Hoe raak die totstandkoming van ’n Regering van Nasionale Eenheid (RNE) die Afrikaanse onderwyslandskap? Dít was een van die vrae wat geopper is tydens ’n paneelgesprek by Solidariteit se Toekomsberaad.
Vanjaar se Toekomsberaad, wat die lig op ’n volhoubare Afrikaanse onderwysbedeling werp, het ook as afskop van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, die SOS se jaarkongres gedien.
Die VF Plus se hoofwoordvoerder oor onderwys, dr. Wynand Boshoff, sê die bewoording van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys, die Bela-wet, is ’n aanduiding van hoe die ANC graag wou hê onderwys in Suid-Afrika moes lyk en kan ook as ’n verbreking van die skikking in 1994 gesien word.
Boshoff sê hoewel Ramaphosa die Bela-wet ten spyte van groot verliese vir die ANC in die vorige algemene verkiesing en te midde van ’n onderhandelingsproses oor regeringsvorming onderteken het, het dit nog nie gebeur dat amptenare by Afrikaanse skole ingestap en ’n Engelse taalbeleid aangekondig het nie.
“Die feit dat daar niks gebeur het nie, beteken daar het iets groot gebeur. Want hulle wou.”
Die DA se burgemeesterskandidaat in Johannesburg, Helen Zille, sê die Bela-wet is “ongelukkig die wet wat ons nou het”.
“Ons het gelukkig ’n DA-minister in die portefeulje, en sy staan teen sentralisering,” het Zille met verwysing tot die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, gesê.
Zille sê die minister kan nie die wet verander of dit ignoreer nie, maar die wyse waarop dit toegepas word wys vir haar dat Gwarube beheerliggame respekteer.
“Sy het gesorg dat politieke agendas nie die maatstaf is nie.”
En as daar een hervoming is wat die twee partye met betrekking tot onderwyswetgewing kon toepas?
Volgens Zille sal dit wees om te verseker dat kinders wat uit die grondslagfase kom kan lees, skryf en syfervaardig is.
Boshoff sê op sy beurt dat hy graag wil sien dat daar ’n statutêre onderwysowerheid is wat met ’n kultuurgemeenskap vereenselwig word en dat ’n skool kan kies of hulle by die provinsiale onderwysowerheid óf by dié kulturele onderwysowerheid wil inskakel.
Fotokrediet: Reint Dykema