24 Julie 2025
Die ikoniese gesig van professionele stoei, Hulk Hogan, is in die ouderdom van 71-jaar oorlede.
Nooddienste het na Hogan se huis in Florida gehaas, nadat hy glo ‘n hartaanval gehad het. Hy’s later in die hospitaal oorlede.
Die WWE-legende het twee meter in sy stewels gestaan en was bekend vir sy blinkbruin gespierde liggaam, sy kleurvolle kopdoeke en unieke blonde handvatselsnor.
Hy het ook gesorg vir luide toejuigings van die stoeiskares wanneer hy sy knap T-hempies van sy lyf afgeskeur het.
Die bekende akteur, Sylvester Stallone het op Instagram gesê dat sy hart gebroke is. Hy bring hulde aan Hogan deur te sê dat dié stoeier se voortreflike vaardighede Rocky 3 besonder spesiaal gemaak het.
Hogan het saam met Stallone in dié 1982-rolprent gespeel.
Hogan het sy eerste WWE-wêreldkampioenskap in 1984 verower to hy die Iron Sheik verslaan het.
Hy het daarna nóg vyf wêreldkampioenskappe gewen en is in 2005 in die WWE-heldesaal opgeneem.
Hogan laat sy derde vrou, Sky Daily, sy dogter, Brooke en seun, Nick, agter.