Minstens 400 nuwe skole sal in Gauteng gebou moet word om die stygende getal gr. 1- en gr. 8-leerders in dié provinsie te kan akkommodeer.
Dit is dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), se aanbeveling nadat die Gautengse Departement van Onderwys aangekondig het dat meer as 77 000 leerlinge in dié grade nog nie ingevolge die departement se verpligte aanlyn registrasieproses in skole geplaas is nie.
Die departement het voorts ook bekendgemaak dat 278 skole in Gauteng hulle volle kapasiteit bereik het. Dit sluit 174 laerskole en 104 hoërskole in wat reeds vol is.
Deacon verduidelik dat skole in Gauteng reeds dubbel die grootte is vergeleke met ander skole in die res van die land.
“Die skole kan eenvoudig nie bly groter word nie. Daar kom ’n punt waar getalle eenvoudig opvoedkundig onverantwoordelik word.”
Lebogang Maile, Gautengse LUR van onderwys, het Sondag bekendgemaak dat die departement teen 11 November 346 495 aansoeke vir gr. 1- en gr. 8-leerders vir die nuwe akademiese jaar ontvang het. Die aanlyn registrasieproses het op 15 Oktober vanjaar begin. Sedert die aanvang het 169 182 gr. 1’s en 177 313 gr. 8’s aansoek gedoen om in die skole in dié provinsie geplaas te word.
Maile het bevestig dat 267 742 leerders, waaronder 137 471 gr. 1’s en 130 271 gr. 8’s in skole geplaas is. Dit beteken dat 77 414 leerders nie in skole geplaas is nie.
Volgens Maile verteenwoordig dié aantal leerders 22,34% (minder as ’n kwart) van die totale aansoekers vir die 2027- akademiese skooljaar.
“Daar is tans 139 024 beskikbare plekke in skole wat die departement geïdentifiseer het. Dit beteken nie noodwendig dat hulle by die skole of in die gemeenskappe is waar die aanvraag die hoogste is nie. Hierdie onderskeid is belangrik. Gauteng ervaar nie ’n eenvormige druk oor sy skoolstelsel nie. Sommige skole het beskikbare kapasiteit, terwyl ander aansienlik meer aansoeke kry as wat hulle redelik kan akkommodeer. Gevolglik gaan die uitdaging nie net oor die beskikbare plekke nie, dit gaan daaroor om daardie plekke aan leerlinge se aanvraag, geografiese toeganklikheid, skoolinfrastruktuur en die praktiese omstandighede van families te koppel.”
Onvolledige aansoeke sal van 23 November tot 4 Desember verwerk word, terwyl laat aansoeke van 17 Desember tot 31 Januarie hanteer sal word.
Deacon sê dié departement het te gemaklik geword met die privaat sektor wat kapasiteit met private skole skep.
“Dit kos ouers wel meer. Ouers het nie meer voldoende keuses vir openbare skole nie en dis betaalde opsies wat dan oor is. As die privaat sektor nie ingespring het nie, was die skolekrisis in Gauteng veel groter.”
Paul Sauer, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê hy hoop die departement het die regte kriteria gebruik om bepaal of die 278 skole in dié provinsie werklik vol is en nie tot oorlopens vol gedruk is nie.
“Dit is ook ’n onomstootlike bewys dat die departement nie genoegsame kapasiteit het om leerlinge wat na Gauteng stroom, te kan akkommodeer en hanteer nie. Kwaliteitonderwys moet nie op finansies gegrond word nie, maar op genoeg skole en onderwysers om in die behoefte van gemeenskappe te voorsien.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/11/NUUSWEEK-Uitgawe-94-20-Nov-2026.pdf