Die Suid-Afrikaanse regering het teruggekap teen nuwe Amerikaanse visumbeperkings teen sekere Suid-Afrikaners.
Die minister van Internasionale betrekkinge, Ronald Lamola sê Suid-Afrika het die soewereine reg om wette in te stel wat historiese rasse-ongeregtigheid die hoof bied.
Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, sê die beperkings sal gemik wees op mense wat betrokke is by beleide rondom grondonteiening sonder vergoeding, rassegebaseerde diskriminasie of die aanhitsing van geweld teen minderheidsgroepe.
Lamola sê Washington moet Suid-Afrika se demokrasie en soewereiniteit respekteer en geskille deur diplomatieke gesprekke oplos, eerder as eensydige optrede.
Die Amerikaanse ambassadeur het intussen gewaarsku dat die visumbeperkings die eerste stap van verdere maatreëls kan wees.