Die VF Plus sê hy eis ’n ondersoek na ’n beweerde e-pos wat verband hou met bek-en-klouseer en wat glo deur die minister van landbou se personeelhoof, Jana le Roux, gestuur is.
Volgens die party is die e-pos aan senior amptenare in die departement van landbou gerig en as net vir die grap gemerk, met die woorde “aangeheg pas ontvang vir ‘n bietjie vermaak”.
Die inhoud het betrekking op ’n landbougroep se navraag oor die departement se inentingstrategie teen bek-en-klouseer.
Die VF Plus sê indien die e-pos eg is, dui dit op ’n gebrek aan erns oor insette van die landbousektor tydens die krisis, en kan dit ’n negatiewe persepsie oor die departement se hantering van die uitbraak versterk.
Die party eis dat die saak volledig ondersoek word en dat daar opgetree word indien enige amptenaar hom of haar wangedra het.
Die VF Plus waarsku ook dat ’n breër kultuurverandering in die departement nodig is om die krisis effektief te bestuur.