Die Six Gun Grill-somersportfees het die afgelope week sy noordelike uitgawe by Hoërskool Montana in Pretoria bekendgestel. Die fees vind vanjaar van 2 tot 8 Desember gelyktydig in Pretoria en by Hugenote Hoërskool in Wellington plaas.
Dit is die derde jaar dat die fees plaasvind, en die eerste keer dat dit in twee streke aangebied word. Waar daar in die eerste jaar net sowat 1 200 deelnemers was, het dit gegroei tot ’n nasionale inisiatief met ’n verwagte 6 500 jong atlete. Altesaam 159 skole en klubs het ingeskryf: 104 vir die suidelike en 55 vir die noordelike uitgawe. Sowat 4 400 deelnemers word in Wellington verwag en sowat 2 000 in Pretoria.
Die fees is deur Duitser Bosman en Pieter “Slaptjips” Rossouw gestig, en word deur DBS aangebied. Anders as tradisionele toernooie aan die einde van die seisoen, is dit spesifiek ontwerp om spanne voor die aanvang van die nuwe seisoen voor te berei. Afrigters kan spelers evalueer, met spankombinasies eksperimenteer en aan swakpunte werk voordat die 2027-seisoen begin.
“Die grootste voordeel is die insig wat skole en leerders uit die vierde kwartaal kan kry. Jong atlete weet hulle het iets betekenisvols om voor te werk,” het Bosman by die bekendstelling gesê.
“Vir wintersport is dit ’n vroeë geleentheid om spelers en kombinasies te evalueer, terwyl ander sportsoorte die fees kan gebruik om vir die volgende jaar voor te berei.”
Hoërskool Montana is die amptelike gasheerskool in die noorde. Die hoof, Marius Lezar, sê die skool is gereed.
“Ons skool is geen uitsondering wanneer dit by ons liefde vir sport kom nie. Gee vir ons ’n sportgeleentheid, en ons is daar. Ons is ook ideaal geleë en goed toegerus om ’n geleentheid van dié aard aan te bied. Bowenal het ons wonderlike personeellede wat entoesiasties is en hierdie geleentheid met graagte aangryp. Ons is vasbeslote om die eerste noordelike uitgawe ’n sukses te maak.”
Six Gun Grill is die fees se titelborg, en STADIO en Pick n Pay is die hoofvennote. Die ander vennote is Nulaid, Pretoria FM in die noorde, Bok Radio in die suide, NovaNews, BLK, Performance Brands, Henties, Clover, PVM, Intercape en Lekkewaan.
Volgens die organiseerders bou die fees steeds voort op sy oorspronklike visie: om ’n platform te skep waar die sporthelde van môre vandag kan begin ontwikkel.
Navrae: [email protected]
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/11/NUUSWEEK-Uitgawe-94-20-Nov-2026.pdf