Moneyweb berig dat die omstrede sake-onderneming, KleuterZone, teen 10 Maart nog nie beleggingsdividende vir Maart betaal het nie.
Dié publikasie sê hy het met agt beleggers gepraat wat gewoonlik teen die 7de van elke maand hulle opbrengste ontvang het.
Hulle is glo verlede week ingelig dat die onderneming nie die geld op die 7de kon uitbetaal nie omdat dit op ‘n Vrydag geval het – maar het onderneem om dit teen die 10de van dié maand te betaal – wat nie gebeur het nie.
Berigte is ook ontvang van eienaars wat nie hul huurgeld ontvang het nie met ‘n boodskap van die onderneming wat aangedui het dat die finansiële jaareinde daartoe gelei het dat dit vandeesmaand laat uitbetaal sal word.
LEES OOK: Kleuterzone dalk in die mark
Dit kom na die nuus gister dat die direkteur van die groep, Anthonie Bougas glo beoog om die groep te verkoop.
Dit volg nadat ’n kernfiguur in die groep se topbestuur, Kobus Schoeman, Sondagaand in ’n WhatsApp-boodskap gesê het ’n groot firma wil Kleuterzone in sy geheel oorneem.
Sedert die media begin vrae vra het oor die volhoubaarheid van die kleuterskoolgroep se sakemodel, het Bougas, glo die land saam met sy persoonlike assistent verlaat en bevind hy hom glo tans in Thailand.
Bougas se prokureur, Frederick van Zyl van Van Zyl Scheepers-prokureurs het intussen in ‘n e-pos aangekondig dat hy nie verder vir Bougas sal verteenwoordig nie en alle medianavrae na Bougas verwys.