|
Die DA het die EFF se voorbeeld gevolg en aan die speaker, Thoko Didiza, geskryf waarin die party versoek dat die verslag van die fiskale raamwerk teruggetrek word. Die DA se hoofsweep, George Michalakis, skyf in sy brief aan Didiza dat sou die stemproses vir die begroting vanmiddag in die parlement voortgaan, sal enige besluit wat geneem word as onwettig bestempel word. Ook die EFF dreig met ‘n hofinterdik sou vanmiddag se stemproses voortduur, en sou die verslag nie teruggetrek word nie. ActionSA en die IVP het gister die ANC se voorstel voor die oorsigkomitee oor finansies, gesteun om die verslag deur te druk, en indien dit vandag in die Nasionale Vergadering goedgekeur word, word die begroting in werklikheid van krag. Die ANC het na verlede jaar se verkiesing nie genoeg steun om op sy eie die begroting deur te voer nie. Die EFF meen in sy brief aan die speaker dat die verslag onwettig is omdat dit nie die nodige prosedures gevolg het nie. |