TLU SA het tydens sy jaarlikse Sonneblomtoekenningsgeleentheid die media se rol beklemtoon om werklikhede en uitdagings waarmee boere te kampe het, aan die publiek oor te dra.
Die geleentheid gee erkenning aan media-instellings en landboujoernaliste in die druk-, radio-, televisie- en multimediabedryf.
Bulletin is met die klankmediabydrae-toekenning vereer, die beeldmediaprys is aan GROOTplaas toegeken, terwyl Marizka Coetzer in die geskrewemediakategorie vereer is en Pretoria FM weggestap het met die multimediatoekenning.
Die hoofbestuurder van TLU SA, Bennie van Zyl het hulde aan die land se boere gebring, wat ondanks uitdagende omstandighede steeds produseer, investeer en verantwoordelikheid aanvaar.
Van Zyl het gesê veiligheid is ’n basiese voorvereiste vir ekonomiese ontwikkeling.
Die geleentheid het ook deelnemers genoop om oor die ekonomiese toekoms van Suid-Afrika en die rol van landbou te besin. Van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het in sy toespraak gefokus op die tema Ideologie teenoor ekonomiese uitnemendheid.
Hy het beklemtoon dat ekonomiese groei nie deur ideologiese uitgangspunte alleen bewerkstellig kan word nie, maar dat beleid op ekonomiese realiteite en volhoubare uitkomste gegrond moet wees.
“’n Land kan nie volhoubaar welvaart verdeel indien daar nie voortdurend nuwe welvaart geskep word nie. Die doel behoort te wees om meer mense ekonomies aktief en produktief te maak, eerder as om die bestaande produktiewe grondslag voortdurend verder te belas en te verswak.”
Hy het verder gewys op die belang van eiendomsreg, beleggingsvertroue, beleidsvoorspelbaarheid en veiligheid as voorvereistes vir ekonomiese groei en ’n volhoubare landbousektor.
Henry Geldenhuys, president van TLU SA, het die media en borge vir hul betrokkenheid en ondersteuning bedank. Hy het beklemtoon dat die media ’n onmisbare rol speel om landbou se werklikhede aan die publiek oor te dra.
“Ons versoek aan die media is eenvoudig: Help ons om landbou se werklikhede eerlik, gebalanseerd en met begrip aan die publiek oor te dra. Ons het een duidelike doel voor oë, naamlik om landbou te laat leef en te verseker dat dit ’n volhoubare ekonomiese aktiwiteit bly.”
Hy het ook beklemtoon dat voedselproduksie nie vanself gebeur nie, maar die resultaat is van harde werk.
“Agter elke produk op ons winkelrakke is daar ’n boer, ’n plaas, ’n onderneming, werknemers en ’n hele netwerk van mense wat elke dag hard werk om dit moontlik te maak.”
Die stasiebestuurder van Pretoria FM, James Kemp, sê hierdie toekenning bevestig dat Pretoria FM platforms bied wat die publiek op FM, YouTube, sosiale media en met hulle e-koerant, Nuusweek, bereik.
“Ons is nederig dankbaar vir die erkenning en onderneem om hierop voort te bou. Dankie, TLU SA! Ons sal daarna bly streef om ’n stem vir die landbougemeenskap te wees.”
Die aanbieder van Landbou op Pretoria FM, Mia Slabbert, Pretoria FM se nuusredakteur, Esmarie Yssel, die stasiebestuurder van Pretoria FM, James Kemp, en Jennifer Schoeman wat die samestelling van inhoud van die landbouprogram hanteer. (Foto: Verskaf)
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/11/NUUSWEEK-Uitgawe-94-20-Nov-2026.pdf