Luister nou

Massaskietvoorvalle eis reeds 100de

Deur Seugnet van Zyl

Meer as honderd mense is reeds vanjaar in massaskietvoorvalle in die land dood.

In drie massaskietvoorvalle die afgelope naweek is minstens 31 mense doodgeskiet. Terwyl mense by ’n kroeg in Wedela naby Carletonville, Gauteng, gesit en kuier het, is 18 mense voor hulle oë doodgeskiet. In die Wes-Kaap is 10 mense in Lwandle in die Strand, vier in Site C, Khayelitsha, en twee in Joe Slovo-park doodgeskiet.

Ian Cameron, die DA se woordvoerder oor die polisie en voorsitter van die portefeuljekomitee, sê dat die massaskietery waarin 31 mense die afgelope naweek dood is, hom veral bekommerd maak oor die polisie se vermoë om gemeenskappe volhoubaar teen hierdie misdaadnetwerke te beskerm.

“Dit gaan oor ondersoekvermoë en intelligensie, maar ook oor integriteit.”

Cameron sê data van die Global Initiative Against Transnational Organized Crime (GI-TOC) toon dat beweerde samewerking tussen polisielede en bendes ondersoeke ondermyn en gemeenskappe se vertroue vernietig, onder meer deur lede van die SPAD wat inligting oor getuies en polisie-optrede aan misdadigers uit te lek.

“Mense is vreesbevange om misdaad aan te meld of te getuig omdat hulle vergelding vrees. Ons kan nie bloot vir mense sê: Kom vorendag met getuienis, as hulle nie vertroue het dat hul identiteit veilig sal bly en dat die staat hulle en hul gesinne doeltreffend sal beskerm nie. Dit is onredelik om van ’n inwoner te verwag om daardie gevaar alleen te dra.”

Hy sê getuiebeskerming moet ook geloofwaardig en toeganklik wees.

“GI-TOC beklemtoon vertroulike rapporteringskanale, sterker formele getuiebeskerming en beter beveiliging by howe. Beskerming moet reeds begin wanneer ’n bedreiging aangemeld word, met ’n behoorlike risiko-evaluering en praktiese veiligheidsmaatreëls.”

Volgens Cameron is die tydsberekening van die naweek se aanvalle kommerwekkend, maar daar is geen bewyse dat dit gekoördineer was nie.

“Ondersoekers moet deur getuienis, ballistiese ontleding en intelligensie vasstel of daar enige verband is. Wat hierdie aanvalle wel blootlê, is hoe kwesbaar gemeenskappe vir gewapende misdaad geword het.”

Hy sê elke aanval moet op sy eie getuienis beoordeel word.

“In Wedela ondersoek die polisie ’n moontlike konflik tussen onwettige mynnetwerke. In Lwandle is ’n moontlike sakekonflik genoem. Dit is ondersoekrigtings, nie bewese motiewe nie.”

Cameron wil intelligensiegedrewe polisiëring en vervolgingsgeleide ondersoeke sien wat die hele netwerk teiken.

“Dit sluit in die skieters, opdraggewers, finansiers, wapenverskaffers en enige korrupte amptenare wat hulle beskerm. Die polisie het ondersoeke en soektogte geloods, maar die werklike toets is of die verantwoordelike mense opgespoor gaan word en of sake tot skuldigbevindings sal lei.”

Wat sulke ondersoeke volgens hom bemoeilik, is dat speurders nie werkende voertuie,

betroubare kommunikasie, hanteerbare werksladings en tydige forensiese ondersteuning het nie.

Cameron sê die probleem strek verder as die dodetal.

“Wanneer misdaadnetwerke bepaal wie mag sake doen, wie mag praat en wie veilig is, word hele gemeenskappe deur vrees beheer. Die staat moet daardie beheer breek en mense se vertroue verdien deur beskerming, behoorlike ondersoeke en die toepassing van geregtigheid.”

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-86-02-Okt-2026-1.pdf

Gewilde Nuus

Kallie Kriel, Flip Buys, Dirk Hermann

VSA-debat jaag temperature op

Willie Spies

VF Plus soek kundiges om kragonderbrekings te bekamp

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 2 Oktober 2026

Fotokrediet: The Citizen

Tshwane-metro bied spesiale vlugte vir bejaardes by lughawe

Thoughtful Portrait Among Bookshelf Shelves

Nee Kemp, regses is ook onverdraagsaam

Ander Nuus Artikels

Orania
Oraniërs stem anders in komende verkiesing
Ernst Roets
Wit kruise nou na Uniegebou
Kallie Kriel, Flip Buys, Dirk Hermann
VSA-debat jaag temperature op
Willie Spies
VF Plus soek kundiges om kragonderbrekings te bekamp
Graffiti-logo-nuut
Graffiti-boekeblad 2 Oktober 2026

Luister nou