Die Openbare Beskermer sê sy ondersoek na die geskorste minister van polisie, Senzo Mchunu, is nie ’n parallelle Madlanga-kommissie nie.
Die kantoor ondersoek Mchunu weens beweerde uitvoerende wangedrag en politieke inmenging.
Die ondersoek, wat deur die ATM aanhangig gemaak is ná die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi se mediakonferensie in Julie verlede jaar, is volgens die Openbare Beskermer reeds in ’n gevorderde stadium.
Die kantoor se bedryfshoof, Nelisiwe Nkabinde, sê nuwe inligting het egter opgeduik wat verdere opvolgwerk vereis.
Sy sê die ondersoek staan los van die Madlanga-kommissie omdat dit binne die Openbare Beskermer se mandaat ingevolge die Wet op die Etiek van Uitvoerende Lede val.