Luister nou

Nee Kemp, regses is ook onverdraagsaam

Deur Redaksie

Johan Erasmus

Ek voel genoop om op James Kemp se artikel “Daar is nie ’n Afrikaner-debat nie” van 25 September repliek te lewer (https://www.pretoriafm.co.za/nuus/gewildste-nuus/daar-is-nie-n-afrikanerdebat-nie/).

Kemp is ’n gebalanseerde gesprekvoerder en ek beleef hom as emosioneel gematig, nuuskierig en nieverdedigend. Sy Raakpraat-program is ’n bewys hiervan, en hierdie eienskappe is opnuut bewys toe hy persoonlik repliek op sy artikel uitgenooi het. Dit is in daardie gees wat ek graag van sy “mites” wil aanroer.

Om te insinueer dat die sogenaamde regses redelik en verdraagsaam is, terwyl die sogenaamde linkses die aggressors is, is ’n groot sprong. Niemand hoef my te oortuig dat “linkses” hulle gereeld sleg gedra nie. Die sosialegeregtigheidsbeweging, veral in Noord-Amerika en later Suid-Afrikaanse nabootsers daarvan, het die cult in Cancel Culture gesit en met godsdienstige ywer enige ketters uit die kerk van politieke korrektheid verdryf.

Maar om te dink dat die regses die toonbeeld van gesonde debat is, is absurd. Trouens, die laaste paar jaar het bewys dat enigiets wat die “linkses” kan doen, die “regses” beter kan doen.

Betereinders word herhaaldelik as “beterkruipers” uitgejou. Ek is ’n kader-boetie, ’n “joiner” en volgens Renaldo Gouws en ’n paar ander ouens op YouTube deel van die ANC-intelligensiediens. Betereinders is ook glo deel van ’n groot BEE-kickback-skema, wat druk op my huwelik plaas aangesien my vrou die internet glo, maar nie die geld sien nie. Tussenin is daar ’n paar sosialemedia-doodsdreigemente (swak gespel).

Gaan lees die reaksies op enigiets wat Ruda, Max of Piet skryf, en dit word duidelik dat dit nie net die linkses is wat die probleem is nie. Selfs al skryf arme Theuns Eloff oor die belangrikheid daarvan om Afrikaans te beskerm, word hy steeds nie in die Netwerk24-kommentaarafdeling vir sy Dakar-uitstappie vergewe nie.

In die aanlyn wêreld tussen Afrikaners en Afrikaners is ek bevrees die kleinste bietjie introspeksie toon dat niemand onskuldig is nie.

Die regses is eintlik konserwatief, maar die linkses is regtig links.

As ’n sogenaamde “linkse” het ek pas ’n tesis van meer as 200 bladsye geskryf waarin ek kritieserasteorie kritiseer. Twee akademici by twee verskillende universiteite het my saggies weggewys omdat hulle bekommerd was oor die politieke onkorrektheid van die onderwerp.

Ek is baie ongemaklik met baie van wat ek in die Black Lives Matter-beweging gesien het, en ek is baie ongemaklik met marxisme. My idees oor grondhervorming en regstellende aksie stem nie in alles met Kemp s’n ooreen nie, maar dit is beswaarlik ’n onkritiese aanvaarding van linkse populistiese beleid.

Ek kan nie namens Max, Piet en ander praat nie, maar uit die bietjie wat ek al van hulle gelees het, is hulle nie marxiste nie. Hulle spreek hulle teen “Kill the Boer” uit en is krities teenoor die ANC en partye links daarvan.

Barend La Grange van Dialoog vir Aksie se claim to fame is juis dat hy dorpe soos Kroonstad, Coligny, Senekal en ander gemobiliseer het om hul eie dorpe self om te draai. Dit is net nie gedrag wat ek met die term “linkses” assosieer nie.

Maar hier het Kemp ’n punt: Waar ek met die stuk moet saamstem, is dat dit nie ’n gelyke debat is nie.

Oor die laaste paar jaar het die meeste Afrikaners in die arms van die groter Solidariteit Beweging gaan skuiling soek. En daarom, as ’n mens een klaskaptein kon stuur om ons Afrikaners te verteenwoordig, sou dit Flip moes wees.

Of Ruda, Max en selfs ek daarvan hou of nie, die realiteit is: The tribe has spoken.

Selfs my gematigde vriende wat hul neuse optrek vir Orania, Bokkie Week en Steve, sal in die geheim ’n aftrekorder teken.

In daardie opsig is opposisie teen sommige van die beweging se posisies maar ’n geval van Dawid wat sy vyf klippies langs die stroom optel om teen die reus te veg.

Daardie geveg hoef egter nie in Amerikaanse kultuuroorlogterme gevoer te word nie.

Barend la Grange verdien nie om “links” genoem te word nie, net soos Werner Human nie verdien om “regs” genoem te word nie. Hulle verskil, maar nie soos marxiste en fasciste verskil nie. Eerder soos ’n liberale en ’n konserwatiewe sou verskil.

Ek beskuldig geensins vir Kemp van die volgende nie, maar wel die breër diskoers.

Solank ons ons teenstanders as ’n tipe Nazi etiketteer, is daar regtig nie ’n Afrikaner-debat nie.

Erasmus is verbonde aan die Betereinders

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-86-02-Okt-2026-1.pdf

Gewilde Nuus

Siviwe Gwarube - Daily Maverick

Minister word aangewys as een van TIME se 100 Next-leiers vir 2026

Israelse vlug - France 24

Israelse passasiers het ‘n noue ontkoming tydens vlug

Fotokrediet: Daily Maverick

Diplomatieke stappe teen Amerikaanse ambassadeur

plaasaanvalle - Maroela Media

Vryemarkstigting: Risiko vir moorde is groter vir boere

Lynnwood padwerke - The Citizen

Bouprojek in Lynnwoodweg vra nog drie maande

Ander Nuus Artikels

Senzo Mchunu - The Witness
Die OB ondersoek Senzo Mchunu
Fotokrediet: Checkatrade
Die Tshwane-metro wil die krag teen vanaand herstel
Siviwe Gwarube - Daily Maverick
Minister word aangewys as een van TIME se 100 Next-leiers vir 2026
Israelse vlug - France 24
Israelse passasiers het ‘n noue ontkoming tydens vlug
Fotokrediet: Daily Maverick
Diplomatieke stappe teen Amerikaanse ambassadeur

Luister nou