Die Afrikaanse skrywer, Madelein Rust, is vanoggend in die ouderdom van 58-jaar ná ’n stryd met kanker oorlede.
Huldeblyke van vriende en rolspelers in die uitgewersbedryf stroom op sosiale media in nadat dié nuus bekend gemaak is.
Sy laat haar man, Jaun en twee kinders, Tanya en Nico agter.
Rust – wat veral vir haar krimi-fiksie bekend was – het ook twee boeke die lig laat sien ná haar kankerdiagnose, genaamd Kanker Schmanker en Van vrees na vrede, wat sy geskryf het met die hoop dat dit mense nader aan God sal bring.
Die bekroonde joernalis, skrywer en radio-aanbieder, Ilse Salzwedel, en goeie vriendin van Rust het op haar Facebookblad geskryf dat Rust die taaiste mens is wat sy geken het.
“Sy is 5 jaar terug met terminale beenkanker gediagnoseer en het veral die laaste twee jaar bomenslike pyn verduur. Tog was sy ALTYD blymoedig, diep gelowig en dankbaar dat haar Vader haar nog spaar vir haar geliefde, Jaun en haar kinders. Hulle was haar hele wêreld, en sy wou hulle nie alleen in hierdie wêreld los nie,” skryf Salzwedel.
Salzwedel sê sy glo as Madelein hier was, sou sy gesê het mense moenie huil nie, maar die lewe en die oorvloed voorregte wat ons het vier en geniet.
Daar sal op Rust se versoek twee privaat dienste gehou word.
Graffiti-boeke se eienaar, Leonie van Rensburg, sê hulle het verskeie boekbekendstellingsfunksies saam met Rust aangebied en dat hulle van daar af goed bevriend geraak het.
Rust se boek, Monstersaad, is in Julie 2015 bekend gestel kort nadat sy met borskanker gediagnoseer is.
“Madelein het direk van die hospitaal afgekom ná haar operasie en het nog haar dreineringspypie ingehad,” vertel Van Rensburg.
“Sedertdien het hierdie brawe vrou nog 13 boeke gepubliseer waarvan die jongste, Drie moorde in die baai, 18 Julie, 10 jaar later, verskyn het.”
Rust het die laaste keer in 2022 ’n boekbekendstelling saam met Graffiti-boeke vir haar boek Moederland gevier, voordat haar gesin Kaap toe verhuis het.
Graffiti stal tans ál Rust se boeke in haar nagedagtenis uit.
“Ons gaan haar geweldig mis.”