Rand Water het bevestig dat hy vroeër as beplan die eerste fase van sy B16-instandhoudingsprojek voltooi het. Die instandhouding word by verskeie pompstasies gedoen wat water aan dele van Gauteng verskaf. Die Mapleton-pompstasie het Donderdag, 29 Mei opgehou om water te pomp, met krane wat stelselmatig leeggeloop het. Volgens Randwater pomp die Mapleton-pompstasie reeds weer water, maar dat dit ‘n rukkie sal neem voor die watertoevoer 100% herstel sal word. Die nutsdiens sê op sy X-profiel dat die reservoirs eers kapasiteit moet opbou voordat alle geraakte woonbuurte weer water het. Randwater het ‘n beroep op mense gedoen om water spaarsaam te gebruik, sodra dit herstel word, omdat dit die herstelproses na alle woonbuurte sal bespoedig en vergemaklik. Fase 1 van die projek is om 03:00 vanoggend, 2 Junie voltooi. |