James Kemp
Case IH kan met hulle AF9-stroper toegang tot ’n nuwe markaandeel verkry.
Dié stroper is die afgelope week tydens die Nampo-oesfees net buite Bothaville bekendgestel.
Volgens die uitvoerende hoof van Case IH, Stephan Nel, is hierdie stroper gemik op groter en meer doeltreffende boerderye.
Voorheen het Case IH nie deel gevorm van die klas-9-plus-kategorie nie en met sy kapasiteit presteer hy tussen die klas 9- en 10-modelle.

Bertus Barkhuizen, ’n produkspesialis by Case IH, verduidelik dat die “harvest command”-funksie kamerasensors gebruik om die stroper se outomasie te beheer. Sodoende pas die stroper self aan om vinniger of stadig te ry na gelang van die gehalte van die gewasse wat gestroop word. Die AF 9 sal byvoorbeeld vinniger beweeg wanneer swakker gehalte graan gestroop word en stadiger deur beter gehalte graan beweeg. Optimale graankwaliteit word verder gehandhaaf deur middel van sy rotor, konkawe, waaierspoed en sifopening outomaties te beheer.
Die brandstofverbruik word optimaal beheer deur ’n Cursor 13 FPT-enjin wat ongeveer 635 perdekrag kan handhaaf. Afhangende van die toestand van die lande kan ’n boer byvoorbeeld reken op ongeveer 10 liter diesel vir elke hektaar soja wat geoes word.