Die niewinsgewende organisasie, Baby Savers South Africa, het die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling versoek om die hooggeregshof se beslissing te eerbiedig wat hom toelaat om veilige fasiliteite vir weggooibaba’s te gebruik.
Die organisasie en die departement is in ‘n regstryd gewikkel ná die departement se besluit in 2023 dat die praktyk om baba’s in veilige houers te plaas, onwettig is.
Volgens die departement is daar verskeie redes waarom dié praktyk gestaak behoort te word.
Een hiervan is dat daar nie in die Kinderwet voorsiening gemaak word dat ‘n privaat persoon ‘n kind kan ontvang nie.
Die hooggeregshof in Gauteng het in Augustus verlede jaar beslis dat babahouers wettig is, hangende die afhandeling van die organisasie se saak in die Grondwethof.
Die departement se direkteur vir kinderdienste, Yvonne Deonarian, sê die aangeleentheid het in 2023 ontstaan ná kommer oor tekortkominge wat betref regulasies in dié verband.