“Die casino is nie meer êrens in ’n gebou waarheen jy moet ry nie; dit is in jou sak.”
Dít is volgens die Solidariteit-navorsingsinstituut se jongste verslag wat die skokkende omvang van aanlyn dobbel en die impak op huishoudings uiteensit.
Die paneel bestaan uit Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit-navorsingsinstituut; Nicolien Welthagen, bestuurder van die SNI; Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.
Die verslag dui daarop dat 46% van die bevolking aanlyn dobbel met dié syfer wat tussen 2021 tot 2025 met 390% gegroei het. Die maklike en vinnige toegang tot slimfone en aggressiewe bemarking dryf hierdie groei.
Lees ook: Voorgestelde dobbelbelasting bedreig wettige plaaslike mark
Die navorsing wys dat aanlyn dobbel nie net mense se inkomste raak nie, maar ook gesinne se vermoë om die pot aan die kook te hou.
In die jongste finansiële jaar is sowat R1,5 biljoen gewaag – ’n kwart van die land se bruto binnelandse produk.
Volgens die ekonomiese navorser by die SNI en opsteller van die verslag, Theuns du Buisson is die bevindings ’n ernstige waarskuwing oor die toenemende houvas wat dobbel op Suid-Afrikaners se geld kry.
Lees ook: Sportweddenskappe klop die “lotto”
“Ons praat hier van ʼn bedryf wat teen ’n verstommende tempo groei, maar waarvan die koste nie net in rand en sent gemeet kan word nie.
“Agter hierdie syfers is gewone Suid-Afrikaners wat hul swaarverdiende geld verloor, huishoudings wat reeds sukkel om kop bo water te hou en gesinne wat die gevolge moet dra,” sê Du Buisson.
Solidariteit beoog om die verslag te gebruik om sterker regulering van aanlyn dobbel en dobbeladvertensies te bevorder.
Dit sluit strenger beperkings op dobbelbemarking, beter toepassing van bestaande verbiedinge op onwettige aanlyn casino’s en groter beskerming van jong mense en ander kwesbare persone in.