Die berig bevat sensitiewe inhoud
Die DA-LP en voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, Ian Cameron, het strafregtelike klagtes by die polisie gelê, nadat ’n polisiehond, genaamd Sky, ernstig by die SAPD se dierehospitaal in die Roodeplaat-omgewing beseer is.
Die 5-jarige Belgiese Herdershond is in brandstigtingsopsporing opgelei. Cameron sê sy ervaar ernstige angs wanneer sy in ’n hok toegemaak word en dat die bestuur van die veterinêre instelling herhaaldelik – maar sonder ingryping – daarvan verwittig is.
Sky het veelvoudige beenbreuke en snywonde aan haar gesig en been opgedoen wat tot ernstige bloedverlies gelei het, nadat haar been gister in die hok se hek verstrengel geraak het.
Sy is na die Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal, noord van Pretoria, geneem vir noodbehandeling.
Sy is op dié stadium nog aan ‘n asemhalingsbuis gekoppel en veeartse sal haar eers kan opereer, sodra haar toestand verbeter.
Cameron het die saak ook by die Nasionale Dierebeskermingsvereniging asook by die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad aangegee.

Hy het versoek dat die instelling asook sy hokveiligheid, na-uurse toesig en sy veterinêre standaarde ondersoek word, maar dat die optrede van diegene wat vir Sky se sorg verantwoordelik was ook ondersoek moet word.
“Diegene wat verantwoordelik is, moet geïdentifiseer word. Indien die bewyse vervolging regverdig, mag range geen beskerming bied nie,” het Cameron gesê.