Die Gautengse Onderwysdepartement het volgens Solidariteit erken dat hy nie meer sy statutêr verpligte subsidies aan skole kan betaal nie. Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het daarom dié week die parlement gevra om die departement onder administrasie te plaas.
Die organisasies sê die wanbetaling is deel van ’n groter administratiewe en finansiële krisis wat skole dwing om self toenemend vir funksies en dienste in te staan wat die departement behoort te lewer.
Die eis volg nadat die GDO in ’n skrywe van 27 Julie 2026 erken het dat hy weens “cash constraints and other challenges” nie die statutêr vereiste skooltoekennings betyds kon betaal nie. Skole moes teen 15 Mei reeds 50% van hul goedgekeurde 2026-toekennings ontvang het, maar volgens die petisie het talle skole teen dié datum slegs sowat 3% van hul jaarlikse toekenning ontvang. Die departement het in sy antwoord verder aangedui dat R2,6 miljard nodig was vir die skooloordragte wat teen 15 Mei betaalbaar was, terwyl die provinsiale tesourie sowat R900 miljoen per maand vir goedere, dienste en oordragbetalings beskikbaar gestel het.
Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, het met die oorhandiging van die petisie in Kaapstad gesê dat die GDO reeds maande versuim om statutêr verpligte skoolsubsidies aan skole te betaal.
“Dit is duidelik dat hierdie departement verval en eenvoudig nie meer sy grondwetlike verpligtinge kan nakom nie. Wanneer ’n provinsiale onderwysdepartement só ’n erkenning maak, is dit nie meer bloot ’n administratiewe probleem nie. Dit is ’n bestuurskrisis wat ingryping vereis.”
Met die petisie dui Solidariteit en die SOS aan hoe die GDO se administratiewe en finansiële wanbestuur, asook sy gebrekkige beplanning die provinsie se onderwysstelsel op sy knieë dwing, deur noodsaaklike poste wat nie gevul word nie en versuim om skole en onderwysers behoorlik te ondersteun.
Die DA en die VF+ is versoek om die petisie in die parlement ter tafel te lê en om druk op die regering van nasionale eenheid uit te oefen om dadelik in te gryp. Melanie Buys, die hoof van SOS, sê Gauteng se leerders betaal die prys vir ’n departement wat nie sy basiese verantwoordelikhede kan nakom nie.
“Die situasie vereis dringende ingryping op die hoogste vlak en daadwerklike aanspreeklikheid deur die GDO leierskap.”
Buys sê verder die GDO se gebrekkige ondersteuning en administratiewe verval is ’n regstreekse bedreiging vir skole se vermoë om gehalteonderrig te verseker.
“Die departement faal in sy eie kernverantwoordelikhede, maar wil nogtans groter beheer oor goed funksionerende skole uitoefen. Skole en gemeenskappe moet toenemend self verantwoordelikheid aanvaar en geld beskikbaar stel net om gehalteonderrig te kan bied. Indien skole dié verantwoordelikheid dra, moet hulle noodwendig ook groter inspraak en besluitnemingsmag oor die bestuur van hul skole hê.”
Volgens Buys behoort skole en beheerliggame deur die departement as vennote behandel te word en moet hulle toegelaat word om oplossings te vind wat in hul gemeenskappe se besondere behoeftes voorsien.
“Dit is onaanvaarbaar dat gemeenskappe die geld, kundigheid en arbeid aan skole moet befonds, maar terselfdertyd al hoe minder seggenskap kry oor hoe hierdie einste skole bestuur word.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/09/NUUSWEEK-Uitgawe-84-18-Sept-2026-1.pdf