Amptelike regeringsdata dui daarop dat die koste van siekteverlof van staatsamptenare – wat na afloop van die Covid-19-inperkings weer terug is kantoor toe – die hoogte in geskiet het. Nadat daar R8-miljard in 2020 aan siekteverlof bestee is – en R8,2-miljard in 2021 – het dit tot meer as R11-miljard in 2022 gestyg toe die inperkings in geheel opgehef is. In 2023 het dit effe terug gesak na R10,1-miljard. Nasionale staatsdepartemente – wat die meeste amptenare in diens het – het die meeste geld in 2023 hieraan bestee – naamlik R3,1-miljard. Staatsdepartemente in Gauteng het R1,4-miljard in siekteverlof gekos, gevolg deur R1,3-miljard in KwaZulu-Natal. |