Redaksie
’n Ontwikkeling van 3 306 m² oor drie fases, waarvan die eerste fase in 2026 afgehandel sal word teen ’n begroting van ongeveer R15 miljoen word deur Bo-Karoo Opleiding (BKO) op Orania beplan.
Die werkswinkel- en kantoorbouprojek sal op die BKO Technika-perseel opgerig word.
Tydens die afgelope week se sooispitseremonie het Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, die belangrikheid van gehalteopleiding vir studente by BKO beklemtoon. “Ons is dankbaar om vandag die eerste sooi te spit vir ons Snelrat 800-plan, waarvolgens ons beplan en hard werk om ’n studietuiste vir meer as 800 studente by BKO te skep. Vandag bring ons een tree nader aan ons doelwit om nog meer studente met skaars en kritieke vaardighede toe te rus vir ’n suksesvolle werkloopbaan.”
Fase een behels die ontwikkeling van ’n dubbelverdiepinggebou met elektriese en sonkragwerkwinkels op die grondvloer, en klaskamers, ’n rekenaarlokaal en kantore op die boonste verdieping. Volgens Vogel skep die projek nie net ruimte vir ’n groter programaanbod aan studente nie, maar stel dit hulle ook in staat om die personeel met beter geriewe toe te rus sodat hulle studente op ’n uitnemende wyse kan ondersteun.
Die ontwikkeling vorm verder deel van die strategie om versnelde groei in Orania te bevorder deur meer BKO-studente in die dorp te vestig.
“By BKO lei ons studente in die gemeenskap vir die gemeenskap op. Jy sal sukkel om so ’n vrye en vlytige studentelewe elders te vind. Ons huidige studente en alumni kan daarvan getuig. Dit alles vind plaas op ’n kampus sonder mure en binne ’n unieke Afrikanerkultuuromgewing.”
Die werkwinkels word met voorafvervaardigde betonblaaie opgerig, terwyl liggewigstaal-droëmure tussen die klaskamers aangebring word. Die elektriese en sonkragwerkwinkel sal met waterverkoeling vir klimaatbeheer toegerus word.
BKO is in 2019 met vyf studente gestig. Tans beskik die instelling oor 250 studente, drie koshuise, een daghuis, 30 roepingsgedrewe personeellede, die Leer-my-hoe-proefplaas en ’n gesonde studentekultuur. Konstruksie is reeds in volle gang vir ’n addisionele manskoshuis vir 2027, en ’n verdere stigting van ’n selfstandige daghuis vir dames.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek– https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/Uitgawe-70-12-18-Jun-2026.pdf