Die burgerregte-organisasie, AfriForum, sê sy privaat vervolgingseenheid het ná ’n omvattende studie van die saak teen die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula tot die gevolgtrekking gekom dat die versuim om hom te vervolg óf ’n geval van selektiewe vervolging óf algehele onbevoegdheid is.
Die eenheid het ‘n voorlegging aan die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Shamila Batohi, gemaak en voer aan dat daar wel voldoende bewyse is om Mbalula en moontlik sy beweerde weldoeners van korrupsie en geldwassery aan te kla.
Die saak hou verband met Mbalula se vakansie van R680 000 na Dubai in 2016, wat gedeeltelik betaal is deur Yusuf Dockrat, ’n direkteur van Sedgars Sport, wat destyds ’n verskaffer aan die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) was.
Mbalula en Dockrat het enige wanoptrede ontken en sê dat R300 000 wat gebruik is om Mbalula se skuld by die reisagentskap te vereffen, ’n “lening” was.
AfriForum sê dit blyk egter dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie die bron van die R380 000 wat gebruik is om die res van die skuld te vereffen, behoorlik ondersoek het nie.
Die woordvoerder van die privaat vervolgingseenheid, Barry Bateman, sê Mbalula het eers die “lening” terugbetaal nadat die media vrae begin vra het oor die reis en die befondsing daarvan.
Mbalula het onlangs afgevaardigdes by ’n ANC-Jeugliga-geleentheid oor oneerlike politici, wat hulself aan die diefstal skuldig maak, toegespreek en gesê die ANC het besluit om teen korrupsie te veg.
One Response
😂😂😂