Die Pentagon het Woensdag bevestig dat die laaste Amerikaanse troepe en militêre toerusting Irak verlaat het. Die finale Amerikaanse onttrekking vanaf die Erbil-lugbasis in die Koerdistan-streek sluit meer as twee dekades se Amerikaanse militêre teenwoordigheid in Irak af, sonder dat daar met vertroue verklaar kan word dat die sending geslaagd was.
Irak is steeds uiters onstabiel, Iran-gesteunde milisies is sterker as in jare en politieke onstabiliteit kan in die toekoms tot groot uitdagings in die groter streek lei. Dit is nie juis ʼn rekord waarop die Amerikaners trots kan wees nie, veral nie nadat die Irak-oefening die lewens van 4 500 Amerikaners gekos het nie. Die oorlog in Irak het ook die Amerikaanse belastingbetaler ʼn allemintige $1,79 biljoen aan direkte uitgawes uit die sak gejaag. Die VSA het wel ‘n deurslaggewende rol in die stryd teen die Islamitiese Staat gespeel.
In 2003 het die Amerikaanse weermag vinnig van Saddam Hoesein en sy regering ontslae geraak. Wat daarop gevolg het, het egter die Amerikaanse bevolking se skeptisisme oor hul land se militêre betrokkenheid in die Midde-Ooste vir minstens ʼn geslag of twee wesenlik laat verdiep. Die lewensverlies en finansiële koste van die oorloë in Irak en Afganistan het ook ʼn omgewing geskep vir sterker stemme aan beide kante van die politieke spektrum teen Amerikaanse intervensionisme, veral in die Midde-Ooste.
Donald Trump was natuurlik een van die sterkste stemme teen Amerika se Midde-Oosterse oorloë. Juis daarom was daar soveel twyfel onder sy eie ondersteuners en binne sy party toe hy in Februarie ʼn militêre operasie teen Iran goedgekeur het. Hoewel lewensverlies die afgelope sewe maande tot 19 Amerikaanse soldate beperk is, het die feit dat die konflik langer voortduur as waarvoor Trump gehoop het, tesame met die stygende koste van die oorlog en die gevolge van volgehoue hoë oliepryse, meer slegte as goeie nuus vir die Amerikaners meegebring.
Irak se premier, Ali al-Zaidi, wat in Mei 2026 as ʼn kompromis-kandidaat sonder ʼn eie politieke party aan bewind gekom het, het Woensdag se finale Amerikaanse onttrekking as die begin van ʼn nuwe fase van soewereiniteit vir Irak beskryf. Volgens hom is Irak se instellings sterker as ooit in die afgelope 23 jaar en kan Irak se veiligheidsmagte nou self stabiliteit verseker. Of dit moontlik is te midde van honderde aanvalle deur Iran-gesteunde milisies die afgelope paar maande, sal gesien moet word. Irak het dalk ʼn mate van binnelandse vrede, maar die bestanddele vir groter konflik en onstabiliteit is nog net so teenwoordig as op enige tydstip die afgelope 23 jaar.
In Washington het die Trump-administrasie Woensdag die onttrekking as belangrike vordering bestempel en dit beskryf as die oorgang na ʼn “normale bilaterale veiligheidsverhouding” tussen die twee lande. Die werklikheid is meer ingewikkeld. Die VSA handhaaf steeds, met goeie rede, ʼn groot militêre teenwoordigheid regoor die Midde-Ooste. Van die ergste aanvalle op Amerikaanse weermagbasisse die afgelope paar maande was juis afkomstig vanuit Irak en is deur Iran-gesteunde groepe uitgevoer. Hierdie groepe kan in die komende weke, maande en selfs jare nog heelwat uitdagings vir die Amerikaners en die VSA se bondgenote in die streek bied.
Die onttrekking uit Irak kom enkele weke ná die 25ste herdenking van die terreuraanvalle van 11 September 2001. Aanvanklike Amerikaanse eensgesindheid ná die aanval en steun vir die oorlog teen terreur en selfs die oorloë in Afganistan en Irak, het plek gemaak vir skeptisisme, partypolitieke verdeeldheid en ʼn voorkeur vir uiters beperkte buitelandse militêre betrokkenheid.
Woensdag se onttrekking volg op die chaotiese, dodelike onttrekking van die Amerikaanse weermag op 30 Augustus 2021 aan Afganistan. Die onttrekking uit Irak was ten minste minder gevaarlik en ontwrigtend. Die situasie in Afganistan is vandag erger as voor die Amerikaanse oorlog daar.
In Irak is die resultate gemeng. Saddam se diktatuur is verby en die Islamitiese Staat is grootliks verslaan, maar die staat is onstabiel en onvoorspelbaar. Daar is tekens van sterk ekonomiese herlewing, ʼn terugstoot teen terreurgroepe, maar ook ʼn sterk teenwoordigheid van militante groepe wat die land weer maklik in die toekoms kan destabiliseer.
Die grootste risiko in Irak bly Iran se proksies. Groepe soos Kataib Hezbollah en Harakat al-Nujaba, deel van die Popular Mobilization Forces, weier om hul wapens in te handig. Hulle het die Amerikaanse teenwoordigheid as verskoning gebruik om hulself aan te hou bewapen en het die afgelope week die VSA se onttrekking as ʼn oorwinning gevier. Verskeie Amerikaanse burgers is die afgelope paar weke in Irak gyselaar geneem en hierdie groepe het meer as 400 aanvalle op Amerikaanse teikens die afgelope sewe maande uitgevoer. Hulle beskou Al-Zaidi bloot as ʼn Amerikaanse proksie.
Vir die Koerde in die noorde van Irak, is die VSA se onttrekking slegte nuus en kan dit hulle selfs nog meer blootstel, soos wat die geval was tydens die opkoms van die Islamitiese Staat in 2014, toe laasgenoemde groot dele van Koerdistan beset het.
Die VSA se onttrekking uit Irak kan ook Teheran se posisie in Irak, Libanon, Jemen en Sirië versterk, omdat proksies in hierdie lande dikwels wapens via smokkelroetes deur Irak ontvang. Lande soos Saoedi-Arabië, Turkye, die Emirate en kleiner Golflande is almal bekommerd hieroor. Intussen probeer die Trump-administrasie ʼn finale einde aan sy konflik met Iran bring. Die Amerikaners is egter deeglik bewus dat enige uitkoms wat Iran se invloed in die stryd kan laat verdiep, slegs tot meer en groter probleme in die toekoms kan lei.
Die Amerikaanse weermag se onttrekking uit Irak die afgelope week is ʼn belangrike mylpaal. Hoewel dit moes gebeur, bevestig die omstandighede waarin dit plaasvind egter ook dat die Midde-Ooste se probleme nog lank nie opgelos is nie. Dit is egter duidelik dat ʼn meerderheid Amerikaners wil sien dat hul land in die toekoms minder betrokke moet wees in die soeke na daardie oplossings.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-86-02-Okt-2026-1.pdf