Dr. Wynand Boshoff, leier van die VF Plus in die Noord-Kaap, wat sedert 1993 in Orania bly, sê hy tree as Orania se ambassadeur in Suid-Afrika op.
“My politieke loopbaan gaan oor een ding: die Afrikanervolk se vryheidstrewe. Ek is in 2019 en 2024 hoog genoeg op die VF Plus se nasionale lys geplaas om tot die parlement verkies te word. Dit is ’n voorreg, want naas parlementêre verpligtinge, gee dit my die kans om as Orania se ambassadeur in Suid-Afrika op te tree.”
Volgens Boshoff is Orania landwyd een van die VF Plus se beste stembusse.
Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, sê die VF het Orania se belang al suksesvol in die Noord-Kaap in onderhandelings en debat verteenwoordig.
Strydom sê dié party ondersteun ook Orania se idee van selfbeskikking.
Ondanks dié ondersteuning speel die party volgens Strydom nie ’n direkte rol in Orania se plaaslike owerheid nie.
Hy verduidelik die Orania Beweging het sedert sy ontstaan sy eie plaaslike owerheidsbedeling.
“Dis ’n dorp in Suid-Afrika, maar buite die normale munisipale bestel. Die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) is Orania se eie plaaslike owerheid. Daarbinne staan slegs onafhanklike kandidate en geen politieke partye nie. Die kandidate staan dus om Orania en Oraniërs te verteenwoordig en nie ’n party nie.”
Die OVR het ná sowat twee jaar van navorsing, voorbereiding en openbare insette vanjaar ’n nuwe grondwet vir dié dorp in die Noord-Kaap aanvaar.
Strydom sê ingevolge die nuwe grondwet word die OVR deur demokraties gekose persone en deur verskillende grondeienaarsverenigings in die groter Orania saamgestel.
“Dit is steeds baie relevant, want Orania is ’n unieke plaaslike owerheid met ’n unieke verordening.”
Boshoff sê Orania het ’n eiesoortige plaaslike regering, wat nie heeltemal binne die raamwerk van plaaslike regering in Suid-Afrika staan nie.
“Die OVR is die liggaam wat namens Orania met ander owerhede skakel en is Orania in politieke gestalte.”
Volgens Boshoff neem ’n groot getal Oraniërs wel aan die nasionale en provinsiale verkiesings deel.
“Terwyl Orania se munisipale status ’n omstrede saak is, ontken niemand dat ons deel van die Noord-Kaap of van Suid-Afrika is nie. Volgens die afbakeningsraad se kriteria kan dit nie ’n lewensvatbare munisipaliteit wees nie – en tog is dit. Die Orania Dorpsraad lewer doeltreffende dienste, samel sy diensterekeninge in, betaal krediteure so gereeld soos klokslag en is een van die min plattelandse dorpe wat steeds nuwe beleggings lok. Daarom is daar geen behoefte by Oraniërs om ons eie plaaslike regering, sonder partypolitiek, vir iets anders te verruil nie.”
Boshoff sê Orania word beskou as ’n oorlegsone binne die Thembelihle- plaaslike munisipaliteit.
“Dit beteken dis ’n gebied met spesiale reëls. In hierdie geval behels dit geen wedersydse fiskale verpligtinge nie. In eenvoudige taal hoef Thembelihle geen dienste aan Orania te lewer nie en Orania hoef geen belasting aan Thembelihle te betaal nie. Oraniërs wat wil, kan daar ook stem. Orania val in wyk 6, ’n wyk van omtrent 130 km van oos tot wes en 80 km van noord tot suid. Dit is tans ’n VF Plus-wyk.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-86-02-Okt-2026-1.pdf