Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sal geen bykomende fondse beskikbaar stel vir die beplande optogte van die drukgroep March and March nie.
Die adjunkpolisiekommissaris vir sigbare polisiëring, Tebello Mosikili sê dat bestaande begrotings en gewone wetstoepassing ingespan sal word om enige betogings te hanteer, ondanks die groep se eise vir grootskaalse deportasies teen 30 September.

“Ons werk volgens die begroting wat op die basislyn toegeken is. Daar is optogte wat selfs voor die September-optog aangekondig is. As daar verklaar word dat daar elke Donderdag optogte sal wees, gaan ons voort om dit te beheer,” het Mosikili gesê.
Lees ook: D-dag vir onwettige immigrante
Mosikili het ook internasionale berigte wat beweer dat ten minste 10 buitelandse burgers tydens betogings teen onwettige immigrante vroeër vanjaar dood is, van die hand gewys en gesê dat dit nie die syfer is wat deur die polisie aangeteken is nie.
Volgens amptelike polisierekords is slegs vier mense – twee in die Wes-Kaap en twee in KwaZulu-Natal – dood.

Sy sê dat sowel Suid-Afrikaners as buitelanders slagoffers én oortreders in hierdie voorvalle was, en dat verskeie verdagtes reeds in hegtenis geneem is terwyl ondersoeke voortduur.
“Ek moet beklemtoon dat dit nie net buitelandse burgers is wat slagoffers van moord in die proses geword het nie. Daar is gevalle waar Suid-Afrikaners ook vermoor is, en daar is inhegtenisnemings gemaak.”