Deur: Willie Spies
Kort voor die oorgang van Suid-Afrika na ’n een-mens-een-stem- politieke bedeling op 27 April 1994, het Leon Schuster saam met Gray Hofmeyr ’n rolprent uitgegee wat onthou sal word as die grootste Suid-Afrikaanse lokkettreffer van alle tye, wat selfs groot vermaak vir feesgangers by die Cannes Filmfees verskaf het.
There’s a Zulu on my Stoep was ligte humor in die tipiese Leon Schuster-styl.
Die jaar van uitreiking, 1993, was onseker, gevaarlike tye in Suid-Afrika, met die land destyds op die rand van ’n burgeroorlog.
Te midde van angs en onsekerheid, is humor dikwels ’n kragtige wapen om ’n samelewing deur ’n reuse-oorgang te begelei. Dis waarskynlik wat die rolprent so gewild gemaak het omdat dit daarin geslaag het om die kontras van die apartheidsjare teen ’n nuwe realiteit van ’n komende ANC-bewind te plaas en mense in staat te stel om dit te geniet.
Dit was ook in Desember van 1993 dat die aanvanklike oorgangsgrondwet, wat reeds by Kodesa onderhandel is, deur die parlement goedgekeur is.
LP’s is gedurende Maart 1994, nadat die parlement reeds in reses was, inderhaas byeengeroep is om enkele wysigings aan die oorgangsgrondwet deur te voer. Die wysigings was veral daarop gerig om twee groepe wat op daardie stadium buite die grondwetmakende proses gestaan het, naamlik die Inkatha Vryheidsparty van dr. Mangosuthu Buthelezi en die Afrikaner Volksfront, onder die de facto-leierskap van genl. Constand Viljoen te akkommodeer, sodat hulle deel van die oorgangsproses sou raak.
Die wysigings is deur baie as bloot simbolies beskou en het aanvanklik nie die tradisionele Zoeloes van die IVP of konserwatiewe Afrikaners van die AVF tevrede gestel nie.
Om tradisionele Zoeloes en die Zoeloe-koningshuis te akkommodeer, is die naam van die Natal-provinsie, soos beskryf in die aanvanklike oorgangsgrondwet verander om KwaZulu-Natal te wees. Die provinsie is vandag nog die enigste wat sy etniese aard in sy naam vergestalt en die provisie bemark homself steeds as die Zoeloe-koningryk.
Om Afrikaners te akkommodeer, het die wysigings voorsiening gemaak vir ’n Volkstaatraad wat die skrywers van die finale grondwet van raad moes bedien oor hoe en waar ’n volkstaat vir Afrikaners in die finale grondwet vervat moet word. Verder is die 33 onveranderbare kernbeginsels wat deur die onderhandelaars as ’n “solemn pact” of plegtige ooreenkoms beskou is en waaraan die finale grondwet uiteindelik getoets sou word, uitgebrei met ’n vier-en-dertigste beginsel wat erkenning verleen het aan die moontlikheid dat die finale grondwet selfbeskikking vir spesifieke kultuurgemeenskappe in ’n spesifieke grondgebied kan erken.
Die finale grondwet van 1996, wat steeds die Grondwet van Suid-Afrika is, het geen spesifieke bepaling oor ’n volkstaat vir Afrikaners bevat nie, maar wel artikel 235 wat erkenning verleen aan die strewe van kultuurgemeenskappe om hulle te beywer vir selfbeskikking in ’n spesifieke grondgebied om hulle strewe voort te sit en uiteindelik erkenning daarvoor deur ’n parlementswet te verkry.
Dit is binne die ruimte wat artikel 235 van die grondwet skep, wat die gemeenskappe van Kleinfontein en Orania hulle organiseer en rig.
As in gedagte gehou word dat die groot kompromis van Maart 1994 juis daarop gemik was om tradisionele Zoeloes en konserwatiewe Afrikaners by die grondwetlike bestel te betrek, is dit inderdaad ironies dat die MK-party van oudpresident Jacob Zuma, wat by uitstek ’n party van tradisionele Zoeloes is, hulle teen die bestaan van ’n nedersetting soos Kleinfontein buite Pretoria verset het.
MK en die EFF ding tans mee vir die posisie van die mees radikale linkse randeier in die politiek.
In die Noord-Kaap wou die EFF aanvanklik die Karoo-son trotseer en Orania toe marsjeer om die sluiting van die Afrikaner-vesting te eis, maar hulle moed het hul begewe en hul het toe besluit om eerder Dinsdag na die Noord-Kaapse Wetgewer te stap, waar dit makliker sou gaan.
Die MK-besoek aan Kleinfontein se voorstoep was waarskynlik ’n poging van die Zoeloe-party om Julius Malema se EFF te oortref, maar die besoek het sonder voorval verloop en die MK-afvaardiging is hoflik ontvang vir ’n gesprek.
Die LP uit Orania, dr. Wynand Boshoff, wat in Kimberley was met die EFF optog, skryf dat die optoggangers eintlik heel gemoedelik was.
In plaas van “Weg met Orania” soos hulle leiers wou, het hulle vir hom geskreeu om “terug te gaan na Orania”.
Hulle verstaan dus wat hulle leiers nog nie verstaan nie – dat die Afrikaner-nedersettings ’n legitieme realiteit is, wat nie weggeskreeu gaan word nie.
Willie Spies is ’n prokureur by Hurter Spies Ing en uitvoerende voorsitter van Pretoria FM