Die Amerikaanse senaat het ’n nuwe wetsontwerp ingedien wat vra vir die hersiening van betrekkinge met Suid-Afrika.
Die wetsontwerp, wat die Amerikaans-Suid-Afrikaanse Bilaterale Verhoudinge-hersieningswet heet, wil onder meer sanksies teen ANC-amptenare instel en Suid-Afrika van die Wet op Afrika-groei en geleenthede, Agoa, uitsluit.
’n Senator, John Kennedy, sê die wetsontwerp is ingedien omdat Suid-Afrika na bewering bande met Rusland en Sjina verstewig en teen-Israeliese uitsprake maak.
Kennedy meen die wetsontwerp lê Suid-Afrika se internasionale gedrag bloot en is daarop gemik om te verseker dat dié land se verhouding met die VSA hul nasionale veiligheid voorop stel, in plaas daarvan dat dit ondermyn word.
“Amerika se buitelandse beleid moet ten alle tye Amerika se belange eerste stel. Die Suid-Afrikaanse regering het gekies om langs dieselfde vuur as Rusland en Sjina te sit terwyl hulle skandelike, anti-semitiese aanvalle teen ons bondgenoot, Israel, loods,” het Kennedy gesê.
Die senator het verder gesê dat die chronies-wanbestuurde regering van Suid-Afrika herhaaldelik teen die belange van Amerika en sy bondgenote opgetree het. Hy sê voorts dat die verhouding vertroebel is deur die ANC se aanstelling van radikale amptenare as verteenwoordigers.
Hy het spesifiek verwys na die voormalige ambassadeur na Amerika, Ebrahim Rasool, wat na president Donald Trump as ’n heerssugtige verwys het.
Die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel is van die standpunt dat die land nie vir die onverantwoordelike beleid van ANC-leiers gestraf moet word nie.
Kriel sê indien sanksies ingestel word, behoort dit eerder op ANC-leiers wat korrup is en die menseregte van minderhede in Suid-Afrika skend te fokus.