Voorgestelde regulasies kan sekuriteitsbedryf knak
’n Verbod op rubberkoeëls en die klassifisering van boeie as wapens wat nie sonder opleiding gebruik mag word nie.
Dit is van die voorstelle oor die regulering van wapens in die veiligheidsbedryf wat die afgelope week deur die minister van Polisie en die Reguleerder van die Privaat Sekuriteitsbedryf (PSIRA) in die Staatskoerant gepubliseer is.
Volgens Martin Hood, regsgeleerde en kenner van veiligheidswetgewing, sal die voorstelle, indien dit in werking sou tree, ernstige hindernisse vir die veiligheidsbedryf tot gevolg hê. Hood sê dit sluit in dat boeie as ’n wapen geklassifiseer word, dat werknemers in die veiligheidsbedryf opleiding moet ontvang om dit te gebruik, en dat die privaat sekuriteitsreguleerder toestemming vir die gebruik daarvan moet gee.
Die privaat sekuriteitsbedryf sal verder nie toegelaat word om skoktoestelle, traangas, waterkanonne, rubber- of plastiekpatrone te gebruik, of enige ander wapen wat ’n lid van die publiek kan beseer nie.
Toestemming vir die gebruik van enige van dié wapens moet ten minste sewe dae voor die gebruik daarvan verkry word.
Hood sê dit beteken dat die betogers wat jy in ’n optog gaan teëkom, jou ten minste sewe dae kennis moet gee van hulle protesaksie sodat ’n privaat maatskappy betyds toestemming kan kry om byvoorbeeld rubberkoeëls of traangas te gebruik, wat dalk nie toegestaan sal word nie.
Die sekuriteitsbedryf sal ook ingevolge die voorstelle verbied word om vuurwapens by taxistaanplekke, begraafplase, stadions, winkelsentrums, kerke, restaurante, privaat en openbare skole, en enige ander soortgelyke openbare ruimte te gebruik.
Ander voorstelle sluit in:
- Die gebruik van vuurwapens moet in die belang van openbare veiligheid wees.
- Veiligheidsbeamptes moet ’n jaarlikse assessering ondergaan wat onder meer hulle gehoor, visuele en neurologiese vermoëns en algemene welstand sal ondersoek.
- ’n Semi-outomatiese geweer mag slegs vir die vervoer van waardevolle items of die beskerming van kritieke infrastruktuur gebruik word.
- Alle vuurwapens moet met sporingstoestelle toegerus word deur ’n diensverskaffer wat deur die privaat sekuriteitsreguleerder goedgekeur is.
Intussen waarsku die VF Plus se hoofwoordvoerder oor Polisie, Heloïse Denner, dat die konsepregulasies alle Suid-Afrikaners meer weerloos teen misdaad sal laat.
“Die private sekuriteitsbedryf in Suid-Afrika is een van die grootstes in die wêreld en die enkele rede hiervoor is dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens sy plig versuim om die land se mense behoorlik teen misdaad te beskerm.”
Luidens ’n verslag van die parlement se Portefeuljekomitee oor Polisie (10 Mei 2023) het die bedryf in 2023 sowat 2,56 miljoen geregistreerde sekuriteitsbeamptes gehad waarvan 586 000 aktief in diens was by meer as 12 000 maatskappye. Daarteenoor het die polisie in 2023 slegs 180 000 lede in diens gehad waarvan ’n groot aantal nieaktiewe polisiewerk doen, soos administratiewe personeel.
“Ernstige geweldsmisdaad in Suid-Afrika is van die hoogste in die wêreld en daarom is dit terselfdertyd ironies en tragies dat die polisie, wat grootliks sy plig versuim, nou ook die bedryf wat Suid-Afrikaners moet beskerm, aan bande wil lê,” sê Denner.
Hierdie artikel het in die 10de uitgawe van die Nuusweek verskyn. Kry dié uitgawe en vorige uitgawes hier.
3 Responses
This cannot be allowd
Toe die riots in KZN was het die sekuriteitsmagte gets ons kan 100% op hul pyltrek want die publiek her meer vertrou in hulle as die SAPD. Hulle moet regnerus bly met bogenoemde. Waarom her hierdie kriminele soveel regte en word verwyder na as die publiek?
Baie meer vertroue in sekuriteitsinstansies as Sapd. Was 2x weke sonder krag terwyl looting in Kzn plaasgevind het. Hulle moet meer magte key en toegerus word soos bogenoem en nog meer magte. Hulle het al hul steal gewys op daagliks basis. Die kriminele het meer voorang en dan word die publiek voorgehou. Ons will meet beskering van hulle hê want die Sapd is ontoereikend.