Die Outomobiel-Assosiasie (AA) het die verhoogde brandstofheffing van 4%- wat in die minister van finansies, Enoch Godongwana se begroting aangekondig is – veroordeel.
Volgens die AA sal dit vervoerkoste opjaag, voedselpryse hoër laat styg en meer druk op reeds sukkelende huishoudings plaas.
LEES OOK: Inkomstediens “gereed om inkomstegaping in begroting aan te vul”
Vanaf 4 Junie styg die algemene brandstofheffing, ingevolge die begroting, met 16-sent per liter vir petrol en 15-sent per liter vir diesel – wat die eerste verhoging in drie jaar is.
Die vereniging waarsku dat laerinkomstehuishoudings – wat ’n groter deel van hul inkomste aan vervoer bestee – die swaarste hierdeur getref sal word.
LEES OOK: Minister Godongwana lewer vir die 3de keer sy begrotingsrede
Die uitvoerende hoof van die padvragvereniging (RFA), Gavin Kelly sê die verhoogde brandstofheffing beteken die tesourie het nou R4-miljard van die tekort van R75 miljard van die vorige begroting “gevind”, maar dit beklemtoon ook dat die regering eerder burgers sal belas as om aan onnodige uitgawes te sny.
Kelly sê die vervoerbedryf en motoriste gaan swaarkry.