28 April 2021
Die speaker in die parlement, Thandi Modise verskyn vandag in die streekhof in Potchefstroom in verband met aanklagte van dieremishandeling en verwaarlosing.
Dit kom nadat plaasdiere in ‘n baie swak toestand in Julie 2014 op haar plaas gevind is. Foto’s van karkasse en uitgeteerde plaasdiere is vroeër vanoggend in die hof gewys.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid vervolg Modise namens die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings.
Sy het ontken dat sy die diere mishandel en verwaarloos het en meen sy het ‘n plaasbestuurder aangestel om na haar plaas om te sien. Volgens haar was sy nie bewus van wat op haar plaas aangaan nie.

‘n Plaaslike veearts in Potchefstroom, dr. Sameer Abbas, wat destyds op die plaas was en foto’s van die diere geneem het, getuig vandag oor die toestand waarin die diere gevind is.
Volgens hom was talle skape, varke en bokke ondervoed en kon van hulle nie regop staan nie. Abbas sê van die karkasse was op ‘n ver gevorderde stadium van ontbinding en meen hulle kon reeds sowat 18 maande voor Julie 2014 gevrek het.
Meer as 224 erg verswakte diere moes van kant gemaak word en daar was glo geen kos, water of behoorlike skuiling vir dié diere nie.