Raslouw Private Hospital het sy eerste twee lewende skenkerleweroorplantings suksesvol uitgevoer. Hierdie historiese mylpaal plaas die hospitaal in ’n uitgesoekte groep mediese sentrums wat in staat is om hierdie prosedure uit te voer.
Volgens ’n verklaring wat deur die hospitaal uitgereik is, is die deurbraak is die direkte resultaat van ’n uitgebreide internasionale opleidings- en vaardigheidsoordraginisiatief. Die chirurgiese span, onder leiding van dr Imraan Sardiwalla, hoof- hepatobiliêre chirurg, en dr Neha Kumar, oorplantingschirurg, het onlangs teruggekeer van intensiewe oorsese genootskappe by toonaangewende internasionale oorplantingsinstitute, waar hulle gevorderde ex situ- en lewendeskenker- chirurgiese tegnieke bemeester het. Volgens die verklaring is ’n lewendeskenkerleweroorplanting een van die ingewikkeldste operasies in moderne geneeskunde, wat vereis dat twee hoogs gekoördineerde chirurgiese spanne gelyktydig opereer.
Een span verwyder noukeurig ’n gesonde gedeelte van die lewer van ’n lewende skenker, terwyl die tweede span die ontvanger se siek of falende lewer verwyder en die nuwe lewergedeelte inplant. As gevolg van die lewer se unieke vermoë om te regenereer, word verwag dat beide die oorblywende gedeelte van die skenker se lewer en die nuwe lewergedeelte van die ontvanger binne ’n paar maande tot volle funksionele kapasiteit sal groei.
Dr IO Ebrahim, hoof- uitvoerende beampte en stigter van Raslouw Private Hospital, sê beide die oorplantingsontvangers en hul onderskeie skenkers herstel goed en word noukeurig deur Raslouw Private Hospital se toegewyde multidissiplinêre intensiewesorgspan gemonitor.
“Hierdie prestasie verteenwoordig ’n reusesprong vorentoe, nie net vir ons hospitaal nie, maar ook vir Suid-Afrika se breër oorplantingslandskap. Orgaanskaarste bly ’n kritieke uitdaging in ons land, en die uitbreiding van toegang tot lewendeskenkerprogramme bied ’n lewensbelangrike reddingsboei aan pasiënte met eindstadiumlewersiekte. Die sukses van hierdie eerste twee operasies is ’n bewys van die wêreldklas kundigheid, streng voorbereiding en onwrikbare toewyding van ons chirurgiese en kliniese verpleegkundiges.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-86-02-Okt-2026-1.pdf