Die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Solly Malatsi, sê ‘n skeduleringsfout het daartoe gelei dat die Afrikaanse nuusbulletin die afgelope naweek nie op SABC2 uitgesaai is nie. Die SAUK het nog nie ‘n woord gerep oor die afwesigheid van die bulletin nie. LEES OOK: “SAUK moet verduidelik waarheen die Afrikaanse nuusbulletin verdwyn het” Volgens berigte was daar op die nippertjie besluit om die bulletin na SABC3 te skuif, maar dat die kanaalhoof nie daarvan bewus was nie en daar dus nie plek was vir die bulletin nie. Malatsi sê die bulletin sal komende naweek weer terug wees. Afrikaanse kykers was omgekrap toe die bulletin nie Saterdag, soos gewoonlik, om 18:15 uitgesaai is nie. |