Die algemene bewering dat wit Suid-Afrikaners 72% van die land se grond besit, is volgens ’n nuwe verslag deur die burgerregteorganisasie AfriForum onakkuraat en hoogs misleidend.
Volgens die hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, Ernst van Zyl, berus dié statistiek, wat gereeld gebruik word om radikale grondhervorming te regverdig, op die gebrekkige 2017 grondouditverslag.

Foto: Reint Dykema
Volgens AfriForum se verslag dek die rasseprofiel in die oudit slegs privaat eienaarskap van landbougrond en kleinhoewe waarby die eienaar se ras wel bepaal kon word.
“Daar word in die verslag gesê dat individue 37 078 289 hektaar plaas- en landbougrond besit het, wat meer as die totale aantal grond is wat vermoedelik uitsluitlik deur individue besit word,” lui die verslag.
Dit verteenwoordig skaars 30% van Suid-Afrika se totale oppervlakte.
As die syfer teen die hele land gemeet word, krimp die blanke landelike eienaarskap na sowat 22%. Van Zyl hou in die verslag voor dat die res van die grond wat 23% uitmaak aan die staat of aan maatskappye behoort, asook trusts en gemeenskapsorganisasies van 47% wat nie deur ras gekategoriseer kan word nie.
Van Zyl meen dat die oudit gekritiseer word weens metodologiese foute.
“Omdat die regering nie oor ’n sentrale databasis beskik nie, is daar gesteun op gefragmenteerde en ongeverifieërde bronne. Waar geen direkte rasse-inligting ooreengestem kon word nie, het die oudit op name en vanne staatgemaak om “die ras” van eienaars te probeer bepaal. Só ’n benadering is problematies omdat vanne nie betroubare aanduiders van ras is nie en nie noodwendig ooreenstem met ’n individu se rasseklassifikasie nie. Boonop bevat die verslag wiskundige foute wat oor miljoene hektare strek, asook onmoontlike aannames oor buitelandse eienaars wat nasionale totale oorskry.”
Navorsing deur ’n onafhanklike ekonoom, Johann Bornman, wat die eerste volledige oudit voltooi het na landbougrond wat sedert 1994 aan swart, bruin en Indiër-mense oorgedra is, toon dat Suid-Afrika reeds 84% van sy grondhervormingsteiken behaal het. Ongeveer 19,5 miljoen hektaar is reeds na swart eienaarskap óf die regering oorgedra.

AfriForum wys daarop dat die ware kwessie nie grondbesit is nie, maar die mislukking van regeringsprojekte.
Die destydse minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, het in 2020 onthul dat byna 900 staatsplase, wat ongeveer 700 000 ha beslaan, óf onderbenut óf glad nie gebruik word nie.
Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het in 2026 weer grootskaalse korrupsie en wanbestuur in die herverdelingsproses blootgelê. Daar is bevind dat plase wat deur die regering gekoop is, soos Dawn Valley wat in 2008 deur die regering vir R12,8 miljoen aangekoop is egter verlate is en nie benut word nie.
Volgens die verslag is daar 830 plase wat nie vir gebruik toegeken is nie. Daar word beraam dat die regering miljarde bestee het om plase onder proaktiewe grondverkrygingstrategie (Plas) te bekom waar die regering veronderstel is om die grond te identifiseer, te koop, te huur, te ontwikkel en oor te dra.


Die pad vorentoe
Volgens AfriForum lê die pad vorentoe vir suksesvolle grondhervorming in die verwerping van skadelike beleide soos onteiening sonder vergoeding, en die dringende regstelling van die huidige grondherstelproses wat deur korrupsie en wanbestuur ontspoor is.
Ten einde die mislukking van grondherverdelingsprojekte te voorkom, meen AfriForum dat die voorsiening van deurlopende finansiële en tegniese ondersteuning, asook omvattende opleiding aan nuwe begunstigdes, ’n imperatief is.
Die blooteiendomsreg van grond bied immers geen waarborg vir die ekonomiese volhoubaarheid of sukses van sodanige ondernemings nie.
AfriForum sê die openbare diskoers moet gesuiwer word van politieke misleiding en onakkurate mites, soos die bewering dat wit mense 72% van die grond besit, sodat debatte op deursigtige feite gebaseer kan word.