31 Julie 2025
Statistiek Suid-Afrika se halfjaarbevolkingsraming toon dat Suid-Afrikaners langer leef. Volgens SSA sal Suid-Afrikaners 12 jaar ouer word as teen die draai van die eeu vanweë vooruitgang in gesondheidsorg, MIV-voorkoming en algehele verbeterde lewensomstandighede.
Die lewensverwagting van mans is nou 64 en vrouens 69.
Dít dui op herstel ná ’n terugslag in onlangse jare, insluitend die Covid-19-pandemie en die deurlopende gesondheidsgevolge van MIV/Vigs.
Mans se gemiddelde lewensverwagting was in 2002 52-jaar en vrouens s’n 57-jaar.
Die lewensverwagting het egter ván 2022 af geleidelik begin toeneem.
Die babasterftekoers het ván 61,9 sterftes per 1 000 geboortes in 2002 afgeneem tot 23,1 in 2025.
Suid-Afrika se vrugbaarheidskoers het egter oor die afgelope 20 jaar gedaal in ooreenstemming met wêreldtendense.
In 2008 het die syfer op 2,78 kinders per vrou gestaan. Teen 2025 het dit tot 2,21 per vrou gedaal, wat Suid-Afrika een van die lande op die vasteland maak met die laagste aanwas.
Meer landelike provinsies soos Limpopo en die Oos-Kaap toon ‘n hoër aanwas, terwyl meer stedelike provinsies soos Gauteng en die Wes-Kaap ‘n laer aanwas toon, het SSA bevind.
Faktore wat tot die afname bydra sluit uitgestelde huwelike, die behoefte aan kleiner gesinne, ekonomiese uitdagings en beter toegang tot onderwys en voorbehoedmiddels in.