Na afloop van die Witkruisprojek in Washington, DC het Lex Libertas gesprek gevoer met verteenwoordigers van die Withuis oor knelpunte in Suid-Afrika. Lex Libertas het die projek as ’n sukses beskryf, met duisende mense wat oor twee dae die uitstalling van 3 000 wit kruise ter nagedagtenis aan slagoffers van plaasmoorde in Suid-Afrika bygewoon het.
Dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, sê die uitstalling het die hoogtepunt van die Witkruisprojek se program in Washington gevorm en is bygewoon deur lede van die publiek, ondersteuners van die projek, slagoffers en hul families, media-instellings, navorsers en verteenwoordigers van ideesentrums, asook verteenwoordigers van die Withuis, die Amerikaanse Staatsdepartement en ander regeringsdepartemente.
“Om al hierdie mense tussen die kruise te sien loop, te sien hoe hulle die name lees en na die verhale van slagoffers luister, was ’n buitengewoon aangrypende ervaring.”
Die 3 000 kruise is intussen van die terrein verwyder, op vragmotors gelaai en sal na Suid-Afrika verskeep word. Lex Libertas beoog om aansoek te doen om toestemming om die uitstalling in Pretoria te herhaal, met die kruise wat voor die Uniegebou vertoon sal word. Roets het uit New York aan Nuusweek gesê dat hulle nog nie met die proses begin het nie en dat dit waarskynlik eers in volgende jaar sal gebeur.
Roets en ’n afvaardiging van Lex Libertas het die afgelope week ook met senior verteenwoordigers van die Withuis vergader om praktiese en langtermynoplossings vir die politieke krisis in Suid-Afrika te bespreek. Volgens Roets het die gesprek gefokus op die voorstelle in die White Cross Project Campaign Report, wat insluit waarom gebeure in Suid-Afrika relevant is vir Amerikaanse strategiese belange, wat die Suid-Afrikaanse regering onmiddellik kan doen om die huidige krisisse op te los, en watter konstruktiewe stappe die Verenigde State kan oorweeg om hervorming en ’n meer volhoubare politieke skikking te ondersteun.
“Die vergadering het baie goed verloop. Wat van groter belang is, is dat die gesprek nie bloot gefokus het op wat in Suid-Afrika verkeerd geloop het nie, maar op wat daadwerklik daaraan gedoen kan word.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-86-02-Okt-2026-1.pdf