Suid-Afrika se formele nielandbousektor het ’n beduidende terugslag beleef met die verlies van 80 000 poste gedurende die eerste kwartaal van vanjaar.
Volgens die jongste data van Statistiek Suid-Afrika, SSA, het die land die afgelope jaar altesaam 121 000 werksgeleenthede verloor.
SSA sê dat die werksverliese te wyte is aan afnames in onder meer gemeenskapsdienste, handel, vervoer en elektrisiteit. Indiensneming in die vervaardiging-, sakedienste-, mynbou- en konstruksiesektore het egter toegeneem.
Voltydse indiensneming het die afgelope kwartaal met 24 000 gedaal, terwyl deeltydse poste met 56 000 gekrimp het.
Standardbank se groephoof van Suid-Afrikaanse Makro-ekonomiese navorsing, dr. Elna Moolman, sê dat die opname op ’n spesifieke segment van die ekonomie fokus, naamlik die regering en die formele nielandbousektor en die opname toon ’n afname van meer as een persent in werksgeleenthede.