Hoër brandstofpryse is per definisie negatief en verbruikers gaan óf minder moet spaar óf minder op ander goed moet uitgee. So antwoord professor Jannie Rossouw, Ereprofessor by Wits Besigheidskool en ekonoom van Altitude Wealth, op ’n vraag oor hoe die hoër brandstofpryse verbruikers gaan raak.
Die afgelope week het die prys van 93 oktaan-petrol met R3,12 per liter en die prys van 95 oktaan-petrol met R3,33 per liter gestyg. Diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% het met R2,84 per liter gestyg terwyl diesel met ’n swaelinhoud van 0,005% met R3,24 per liter duurder geword het.
Professor Rossouw sê een van die besuinigingsmaatreëls wat motoriste kan instel, is om minder te ry. Maar dit kan die oorlewing van vulstasies bedreig – iets wat sal lei tot werksverliese vir petroljoggies en ander werknemers, dus ’n verdere styging in werkloosheid.
Op ’n vraag of die regering dalk weer verligting kan bied deur brandstofheffings laag te hou, antwoord Rossouw dat die regering dit wel vroeër die jaar gedoen het, maar dat dit toe ’n tydelike maatreël was. Rossouw sê indien die regering dit weer doen, gaan hulle die geld elders moet kry: Hulle kan nuwe belastings uitdink of bestaande belastings, soos maatskappybelasting, verhoog.
“Die regering is ’n wonderlike ding wat enige van ’n klomp ander vorms van belasting kan verhoog.”
In hierdie stadium, sê Rossouw, het die publiek nog nie prysstygings in ander produkte gesien nie. Hy sê die rede daarvoor is omdat die breër bedryf die konflik in Iran, wat as die primêre oorsaak van die verhoogde brandstofpryse gesien word, as ’n korttermynprobleem sien. Hy waarsku dat indien dit as ’n langtermynprobleem gesien word die benadering gaan verander.
“Dit sluit in die Reserwebank wat met min beleid moet reageer as inflasieverwagtings begin styg.”
Rossouw self begin die konflik in Iran sien as ’n probleem wat lank gaan duur.
“Ek sien nie ’n plan vir (die Amerikaanse president Donald) Trump om hier uit te kom nie. In hierdie stadium praat ekonome steeds nie van ’n oorlog nie maar van ’n ‘geopolitieke probleem’.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-87-09-Okt-2026.pdf