Luister nou

7 Oktober: Waar bevind die wêreld hulself 3 jaar later?

Deur Redaksie

Barend Wesseloo

Waarom het die gebeure in die Midde-Ooste betrekking op die regte van Suid-Afrikaners?

Gebeure in die Midde-Ooste beïnvloed die pryse van brandstof en voedsel. Omdat ons meer tyd op sosiale media spandeer, word ons beïnvloed deur wat op ander plekke van die wêreld gebeur. Mense kies kant en lug hul opinies, en dit veroorsaak ook vrywing by die werkplek en elders.

Dit is nodig om te weet wat die waarheid is.

Op 7 Oktober 2023 het duisende inwoners van Gaza Israel binnegeval, onskuldige mans, vroue en kinders vermoor, verkrag en verbrand, en 250 as gyselaars geneem. Shiri (32), Ariel (4)  en Kfir Bibas (8 maande) was onder die gyselaars. 1200 burgerlikes is op een dag vermoor: die grootste slagting van die Joodse volk sedert die Tweede Wêreldoorlog.

Die simpatie van die wêreld was kortstondig en daarna is Israel weer veroordeel en van buiteproporsionele geweld beskuldig.

7 Oktober het nie onverwags gebeur nie. Terreurgroepe in Gaza het vir jare voor 2023 duisende vuurpyle op Israel afgevuur. Die konflik het dekades voor 7 Oktober bestaan. Israeliese burgerlikes het lank voor 2023 met Palestynse terreuraanvalle, vuurpyle en ander geweld te doen gehad.

Israel het in 2005 uit Gaza onttrek. Alle Israeliese nedersettings is ontruim en die permanente militêre teenwoordigheid binne Gaza is beëindig.

Hamas het daarna die 2006- Palestynse verkiesing gewen en in 2007 beheer oor Gaza oorgeneem.
Hamas het ’n massiewe en uitgebreide ondergrondse tonnelstelsel gebou om israel aan te val, wat volgens sommige ramings groter as die New Yorkse moltreinstelsel is, maar hierdie tonnels is net vir Hamas se militêre doeleindes gebou en nie as bomskuilings vir die burgerlike bevolking van Gaza beskikbaar gestel nie. Duisende Gaziete het voor 7 Oktober permitte gehad om in Israel te werk, waar hulle aansienlik hoër lone kon verdien as in Gaza.

Pasiënte uit Gaza is ook in Israel behandel. Voor die oorlog het pasiënte permitte ontvang om Gaza te verlaat vir mediese behandeling, hoewel die permitstelsel ook beperkings gehad het.

Israel se veiligheidsbeleid teenoor Gaza het dus ’n geskiedenis. Die 2005-onttrekking is deur Israel voorgestel as ’n geleentheid om wrywing te verminder en Palestynse ontwikkeling te bevorder. Daarna het Hamas se oorname, herhaalde vuurpylvuur en uiteindelik 7 Oktober gevolg.

Die wêreld het so verander ná drie jaar dat antisemitiese proterreurgroepe nou herdenkingsgeleenthede vir 7 Oktober hou ter ondersteuning van Hamas en Hezbollah. Net onlangs was daar ’n protesoptog in Kaapstad waar Hamas- en Hezbollahvlae vertoon is. Kan jy jouself indink dat pro-Nazi-optogte te sien sou wees ná die Tweede Wêreldoorlog?

Ongelukkig, as gevolg van die tragiese gebeure in die Midde-Ooste, ervaar die Joodse gemeenskap in Suid-Afrika meer antisemitisme as ooit tevore. Dit het ons nader aan mekaar gebring en almal meer bewus van veiligheid gemaak.

Ná drie jaar het die wêreld heeltemal vergeet wat op daardie verskriklike dag gebeur het en fokus dit slegs op die gebeure wat daarop gevolg het en Israel se reaksie. Israel, en Jode in die algemeen, word van verskriklike dinge beskuldig. Daaroor hoef nie uitgebrei te word nie.

Van die 250 gyselaars het net 168 lewend teruggekom, en Israel het baie duur betaal deur 4 190 terroriste vry te laat in ruil vir die lewende en vermoorde Israelse gyselaars.

Daar is ’n sterk menslike kant aan die verhaal van die gyselaars wat dikwels verlore raak wanneer ons net oor getalle praat. Die vraag is wat met hierdie mense gebeur nadat hulle terugkeer huis toe.
Hoe bou jy weer ’n lewe nadat maande of selfs jare van jou lewe van jou gesteel is?

Rom Braslavski is een van die mense vir wie dit moeilik is om selfs van “herbou” te praat. Hy is ná 737 dae in Gaza vrygelaat. Hy het sedertdien openlik gepraat oor sy stryd met trauma en hoe sy eie oorlog nie noodwendig geëindig het toe hy huis toe gekom het nie. Hy probeer sy lewe hervat, maar praat ook in die openbaar oor wat hy in gevangenskap ervaar het.

Yarden Bibas het ná 484 dae teruggekeer, maar sonder sy vrou, Shiri, en sy twee klein seuntjies, Ariel en Kfir. Hy het hom later in die Golanhoogte gevestig, die plek waarheen hy en Shiri voor 7 Oktober gehoop het om saam met hul kinders te verhuis. Hy probeer weer ’n daaglikse lewe opbou, maar het gesê dat die lewe sonder sy vrou en kinders vir hom moeiliker is as die gevangenskap self. Vir Yarden beteken “herbou” dus nie om aan te beweeg nie, maar om te leer hoe om voort te leef met ’n verlies wat nooit werklik verdwyn nie.
Eli Sharabi het 491 dae in gevangenskap oorleef. Eers nadat hy teruggekeer het, het hy die volle waarheid verneem dat sy vrou, Lianne, en hul dogters, Noiya en Yahel, op 7 Oktober vermoor is.
Sedertdien het hy sy boek Hostage geskryf, internasionaal oor sy ervaring gepraat en sy stem gebruik om die verhaal van die gyselaars te vertel. Hy het ook betrokke geraak by pogings om families wat trauma beleef het, te ondersteun. Hy probeer sy verlies in iets omskep wat ander mense kan help.
Emily Damari het op ’n heel ander manier begin om haar lewe terug te neem. Sy het in Augustus 2026 met Danielle Amit getrou en ’n klerereeks met die boodskap “Never Lose Yourself” begin. Vir haar het gewone dinge wat die meeste mense as vanselfsprekend aanvaar, ná gevangenskap nuwe betekenis gekry. Haar nuwe lewe gaan oor verhoudings, werk en die herwinning van haar eie identiteit.

Dan is daar Liri Albag, Naama Levy, Karina Ariev, Daniella Gilboa en Agam Berger, die jong Nahal Oz-soldate. Hulle het saam ’n lang rehabilitasieproses deurgegaan. Liri probeer weer voluit leef, terwyl Agam na haar viool en haar geloof teruggekeer het. Vir hierdie jong vroue beteken herstel nie dat 7 Oktober vergeet word nie. Dit beteken dat hulle weier dat 7 Oktober die res van hul lewens bepaal.

Drie jaar ná 7 Oktober gaan die verhaal van die gyselaars dus nie meer net oor wie ontvoer en wie bevry is nie. Dit gaan oor Yarden Bibas wat moet leer om sonder sy vrou en kinders te leef, Eli Sharabi wat sy verlies in ’n doel probeer omskep, Rom Braslavski wat steeds elke dag teen trauma veg, Emily Damari wat trou en ’n besigheid begin, en Hagar Brodutch wat leer bak omdat sy weer iets met haar eie hande wil skep.

Ná drie jaar staan Israel op die vooraand van ’n verkiesing, en dit sal wys waar die Israeliese publiek hulself polities bevind. Op 27 Oktober sal die wêreld sien waarheen die mense Israel wil stuur.

Wesseloo is ‘n vryskutjoernalis by die South African Jewish Board of Deputies. Sy opinies is sy eie.

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-87-09-Okt-2026.pdf

Gewilde Nuus

V (2)

Geen politieke wil om plaasaanvalle stop te sit

Roelf Meyer by 'n kunsuitstalling in Washington.

Daarom was Roelf Meyer nie by Witkruisprojek

Internasionale Perspektief nuut

ANC se linkse vriende val een ná die ander

Grasland Nasionale Park 1

Nuwe Grasveld Nasionale Park in Oos-Kaap afgekondig

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 9 Oktober 2026

Ander Nuus Artikels

AfriForum
AfriForum ondersoek brandstofheffings self
V (3)
Minder reise gaan lei tot minder vulstasies
V (2)
Geen politieke wil om plaasaanvalle stop te sit
Roelf Meyer by 'n kunsuitstalling in Washington.
Daarom was Roelf Meyer nie by Witkruisprojek
Internasionale Perspektief nuut
ANC se linkse vriende val een ná die ander

Luister nou