Vier topamptenare van die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) – insluitend die finansiële hoof – is geskors hangende ’n ondersoek na beweerde bedrog by ’n tender vir die verskaffing van steenkool aan die departement.
Die departement het bevestig dat die Valke reeds ’n strafsaak teen die vier amptenare ondersoek.
’n Forensiese ondersoek sal ook gedoen word om alle ongerymdhede vas te stel sodat moontlike ander betrokkenes vervolg kan word.
Volgens die minister van die departement dr. Pieter Groenewald is die uitroei van korrupsie en bedrog, en gevolge vir amptenare wat oortree sy grootste prioriteit is.
Groenewald sê dat hy sal verseker dat sy departement sy volle samewerking aan wetstoepassers gee om die skuldiges aan die pen te laat ry.