Vroeg in Maart vanjaar was president Ramaphosa op ʼn indrukwekkende staatsbesoek aan Brasilië. Sy groot vriend, die aartssosialis en president van Brasilië, die grootste land (demografies, ekonomies en geografies) in Suid-Amerika, Luiz Lula da Silva, het Ramaphosa met ope arms ontvang. Daar is baie gepraat oor die stryd teen imperialisme (lees: Trump en die VSA), die toenemende belangrikheid van Brics en die Globale Suide, asook byna nostalgiese temas soos anti-apartheid-solidariteit en multilateralisme.
Nadat die Trump-administrasie in die VSA aanvanklik besluit het om Suid-Afrika, en dus eintlik maar Ramaphosa, nie na vanjaar se G20-beraad in Desember in Florida te nooi nie, het Frankryk ook sy uitnodiging aan Ramaphosa teruggetrek om die G7-beraad, wat Junie in die suide van Frankryk plaasgevind het, as gas by te woon. Ramaphosa se internasionale glans het dus in 2026 wesenlik verdof ná verlede jaar se G20-beraad in Johannesburg, wat een doel gehad het: om Suid-Afrika as internasionale rolspeler te posisioneer.
Sedert 1994 is Suid-Afrika, onder leiding van die ANC, deel van ʼn sogenaamde progressiewe, eintlik maar linkse of sosialistiese, globale groepering van lande. In daardie opsig was Ramaphosa se besoek aan Brasilië natuurlik vir hom en sy kwynende ANC van groot belang. Die boodskap moes duidelik wees: Donald Trump is ʼn eenmalige verskynsel. Sy isolasie van Suid-Afrika sal ná 2028 se Amerikaanse presidentsverkiesing verby wees en Suid-Afrika moet eintlik maar net tot dan vasbyt.
Tog was die Da Silvas van die wêreld skaars. Terwyl Trump en sy regering die druk op Ramaphosa en sy regering verhoog het, was lande soos Indië, China en selfs liberale regerings in Kanada, Australië en talle Europese lande tjoepstil. Da Silva, leier van die wêreld se tiende grootste ekonomie, was egter uitgesproke pro-Ramaphosa. Die ander leier was Pedro Sánchez, eerste minister van Spanje.
Sánchez het die afgelope agt jaar die gesig van die linkse beweging in Europa, en eintlik die hele Westerse wêreld, geraak. Kort ná Ramaphosa se besoek aan Brasilië in Maart, is hy in April deur Sánchez genooi na die eerste sogenaamde “Defence of Democracy”-konferensie in Barcelona, eintlik maar ʼn groot internasionale byeenkoms van linkse partye en leiers. Hier kon Ramaphosa weer sy indirekte aanvalle op Trump en die VSA uitvoer en homself skaar by die progressiewe wêreldorde waarvan Sánchez die afgelope tyd die gesig geword het.
In Januarie verlede jaar, sewe dae ná Donald Trump se inhuldiging as Amerikaanse president, het nege lande met harde linkse regerings, Belize, Bolivië, Colombië, Kuba, Honduras, Maleisië, Namibië, Senegal en Suid-Afrika die Den Haag-groep gestig. Spanje, juis omdat die land ook ʼn harde linkse regering het en wat uiters krities teen Israel staan, is ook genooi om deel te word. Die doel van dié groep was vanuit die staanspoor om Israel by die Internasionale Geregshof en die Internasionale Strafhof, albei geleë in Den Haag, oor beweerde menseregteskendings in Gasa en die Wesoewer te vervolg. Die twee lande wat leiding sou neem was Suid-Afrika en Colombië.
Die ANC het oor dekades, nog lank voor 1994, hoogs twyfelagtige verhoudinge met partye en individue in muishondlande gehandhaaf. Die verhouding met vriende soos die Castros in Kuba, die nou gevange voormalige president van Venezuela, Nicolás Maduro, en die ajatollas in Iran, is een van die redes waarom daar die afgelope 20 maande soveel spanning tussen Suid-Afrika en die VSA ontstaan het. Natuurlik speel Suid-Afrika se noue bande met Rusland en China ook ʼn rol.
Niks hiervan het egter die ANC en Ramaphosa geskeel nie. Want Trump was in hulle oë ʼn eenmalige, unieke, geïsoleerde uitdaging wat sou oorwaai. Intussen het Colombië een van die mees regse presidente in die demokratiese wêreld verkies en sal dié land nie meer deel uitmaak van die Den Haag-groep nie. Maduro is in ʼn tronk in New York. En Da Silva en Sánchez het binne die bestek van 24 uur waarskynlik die begin van die einde van hul politieke loopbane aanskou.
Die afgelope maande het Da Silva voorgeloop in peilings in aanloop tot die eerste ronde van Brasilië se presidentsverkiesing. Sy aartsvyand, die regse Jair Bolsonaro, is immers in huisarres nadat ʼn linkse regter in Brasilië se hoogste hof hom tronkstraf opgelê het in ʼn klassieke voorbeeld van politieke vervolging. Bolsonaro se seun, Flávio, is egter ʼn prominente senator en selfs ʼn veel beter, slimmer en meer geslypte politikus as sy pa.
In Sondag se verkiesing het die jonger Bolsonaro eerste geëindig met 47% van die stemme teen Da Silva se 45%. Daar word die afgelope week algemeen in Brasilië aanvaar, deels omdat baie ander regse kandidate heelwat van die oorblywende steun gekry het, dat Bolsonaro op 25 Oktober as Brasilië se president verkies sal word.
Terwyl die laaste stemme Maandagoggend (Europese tyd) in Brasilië getel is, het die Spaanse eerste minister Sánchez die val van sy linkse regering aangekondig. ʼn Vroeë verkiesing sal op 29 November plaasvind. Hy het vroeër vanjaar burgerskap aan ʼn halfmiljoen onwettige immigrante uit die Derde Wêreld toegeken, terwyl hy ʼn uitgesproke sosialis en anti-Trumper was. Daar is min kans dat Sánchez nog ʼn geleentheid sal kry om Spanje te regeer. Hy het drie jaar gelede eintlik die verkiesing verloor, maar kon met ʼn groep linkse partye saamwerk om, ten spyte daarvan dat sy Sosialiste tweede geëindig het, ʼn koalisieregering saam te stel. Ná November gaan Spanje waarskynlik sy mees regse regering in dekades kry.
En so val Ramaphosa en die ANC se linkse vriende die een na die ander. Terwyl talle stilbly en wegkyk terwyl Suid-Afrika in 2026 toenemend op die wêreldverhoog geïsoleerd raak, is die uitgesproke figure óf uitgestem óf in die tronk óf op pad uit. Hopelik volg die ANC in die spore van hierdie vriende, want die alternatief vir ons land is net groter globale isolasie, selfs nadat Trump nie meer daar is nie, aangesien die wêreldwye verskuiwing na regs oor veel meer as net Donald Trump gaan. In hierdie opsig het die ANC en Ramaphosa hulself lelik misgis.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-87-09-Okt-2026.pdf