrap word

Deur Pretoria FM Nuusspan

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het onder druk geswig en net na middernag aangekondig dat die regering die beplande BTW-verhoging van 0,5 persentasiepunte geskrap het.

In sy begroting het Godongwana aangekondig dat BTW op 1 Mei met 0.5-persentasiepunte en volgende jaar met nóg ‘n halwe persentasiepunt gaan verhoog.

In die verklaring sê die tesourie dat Godongwana binnekort die Wetsontwerp op Belasting en Monetêre Bedrae en die Wysigingswet op Inkomstewette sal voorlê vir goedkeuring – waarin daar slegs ‘n 15%-BTW-koers aangedui word.

Ontleders meen dat Godongwana se pos in die kabinet moontlik in gedrang kan wees met dié stap en dat daar nou ander maniere gevind sal moet word om die begroting te laat klop.

‘n Aangepaste begroting sal nou ter tafel gelê word.

LEES OOK: Presidensiële Nuusbrief: 2025 begroting positief vir ekonomiese groei

Die hoofekonoom verbonde aan die Efficient-groep, Dawie Roodt sê hierdie verwikkeling is vir hom geweldig interessant.

Die ekonoom, Dawie Roodt.

Roodt het aan Pretoria FM gesê dat al die politieke partye, wat ten gunste van die fiskale raamwerk in die parlement gestem het, het tog gestem vir ‘n BTW-verhoging, ondanks die feit dat hulle nou aanvoer dat hulle nié ten gunste was van ‘n BTW-verhoging nie, en dat die verhoging danksy hulle pogings geskrap is.

“Ek dink die ANC sit hier met baie eier op hulle gesigte. Die ANC het hierdie saak uit-en-uit verloor, terwyl die DA en die EFF die wenners is omdat hulle die hofsaak gedryf het.”

Volgens Roodt is dit finansieel nié so ‘n groot verlies nie. In die eerste boekjaar sou die regering ‘n bykomende R10-miljard kon inwin danksy die BTW-verhoging. “Dit is baie geld, maar as deel van die groter prentjie is dit glad nie baie geld nie. Verlede jaar se surplus belasting-inkomste was in elk geval sowat R10-miljard, so daar is nie regtig ‘n finansiële gaping nie.”

Roodt meen daar word nou druk op die minister geplaas om die enigste ander alternatief te oorweeg en dit is om minder geld uit te gee. “Dit is waar die druk moet bly om die minister te dwing om minder geld te bestee.” Hy sê die probleem is nie ‘n tekort aan inkomste nie, maar eerder te veel uitgawes.

Intussen sê die DA dat regslui – wat die minister van finansies verteenwoordig – die party se prokureurs genader het om buite die hof te skik in die die DA se dringende hofaansoek teen ‘n BTW-verhoging.

LEES OOK: “Geen hofsaak sal BTW-verhoging keer nie”

Die DA het op kort kennisgewing Donderdagoggend ‘n mediakonferensie gehou. Die party se nasionale woordvoerder, Willie Aucamp het in reaksie alle Suid-Afrikaners bedank wat saam met die DA gewerk het om die verhoging te skrap.

Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, het tydens die mediakonferensie gesê dat die DA nog nié ‘n formele skikkingsooreenkoms ontvang het nie. Sy het benadruk dat die kwessie oor die begroting nog nie verby is nie.

Volgens Zille het Godongwana nog ‘n week gelede volgehou dat die BTW-verhoging ingestel gáán word omdat daar geen alternatief is vir die verhoging nie. “Dit is dus duidelik dat die DA se hofsaak ‘n groot rol gespeel het in die minister se besluit om die verhoging te skrap.”

Die DA se voorsitter van sy federale raad, Helen Zille.

Zille meen hierdie aankondiging is ‘n wen vir alle Suid-Afrikaners. Sy sê die DA sal nou die regering se besteding op hersiening neem om te voorkom dat die regering aanhou om Suid-Afrikaners se inkomste-belasting te verhoog om op onreëlmatige wyses te bestee. Sy sê die DA sal ook toesien dat korrupsie en sogenaamde spookwerkers nié tot belastingverhogings lei nie.

Sy sê die DA wil nie belangrike dienste, of poste besnoei nie, maar wil sien dat die vermorsing van belastingbetalers se geld stop gesit word.

Volgens Zille sal die DA egter nie nou net terugsit nie, maar sal seker maak dat die regering nie op enige ander, skadelike maniere bykomende fondse bekom nie.

“Die minister sê in sy mediaverklaring dat die besluit geneem is om die BTW-verhoging te skrap na samesprekings met die onderskeie partye, maar hy vergeet om te noem dat dié aankondiging kom kort nadat die DA en die EFF hulle dringende hofaansoek gebring het.”

Die ANC sal later vanoggend ‘n mediakonferensie hou saam met ander kleiner politieke partye. “Die minister ondermyn sy grootste koalisievennoot deur daai mediakonferensie te hou,” meen Zille.

LEES OOK: Die EFF sê “ryk mense moet belas word” eerder as ‘n BTW-verhoging

Intussen het die VF Plus in ‘n mediaverklaring gesê hy is gekant teen enige vorm van belastingverhoging en verwelkom die besluit om die beoogde BTW-verhoging te skrap.

Die party se leier, dr. Corné Mulder sê die VF Plus het die afgelope paar maande tydens talle bilaterale gesprekke met die ANC en in die ander toepaslike forums alternatiewe voorgestel om die fiskale krisis aan te spreek sonder ‘n verhoging in BTW.

Hy sê die party het deurentyd bygedra tot die soeke na konstruktiewe oplossings wat ekonomiese groei kan stimuleer en koste-effektiewe staatsbesteding sal verseker.

Mulder sê die VF Plus sal deelneem aan die prosesse wat nou gaan volg om seker te maak die alternatiewe begroting strek tot voordeel van alle gewone Suid-Afrikaners wat reeds oorbelas is.

One Response

  1. Minister Godongwana en sy ANC kaders moet fyn dopgehou word. Ek vertrou nie hul stilswye na hul nederlaag nie. Hulle kan dalk net met een of ander slinkse plan vorendag kom.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Fotokrediet: Moneyweb

Munisipaliteite skuld Eskom baie

Fotokrediet: Netwerk24

VSA staak aanvalle op Iran

Boer tot bord

Die toekoms van die boer na die bord

Untitled design (26)

Kom kyk hoe word ’n RWB Porsche gebou

Untitled design (27)

Druppels word strome, strome word riviere: KragDag 2026 bou momentum

Ander Nuus Artikels

Fotokrediet: AfriForum
Departement van Onderwys in Gauteng se aanlyn-aansoeke byna oop
Fotokrediet: Africa Intelligence
Tsjad gaan van die Internasionale Strafhof onttrek
Selby Mbenenge
RDK vra Ramaphosa om Oos-Kaapse regter-president te skors
Fotokrediet: Moneyweb
Munisipaliteite skuld Eskom baie
Fotokrediet: Netwerk24
VSA staak aanvalle op Iran

Luister nou