Die nutsmaatskappy, City Power het volgens berigte R335-miljoen aan mislukte instandhoudings- en infrastruktuurprojekte bestee waarvoor bedrieglike fakture ingedien is.
Ten spyte van waarskuwings daaroor is dié geld in die ses maande – van Mei tot Oktober 2023 – betaal.
Volgens die nuusdiens, News24, wys ‘n interne memorandum dat die maatskappy se hoof uitvoerende beampte, Tshifularo Mashava, van die bedrog bewus was.
Ten spyte daarvan dat die nutsmaatskappy se uitvoerende hoof vir diensleweringsentrums Charles Tlouane, Mashava en twee ander bestuurders gewaarsku het, is geld steeds aan agt maatskappye betaal wat die bedrieglike fakture ingedien het.
Volgens News24 se ondersoekspan is R66,7-miljoen van die totale bedrag bestee aan infrastruktuur in die woonbuurte van Roodepoort en Randburg, waaroor City Power reeds die afgelope week 11 000 oproepe oor kragonderbrekings ontvang het.
Ander aankopies was vir skryfbehoeftes ter waarde van R356 015,32. Dit sluit BIC-penne van R24 908.56, en lugverfrissers van R17 203.17.
Die nutsdiens het glo ook R61 200 vir 20 dubbele mop-emmertrollies betaal. Dit beteken dat elke emmer R3060 moes kos. ‘n Standaard 50-liter emmer kos sowat R1500.
One Response
Dis hoekom tenders weggedoen moet word. Doen alles in huis. Tenders is ‘n euwel!