President Cyril Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief skerp uitgevaar teen landsburgers wat na die buiteland reis en ongegronde bewerings van wit volksmoord verkondig.
Volgens Ramaphosa benadeel dié uitsprake buitelandse kapitaalinvloei terwyl die plaaslike ekonomie reeds onder reuse-werkloosheid gebuk gaan. Hy het nie aangedui na wie spesifiek hy met dié uitlating verwys nie.
Die ideesentrum en voorspraakgroep Lex Libertas het wel die naweek 3 000 wit kruise in Washington DC geplant, verteenwoordigend van die slagoffers van plaasmoorde.

Ramaphosa benadruk dat vryheid van spraak met aanspreeklikheid gepaardgaan.
Hy het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om optrede wat gemeenskappe polariseer, vreemdelingehaat en haatspraak te verwerp, en hul verbondenheid tot die grondwetlike waardes van gelykheid en menswaardigheid te herbevestig.