Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie en DA-LP, Ian Cameron, sê hy het uit selfverdediging opgetree toe hy verlede week een van drie aanvallers tydens ’n breek-en-gryp-voorval in Philippi geskiet het.
Cameron is saam met twee DA-kollegas, Nicholas Gotsell en Lisa Schickerling, met bakstene aangeval op pad na die Kaapstadse Internasionale Lughawe, nadat hulle die polisie se opleidingskollege in Philippi besoek het.
Cameron het beserings aan sy mond en Gotsell ’n skedelfraktuur opgedoen.
Twee verdagtes is in hegtenis geneem en die verdagte wat geskiet is, is steeds onder polisiebewaking in die hospitaal. Cameron se vuurwapen is vir ballistiese toetse gestuur.
Die voorval het ’n debat oor die gebruik van geweld en die dra van vuurwapens deur LP’s aangevuur.
Die Good-party se raadslid, Axolile Notywala het gevra of dit reg is dat parlementslede gewapen moet wees tydens amptelike werk en het gewaarsku dat dit ’n gevaarlike boodskap aan die publiek stuur. Hy het ook bevraagteken of dit gepas was vir Cameron om op tieneraanvallers te skiet.
Cameron het aan Pretoria FM gesê dat hy en sy kollegas se lewens in gevaar was en dat sy optrede geregverdig was.
“Ek steur my nie regtig aan dít wat Good sê nie. Ek wil eintlik daardie mense uitdaag, dat hulle in daardie situasie kom, daaraan blootgestel word en kyk hoe hulle só ’n situasie hanteer. In daardie oomblik het ek gedink my kollegas is dood. Ek het geen twyfel dat my optrede nie reg was nie en as jy my in dieselfde situasie sit sal ek presies dieselfde ding weer doen. Ek gaan nie toelaat dat enige rusbankkritikus my kritiseer of bevraagteken as hulle in die gemak van ’n kantoor met lugversorging kritiek lewer oor iets waarvan hulle niks weet nie.”
Schickerling het Cameron en Gotsell intussen op haar sosialemediaplatforms bedank.
“As ’n vrou in Suid-Afrika weet ons té goed wat kon gebeur het as Ian nie opgetree en daar was om ons te beskerm nie. Ek kon na my huis, my man en kinders toe terugkeer. Dis iets waarvan meer as 70 families in ons land elke dag ontneem word,” skryf Schickerling.
Burgerregtegroepe het intussen hul mond uitgespoel, omdat gewone inwoners in gebiede soos Philippi en Mitchells Plain daagliks soortgelyke aanvalle beleef, maar sonder dieselfde flink optrede van polisie as in dié geval waarby hoëprofielmense betrokke is.
One Response
Ian, volgende keer skiet om dood te skiet.